JEREMIA 41

Gedalja word vermoor

1 In die middel van herfs daardie jaar het Ismael en tien van sy mense by Gedalja in Mispa aangekom. Ismael was die seun van Netanja en die kleinseun van Elisama. Hy was van koninklike afkoms en een van die koning se offisiere. Terwyl hulle in Mispa saam met Gedalja geëet het,

2 het Ismael en sy manskappe opgespring en Gedalja met ’n swaard doodgesteek. Die koning van Babel het Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, as goewerneur oor die land aangestel.

3 Ismael het al die Jode wat daar by Gedalja in Mispa was, doodgemaak. Hy het ook die Babiloniese soldate wat by Gedalja was, vermoor.

4 Die volgende dag, nog voordat iemand iets van Gedalja se moord gehoor het,

5 het 80 mans uit Sigem, Silo en Samaria aangekom. Hulle baarde was afgeskeer, hulle klere in repies geskeur en hulle het hulleself gesny soos hulle gerou het. Hulle was op pad na die tempel toe om vir die Here graanoffers te bring en ook wierook te brand.

6 Ismael het uit Mispa gegaan om hulle te ontmoet terwyl hy droewig gehuil het. Toe hy by hulle kom, sê hy: “Kom kyk wat het met Gedalja seun van Agikam gebeur!”

7 Toe hulle in die middel van die stad aankom, het Ismael en die manne saam met hom 70 van die 80 doodgemaak. Hulle het die lyke in ’n put gegooi.

8 Die tien wat oorgebly het, het Ismael gesmeek om hulle nie dood te maak nie. Hulle het belowe dat hulle vir hom die koring, gars, olie en heuning sou gee wat hulle in die veld versteek het. Hy het hulle toe nie doodgemaak nie.

9 Koning Asa het Mispa destyds versterk om homself teen koning Baesa van Israel te beskerm. Hy het toe ’n groot put gegrawe om water op te vang. Ismael seun van Netanja het al die lyke van die mense wat hy by Gedalja vermoor het, in hierdie put gegooi. Die put was vol lyke.

10 Ismael het ook die res van die mense in Mispa gevang. Onder hulle was die koning se dogters. Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, het al hierdie mense onder die sorg van Gedalja in Mispa gelaat. Ismael het hulle saam met hom gevat en in die rigting van die Ammoniete begin trek.

11 Maar Joganan seun van Kareag en die groep soldate wat saam met hom was, het gehoor van die gruwels wat Ismael gedoen het.

12 Hulle het toe al die mans saam met hulle geneem om teen Ismael te veg. Hulle het hom by die groot dam naby Gibeon aangetref.

13 Toe die mense wat Ismael gevang het Joganan en sy offisiere sien, was hulle baie bly.

14 Al die mense wat Ismael in Mispa gevange geneem het, het ontsnap en na Joganan toe oorgeloop.

15 Intussen het Ismael en agt van sy volgelinge Joganan ontglip en na die Ammoniete gevlug.

16 Joganan en sy offisiere het al die mense weggelei wat hulle uit Ismael se hande gered het. Hierdie was mense wat in Mispa oorleef het nadat Ismael Gedalja seun van Agikam doodgemaak het. Onder hulle was soldate, vroue, kinders en paleisamptenare wat hy uit Gibeon saamgebring het.

17 Hulle het vertrek en by Gerut-Kimham naby Betlehem oorgebly. Van daar sou hulle na Egipte toe gaan.

18 Hulle was bang vir wat die Babiloniërs sou doen omdat Ismael Gedalja vermoor het. Dit was dan juis die Babiloniese koning wat vir Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het.

JEREMIA 42

Waarskuwing om in Juda te bly

1 Al die weermagoffisiere, ook Joganan seun van Kareag en Asarja seun van Hosaja, asook nog mense uit elke vlak van die samelewing het gekom

2 en vir die profeet Jeremia gesê: “Bid ernstig en tree vir ons in by die Here jou God. Soos jy kan sien, is ons maar net ’n klein groepie mense wat oor is van die volk wat ons eers was.

3 Vra die Here jou God wat ons moet doen en waarheen ons moet gaan.”

4 Hierop het Jeremia gereageer en gesê: “Goed, ek hoor wat julle wil hê. Ek sal tot die Here julle God bid, soos julle versoek. Ek sal dan vir julle sê presies wat sy antwoord is. Ek sal niks vir julle wegsteek nie.”

5 Hulle het vir Jeremia gesê: “Mag die Here ’n betroubare getuie teen ons wees as ons weier om te doen wat die Here u God u gestuur het om aan ons oor te dra.

6 Of dit nou goed of sleg is, ons sal die Here ons God gehoorsaam. Ons het jou na Hom gestuur om raad te vra. Dit sal met ons goed gaan as ons Hom gehoorsaam en doen wat Hy sê.”

7 Na tien dae het die Here vir Jeremia ’n antwoord gegee.

8 Jeremia het Joganan seun van Kareag, die weermagoffisiere en ook die gewone mense uit alle vlakke van die samelewing laat roep.

9 Hy het vir hulle gesê: “Julle het my na die Here, die God van Israel gestuur om julle versoek voor Hom te stel. Die Here sê:

10 ‘Bly hier in die land. As julle dit doen, sal Ek julle opbou en nie afbreek nie. Ek sal julle plant en nie ontwortel nie. Ek is jammer oor al die ellende wat Ek julle moes aandoen.

11 Moenie langer vir die koning van Babel bang wees nie, sê die Here. Ek sal julle nie in die steek laat nie. Ek is by julle teenwoordig. Ek sal julle van sy oorheersing vrymaak.

12 Ek sal meegevoel hê met julle sodat hy ook meegevoel met julle sal hê. Dan sal hy julle in julle land laat bly.’

13 “Maar julle sal aan die Here julle God ongehoorsaam wees as julle sê: ‘Ons wil nie in hierdie land bly nie.

14 Nee, ons wil in Egipte gaan bly! Daar sal ons vry wees van oorlog en die geluid van die ramshoring wat mense oproep vir oorlog of hongersnood aankondig.’

15 “Luister dan gerus na wat die Here sê oor die mense wat in Juda oorgebly het.

“Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘As julle volhou om na Egipte te gaan en daar te gaan woon,

16 sal die oorloë wat julle vrees julle daar in Egipte tref. En die hongersnood waarvoor julle bang is, sal julle agtervolg. En uiteindelik sal julle in Egipte doodgaan.

17 “Dit is wat vir elkeen van julle wag as julle aandring om in Egipte te gaan bly. Julle sal daar in die oorlog sterf of van honger omkom of ’n siekte-epidemie sal julle tref. Niemand van julle sal ontvlug of die rampe oorleef wat Ek oor julle sal bring nie.’

18 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Net soos Ek my woede en my toorn op die inwoners van Jerusalem uitgestort het, net so sal Ek maak met elke persoon wat na Egipte toe gaan. Julle sal ’n vloek wees, iets afgrysliks. Hulle sal met julle spot en julle naam gebruik om ander mee te vloek. En julle sal julle eie land nooit weer sien nie.’

19 “Die Here sê vir julle wat in Juda oorgebly het: Moenie na Egipte toe gaan nie! Onthou hierdie waarskuwing wat Ek vandag vir julle gee.

20 “Julle het ’n fatale fout gemaak toe julle my gestuur het om tot die Here julle God te bid en te sê: ‘Sê net vir ons wat die Here sê en ons sal dit doen.’

21 Vandag het ek presies vir julle gesê wat Hy sê, maar julle sal nie gehoorsaam wees nie, nes julle nog nooit gedoen het wat die Here julle God gesê het nie.

22 Julle hou mos aan dat julle in Egipte wil gaan woon. Julle kan verseker wees dat julle daar in oorlog, of van honger, of van siekte sal doodgaan.”

JEREMIA 43

Jeremia in Egipte

1 Toe Jeremia klaar die hele boodskap van die Here hulle God aan al die mense gegee het,

2 het Asarja die seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en al die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan woon nie!

3 Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het sodat ons in die mag van die Babiloniërs kan beland. Hulle sal ons doodmaak of in ballingskap na Babel toe neem.”

4 Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie die Here se opdrag gehoorsaam om in Juda te bly nie.

5 Joganan en die offisiere het toe al die mense van Juda wat oorgebly het nadat hulle teruggekeer het uit die lande waarheen hulle gevlug het, saam met hulle geneem.

6 Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters asook al die mense wat Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan gelaat het, asook van Jeremia en Baruk seun van Nerija.

7 Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en Egipte toe gegaan. Hulle het tot by die stad Tagpanges gegaan.

8 By Tagpanges het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

9 “Gaan na die ingang van die farao se paleis in Tagpanges. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Doen dit waar die mense van Juda jou kan sien.

10 Sê vir die mense van Juda die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle kan julle maar klaarmaak. Ek gaan my kneg Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Ek sal sy troon neersit op hierdie klippe wat Ek weggesteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor dit opslaan.

11 Nebukadnesar sal kom en Egipte aanval. Wie bestem is om dood te gaan, sal doodgaan. Wie in ballingskap moet gaan, sal gaan. En wie deur geweld moet sterf, sal so sterf.

12 Hy sal die tempels van die Egiptiese gode aan die brand steek en die afgode met vuur verbrand of as buit wegvat. Hy sal Egipte skoonmaak soos ’n herder van insekte in sy klere ontslae raak. Daarna sal hy rustig daarvandaan weggaan.

13 Hy sal die pilare voor die tempel van die son in Egipte afbreek en die tempels van die Egiptiese gode afbrand.’”

JEREMIA 44

Straf vir die Jode in Egipte

1 Jeremia het ’n boodskap ontvang oor die Judeërs wat in Egipte gewoon het. Hulle was in Migdol, Tagpanges, Memfis en in die Patrosstreek.

2 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle het al die rampe gesien waarmee Ek Jerusalem en die dorpe van Juda getref het. Hulle lê nou verwoes; niemand woon meer daar nie.

3 Al die slegte dinge wat hulle gedoen het, het My baie kwaad gemaak. Hulle het ander gode aanbid en vir hulle wierook gebrand. En dit nog vir gode wat nie hulle of hulle voorouers ooit geken het nie!

4 “Hoeveel keer het Ek nie my diensknegte – die profete – gestuur om hulle te smeek en te sê: Moenie hierdie afskuwelike dinge doen wat Ek so haat nie.

5 Maar hulle wou nie luister of gehoor gee en ophou om verkeerd te doen nie. Hulle het net aangehou om wierook vir ander gode te brand.

6 Daarom het my woede oorgeborrel en gevlam teen die dorpe van Juda en die strate van Jerusalem. Nou is hierdie plekke net verlate bouvalle.

7 “En nou vra die Here, die Almagtige, die God van Israel, vir julle: Hoekom bring julle so ’n groot onheil oor julleself? Nie een van julle sal oorleef nie, nie enige man, vrou, kind of suigeling wat van Juda af kom nie. Niemand sal oorbly nie.

8 Hoekom maak julle My kwaad met afgode wat julle self gemaak het? En dan brand julle ook nog wierook vir ander gode, hier in Egipte waar julle kom woon het! In die proses vernietig julle julleself. Die volke van die wêreld sien julle as ’n vloek of spot met julle.

9 Het julle al klaar die kwaad vergeet wat julle voorouers gedoen het? Het julle vergeet van die slegte dinge wat die konings van Juda en hulle vroue gedoen het? En wat van die verkeerde goed wat julle en julle vroue in Juda en Jerusalem gedoen het?

10 Tot vandag toe het hulle nie gewys dat hulle daaroor spyt of bang is nie. Niemand steur hulle ook aan my voorskrifte en hoe Ek dinge gedoen wil hê nie. Ek het dit vir julle en julle voorouers gegee om te doen, maar hulle het nie.

11 “Daarom sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Ek het besluit om julle almal te vernietig! Ek gaan van die hele Juda ontslae raak.

12 Ek sal die groep mense wat in Juda oorgebly het, maar aandring om in Egipte te woon, uitwis. Hulle sal in Egipte sterf, deur oorloë of van hongersnood. Almal, klein en groot, sal sterf. Dit sal mense met afgryse vervul. Die volke van die wêreld sal julle as ’n vloek beskou en met julle spot.

13 Ek sal hulle in Egipte straf net soos Ek hulle in Jerusalem gestraf het, deur oorloë, hongersnood en siektes.

14 Sommige van die mense wat in Juda oorgebly het en in Egipte kom woon het, het gehoop om weer na Juda terug te keer en daar te leef. Niemand sal weer daar gaan woon nie, behalwe ’n paar wat sal ontsnap.”

15 ’n Groot groep van die Judeërs wat in Patros in Egipte gewoon het, was bymekaar. Die groep het bestaan uit mans wat geweet het dat hulle vroue wierook vir ander gode gebrand het, en die vroue wat daar rondgestaan het. Hulle almal het Jeremia geantwoord en gesê:

16 “Ons sal nie luister na die boodskap wat jy sê van die Here af kom nie!

17 Ons sal doen wat ons wil. Ons sal wierook brand vir die koningin van die hemel en drank uitgiet om haar te vereer. Ons het dit nog altyd gedoen en ook ons voorouers voor ons. Ons konings en ons leiers het dit ook gedoen. Ons almal het dit gedoen in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem. En toe het ons volop kos gehad, dit het eintlik sommer baie goed gegaan met ons! Ons het nie probleme gehad nie!

18 Maar vandat ons opgehou het om wierook vir die koningin van die hemel te brand en drank uit te gooi, het ons alles verloor. Ons het in oorloë en van honger doodgegaan.”

19 Die vroue het bygevoeg: “Dit is so, ons het wierook vir die koningin van die hemel gebrand en drank ter wille van haar uitgegooi as ’n offer. Ons het selfs koekies gebak wat haar vorm het. Maar dink jy ons het dit gedoen sonder die medewete en hulp van ons mans?”

20 Nadat hulle Jeremia geantwoord het, het hy aan al die mans en die vroue gesê:

21 “Dink julle die Here het nie geweet wat julle en julle voorouers in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem gedoen het nie? Natuurlik het Hy geweet dat julle en julle voorouers, julle konings en leiers en al die ander mense wierook vir die afgode gebrand het.

22 Die Here kon dit nie langer verduur dat julle hierdie slegte en ver-werplike dinge doen nie; daarom het Hy julle soos ’n vloekwoord gemaak. Dit is ook hoekom julle land vandag ’n bouval is. Dit is ’n verlate plek, sonder enige mense wat daarin woon.

23 Die Here bring hierdie onheil oor julle omdat julle wierook gebrand het. Julle het ook teen die Here gesondig deur aan Hom ongehoorsaam te wees. Hy het vir julle sekere reëls en riglyne gegee waarvolgens julle moes lewe, maar julle het julle nie daaraan gesteur nie.”

24 Jeremia het vir al die mense, die vroue ingesluit, gesê: “Luister na die boodskap van die Here, julle wat in Egipte woon.

25 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Julle en julle vroue het mos gesê dat julle nooit sal ophou om die godin van die hemel te vereer nie. Dit is duidelik uit alles wat julle sê en doen. Hou by julle beloftes aan haar en doen wat julle gesê het julle gaan doen!

26 “Ek sê weer, luister na die Here se boodskap vir al die Judeërs wat in Egipte woon. Hy sê: ‘Ek het ’n eed afgelê en Ek is so ernstig daaroor dat Ek my Naam en reputasie op die spel plaas. Die mense van Juda wat in Egipte woon, sal my Naam nooit weer gebruik nie. Julle mag nie my Naam gebruik as julle ’n eed neem om krag aan julle woorde te verleen nie. Julle mag nooit weer sê: So waar as die oppermagtige Here lewe nie!

27 Ek sal sorg dat dit met julle sleg gaan. Niks goeds gaan met julle gebeur nie; oorloë en hongersnood sal julle tref. Dit sal aanhou totdat niemand van julle meer in Egipte oor is nie.

28 Net ’n baie klein klompie sal die dood vryspring en uit Egipte na Juda terugkeer. Die groepie Judeërs wat na Egipte gevlug het, sal uitvind wie die waarheid gepraat het en wie nie.

29 “‘Die bewys daarvan sal wees dat alles wat Ek gedreig het om te doen, met julle sal gebeur. Ja, Ek sal julle hier in Egipte straf.

30 Ek gee farao Hofra, koning van Egipte, oor aan sy vyande wat hom wil doodmaak, nes Ek koning Sedekia van Juda oorgegee het aan koning Nebukadnesar van Babel, wat hom wou doodmaak.’ Dit is wat die Here sê!”

JEREMIA 45

’n Belofte aan Baruk

1 Jeremia het ’n boodskap vir Baruk seun van Nerija gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit was net nadat Baruk alles neergeskryf het wat Jeremia vir hom dikteer het. Hy het gesê:

2 “Baruk, die Here, die God van Israel, sê:

3 Jy het gesê: ‘Dit is klaarpraat met my! Ek kry alreeds so swaar en dan maak die Here my pyn net nog meer. Ek is al so moeg van my eie gesug, ek kan net nie rus vind nie.’

4 “Sê vir hom die Here sê: Ek is nou besig om hierdie volk af te breek wat Ek opgebou het. Wat Ek geplant het, gaan Ek ontwortel. So sal dit oor die hele land gebeur.

5 Het jy die ambisie om ver in die lewe te kom? Moet dit liewer nie hê nie! Ek bring onheil oor alle mense, sê die Here. Maar Ek sal jou lewe bewaar, waar jy ook al gaan.”

JEREMIA 46

Boodskappe vir die nasies

1 Die Here het vir die profeet Jeremia boodskappe oor die nasies gegee.

Boodskappe oor Egipte

2 Hy het die boodskap oor Egipte ontvang in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Dit gaan oor die Egiptiese koning, farao Neko, en sy leër. Koning Nebukadnesar van Babel het hom en sy leër by Karkemis langs die Eufraatrivier verslaan:

3 “Kry julle wapens gereed,

ruk op vir die geveg!

4 Saal die perde op,

bestyg hulle, ruiters!

Neem julle posisies in,

sit julle helms op.

Maak julle spiese blink,

trek julle wapenrusting aan!

5 Maar wat sien Ek?

Die Egiptiese leër is verskrik,

hulle het teruggedraai.

Hulle beste vegters is verslaan

en kies die hasepad

sonder om eers terug te kyk.

Hulle word van alle kante

bedreig,

sê die Here.

6 Selfs nie die vinnigstes

kan wegkom nie.

Die sterkste soldate

kan nie ontsnap nie.

Aan die noordekant,

by die walle

van die Eufraatrivier,

struikel hulle en val.

7 “Wie is dit wat sy walle

oorstroom

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende water?

8 Dit is die Egiptiese leër.

Hy spog dat hy sy walle oorstroom,

soos die water van die Nyl,

soos riviere bruisende waters.

Hulle sê:

‘Ons sal optrek

en die aarde bedek.

Ons sal stede en hulle inwoners

saam verwoes.’

9 Laat die perde optrek

en die strydwaens opruk!

Laat die vegters uittrek,

die mense uit Etiopië en Libië,

vaardig met skilde,

en die mense uit Lidia,

bedrewe met die boog.

10 Hierdie is

die Dag van

die oppermagtige Here,

die Almagtige.

Dit is ’n dag van vergelding,

om jou te wreek

op jou vyande.

Die swaard sal doodmaak

totdat dit genoeg het,

versadig is van julle bloed!

Dit is ’n offer vir

die oppermagtige Here,

die Almagtige,

in die noordelike gebied,

langs die Eufraatrivier.

11 “Egipte, jy is soos ’n jong meisie.

Gaan na Gilead en kry salf!

Dit is eintlik tevergeefs,

want daar is geen medisyne

wat jou kan genees nie.

12 Die nasies het gehoor

van jou skande.

Jou uitroepe vul die aarde.

Soldate val oor mekaar,

hulle slaan saam neer.”

13 Die Here het weer vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee. Dit gaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val.

14 “Kondig dit aan in Egipte!

Maak dit bekend in Migdol.

Maak dit bekend in Memfis

en Tagpanges!

Sê: Maak julle reg,

wees voorbereid,

want die geweld van oorlog

sal almal om julle tref.

15 Waarom het jou soldate gevlug?

Hulle kan nie staan

voor die Here wat hulle

weggedryf het nie.

16 Hulle struikel

en val oor mekaar en sê:

‘Kom ons gaan terug

na ons eie mense en

na waar ons gebore is.

Laat ons wegkom

van die swaard

van die vyand!’

17 Hulle sal sê:

‘Farao, die koning van Egipte,

het ’n groot mond

wat ’n kans deur sy vingers

laat glip het!’”

18 Die Koning wie se Naam

die Here, die Almagtige, is, sê:

“So waar as wat Ek lewe,

iemand sal kom

wat soos Tabor tussen die berge

of soos Karmel bo die see is.”

19 Pak julle goed vir ballingskap,

inwoners van Egipte!

Memfis sal vernietig lê,

’n bouval sonder inwoners.

20 “Egipte is soos ’n mooi jong

verskalf.

Maar ’n steekvlieg is op pad

uit die noorde.

21 Egipte se huursoldate

is soos vetgemaakte kalwers.

Hulle bied nie weerstand

teen die vyand nie,

hulle draai om en hardloop weg.

Die dag van straf

het aangebreek.

22 Egipte seil saggies weg

soos ’n slang wegseil,

want die vyand marsjeer

met mag en mening.

Hulle kom soos houtkappers

met byle teen haar.”

23 Die Here sê:

“Hulle sal haar bos afkap,

al lyk dit ondeurdringbaar.

Want hulle is meer as sprinkane,

ontelbaar!

24 Hulle sal die mense van Egipte

verneder

en oorlewer in die mag

van die mense uit die noorde.”

25 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Ek sal Amon, die god van Tebes straf, asook vir die farao en Egipte en al die ander gode. Ek gaan ook haar konings straf, ja, vir die farao en almal wat op hom vertrou.

26 Ek sal hulle oorgee in die mag van dié wat hulle baie graag wil doodmaak, in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en sy offisiere. As dit verby is, sal mense weer soos vantevore in Egipte kom woon.” Die Here sê dit sal gebeur!

27 “Maar my dienskneg Jakob,

moenie bang wees nie,

moenie mismoedig wees nie,

Israel.

Al is julle ver weg,

sal Ek julle red.

Ek sal jou nageslag

uit ballingskap

terugbring.

Israel sal terugkom

en rus en vrede hê.

Niemand sal hulle bangmaak nie.”

28 Die Here sê:

“Moenie bang wees nie,

my dienskneg Israel.

Ek sal altyd by julle wees.

Ek sal die nasies waarheen

Ek julle verdryf het,

heeltemal vernietig.

Maar vir julle

sal Ek nie vernietig nie!

Ek sal julle egter nie ongestraf laat nie.

Ek moet julle dissiplineer,

maar op regverdige wyse.”

JEREMIA 47

’n Boodskap oor die Filistyne

1 Die Here het ’n boodskap vir die profeet Jeremia oor die Filistyne gegee. Dit was nog voor die farao vir Gasa aangeval het.

2 Die Here sê:

“’n Vloed kom uit die noorde,

’n stroom wat alles oorspoel.

Dit oorspoel die land

en vul alles daarin,

dorpe en inwoners.

Die mense sal uitroep.

Al die inwoners van die land

sal weeklaag.

3 Hoor die geluid

van perdehoewe,

die gedreun van strydwaens

wat verbyjaag.

Vaders draai nie eers om

na hulle kinders nie

want hulle kan hulle nie red nie.

4 Die tyd het gekom

om al die Filistyne

uit te roei.

So ook Tirus en Sidon,

hulle bondgenote,

wat sou kon help.

Want die Here vernietig

die Filistyne,

hulle wat oorspronklik

van Kreta af kom.

5 Die mense van Gasa

gaan vernietig word.

Askelon is klaar verwoes.

Mense wat in die kusvlakte

oorgebly het,

hoe lank sal julle julleself

nog pynig?

6 “Swaard van die Here,

hoe lank nog voor jy weer

tot rus kom?

Gaan terug in jou skede!

Kom tot rus en raak stil!

7 Maar hoe kan dit stil wees

as die Here beveel het

om Askelon en die kusvlakte

aan te val?”

JEREMIA 48

Boodskap oor Moab

1 Hierdie boodskap gaan oor Moab. Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê:

“Ellende wag vir Nebo,

die stad sal verwoes word.

Die stad Kirjatajim sal verneder

en ingeneem word.

Hulle sal die vesting verneder

en afbreek.

2 Niemand sal meer

oor Moab spog nie.

In Gesbon beplan hulle

’n komplot teen Moab:

‘Kom ons beëindig

hulle voortbestaan as ’n nasie!’

Hulle sal die stad Madmen

stilmaak.

Geweld sal ook hierdie stad tref!

3 Uit Goronajim klink ’n kreet op:

‘Verwoesting!

Groot vernietiging!’

4 Moab se mag is gebreek!

Hoor hoe huil die kinders.

5 Hulle vlugtelinge gaan op na Lugit

terwyl hulle bitterlik huil;

op pad af na Goronajim

word smartkrete gehoor

oor al die verwoesting.

6 Vlug vir julle lewens!

Oorleef soos ’n wildedonkie

in die woestyn!

7 Jy stel jou vertroue

op jou prestasies

en jou rykdom.

Maar hulle sal jou gevange neem.

Jou god Kemos,

sy priesters en amptenare

sal almal saam

in ballingskap gaan.

8 Jou vyand sal al jou dorpe

verwoes.

Geen stad sal gespaar bly nie.

Hulle sal die valleie beskadig

en die vlaktes verwoes.

Ek, die Here, sê dit sal gebeur!

9 As Moab net vlerke gehad het

sodat sy kon wegvlieg!

Moab se dorpe

sal almal verwoes word,

sodat niemand meer daarin woon nie.

10 “’n Vloek rus op elkeen

wat weier

om die werk

van die Here te doen.

’n Vloek rus ook op elkeen

wat nie dié doodmaak

wat die Here

hulle beveel het

om dood te maak nie!

11 “Vanaf die vroegste tye

het Moab rustig geleef.

Hulle is nog nooit

deur ’n ander volk

in ballingskap weggevoer nie.

Moab is soos ou wyn

wat kon verouder,

wat nie van houer na houer

oorgegooi is nie.

Die smaak het nie verlore

gegaan nie.”

12 Maar die Here sê:

“Die tyd kom

dat Ek mense sal stuur

wat die kruike leegmaak.

As hulle dit leeggemaak het,

sal hulle die wynkruike

stukkend breek!

13 Dan sal Moab skaam wees

oor Kemos,

net soos Israel ook destyds

skaam was

oor die goue kalf by Bet-El

op wie hulle vertrou het.

14 “Hoe kan julle nog sê:

‘Ons is helde,

baasvegters in die oorlog?’”

15 Die Here, die Almagtige,

die Koning, sê:

“Die vernietiger

sal Moab

en sy dorpe verwoes.

Van hulle beste jongmense

sal in gevegte sterf.

16 ’n Groot ramp sal Moab

binnekort tref.

Die land se ondergang

kom vinnig nader.

17 Almal in Moab se omgewing,

begin huil

oor hierdie land.

Julle wat Moab se naam ken, sê:

‘Die septer van mag

en die staf van trots

is nou gebreek!’

18 “Julle wat in Dibon bly,

klim af van julle troontjies

en kom sit in die stof.

Die vyand wat Moab vernietig,

kom ook teen Dibon veg.

Hulle het julle vestings

klaar verwoes.

19 Inwoners van Aroër,

gaan staan langs die pad

en kyk wat gebeur.

Vra elke man en vrou

wat vlug,

wat probeer ontkom;

vra hulle:

‘Wat het gebeur?’

20 Moab is verneder,

hulle is gebroke.

Huil en kla!

Vertel dit by die Arnonrivier

dat hulle Moab verwoes het!

21 Die straf oor die dorpe op die

hoogland het aangebreek,

oor Golon, Jahas, Mefaät,

22 Dibon, Nebo, Bet-Diblatajim,

23 Kirjatajim, Bet-Gamul,

24 Bet-Meon, Kerijot en Bosra.

Hulle sal al Moab se dorpe straf,

dié wat naby en dié wat ver is.

25 Moab se mag is vernietig.

Sy mag is gebreek,” sê die Here.

26 “Maak Moab dronk,

want hulle is arrogant

teenoor My, die Here.

Laat Moab in hulle braaksel rol

sodat ander hulle sal spot.

27 Moab, het jy nie met Israel

die spot gedryf nie?

Het jy dan nie Israel verag

soos iemand

wat tussen diewe

betrap is nie?

28 Burgers van Moab,

vlug uit julle dorpe!

Gaan woon in rotsskeure

soos duiwe

wat hulle neste maak

in die grotte.

29 “Ons het gehoor

van Moab se trots en gespog.

Hulle was hoogmoedig, arrogant,

vermetel en hooghartig.

30 Ek weet van Moab

se verwaandheid,” sê die Here.

“Maar al hierdie grootpratery

loop op niks uit nie,

dit is vals.

31 Daarom huil Ek oor Moab.

Ek treur oor die mense

van Kir-Geres.

32 Ek treur meer oor jou

as oor Jaser,

wingerd van Sibma.

Jou wingerdranke het vroeër

tot by die Dooie See gestrek,

tot by Jaser.

Maar nou het die onderdrukkers

julle kaalgestroop.

Hulle het op julle somervrugte

en druiwe toegesak.

33 Blydskap en vreugde

het verdwyn

uit die boorde

en die landerye van Moab.

Ek het gesorg dat die wynpers

nie meer wyn voorsien nie.

Mense gesels ook nie meer

opgewek

terwyl hulle druiwe pars nie.

Daar is mense wat uitroep,

maar nie van blydskap nie.

34 Om die waarheid te sê,

die mense gil en skreeu van angs

omdat hulle bang is.

’n Mens kan die krete hoor

van Gesbon

tot aan die ander kant

by Elale en Jahas,

van Soar af

tot by Gonorajim

en Eglat-Selisija.

Selfs die waters van Nimrim

het nou opgedroog.”

35 Die Here sê: “Ek sal

’n einde maak aan Moab,

want hulle bring offers vir afgode

en brand wierook vir vals gode.

36 My hart kla van smart

soos ’n fluit vir Moab

en ook vir die mense van Kir-Geres.

Want al hulle rykdom het verdwyn.

37 Hulle skeer almal hulle koppe

en baarde omdat hulle rou.

Hulle maak snymerke

aan hulle hande

en dra klere van sak.

38 Oral in Moab is mense in rou.

Hulle doen dit op die dakke

van hulle huise

en op die pleine.

Hulle doen dit, sê die Here,

omdat Ek Moab

gebreek het soos ’n kleipot

wat niemand meer

gebruik nie.

39 Ag, hoe stukkend is hulle nie!

Hoor hoe huil hulle!

Moab is soos mense

wat die rug wegdraai

van ander

omdat hulle skaam is.

Moab se bure

dryf die spot met hulle.

Hulle skrik as hulle

al die verwoesting sien.”

40 Die Here sê:

“Kyk, ’n arend duik neer

en sprei sy vlerke oor Moab.

41 Hy sal die dorpe van Moab

inneem

en die vestings oorneem.

Daardie dag sal

Moab se krygsmanne so bang wees

soos ’n vrou

wat geboorte gee.

42 Moab sal as ’n volk

vernietig word

omdat hulle die Here

uitgetart het.”

43 Die Here sê:

“Moab, verskrikking, vanggate

en lokvalle wag op julle.

44 Mense wat in angs probeer

wegvlug,

sal in ’n vanggat val.

En dié wat uit die vanggat

ontsnap,

sal in ’n valstrik gevang word.

Ek sal sorg dat julle nie ontsnap nie,

want die tyd vir julle straf

het aangebreek,”

sê die Here.

45 “Die mense vlug so ver as Gesbon,

maar kom nie verder nie.

Want ’n vuur kom uit Gesbon,

die tuiste van koning Sihon.

Dit sal die hele land verteer,

ook al die opstandige mense.

46 Wee jou, Moab!

Die volk van Kemos is vernietig!

Al julle kinders

is gevang

en in ballingskap

weggevoer.

47 Maar eendag sal Ek weer

Moab se lot verander.

Ek, die Here, sê dit sal so wees!”

Hier eindig die oordeel oor Moab.

JEREMIA 49

’n Boodskap oor Ammon

1 Hierdie boodskap gaan oor die Ammoniete.

Die Here sê:

“Het Israel nie ’n nageslag

wat die grond van Gad

kan erf nie?

Hoekom het julle wat Milkom aanbid,

Gad ingeneem

en in sy dorpe kom bly?

2 Die tyd kom,” sê die Here,

“dat Ek jou sal straf daarvoor

en Rabba,

die Ammonietestad,

sal vernietig.

Net ’n hoop bourommel

sal oorbly.

Die dorpies rondom sal ook

afgebrand word.

Dan sal Israel

weer die land terugneem

wat julle van hulle afgevat het,”

sê die Here.

3 “Huil droewig, Gesbon,

want die stad Ai is verwoes.

Kla maar, inwoners van Rabba!

Trek julle rouklere aan,

huil en loop heen en weer

tussen die mure.

Want julle god Milkom

sal in ballingskap gaan,

saam met sy priesters

en sy amptenare.

4 Wat spog julle so

met julle vrugbare valleie,

julle ontroue mense?

Julle vertrou op julle rykdom.

Julle dink niemand

kan julle aanval nie!

5 Ek, die oppermagtige Here,

die Almagtige, sê:

Kyk, Ek bring verskrikking

oor julle.

Julle bure sal julle uitdryf,

en julle sal verstrooi word.

Niemand sal die vlugtelinge

weer bymekaarbring nie.

6 “Maar as alles eendag verby is,

sal Ek Ammon

se lot weer verander,”

sê die Here.

’n Boodskap oor Edom

7 Hierdie boodskap handel oor Edom. Die Here, die Almagtige, sê:

“Is daar nie meer mense

in Teman

wat verstandig is nie?

Wat het geword van mense

met gesonde verstand?

Is daar niemand oor

met goeie raad nie?

8 Draai om en vlug weg!

Julle wat in Dedan bly,

kruip weg in grotte!

Want Ek gaan Edom

met ’n ramp tref.

Die tyd van afrekening

het gekom.

9 Los die druiweplukker nie altyd

iets in die wingerd nie?

As diewe in die nag inbreek,

neem hulle ook nie alles saam nie.

10 Maar Ek sal Edom kaal stroop.

Niemand sal vir My kan wegkruip nie.

Ek sal hulle kinders,

familie en bure uitroei.

Edom sal ophou bestaan.

11 Los julle weeskinders vir My.

Ek sal sorg dat hulle bly lewe.

Julle weduwees kan ook op My

vertrou.”

12 Die Here sê: “As onskuldige mense swaar moes kry, hoeveel te meer verdien julle dit nie! Julle sal nie ongestraf bly nie, julle sal die beker moet drink!

13 Ek het gesweer – so waar as Ek leef! – dat Bosra ’n plek sal word waarvoor mense sal skrik. Die stad sal in ’n puinhoop verander. Mense sal die plek as ’n vloek beskou en met die stad spot. Al die dorpies in die omgewing sal vir altyd verwoes lê.”

14 Ek het ’n boodskap

van die Here gekry:

’n Gesant is na die nasies gestuur

om te sê:

“Span saam teen Edom!

Maak gereed vir ’n geveg!

15 “Ek maak julle niksseggend

onder die nasies,

verag deur mense.

16 Die vrees wat julle inboesem,

ook julle hoogmoed,

mislei julle.

Julle bly in rotsskeure

en beheer die hoogste dele

van die heuwel.

Maar al bly julle

op hoë pieke

soos arende,

sal Ek julle hard aarde toe bring.

Ek, die Here, sê dit!

17 “Edom sal ’n verskrikking

vir almal wees.

Almal wat daar verbygaan,

sal ontsteld wees

en na hulle asems snak

oor al die rampe

wat hulle getref het.

18 Die vernietiging van Edom

sal net so erg wees

as toe Sodom en Gomorra

en die dorpe in die omgewing

verwoes is.

Niemand sal meer daar bly nie,”

sê die Here.

19 “Soos ’n leeu

wat by die Jordaanrivier

uit die bosse kom

op soek na groen weivelde,

so sal Ek hulle

uit hulle eie land verjaag.

Ek sal ’n leier van my keuse

aanstel.

Wie kan met My vergelyk word?

Wie sal My uitdaag?

Watter leier kan My opponeer?

20 Luister na die Here se planne

vir Edom

en vir die mense van Teman:

Selfs die klein kindertjies

sal weggesleep word.

En hulle huise sal leeg staan.

21 Wanneer Edom tot ’n val kom,

sal die aarde skud.

Hulle geroep sal weerklink

tot so ver as die Rietsee.

22 Kyk! Die vyand kom vinnig

soos ’n arend

wat sy vlerke uitsprei

en hoog vlieg

en dan op sy prooi toesak.

So sal die vyand

met Bosra maak.

Daardie dag

sal die dapperste soldate

net so bang wees

soos ’n vrou

wat geboorte gee.”

’n Boodskap oor Damaskus

23 Oor Damaskus. Die Here sê:

“Hamat en Arpad is ontsteld,

hulle het slegte nuus gehoor.

Hulle is ontmoedig,

onrustig

soos ’n onstuimige see.

24 Damaskus is moedeloos.

Sy het omgedraai om te vlug,

paniek het oor hulle toegesak.

Angs het hulle beetgepak,

bekommernis en pyn

oorweldig hulle,

soos vir ’n vrou wat geboorte gee.

25 Die stad is beroemd,

bekend vir vrolikheid.

Hoe is dit moontlik

dat so ’n stad

nou verlate kan wees?

26 Die jong mans sal op die strate val

en doodgaan.

Al die soldate sal sterf,”

sê die Here, die Almagtige.

27 “Ek sal ’n vuur in Damaskus

aan die brand steek

wat al koning Ben-Hadad se paleise

sal afbrand.”

’n Boodskap oor Kedar en

Gasor

28 Die boodskap gaan oor Kedar en die koninkryke van Gasor. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval. Die Here sê:

“Maak reg en val Kedar aan!

Vernietig die mense

uit die ooste!

29 Hulle tente en vee

sal geplunder word

en hulle skuilings, besittings

en kamele weggedra word.

Mense sal uitroep:

‘Daar is oral gevaar!’

30 “Vlug vir julle lewens!

Gaan kruip weg in grotte,

inwoners van Gasor,”

sê die Here.

“Koning Nebukadnesar van Babel

smee ’n komplot teen julle.

Hy gaan ’n plan teen julle

in aksie stel.”

31 Die Here se opdrag is:

“Val die volk aan

wat so rustig is,

hulle wat so veilig woon.

Hulle woon afgesonderd,

sonder deure of hekke.

32 Al hulle kamele sal buit wees,

hulle groot getalle vee

is daar om te plunder.

Ek sal hierdie mense wat in

afgesonderde plekke woon,

in alle windrigtings verjaag.

Ek sal sorg dat rampe

hulle van alle kante af tref,”

sê die Here.

33 “Gasor sal ’n eensame

en verlate plek wees.

Niemand sal meer daar woon nie.

Dit sal ’n lêplek wees

vir jakkalse.”

’n Boodskap oor Elam

34 Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap oor Elam gegee. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.

35 Die Here, die Almagtige, sê:

“Ek sal die pyl en boog van Elam,

die setel van hulle mag,

aan stukke breek.

36 Ek sal vyande

uit alle rigtings

na Elam toe bring,

en Ek sal hulle verstrooi

in alle rigtings.

Daar sal geen nasie wees

waar Elam se ballinge

nie sal wees nie.

37 “Ek sal Elam bangmaak

vir hulle vyande,

vir dié wat hulle lewe soek.

Ek bring onheil oor hulle.

My gloeiende woede

sal onheil oor Elam bring,”

sê die Here.

“Ek sal oorloë oor hulle bring

totdat Ek hulle uitgeroei het.

38 Ek sal hulle konings en leiers

vernietig.

Dan sal Ek

die koning van Elam wees,”

sê die Here.

39 “Maar eendag, in die toekoms,

sal Ek weer die lot

van Elam verander,”

sê die Here.

JEREMIA 50

’n Boodskap oor Babel

1 Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap oor Babel en die land van die Babiloniërs gegee:

2 Die Here sê:

“Vertel vir die nasies,

maak dit oral bekend.

Hys ’n vlag

sodat almal dit kan sien.

Moet niks wegsteek nie!

Sê: Babel is ingeneem!

Bel is verneder, Marduk is verslae.

Hulle beelde kom in die skande,

hulle afgode is verwoes.

3 ’n Volk kom uit die noorde

en val die land aan.

Hulle verwoes die land van Babel,

sodat niemand meer daar

woon nie.

Al wat mens en dier is,

het weggevlug.”

Hoop vir Israel en Juda

4 Die Here sê:

“In dié tyd sal die mense

van Israel en Juda

weer bymekaarkom.

Hulle sal loop en huil

terwyl hulle na

die Here hulle God soek.

5 Hulle sal vra

hoe om by Jerusalem te kom

en dan begin om terug te gaan

huis toe.

Hulle sal hulleself

aan die Here verbind

met ’n ewige verbond

wat hulle nooit sal vergeet nie.

6 “My volk

is verdwaalde skape.

Hulle herders het hulle

in ’n verkeerde koers gelei

en agtergelaat

om in die berge

rond te dwaal.

Hulle dwaal rond

van heuwel tot heuwel,

sonder om te onthou

waar hulle rusplek is.

7 Almal met wie hulle

paaie gekruis het,

het hulle verslind.

Hulle vyande het gesê:

‘Ons is nie skuldig nie,

want dit is hulle

wat teen die Here sondig,

die Here,

hulle ware rusplek

en die hoop van hulle voorouers.’

8 “Vlug weg uit Babel!

Gee pad uit die land

van die Babiloniërs!

Wees julle die voorbokke

wat die koers aandui

vir die trop.

9 Want Ek sal uit ’n land

in die noorde

’n klomp nasies se gesamentlike mag

op die been bring.

Ek sal hulle teen Babel

laat optrek

en die stad

van die buitewêreld afsny.

Hulle sal die stad oorneem.

Hulle is soos vaardige

vegters

wat hulle wapens goed gebruik.

Hulle mis nie ’n teiken nie!

10 Die aanvallers

sal die Babiloniërs beroof

totdat hulle tevrede voel

dat hulle genoeg gevat het,”

sê die Here.

Babel se ondergang is seker

11 “Julle het my mense besteel,

hulle wat Ek vir My

uitgesoek het.

Julle is vrolik en bly daaroor.

Julle spring rond

soos ’n verskalf

wat koring uittrap,

en soos perde wat runnik.

12 Maar julle eie land sal

verneder word en

in die skande kom.

Sy sal die geringste onder

al die volke wees,

’n dorre en verlate woestyn.

13 Die Here sal sy woede

op Babel uithaal.

Dit sal ’n plek wees

sonder inwoners,

’n algehele woesteny.

Verbygangers sal geskok wees

en fluit van verbasing

oor Babel se toestand.

14 “Boogskutters,

omsingel Babel.

Maak julle reg om aan te val!

Moet nie julle pyle spaar nie!

Want die mense van Babel

het teen die Here gesondig.

15 Skreeu op hulle

van alle kante.

Babel het oorgegee!

Die mure van die stad

het omgeval.

Die Here wreek Hom op Babel.

Doen aan hulle

soos hulle aan ander mense

gedoen het.

16 Neem die boere weg

uit Babel,

ook hulle wat die lande afoes.

As die gevegte aan die gang is,

moet mense

na hulle eie volke terugkeer.

Elkeen moet

na hulle land vlug.”

Hoop vir die Here se volk

17 “Die mense van Israel

is soos skape

wat deur leeus

uitmekaargejaag word.

Eers het die koning van Assirië

hulle opgevreet,

en nou het koning Nebukadnesar

van Babel

hulle bene skoongevreet.”

18 Die Here, die Almagtige, die God

van Israel, sê:

“Ek gaan die koning van Babel

en sy land nou straf

net soos Ek

die koning van Assirië gestraf het.

19 Ek sal die mense van Israel

na hulle eie weivelde

terugbring.

Hulle sal weer wei

op die velde van Karmel

en Basan.

Die heuwelgebiede

van Efraim en Gilead

sal vir hulle genoeg gee

om van te lewe.

20 In daardie tyd,”

sê die Here,

“sal mense verniet soek

na Israel en Juda

se oortredings;

hulle sal niks vind nie.

Die mense

wie se lewens Ek gespaar het,

sal Ek vergewe.”

Straf vir Babel

21 Die Here sê:

“Trek op teen die land

Meratajim

en teen die inwoners van Pekod.

Agtervolg hulle,

maak hulle dood

en wis hulle heeltemal uit.

Doen alles wat Ek julle

beveel het.

22 Oorlogskrete klink op

in die land,

die geraas

van groot verwoesting!

23 Hoe sal die nasies skrik

as hulle Babel se toestand sien!

Die hamer wat mense

verpletter het,

lê stukkend geslaan en gebreek!

24 Ek het vir jou ’n strik gestel,

Babel.

Jy het daarin getrap

sonder dat jy eers geweet het.

Jy is gevang

omdat jy teen My,

die Here,

in opstand was.

25 Die Here het die stoorplek

van sy wapens oopgemaak.

Hy het die wapens van sy woede

uitgehaal.

Die oppermagtige Here,

die Almagtige,

het werk wat Hy in die land

van die Babiloniërs wil doen.

26 Val hulle van veraf lande aan.

Breek die skure oop.

Stapel hulle op

soos ’n hoop graan.

Vernietig hulle heeltemal.

Laat niks oorbly nie!

27 Vat die bulle

na die slagplek toe,

maak hulle almal dood.

’n Slegte tyd breek aan,

’n tyd van straf.

28 Luister na die mense

wat uit Babel ontsnap het.

Hulle vertel in Jerusalem

hoe die Here ons God

wraak geneem het

op die mense

wat sy tempel vernietig het.

29 “Roep jou boogskutters op

teen Babel.

Laat hulle die stad omsingel

sodat niemand

kan ontsnap nie.

Doen aan die Babiloniërs

wat hulle aan ander mense

en lande gedoen het.

Hulle het die Here,

die Heilige van Israel,

se gesag uitgedaag.

30 Die jongmense sal neerval

op die pleine en sterf,

al die Babiloniese soldate

sal daardie dag sterf,”

sê die Here.

31 Die oppermagtige Here,

die Almagtige, sê:

“Julle is arrogant.

Daarom word Ek nou julle vyand.

Die tyd het gekom

dat Ek julle gaan straf.

32 Verwaande land,

julle sal struikel en val.

En niemand sal julle help

om weer op te staan nie.

Ek sal julle dorpe

aan die brand steek.

Alles wat naby hierdie vuur is,

sal afbrand.”

33 Die Here, die Almagtige, sê:

“Die mense van Israel en Juda

is onderdruk.

Die vyand wat hulle gevang het,

weier om hulle vry te laat.

34 Maar daar ís Iemand

wat hulle loskoop om vry te kom.

Dit is die Here, die Almagtige.

Hy sal vir hulle intree

en rus bring in die land,

maar onrus

vir die inwoners van Babel.

35 “Trek die swaard uit teen

die Babiloniërs.

Tref die inwoners van Babel,

die leiers en wyses daarmee,”

sê die Here.

36 “Die swaard

tref die waarsêers

sodat hulle verdwaas staan.

En die swaard tref sy soldate

sodat hulle vreesbevange is.

37 As die geweld

die perde, die strydwaens

en huursoldate tref,

sal hulle so swak soos vroue word.

As geweld die skatkis tref,

sal hulle geplunder word.

38 Dit tref ook hulle watervoorrade

wat sal opdroog.

Hoekom?

Want die hele land is vol afgode,

en die mense is dol oor hulle.

39 Wilde woestyndiere, hiënas

en volstruise

sal Babel hulle blyplek maak.

Mense sal nooit weer

daar bly nie,

ook nie toekomstige geslagte nie.

40 Ek sal Babel verwoes

soos Ek Sodom en Gomorra

en die naburige dorpe

destyds vernietig het.

Niemand sal meer daar bly nie,”

sê die Here.

41 “Kyk, ’n groot leër uit die noorde

is op pad!

’n Groot nasie en baie konings

uit veraf dele van die aarde

trek teen julle op.

42 Hulle is met boog en spies

gewapen.

Hulle is baie wreed

en toon geen genade nie.

Hulle ry op perde

en klink soos die see

wat dreun.

Hulle marsjeer in formasie,

reg om julle aan te val,

mense van Babel!

43 Berigte oor hulle het

die koning van Babel bereik.

Dit het hom

lam van vrees gemaak.

Angs en pyn het hom beetgepak,

soos ’n vrou in kraam.

44 Ek sal soos ’n leeu

uit die digte bosse

by die Jordaan kom

en skape bespring

wat besig is om te wei.

Ek sal die mense van Babel

uit hulle land jaag.

Daarna sal Ek ’n leier kies

wat Ek daar sal aanstel.

Wie kan met My vergelyk word?

Wie kan My uitdaag?

Watter koning sal waag

om teen My

in opstand te kom?”

45 Luister na die Here se plan

met Babel

en die land van die Babiloniërs.

Selfs klein kindertjies

sal uit hulle land weggevat word.

Hulle huise sal leeg staan.

46 Die geluid van Babel se val

sal die aarde laat bewe.

Al die volke van die wêreld

sal hulle wanhoopskrete hoor.