JESAJA 11

’n Takkie van Dawid se familie

1 Uit die stomp

van Dawid se familie

sal ’n takkie groei,

’n tak wat vrugte sal dra.

2 Die Gees van die Here

sal op hom rus,

die Gees wat wysheid

en insig bring,

die Gees wat raad

en krag bring,

die Gees wat kennis

en eerbied vir die Here bring.

3 Hy sal sy vreugde daarin vind

om die Here te gehoorsaam.

Hy sal nie regspreek

volgens uiterlike skyn

of op vals getuienis

of hoorsê nie.

4 Hy sal die armes en verdruktes

beskerm.

Teen die bose mense

sal hy optree

en met die asem van sy mond

hulle om die lewe bring.

5 Hy sal regverdigheid aantrek,

en ook waarheid.

6 Daardie dag

sal die wolf die gas

van die lam

wees.

Die luiperd en die bokkie

sal langs mekaar lê.

Kalwers en vetgemaakte beeste

sal veilig by leeus wees,

en ’n kindjie sal vir almal sorg.

7 Vee sal tussen bere wei,

hulle kleintjies sal by mekaar lê

en leeus sal gras vreet soos beeste.

8 Babas sal veilig

tussen giftige slange speel.

’n Kindjie sal sy hand uitsteek

na giftige slange

en niks oorkom.

9 Niks of niemand sal op my heilige berg verwoesting of kwaad aanrig nie. Soos die water die see vol maak, so sal die aarde vol wees van mense wat die Here ken.

10 Daardie dag sal die erfgenaam van Dawid se troon ’n vlag opsteek wat vir die hele wêreld redding sal bring. Die nasies sal na hom toe kom, want die land waar hy bly, sal ’n heerlike plek wees.

11 Op daardie dag sal die Here vir die tweede keer ’n oorblyfsel van sy volk terugbring, almal wat oorgebly het uit Assirië, Egipte, Patros, Etiopië, Elam, Babilonië, Hamat en die kuslande.

12 Hy sal ’n vlag tussen die nasies oprig en die ballinge van Israel sal van die uithoeke van die aarde daarheen kom.

13 Dan sal die naywer tussen Israel en Juda verdwyn. Hulle sal nie meer met mekaar baklei nie. Israel sal nie weer op Juda jaloers wees nie, en Juda sal nie meer vyandig wees teenoor Israel nie.

14 Saam sal hulle die Filistyne in die weste aanval. En saam sal hulle die nasies in die ooste aanval en hulle plunder. Hulle sal die lande van die Edomiete, Moabiete en Ammoniete verower.

15 Die Here sal die Egiptiese see laat opdroog. Hy sal ’n skroeiende wind oor die Eufraat laat waai en ’n sterk wind stuur wat dit in sewe kanale sal verdeel waar ’n mens maklik kan deurloop.

16 Hy sal ’n hoofpad maak vir die oorblyfsel wat nog in Assirië is, net soos vir Israel toe hulle uit Egipte teruggekom het.

JESAJA 12

Loflied vir heil

1 Op daardie dag sal jy sing:

“Ek prys U, Here!

U was kwaad vir my,

maar U is nie meer nie.

Nou troos U my.

2 God het my kom red.

Ek vertrou op Hom.

Ek is nie meer bang nie.

Die Here, die Here is my krag

en my lied.

Hy het my kom red.”

3 Met blydskap sal julle drink

van die fonteine van redding!

4 In daardie dag

sal julle sing:

“Dank die Here!

Prys sy Naam!

Vertel die wêreld

wat Hy gedoen het.

Vertel vir almal

dat Hy groot is.

5 Sing vir die Here,

want Hy het heerlike dinge

gedoen.

Laat almal in die wêreld dit hoor.

6 Jubel en juig,

inwoners van Jerusalem!

Want groot is die Heilige Een

van Israel.

En Hy woon tussen julle!”

JESAJA 13

’n Boodskap oor Babilon

1 Jesaja seun van Amos het hierdie boodskap oor die vernietiging van Babel gekry:

2 “Kyk hoe die vlae waai

terwyl die vyand aanval.

Moedig hulle aan, Israel!

Waai vir hulle

terwyl hulle optrek

teen Babilon

om die paleise te verwoes

van die hoës en magtiges.

3 “Ek, die Here, het hierdie taak

vir my heilige leër opgelê.

Hulle sal bly wees

wanneer Ek verhoog word.

Ek het hulle geroep

om my woede af te koel.”

4 Hoor die geraas op die berge!

Luister hoe die weermagte opruk!

Dit is die geraas en geroep

van baie nasies.

Die Here, die Almagtige,

het hulle hiernatoe gebring

om ’n leër te vorm.

5 Hulle kom van veraf lande.

Hulle is die Here se wapens.

Hulle sal die hele land vernietig.

6 Skreeu van angs,

want die Here se tyd het gekom,

die tyd dat die Almagtige

verwoes.

7 Elke arm hang

verlam van vrees.

Selfs die sterkstes se harte

smelt inmekaar

8 van vrees.

Vrees gryp hulle

met verskriklike pyne,

soos van ’n vrou

wat geboorte skenk.

Hulle kyk hulpeloos vir mekaar

terwyl die vlamme

van die brandende stad

op hulle gesigte weerkaats word.

9 Kyk,

die Dag van die Here kom,

die verskriklike dag

van sy gramskap

en sy gloeiende toorn.

Die land sal verwoes word

en ook alle sondaars.

10 Die lug sal donker word

bokant hulle.

Die sterre, son en maan

sal geen lig gee nie.

11 “Ek, die Here,

sal die wêreld straf

oor sy boosheid

en bose mense vir hulle sonde.

Ek verpletter die arrogansie

van trotse mense

en die verwaandheid

van die magtiges.

12 Min mense sal oorleef

teen die tyd

dat Ek my werk voltooi.

Mense sal so skaars wees

soos goud,

skaarser as goud uit Ofir.

13 Want Ek sal die hemel skud

en die aarde

sal uit sy plek verskuif

wanneer die woede

van die Here,

die Almagtige, kom,

in die tyd van my

brandende toorn.”

14 Almal sal hardloop

tot hulle uitgeput is,

op pad na hulle eie lande toe,

soos bokke wat gejag word,

soos skape sonder ’n herder.

15 Enigeen wat gevang word,

sal met die swaard

doodgesteek word.

16 Hulle babas sal voor hulle oë

doodgeslaan word.

Hulle huise sal geplunder,

hulle vroue verkrag word.

17 “Ek wek die Mediërs op

teen Babel,

en geen bedrag silwer of goud

kan hulle omkoop nie.

18 Die soldate sal die jong manne

met pyle platskiet.

Hulle sal geen genade hê

vir hulpelose babas,

en geen simpatie toon

met kinders nie.”

19 Babilon, jy is die glorierykste

van die koninkryke,

die blom van Galdese kultuur.

Jy sal soos Sodom en Gomorra

verwoes wees

as God jou vernietig het.

20 Die stad sal nooit weer

herrys nie.

Geslagte sal kom en gaan,

maar die land

sal nooit weer bewoon word nie.

Arabiere sal nooit weer

daar tent opslaan nie,

en skaapwagters

sal hulle kudde

nie daar laat oornag nie.

21 Net woestyndiere

sal in die puinhope rondloop.

Die huise sal vol uile wees.

Volstruise

sal tussen die ruïnes bly.

En wilde bokke

sal daar ronddans.

22 Hiënas sal in die vestings roep,

en jakkalse sal in die paleise

hulle lêplek maak.

Babilon se dae is getel.

Sy tyd van verwoesting is naby.

JESAJA 14

Babilon se koning gespot

1 Die Here sal genade bewys aan die kinders van Jakob. Israel sal steeds sy volk wees. Hy sal hulle terugbring en weer laat bly in hulle eie land. Vreemde mense van baie verskillende nasies sal kom en deel word van die volk Israel.

2 Die volke van die wêreld sal die Here se volk help om terug te kom, en die mense wat in hulle land kom woon, sal hulle dien. Dié wat Israel gevang het, sal gevang word en Israel sal oor sy vyande regeer.

3 In daardie wonderlike dag as die Here sy volk laat rus van lyding, verwarring en wrede slawerny,

4 sal jy die koning van Babel spot.

Jy sal sê:

“Die magtige is vernietig.

Ja, sy astrantheid

het opgehou.

5 Want die Here het

jou bose mag verpletter

en jou regering laat val.

6 Jy het mense vervolg

en hulle aanhou slaan

sonder om op te hou.

In jou woede

het jy nasies onderwerp

met genadelose aggressie.

7 Nou is die hele aarde rustig en stil.

Die mense kan weer sing.

8 Selfs die bome van die bos,

die sipresse en seders

van Libanonberg,

sing hierdie vreugdevolle lied:

‘Jou mag is gebreek!

Niemand gaan weer kom

en ons afkap nie!’

9 “In die doderyk

is daar opwinding

oor jou aankoms.

Die dooies, ook wêreldleiers

en magtige heersers

staan op om jou te verwelkom.

10 Hulle roep almal

met een stem uit:

‘Nou is jy net so swak soos ons.

Jy het net soos ons geword!

11 Jou mag en krag het verdwyn.

Dis saam met jou begrawe.

Die vrolike musiek in jou paleis

het opgehou.

Die bed onder jou is maaiers,

jy maak jou toe met wurms.’

12 “Hoe het jy

uit die hemel geval,

blink ster, seun van die môre!

Jy is op die aarde neergegooi,

jy wat die nasies van die wêreld

verpletter het.

13 Jy het mos vir jouself gesê:

‘Ek sal na die hemel toe opklim

en my troon bo God se sterre

neersit.

Ek sal regeer op die godeberg

ver in die noorde.

14 Ek sal opklim tot in die

hoogste hemele.

Soos die Allerhoogste

sal ek word.’

15 Maar in plaas daarvan

sal jy in die doderyk beland,

in sy diepste deel.

16 Almal daar sal jou aangaap

en vra:

‘Kan dit die man wees

wat die aarde met sy koninkryke

geskud het?

17 Is dit die man

wat die wêreld

in ’n woestyn

verander het?

Is dit die koning

wat die wêreld

se grootste stede platgevee het

en geen genade

vir sy gevangenes

gehad het nie?’

18 “Al die konings van die nasies

is met eer begrawe,

elkeen in sy eie graf.

19 Maar jou lyk

word in die graf gegooi

soos ’n boomtak

wat klaar verrot is.

Jy lê in ’n massagraf

saam met die lyke

van dié wat in die oorlog dood is.

Soos ’n lyk wat vertrap word,

20 sal jy nie ’n behoorlike begrafnis

kry nie.

Want jy het jou eie volk verwoes

en jou eie mense geslag.

Mag jou seun jou nie

as koning opvolg nie!

21 Maak hierdie booswig

se kinders dood

sodat hulle nie opstaan

en die land beset

of die stede van die wêreld

herbou nie!”

22 So sê die Here,

die Almagtige:

“Ek self het teen hom

opgestaan!

Ek sal sy kinders

en kleinkinders doodmaak,

sodat hulle nooit

op Babilon se troon sit nie.

23 Ek maak Babilon verlate,

’n land vir ystervarke,

vol moerasse en vleie.

Met ’n besem van vernietiging

vee Ek die land uit.

Ek, die Here, die Almagtige,

het so gesê!”

’n Boodskap oor Assirië

24 Die Here, die Almagtige,

het gesweer:

“Dit sal gebeur

soos Ek dit beplan het,

volgens my doel.

25 Ek sal die Assiriërs vertrap

wanneer hulle in my land is.

Ek sal hulle op my berge

verpletter.

My volk sal nie langer

hulle slawe wees nie.

26 “Ek het ’n plan

vir die hele wêreld,

want my mag geld

oor alle nasies.

27 Die Here, die Almagtige,

het besluit,

en wie sal sy planne

kan verander?

Wanneer sy hand beweeg,

wie kan dit terugbring?”

’n Boodskap oor die Filistyne

28 Hierdie boodskap het ek gekry in die jaar wat koning Agas dood is:

29 Julle Filistyne,

moenie bly word

omdat die koning

wat julle aangeval het,

dood is nie.

Want al is die sweep stukkend,

sal sy seun erger wees

as wat sy pa ooit was.

Uit daardie slang

sal ’n giftige slang kom,

’n vlieënde draak

wat julle sal verbrand.

30 Ek sal die armes

op my weiveld laat wei.

Die mense met nood

sal veilig gaan lê.

Maar julle,

julle sal in ’n hongersnood

uitgewis word.

Die bietjie wat oorbly,

sal Ek vernietig.

31 Huil, julle Filistynse stede,

want julle is verdoem!

Smelt inmekaar van vrees,

want julle gaan vernietig word!

’n Magtige leër

kom uit die noorde.

Nie een soldaat deins terug

vir die geveg nie.

32 Wat moet ons die boodskappers

van die vyand antwoord?

Sê vir hulle

die Here het Jerusalem gebou,

en Hy sal die armes onder sy volk

daar beskerm.

JESAJA 15

’n Boodskap oor Moab

1 Hierdie boodskap het ek oor Moab gekry:

In een nag sal Moab se stede,

Ar en Kir,

verwoes word.

2 Jou mense in Dibon

sal by hulle tempels

en heiligdomme huil.

Hulle sal huil

oor die lot van Nebo

en Medeba.

Hulle sal hulle koppe kaalskeer

uit verdriet,

en hulle baarde afskeer.

3 Hulle sal rouklere dra

wanneer hulle op straat kom.

Want in elke huis

en op elke plein

sal mense bitterlik huil

van verdriet.

4 Die geroep uit die stede

van Gesbon en Elale

sal van ver af gehoor kan word,

selfs tot in Jahas.

Die dapperste soldate van Moab

skreeu van angs.

5 Ek huil oor Moab.

Sy mense vlug

na Soar en Eglat-Selisija.

Al huilende klim hulle

die skuinste na Lugit toe uit.

’n Mens kan hulle hoor huil

al die pad na Goronajim toe.

6 Selfs die water van Nimrim

het opgedroog!

Die gras het verdroog

en die plante het verdwyn.

Niks groens het oorgebly nie.

7 Die vlugtelinge is so desperaat

dat hulle net die besittings saamvat

wat hulle kan dra.

Hulle vlug oor die Wilgerspruit.

8 Die hele land Moab huil

van een kant

tot die ander kant,

van Eglajim tot by Beër-Elim.

9 Die stroom by Dibon

is rooi van die bloed,

maar Ek is nog nie klaar

met Dibon nie.

Daar sal die leeus

oorlewendes vang,

dié wat probeer weghardloop

en dié wat agterbly.

JESAJA 16

1 Vlugtelinge uit Moab

stuur uit Sela in die woestyn

lammers na Jerusalem

om die koning van Juda

se guns te wen.

2 Soos fladderende voëltjies

wat uit die nes geskop is,

so is die vroue van Moab

by die Arnondriwwe.

3 “Help ons,” roep hulle.

“Beskerm ons teen ons vyande.

Beskerm ons vlugtelinge

teen hulle aanvalle.

Moet ons nie verraai nie.

4 Laat Moab se vlugtelinge

tussen julle bly.

Beskerm ons

tot die vernietiger verbygegaan het.”

Wanneer verdrukking

en verwoesting

verbygegaan het

en die vyand verdwyn het,

5 sal Dawid se troon

deur liefde gevestig word.

Van daardie troon af

sal ’n getroue koning regeer

en hy sal doen wat regverdig en reg is.

6 Is dit Moab, daardie trotse land

waarvan ons

so baie gehoor het?

Sy hoogmoedige gespog en arrogansie

is alles weg!

7 Die hele land Moab huil.

Ja, julle mense van Moab,

huil oor die rosyntjiekoeke

van Kir-Geres.

8 Huil oor die verlate plase

van Gesbon

en die wingerde van Sibma.

Die wyn van hierdie wingerde

het konings van nasies

dronk laat word.

Moab was soos ’n wingerd

wat gestrek het tot by Jaser

en gerank het tot in die woestyn.

Die ranke het

tot by die Dooie See gekom.

9 Maar nou het die vyand

die wingerd vernietig.

Daarom huil Ek vir Jaser

en die wingerde van Sibma.

My trane loop

oor Gesbon en Elale,

want julle vrugte-oes en graanoes

is vernietig.

10 Weg is die vreugde.

Verby is die gejuig

oor die oes.

Die vrolike sang en geroep

in die wingerde

word nie meer gehoor nie.

In die parskuipe

trap niemand wyn uit nie.

Want Ek het ’n einde gebring

aan al hulle oesvreugde.

11 Ek huil oor Moab.

Ek is baie hartseer oor Kir-Geres.

12 Die mense van Moab

sal op die heuwels

hulle gode angstig aanroep.

Maar dit sal nie help nie.

Hulle sal roep na die gode

in hulle heiligdomme,

maar niemand red hulle nie.

13 Die Here het dit lankal al

oor Moab gesê.

14 Maar nou voeg die Here by:

“Binne drie jaar,

wat so ondraaglik sal wees

soos vir ’n dagloner

wat hom afsloof,

sal van Moab se glorie

en baie mense min oorbly.

Hulle wat oorbly,

sal min en swak wees.”

JESAJA 17

’n Boodskap oor Aram en Israel

1 Hierdie boodskap het na my gekom oor Damaskus, hoofstad van Aram:

“Kyk, Damaskus gaan verdwyn!

Dit gaan ’n puinhoop word.

2 Die dorpe van Aroër

sal verlate word.

Skape sal in die strate wei.

Hulle sal daar lê

sonder om bang te wees

dat iemand hulle opjaag.

3 Die versterkte stede van Israel

sal vernietig word,

en die mag van Damaskus

sal tot ’n einde kom.

Dié wat oorbly van Aram,

sal min mag hê

soos die Israeliete,”

sê die Here, die Almagtige.

4 “In daardie dag

sal Israel verneder word.

Armoede sal die land oorneem.

5 Israel sal so verlate wees

soos die graanvelde

in die Refaïmvallei

ná die oes af is.

6 Min van sy mense sal oorbly,

soos die olywe

wat in die boonste takke

van die boom

agterbly ná die oes.

Slegs twee of drie

bly in die hoogste takke agter,

vier of vyf op die punte

van die takke.”

So sê die Here,

die God van Israel.

7 Dan eers sal mense weer

aan hulle Skepper dink

en respek kry

vir die Heilige Een van Israel.

8 Hulle sal nie meer hulle afgode

om hulp vra of dit aanbid

wat hulle met hulle eie hande

gemaak het nie.

Hulle sal nooit weer kniel

voor hulle Asjerabeelde

of wierook brand op die altare

wat hulle gemaak het nie.

9 Daardie dag

sal Israel se toevlugstede

verlate wees,

verlate soos die boswêreld

wat die inwoners destyds

laat vaar het

toe die Israeliete die land

lank terug binnegeval het.

10 Jy het jou rug gedraai

op die God wat jou kan red.

Jy het die Rots vergeet

by wie jy kon skuil.

Daarom,

al kry jy die beste gewasse

en plant jy ingevoerde

wingerdstokke,

11 al sou jy die dag dadelik

dit wat jy dit geplant het,

kan laat groei,

en dit laat bot die oggend

dat jy dit plant,

sal jou opbrengs niks werd wees.

Jou enigste oes

sal siekte

en ongeneeslike smart wees!

12 Kyk! Die soldate

van baie nasies

storm nader soos golwe

wat teen die kus breek.

13 Al raas hulle soos branders

wat op die strand breek,

God sal hulle stilmaak.

Hulle sal wegvlug

soos kaf wegwaai

in die bergwind

of soos ’n tolbos in ’n storm dwarrel.

14 Die aand nog wag Israel in angs,

maar teen sonsopkoms

is hulle vyande vernietig.

Dit is die verdiende loon

van die vyand

wat ons beroof.

Dit is die lot van dié

wat ons besittings plunder.

JESAJA 18

’n Boodskap oor Etiopië

1 Verwoesting wag

vir die land

langs die riviere van Etiopië,

die land van sprinkane.

2 Sy gesante seil in papirusbote

oor die water.

“Gaan huis toe,

vinnige boodskappers!

Neem ’n boodskap vir die land

wat deur riviere verdeel word,

na julle lang mense

met die gladde vel

wat wyd en syd gevrees word

vir hulle aanvalle en verwoesting.”

3 Wanneer ek ’n vaandel opsteek

op die berg,

moet die hele wêreld en sy inwoners

kennis neem.

Wanneer ek die trompet blaas,

moet julle luister!

4 Want die Here het vir my gesê:

“Ek kyk rustig uit my woonplek,

so rustig soos die hittegolwe

op ’n somersdag,

of soos dou op ’n herfsmôre

tydens oestyd.”

5 Nog voor julle die aanval begin,

terwyl julle planne ryp word

soos druiwe,

sal die Here julle afsny

soos met ’n snoeiskêr.

Hy sal die takke wat uitgroei,

afsny.

6 Julle magtige leër

sal dood lê in die veld,

en die voëls en wilde diere

sal hulle vreet.

Die aasvoëls sal die hele somer

aan hulle vreet.

Wilde diere sal die hele winter

aan hulle bene knaag.

7 Die tyd kom

wanneer die Here,

die Almagtige,

geskenke sal kry

van die lang mense

met die gladde vel

wat wyd en syd gevrees word

vir hulle aanvalle en verwoesting.

Die land

wat deur riviere verdeel word,

sal geskenke bring

vir die Here, die Almagtige,

in Jerusalem,

die plek waar Hy woon.

JESAJA 19

’n Boodskap oor Egipte

1 Hierdie boodskap

het na my gekom oor Egipte:

Kyk! Die Here is op pad

na Egipte toe.

Hy ry op ’n vinnige wolk.

Egipte se afgode bewe voor Hom.

Die Egiptenaars smelt weg

van vrees.

2 “Ek laat die Egiptenaars

teen mekaar baklei,

broer teen broer,

buurman teen buurman,

stad teen stad,

provinsie teen provinsie.

3 Die Egiptenaars

sal moed verloor.

Ek sal hulle planne verydel.

Hulle sal by hulle afgode

pleit vir wysheid.

Hulle sal geeste oproep,

en mediums en besweerders

om raad gaan vra.

4 Ek gee Egipte oor

aan ’n wrede meester,

’n harde koning,”

sê die Here, die Here, die Almagtige.

5 Die see sal opdroog,

die rivier sal leeg word.

6 Die Nyl se kanale sal sleg ruik.

Egipte se waterstrome

sal opdroog.

Die riete en biesies sal verlep.

7 Die papirusplante langs die Nyl

sal opdroog en wegwaai.

Die oeste sal wegdroog.

Alles sal verdwyn.

8 Die vissermanne

sal van hartseer huil.

Dié wat met ’n hoek visvang

en dié wat nette

in die rivier oopgooi,

sal wegkwyn.

9 Die wewers wat vlas

en katoen gebruik

om te weef,

sal geen hoop oorhê nie.

10 Hulle sal afgehaal wees.

Die loonarbeiders sal siek wees

van bekommernis.

11 Watter dwase

is die adviseurs van Soan nie!

Hulle beste raad

vir die koning van Egipte

is dom en verkeerd.

Sal hulle voor die farao spog

omdat hulle so slim is,

dat hulle van konings afstam?

12 Wat het gebeur

met jou slim adviseurs, Farao?

As hulle so slim is,

laat hulle jou vertel

wat die Here, die Almagtige,

aan Egipte gaan doen!

13 Die wyse manne van Soan

is dwaas,

en dié van Memfis is verward.

Die leiers van Egipte

het die land geruïneer

met hulle dom raad.

14 Die Here

het hulle dwaas gemaak

sodat al hulle voorstelle

verkeerd is.

Hulle het die land van Egipte

soos ’n siek dronklap laat steier.

15 Niemand in Egipte,

of hy ryk of arm,

belangrik of onbelangrik is,

kan hom help nie.

16 Daardie dag sal die Egiptenaars so swak soos vroue wees. Hulle sal wegkruip van vrees wanneer die Here, die Almagtige, sy vuis teen hulle optel.

17 Net om Israel se naam te noem, sal angs vir die Egiptenaars bring. Want die Here, die Almagtige, het sy planne klaar teen Egipte opgestel.

18 Daardie dag sal vyf Egiptiese stede die Here, die Almagtige, volg. Hulle sal selfs Hebreeus praat. Een van hulle sal die Stad van Verwoesting genoem word.

19 Daardie dag sal daar ’n altaar vir die Here in die hart van Egipte wees, en ’n monument vir die Here by sy grens.

20 Dit sal ’n teken en getuienis wees van die Here, die Almagtige, se teenwoordigheid in Egipte. Wanneer die mense na die Here om hulp roep wanneer hulle verdruk word, sal Hy iemand stuur wat hulle sal beskerm en red.

21 Daardie dag sal die Here Homself aan die mense van Egipte openbaar. Ja, hulle sal die Here ken en diere-offers en graanoffers vir Hom bring. Hulle sal beloftes aan die Here maak, en dit nakom.

22 Die Here sal die Egiptenaars slaan sodat Hy hulle kan genees, en hulle sal terugkom na die Here. Hy sal luister as hulle om hulp roep en hulle gesond maak.

23 Daardie dag sal Egipte en Assirië met ’n hoofpad verbind wees. Die Egiptenaars en Assiriërs sal vrylik tussen hulle lande beweeg, en hulle sal dieselfde God dien.

24 Israel sal hulle bondgenoot wees. Die drie sal saamwerk, en Israel sal vir hulle tot ’n seën wees.

25 Die Here, die Almagtige, sal sê:

“Geseënd is my volk Egipte,

geseënd is Assirië

wat deur My geskep is,

en geseënd is Israel,

my eiendom.”

JESAJA 20

’n Boodskap oor Egipte en

Etiopië

1 In die jaar wat koning Sargon van Assirië die Filistynse stad Asdod beleër en oorwin het,

2 het die Here vir Jesaja seun van Amos gesê: “Trek al jou rouklere uit, ook jou sandale.” Jesaja het dit gedoen en kaal en sonder skoene rondgeloop.

3 Toe het die Here gesê: “My dienaar Jesaja het die laaste drie jaar kaal en sonder skoene rondgeloop. Dit is ’n teken, ’n simbool van die verskriklike moeilikheid wat Ek oor Egipte en Etiopië gaan bring.

4 Want die koning van Assirië sal die mense van Egipte en Etiopië as gevangenes wegneem.

“Hy sal hulle kaal en sonder skoene laat loop, die jonges en die oues. Hulle sal kaal wees, tot Egipte se skande.

5 Almal wat hulle vertroue op Etiopië gestel het en oor Egipte grootgepraat het, sal bang word en ook skaam kry.

6 Hulle sal sê: ‘Kyk wat het gebeur met dié op wie ons gehoop het en na wie ons gevlug het om ons van die koning van Assirië te red! Hoe sal ons ooit kan ontsnap?’”