JESAJA 31

Dwaasheid om op Egipte te

vertrou

1 Verwoesting wag verseker

vir enigeen wat na Egipte

kyk vir hulp.

Hulle vertrou op Egipte

met sy baie perde

en sterk ruiters.

Pleks dat hulle vertrou

op die Heilige van Israel.

Pleks dat hulle vra

wat Hy wil hê.

2 In sy groot wysheid

stuur Hy rampe.

Hy verander nie van gedagte nie.

Hy tree op teen die volk

wat bose dinge doen

en verpletter ook

hulle bondgenote.

3 Want hierdie Egiptenaars

is maar net mense.

Hulle is nie God nie!

Hulle perde

is maar net van vleis.

Hulle is nie gees nie!

As die Here sy hand uitsteek,

val sowel helper

as die een wat gehelp word.

Saam sal hulle sterf.

4 Maar die Here het vir my gesê:

“’n Leeu, ’n jong leeu

lê by sy prooi.

Hy steur hom nie

aan die veewagters,

aan hulle geskreeu en geraas nie.

Hy hou aan met vreet.

Net so sal die Here,

die Almagtige, kom

wanneer Hy veg op Sionsberg.

5 Die Here, die Almagtige,

sal oor Jerusalem waak

soos ’n voël sy nes beskerm.

Hy sal dit beskerm

en so die stad red.

Hy sal daarby verbygaan

en dit red.”

6 Daarom, Israeliete,

kom terug na Hom toe,

al het julle Hom verraai.

7 Daardie dag

sal elkeen van julle

sy silwer afgode

en goue beelde weggooi,

die afgode wat julle

met julle sondige hande

gemaak het.

8 “Die Assiriërs

sal vernietig word,

maar nie deur die swaard

van mense nie.

Die swaard van God

sal hulle tref,

en hulle sal paniekbevange

wegvlug.

Hulle jong soldate

sal gevang word

en slawe gemaak word.

9 Selfs hulle bevelvoerders

sal van angs rondhardloop.

Hulle sal vlug

as hulle die vlae sien aankom,”

sê die Here

wie se vlam helder brand

op die altaar in Jerusalem.

JESAJA 32

Israel se groot redding

1 Kyk, daar kom ’n koning

wat regverdig sal wees!

En leiers sal eerlik oor die volk regeer.

2 Hy sal Israel beskerm

teen die wind en die storm.

Hy sal hulle verfris

soos ’n rivier in die woestyn

en soos die koel skaduwee

van ’n groot rots

in ’n verlate land.

3 Dan sal almal wat kan sien,

God raaksien.

En almal wat kan hoor,

sal na sy stem luister.

4 Selfs die heethoofdiges

onder hulle

sal kalm raak en verstaan.

Die mense wat onseker hakkel,

sal gemaklik kan praat.

5 ’n Dwaas sal nie meer

as eerbaar beskou word nie,

en ’n skurk sal nie meer

gerespekteer word nie.

6 Almal sal dwase

raaksien vir wat hulle is.

Hulle versprei liegstories

oor die Here.

Hulle steel honger mense se kos.

Hulle gee nie water

vir mense wat dors is nie.

7 Die skelmstreke van skurke

sal onthul word.

So ook al die liegstories

wat hulle vertel het

om arm mense in die howe

te verdruk.

8 Maar eerbare mense

het eerbare planne.

Hulle sal eerbaar

behandel word.

9 Luister, vroue

wat selfvoldaan lewe.

Luister na my,

julle wat so selfversekerd is!

10 Binnekort,

oor bietjie meer as ’n jaar,

sal julle wat nou so sorgeloos is

skielik iets hê om oor te bewe.

Want julle vrugte-oes

sal vergaan.

Daar sal geen oes wees nie.

11 Bewe, onbesorgde vroue.

Raak ontslae

van julle onbesorgdheid.

Trek uit julle mooi klere.

Dra klere van sak oor julle smart.

12 Slaan op julle borste van smart.

Want julle oorvloedige plase

is een van die dae daarmee heen.

So ook julle vrugbare wingerde.

13 Want julle land

sal oorgroei word

met dorings en dissels.

Julle vrolike huise

en gelukkige stede

sal weg wees.

14 Die paleis en die stad

sal verlate lê.

Besige dorpe sal leeg wees.

Troppe donkies en bokke

sal op die heuwels wei

waar julle uitkyktorings

eers gestaan het.

15 Dit sal so bly

totdat die Gees uit die hemel

oor ons uitgestort word.

Dan word die woestyn

’n vrugbare veld.

En die vrugbare veld

word ’n welige woud.

16 Regverdigheid

sal in die woestyn heers,

en geregtigheid

in die vrugbare veld.

17 Reg sal veroorsaak

dat daar vrede sal wees.

En geregtigheid sal veroorsaak

dat almal rustig

en veilig sal bly.

18 My volk sal veilig bly,

rustig in hulle huise.

Hulle sal vrede hê.

19 Ook al vernietig hael die woud

en word die stad platgevee,

20 met julle

sal dit geseënd gaan.

Waar julle ook al saai,

sal goeie oeste volg.

Julle beeste en donkies

sal die wêreld vol wei.

JESAJA 33

’n Boodskap oor Assirië

1 Die verwoesting is vir jou,

verwoester

wat self nie verwoes is nie.

Ellende wag vir jou, verraaier

wat self nie verraai is nie!

Wanneer jy opgehou het

om te verwoes,

sal jy self verwoes word.

Wanneer jy ophou om te verraai,

sal jy self verraai word.

2 Here, wees ons genadig!

Ons wag op U!

Wees elke dag ons krag,

ons redding in tye van nood.

3 Die vyand vlug

wanneer hulle u stem hoor.

Wanneer U opstaan,

vlug die volke.

4 Wat julle vir julleself

versamel het,

sal verorber word

soos sprinkane daarop toesak.

Soos ’n swerm sprinkane

sal Israel daarop toesak.

5 Die Here is hoog verhewe.

Hy woon in die hemel.

Hy sal Jerusalem met reg

en geregtigheid vul.

6 Lewenslank

is Hy jou vaste fondament,

’n ryke voorraad van redding,

wysheid en kennis.

As jy die Here dien,

sal jy al hierdie skatte kry.

7 Jou ambassadeurs huil

van teleurstelling,

want Assirië het

jou versoek vir vrede

summier verwerp.

8 Jou weë is verlate.

Niemand reis op die paaie nie.

Assirië het hulle ooreenkoms

met jou verbreek

en gee niks om vir die beloftes

wat hulle voor getuies

gemaak het nie.

Hulle het respek vir niemand nie.

9 Die hele land huil en vergaan.

Die Libanonberge verwelk.

Die Saronvlakte

is soos ’n woestyn.

Die bome in Basan en Karmel

staan kaal.

10 “Nou sal Ek opstaan,”

sê die Here.

“Nou staan Ek op

en laat my mag geld.

11 Wat julle voortbring, is kaf

en julle gee geboorte aan strooi.

Julle asem is soos vuur

wat julleself verteer.

12 Jou mense sal soos kalk

verbrand word.

Soos afgekapte doringbosse

sal hulle verbrand word.

13 “Luister na wat Ek gedoen het,

julle nasies wat daar ver is.

En julle hier naby,

erken my mag.”

14 Die sondaars in Sion

bewe van vrees.

Die goddeloses is vol angs:

“Wie van ons kan dit uithou

in ’n verterende vuur?

Wie van ons kan uithou

in ’n vuur wat aanhou brand?”

15 Net mense wat reg lewe

en sê wat reg is,

wat weier om deur bedrieëry

wins te maak,

wat wegbly

van omkopery,

wat nie luister

na moordplanne nie

en hulle oë toemaak

vir die beplanning

van misdade.

16 Sulke mense sal veilig wees.

Die rotsvesting beskerm hulle.

Hulle sal altyd kos

en water in oorvloed hê.

17 Daar kom ’n tyd dat jy self

die koning sal sien

in al sy glorie.

Jy sal ’n land sien

wat strek tot in die verte.

18 Jy sal dan terugdink

aan die tyd van angs:

“Waar is die een

wat ons getel het?

Waar is die een

wat buit moes weeg?

Waar is die een

wat ons torings moes opskryf?”

19 Hierdie gewelddadige mense

sal skielik weg wees,

daardie mense met ’n vreemde,

onverstaanbare taal.

20 Jerusalem sal die plek

van aanbidding en feeste wees.

Jerusalem sal ’n veilige plek wees

waar jou tent

nie verskuif sal word

en sy tentpenne

nie uitgetrek sal word

of enige van sy toue

sal breek nie.

21 Daar sal die Here

jou magtige Beskermer wees.

Hy sal soos ’n wye rivier wees

waarop geen vyand

kan oorvaar teen jou nie.

22 Want die Here is ons Regter.

Die Here is ons Regeerder.

Die Here is ons Koning.

Hy is die een wat ons sal red.

23 Die vyand se skeepstoue

hang slap.

Die maste staan nie regop nie.

Die seile is nie gespan nie.

God se volk verdeel die oorvloedige buit.

Selfs mense wat verlam is,

kry genoeg.

24 Die mense van Israel

sal nooit weer sê:

“Ek is hulpeloos en siek” nie,

want die sonde van mense

is vergewe.

JESAJA 34

’n Boodskap vir die nasies

1 Kom hier en luister,

nasies van die aarde!

Laat die wêreld

en alles daarop hoor wat ek sê.

2 Want die Here is kwaad

vir die nasies.

Sy woede

is teen al hulle soldate gerig.

Hy sal hulle heeltemal vernietig,

Hy sal sorg dat hulle

geslag word.

3 Hulle dooies

sal nie begrawe word nie.

Die stank van die lyke

sal die hele land vol wees.

Die berge sal deurdrenk wees

van hulle bloed.

4 Die hemelliggame sal wegsmelt.

Die hemel sal soos ’n boekrol

toegerol word.

Die sterre sal verdof en val

soos verlepte blare

van ’n wingerdstok,

of ’n vyeboom wat verdroog.

5 Wanneer my hemelse swaard

die nasies se bloed laat vloei,

kyk dan mooi,

dan sal dit afkom op Edom,

die volk wat Ek heeltemal uitroei

wanneer Ek hom straf.

6 Die swaard van die Here

is deurdrenk van bloed.

Dit is vol vet asof Hy lammers,

bokramme en skaapramme

geslag het om ’n offer te bring.

Ja, die Here bring ’n groot offer

in Bosra.

Hy rig ’n groot slagting aan

in Edom.

7 Die sterkstes en die oues

en die jonges sal doodgaan.

Die land is deurdrenk van bloed.

Die grond is deurtrek van vet.

8 Want dit is die dag

van die Here se wraak,

die jaar van vergelding

ter wille van Israel.

9 Die riviere van Edom

sal gevul word met teer,

die grond oortrek met swael

en die land met pik oordek.

10 Hierdie oordeel oor Edom

sal nooit eindig nie.

Die land sal verlate lê

van geslag tot geslag.

Niemand sal meer

daar deurtrek nie.

11 Die land sal die blyplek wees

van woestynuile en kraaie.

Want God bring

verwarring oor Edom

en verwoes die land.

12 Die land sal genoem word

die Land van Niks,

en sy leiers sal verdwyn.

13 Dorings sal die paleise

oorgroei,

brandnetels en dissels

sy forte.

Die ruïnes sal ’n blyplek word

vir jakkalse en volstruise.

14 Wildehonde en hiënas

kry mekaar daar.

Wildsbokke roep na mekaar.

Die naggees sal daar bly

om ’n rusplek te vind.

15 Die uil maak daar nes

en lê haar eiers.

Sy broei haar kleintjies uit

en beskerm hulle daar.

Ook die aasvoëls kom

om daar te paar.

16 Kyk gerus

in die boek van die Here,

en lees

wat Hy gaan doen:

Nie een van die voëls

of diere sal ontbreek nie.

En nie een sal wees

sonder ’n maat nie.

Want die Here het dit belowe.

Sy Gees sal dit alles

waar laat word.

17 Hy het self die land opgemeet

en verdeel.

Hy het dit bemaak

aan hierdie diere.

Hulle sal dit vir altyd besit,

van geslag tot geslag.

JESAJA 35

Hoop op herstel

1 Die droë woestyn

sal bly wees.

Die dor plekke

sal vol blomme wees.

2 Ja, daar sal ’n oorvloed wees

van blomme,

en ’n gejuig en gesing!

Die woestyne

sal groen word

soos die Libanonberge,

so mooi soos die weivelde

van Karmelberg

en die vlaktes van Saron.

Daar sal die Here

sy heerlikheid ten toon stel,

en die grootsheid

van ons God.

3 Versterk dié wat moeg geword het.

Bemoedig dié wat wil neerslaan.

4 Sê vir dié wat bang is:

“Wees sterk

en moenie bang wees nie.

Want julle God kom

om wraak te neem,

om julle vyande te straf

en om julle te red!”

5 Wanneer Hy kom,

laat Hy blindes sien

en dowes hoor.

6 Lam mense sal rondspring

soos bokke,

en mense wat nie kon praat nie,

sal van vreugde sing!

Fonteine sal in die wildernis

ontspring

en strome water

sal die woestyn natlei.

7 Die droë grond

sal ’n poel water word,

die dorstige land

borrelende fonteine.

Waar daar eers net blyplek was

vir woestynjakkalse,

sal daar nou

gras, riet en bossies groei.

8 Deur die woestyn

sal nou ’n grootpad loop.

Die pad sal genoem word:

die Heilige Weg.

Mense wie se harte boos is,

sal nie daarop reis nie.

Dit sal net oop wees vir mense

wat op God se pad loop.

Dwase sal nie

daar kom nie.

9 Langs die pad

sal leeus nie skuil nie.

Daar sal geen roofdiere

wees nie.

Net mense vir wie God gered het,

sal op die pad loop.

10 Dié wat die Here vrygekoop het,

sal terugkeer na Jerusalem.

Hulle sal sing

van blydskap,

hulle sal vol vreugde wees,

en ellende en smart

sal verdwyn.

JESAJA 36

Assirië val Juda binne

1 In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en dit verower.

2 Toe het die koning van Assirië sy persoonlike verteenwoordiger met ’n groot leër uit Lakis gestuur om koning Hiskia in Jerusalem te konfronteer. Die Assiriërs was langs die kanaal wat water na die boonste dam lei, naby die pad waar klere gebleik is.

3 Hier is ’n lys van amptenare wat uitgegaan het om die verteenwoordiger te ontmoet: Eljakim seun van Gilkija was administrateur van die paleis, Sebna was die sekretaris van die hof en Joag seun van Asaf was die koning se historikus.

4 Die Assiriese koning se verteenwoordiger het hierdie boodskap vir koning Hiskia gestuur:

“So sê die groot koning, Assirië se koning: Waarop vertrou julle dat julle so vol selfvertroue is?

5 Dink jy blote woorde kan militêre vaardigheid en mag vervang? Wie is jou bondgenote wat jou kan help, dat jy nou in opstand teen my gekom het?

6 Sal Egipte jou help? As jy op Egipte leun, vind jy uit dis soos om op ’n stok te leun wat onder jou gewig breek en jou hand deurboor. Die farao van Egipte is geheel en al onbetroubaar.

7 “Miskien sê jy: ‘Ons vertrou op die Here ons God!’ Maar is Hy nie die Een wat deur koning Hiskia beledig is nie? Het Hiskia dan nie sy heiligdomme en altare omgegooi en almal in Juda verplig om net by die altaar hier in Jerusalem te aanbid nie?

8 “Ek sê jou wat: My meester, die koning van Assirië, gaan met jou ’n weddenskap aan. As jy 2 000 ruiters in jou hele weermag kan kry, gee hy jou 2 000 perde om op te ry!

9 Hoe dink jy kan jy met jou klein weermag selfs die swakste afdeling van my meester se leër uitdaag? En tog vertrou jy op Egipte se hulp vir strydwaens en perde!

10 Wat meer is, dink jy ek het jou land binnegeval en beset sonder dat die Here my beveel het? Die Here self het vir my gesê: ‘Gaan en vernietig daardie land.’”

11 Daarop het Eljakim, Sebna en Joag vir die koning se verteenwoordiger gevra: “Praat asseblief tog met ons in Aramees. Ons verstaan dit goed. Moet asseblief nie in Hebreeus met ons praat nie, want die mense op die muur sal dit kan verstaan.”

12 Maar Sanherib se verteenwoordiger het geantwoord: “My meester wil hê elkeen in Jerusalem moet dit hoor, nie net julle nie. Hy wil hê hulle moet weet dat as julle nie oorgee nie, ons hierdie stad sal beleër. Die mense sal so honger en dors word dat hulle hulle eie ontlasting sal eet en hulle eie urine sal moet drink!”

13 Toe het hy regop gaan staan en in Hebreeus geskreeu sodat die manne op die muur dit duidelik kon hoor: “Luister na hierdie boodskap van die groot koning, Assirië se koning!

14 So sê die koning: Moenie dat koning Hiskia julle om die bos lei nie! Hy sal nooit in staat wees om julle te red nie.

15 Moenie dat Hiskia julle mislei om op die Here te vertrou nie. Hiskia sê: ‘Die Here sal ons red! Hierdie stad sal nooit in die hande van die koning van Assirië beland nie.’

16 “Moenie na Hiskia luister nie! Hier is die voorwaardes wat die koning van Assirië bied: Maak vrede met my. Maak die hekke oop en kom uit. Dan sal ek toelaat dat elkeen van julle van sy eie wingerdstok en sy eie vyeboom eet en uit sy eie put water drink,

17 totdat ek kom om julle na ’n ander land te neem nes julle land. Dit is ’n land met ryk oeste van graan en wyn, volop brood en wingerde, ’n land van oorvloed.

18 “Moenie dat Hiskia julle om die bos lei deur vir julle te sê: ‘Die Here sal ons red!’ nie. Het die gode van enige ander nasie al ooit hulle mense kon red van die koning van Assirië?

19 Wat het gebeur met die gode van Hamat en Arpad? En wat van die gode van Sefarwajim? Het hulle Samaria bevry uit my hand?

20 Watter god van enige nasie was al ooit in staat om sy volk te red uit die mag van die koning van Assirië? Noem net een! Wat laat julle dan dink dat die Here Jerusalem sal kan red!”

21 Maar die manne het stilgebly en niks geantwoord nie. Want die koning het die opdrag gegee: “Moet hulle nie antwoord nie.”

22 Daarna het Eljakim seun van Gilkija, die administrateur van die paleis, Sebna, die hof se sekretaris, en Joag seun van Asaf, die koninklike historikus, teruggegaan na Hiskia. Hulle het uit wanhoop hulle klere geskeur. Hulle het ingegaan om die koning te sien en hom vertel wat die Assiriese verteenwoordiger alles te sê gehad het.

JESAJA 37

Hiskia soek die Here se hulp

1 Nadat koning Hiskia die verslag gehoor het, het hy sy klere geskeur en rouklere aangetrek. Hy het na die tempel van die Here gegaan om te bid.

2 Hy stuur toe Eljakim, die administrateur van die paleis, Sebna, die hof se sekretaris en die leierpriesters na die profeet Jesaja seun van Amos. Hulle het almal rouklere aangehad.

3 Hulle het vir Jesaja gesê: “So sê koning Hiskia: Dit is ’n dag waarop ons in die moeilikheid is. Ons is beledig en verneder. Ons is soos wanneer ’n kind gebore moet word, maar die ma het nie die krag daarvoor nie.

4 Miskien het die Here u God gehoor hoe die verteenwoordiger van die Assiriese koning die lewende God uitgetart het, en sal Hy hom straf oor sy woorde. Bid tog vir ons klein groepie wat nog oor is.”

5 Nadat koning Hiskia se amptenare die koning se boodskap aan Jesaja oorgedra het,

6 het die profeet geantwoord: “Sê vir julle meester: ‘So sê die Here: Moenie jou ontstel oor die godslasterlike woorde wat die Assiriese koning se boodskappers teen My geuiter het nie.

7 Luister! Ek gaan seker maak dat die koning ’n gerug kry uit Assirië sodat hy huis toe moet gaan. En Ek sal maak dat hy huis toe wil gaan. Daar sal Ek hom met ’n swaard laat doodmaak.’”

8 Intussen het die Assiriese verteenwoordiger Jerusalem verlaat en teruggegaan om by die koning te kom. Die koning is van Lakis af weg. Hy het Libna aangeval.

9 Kort daarna het koning Sanherib gehoor dat koning Tirhaka van Etiopië ’n groot mag gelei het om die Assiriërs te kom aanval. Voor die koning van Assirië vertrek het om die aanval af te weer, het hy hierdie boodskap na Hiskia in Jerusalem gestuur:

10 “Hierdie boodskap is vir koning Hiskia van Juda: Moenie dat jou God op wie jy vertrou, jou om die bos lei met beloftes dat Jerusalem nie deur die koning van Assirië oorwin sal word nie.

11 Jy weet mos wat die konings van Assirië gedoen het in die een land na die ander. Hulle het almal platgeloop wat in hulle pad gestaan het. Sal jy dan gered word?

12 Het die gode van ander nasies hulle gered, nasies soos Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden wat in Telassar was? Die vorige konings van Assirië het hulle almal uitgewis!

13 En wat het met die koning van Hamat en die koning van Arpad gebeur? Wat het gebeur met die konings van Sefarwajim, Hena en Awwa?”

14 Nadat Hiskia die briewe ontvang het en dit gelees het, het hy na die tempel van die Here gegaan. Hy het die briewe voor die Here oopgesprei.

15 Toe het hy hierdie gebed voor die Here gebid:

16 “Here, Almagtige, God van Israel, u troon is tussen die magtige gerubs! U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde. U alleen het die hemele en die aarde geskep.

17 Hoor tog, Here, luister tog! Open u oë, Here, en kyk! Luister hoe Sanherib die lewende God uitgetart het.

18 “Dit is so, Here, dat die konings van Assirië al hierdie nasies en hulle lande verwoes het, net soos die boodskap sê.

19 “Hulle het inderdaad die gode van hierdie nasies in die vuur gegooi en dit verbrand. Natuurlik kon die Assiriërs dit vernietig! Want dis nie gode nie, slegs beelde van hout en steen wat mense se hande gemaak het!

20 “Here ons God, red ons tog uit sy hand. Dan sal al die koninkryke van die aarde weet dat U alleen, Here, God is.”

Jesaja voorspel Juda se uitkoms

21 Jesaja seun van Amos het toe hierdie boodskap na Hiskia gestuur:

“So sê die Here, die God van Israel: Dis my antwoord op jou gebed oor koning Sanherib van Assirië.

22 Dit is die boodskap wat die Here oor Sanherib sê:

“Die jong meisie van Sion

sien neer op jou.

Sy lag oor jou.

Die dogter van Jerusalem spot,

sy skud haar kop

as jy weghardloop.

23 Vir wie dink jy het jy beledig

en bespot?

Teen wie het jy

jou stem verhef?

En na wie het jy ewe hoogmoedig

neerhalend verwys?

Dit was die Heilige van Israel!

24 Deur jou boodskappers

het jy met die Here gespot.

Jy het gesê:

‘Met my baie strydwaens

het ek die hoogste berge

oorwin,

ja, selfs die hoogste pieke

van die Libanon.

Ek het sy hoogste seders

en sy mooiste sipresse

afgekap.

Ek het tot in die verste uithoeke

en die diepste woude gegaan.

25 Ek het putte gegrawe

in talle veraf lande.

En ek het my verfris

met hulle water.

Ek het selfs die riviere

van Egipte

drooggelê sodat my soldate

daar kon deurtrek!’

26 “Het jy dan nie geluister nie?

Dit was Ék, die Here,

wat so besluit het,

lank gelede al.

Lank terug het Ek beplan

wat Ek nou laat gebeur:

dat jy versterkte stede verwoes

en in puinhope verander.

27 Dis hoekom hulle inwoners

so magteloos was.

Daarom was hulle

maklike prooi vir jou.

Hulle is so hulpeloos

soos die gras,

hulle vertrap so maklik

soos groen spruite.

Hulle is soos gras

op ’n huis se dak

wat maklik deur die son

verskroei word.

28 “Ek ken jou baie goed.

Ek weet of jy sit

of gaan of kom.

Ek weet ook hoe jy

teen My tekere gegaan het.

29 Oor jou arrogansie teen My,

wat Ek self gehoor het,

sit Ek ’n haak deur jou neus.

Ek sit ’n stang tussen jou tande.

Ek laat jou teruggaan

op die pad

waarlangs jy gekom het.

30 “Hiskia, vir jou gee Ek

die volgende teken:

“Hier is die bewys

dat die Here

hierdie stad sal bewaar:

“Vanjaar sal julle eet

wat vanself opkom.

Volgende jaar sal julle eet

wat vanself opkom.

Maar in die derde jaar

sal julle saai en oes.

Julle sal wingerde bewerk

en druiwe eet.

31 Dié in Juda

wat die beleg oorleef het,

sal weer wortelskiet

en vrugte dra.

32 Want uit Jerusalem

sal ’n oorblyfsel kom

en uit Sionsberg

’n groep oorlewendes.

Die ywer van die Here,

die Almagtige,

sal daarvoor sorg.

33 “So sê die Here

oor die koning van Assirië:

“‘Hy sal nie in hierdie stad inkom

om ’n pyl af te skiet nie.

Hy sal nie skilde

teen die stad gebruik

of beleëringswalle

daarteen opgooi nie.

34 Met die pad

waarlangs hy gekom het,

sal hy teruggaan

en nie die stad binnekom nie.’

Dit sê die Here.

35 ‘Hierdie stad sal Ek beskerm

en dit red

ter wille van my eer

en ter wille van my dienaar

Dawid.’”

36 Daardie nag het die engel van die Here na die Assiriese kamp toe ge-gaan. Hy het 185 000 Assiriese soldate doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, was daar oral net lyke!

37 Toe het koning Sanherib van Assirië kamp opgeslaan. Hy het teruggegaan na Nineve toe en daar gebly.

38 Eendag terwyl hy in die tempel van sy god Nisrok aanbid het, het sy seuns Adrammelek en Sareser hom met hulle swaarde vermoor. Hulle het na Ararat toe gevlug. ’n Ander seun, Esarhaddon, het die volgende koning van Assirië geword.

JESAJA 38

Hiskia se siekte en herstel

1 Omtrent daardie selfde tyd het Hiskia dodelik siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek. Hy gee toe vir die koning hierdie boodskap: “So sê die Here: Kry jou sake in orde, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie.”

2 Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gedraai. Hy het tot die Here gebid:

3 “Here, onthou hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly. Ek het probeer doen wat goed is.” Toe het hy bitterlik gehuil.

4 Toe het hierdie boodskap van die Here na Jesaja gekom:

5 “Gaan terug na Hiskia toe en sê vir hom: Dis wat die Here, die God van jou voorouer Dawid sê: Ek het jou gebed verhoor. Ek het jou trane gesien. Ek voeg vyftien jaar by jou lewe.

6 En Ek sal jou en hierdie stad uit die mag van die koning van Assirië red. Ek sal hierdie stad beskerm.

7 “En dit sal die teken wees wat die Here vir jou gee om te bewys dat Hy sal doen wat Hy belowe het:

8 Ek sal sorg dat die son se skaduwee tien trappe op Agas se sonwyser terugskuif!” Die skaduwee op die sonwyser het toe tien trappe teruggeskuif.

Hiskia se loflied

9 Ná koning Hiskia herstel en gesond geword het, het hy hierdie gedig oor sy ervaring geskryf:

10 Ek het gesê:

“Moet ek doodgaan

in die fleur van my lewe?

Moet my beste jare

gesteel word?”

11 Ek het gesê:

“Ek sal nooit weer

die Here God sien

in die land van die lewendes nie.

Ek sal nooit weer

my vriende sien

wat in hierdie wêreld leef nie.

12 My lewe is weggeblaas

soos ’n herder se tent in ’n storm.

Dis kortgeknip

soos wanneer ’n wewer

’n stuk materiaal afsny.

Skielik het U my lewe

laat verbygaan.

13 Heelnag lank

het ek geduldig

op U gewag.

Maar ek is uitmekaargeskeur

soos deur leeus.

Skielik het U my lewe

laat verbygaan.

14 Ek was deurmekaar

en het soos ’n voël geklink,

soos ’n duif wat kla.

My oë het moeg geword

soos ek opgekyk het

na die hemel toe vir hulp.

Ek is in die moeilikheid, Here.

Help my!”

15 Maar wat kon ek sê?

Die Here het met my gepraat.

Hy het dit alles gedoen.

Nou sal ek my hele lewe lank

nederig wees

oor wat ek moes verduur het.

16 Here, u dissipline is goed,

want dit lei tot lewe

en gesondheid.

U het my gesondheid teruggegee

en my toegelaat om te lewe!

17 Ja, dit was vir my goed

om al hierdie angs te ervaar,

want U het my gered

van die dood.

U het al my sondes vergewe.

18 Want in die graf

kan niemand U prys nie.

Dooies kan nie u lof

verkondig nie.

Dié wat gesterf het,

kan nie hoop op u trou nie.

19 Net die lewendes kan U loof,

soos ek vandag doen.

Vaders moet hulle kinders

van u getrouheid vertel.

20 Die Here is my redder!

Met musiekinstrumente

sal ons elke dag van ons lewe

u lof besing

in die tempel van die Here.

21 Jesaja het toe gesê: “Bring ’n vyekoek, sit dit op die sweer, en hy sal gesond word.”

22 Hiskia het gevra: “Watter teken sal bewys dat ek weer na die tempel van die Here toe sal gaan?”

JESAJA 39

Afgevaardigdes van Babilon

1 Kort hierna het Merodak-Baladan, die koning van Babel en seun van Baladan, sy beste wense en ’n geskenk na Hiskia toe gestuur. Hy het gehoor dat Hiskia baie siek was, en gesond geword het.

2 Hiskia het die Babiloniese afgevaardigdes opgewonde verwelkom. Hy het ook vir hulle alles gewys wat hy in sy skatkamers gehad het – die silwer en goud, kruie en geurige olie. Hy het ook vir hulle sy wapenkamer en al sy skatte gaan wys.

Daar was niks in sy paleis of in sy koninkryk wat Hiskia nie vir hulle gewys het nie.

3 Hierna het die profeet Jesaja na koning Hiskia gekom en vir hom gevra: “Wat wou hierdie mense gehad het? Waarvandaan het hulle gekom?”

Hiskia het geantwoord: “Hulle het van die verafgeleë land Babel na my toe gekom.”

4 “Wat het hulle in jou paleis gesien?” vra Jesaja.

“Hulle het alles gesien,” het Hiskia geantwoord. “Ek het hulle alles gewys wat ek besit, al my skatte.”

5 Toe het Jesaja vir Hiskia gesê: “Luister na hierdie boodskap van die Here, die Almagtige:

6 ‘Die tyd kom dat alles wat jy het, al die skatte wat jou voorouers opgegaar het, na Babel weggedra sal word. Niks sal daarvan oorbly nie,’ sê die Here.

7 “‘Van jou seuns sal ook weggeneem word in ballingskap. Hulle sal ontman word sodat hulle in die paleis van die koning van Babel kan dien.’”

8 Toe het Hiskia vir Jesaja gesê: “Hierdie boodskap wat jy vir my van die Here af gebring het, is goed.” Want intussen het Hiskia by homself gedink: “Ten minste sal daar vrede en voorspoed in mý tyd wees!”

JESAJA 40

Troos vir God se volk

1 “Troos, troos my volk,”

sê julle God.

2 “Praat sag met Jerusalem.

Sê vir hom

sy hartseerdae is verby.

Sy sondes is vergewe.

Die Here het hom klaar gestraf

vir al sy sondes.”

3 Luister! Ek hoor die stem

van iemand wat roep:

“Bou ’n grootpad vir die Here

deur die woestyn.

Maak ’n reguit pad vir ons God

deur die wildernis.

4 Vul die valleie op!

Maak elke berg en heuwel gelyk,

elke ruwe plek ’n gelykte,

elke koppie ’n vlakte.

5 Dan sal die heerlikheid

van die Here

bekend word

en alle mense sal dit sien.

Die Here self het so gesê.”

6 ’n Stem sê:

“Roep!”

Ek het gevra:

“Wat moet ek roep?”

“Roep uit:

Alle mense is soos gras.

Hulle bekoorlikheid

is soos blomme van die veld.

7 Gras verdor

en blomme verwelk

as die Here sy asem

daaroor laat waai.

So is dit ook met mense.

8 Gras verdor,

blomme verwelk,

maar die woord van God

bly vir altyd.”

9 Boodskapper van goeie nuus,

roep vir die tempelberg

van die bergpieke af!

Boodskapper van goeie tyding,

roep hard vir Jerusalem!

Moenie bang wees nie.

Sê vir die stede van Juda:

“Hier is jou God!”

10 Die oppermagtige Here

kom met heerlike krag

en regeer met mag.

Kyk, Hy bring

sy beloning saam.

Dit is by Hom.

11 Hy versorg sy kudde

soos ’n herder.

Die lammers maak Hy bymekaar

in sy arms,

en dra hulle naby sy hart.

Skaapooie met lammers

versorg Hy.

Die Here het geen gelyke nie

12 Wie anders het die oseane

in sy hand gehou?

Wie het die hemel afgemeet

met die breedte van sy hand?

Wie het die grond van die aarde

met ’n maatemmer gemeet,

of het die berge en die heuwels

met ’n skaal geweeg?

13 Wie kan

die Gees van die Here advies gee?

Wie weet genoeg

om Hom raad te gee

of Hom te leer?

14 Het die Here al ooit raad

van ander nodig gehad?

Het Hy nodig dat iemand

Hom vertel wat die goeie is

of wat die beste is?

15 Al die nasies van die wêreld

is vir Hom

soos ’n druppel in ’n emmer,

soos stof op ’n skaal.

Hy tel die eilande op

asof hulle geen gewig het nie.

16 Die Libanon se hout

is nie genoeg vir offers,

en sy diere nie voldoende

vir brandoffers nie.

17 Die nasies van die wêreld

is vir Hom soos niks.

In sy oë is hulle waardeloos,

asof hulle nie bestaan nie.

18 Met wie kan julle

God dan vergelyk?

Met watter beeld sal julle

Hom kan vergelyk?

19 Kan jy Hom vergelyk met

die afgodsbeeld?

Dis deur ’n vakman gemaak,

’n goudsmid

het dit met goud oorgetrek

en met silwerkettinkies versier.

20 Wie te arm is vir so ’n offer

aan sy god,

kies hout wat nie vrot nie

en soek vir hom ’n bedrewe

ambagsman om vir hom ’n beeld te

maak wat nie omval nie.

21 Weet julle dan nie?

Verstaan julle nie?

Is dit dan nie in die begin

aan julle vertel nie?

Weet julle nie Wie

die aarde gegrondves het nie?

22 God sit op sy troon

bokant die hemelkoepel.

Die mense op aarde

lyk vir Hom soos sprinkane.

Hy sprei die hemel uit

soos ’n gordyn,

Hy sprei dit oop soos ’n tent

om in te woon.

23 Hy oordeel oor vername mense

en verlaag regeerders

van die wêreld

asof hulle nie bestaan nie.

24 Hulle is skaars geplant,

skaars gesaai,

het skaars wortelgeskiet,

of Hy blaas oor hulle

en hulle verwelk

en ’n stormwind waai hulle weg

net soos kaf.

25 “Met wie sal julle My

vergelyk?

Wie is my gelyke?”

vra die Heilige Een.

26 Kyk op na die hemel.

Wie het die sterre gemaak?

Hy laat hulle

soos ’n leërmag uitmarsjeer,

die een ster na die ander,

en roep elkeen by sy naam.

Met sy groot krag en mag

sorg Hy dat nie een wegraak

of verdwaal nie.

27 Israel, hoe kan jy dan sê:

“Die Here sien nie

my moeilikheid raak nie”?

Hoe kan jy beweer:

“God weier

om na my saak te luister”?

28 Het jy nog nooit gehoor

of verstaan nie?

Weet jy nie dat die Here

van altyd af God is nie?

Hy is die Skepper

van die hele aarde.

Hy word nie moeg of gedaan nie

en niemand kan die dieptes

van sy insig meet nie.

29 Hy gee krag

aan dié wat moeg is.

Hy maak die kragteloses sterk.

30 Selfs jongmense raak uitgeput

en afgemat.

Baie jongmense struikel

en val.

31 Maar dié wat hulle hoop

op die Here stel,

sal hulle krag terugkry.

Hulle vlieg hoog,

soos arende.

Hulle sal hardloop

en nie moeg word nie.

Hulle sal loop

en nooit vermoeid word nie.