JESAJA 51

Vertrou op die Here

1 “Luister baie mooi na My,

almal wat die reg nastreef

en na die wil van die Here vra!

Dink aan die rots

waaruit julle gekap is,

die klipgroef

waaruit julle gesny is.

2 Dink terug aan

Abraham en Sara,

van wie julle afstam.

Abraham was alleen

toe Ek hom geroep het.

Maar Ek het hom geseën,

en hy het ’n groot nasie geword.”

3 Die Here gaan Sion vertroos

en Hom ontferm

oor die verwoeste stad.

Hy gaan haar woestyngebied

maak soos Eden,

haar woesteny

soos die tuin van die Here.

Vreugde en blydskap sal volop

in die stad wees.

Liedere van dankbaarheid

sal weerklink.

4 “Luister na My, my volk.

Hoor mooi, Israel,

want my onderrig

sal van My af uitgaan,

my reg

sal ’n lig wees vir die volke.

5 My redding kom gou,

my verlossing is op pad.

Die eilande wag op My.

Hulle hoop op my redding.

6 Kyk op in die lug bokant julle,

kyk af na die aarde hieronder.

Die lug sal verdwyn soos rook

en die aarde sal vergaan

soos klere.

Die mense op die aarde

sal doodgaan soos vlieë,

maar die redding wat Ek bring,

sal wees vir altyd.

My regspraak

sal vir altyd duur.

7 “Luister na My,

julle wat weet wat reg is,

julle wat my wette

in julle harte het.

Moenie bang wees vir mense

wat met julle spot nie.

Moenie skrik

as hulle julle beledig nie.

8 Want vismotte sal hulle opvreet

soos klere.

Wurms sal hulle opvreet

soos wol.

Maar my regspraak

sal wees vir altyd,

my redding vir alle geslagte.”

9 Word wakker! Word wakker,

Here!

Beklee Uself met mag,

sterk arm van die Here!

Word wakker soos vroeër

soos in tye lank gelede.

Is dit dan nie U wat Rahab

aan stukke gekap het,

die seemonster

deurboor het nie?

10 Is U nie die Een

wat die see, die diepwaters,

laat opdroog het,

wat ’n pad gemaak het

op die bodem van die see

sodat dié wat verlos is,

kon deurtrek nie?

11 Almal vir wie die Here

losgekoop het,

sal met vreugde

terugkeer na Sion.

Blydskap sal die kroon

op hulle koppe wees.

Hulle sal vol vreugde

en blydskap wees.

Hartseer en smart sal verdwyn.

12 “Ek, ja, Ek is die Een

wat julle troos.

Hoekom is julle dan bang

vir gewone mense,

vir mense wat soos gras vergaan

en verdwyn?

13 Julle het vergeet van die Here,

julle Skepper

wat die hemel oopgespan het,

wat die fondamente

van die aarde gelê het.

Jy was altyd vol vrees

vir die woede

van jou verdrukkers

wat uit is daarop om jou te vernietig.

Maar waar is die toorn

van jou verdrukker nou?

14 Een van die dae

word al jou gevangenes

vrygelaat!

Hulle sal nie doodgaan

in die tronk nie

en hulle sal ook nie honger ly nie.

15 Want Ek is die Here jou God

wat die see onstuimig maak

sodat sy golwe dreun.

Die Here, die Almagtige,

is my Naam!

16 Ek het my woorde

in jou mond gesit.

Ek het jou beskerm

met die skadu van my hand.

Dis Ek wat die sterre

op hulle plek sit,

en die aarde

gevestig het.

Dis Ek wat vir Sion sê:

‘Jy is Myne!’”

Die Here se wraak

17 Word wakker, word wakker!

Staan op, Jerusalem!

Jy wat die beker van toorn

uit die hand van die Here

gedrink het.

Jy wat dit leeggedrink het

sodat dit jou laat steier het.

18 Nie een van jou kinders

was daar om jou te lei nie.

Daar was nie een van jou kinders

wat jou hand gevat het

om te sê wat jy moet doen nie.

19 ’n Dubbele ramp het jou getref.

Wie is daar om jou te troos?

Daar is net verwoesting

en vernietiging,

hongersnood en oorlog.

Wie is daar om jou te bemoedig?

20 Jou kinders het flou geword.

Hulle lê in die strate,

hulpeloos soos wild

wat in ’n vangnet gevang is.

Die Here het sy wraak

oor hulle uitgestort.

God het hulle gestraf.

21 Daarom, luister nou hierna,

jy met soveel ellende,

jy wat dronk is,

maar nie van wyn nie.

22 So sê jou oppermagtige Here,

jou God en jou Beskermer:

“Kyk, Ek vat uit jou hand

die beker wat jou laat steier.

Uit die beker

van my woede

hoef jy nooit weer

te drink nie.

23 Ek sit daardie beker

in jou verdrukkers se hand,

hulle wat vir jou gesê het:

‘Gaan lê op die grond

sodat ons oor jou kan loop!’

En jy het jou rug gemaak

soos die grond,

soos ’n straat vir hulle

wat oor jou geloop het.”

JESAJA 52

Verlossing vir Jerusalem

1 Word wakker, word wakker,

Sion, beklee jou met krag!

Trek jou mooiste klere aan,

Jerusalem, heilige stad.

Onbesnedenes en onrein mense

sal nie meer in jou kom nie.

2 Staan op uit die stof,

Jerusalem!

Staan op!

Maak die toue

om jou nek los, Sion,

jy wat ’n gevangene is.

3 So sê die Here:

“Ek het niks vir julle gekry

toe ek julle verkoop het nie.

En nou kan ek julle terugkoop

sonder geld.”

4 So sê die oppermagtige Here:

“Lank gelede het my volk

as vreemdelinge in Egipte

gaan bly.

Nou het Assirië

hulle sonder rede verdruk.

5 “En nou, wat kry Ek nou hier?”

vra die Here.

“Wie het nou weer my volk

sonder rede slawe gemaak?

Dié wat oor hulle heers,

spot met hulle,”

sê die Here.

“Hulle praat die hele dag

sleg van My.

6 Daarom sal my volk

my Naam ken.

En daarom sal hulle weet

wanneer die dag kom,

dat dit Ek is wat sê:

‘Hier is Ek!’”

7 Hoe mooi klink die voetstappe

op die berge

van hulle wat goeie nuus bring

en vrede en verlossing aankondig,

wat vir Sion sê:

“Jou God regeer!”

8 Luister! Die wagte roep hard,

hulle sing van vreugde.

Want voor hulle oë sien hulle

hoe die Here terugkom

na Sion toe.

9 Die puinhope van Jerusalem

moet sing van vreugde,

want die Here

het sy volk getroos.

Hy het Jerusalem verlos.

10 Die Here sal sy heilige mag

voor die volke se oë vertoon.

Tot aan die uithoeke

van die aarde

sal hulle God se redding sien.

11 Gee pad, gee pad!

Trek weg uit Babel!

Moenie wat onrein is,

aanraak nie.

Kom daar uit

en sorg dat julle rein is,

julle wat die tempelgereedskap

van die Here dra.

12 Julle sal nie haastig padgee nie.

Julle sal nie hardloop

soos vlugtelinge nie.

Die Here sal voor julle uittrek

en die God van Israel

sal julle van agter beskerm.

Die Here se dienaar sal ly

13 My dienaar sal voorspoedig

wees.

Hy sal hoog in aansien wees.

Almal sal hom eer.

14 Baie mense was ontsteld

toe hulle hom sien.

Hy was so misvorm

dat hy skaars soos ’n mens

gelyk het.

15 Hy sal baie volke en hulle konings

rein maak,

en konings sal sprakeloos

voor hom wees.

En hulle sal hoor

wat hulle voorheen nog nooit

gehoor het nie.

JESAJA 53

1 Wie het ons boodskap geglo?

Aan wie het die Here

sy reddende mag openbaar?

2 My dienaar het gegroei

soos ’n loot wat uitspruit

in die teenwoordigheid

van die Here,

soos ’n plant wat groei

in droë grond.

Hy was nie mooi of koninklik

sodat hy ons sou aantrek,

of met ’n voorkoms

dat ons van hom sou hou nie.

3 Hy was verag

en verwerp deur mense,

iemand wat leed en pyn

geken het.

Hy was soos iemand vir wie mense

die gesig wegdraai,

verag

en ons het hom nie geag nie.

4 Tog was dit ons swakhede

wat hy gedra het.

Hy het ons pyn verduur.

Ons het aan hom gedink

as dat God hom slaan,

kasty en teister.

5 Hy is geslaan en gepynig

ter wille van ons sondes.

Hy is gestraf

sodat ons in vrede kan leef.

Hy is geslaan

sodat ons gesond kan word.

6 Almal van ons het weggedwaal

soos ’n klomp skape.

Ons het ons eie pad gevolg.

En toe het die Here

ons almal se skuld en sondes

op hom laat neerkom.

7 Hy is geslaan en mishandel,

maar hy het sy mond

nie oopgemaak nie.

Hy is soos ’n lam

wat ter slagting gelei word.

Soos ’n skaap stil is

voor sy skeerders,

so het ook hý sy mond

nie oopgemaak nie.

8 Hy is verdruk, skuldig bevind,

en weggelei na sy dood.

Wie van sy mense het besef

dat hy vir hulle sondes

doodgemaak word?

Dat hy eintlik in húlle plek

gestraf word?

9 Hy het niks verkeerds

gedoen nie,

en het nooit enigiemand

bedrieg nie.

Tog is hy soos ’n misdadiger

begrawe,

in ’n ryke se graf

neergelê.

10 Maar dit was die Here se wil

om hom te vermorsel

en te laat ly.

Al het die Here sy lewe

’n skuldoffer gemaak,

sal hy ’n groot nageslag kry

en nog lank lewe.

Die Here se plan

sal as gevolg van Hom ontvou.

11 Ná sy bitter lyding

sal hy weer die lig sien

en tevrede wees.

En deur alles wat hy beleef het,

sal my regverdige dienaar

dit moontlik maak vir baie

om ook regverdig te word,

want hy dra al hulle sondes.

12 Daarom eer Ek hom

as iemand

wat groot en magtig is.

Want hy was bereid

om doodgemaak te word

en as misdadiger beskou te word.

Hy het die sondes van baie gedra,

en vir sondaars gebid.

JESAJA 54

Toekomstige glorie van

Jerusalem

1 “Sing, kinderlose vrou

wat nooit ’n kind

voortgebring het nie.

Sing hard en vrolik,

juig van vreugde,

al het jy nooit ’n kind gehad nie!

Want die vrou

wat nie kon kinders hê nie,

sal nou meer kinders hê

as getroude vroue,”

sê die Here.

2 “Maak jou woning groter.

Span jou tent wyer,

en moenie huiwer nie.

Maak die tentlyne langer

en slaan die penne dieper in.

3 Want jy sal na links en regs

uitbrei.

Jou nageslag sal ander nasies

oorweldig

en in hulle stede gaan bly.

4 “Moenie bang wees nie.

Jy sal nie weer

verneder word nie.

Moenie bang wees vir die skande

van voorheen nie.

Jy sal die skande van jou jeug

vergeet

en ook die vernedering

toe jy ’n weduwee was.

5 “Jou Skepper

sal ook jou man wees.

Die Here, die Almagtige,

is sy Naam.

Die Heilige van Israel

is jou Redder.

Hy is die God

van die hele wêreld!

6 Dit is die Here

wat jou teruggeroep het

van jou smart.

Jy was soos ’n jong vrou

wat deur haar man verstoot is,”

sê jou God.

7 “Vir ’n kort rukkie

het Ek jou verstoot,

maar omdat Ek jou baie liefhet,

vat Ek jou terug.

8 In ’n oomblik van woede

het Ek vir ’n kort rukkie

van jou weggekyk.

Maar nou sal Ek jou

vir altyd liefhê,”

sê die Here,

jou Redder.

9 “Dit is soos in die tyd van Noag

toe Ek belowe het

dat die waters nooit weer

die aarde sal oorstroom nie.

So belowe Ek nou

dat Ek nooit weer

kwaad sal wees

en jou straf nie.

10 Want die berge kan padgee

en die heuwels verdwyn.

Maar my liefde vir jou

sal nooit verander nie,

en my verbond van vrede

sal nooit gebreek word nie,”

sê die Here wat Hom oor jou

ontferm.

11 “Stad wat verdruk is,

gestriem deur storms,

vir wie daar geen troos was nie,

jou mure bou Ek

met edelgesteentes,

en jou fondamente van saffier.

12 Ek bou jou torings van robyne,

jou poorte van juwele,

en jou stadsmuur van kosbare

edelstene.

13 Al jou inwoners

sal by die Here leer

en hulle sal altyd vrede geniet.

14 Jou heersers sal

regverdig optree.

Tiranne sal ver wegbly van jou,

en jy het niks om te vrees nie.

Terreur sal nie naby jou kom nie.

15 As iemand jou aanval,

sal dit nie Ek wees

wat dit bewerk het nie.

Wie jou aanval,

sal die onderspit delf.

16 “Ek het ’n ambagsman gemaak

wat die vuur aanblaas

en wapens van vernietiging

daarin maak.

Net so het Ek die verwoester geskep

om verwoesting te saai.

17 Maar geen wapen

wat teen jou gemik word,

sal iets teen jou kan uitrig nie.

Elke aanklag teen jou

sal jy weerlê.

Dit is die erflating

van die dienaars van die Here.

Aan hulle laat Ek reg geskied,”

verklaar die Here.

JESAJA 55

Uitnodiging

1 “Almal wat dors is,

kom na die water toe.

Selfs al het jy geen geld nie,

kom, koop en eet.

Kom, koop wyn en melk

sonder prys en geld.

2 Hoekom spandeer julle julle geld

op dit wat nie brood is nie?

Hoekom werk julle vir iets

wat nie kan versadig nie?

Luister mooi na My,

dan sal julle eet wat goed is,

en versadig kan word

met die beste wat te kry is!

3 Luister tog, kom na My toe.

Luister na My dat julle kan lewe.

Ek is gereed

om ’n ewige verbond te sluit.

Ek wil my troue liefde

aan julle betoon

soos Ek aan Dawid belowe het.

4 Ek het hom ’n getuie gemaak

vir al die volke,

’n regeerder en bevelvoerder

van volke.

5 Jy sal oor nasies regeer

wat jy nie geken het nie.

Nasies wat jou nie ken nie

sal na jou toe hardloop

ter wille van die Here jou God,

die Heilige van Israel,

wat jou vereer.”

6 Vra na die Here

terwyl jy Hom nog kan vind.

Roep Hom nou aan

terwyl Hy nog naby is.

7 Die goddelose mens

moet sy verkeerde dinge los,

en die bose mens

sy slegte gedagtes.

Hy moet terugdraai na die Here

en Hy sal hom genadig wees.

Ja, draai na God,

want Hy sal altyd vergewe!

8 “My gedagtes is anders

as julle s’n,

en julle paaie is nie my paaie nie,”

sê die Here.

9 “Want soos die hemel

hoër is as die aarde,

so is wat Ek doen,

hoër as wat julle doen,

en my gedagtes

hoër as julle gedagtes.

10 Reën en sneeu

kom uit die hemel,

en dit gaan nie daarheen

terug nie.

Dit maak die aarde nat

om die plante te laat bot

en vrugte te laat dra

sodat daar saad is om te saai

en brood om te eet.

11 Net so is dit met die woord

wat uit my mond kom:

Dit sal nie leeg

na My toe terugkeer nie,

maar dit sal doen wat Ek verwag

en die doel bereik

waarvoor Ek dit gestuur het.

12 Julle sal in blydskap wegtrek

en in vrede gelei word.

Die berge en heuwels sal juig

en die bome in die veld

sal hulle hande klap!

13 Waar daar eers net dorings was,

sal daar nou sipresse groei.

En in die plek van ’n dissel

sal daar nou mirtebome groei.

Dit sal wees tot eer van die Here,

’n blywende teken

van sy mag en liefde.”

JESAJA 56

Seën vir al die nasies

1 So sê die Here:

“Tree regverdig en eerlik op,

doen wat reg en goed is,

want Ek is op pad

om julle te red.

2 Geseënd is almal wat versigtig

dit alles doen.

Geseënd is elkeen

wat my Sabbatdae onderhou

deur te weier om dan te werk.

En geseënd is almal wat weier

om die verkeerde te doen.

3 “’n Uitlander

wat deel geword het

van die volk van die Here

moenie dink:

‘Die Here sal my sekerlik

uitsluit van sy volk!’ nie.

’n Ontmande moenie dink:

‘Ek is maar ’n droë boom!’ nie.”

4 Want so sê die Here:

“Aan die ontmandes

wat my Sabbat onderhou

en kies om te doen

wat My behaag,

en lewe volgens my verbond,

5 vir hulle sal Ek

in my tempel en aan sy mure

’n gedenkteken oprig,

en ’n erenaam gee

wat beter is as dié van seuns

en dogters.

Ek sal aan hulle

’n blywende naam gee,

wat nooit uitgewis sal word nie.

6 Ek seën ook die uitlanders

wat hulle aan die Here wy

en Hom dien en liefhet

en die Sabbatdae onderhou

en lewe volgens my verbond.

7 Ook húlle bring Ek

na my heilige berg

en gee hulle vreugde

in my huis van gebed.

Hulle brandoffers en ander offers

sal Ek aanvaar,

want my tempel

sal ’n huis van gebed genoem word

vir al die nasies.”

8 Die oppermagtige Here,

wat die ballinge van Israel

terugbring, sê:

“Benewens my volk Israel

bring Ek ook ander huis toe.”

Sondige leiers veroordeel

9 Kom, wilde diere van die veld!

Al die diere in die bos,

kom en verslind my volk!

10 Israel se wagte is almal blind

en weet niks.

Hulle is soos honde

wat nie kan grom of blaf

wanneer gevaar aankom nie.

Hulle hou net daarvan

om rond te lê,

te droom en te slaap.

11 Hulle is so gulsig soos honde

wat nooit genoeg kry nie.

Hulle is dwase herders.

Elkeen loop op sy eie paadjie

en elkeen sorg net vir homself.

12 Hulle sê:

“Kom, hier is die wyn!

Laat ons dronk word van bier!

Laat ons aanhou partytjie hou!

Môre sal selfs nog beter wees

as vandag.”

JESAJA 57

1 Die regverdige gaan dood

en niemand neem dit ter harte nie.

Die getroues kom om

voor hulle tyd.

En niemand verstaan

dat regverdiges sterf

om aan boosheid te ontkom nie.

2 Hulle wat opreg leef,

gaan na waar daar vrede is,

en vind rus in die graf.

Afgodsdiens veroordeel

3 “Maar kom hier,

julle kinders van towenaars,

julle afstammelinge

van egbrekers en prostitute!

4 Met wie spot julle?

Vir wie lag julle

en steek julle tong uit?

Julle is mos kinders

van sondaars,

die afstammelinge van leuenaars!

5 Julle brand van wellus

onder elke groen boom.

Julle slag julle kinders

in elke vallei,

onder elke oorhangende rots.

6 Julle gode is die gladde rotse

in die valleie.

Vir hulle het julle drankoffers

uitgegiet

en graanoffers aangebied.

Moet ek tevrede daarmee wees?

7 Op hoë berge en heuwels

het jy ’n bed ingerig

vir jou onsedelikhede

deur afgode te aanbid.

Jy het daarheen opgegaan

om offers te bring.

8 Agter toe deure

het jy jou afgodsbeelde opgestel.

Jy was ontrou aan My

en het jou kaal uitgetrek.

Jy het op die bed geklim,

en vir hulle plek gemaak.

Jy het ’n verbintenis

met jou bedmaats gemaak

en hulle naaktheid geniet.

9 Jy het olyfolie en parfuum

as offers vir Molek gegee.

Jy het boodskappers

na ver plekke gestuur,

selfs tot in die doderyk.

10 Jy het moeg geword

van jou soektog,

maar jy het nooit erken:

‘Dit is sinloos!’ nie.

Jy het jouself weer versterk,

en dan maar net aangegaan.

11 “Hoekom was jy banger vir hulle

as vir My?

Hoekom onthou jy My nie meer nie

en dink jy nie meer

aan My nie?

Is dit omdat Ek lank stilgebly het,

dat jy My nie meer dien nie?

12 Daarom sal Ek jou optrede

ontbloot.

Jou gode sal jou nie kan help nie.

13 As jy roep om hulp,

mag jou klomp afgode jou red!

Maar ’n wind sal hulle wegwaai

en hulle omstamp.

Wie egter tot My sy toevlug neem,

sal die hele land erf

en my heilige berg besit.”

Ek sal hulle genees

14 Dan sal die Here sê:

“Herbou die pad!

Verwyder die rotse en klippe

uit die pad van my volk!”

15 So sê die hoë, verhewe Een

wat vir altyd bestaan,

wie se Naam die Heilige is:

“Ek woon in ’n hoë, heilige plek,

maar ook saam met die mens

wat berouvol en nederig is.

Ek gee nuwe krag

aan dié wat nederig is

en aan dié wat verdruk word,

en nuwe krag

aan dié wat berouvol is.

16 Want Ek kla nie

vir altyd aan nie

en bly nie

vir lank kwaad nie.

Want dan sou dit

die einde wees van

die mens wat Ek geskep het

en aan wie Ek die lewensasem

gegee het.

17 Ek was baie kwaad

oor my volk se sonde en hebsug.

Ek het hulle gestraf

en Myself in woede onttrek

aan hulle.

Maar hulle het net bloot aangehou

om te sondig.

18 Ek het gesien wat hulle doen,

maar nogtans sal Ek

hulle gesond maak!

Ek sal hulle begelei

en dié wat treur, vertroos.

19 Dan sal hulle

My weer loof.

En hulle sal vrede hê,

almal van ver en naby.

Want Ek sal hulle almal genees,”

sê die Here.

20 “Maar die goddeloses

is soos die onstuimige see.

Dit kom nooit tot rus nie.

Die golwe hou aan

om slyk en modder uit te stoot.

21 Daar is geen vrede

vir die bose mense nie,”

sê my God.

JESAJA 58

Ware en valse aanbidding

1 “Roep so hard as wat jy kan!

Roep so hard

soos ’n trompet kan blaas!

Vertel my volk

van hulle oortredings,

die mense van Jakob

van hulle sondes!

2 Hulle soek elke dag my wil

asof hulle ywerig

my paaie wil ken.

Jy sou dink hulle is ’n volk

wat doen wat reg is,

en nie die bepalings van sy God

nagelaat het nie.

Hulle vra My om beslissings

te maak

en lyk gretig

om naby God te wees.

3 Hulle vra:

‘Waarom het ons gevas,

maar U sien dit nie?

Ons het ons verootmoedig,

maar U het dit nie

opgelet nie!’

“Dis omdat julle op vasdae

net julle eie plesier najaag,

en die mense in julle diens

nog harder laat werk.

4 Julle vas eindig in twis,

rusie en vuisgevegte.

Op hierdie manier

kan julle nie vas

en dan verwag

dat dit in die hemel

gehoor sal word nie.

5 Is dit die vas wat Ek verkies,

net ’n dag waarop ’n mens

homself verneder?

Is dit om net jou kop te buig

soos ’n biesie

en te sit in sak en as?

Is dit wat jy ’n vas noem,

’n dag wat vir die Here

aanvaarbaar sal wees?

6 “Nee, is die vas wat Ek wil hê,

dan nie:

om mense wat onregverdig

in die tronk is, vry te laat,

om die juk van mense af te haal

en elke juk te breek nie?

7 Is dit nie om jou kos te deel

met dié wat honger is,

om aan die arm swerwer

blyplek te gee,

om klere te gee vir mense

wat dit nodig het,

om nie weg te draai

van jou familie

wat jou hulp nodig het nie?

8 As jy dit doen,

sal die lig vir jou deurbreek

soos die nuwe dag.

Jou wonde sal spoedig genees.

Hy wat jou red,

sal voor jou uitgaan,

die heerlikheid van die Here

sal jou van agter beskerm.

9 Wanneer jy dan roep om hulp,

sal die Here antwoord.

Jy sal roep om hulp

en Hy sal sê: Hier is Ek!

“As jy ontslae raak van die juk

van verdrukking,

van die beskuldigende vinger

en kwaadpratery,

10 as jy kos gee vir dié wat honger is

en hulle help wat verdruk word,

sal jou lig skyn

in die donkerte

en jou nag sal word

soos helder dag.

11 Die Here sal jou altyd lei.

Selfs in tye van droogte

sal Hy voorsien in jou behoeftes.

Hy sal jou gesond en sterk hou.

Jy sal wees soos ’n tuin

wat genoeg water kry,

soos ’n fontein

wat altyd aanhou vloei.

12 Jou kinders sal die puinhope

van jou stede

herbou.

Dan sal hulle jou noem:

die een wat stukkende mure en

stede opbou.

13 “As jy jou daarvan weerhou

om op die Sabbatdag te oortree

en op my heilige dag

te doen net wat jy wil;

as die Sabbat vir jou

’n vreugde is,

en jy die heilige dag

van die Here in ere hou;

as jy dit respekteer

deur nie jou gewone gang

te gaan nie,

nie te doen wat jy wil,

of nuttelose woorde te praat nie,

14 dan sal jy jou vreugde vind

in die Here.

Ek sal jou die land

weer in besit laat neem,

Ek sal jou laat eet

van die opbrengs van die land

van jou vader Jakob.

Ek, die Here, het dit gesê.”

JESAJA 59

Waarskuwing teen sonde

1 Die Here is nie te swak

om julle te red nie.

Hy is nie te doof

om julle te hoor nie.

2 Julle probleem is

dat julle sondes

julle afgesny het van God.

Hy het weggedraai van julle.

Dit is weens julle sondes

dat Hy nie meer

na julle wil luister nie.

3 Julle hande is vol bloed,

julle vingers is skuldig

van al die onreg.

Julle monde is vol liegstories.

Julle tonge fluister net onreg.

4 Niemand stel sy saak

met opregtheid nie.

Geen uitspraak

is betroubaar nie.

Almal vertrou

op leë argumente

en praat leuens.

Hulle verwek slegte gedagtes

en gee dan geboorte aan onreg.

5 Hulle broei slangeiers uit

en weef ’n spinnekopweb.

Dié wat van die eiers eet, sal sterf.

En as die eiers breek,

kom daar slange uit.

6 Die spinnerakke is onbruikbaar

vir klere;

hulle kan hulleself nie daarmee

toemaak nie.

Hulle dade is vol boosheid

en hulle kenteken is geweld.

7 Hulle voete hardloop

om kwaad te doen

en is haastig

om onskuldige bloed

te vergiet.

Hulle planne is bose planne.

Hulle kenmerk

is ondergang en verwoesting.

8 Ware vrede ken hulle nie.

Op hulle paaie

is daar geen reg nie.

Dié wat daarop loop,

sal nie vrede ken nie.

9 Daarom is redding ver van ons,

geregtigheid nie te vind nie.

Ons wag op lig,

maar alles bly donker om ons.

Ons wag vir helderheid,

maar dit is nog steeds donker.

10 Soos blindes tas ons

teen die mure.

Ons tas rond

soos mense sonder oë.

Selfs helder oordag

struikel ons asof dit skemer is.

Geen wonder ons is soos lyke

tussen gesonde mense nie!

11 Ons grom soos honger bere.

Ons kla soos tortelduiwe.

Want ons soek na reg,

maar dis nêrens te kry nie.

Ons soek na uitkoms,

maar dit bly ver van ons af.

12 Ons oortredings teen U is baie.

Ons sondes getuig teen ons.

Ons opstandigheid is altyd voor ons,

ons is bewus van ons sondes:

13 ons opstand en valsheid

teen die Here,

die ontrou teen ons God,

ons onreg en verdraaiing

van die reg.

Ons beplan en vertel leuens.

14 Die reg is omgekeer,

die regverdige mense

moet op ’n afstand staan.

Die waarheid struikel

in die strate.

Eerlikheid kan nie daar

ingaan nie.

15 Waarheid is nêrens te vind nie.

Elkeen wat ophou

om kwaad te doen,

word self vervolg.

Die Here het dit raakgesien,

en dit was vir Hom verkeerd

dat daar geen regverdigheid

in die regspraak meer was nie.

16 Hy was verstom om te sien

dat niemand die verdruktes

help nie.

Daarom het Hy self gekom

om redding te bewerk

en geregtigheid te laat geskied.

17 Hy trek regverdigheid aan

soos beskermende klere,

en sit die helm van redding

op sy kop.

Sy klere is wraak

en sy woede ’n mantel.

18 Hy vergeld almal

volgens hulle verdienste:

sy woede straf sy vyande,

selfs hulle wat ver is.

19 Van die westekant af

sal mense

die Naam van die Here eer,

van die oostekant af

sal hulle sy heerlikheid eer.

Hy kom soos ’n opgedamde vloed,

wat deur die Gees

van die Here

aangeblaas word.

20 “Die Redder sal kom

na Sion,

Hy kom as Verlosser

vir almal in Jakob

wat hulle van hulle sondes bekeer,”

sê die Here.

21 “Wat My betref,” sê die Here,

“dit is my verbond met hulle:

My Gees wat op jou is

en my woorde

wat Ek in jou mond lê,

sal nie uit jou mond

of uit die monde

van jou kinders,

of jou kindskinders

verdwyn nie,

van nou af en vir altyd.

Ek, die Here, het so gesê!”

JESAJA 60

Toekomstige glorie van

Jerusalem

1 “Staan op, Jerusalem,

laat jou lig skyn

sodat alle volke dit kan sien!

Want die Here se heerlikheid

skyn op jou.

2 Duisternis kom oor die aarde,

donkerte oor al die nasies,

maar oor jou gee die Here lig,

oor jou verskyn

sy teenwoordigheid.

3 Nasies sal stroom na jou lig,

en konings na die glans

van die nuwe dag

wat vir jou aangebreek het.

4 Kyk rondom jou.

Hulle kom almal bymekaar.

Jou seuns kom uit ver lande.

Jou dogtertjies

word op die heup gedra.

5 Jy sal dit sien, jou oë sal blink,

en jou hart sal bons van vreugde,

want handelaars van oor

die hele wêreld

bring hulle skatte na jou,

die rykdom van baie lande.

6 Troppe kamele kom na jou toe,

jong kamele

uit Midian en Efa.

Almal wat uit Skeba kom,

bring goud en wierook

om daarmee die lof

van die Here te besing.

7 Die kleinvee van Kedar

word vir jou gegee.

Die ramme van Nebajot

is tot jou beskikking.

Hulle sal aanvaarbaar wees

vir offers op my altare.

Ek sal my heerlike tempel

nog verder verheerlik.

8 “Wat sien Ek aangesweef kom

soos wolke,

soos duiwe na hulle neste toe?

9 Die eilande sien op na My,

die skepe van Tarsis

is heel voor

om jou kinders van ver af te bring,

saam met hulle skatte,

tot eer van die Here jou God,

die Heilige van Israel,

want Hy het jou laat skitter

met sy glans.

10 “Vreemdes sal jou stede

herbou,

hulle konings sal

tot jou diens wees.

Ek het jou in woede gestraf,

maar in my genade

sal Ek My oor jou ontferm.

11 Jou stadshekke sal

heeldag en heelnag oop wees,

sodat die rykdom van die nasies

na jou gebring kan word

en die konings in ’n triomftog

die stad binnegelei sal word.

12 Die nasie of koninkryk

wat jou nie dien nie,

sal verdwyn en vernietig word.

13 “Die pragtige bome

van die Libanon

sal na julle toe kom,

die woude vol sipresse,

platane en denne.

Dit sal gebruik word

om my heiligdom te versier.

My tempel sal heerlik wees.

14 Die kinders van jou

verdrukkers

sal voor jou kom buig.

Almal wat op jou neergesien het,

sal jou voete kom soen.

Hulle sal jou noem:

die Stad van die Here,

Sion van die Heilige van Israel.

15 “Waar jy voorheen verstoot is,

gehaat en deur almal vermy,

gee Ek jou nou blywende roem,

en maak Ek jou ’n vreugde,

geslag na geslag.

16 Jy sal die melk

van nasies drink,

aan ’n koninklike bors drink.

Dan sal jy weet

dat Ek, die Here,

jou Redder en Verlosser,

die Magtige van Jakob is.

17 Ek ruil jou brons vir goud,

jou yster vir silwer,

jou hout vir brons

en jou klippe vir yster.

Vrede en regverdigheid

sal jou heersers wees!

18 Geweld sal verdwyn

uit jou land,

ja, ondergang en verwoesting

van binne jou grense.

Redding sal om jou wees

soos stadsmure,

en almal wat die stad binnekom,

sal My loof.

19 Bedags sal dit nie die son wees

wat vir jou lig verskaf nie,

en snags sal jy nie die maan

nodig hê vir lig nie,

want die Here

sal vir altyd jou lig wees,

en jy sal roem in jou God.

20 Jou son sal nooit weer

ondergaan,

of die maan afneem nie.

Want die Here sal jou lig wees

vir altyd.

Jou dae van hartseer

het op ’n einde gekom.

21 Al jou inwoners

sal regverdig wees.

En hulle sal die land

vir altyd besit,

want Ek sal hulle

met my eie hande plant,

om my roem te vermeerder.

22 Die kleinste onder hulle

sal duisende word,

die swakste

’n sterk nasie.

Ek is die Here.

Wanneer die tyd daarvoor kom,

sal Ek dit doen.”