JOB 1

1 Inleiding

Daar was ’n man met die naam Job. Hy het in die land Us gewoon. Hy het onberispelik geleef en was ’n man met integriteit. Hy het God gedien en nie die verkeerde gedoen nie.

2 Hy het sewe seuns en drie dogters gehad.

3 Hy het ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 500 spanne trekosse, 500 donkiemerries en baie slawe gehad – sowel mans as vroue. Hy was die rykste man in daardie omgewing.

4 Elke jaar wanneer een van sy seuns verjaar het, het hulle die ander broers en die drie susters genooi om saam te kom partytjie hou. Dan het hulle vrolik saam geëet en gedrink.

5 Ná so ’n partytjie, wat soms vir ’n hele paar dae aangehou het, het Job sy kinders gereinig. Dan het hy vroegoggend opgestaan en vir elkeen van hulle ’n brandoffer gebring. “Miskien het my kinders gesondig en God in hulle gedagtes gevloek.” So het Job elke keer gedoen.

Job se eerste toets

6 Eendag het die hemelwesens* voor die Here kom staan. Die aanklaer was tussen hulle.

7 “Waar was jy heeltyd?” vra die Here vir die aanklaer. Die aanklaer antwoord die Here: “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”

8 Die Here vra toe vir die aanklaer: “Het jy vir Job opgemerk? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy aanbid My en vermy die kwaad.”

9 Die aanklaer sê toe vir die Here: “Ja, dit is so. Job dien die Here. Maar hy het goeie rede om dit te doen!

10 U het hom, sy huisgesin en sy eiendom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak. Kyk net hoe ryk is hy!

11 Maar reik nou uit en vat alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!”

12 “Goed, jy mag hom toets,” sê die Here vir die aanklaer. “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit. Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.” Die aanklaer is toe weg van die Here af.

13 Eendag het Job se seuns en dogters by hulle oudste broer se huis geëet en wyn gedrink.

14 Daar kom toe ’n boodskapper by Job se huis aan met die nuus: “Ons was aan’t ploeg met die osse, en die donkies het ook daar rond gewei.

15 Toe oorval skurke ons uit Skeba. Hulle het al die diere gesteel en al die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat kon wegkom om dit vir u te vertel.”

16 Hy was nog besig met dié droewige verhaal toe ’n ander man by Job aankom met die nuus: “Weerlig het van God af uit die hemel geslaan* en al u skape en al die skaapwagters doodgeslaan. Ek is die enigste een wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

17 Hy was nog besig om te praat toe ’n derde boodskapper by Job aangehardloop kom met die nuus: “Drie groepe Galdese rowers het al u kamele gesteel. Hulle het ook al u werkers doodgemaak. Ek is die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

18 Hy was nog besig om vir Job van die tragedie te vertel toe nog ’n boodskapper met die nuus kom: “U seuns en dogters het partytjie gehou in die huis van hulle oudste broer.

19 Skielik was daar ’n baie sterk wind wat van die woestyn se kant af gewaai het. Dit het die huis van alle kante getref, en die huis het inmekaargeval. Al u kinders is op slag dood. Ek was die enigste wat oorleef het om dit vir u te vertel.”

20 Job het toe opgestaan. Hy het sy klere stukkend geskeur. Hy het ook sy hare afgeskeer. Daarna het hy op die grond voor God geval.

21 Hy het gesê:

“Naak het ek

uit my ma se skoot gekom,

en naak sal ek weer wees

die dag wanneer ek doodgaan.

Die Here het my alles gegee

wat ek gehad het,

en nou het Hy

dit alles weggeneem.

Prys die Naam

van die Here!”

22 In alles wat gebeur het, het Job nie gesondig nie en God nie verwyt nie.

JOB 2

Job se tweede toets

1 Eendag was die hemelwesens* weer voor die Here. Die aanklaer was ook tussen hulle.

2 “Waar was jy?” vra die Here vir die aanklaer.

“Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat gebeur,” sê die aanklaer vir die Here.

3 “Het jy vir Job raakgesien? Hy dien My. Daar is nie nog iemand soos hy nie. Hy lewe onberispelik. Hy is ’n mens met integriteit. Hy dien My en doen nie die verkeerde nie. En hy hou aan om My te dien, al het jy My ook oorreed om sonder enige oorsaak aan hom skade te doen,” sê die Here vir die aanklaer.

4 Die aanklaer antwoord die Here: “Hy dien U maar net omdat U dit goed laat gaan met hom.* ’n Mens sal immers enigiets gee om sy lewe te red!

5 Maar tas hom aan en vat sy gesondheid weg, dan sal U sien hoe vloek hy U in u gesig!”

6 “Goed, doen met hom wat jy wil. Spaar net sy lewe,” sê die Here vir die aanklaer.

7 Die aanklaer is toe weg van die Here af. Hy het Job met pynlike swere getref. Sy hele lyf was oortrek van die swere.

8 Job het op die ashoop gaan sit en met ’n gebreekte potskerf sy swere gekrap.

9 Sy vrou vra hom: “Hoekom hou jy aan om die Here te dien? Vloek God en sterf!”

10 Job het haar geantwoord: “Jy praat nou soos ’n mens wat God glad nie ken nie. Ek het die goeie geskenke uit God se hand aanvaar. Moet ek nie nou ook die slegte aanvaar nie?” Job het steeds niks verkeerds gedoen of gesê nie.

Job se drie vriende

11 Drie van Job se vriende was Elifas uit Teman, Bildad uit Suag en Sofar uit Naäma. Hulle het gehoor van die tragedies wat Job getref het. Toe het hulle mekaar ontmoet en saam na Job gekom om hom te troos en te bemoedig.

12 Hulle het Job al van ’n afstand af gesien, maar hulle het hom nie eens herken nie. Toe het hulle hardop begin huil, hulle klere geskeur en stof op hulle koppe gegooi, so hartseer was hulle oor Job se situasie.

13 Daarna het hulle sewe dae en sewe nagte lank op die grond by Job gesit. Nie een kon ’n woord teenoor hom uitkry nie. Hulle kon sien dat Job se smart te groot is vir woorde.

JOB 3

Job praat vir die eerste keer

1 Ten einde laaste het Job begin praat. Hy het die dag waarop hy gebore is, vervloek.

2 Hy het gesê:

3 “As my geboortedag

tog nooit aangebreek het nie,

en die nag toe daar gesê is:

‘’n Seun is gebore.’

4 As daardie dag

tog donker gebly het

en God daarbo

dit nie raakgesien het nie,

en geen lig daardie dag

geskyn het nie!

5 Mag duisternis en donkerte

dit weer opeis

en ’n wolk dit oorskadu.

Mag donkerte die dag verskrik.

6 Mag diep duisternis daardie nag

wegneem.

Mag dit nooit getel word

as ’n dag in die jaar nie.

Mag dit nie tussen die maande

verskyn nie.

7 Mag daardie nag

onvrugbaar gebly het.

Mag dit vir niemand

enige vreugde bring nie.

8 “Mag mense wat dae vervloek,

ook hierdie dag vervloek,

so ook die mense wat die seemonster*

kan oproep.

9 Die sterre van daardie oggend

moes verduister gewees het.

Die dag moes tevergeefs

gewag het op lig

en nie die dag sien breek het nie.

10 Want dit het nie verhoed

dat ek gebore word nie,

het nie smart vir my weggesteek nie.

11 “Hoekom het ek nie

by geboorte gesterf

en omgekom

terwyl ek gebore is nie?

12 Hoekom was daar ’n skoot

om my op neer te sit,

twee borste waaraan ek kon drink?

13 Want dan sou ek in vrede

in die graf kon lê,

en rustig in die dood geslaap het

14 saam met konings

en raadgewers van die aarde

wat puinhope herbou het,

15 met vorste wat goud besit het

en huise vol silwer.

16 Hoekom is ek nie maar

in die grond weggesteek

soos ’n misgeboorte,

soos ’n doodgebore kind

wat nie die daglig gesien het nie?

17 Daar staak die goddeloses

die onrus,

en daar kan die vermoeides rus.

18 Gevangenes geniet hulle rus,

hulle hoor nie die stem

van die slawedrywer nie.

19 Daar is geringes

en vernames gelyk,

en die slaaf is vry van sy baas.

20 “Hoekom gee God lig aan mense

wat moeg is,

lewe vir die wat verbitterd is?

21 Hulle wens dat hulle

kan doodgaan,

maar die dood ontwyk hulle.

Hulle soek die dood

eerder as verborge skatte.

22 As hulle uiteindelik doodgaan,

is dit vir hulle

’n groot verligting en vreugde.

23 Hoekom moet mense

wat niks van die toekoms

verwag nie,

aanhou lewe,

mense vir wie God

aan swaarkry oorgegee het?

24 Versugting is my voedsel,

my kreune word uitgegiet

soos water.

25 Dit waarvoor ek gevrees het,

het oor my gekom.

Dit waarvoor ek bang was,

het nou met my gebeur.

26 Ek ken geen rus en vrede nie.

Daar is vir my

geen blaaskans meer nie,

net moeilikheid.”

JOB 4

Elifas reageer die eerste keer op

Job

1 Elifas die Temaniet

het Job geantwoord:

2 “Sal jy geduldig kan wees

sodat ek iets vir jou kan sê?

Geen mens kan stilbly nie.

3 Jy het self baie mense

wat moed verloor het,

moed ingepraat.

Jy het swakkes ondersteun.

4 Jou woorde het

almal wat geval het, versterk.

Jy het mense wat twyfel,

regop gehou.

5 En nou dat die moeilikheid

oor jou gekom het,

is jy verslae,

noudat dit jou getref het, is jy

gebroke.

6 Gee dit dan nie vir jou hoop

dat jy God aanbid het nie?

Moet jy nie juis nou glo

dat God sorg

vir mense wat Hom dien nie?

7 “Dink daaraan:

Het onskuldige mense

ooit vergaan?

Wanneer is die mens

wat God getrou dien,

al ooit vernietig?

8 My ondervinding is

dat mense

wat moeilikheid plant

en die bose saai,

dit ook sal oes.

9 Deur die asem van God

het Hy hulle vernietig.

Deur sy woede vergaan hulle.

10 Die gebrul van die leeu,

die gegrom van die roofdier,

het stilgeraak.

Die tande van die jong leeu

is uitgeslaan.

11 Sonder prooi

gaan die leeu dood,

en die welpies

loop verlore rond.

12 “Ek het dit eenmaal

in die geheim gehoor,

asof iemand

dit in my oor fluister.

13 Een nag, terwyl ander slaap,

het ek dit gesien

in ’n gesig wat my verskrik het.

14 Ek was bang.

Ek het gebewe van die skok.

15 ’n Windvlaag

het by my verby getrek,

en die hare van my lyf

het orent gaan staan.

16 Iets het voor my gestaan,

maar ek kon nie uitmaak

watter vorm dit het nie.

Iets het voor my verskyn

en ’n veraf stem het gepraat:

17 ‘Kan ’n sterflike mens

regverdig wees

voor sy Maker,

en ’n blote mens

rein wees voor sy Skepper?’

18 Selfs sy eie hemelse dienaars

kan God nie vertrou nie.

Selfs sy boodskappers

is voor Hom vol gebreke.

19 Hoe kan Hy ons vertrou

wat van klei gemaak is?

Ons is van stof gemaak,

en word papgedruk,

so maklik soos ’n mot.

20 Tussen oggend en aand

word hulle vernietig,

onopsigtelik

vergaan hulle vir altyd.

21 Hulle tentpenne word uitgetrek,

en hulle sterf

sonder om wysheid te leer.”

JOB 5

1 “Roep maar om hulp!

Niemand sal antwoord nie.

Na watter engel

sal jy jou kan wend om hulp?

2 Woede maak ’n dwaas dood.

Jaloesie

vernietig dom mense.

3 Ek het opgelet:

In die begin gaan dit goed

met ’n dwaas.

Maar dan skielik tref rampe hom.

4 Sy kinders word nie gehelp nie.

Daar is niemand

wat hulle verdedig

wanneer hulle voor die hof

gedaag word nie.

5 Hulle oeste word opgeëet

deur honger mense,

selfs al is dit deur ’n doringheining

beskerm.

Hulle welvaart bevredig

die dors van ander.

6 Ellende spruit nie uit die grond,

en swaarkry groei nie

uit die aarde nie.

7 ’n Mens word gebore vir moeite,

soos vonke boontoe skiet uit ’n

vuur.

8 “My raad aan jou is:

Gaan na God toe

en stel jou saak aan Hom.

9 Wat God doen, is te groot

om ooit te verstaan.

Hy doen wonder op wonder.

10 Hy gee reën op die aarde.

Hy maak die veld nat.

11 Hy gee voorspoed

aan die nederiges,

en beskerm mense wat ly.

12 Hy verydel die planne

van skelm mense

sodat hulle planne nie slaag nie.

13 Mense wat dink hulle is slim,

draai Hy in hulle eie planne vas.

Wat hulle wou doen,

maak Hy tot niet.

14 Hulle tas rond in helder daglig

asof hulle blind is.

Hulle sien niks in die dag nie,

asof dit nag is.

15 Hy red die armes van dié

wat hulle vals beskuldig.

Hy red hulle uit die mag

van die sterkes.

16 So kan die armes weer hoop,

en die mond van die bose

word gesnoer.

17 “Kyk hoe gelukkig is mense

vir wie God vermaan!

Verag nie die teregwysing

van die Almagtige

as jy sondig nie,

18 want Hy verwond,

maar verbind ook weer.

Hy tref ons,

maar sy hande

genees ook weer.

19 Hy sal jou keer op keer red,

tot ses of sewe keer,

sodat kwaad jou nie tref nie.

20 In ’n tyd van hongersnood

red Hy jou van die dood.

In ’n tyd van oorlog

red Hy jou van die swaard.

21 Jy sal veilig wees

teen skindertonge.

Jy hoef nie te vrees

om vernietig te word nie.

22 Jy sal lag tydens vernietiging

en hongersnood.

Vir wilde diere

sal jy nie skrik nie.

23 Jy sal vrede hê met die klippe

in die veld

en wilde diere sal jou nie pla nie.

24 Jy sal weet dat jou blyplek

veilig is.

Op jou weiveld

sal jy geen vee mis nie.

25 Jy sal baie kinders hê,

jou nageslag

sal volop wees soos gras!

26 Jy sal op rype ouderdom sterf;

nie ’n dag voor jou tyd

sal die dood jou oes nie.

27 “Ons het ondervind

dat dit alles waar is.

Luister na my raad

en pas dit toe op jouself.”

JOB 6

Job praat ’n tweede keer

1 Job het weer gepraat:

2 “As my hartseer geweeg kon

word

en my moeilikheid op ’n skaal

gesit word,

3 sou dit swaarder weeg

as al die sand van die see.

Daarom het ek blindweg

gepraat.

4 Want die Almagtige

het my met sy pyle getref.

Sy gifpyle het ingedring

tot diep in my gees.

Al die verskrikkinge van God

is teen my gerig.

5 Wildedonkies balk

as hulle geen groen gras

kry nie,

en beeste bulk

as daar nie voer is nie.

6 Eet ’n mens smaaklose kos

sonder sout,

of iets so smaakloos

soos die wit van ’n eier?

7 My eetlus verdwyn

as ek dit sien.

Ek word naar

as ek dit moet eet.

8 Ag, as my versoek

maar toegestaan word

dat God sal gee

waarvoor ek hoop!

9 As Hy my maar wil uitwis,

sy hand uitsteek

en my vernietig,

10 dan sou dit my troos wees:

dat ek ten spyte van my pyn

ook vreugde sal hê

dat ek die woorde

van die Heilige

nie ontken het nie.

11 “Ek het nie die krag

om aan te gaan nie.

Ek het geen doel

om voor te lewe nie.

12 Is ek so sterk soos klip,

en is my lyf van brons

gemaak?

13 Nee, ek is hulpeloos.

Daar is geen kans

dat ek kan slaag nie.

14 “’n Mens sou medelye hê

met ’n vriend in nood,

selfs as hy die vrees vir die Almagtige

laat vaar.

15 My vriend, jy is

so onbetroubaar

soos ’n spruit wat in die lente

sy walle oorstroom,

16 vol met ys en sneeu wat smelt.

17 Maar die water droog op

in die hitte

en die spruit verdwyn

wanneer dit warm word.

18 Reisigers draai af na die spruit

vir lafenis,

en hulle sterf in die woestyn

waarheen hulle afgedraai het.

19 Met groot verwagting

kom reisigers

van Tema en Skeba

op soek na water.

20 Maar hulle kry niks

al het hulle daarop vertrou.

Hulle hoop is beskaam

toe hulle daar gekom het.

21 Net so kon julle my ook

nie help nie.

Julle het my ellende gesien,

en bang geword.

22 Hoekom?

Het ek ooit van julle ’n geskenk

verwag?

Het ek ooit by julle gesmeek

dat julle iemand

met julle geld

vir my moes omkoop?

23 Het ek van julle verwag

om my van die vyand te red?

Het ek gevra

dat julle my verlos

van my verdrukkers?

24 “Leer my en dan sal ek stilbly.

Sê my net:

Wat het ek verkeerd gedoen?

25 Eerlike kritiek

kan wel seermaak,

maar julle argumente

bewys niks!

26 Dink julle dat julle woorde

oorreed

as julle nie eens my wanhoop

kan hoor nie?

27 Julle dobbel oor die toekoms

van ’n weeskind.

Julle sal selfs julle vriend

vir geld verkoop.

28 “Kyk na my!

Sal ek in julle gesigte

vir julle lieg?

29 Besin julle,

moenie onreg pleeg nie.

Besin julle,

my onskuld is op die spel.

30 Dink julle ek lieg?

Ken ek nie die verskil

tussen reg en verkeerd nie?”

JOB 7

Die lewe is so kort

1 “Is dit nie die worsteling

van elke mens op aarde nie?

Jou lewe is soos dié van ’n huurling.

2 Jy wens soos ’n slaaf

die dag wil klaarkry,

soos ’n dagarbeider

wat wag om betaal te word.

3 So bestaan my maande

uit swaarkry.

Nagte vol smart is my deel.

4 Wanneer ek gaan lê,

wens ek die môre

wil aanbreek.

Maar die nag sleep stadig verby

en ek rol rond tot dagbreek.

5 My lyf is vol parasiete en rowe.

My vel breek oop,

en etter loop daaruit.”

Job roep na God

6 “My dae gaan vinniger verby

as ’n wewerspoel.

Hulle eindig sonder enige hoop.

7 O God, onthou tog

my lewe is maar ’n asempie.

Ek sal nooit weer iets geniet nie.

8 U sien my nou nog,

maar nie meer vir lank nie.

Terwyl U na my kyk,

is ek weg.

9 Net soos ’n wolk verdamp

en verdwyn,

so kom niemand weer terug

uit die graf nie.

10 Hulle is vir altyd weg

van hulle huis af

en hulle woning

sien hulle nie weer nie.

11 “Daarom kan ek nie stilbly nie.

Ek moet kla oor my lyding.

Ek moet praat, want ek is bitter.

12 Is ek ’n seegod of ’n seemonster

dat U my so oppas?

13 Nes ek dink:

‘My bed sal my vertroos,

in my slaap

sal ek van my smarte vergeet,’

14 dan ontstel U my met drome

en verskrik my met visioene.

15 Ek sou liewer dat iemand

my verwurg,

dat ek sterf

eerder as om so aan te gaan.

16 Ek haat my lewe!

Ek wil nie meer lewe nie.

Laat my alleen vir die paar dae

wat vir my oorbly.

17 Wat is die mens

dat U so baie aandag

aan hom bestee,

so baie aan hom dink?

18 Want U beproef ons elke môre

en toets ons elke oomblik.

19 Hoekom laat U my

nie alleen nie,

los U my nie uit nie,

al is dit net vir ’n oomblik?*

20 Het ek gesondig?

Wat het ek aan U gedoen,

U wat die ganse mensdom sien,

waarom het U my geteiken?

Is ek vir U ’n las?

21 Hoekom vergewe U nie

net my sonde

en verwyder my skuld nie?

Gou lê ek in stof en sterf.

As U na my soek,

dan is ek weg.”

JOB 8

Bildad praat die eerste keer

met Job

1 Bildad die Suagiet

het Job geantwoord:

2 “Hoe lank gaan jy nog

so aanhou praat?

Jou woorde is soos ’n wind

wat alles wegvee.

3 Verdraai God die reg?

Verdraai die Almagtige wat reg is?

4 Jou kinders het klaarblyklik

teen Hom gesondig.

Daarom het hulle

hulle straf verdien.

5 Maar as jy na God roep

en die Almagtige vra

om genade aan jou te bewys;

6 as jy opreg en sonder sonde lewe,

sal Hy opstaan

en jou weer gelukkig maak

in jou huis.

7 En al het jy met min begin,

sal jy met baie eindig.

8 “Vra vir die vorige geslag.

Luister na die ervaring

van jou voorvaders.

9 Ons is maar gister eers gebore.

Ons weet so min!

Ons dae op aarde gaan verby

soos ’n skaduwee.

10 Dié wat voor ons geleef het,

sal ons leer,

uit die wysheid

van vorige geslagte

sal hulle ons onderrig.

11 Groei riete buite ’n moeras?

Floreer vleigras

waar daar nie water is nie?

12 As dit nog te jonk is

om gesny te word,

verdroog dit vinniger as gras.

13 So gaan dit met iemand

wat vergeet van God.

Die verwagting van die goddelose

kom tot niks.

14 Alles waarop hulle bou,

val inmekaar.

Hulle steun op ’n spinnerak.

15 Hulle dink

hulle huise bied sekuriteit.

Maar dit hou nie.

Hulle probeer daaraan vasklou,

maar dit bly nie staan nie.

16 Hulle lyk soos ’n welige struik

in die son.

Sy takke sprei uit

oor die hele tuin.

17 Die wortels groei deur klippe

sodat dit stewig staan tussen rotse.

18 Maar wanneer dit uit sy plek

uitgetrek is,

mis niemand dit nie.

19 Dis die einde van sy lewe.

Ander groei in sy plek.

20 “Maar kyk:

God verwerp nooit ’n mens

wat opreg

voor Hom leef nie.

So laat Hy dit nie goed gaan

met die kwaaddoener nie.

21 Hy sal jou weer

met vrolikheid vul

en jou laat uitroep van vreugde.

22 Dié wat jou haat,

sal beskaamd staan.

Die tent van die bose mens

sal vernietig word.”

JOB 9

Job praat ’n derde keer in

antwoord op Bildad

1 Job het weer gepraat:

2 “Ja, ek weet,

dis alles in beginsel waar.

Hoe kan ’n mens onskuldig wees

in die oë van God?

3 As iemand met God

na die gereg wil gaan,

sou hy Hom een keer

uit duisend

kon antwoord?

4 God is so wys en so magtig.

Wie sal ooit Hom kan teenstaan

en ’n saak teen Hom wen?

5 Sonder waarskuwing

verskuif Hy berge,

keer Hy hulle om in sy woede.

6 Hy skud die aarde uit sy plek,

en sy fondamente bewe.

7 Op sy bevel

sal die son nie opkom

en die sterre nie skyn nie.

8 Hy alleen sprei die hemele uit,

Hy wandel

op die golwe van die see.

9 Hy maak al die sterre:

die Beer, Orion, Sewester

en al die sterrebeelde

in die suidelike hemelruim.

10 Sy groot werke is te wonderlik

om te verstaan.

Hy bewerk ontelbare wonders.

11 Wanneer Hy by my kom,

sien ek Hom nie.

Ek sien Hom nie

wanneer Hy verbygaan nie.

12 As Hy deur die dood

iemand wegvat,

wie kan Hom keer?

Wie sal dit waag om te sê:

‘Wat doen U nou?’

13 God hou sy toorn nie terug nie,

Hy vernietig die helpers van

die groot seemonster.

14 “Wie is ek dan

om God te antwoord

of met Hom te redeneer?

15 Selfs al was ek onskuldig,

ek het geen verweer nie.

Ek kan maar net

by my Regter om genade pleit.

16 Selfs al sou ek Hom dagvaar

en Hy daag op,

glo ek nie Hy sal na my luister nie.

17 Want Hy val my aan

sonder rede,*

en sonder oorsaak

verwond Hy my.

18 Hy gee my geen kans

om asem te skep nie

en versadig my

met bitter lyding.

19 Hy is die sterk Een.

As dit oor krag gaan,

as dit oor regspraak gaan,

wie kan Hom ooit uitdaag?

20 Selfs al is ek onskuldig,

my eie mond

sal my veroordeel.

Selfs al is ek reg,

dit sal net wys

hoe verkeerd ek is.

21 “Al is ek onskuldig,

dit maak geen verskil nie.

Ek verag my lewe.

22 Of ek skuldig of onskuldig is,

dit is alles dieselfde.

Ek sê jou mos:

Hy vernietig die onskuldige

én dié wat kwaad doen.

23 Hy lag wanneer ’n plaag

die onskuldige skielik doodmaak.

24 Die hele aarde is in die hande

van die kwaaddoener

en God verblind die oë

van die regters

sodat hulle onreg pleeg.

As dit nie Hy is nie, wie anders?

25 “My lewe gaan vinniger verby

as ’n naelloper.

Dit vlieg verby,

sonder dat ek geluk ervaar.

26 Dit verdwyn

soos ’n vinnige rietbootjie,

soos ’n arend wat afswiep

op sy prooi.

27 As ek sou dink:

ek gaan ophou kla,

my treurigheid laat vaar,

en vrolik wees,

28 dan vrees ek steeds al my pyn,

want ek weet

U beskou my as skuldig, o God.

29 Wat ook al gebeur,

ek is reeds skuldig bevind.

Hoekom dan nog probeer?

30 Al was ek myself met seep

en my hande met wassoda,

31 gooi U my weer

in ’n modderpoel.

Ek is so vuil

dat my eie klere my haat.

32 “God is nie ’n mens soos ek nie.

Ek kan nie met Hom redeneer

of Hom voor ’n hof bring nie.

33 As daar net iemand was

om tussen ons te bemiddel

en ons bymekaar te bring!

34 Die middelaar sou dan keer

dat God

aanhou om my te slaan.

Ek sou nie langer in vrees lewe

vir sy straf nie.

35 Dan sou ek met Hom

kon praat

sonder om bang te wees.

Maar in my eie krag

kan ek dit nie doen nie.”

JOB 10

Job pleit by God

1 “Ek verafsku my lewe!

Los my dat ek kan kla

sodat ek die bitterheid

wat in my is,

in woorde kan sê.

2 Ek wil vir God sê:

‘Moet my nie

sommer veroordeel nie.

Sê vir my wat is die klag

wat U teen my bring?

3 Wat baat U daarby

om my te laat swaarkry?

Waarom verwerp U my,

die werk van u eie hande,

terwyl U aan die kwaaddoener

voorspoed gee?

4 Het U die oë van ’n mens?

Kyk U na dinge

soos mense daarna kyk?

5 Is u leeftyd

soos dié van ’n mens?

Is u lewe só kort soos ’n mens s’n

6 dat U haastig is

om te soek na my skuld

en my sonde uit te wys

7 alhoewel U weet

dat ek nie skuldig is nie,

en niemand my kan red

uit u hand nie?

8 U het my met u hande gevorm.

U het my gemaak,

en tog vernietig U my

geheel en al!

9 Onthou dat U my

van klei gemaak het.

Wil U my nou al

terugbring tot stof?

10 U het my ontvangenis begelei

en my in die baarmoeder

gevorm.

11 U het my geklee

met vleis en vel

en my bene met senings

aanmekaargeheg.

12 U het aan my lewe gegee

en aan my

u onfeilbare liefde betoon.

My lewe was bewaar

deur u sorg.

13 Maar u werklike motief

– ek weet dit –

14 was om my dop te hou

of ek sondig.

En as ek sondig,

sou U my nie vergewe nie.

15 As ek skuldig is, is dit klaar met my.

En selfs as ek onskuldig is,

is ek gevul met skaamte

en ellende

sodat ek my kop laat hang.

16 As ek my kop optel,

sou U my jag soos ’n leeu

met ’n vertoon

van u ontsaglike mag

teen my.

17 Weer en weer getuig U

teen my.

U stort ’n groeiende vloed

van toorn oor my,

en bring vars leërmagte teen my.

18 Waarom het U my dan

uit my moeder se skoot

gebring?

Waarom het U my nie

by geboorte laat sterf

sodat niemand my sou sien nie?

19 Dan was ek gespaar

van hierdie ellendige

bestaan.

Dan was ek reguit

van die baarmoeder

na die graf gedra.

20 Ek het net ’n klein tydjie oor.

So, laat my tog alleen

sodat ek ’n oomblik se vreugde

kan hê

21 voordat ek moet vertrek

na die donker land

wat diep en somber is

om nooit terug te kom nie.

22 Daar is dit altyd so donker

soos middernag.

Somberheid en chaos heers,

en lig het pikdonker geword.’”