JESAJA 21

’n Boodskap oor Babilon

1 Hierdie boodskap het na my

gekom oor Babel:

Rampe storm uit die woestyn

op jou af

soos dwarrelwinde

wat deur die Negevwoestyn

waai.

2 Ek sien

’n skrikwekkende visioen:

Ek sien dat jy geplunder

en verwoes is.

Gaan aan, mense van Elam

en Medië,

neem deel aan die beleg.

Babilon sal val,

en die gekla van die nasies

wat deur haar verslaaf is,

sal ophou.

3 My lyf pyn

soos dié van ’n vrou

wat besig is om geboorte

aan ’n kind te gee.

Ek is platgeslaan

deur wat ek hoor,

en verskrik

deur wat ek sien.

4 My hart steier, ek is bang.

Ek wens dat ek kan slaap,

maar ek is te bang.

5 Hulle maak reg

vir ’n groot fees.

Hulle gooi matte uit

vir mense om op te sit.

Almal eet en drink.

Gou! Gryp julle skilde

en maak reg vir die geveg!

Julle word aangeval!

6 Intussen het die Here

vir my gesê:

“Sit ’n wag op die stadsmuur

sodat hy kan sê wat gebeur.

7 Wanneer hy waens sien

wat deur perde getrek word

en soldate op donkies en kamele,

moet hy alarm maak.”

8 Die wag het uitgeroep:

“Dag na dag het ek

op die wagtoring gestaan,

Meneer.

Nag na nag

het ek op my pos gebly.

9 En nou, uiteindelik,

kom die strydwaens

en soldate.”

Die wag het toe gesê:

“Babilon het geval!

Al die afgode van Babilon

lê stukkend op die grond!”

10 My volk, hulle het jou

op die dorsvloer

vertrap en uitgewan.

Ek het vir jou alles gesê

wat die Here, die Almagtige,

die God van Israel

vir my gesê het.

’n Boodskap oor Edom

11 Hierdie boodskap het na my

gekom oor Edom:

Iemand van Seïr af

hou aan roep na my:

“Wag, hoe lank

voor die môre aanbreek?

Wanneer is die nag verby?”

12 Die wag antwoord:

“Die môre het aangebreek,

maar net daarna

kom die nag.

As julle weer wil kom vra,

kom terug en vra maar.”

’n Boodskap oor Arabië

13 Hierdie boodskap het na my

gekom oor Arabië:

Handelaars van Dedan,

wat met julle handelsware

rondreis,

kruip weg in die woestyne

van Arabië!

14 Mense van Tema,

bring kos en water

vir die moeë vlugtelinge.

15 Hulle het gevlug

voor die swaarde

en pyle van die oorlog.

Hulle vlug vir die wreedheid

van die geveg.

16 Dit is wat die Here

vir my gesê het:

“Binne ’n jaar, so ondraaglik

soos dit vir ’n dagloner is

om hom af te sloof,

sal al die glorie van Kedar

tot ’n einde kom.

17 Net ’n paar

van sy dapperste soldate

sal oorleef.

Ek, die Here, die God van Israel

het so gesê!”

JESAJA 22

’n Boodskap oor Jerusalem

1 Die uitspraak van die Here aangaande die plek waar visioene gesien word: Wat gaan aan? Hoekom hardloop almal na die dakke toe?

2 Stad van oproer, stad wat altyd uitbundig was, so vol vreugde? Stad waar dié wat dood is maar nie deur die swaard geval het of in die geveg omgekom het nie.

3 Al jou leiers het saam weggehardloop. Hulle het oorgegee sonder om weerstand te bied. Die mense probeer wegkom, maar hulle word ook gevang.

4 Daarom het ek gesê:

“Los my alleen dat ek kan huil.

Moenie my probeer troos nie.

Laat my huil oor my volk

wat vernietig word.”

5 Die oppermagtige Here,

die almagtige,

bring moeilikheid

en verwarring

oor die plek

waar visioene gesien word,

op ’n dag wanneer

die stadsmure afgebreek word.

Daardie dag sal die mense

na die berge roep vir hulp.

6 Die Elamiete is boogskutters

wat met strydwaens kom.

Die mense van Kir

hou hulle skilde omhoog.

7 Jou mooiste valleie

staan vol strydwaens.

Perderuiters staan

in die stadspoorte.

8 Alles wat jou beskerm het,

word afgebreek.

Julle hardloop wapenkamer toe

om wapens te kry.

9 Julle sien die mure

van Jerusalem

moet herstel word.

Julle gaar water op

in die onderste poel.

10 Julle tel die huise in Jerusalem

sodat julle party kan afbreek

om die stene te gebruik

met die doel

om die stadsmuur te versterk.

11 Tussen die stadsmure

bou julle ’n opgaarpoel

vir water uit die ou poel.

Maar al julle koorsagtige planne

sal niks help,

want julle raadpleeg nie vir God

wat dit alles gemaak het nie.

Julle eer Hom nie

wat dit alles lank terug beplan het.

12 Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

het julle geroep om te huil

en te rou.

Hy het gesê dat julle julle koppe

kaal moet skeer soos julle rou

oor julle sondes,

dat julle klere van sak moet dra

om te wys julle het berou.

13 Maar in plaas daarvan

dans en speel julle!

Julle slag offerdiere,

eet vleis en drink wyn.

“Laat ons eet en drink,

en vrolik wees,” sê julle.

“Wat maak dit saak,

want môre

is ons in elk geval dood!”

14 Die Here, die Almagtige,

het aan my gewys:

“Hierdie sonde van hulle

sal tot die dag van hulle dood

nie vergewe word nie.”

So sê die oppermagtige Here,

die Almagtige.

’n Boodskap vir Sebna

15 So sê die oppermagtige

Here, die Almagtige:

“Gaan sê vir Sebna,

die administrateur

van die paleis:

16 ‘Wat dink jy, wie is jy?

Jy bou vir jou ’n pragtige graf

in die rots teen die hoogte.

17 Die Here is op die punt

om jou te gryp

en ver weg te gooi.

Hy gaan jou

in ballingskap wegstuur,

jou verwaande vent!

18 Hy gaan jou soos ’n bal

heen en weer gooi

en jou dan weggooi

in ’n ver, verlate land.

Daar sal jy doodgaan

en daar sal die strydwaens

waarmee jy so gespog het,

stukkend en nutteloos lê.

Jy is ’n skande vir jou koning!

19 Ek ontslaan jou uit jou amp,

Ek vat jou weg uit jou posisie.

20 Dan roep Ek my dienaar,

Eljakim seun van Gilkija.

om jou te vervang.

21 Hy sal jou ampsklere dra,

en jou titel en jou gesag hê.

Hy sal ’n pa wees

vir die mense van Jerusalem

en Juda.

22 Ek gee hom die sleutels

van die koning se huis,

die hoogste posisie

in die koninklike hof.

Hy sal deure oopsluit,

en niemand sal dit

kan toesluit nie.

En deure wat hy toesluit,

sal niemand kan oopsluit nie.

23 Hy sal eer vir sy familie bring,

want Ek slaan hom so diep in

soos ’n tentpen.

24 Hy sal

groot verantwoordelikhede hê,

en hy sal eer bring

vir selfs die geringste

van sy familie.’”

25 Die Here, die Almagtige, sê:

“Dan trek Ek die tentpen

wat so diep ingeslaan was uit.

Dit sal loskom en val.

Alles wat daarop gesteun het,

sal ook val.

Die Here het gepraat!”

JESAJA 23

’n Boodskap oor Tirus

1 Hierdie boodskap het oor

Tirus na my toe gekom:

Huil, skepe van Tarsis,

want Tirus is vernietig.

Daar is geen huis of hawe oor.

Alles is weg!

Wat julle in Siprus gehoor het,

is waar.

2 Huil in stilte,

mense van die kus

en handelaars van Sidon.

Julle gesante het oor die see gereis.

3 Oor groot waters het hulle

graan van Egipte af gebring,

die oes van die Nyl

om handel te dryf.

Jy was die volke se markplein.

4 Kry skaam, stad van Sidon,

seevesting.

Want die see sê:

“Nou is ek kinderloos.

Ek het nie seuns of dogters nie.”

5 As Egipte die nuus

oor Tirus hoor,

sal sy mense bewe.

6 Vlug nou na Tarsis toe!

Huil, julle mense

wat by die see woon!

7 Is dit julle stad vol joligheid,

die stad wat so lank bestaan,

wie se mense in verre lande

gaan woon het?

8 Wie het hierdie ramp

oor Tirus gebring?

Tirus wat konings gekroon het,

wie se handelaars

soos prinse ontvang is,

en wie se sakelui geëer is.

9 Die Here, die Almagtige,

het besluit

om jou trots te vernietig

en alle menslike arrogansie

te verneder.

10 Bewerk julle grond nou

soos by die Nyl gedoen word,

inwoners van Tarsis,

want julle hawe

bestaan nie meer nie.

11 Die Here hou sy hand

oor die see.

Hy skud die koninkryke

van die aarde.

Hy beveel:

Kanaän se vestingstede

moet vernietig word.

12 Hy sê:

“Nooit meer sal jy bly wees nie,

verdrukte dogter van Sidon.

Selfs as jy

na Siprus vlug,

sal jy nie rus kry nie.”

13 Kyk na die Galdeërs se land –

die mense van daardie land

is weg!

Die Assiriërs het Babilon

vir die wilde diere gegee.

Hulle het stormramme

daarteen opgerig,

die paleise afgebreek,

alles in ’n puinhoop verander.

14 Huil, skepe van Tarsis,

want julle vesting is vernietig!

15 Vir 70 jaar lank,

so lank as wat ’n koning leef,

sal Tirus

vergete bly lê.

As die 70 jaar verby is,

sal Tirus soos die prostituut sing:

16 “Vat jou lier,

stap deur die stad,

prostituut wat vergete was!

Speel mooi,

lied na lied

sodat hulle jou

weer sal onthou!”

17 Na 70 jaar

sal die Here Tirus opwek.

Maar die stad

sal weer ’n prostituut word

vir al die koninkryke

van die wêreld.

18 Tog sal die stad

se wins en inkomste

aan die Here gewy word.

Haar rykdom sal gebruik word

om goeie kos en mooi klere

te verskaf

vir die Here se priesters.

JESAJA 24

Oordeel oor die aarde

1 Kyk, die Here is op die punt

om die aarde te verwoes

en dit ’n groot puinhoop te maak.

Kyk hoe Hy die mense

oor die hele aarde verstrooi.

2 Priesters en gewone mense,

slaaf en eienaar,

slavin en meesteres,

koper en verkoper,

lener en uitlener,

bankier en skuldenaar –

niemand word gespaar nie.

3 Die aarde sal leeggemaak

en heeltemal geplunder word.

Die Here het gepraat!

4 Die aarde huil, dit droog uit.

Alles vergaan.

Die vernaamste mense kwyn weg.

5 Die aarde ly ter wille van die sonde

van sy mense,

want hulle het

God se opdragte verontagsaam,

sy voorskrifte verdraai,

sy ewige verbond verbreek.

6 Daarom verteer ’n vloek

die aarde en al sy inwoners.

Daarom is die inwoners

van die aarde verbrand

en het baie min oorgebly.

7 Die nuwe wyn droog op,

die wingerde verdroog,

vrolike mense sug.

8 Die vrolike geluid

van tamboeryne

word stil.

Die lied van die vrolike mense

het opgehou.

Die harp het stil geword.

9 Niemand sing meer

terwyl hulle wyn drink nie.

Sterk drank word galbitter

vir dié wat dit drink.

10 Die leë stad lê verwoes.

Elke huis is toegesluit

om plunderaars uit te hou.

11 Die mense roep in die strate

vir wyn.

Alle vreugde het verdwyn.

Vrolikheid is uit die land verban.

12 Die stad is ’n puinhoop,

die stadspoorte

is stukkend geslaan.

13 Deur die hele land

lyk dit dieselfde –

soos die olywe

wat agterbly op ’n boom

of die enkele druiwe

wat ná die oes oorbly.

14 Almal wat oorbly, sal roep

en sing van vreugde.

In die weste

sal hulle die Here prys.

15 In die ooste

moet hulle die Here eer.

Die Here se Naam,

die God van Israel,

moet in die kuslande

geprys word.

16 Vanaf die eindes van die aarde

hoor ons hulle sing:

“Eer aan die Regverdige!”

Maar ek kwyn weg,

ja, ek kwyn weg!

Verraaiers laat my in die steek.

Die handelaars bedrieg my.

17 Angs, vangnette en valstrikke

wag oral vir julle,

bewoners van die aarde.

18 Wie van angs wegvlug,

sal in die vangnette beland.

Wie uit die vangnette klim,

sal op ’n valstrik trap.

Vernietiging val op julle

uit die hemel.

Die aarde skud onder julle.

19 Die aarde breek aan stukke,

dit stort inmekaar.

Dit waggel en wankel

heen en weer.

20 Die aarde slinger

soos ’n dronk mens.

Dit ruk soos ’n tent in ’n storm.

Dit val

en staan nie weer op nie,

want sy sonde is baie groot.

21 Daardie dag sal die Here

die magte in die hemel straf,

en ook die heersers

van die nasies op aarde.

22 Hulle sal saamgehok word

en in ’n tronk gehou word

tot hulle geoordeel

en uiteindelik gestraf word.

23 Die maan sal dof word

en die son sy gesig wegsteek,

want die Here, die Almagtige,

is Koning op Sionsberg

in Jerusalem

en sy heerlikheid

skyn op die leiers

van sy volk.

JESAJA 25

Lofprysing oor oordeel en

redding

1 Here, ek eer en prys u Naam,

want U is my God.

U doen wonderlike dinge!

U het dit lankal beplan,

en nou het U dit uitgevoer.

2 U het ’n stad

in ’n puinhoop verander.

Die stad met sterk mure

het ’n rommelhoop geword.

Pragtige paleise in verre lande

het verdwyn

en word nooit weer herbou nie.

3 Daarom sal sterk nasies

van u heerlikheid vertel,

genadelose volke U eer.

4 Vir die armes

is U, Here,

’n toevlug in die storm.

Vir die behoeftiges in nood

is U ’n skuilplek

teen die hitte en die stortreën.

Die onderdrukkende dade

van genadelose mense

is soos ’n storm

wat slaan teen die muur,

5 of soos sonsteek

in die woestyn.

Die geraas van vreemde nasies

het U laat ophou.

U koel die land af

met die skadu van ’n wolk.

So word die liedere

van genadelose mense

stilgemaak.

6 In Jerusalem gaan die Here

die Almagtige,

’n heerlike fees voorberei

vir almal

oor die hele wêreld.

Dit gaan ’n fees wees

met goeie kos,

die beste wyn en die beste vleis.

7 Daardie dag

sal Hy die wolk verwyder,

die skaduwee van die dood

oor die nasies.

8 Hy sal die dood

vir altyd vernietig!

Die oppermagtige Here

sal al die trane afvee.

Hy sal alle beledigings

verwyder

van sy land

en sy mense.

Die Here het dit gesê.

9 Daardie dag

sal die mense uitroep:

“Dit is ons God.

Ons het op Hom vertrou,

en Hy het ons gered.

Dit is die Here

op wie ons vertrou het.

Laat ons bly wees

omdat Hy ons gered het!”

10 Want die Here se goeie hand

sal rus op Jerusalem.

Moab sal vernietig word

soos strooi wat vertrap is

op die mishoop.

11 Hulle sal hulle hande

in die mishoop uitsteek

soos ’n swemmer

die hande uitsteek

om te swem.

Maar God sal hulle trots

beëindig

ten spyte van al hulle slimstreke.

12 Die hoë mure van Moab

sal Hy platslaan,

hulle op die grond neergooi.

JESAJA 26

’n Loflied vir die Here

1 Daardie dag

sal almal in die land van Juda

hierdie lied sing:

“Ons stad is nou sterk!

Ons is omring deur die mure

van God se redding.

2 Maak oop die poorte

vir almal wat regverdig is.

Laat die getroues binnekom.

3 U bewaar elkeen

wat op U vertrou in vrede,

die mense wie se gedagtes

op U gerig is.

4 Vertrou deurgaans op die Here,

want die Here God

is vir altyd ’n veilige toevlug.

5 Hy verneder die trotses,

en die arrogante stad

gooi Hy in die stof neer.

Hy gooi die mure om!

6 Die arm en verdrukte mense

vertrap dit

onder hulle voete.

7 “Die pad van die regverdige

is reguit.

Regverdige Een, U maak die pad

van die regverdige gelyk.

8 Here, ons doen graag

wat U van ons vra.

Ons enigste begeerte

is om u Naam te eer.

9 Heelnag lank soek ek na U,

in die môre smag ek na U.

Eers wanneer U kom

om die aarde te oordeel,

sal mense leer om te doen

wat reg is.

10 Uit die goedheid wat U

aan die bose mense bewys,

leer hulle nie wat reg is nie.

Selfs waar daar reg geskied,

doen hulle nog die verkeerde

en steur hulle nie aan die mag

van die Here nie.

11 O Here, hulle luister nie

wanneer U hulle dreig nie.

Wys hulle dat U gretig is

om u volk te beskerm.

Miskien kry hulle dan skaam.

Laat u vuur u vyande verteer.

12 “Here, U sal ons vrede gee.

Alles wat ons bereik het,

het U vir ons gedoen.

13 Here ons God,

ander het oor ons regeer,

maar ons aanbid U alleen.

14 Dié wat ons gedien het,

is nou dood en weg.

Hulle sal nooit weer

terugkom nie!

U het hulle gestraf

en hulle vernietig,

en hulle is lankal vergete.

15 Ons prys U, Here!

U het ons volk groot gemaak.

U het ons landsgrense uitgebrei!

So het U u mag getoon.

16 “Here,

in ons nood het ons U gesoek.

Ons het na U geroep

toe U ons gestraf het.

17 Ons is soos ’n swanger vrou

wat inmekaarkrimp van pyn.

Só, Here,

was ons in u teenwoordigheid.

18 Ons was swanger,

en het inmekaargekrimp

van pyn,

maar ons het geboorte gegee

aan wind.

Ons kon nie die wêreld red nie.

Daar is nie inwoners

vir die wêreld gebore nie.

19 “Tog het ons dié versekering:

Dié wat aan God behoort,

sal lewe.

Hulle liggame sal weer opstaan!

Dié wat in die aarde slaap,

staan op en sing van vreugde!

Soos die dou lewe gee,

so gee U krag tot lewe.

Die aarde sal hulle

wat gesterf het

weer lewend teruggee.”

Herstel vir Israel

20 Gaan huis toe, my volk,

en sluit die deure agter julle.

Kruip weg

vir ’n kort rukkie

tot sy toorn bedaar het.

21 Kyk, die Here kom

van die hemel af

om die mense

van die aarde

te straf oor hulle sondes.

Die aarde sal nie meer

dié wegsteek

wat vermoor is nie.

Hulle sal uitgebring word

sodat almal hulle kan sien.

JESAJA 27

1 Daardie dag

sal die Here

met sy groot, skerp swaard

die Leviatan straf.

Die Leviatan,

kronkelende draak van die see,

sal Hy doodmaak.

2 “Daardie dag sal ons sing

van die goeie wingerd.

3 Ek, die Here, sal dit versorg

en dit gereeld natlei.

Dag en nag hou Ek wag daaroor

sodat dit nie beskadig word nie.

4 My woede teen Israel sal bedaar.

As Ek dorings en dissels

daarin kry,

sal Ek dit verbrand.

5 Hulle sal net gered word

as hulle aan My oorgee

en vra vir vrede

en beskerming.”

6 Die tyd kom dat my volk

sal wortelskiet.

Israel sal bot en blom

en die hele aarde

met vrugte vul.

7 Het die Here Israel gestraf

soos Hy haar vyande

gestraf het?

Nee, Hy het haar vyande verwoes.

8 Maar vir Israel het Hy

net uit hulle land verban

met ’n storm

wat hulle na die ooste

weggewaai het.

9 So sal Israel se sondes

versoen word.

Die gevolg sal wees dat

al die heidense altare

tot stof verpletter word,

en daar nie meer ’n Asjerapaal

of wierookaltaar sal bly staan nie.

10 Israel se versterkte stede

sal stil en leeg wees,

die huise sal leeg staan,

soos in ’n woestyn.

Vee sal daar wei.

Hulle sal die takke kaalvreet.

11 Die mense is

soos dooie takke

van ’n boom

wat afgebreek en gebruik word

vir vuur onder die kookpotte.

Israel is ’n onnosele klomp mense.

Daarom sal die Een

wat hulle gemaak het,

geen genade betoon nie.

Hulle Skepper

sal hulle nie jammer kry nie.

12 Tog sal die tyd kom

wanneer die Here

die Israeliete een vir een

bymekaar sal maak

soos graan,

met die hand uitgesoek.

Hy sal julle

na sy dorsvloer bring,

van die Eufraat

in die ooste

tot by die stroom van Egipte

in die weste.

13 Daardie dag

sal die groot trompet

geblaas word.

Baie wat besig was

om dood te gaan

in ballingskap in Assirië

en Egipte,

sal terugkom Jerusalem toe

om die Here te aanbid

op die heilige berg.

JESAJA 28

’n Boodskap oor Samaria

1 Verwoesting wag

vir die stad Samaria,

die trots en vreugde van Israel

se dronklappe!

Die stad is in ’n ryk vallei,

maar sy prag

sal skielik verdwyn.

Verwoesting wag verseker

vir daardie stad,

die trots van die mense

wat neerslaan van die wyn.

2 Want die Here het iemand

wat sterk en magtig is.

Hy is soos ’n magtige haelstorm

en swaar reën

wat oor hulle sal losbars

en hulle teen die grond neergooi.

3 Die trotse stad van Samaria,

die trots en vreugde

van Israel se dronklappe,

sal vertrap word

onder die voete

van die vyande.

4 Die stad is in ’n vrugbare vallei,

maar sy prag

sal skielik verdwyn.

Dit sal wees soos ’n ryp vy

voor die oes.

As iemand dit sien,

sal hy dit vat en insluk.

5 Dan sal die Here

die Almagtige,

self Israel se kroon en eer wees.

Hy sal die trots en vreugde wees

van die oorblyfsel

van sy volk.

6 Hy sal aan hulle regters

’n begeerte gee

om reg te spreek.

Hy sal groot moed gee

vir hulle soldate

wat die stadspoorte beskerm.

7 Maar nou is dit dronklappe

wat Israel regeer!

Die priesters en die profete

slinger en waggel

van al die wyn en sterk drank.

Hulle maak dom besluite

as hulle verantwoordelik

moet optree.

8 Hulle tafels is vol braaksel.

Niks en niemand

is skoon nie.

9 Hulle sê:

“Vir wie probeer hy leer?

Aan wie verduidelik hy

sy boodskap?

Is dit babatjies

wat pas gespeen is,

wat so pas van hulle ma’s

se borste weggevat is?

10 Want dit is:

Doen dit en doen dat,

doen dit en doen dat,

reël op reël, reël op reël,

hier ’n bietjie en daar ’n bietjie!”

11 Omdat hulle weier

om te luister,

sal God met hulle praat

deur die onbekende taal

van vreemde verdrukkers!

12 Hy het vir hulle gesê:

“Hier kan julle rus!

Hier kan julle

die moeë mense laat rus.

Hier is alles rustig.”

Maar hulle het geweier

om te luister.

13 Daarom gaan die Here

weer met hulle praat.

Hy gaan sê:

Maak sus en maak so,

reël op reël, reël op reël,

hier ’n bietjie

en daar ’n bietjie!

Hieroor sal hulle agteroorval,

beseer en gevang word,

en as ballinge weggevoer word.

14 Daarom,

luister na die Here se boodskap,

julle ligsinniges

wat oor Jerusalem regeer!

15 Julle spog:

“Ons het ’n ooreenkoms gemaak

om die dood te ontkom.

Met die graf

het ons ooreengekom.

As die Assiriërs kom,

sal hulle ons nie tref nie.

Want ons het leuens

ons veilige vesting gemaak,

valsheid en bedrog

ons skuilplek.”

16 Daarom sê die oppermagtige

Here:

“Kyk, Ek gaan in Jerusalem

’n klip neersit,

’n granietsteen,

’n hoeksteen

vir ’n vaste fondament.

Elkeen wat op My vertrou,

hoef nie weg te hardloop nie.

17 Ek sal geregtigheid

die maatlyn maak

en reg

die skietlood as norm.

Die hael sal julle skuilplek

van leuens laat omval,

en die vloedwaters

sal dit wegsleur.

18 Ek kanselleer die ooreenkoms

wat julle met die dood

gemaak het.

Julle ooreenkoms met die graf

hef Ek op.

As die verskriklike vyand

aangestorm kom,

sal julle in die grond

vertrap word.

19 Keer op keer

sal daardie vloed kom,

môre na môre, dag en nag.”

Hierdie boodskap sal angs bring

vir julle.

20 Julle sal nêrens kan wegkruip nie.

Die bed wat julle gemaak het,

is te kort

om reguit daarop te lê.

Die kombers is te smal

om julle mee toe te maak.

21 Die Here sal skielik kom,

met woede,

soos Hy teen die Filistyne

by Perasimberg gekom het,

en teen die Amoriete by Gibeon.

Hy sal kom om ’n vreemde,

’n ongewone ding te doen:

Hy kom om sy eie volk

te vernietig!

22 Hou op spot sodat julle straf

nie nog groter is nie!

Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

het dit duidelik gemaak

dat Hy julle land gaan

verwoes.

23 Luister na my.

Luister terwyl ek by julle pleit!

24 Hou ’n boer aan met ploeg

sonder om ooit te saai?

Hou hy aan om grond te bewerk

sonder om ooit te plant?

25 As hy grond gelyk gemaak het,

saai hy mos

swartkomyn en komyn,

koring, gars en spelt,

elkeen in sy eie akker.

26 Boere weet wat om te doen,

God het hulle

geleer hoe om dit te doen.

27 Hulle oes ook nie alles

op dieselfde manier nie.

Hulle dors nie swartkomyn

met ’n slee,

of komyn met wawiele nie.

Swartkomyn en komyn

word met ’n stok uitgeslaan.

28 Graan word gemaal vir brood.

Daarom moet ’n mens

nie aanhou

om dit te slaan nie.

Hulle dors dit met wawiele,

maar verpoeier dit nie.

29 Die Here, die Almagtige,

is ’n goeie onderwyser.

Hy gee die boer groot wysheid.

JESAJA 29

’n Boodskap vir Jerusalem

1 “Verwoesting wag vir Ariël,

Ariël, die Dawidstad.

Jaar na jaar

hou julle die feeste.

2 Maar Ek bring ramp na ramp

oor jou.

Hulle sal baie oor jou huil.

Want Jerusalem

sal word soos sy naam beduie:

’n altaar vol bloed.

3 Ek sal jou vyand word.

Ek sal Jerusalem omsingel

en sy mure aanval.

Ek sal beleëringswalle bou

teen die mure

en dit vernietig.

4 Jou stem sal wees

soos die gefluister van ’n spook

wat uit die aarde kom,

uit die stof waar jy begrawe lê.

5 “Maar skielik

sal die genadelose vyande

weggedryf word

soos kaf voor die wind.

6 In ’n oomblik sal die Here

die Almagtige,

teen hulle kom

met donderweer en aardbewings

en groot geraas,

met dwarrelwinde en storms

en vuur wat alles verteer.

7 Al die nasies wat geveg het

teen Jerusalem,

sal soos ’n droom verdwyn!

Die vyande wat haar mure

aangeval het,

sal verdwyn soos ’n visioen

van die nag.

8 Honger mense droom van kos,

maar is steeds honger

wanneer hulle wakker skrik.

Mense wat dors is,

droom van water,

maar bly dors as hulle wakker word.

Op dieselfde manier

sal jou vyande

droom dat hulle Jerusalem

oorwin.

Maar dit sal nie gebeur nie.”

9 Is julle verbaas en verstom?

Glo julle my nie?

Gaan dan maar aan

en sien niks.

Julle is dronk,

maar nie van wyn nie.

Julle struikel,

maar nie van bier nie!

10 Die Here het ’n diep slaap

oor julle laat kom.

Hy het die oë toegesluit

van julle profete en sieners.

11 Die openbaring

van toekomstige gebeure

is ’n verseëlde boek vir hulle.

As jy dit gee vir mense

wat kan lees,

sal hulle sê:

“Ons kan dit nie lees nie,

want die boek is verseël.”

12 En as jy dit vir mense gee

wat nie kan lees nie,

sal hulle antwoord:

“Jammer, maar ons kan nie

lees nie.”

13 So het die Here gesê:

“Hierdie mense sê

hulle behoort aan My.

Hulle eer My met hulle monde,

maar hulle harte

is ver van My af.

En hulle aanbidding bestaan

uit niks meer

as menslike opdragte en tradisies.

14 Daarom gaan Ek wonders doen

onder hierdie mense.

Ek wys hulle

hoe dwaas

menslike wysheid is

en hoe die briljantste mense

niks begryp nie.”

15 Verwoesting wag verseker

vir hulle wat probeer

om hulle planne vir die Here

weg te steek.

Hulle probeer om hulle dade

in die donker weg te steek

en sê:

“Die Here kan nie sien

wat ons doen nie!”

Julle sê vir julleself:

“Hy weet niks

wat aangaan!”

16 Hoe onnosel is julle!

Hy is die Pottebakker,

en soveel groter as julle!

Julle is maar net die potte

wat Hy gemaak het!

Kan die kleipot

van die pottebakker sê:

“Hy het ons nie gemaak nie”?

Die kleipot kan tog nie

vir die pottebakker sê:

“Die pottebakker

wat my gemaak het,

weet niks!”

17 Baie gou, binne ’n kort tydjie,

sal die wildernis van die Libanon

verander in ’n vrugbare veld.

En die vrugbare velde

sal ’n lowerryke bos word.

18 Daardie dag sal dowe mense

hoor

hoe daar uit ’n boek gelees word,

en blinde mense

sal deur die somberheid

en donkerte kan sien.

19 Nederige mense sal vol wees

van blydskap

wat van die Here af kom.

Arm mense sal bly wees

oor die Heilige van Israel.

20 Die mense

wat ander geïntimideer

en geteister het,

sal weg wees.

Almal wat komplotte gesmee het,

sal doodgemaak wees.

21 Hulle wat onskuldiges

skuldig bevind het

met hulle valse getuienis,

sal verdwyn.

Die mense

wat met ’n bedriegspul

die reg omgedraai het

en leuens vertel het

om onskuldiges af te kraak,

sal nie meer bestaan nie.

22 Dis hoekom die Here,

wat vir Abraham gered het,

vir die mense van Israel sê:

“My volk sal nie bleek word

van vrees nie.

Hulle sal nie skaam wees nie.”

23 Wanneer hulle rondom hulle

die baie kinders

en seëninge sien

wat Ek hulle gegee het,

sal hulle die heiligheid erken

van die Heilige van Israel.

Hulle sal in ontsag opstaan

voor die God van Israel.

24 Dan sal dié wat afgedwaal het,

die waarheid glo.

En hulle wat aanhoudend kla,

sal hulle laat leer.

JESAJA 30

Juda se waardelose vennootskap

met Egipte

1 “Verwoesting staan vas

vir my opstandige kinders,”

sê die Here.

“Julle maak planne

wat nie van My kom nie.

Julle smee vennootskappe

wat nie deur My

geïnspireer is nie.

Julle stapel sonde op sonde.

2 Sonder om My te raadpleeg

gaan julle Egipte toe

om hulp te soek.

Julle stel julle vertroue

in die farao.

Hy moet julle beskerm!

3 Deur op die farao

te vertrou,

sal julle verneder word.

Egipte gaan julle

in die skande steek!

4 Alhoewel sy mag strek

tot by Soan en Ganes,

5 sal julle teleurgesteld staan.

Hy sal julle nie kan help nie.

Egipte bring net skande

en vernedering!”

6 ’n Aankondiging oor die diere

in die Negev:

Hulle bring skatte om te betaal

vir die hulp van Egipte.

Hulle donkies en kamele

is gelaai met geskenke.

Hulle reis deur ’n land

vol swaarkry en gevaar.

Hier kry jy leeus en slange

en vlieënde drake.

Hulle kom soek hulp

by ’n volk

wat nie kan help nie.

7 Egipte se beloftes

is waardeloos!

Ek noem hom die draak

wat tot niks in staat is nie.

’n Waarskuwing vir opstandige

Juda

8 Gaan sit nou

en skryf hierdie woorde neer

oor Egipte.

Dit sal vir altyd vertel

van Israel se ongeloof.

9 Hierdie mense

is koppige rebelle

wat weier om hulle te steur

aan die opdragte

van die Here.

10 Hulle sê vir die sieners:

“Bly stil, ons wil niks meer hoor

van wat julle sien nie!”

En vir die profete sê hulle:

“Ons wil nie die waarheid

hoor nie!

Sê vir ons wat ons wil hoor,

dat goeie dinge

met ons gaan gebeur.

Vertel vir ons leuens!

11 Vergeet van al die slegte dinge!

Ons het meer as genoeg gehoor

van die ‘Heilige van Israel’.

Ons is moeg om te hoor

wat Hy kwansuis

vir ons wil sê!”

12 Daarom antwoord

die Heilige van Israel self:

“Julle het my waarskuwing

geïgnoreer,

en eerder vertrou

op leuens en bedrog.

13 Daarom sal rampe

skielik oor julle kom.

Dit sal wees soos ’n muur

wat oorhang en dreig

om om te val.

En dan skielik, onverwags,

sal dit inmekaarstort.

14 Julle sal soos ’n kleipot

stukkend breek.

Julle sal so fyn gebreek word

dat daar nie eers ’n stukkie

sal oorbly

wat groot genoeg is

dat ’n mens ’n kooltjie

daarop kan dra,

of water van die put

kan skep nie.”

15 So sê die

oppermagtige Here,

die Heilige van Israel:

“Eers as julle na My draai

en tot rus kom,

sal julle gered word.

Deur stil te raak

en te vertrou,

sal julle sterk word.

Maar julle wou nie.

16 Julle het gesê:

‘Nee, ons hulp kom

van Egipte.

Hulle gee ons vinnige perde

om mee te veg.’

Nou, dan sal julle vinnig ry.

Maar julle agtervolgers

sal vinniger wees!

17 Een van hulle

sal duisend van julle jaag.

En vyf van hulle

sal julle almal laat wegvlug.

Julle sal bly staan

soos ’n enkele vlagpaal

op ’n berg,

soos ’n vaandel

op ’n heuwel.”

Seën vir die Here se volk

18 Tog wag die Here gretig

dat julle terugkom

na Hom toe.

Hy wil genade aan julle bewys.

Die Here is ’n God

wat regverdig is.

Hy seën die mens

wat op Hom vertrou vir hulp.

19 Volk van Sion,

wat in Jerusalem woon,

julle sal nie meer huil nie.

Hy sal genade

aan julle bewys

as julle Hom vra

om julle te help.

Hy sal dadelik reageer

as julle na Hom roep.

20 Die Here het jou

brood van swaarkry laat eet

en water van lyding laat drink.

Maar Hy sal nog by jou wees

om jou te leer.

Jy sal Hom met jou eie oë sien,

die Een wat jou leer.

21 Jy sal ’n stem hoor sê:

“Hier is die regte pad.

Draai om en loop hierlangs.”

22 Daardie dag sal jy

al jou silwer afgode

en goue beelde stukkend slaan.

Jy sal hulle weggooi

soos smerige klere.

“Aaklig!” sal jy sê.

“Weg daarmee!”

23 Dan sal die Here jou seën.

Jy sal genoeg reën kry

wanneer jy plant.

Daar sal groot oeste wees

en baie weiveld vir jou vee.

24 Die beeste en die donkies

wat die grond omploeg,

sal die beste graan vreet

wat met graaf en gaffel

gemeng is.

25 Daardie dag sal jou vyande

vernietig word.

Hulle torings sal omgegooi word.

Daar sal strome waters wees

wat van elke berg en heuwel

af kom.

26 Die maan sal so skerp wees

soos die son.

En die son sal sewe keer

helderder wees.

Dit sal lyk soos die son

van sewe dae.

So sal dit wees die dag

wanneer die Here sy volk

begin genees

en die seerplekke verbind

waar Hy hulle geslaan het.

27 Kyk! Die Here kom

uit die verte.

Sy woede breek los,

omring deur donker wolke

soos rook.

Sy lippe is vol wraak.

Sy woorde verteer soos vuur.

28 Sy woede kom

soos vloedwater oor sy vyand.

Hy voer hulle weg

en sif die trotse nasies.

Hy gaan ’n toom aan hulle sit

en hulle weglei

om hulle te vernietig.

29 Maar julle sal sing,

van blydskap

soos wanneer julle feesvier.

Julle sal so bly wees

soos wanneer ’n fluitspeler

’n groep pelgrims begelei

na Jerusalem,

op pad

na die berg van die Here,

na die Rots van Israel.

30 En die Here sal roep

met ’n magtige stem.

Woedend sal Hy

sy vyande platslaan.

Hy sal hulle bykom

met verterende vlamme,

met ’n wolkbreuk,

met donderstorms

en reuse haelstene.

Hy sal hulle vernietig.

31 Die stem van die Here

sal Assirië verpletter.

Met sy septer

sal Hy hulle platslaan.

32 En wanneer Hy hulle slaan

met sy roede,

sal sy volk tydhou met musiek

van simbale en liere.

Die Here self sal teen hulle veg

met sy magtige arm.

33 Die brandoond is lankal klaar

vir die Assiriese koning.

’n Groot hoop hout

is reggesit daarvoor.

Die asem van die Here

sal dit aan die brand steek

soos die vuur van ’n vulkaan.