Sofar praat die eerste keer in
reaksie op Job
1 Sofar die Naämatiet
het Job geantwoord:
2 “Moet iemand nie antwoord
op hierdie stortvloed
van woorde nie?
Is ’n mens onskuldig
net omdat jy baie kan praat?
3 Moet ek stilbly
te midde van jou sinlose
gepraat?
Wanneer jy God tart,
moet iemand jou
nie skaam maak nie?
4 Jy sê vir God:
‘My sienswyse is suiwer.
Ek is onskuldig voor U!’
5 As God tog net wou praat!
As Hy jou net wou sê
wat Hy dink!
6 As Hy jou net kon vertel
van die geheime
van wysheid,
want ware wysheid
is nie eenvoudig nie.
Luister!
God straf jou beslis minder
as dit wat jy verdien.
7 “Kan jy die geheime van God
ontrafel?
Kan jy alles ontdek
wat daar is om te weet
van die Almagtige?
8 Daardie kennis is hoër
as die hemel.
Wie is jy om daaroor te praat?
Daardie kennis is dieper
as die doderyk.
Wat kan jy weet
in vergelyking met Hom?
9 Dit is groter as die aarde
en breër as die see.
10 “As God kom
en iemand in die tronk sit,
wie kan Hom keer?
Of as Hy iemand hof toe sleep,
wie gaan Hom stop?
11 Want Hy ken die valse mense.
Hy weet van al hulle sondes.
12 ’n Dom mens
sal net so min wys word
as wat ’n wildedonkie
’n mak vul sal kry.
13 “As jy net jou hart
aan Hom wil wy
en jou hande na Hom oplig in gebed!
14 Raak ontslae van jou sondes.
Los alle ongeregtigheid
agter jou.
15 Dan sal jou gesig
verhelder in onskuld.
Jy sal sterk wees
en vry van angs.
16 Jy sal jou swaarkry vergeet.
Dit sal weg wees soos water
onderdeur ’n brug.
17 Jou lewe sal helder wees
soos in die middel
van die dag,
alle donkerte
so helder soos die oggendlig.
18 Jy sal vol moed wees
omdat jy hoop sal hê.
Jy sal beskerm wees
en rus in veiligheid.
19 Jy sal sonder vrees
gaan slaap,
en baie sal na jou kyk
vir hulp.
20 Maar die kwaaddoeners
sal verblind wees.
Daar is vir hulle
geen ontsnapping nie.
Hulle hoop verander
in wanhoop.”