JEREMIA 51

1 Die Here sê:

“Ek sal ’n verwoester aanhits

teen Babel

en die inwoners

van Babel.

2 Ek stuur vreemdelinge na Babel

wat hulle sal verstrooi.

Op die noodlottige dag

sal hulle Babel van alle kante af

aanval,

en hulle sal die land kaal steel.

3 Moenie die boogskutters

kans gee om hulle boë te span

of hulle gevegsklere

aan te trek nie.

Moenie die jongmense spaar nie.

Nee, roei die hele leër uit!

4 Hulle sal dood neerval in Babel

of dodelik gewond

in die strate lê.

5 Want Ek het Israel en Juda

nie in die steek gelaat nie.

Al is hulle land vol oortredings

teen die Heilige van Israel,

is Ek steeds hulle God,

die Here, die Almagtige.”

6 Vlug uit Babel!

Red julleself!

Moenie dat Babel se sonde

julle vernietig nie!

Dit is die tyd

van die Here se wraak,

Hy gaan die stad

nou terugbetaal.

7 Babel is ’n goue beker

in die Here se hande.

Die hele wêreld drink daaruit

en word dronk.

Die nasies drink van die wyn

en verloor hulle verstand.

8 Skielik het Babel nou ook geval

en is verwoes.

Huil oor die stad!

Gee vir haar medisyne,

miskien is daar genesing.

9 Ons sou die stad help

as ons kon,

maar niks kan Babel

nou meer genees nie.

Vergeet van die stad!

Laat elkeen na sy eie land

teruggaan!

Die oordeel oor die stad

reik tot by die hemel,

styg tot by die wolke.

10 Die Here het

ons onskuld bewys.

Kom ons vertel in Jerusalem

wat die Here ons God

gedoen het.

11 Maak julle pyle skerp!

Neem julle skilde op!

Want die Here het die gedagte

by die koning

van die Mediërs

laat posvat

om op te trek

teen die Babiloniërs

en hulle te vernietig.

Dit is hoe die Here wraak neem,

Hom wreek oor sy tempel.

12 Lig die vlag

om die mure van Babel

aan te val.

Versterk die wagposte!

Plaas wagte oral uit!

Stel hinderlae op!

Die Here het ’n plan

met die Babiloniërs,

Hy voer dit uit!

13 Julle woon langs baie water.

Julle is skatryk.

Maar julle einde het aangebreek,

julle lewensdraadjie is geknip!

14 Die Here, die Almagtige,

sweer by Homself:

“Julle vyande sal oor julle spoel

soos ’n swerm sprinkane

in ’n koringland.

Hulle sal die oorwinning oor julle

uitskreeu.”

’n Loflied vir die Here

15 Deur sy krag het Hy

die aarde gemaak,

deur sy wysheid

die wêreld tot stand gebring.

Deur sy insig het Hy

die hemel uitgestrek.

16 As Hy praat, is daar

donderweer in die hemel.

Hy laat die wolke opstyg

oor die aarde.

Hy laat die weerlig blits

as dit reën.

Hy laat die wind

uit sy stoorkamers kom.

17 In vergelyking met Hom

is elke mens ’n dwaas,

sonder enige kennis!

Goudsmede maak afgodsbeelde,

maar hulle kom in die skande.

Hierdie beelde is ’n leuen,

want hulle haal nie asem nie.

18 Afgode is eintlik nutteloos,

’n bedrogspul!

As die tyd van afrekening kom,

sal hulle vernietig word.

19 Maar die God van Israel

is nie so ’n afgod nie.

Hy het alles wat bestaan,

gemaak,

ook sy eie volk,

sy besonderse besitting.

Hy is die Here, die Almagtige!

Groot straf vir Babel

20 “Jy is my hamer,

my oorlogswapen.

Ek gebruik jou

om nasies mee te verpletter

en koninkryke te verwoes.

21 Ek gebruik jou om perde

en ruiters mee te tref,

ook strydwaens

met hulle bemanning.

22 Met jou hulp

sal Ek mans en vroue uitwis,

ook oumense en kinders,

jong seuns en meisies.

23 Ek het jou gebruik om herders

en hulle vee uit te roei,

so ook plaaswerkers

en hulle osse.

Ek sal jou gebruik

om regeerders en amptenare

te vernietig.”

24 Die Here sê ook:

“Voor julle oë sal Ek

Babel en die Babiloniërs

terugbetaal

vir al die kwaad

wat hulle aangerig het

in Jerusalem.

Julle sal dit sien gebeur.

25 Dit kan jy maar weet,

vernietiger van die aarde,

verwoester van die wêreld,

Ek is jou vyand,”

sê die Here.

“Ek sal teen jou optree,

Ek gooi jou teen die berghange af.

Ek maak jou

’n verskroeide berg.

26 Jy sal vir altyd verwoes lê.

Niemand sal uit jou rommel

’n klip kan gebruik

vir ’n hoeksteen of ’n steen

vir die fondasie nie,”

sê die Here.

27 Hou ’n vaandel op oor die land,

blaas op die ramshoring

onder die nasies.

Berei die nasies voor vir oorlog

teen Babel.

Roep die koninkryke van Ararat,

Minni en Askenas op

teen Babel.

Stel dan ’n bevelvoerder aan

en kom met soveel perde

soos ’n swerm sprinkane.

28 Bring die leërs

van die konings van Medië,

hulle leiers en die amptenare

en al die lande waaroor hulle

regeer teen hulle.

29 Die land bewe en krul,

want die plan van die Here

staan vas teen Babel:

Hy maak Babel ’n verlate plek –

niemand sal daar bly nie.

30 Die soldate van Babel

veg nie meer nie.

Hulle sit nie ’n voet

uit hulle

versterkte skuilings nie.

Hulle moed is gebreek,

hulle is so bang soos vroue.

Hulle huise is aan die brand,

die stadshekke afgebreek.

31 Van oral kom

boodskappers aangehardloop

met nuus

vir die koning van Babel:

Die stad is van alle kante af

ingeval!

32 Al die ontsnaproetes is afgesny,

die versterkings

is aan die brand gesteek,

en die soldate is lam van angs!

33 Die Here, die Almagtige,

die God van Israel, sê:

“Babel is soos ’n dorsvloer

waar hulle koring trap.

Binnekort sal Babel se oestyd

aanbreek.”

34 “Koning Nebukadnesar

van Babel

het ons verteer, verpletter

en al ons kragte getap.

Hy het ons

soos ’n groot monster

ingesluk.

Hy het sy maag vol gemaak

met ons skatte.

Hy het ons uit ons eie land

gegooi.”

35 Die mense van Jerusalem sê:

“Mag al die geweld

wat ons moes deurgaan,

na Babel terugkom.”

Jerusalem sê:

“Mag die Babiloniërs

die skuld vir ons bloed betaal!”

Die Here se wraak op Babel

36 Die Here sê vir Juda:

“Ek sal julle saak behartig

en namens julle wraak neem.

Ek sal Babel se waters

en fonteine laat opdroog.

37 Babel sal verander

in ’n bouval,

’n lêplek vir jakkalse,

’n plek wat mense

met afgryse en veragting

vervul.

Niemand sal meer

daar woon nie.

38 Hulle brul saam soos leeus,

grom soos leeuwelpies.

39 Terwyl hulle nog dronk is

van die wyn,

berei Ek vir hulle ’n ander fees.

Ek sal hulle dronk maak

sodat hulle vrolik kan raak.

Hulle sal aan die slaap raak

en nooit weer

wakker word nie,”

sê die Here.

40 “Ek sal hulle

na die slagpale bring

soos lammers, ramme en bokke.

41 Hoe verskriklik

is die val van Babel,

vroeër geprys deur die wêreld!

Nou sal Babel afstootlik wees

onder die nasies.

42 Die see het opgestoot

en oor Babel gespoel.

Die stad lê toe onder die golwe.

43 Babel se stede lê in puin,

’n droë land, ’n woestynland.

Niemand woon meer daar,

of gaan selfs naby verby nie.

44 Ek sal Bel in Babel straf.

Ek sal hom laat uitspoeg

wat hy ingesluk het.

Die nasies sal hom nie

langer aanbid nie.

Ja, Babel se mure het geval.”

’n Boodskap aan die ballinge

45 “My volk, maak dat julle

uit Babel wegkom!

Vlug vir julle lewens,

want die Here se woede gloei!

46 Moenie angstig raak

as julle in die land

die nuus hoor

van magte wat optrek nie.

Elke jaar is daar sulke stories

in omloop van leiers

wat teen mekaar veg.

47 Kyk, die tyd kom

dat Ek Babel se afgode

gaan straf.

Die hele land

sal in die skande kom

en lyke sal oral rondlê.

48 Die hemel en die aarde

en alles daarin

sal sing van blydskap oor Babel,”

sê die Here.

“Want die leërs

van die verwoestende vyand

sal uit die noorde

teen Babel optrek.

49 “Babel het baie mense

van Israel

doodgemaak.

Hulle het ook baie ander mense

in die wêreld

doodgemaak.

Nou is dit hulle beurt

om te sterf!

50 Julle wat die dood

vrygespring het, vlug!

Moenie staan en talm nie!

Al gaan julle na veraf lande,

dink aan die Here

en aan Jerusalem.”

51 Julle sê: “Ons is verneder.

Ons is beledig en skaam.

Want vreemdelinge het

die Here se tempel ontwy.”

52 Die Here het geantwoord:

“Die tyd kom

dat Ek Babel se afgode straf.

Gewonde mense sal oral

deur die land kreun.

53 Al reik Babel tot aan die hemel,

en al is die torings versterk,

nogtans sal die vernietigers

teen die stad optrek,”

sê die Here.

Verwoesting van Babel

54 “Hoor hoe skreeu hulle in Babel!

Dis die geluid

van groot vernietiging

in die land van die Babiloniërs.

55 Want die Here verwoes Babel.

Hy laat die rumoer ophou.

Die vyand sal met ’n gedreun

teen hulle aanstorm

soos ’n groot massa water.

Hulle oorlogskrete

sal deur die stad klink.

56 ’n Vernietiger trek op

teen Babel

om die stad te verwoes.

Hulle vang die soldate

en slaan hulle wapens

aan stukke.

Omdat die Here ’n God is

wat regverdig straf,

kry hulle wat hulle verdien.

57 Ek maak die leiers,

amptenare, wyse manne,

bestuurders, bevelvoerders

en soldate dronk.

Hulle sal aan die slaap raak

en nooit weer

wakker word nie!”

sê die Koning wie se Naam die Here,

die Almagtige, is.

58 Die Here, die Almagtige,

sê ook:

“Babel se mure is baie dik,

maar sal gelykgemaak word

met die grond.

Die stadspoorte is baie hoog,

maar vuur sal dit verbrand.

Baie werkers uit ander lande

het vir hulle gewerk,

maar dit was tevergeefs.

Vuur sal hulle werk verbrand!”

Jeremia se boodskap vir Babel

59 Die profeet Jeremia het ’n opdrag saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel toe gereis. Seraja was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar wat koning Sedekia oor Juda regeer het.

60 Jeremia het al die rampe wat Babel gou sou tref op ’n boekrol geskryf.

61 Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boekrol geskryf staan, hardop lees.

62 Dan moet jy sê: ‘Here, U het gesê U gaan hierdie stad verwoes. Geen mens of dier sal meer hier wees nie. Die stad sal vir altyd leeg en verlate bly.’

63 “Wanneer jy die boek klaar gelees het, maak dit vas aan ’n klip en gooi dit in die Eufraatrivier.

64 Sê dan: ‘Dieselfde sal met Babel gebeur. Babel sal sink en nooit weer opkom nie. Dit sal gebeur omdat die Here rampe oor hulle sal bring. Al hulle mense sal vernietig word.’”

Hier eindig die boodskappe van Jeremia.

JEREMIA 52

Inname van Jerusalem

1 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma se naam was Gamutal, ’n dogter van Jeremia, uit Libna afkomstig.

2 Hy het nes Jojakim gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was.

3 Die Here was baie kwaad hieroor. Hy het toe die mense van Jerusalem en Juda uit sy teenwoordigheid verban.

Sedekia het hierna in opstand gekom teen koning Nebukadnesar van Babel.

4 Op 15 Januarie, in die negende jaar wat Sedekia koning was, het koning Nebukadnesar van Babel met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Hulle het die stad omsingel en oral rondom die stad beleëringswalle gebou.

5 Hulle het Jerusalem beleër tot in die elfde regeringsjaar van koning Sedekia.

6 Teen 18 Julie van die elfde jaar wat Sedekia koning was, was die hongersnood in die stad baie erg. Daar was geen kos vir die inwoners nie.

7 Hulle het toe in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Hoewel die Babiloniërs die stad omsingel het, het die soldate in die nag uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek tussen die twee mure, agter die koningstuin, uitgegaan en in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

8 Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia ingehaal op die vlakte naby Jerigo. Daar is sy leër van hom geskei en hulle het in alle rigtings gespat.

9 Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar in Ribla, in die Hamatgebied, gebring. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor.

10 Die koning van Babel het Sedekia se seuns voor hom doodgemaak asook al die ander leiers van Juda.

11 Sedekia se oë is uitgesteek en daarna is hy in kettings geboei en die koning van Babel het hom na Babel toe gebring. Daar is hy in die tronk gegooi, waar hy tot sy dood gebly het.

Die verwoesting van die tempel

12 Op 17 Augustus, in die negentiende regeringsjaar van Nebukadnesar van Babel, het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was kaptein van koning Nebukadnesar se lyfwag.

13 Hy het die tempel, die koning se paleis en al die huise in Jerusalem afgebrand. Hy het al die belangrikste geboue afgebrand.

14 Die Babiloniese leër wat saam met die kaptein van die lyfwag was, het al die mure rondom Jerusalem afgebreek.

15 Nebusaradan, kaptein van die Babiloniese koning se lyfwag, het toe van die armste mense na Babel weggevoer. Hy het ook die mense wat nog in die stad agtergebly het in ballingskap na Babel geneem, saam met al die vakmanne en mense wat na koning Nebukadnesar oorgeloop het.

16 Nebukadnesar het net die heel armste mense toegelaat om in die land agter te bly. Hulle moes die wingerde versorg en die landerye bewerk.

17 Die Babiloniërs het die koperpilare in die tempel afgebreek en ook die voetstukke waarop die koperwasbakke gestaan het. Hulle het dieselfde gedoen met die groot koperbad. Hulle het al hierdie koper na Babel toe weggedra.

18 Hulle het ook van die ander kopervoorwerpe in die tempel saamgevat – die potte, grawe, messe, komme en reukwerkbakke.

19 Hulle het ook die kleiner bakke, vuurpanne, potte, kandelare, komme en bakke vir die drankoffers gevat. Die kaptein van die lyfwag het al die voorwerpe van silwer of goud saamgeneem.

20 Van die kopervoorwerpe was so swaar dat dit nie geweeg kon word nie. Dit was voorwerpe wat koning Salomo destyds vir die tempel laat maak het. Dit was die twee koperpilare, die koperbad, die twaalf bulle onder hierdie bad en die voetstukke van die wasbakke.

21 Elkeen van hierdie pilare was net oor die nege meter hoog en ses meter in omtrek. Die pilare was aan die binnekant hol, met die wande nege sentimeter dik.

22 Die koperkopstuk bo-op elkeen van hierdie pilare was twee en ’n half meter hoog. Die kopstuk was reg rondom versier met koperafbeeldings van granate. Die tweede pilaar het net so gelyk.

23 Aan die kante was daar 96 granate. As dié in die vlegwerk bo bygetel word, was dit altesaam 100 granate.

24 Nebusaradan het die hoëpriester Seraja, asook die priester tweede in rang, Sefanja, saam met hom geneem. Hy het ook drie van die deurwagte saamgeneem.

25 Van die mense wat nog in die stad was, het Nebusaradan ’n offisier van die leër en sewe van die koning se raadgewers gevange geneem. Hy het ook nog die sekretaris van die offisier wat verantwoordelik was om soldate vir die leër te werf, gevange geneem. Verder het hy 60 ander mense in die stad gevang en saamgevat.

26 Nebusaradan het al hierdie mense na die koning van Babel in Ribla gebring.

27 Die koning van Babel het hulle almal daar in Ribla in die Hamatgebied doodgemaak. So is die mense van Juda uit hulle land in ballingskap weggevoer.

28 In totaal was die hoeveelheid mense wat as gevangenes na Babel weggevoer is, die volgende: In die sewende regeringsjaar van koning Nebukadnesar, 3 023 Jode.

29 In Nebukadnesar se agtiende jaar as koning het hy nog 832 mense uit Jerusalem weggevoer.

30 In Nebukadnesar se 23ste jaar as koning het hy Nebusaradan, die hoof van sy lyfwag, na Juda gestuur. Hy het nog 745 Judeërs in ballingskap geneem. Altesaam is 4 600 mense gevange geneem.

Jojagin word vrygelaat

31 In die 37ste jaar van koning Jojagin se ballingskap in Babel, het Ewil-Merodak koning in Babel geword. Hy was Jojagin goedgesind en het hom uit die tronk vrygelaat. Dit het gebeur op 31 Maart van daardie jaar.

32 Ewil-Merodak het baie vriendelik met koning Jojagin gepraat. Hy het Jojagin beter behandel as al die ander konings wat in Babel in ballingskap was.

33 Jojagin is ook toegelaat om nie langer sy tronkklere te dra nie. Hy is ook toegelaat om vir die res van sy lewe saam met die koning te eet.

34 Die koning van Babel het ook vir Jojagin ’n gereelde toelaag gegee. Dit was om in sy daaglikse behoeftes te voorsien. Hy sou dit kry so lank as wat hy lewe.