JESAJA 61

Goeie nuus vir verdruktes

1 Die Gees

van die oppermagtige Here

het op my gekom.

Die Here het my gesalf

om goeie nuus te bring

vir arm mense.

Hy het my gestuur

om dié wat hartseer is,

te troos,

om vir die gevangenes

vryheid aan te kondig,

en vrylating

vir dié in die tronk;

2 om die genadejaar

van die Here aan te kondig,

die dag van afrekening

vir ons God.

Maar almal wat treur, troos Hy,

3 die dag wanneer Hy

vir dié wat in Sion treur,

eer gee in plaas van smart,

vreugde in plaas van droefheid,

blydskap in plaas van hartseer.

Die Here het hulle geplant

soos sterk en groot eike

om sy roem te vermeerder.

4 Hulle sal die verlate stede

herbou,

en die plekke weer opbou

wat lank gelede verwoes is.

Hulle sal die verwoeste stede

herstel,

plekke wat vir geslagte lank

verlate gelê het.

5 Buitelanders sal julle kleinvee

laat wei,

vreemdelinge sal julle landerye

en julle wingerde bewerk.

6 Julle sal genoem word:

die priesters van die Here,

die bedienaars van ons God.

Julle sal die skatte

van die nasies geniet,

en spog met hulle rykdom.

7 In plaas van vernedering

en minagting

sal my volk

’n dubbele deel ontvang

van voorspoed en ewige vreugde.

8 “Want Ek, die Here,

het geregtigheid lief.

Ek haat diefstal en misdaad.

Omdat Ek getrou is,

sal Ek my volk beloon

vir hulle lyding.

Ek sluit ’n verbond met hulle

wat vir altyd sal bestaan.

9 Hulle afstammelinge

sal bekend wees

onder die volke,

en hulle nakomelinge

onder die nasies.

Almal wat hulle sien,

sal besef dat hulle ’n volk is

wat die Here geseën het.”

10 Ek verheug my in die Here!

Ek is bly in my God!

Want Hy het vir my

klere van redding aangetrek,

en vir my die mantel

van regverdigheid omgehang.

Ek is soos ’n bruidegom

met sy sierkroon,

soos ’n bruid verfraai

met haar juwele.

11 Soos die grond die plante

laat uitspruit

en die vrugtebome in ’n tuin

vrugte lewer,

so sal die oppermagtige Here

sy reg vir al die nasies toon.

JESAJA 62

Jesaja se gebed vir Jerusalem

1 Omdat ek Sion liefhet

en na Jerusalem verlang,

kan ek nie stilbly nie.

Ek sal nie ophou

om vir die stad te bid nie

totdat daar vir haar geregtigheid kom

soos ’n nuwe dag,

en haar redding soos ’n fakkel brand.

2 Die nasies sal jou redding sien,

en die konings sal jou eer aanskou.

Jy sal ’n nuwe naam kry

wat die Here self

vir jou gekies het.

3 Die Here sal jou soos ’n kroon

in sy hand hou,

’n koning se kroon in die hand

van jou God.

4 Hulle sal jou nie meer

die Verstoteling noem nie

en jou land

nie meer die Verlatene nie.

Jy sal genoem word:

“Een wat Ek liefhet”

en jou land: “My Bruid.”

Die Here het jou lief,

en jou land behoort aan Hom.

5 Soos ’n jong man

met ’n meisie trou,

so sal jou kinders vir jou sorg.

En soos ’n bruidegom bly is

oor sy bruid,

so sal jou God bly wees oor jou.

6 Ek het wagte

op jou mure gesit,

Jerusalem.

Hulle sal dag en nag bid.

Julle wat die Here herinner

aan sy beloftes,

moenie rus nie.

7 Moenie die Here

met rus laat nie,

totdat Hy Jerusalem herstel het,

en die hele wêreld

die stad se lof besing.

8 Die Here het vir Jerusalem

gesweer by sy eie mag:

“Ek sal nooit weer

jou koring as kos

vir jou vyande gee nie.

Nooit weer sal vreemde soldate

die wyn drink

waarvoor jy hard gewerk het nie.

9 Dié wat die koring oes,

sal dit ook eet

en die Here loof.

Dié wat druiwe pluk,

sal self die wyn drink

in die voorhof van my heiligdom.”

10 Gaan uit, gaan uit deur die poorte,

maak die grootpad gereed

vir my volk wat terugkom!

Maak die pad reg!

Bou dit op! Bou die grootpad!

Rol weg die klippe!

Steek ’n vaandel in die lug

sodat al die volke dit kan sien!

11 Die Here

maak ’n aankondiging

oor die hele aarde:

“Sê vir Sion:

Jou Redder kom!

Kyk, sy beloning is by Hom.”

12 Hulle sal genoem word:

“Die heilige volk,

die volk wat deur die Here

gered is.”

Jerusalem, jy sal genoem word:

“Die begeerlike stad,

die stad wat nie meer verlate is nie.”

JESAJA 63

Oordeel oor die Here se vyande

1 Wie is dit wat kom uit Edom,

uit Bosra,

met bloedrooi klere aan?

Wie kom met die pragtige klere aan

terwyl Hy met groot krag

voortmarsjeer?

“Dit is Ek, die Here,

wat sê dat Ek julle red.

Ek is sterk genoeg om te red!”

2 Waarom is u klere so rooi

soos dié van iemand

wat die wynpers getrap het?

3 “Ek het alleen

die wynpers getrap.

Daar was niemand van die volke

wat My gehelp het nie.

In my woede

het Ek my vyande vernietig.

In my wraak

het Ek hulle vertrap.

Hulle bloed

het op my klere gespat,

en so my klere rooi gemaak.

4 Want die tyd het gekom

om my volk te verlos,

om hulle van hulle vyande

los te koop.

5 Ek het gekyk,

maar daar was niemand

om my volk te help nie.

Ek was ontsteld

omdat daar niemand was

wat kom help het nie.

Daarom het Ek alleen

wraak geneem,

sonder enige hulp

het Ek die oordeel uitgespreek.

6 Ek het die volke

in my woede vertrap.

Ek het hulle laat steier

van woede.

Ek het hulle bloed

oor die grond laat vloei.”

Lofprysing vir redding

7 Ek sal vertel van die goedheid

van die Here,

sy roemryke dade

wat Hy verrig het,

ja, die talle goeie dinge

wat Hy gedoen het:

sy goedheid vir Israel,

en alles wat Hy

in genade en liefde gedoen het.

8 Hy het gesê:

“Hulle is my eie volk.

Hulle sal nie weer

ontrou aan My word nie.”

So het Hy hulle Redder geword.

9 In al hulle nood

het Hy saam met hulle gely.

Hy was die engel

wat hulle toe gered het.

In sy liefde en genade

het Hy hulle gered.

Hy het hulle opgetel en gedra

soos in die ou dae.

10 Maar hulle het in opstand

gekom

en sy Heilige Gees

bedroef.

Daarom het Hy hulle vyand

geword

en self teen hulle geveg.

11 Toe het sy volk onthou

van die tyd van Moses.

Hulle het uitgeroep:

“Waar is die Een

wat Israel

deur die see gelei het

met Moses as hulle herder?

Waar is die Een

wat sy Gees van heiligheid

gestuur het

om tussen sy volk te wees?

12 Waar is die Een

wat met sy magtige arm

aan Moses se regterkant

geloop het?

Waar is die Een

wat die waters

voor sy volk oopgekloof het

en vir Hom ’n ewige Naam

gemaak het?

13 Waar is die Een

wat sy volk deur

die diep waters gelei het?

Soos ’n perd in ’n woestyn

het hulle nie gestruikel nie!

14 Soos ’n trop beeste

wat afstap na die vallei,

so het die Gees van die Here

sy volk rusplek gegee,

so het U u volk gelei

om die roem van u Naam

te vermeerder.”

Gebed vir genade en vergifnis

15 Kyk af uit die hemel

en sien ons tog raak van waar U sit,

op u heilige en verhewe troon.

Waar is u ywer van voorheen,

u magtige dade?

U weerhou u ontferming

en genade van ons.

16 U is mos nog ons Vader!

Selfs as Abraham en Israel

ons nie wil erken nie,

bly U steeds ons Vader, Here.

U is van altyd af ons Redder.

17 Here, hoekom het U toegelaat

dat ons afdraai van u paaie?

Hoekom het U ons

hardkoppig gemaak

sodat ons U nie gedien het nie?

Keer tog terug

want ons is u dienaars,

u spesiale besitting.

18 Vir ’n kort tyd kon u heilige volk

u tempel besit.

Maar nou het ons vyande

dit verwoes.

19 Ons het geword soos mense

oor wie U nog nooit regeer het nie.

Hoekom tree U op asof ons nog nooit

bekend was as u volk nie?

JESAJA 64

1 As U maar die hemel

wou laat oopskeur en afkom!

Hoe sal die berge nie bewe

in u teenwoordigheid nie!

2 Kom soos ’n vuur

wat hout laat brand

en water laat kook,

kom tog en maak Uself bekend

aan u vyande.

Dan sal die nasies voor U bewe!

3 Toe U lank gelede afgekom het,

het U ontsagwekkende dinge

gedoen,

wat ons nie verwag het nie,

en die berge het voor U gebewe.

4 Vandat die wêreld gemaak is,

het geen oor gehoor

of oog ’n God gesien

soos U,

wat doen wat U doen

vir dié wat op U vertrou nie.

5 U help mense

wat met blydskap

doen wat U beveel,

wat u weë onthou.

Maar ons het aangehou

om verkeerd te doen.

U was kwaad vir ons.

Hoe kan ons ooit gered word?

6 Voor U het ons almal geword

soos iemand wat onrein is.

Ons beste dade is soos vuil klere,

soos verskrompelde blare.

Deur ons sondes

waai die wind ons weg.

7 Niemand roep na U om hulp nie,

niemand soek

sy sterkte in U nie.

U het u gesig vir ons verberg,

U laat ons vergaan

onder die las van ons sondes.

8 Tog, Here, is U ons Vader.

Ons is soos klei

en U is die Pottebakker.

Deur u hand is ons almal gevorm.

9 Here, moet tog nie kwaad wees

vir ons nie.

Moenie ons sondes

vir altyd teen ons hou nie.

Ons bid tot U: Sien ons tog raak.

Ons almal is tog u volk!

10 U heilige stad

het ’n woestyn geword.

Sion is ’n woesteny,

Jerusalem is

soos ’n verlate woestyn.

11 Ons heilige en glorieryke

tempel

waar ons voorouers U aanbid het,

is afgebrand.

Alles wat vir ons kosbaar was,

is vernietig.

12 Raak die dinge U dan nie,

Here?

Gaan U doodstil bly?

Sal U aanhou om ons te laat ly,

ons te kasty bo ons vermoëns?

JESAJA 65

Oordeel en redding

1 “Ek openbaar My

aan hulle

wat nie my raad gevra het nie.

Ek laat My vind deur mense

wat My nie gesoek het nie.

Vir ’n nasie wat nie na My

geroep het nie,

het Ek gesê: ‘Hier is Ek!’

2 Want Ek het heeldag lank

my hande uitgesteek

na my eie, opstandige volk.

Maar hulle het aangehou loop

op hulle eie sondige paaie.

Hulle het hulle eie koppe gevolg.

3 Hulle is ’n volk wat My in my gesig

beledig.

Hulle bring offers vir afgode

in tuine

en brand wierook

op hulle steenaltare.

4 In die nag gaan hulle

na die grafte

en geheime plekke

om bose geeste te aanbid.

Hulle eet varkvleis

en onrein kos wat verbode is.

5 En dan sê hulle: ‘Bly waar jy is!

Moenie naby my kom nie!

Ek is heiliger as jy!’

Sulke mense

is soos rook in my neus,

soos ’n vuur wat heeldag brand.

6 “Dit staan voor My geskryf:

Ek sal nie langer stilbly nie.

Nee, Ek sal hulle straf.

Ek gaan hulle terugbetaal

volgens hulle verdienste.

7 Ek gaan hulle straf

vir hulle eie sondes

en vir die sondes van hulle

voorouers,” sê die Here.

“Want hulle het wierook gebrand

op die berge,

en My beledig op die hoogtes.

Ek gaan hulle straf,

volgens wat hulle verdien.”

8 So sê die Here:

“As daar nog sap

in ’n druiwetros is,

sê die mense:

‘Moenie dit weggooi nie,

want dit kan nog

gebruik word.’

So sal Ek doen

ter wille van my dienaars:

Ek sal hulle nie almal

vernietig nie.

9 Ek sal vir Jakob

weer ’n nageslag gee,

aan Juda kinders

wat my bergland sal besit.

Die mense wat Ek uitverkies,

sal dit in besit neem,

en daar

sal my dienaars woon.

10 “Die Saronvlakte

sal ’n weiveld wees

vir mense met kleinvee,

en die Akorlaagte

’n rusplek vir die beeste.

Dit is vir hulle uit die volk

wat na my wil vra.

11 “Maar die res van julle

het die Here

versaak

en my heilige berg vergeet.

Julle het die geluksgod

en die god van die noodlot aanbid.

12 Daarom het Ek julle bestem

om doodgemaak te word.

Julle sal moet neerkniel

om geslag te word.

Want toe Ek julle geroep het,

het julle nie geantwoord nie.

Toe Ek gepraat het,

het julle nie geluister nie.

Julle het gedoen

wat verkeerd is

reg voor my oë.

Julle het gekies om te doen

wat Ek haat.”

13 Daarom sê die oppermagtige

Here:

“My dienaars sal eet,

maar julle sal honger ly.

My dienaars sal drink,

maar julle sal dors ly.

My dienaars sal bly wees,

maar julle sal in die skande kom.

14 My dienaars sal sing

met vreugde in die hart.

Maar julle sal uitroep

van droefheid,

julle sal ween oor julle leed.

15 “Dié wat Ek uitverkies het,

sal julle naam gebruik

om mense mee te vervloek.

Die oppermagtige Here

sal julle vernietig,

maar aan sy dienaars

gee Hy ’n nuwe naam.

16 Almal wat iemand wil seën

of wil sweer,

sal dit doen in die Naam

van die God van waarheid.

Die probleme van voorheen

sal vergete wees.

Ek laat dit verdwyn.”

Nuwe hemel en aarde

17 “Kyk, Ek skep ’n nuwe hemel

en ’n nuwe aarde.

Die vorige dinge

sal nie meer onthou word nie

en nie in die gedagte opkom nie.

18 Wees bly en jubel

oor wat Ek gaan skep.

Ek skep ’n Jerusalem

waaroor mense bly sal wees,

en sy inwoners sal

’n bron van vreugde wees.

19 Ek sal bly wees oor Jerusalem,

My verheug oor my volk.

In die stad sal jy nooit weer hoor

hoe mense huil

of om hulp roep nie.

20 “Nooit weer sal ’n suigeling

net maar ’n paar dae leef nie.

Daar sal nie grysaards wees

wat nie hulle jare uitleef nie.

Iemand wat op 100 jaar sterf,

sal as ’n jong man geag word.

Iemand wat vroeër as 100 jaar sterf,

sal beskou word

as ’n vervloekte.

21 Dan sal mense weer huise bou

en daarin woon.

Hulle sal wingerde plant

en self die druiwe eet.

22 Hulle sal nie huise bou

waarin ander mense woon nie.

Hulle sal nie meer plant,

maar ander eet die vrugte nie.

My volk sal oud word

soos ’n boom.

Hulle wat Ek uitverkies het,

sal die vrug geniet

van hulle eie handewerk.

23 “Hulle sal nie tevergeefs swoeg,

en kinders grootmaak

vir rampe nie.

Want hulle sal ’n volk wees

wat deur die Here geseën is,

hulle en hulle afstammelinge.

24 Ek sal hulle antwoord

nog voor hulle na My roep.

Terwyl hulle vra,

sal Ek hulle gebede verhoor.

25 Die wolf en die lam

sal saam wei.

Die leeu sal strooi vreet

soos ’n bees,

en giftige slange sal stof vreet.

Op my heilige berg

sal hulle geen skade aanrig,

en niks vernietig nie.

Ek, die Here, sê so!”

JESAJA 66

Oordeel en hoop

1 So sê die Here:

“Die hemel is my troon

en die aarde my voetstoeltjie.

Kan julle ooit ’n tempel bou

wat so goed is?

Kan julle ’n huis bou

waarin Ek sal woon?

2 My hand het alle dinge gemaak

en so het alles ontstaan.

Ek, die Here, het gepraat!

“Dit is die een wat Ek raaksien,

die een wat nederig is

en berou het oor sy sonde,

wat ontsag het vir my woord.

3 Party mense offer bulle

en ander offer mense.

Sommige offer lammers as offer

en ander ’n hond se nek.

Party offer graan,

en ook offers van varkbloed.

Party offer wierook.

Dis alles afskuwelike offers.

Hierdie mense het besluit

om hulle eie pad te loop.

Hulle skep behae

in hulle afskuwelikhede.

4 Daarom sal Ek hulle moet straf

en oor hulle bring

wat hulle die meeste vrees.

Toe Ek geroep het,

het niemand geantwoord nie;

toe Ek gepraat het,

het niemand geluister nie.

Hulle het gedoen

wat in my oë verkeerd is.

Hulle het gekies om te doen

juis dit wat Ek haat.”

5 Luister na die boodskap

van die Here,

en bewe oor wat Hy sê:

“Julle naaste familie

haat julle

en verstoot julle omdat

julle lojaal aan My is.

‘Laat die Here Homself bewys,’

sê hulle,

‘sodat ons julle vreugde

kan sien!’

Maar hulle sal in die skande kom.

6 Luister! Die stad is in oproer.

Hoor die geraas in die tempel!

So klink dit wanneer die Here

sy vyande terugbetaal

oor alles wat hulle gedoen het.

7 “Voordat sy geboortepyne kry,

het Jerusalem al klaar

’n seun in die wêreld gebring.

8 Wie het al ooit so iets gehoor?

Wie het al ooit

so iets gesien?

Word ’n land in een oomblik gebore?

Word ’n nasie in een dag

voortgebring?

Maar Jerusalem het skaars

geboortepyne gekry

of haar babas is reeds gebore.

9 Bring Ek hierdie nasie

tot by die punt van geboorte

en laat nie ’n geboorte

plaasvind nie?

Dit is wat die Here vra.

Sou Ek ’n geboorte laat geskied

en niks word gebore nie?

sê jou God.

10 “Juig saam met Jerusalem!

Wees bly saam met haar,

julle wat haar liefhet.

Wees bly saam met haar,

julle wat oor haar gehuil het.

11 By haar sal julle gevoed word

totdat julle genoeg het.

Julle sal haar oorvloed geniet.”

12 Want dis wat die Here sê:

“Ek sal haar vrede maak

soos ’n rivier.

Die skatte van die nasies

sal na haar toe stroom.

Haar kinders

sal aan haar drink.

Sy sal hulle in haar arms dra

en hulle op haar skoot vertroetel.

13 Soos ’n moeder haar kind troos,

so troos Ek julle.

Julle sal veilig wees in Jerusalem.”

14 Wanneer julle hierdie dinge

sien gebeur,

sal julle bly wees.

Julle sal uitspruit

soos groen gras.

Die mag van die Here

sal geopenbaar word

aan dié wat Hom dien,

maar sy vyande sal Hy straf.

15 Kyk, die Here kom met vuur.

Sy oorlogwaens

is soos ’n stormwind.

Hy kom sy vyande straf

met die wraak van sy woede.

Hy voltrek sy straf

met vuur.

16 Met vuur en sy swaard

kom die Here om al wat leef

te straf.

Baie sal sterf weens die Here

se woede.

17 “Hulle wat hulleself wy

en reinig

om die tuin binne te gaan,

wat varkvleis en muise

en afskuwelike dinge eet,

sal saam

tot ’n verskriklike einde kom,”

sê die Here.

18 “Ek weet wat hulle doen

en wat hulle dink.

Daarom maak Ek

al die nasies en volke bymekaar.

Hulle sal kom

en my heerlikheid sien.

19 “Ek sal ’n teken

onder hulle oprig

en Ek stuur almal

wat die oordeel oorleef het

uit na ander nasies toe,

na Tarsis, na Pul, na Lud

met sy bedrewe boogskutters,

na Tubal, na Griekeland,

en al die ver eilande,

na almal wat nog nie

van My en my heerlikheid

gehoor het nie.

Hulle sal vir al die nasies

van my heerlikheid vertel.

20 Hulle sal die oorblyfsel van jou volk

terugbring uit al die nasies

na my heilige berg

as ’n offer vir die Here.

Hulle sal ry op perde en waens,

op drastoele, muile

en kamele.

Net soos Israel voorheen gedoen het,

sal hulle graanoffers in rein skottels

na die huis van die Here bring,”

sê die Here.

21 “Ek sal sommige van hulle

wat terugkom,

aanstel as priesters en Leviete.

Ek, die Here, sê so.

22 “Soos die nuwe hemel

en die nuwe aarde

wat Ek gaan maak,

sal bly bestaan,”

sê die Here,

“so sal julle as my volk

bly bestaan.

23 Van week tot week

en van maand tot maand

sal alle mense kom

en voor My neerbuig,”

sê die Here.

24 “As hulle uitgaan uit die stad,

sal hulle die lyke sien

van dié wat teen My

opstandig was.

Want die wurms

wat aan hulle vreet,

sal nooit vrek nie.

En die vuur

waarin hulle brand,

sal nooit ophou brand nie.

Alle mense

wat daar verbygaan,

sal met afsku vervul wees.”