JEREMIA 31

Hoop op herstel

1 Die Here sê:

“Daardie tyd sal Ek

al die families

van Israel se God wees

en hulle sal my volk wees.”

2 Hy sê verder:

“Die oorlewendes

sal in die woestyn genade vind.

Daar sal Hy vir Israel rus gee.”

3 Lank gelede reeds

het die Here

dit aan ons bekendgemaak:

“Ek het jou lief met ’n liefde

wat nooit ophou nie.

Ek trek jou

met troue liefde

na My toe.

4 Ek sal jou weer herbou

soos jy vroeër was,

jong vrou Israel!

Jy sal weer jou tamboeryne

te voorskyn haal.

Jy sal dans en vrolik wees.

5 Jy sal weer wingerde plant

teen die berghange

van Samaria.

Die werkers sal die vrugte geniet

wat hulle self geplant het.

6 Daar sal ook ’n dag kom

waarop die wagte

in die heuwels van Efraim

sal uitroep:

‘Kom ons gaan na Jerusalem,

na die Here ons God!’”

7 Die Here sê:

“Sing van blydskap oor Israel!

Roep uit vir die vernaamste

van al die volke!

Laat hulle julle lofprysing hoor

en sê:

‘Here, red u volk,

die oorblyfsel van Israel.’

8 Kyk, Ek sal hulle uit die noorde

terugbring.

Ek sal hulle uit die uithoeke van

die aarde bymekaarmaak.

Onder hulle sal blindes

en kreupeles wees,

ook verwagtende moeders

en vroue op die punt

om geboorte te gee.

’n Groot getal mense

sal hierheen terugkeer!

9 Hulle sal al huilend terugkom,

hulle sal bid

terwyl Ek hulle teruglei.

Ek sal hulle langs strome lei.

Hulle sal op ’n reguit pad loop

sodat hulle nie kan struikel nie.

Ek is Israel se pa.

Efraim is my oudste kind.

10 “Nasies,

luister na die woord

van die Here,

vertel dit in veraf kuslande.

Die Here het Israel

uitmekaar laat spat,

Hy sal hulle weer byeenbring.

Soos ’n herder sy skape oppas,

so sal Hy hulle versorg.

11 Die Here het Israel vrygemaak,

hulle losgekoop

uit die mag van ’n vyand

sterker as hulle.

12 Hulle sal terugkom en vrolik sing

op die hoogtes van Jerusalem.

Hulle sal straal van blydskap

oor die goedheid van die Here.

Hy gee graan,

nuwe wyn, olie,

lammers en beeste.

Hulle lewens sal wees

soos ’n tuin met volop water.

Hulle sal nie meer rede hê

om hartseer te wees nie.

13 Dan sal die meisies

van blydskap dans.

Die mans, oud en jonk,

sal deel in die vrolikheid.

Ek sal hulle gehuil in

blydskap verander.

Ek sal hulle troos.

Ek sal hulle vreugde gee

in die plek van hartseer.

14 Ek sal aan die priesters

oorvloed gee om te offer.

My volk sal tevrede voel

oor die goeie dinge

wat Ek vir hulle gee,”

sê die Here.

’n Gehuil verander in vreugde

15 Die Here sê verder:

“Hoor die geluid

van hartseer

en droewige gehuil uit Rama.

Dit is Ragel wat huil

oor haar kinders.

Sy laat niemand toe

om haar te troos nie,

want haar kinders is dood.”

16 Maar die Here sê:

“Hou op huil en

droog af jou trane.

Ek sal jou beloon vir jou moeite,”

sê die Here.

“Jou kinders sal terugkom

uit die land van die vyand.

17 Daar is hoop vir die toekoms,”

sê die Here.

“Jou kinders sal terugkom

na hulle land toe.

18 “Ek het Israel hoor kla:

‘U het ons swaar gestraf,

maar ons het dit verdien.

Ons was soos wilde kalwers

wat nog moes leer.

Bring ons terug en herstel ons,

want U is die Here ons God.

19 Ons het afgedwaal,

maar ons is spyt daaroor.

Ons kon onsself skop

dat ons so dom was.

Nou is ons skaam en verleë

oor wat ons in ons jong dae

gedoen het.’”

20 Die Here sê:

“Is Israel dan nie meer

my dierbare seun nie?

Is hy nie my lieflingkind nie?

Selfs al moes Ek hom straf,

is hy nie uit my gedagtes nie.

Omdat Ek oor hom besorg is,

sal Ek My oor hom ontferm.

21 “Plant vir jou rigtingwysers.

Stel vir jou bakens vas.

Neem kennis van die pad

waarlangs jy gegaan het.

Kom terug, jong vrou Israel!

Kom terug na jou eie dorpe.

22 Hoe lank sal jy nog hink

op twee gedagtes,

ontroue dogter?

Die Here gaan iets nuuts

op aarde laat gebeur:

’n Vrou sal ’n man beskerm.”

23 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “As Ek hulle terugbring uit hulle ballingskap, sal die mense in Juda en in hulle dorpe weer sê: ‘Die Here seën jou, tuiste van geregtigheid, heilige berg!’

24 Al die mense in die dorpe en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25 Want Ek sal nuwe krag gee aan dié wat moeg is en die swakkes versterk.”

26 Toe het ek wakker geskrik en rondom my begin kyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27 Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek die mense van Israel en Juda sal vermeerder. Ek sal ook die getalle van die diere vermeerder.

28 In die verlede het Ek hulle ontwortel en hulle afgebreek. Ek het hulle skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge op hulle pad gebring. Maar in die toekoms sal Ek hulle weer opbou en hulle plant,” sê die Here.

29 “In daardie tyd sal mense nie langer sê nie:

“‘Die ouers het suur druiwe geëet

sodat die kinders se tande

stomp geword het.’

30 “Mense sal weens hulle eie sonde doodgaan. Elkeen wat die suur druiwe eet, se tande sal stomp raak.”

31 Die Here sê: “Die tyd kom dat Ek weer ’n nuwe verbond met Israel en Juda sal sluit.

32 Hierdie verbond sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gesluit het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte uitgelei. Hulle het my verbond verbreek, al het Ek hulle liefgehad soos ’n man sy vrou liefhet,” sê die Here.

33 “Maar so sal die nuwe verbond wees wat Ek na hierdie tyd met Israel sal sluit,” sê die Here. “Ek sal my wette in hulle gedagtes plant en op hulle harte skryf. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

34 Dit sal nie vir hulle nodig wees om vir hulle bure of familie te sê: ‘Ken die Here, leef soos die Here van julle verwag,’ nie. Almal, van die geringste tot die belangrikste, sal My reeds ken,” sê die Here. “Ek sal al hulle oortredings en hulle sondes vergewe. Ek sal nooit eers weer daaraan dink nie.”

35 Dit is wat die Here sê,

Hy wat die son gemaak het

om in die dag te skyn,

en die maan en die sterre

om in die nag lig te maak.

Dit is Hy

wat die see onstuimig laat word

om golwe te maak.

Sy Naam is die Here,

die Almagtige, en Hy sê:

36 “So min as wat Ek hierdie

natuurwette sal verwyder,

net so min sal die nageslag

van Israel ooit ophou

om my volk te wees!”

37 Die Here sê:

“Net soos die hemele

nie gemeet kan word,

of die fondasie van die aarde

ondersoek kan word nie,

net so min sal Ek daaraan dink

om die nageslag van Israel vir altyd

weg te gooi vir die verkeerde

dinge wat hulle gedoen het.”

Dit is wat die Here sê!

38 Die Here sê: “Die tyd kom wanneer hulle weer die stad vir My sal herbou van die Gananeltoring af tot by die Hoekpoort.

39 ’n Maatlyn sal loop vanaf hierdie ingang tot by die Garebheuwel en van daar sal dit wegswaai na Goa toe.

40 Hulle sal ’n groot gebied vir die Here afsonder. Dit sluit in die begraafplaas en die ashoop in die vallei asook die terrasse tot so ver as die Kidronspruit. In ’n oostelike rigting sal dit wees tot by die ingang bekend as die Perdepoort. Die stad sal nooit weer ingeneem of verwoes word nie.”

JEREMIA 32

Jeremia koop grond

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die tiende jaar van Sedekia se bewind in Juda. Nebukadnesar was agtien jaar koning in Babilonië

2 toe sy leër Jerusalem omsingel het. Jeremia was ’n gevangene in die binnehof van die wagte in die paleis van die koning van Juda.

3 Koning Sedekia van Juda het hom hier gevange gehou omdat hy bly sê het: “Die Here sê: Ek gaan hierdie stad in die mag van die koning van Babel oorgee, en hy sal die stad inneem.

4 Sedekia sal nie ontsnap nie. Die Babiloniërs sal hom vang en hom in die mag van die koning van Babel oorgee. Hulle sal van aangesig tot aangesig ontmoet en hy sal persoonlik met Sedekia praat.

5 Hy sal Sedekia na Babel toe neem en daar sal hy bly totdat Ek besluit om aan hom aandag te gee, sê die Here. Dit sal nie help om teen die Babiloniërs te veg nie, want julle sal nie wen nie.”

6 Jeremia het gesê: “Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

7 ‘Jou oom Sallum se seun Ganamel sal na jou toe kom en sê: Koop my stuk grond by Anatot. Jy het volgens die lossingsreg die eerste keuse om dit te koop.’”

8 En soos die Here gesê het sal gebeur, het Ganamel na my toe gekom waar ek opgesluit was in die binnehof van die paleis. Hy het vir my gesê: “Koop my grond by Anatot, in die grondgebied van Benjamin. Volgens reg het jy die eerste opsie om dit te koop as jou besitting. Koop dit vir jouself.” Toe het ek geweet dat dit die Here was wat met my gepraat het.

9 Ek het die stuk grond by Anatot by my neef Ganamel gekoop. Ek het hom 200 gram silwer daarvoor betaal.

10 Daarna het ek die koopkontrak geteken en dit voor getuies verseël. Ek het daarna die silwer op die skaal afgeweeg.

11 Die koopkontrak het al die voorwaardes en ooreenkomste tussen Jeremia en Ganamel bevat. Ek het die koopkontrak wat verseël was en ook ’n afskrif wat vir almal se insae bedoel was, geneem

12 en vir Baruk die seun van Nerija, kleinseun van Magseja gegee. Ek het dit alles voor my neef Ganamel en die getuies wat die koopkontrak geteken het, gedoen. Dit is gedoen voor al die Jode wat in die binnehof van die wagte gesit het.

13 Ek het toe voor almal vir Baruk gesê:

14 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel sê: ‘Neem sowel die verseëlde as die oop koopkontrak en sit dit in ’n kleipot sodat dit vir ’n lang tyd behoue kan bly.

15 Want, sê die Here, die Almagtige, die God van Israel, eendag sal mense weer huise, grond en wingerde in hierdie land koop.’”

Jeremia se gebed

16 Nadat ek die koopkontrak vir Baruk seun van Nerija gegee het, het ek gebid en gesê:

17 “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!

18 Duisende mense het al u liefde en goedheid geniet. Maar U laat die kinders betaal vir die sondes wat hulle ouers gedoen het. U is die groot en magtige God, die Here, die Almagtige!

19 U het groot wysheid en doen groot dade. Daar is net mooi niks wat mense doen wat U nie raaksien nie. U vergoed mense volgens wat hulle gedoen het en die gevolge wat dit oplewer.

20 U het destyds in Egipte wonders en tekens gedoen. U doen dit vandag nog in Israel en onder alle mense. Selfs vandag nog is U steeds daarvoor bekend.

21 U het Israel uit Egipte gebring met tekens en wonders. Dit het gewys hoe groot u mag is en hoe sterk U is. Dit het groot vrees ingeboesem.

22 U het hierdie land wat U baie jare gelede aan hulle voorouers belowe het, aan die mense van Israel gegee. Dit is ’n vrugbare land waar melk en heuning vloei.

23 Ons voorouers het hierdie land binnegetrek en dit hulle blyplek gemaak. Maar hulle het geweier om aan U gehoorsaam te wees. Hulle wou nie volgens u voorskrifte lewe en doen wat U hulle beveel het om te doen nie! Dit is die rede hoekom U hierdie onheil oor hulle gebring het.

24 “Die Babiloniërs veg nou teen die mense in Jerusalem. Hulle het walle gebou om oor die mure van die stad te kom en die stad in te neem. As gevolg van die gevegte, hongersnood en die siektes het die Babiloniërs mag oor die stad verkry. U sien nou dat alles gebeur net soos U gesê het dit sou.

25 En tog het U, die oppermagtige Here, vir my gesê om die stuk grond te koop. Ek moes selfs voor getuies ’n groot klomp geld daarvoor betaal. En dit gebeur alles terwyl die Babiloniërs op die punt staan om die stad in te neem!”

Juda se toekoms

26 Die Here het toe weer ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

27 “Ek is die Here, die God van al die mense. Is daar iets te moeilik vir My om te doen?”

28 Daarom sê die Here: “Ek sal hierdie stad aan die Babiloniërs oorgee. Nebukadnesar, die koning van Babel, sal die stad inneem.

29 Die Babiloniërs wat nou die stad aanval, sal in die stad inkom en dit aan die brand steek. Die vyand sal ook die huise afbrand van mense wat bo-op die dakke wierook vir Baäl gebrand en drankoffers vir ander gode uitgegiet het. Dit het My baie kwaad gemaak.

30 “Van hulle jeug af het Israel en Juda niks anders as verkeerd gedoen nie. Hulle het My getart met dit wat hulle doen,” sê die Here.

31 “Vandat hierdie stad gebou is tot vandag toe, het die inwoners van die stad net my toorn opgewek. Daarom is Ek vasbeslote dat dit voor my oë moet verdwyn.

32 Die mense van Israel en Juda het My kwaad gemaak met al die slegte dinge wat hulle gedoen het. Almal van hulle, die konings, die amptenare, die priesters, die profete, die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem, maak My woedend.

33 My mense het hulle rug op My gedraai en My nie geëer nie. Dag na dag, jaarin en jaaruit het Ek hulle geleer om tussen reg en verkeerd te onderskei. Maar hulle wou nie luister en gehoorsaam word nie.

34 Hulle was so vermetel om hulle afskuwelike afgodsbeelde in my tempel te sit. So het hulle die tempel onrein gemaak.

35 Hulle het in die Ben-Hinnomdal hoogtes vir Baäl gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters geoffer om Molek se guns te wen. Dit is nie iets wat Ek vir hulle gesê het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om hulle so ’n afskuwelike ding te laat doen nie. So het hulle veroorsaak dat Juda sondig!”

’n Belofte op herstel

36 Die Here, die God van Israel, sê: “Ek wil nog iets oor hierdie stad sê. Julle sê nou wel: ‘Hierdie stad sal onder beheer van die koning van Babel kom deur oorloë, hongersnood en siektes.’

37 Maar hoor gerus hier: Ek sal hulle weer bymekaarmaak van oral oor die aarde waarheen Ek hulle verjaag het oor Ek woedend kwaad vir hulle was. Dan sal Ek hulle na hierdie plek toe terugbring en hulle veilig laat woon.

38 Hulle sal weer my volk wees en Ek sal hulle God wees.

39 Ek sal hulle harte op My rig, met een doel voor oë: om My vir altyd te dien. Dit sal vir hulle en hulle kinders die beste wees om te doen.

40 “Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit waarin Ek belowe om nie op te hou om goeie dinge vir hulle te doen nie. Verder sal Ek ’n begeerte by hulle wakker maak om My in eerbied te dien. Dan sal hulle nie weer van My af wegdwaal nie.

41 Dit sal vir My baie aangenaam wees om goeie dinge vir hulle te doen. Ek sal getrou wees en hulle in hierdie land vestig. Ek sal dit heelhartig doen.

42 Nes Ek veroorsaak het dat groot rampe hierdie volk van My tref, sal Ek sorg dat hulle weer voorspoedig sal wees soos Ek belowe het. Dit is wat die Here sê Hy gaan doen!

43 “Dit is soos julle sê: ‘Die land is nou verlate omdat dit in die mag van die Babiloniërs beland het. Dit is ’n land waar al die mense en diere verdwyn het.’ Maar hulle sal weer grond in hierdie land koop en verkoop.

44 Hulle sal die grond vir geld verkoop. Hulle sal koopkontrakte opstel, teken en voor getuies verseël. Dit sal in die grondgebied van Benjamin en ook hier in Jerusalem gebeur. Verder ook in die dorpe in Juda, in die heuwellande, in die dorpe teen die westelike hange en die dorpe van die Suidland. Ek sal sorg dat hulle omstandighede verander. Ek, die Here, sê dit!”

JEREMIA 33

Beloftes van vrede en voorspoed

1 Terwyl Jeremia nog in die binnehof van die wagte opgesluit was, het die Here weer vir hom ’n boodskap gegee:

2 “Die Here het die aarde gemaak en gevestig. Hy is bekend as die Here. Dit is sy boodskap:

3 Vra My, en Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel oor wat hier gaan gebeur, waarvan jy niks weet nie.

4 “Dit is wat die Here, die God van Israel, sê: Dit was seker so dat julle boumateriaal nodig gehad het om die mure van die stad te versterk teen die stormwapens van die vyand. Daarom het julle van die huise in die stad en selfs dele van die koning se paleis afgebreek. Maar dit sal nie help nie.

5 Die Babiloniërs sal steeds die stad binneval. Baie mense in die stad sal doodgaan omdat Ek hulle in my woede sal tref. Die mense van die stad het soveel wandade gedoen dat Ek niks met hulle te doen wil hê nie.

6 “Maar neem kennis, die tyd sal aanbreek dat Ek die stad weer sal herstel en gesond maak. Ek sal haar voorspoedig en standvastig maak.

7 Ek sal die omstandighede van Israel en Juda verander en hulle sal die land weer opbou.

8 Ek sal hulle rein maak van die sonde wat hulle teen My gedoen het. Hulle het verkeerd gedoen en was opstandig teen My, maar Ek sal hulle daarvoor vergewe.

9 Die stad sal vir My baie blydskap, roem en eer voor al die nasies van die wêreld bring. Hierdie nasies sal van vrees bewe as hulle al die goeie dinge sien wat Ek vir my mense doen.”

10 Die Here sê: “Julle sê: ‘Hierdie plek is verwoes. Al die mense en die diere het verdwyn.’ Maar mense sal weer bly wees en vrolik lag in die leë strate van Jerusalem en in die dorpe van Juda waar nou geen mens woon of diere is nie.

11 Die vrolike stemme van bruidegomme en bruide sal weer opklink. Mense sal ook weer opgewekte liedere sing om hulle dankbaarheid teenoor die Here te bewys. Hulle sal by die tempel sing:

“‘Bring lof aan die Here,

die Almagtige,

want die Here is goed.

Sy liefde en trou

hou nooit op nie!’

“Ek sal die omstandighede in die land verander sodat dit weer soos vroeër sal wees,” sê die Here.

12 Die Here, die Almagtige, sê: “Hierdie land is nou leeg. Al die mense en die diere is weg uit al die dorpe. Maar daar sal weer herders wees wat hulle skape sal laat wei.

13 Daar sal weer groot skaaptroppe wees in die dorpe van die heuwelgebied, die Laeveld en die Negev in die suide, in die grondgebied van Benjamin, in die omgewing van Jerusalem en al die dorpe van Juda. Ek, die Here, sê dit sal gebeur!”

14 Die Here sê ook: “Die tyd breek aan dat Ek al die beloftes sal vervul wat Ek aan Israel en Juda gemaak het.

15 “Dan sal Ek ook

’n wettige erfgenaam van Dawid

koning maak.

Hy sal doen wat reg is

en sorg dat regverdigheid

in die land heers.

16 In dié tyd sal Hy Juda red

en Jerusalem ’n veilige plek maak

sodat mense daarin kan woon.

En die mense sal die stad noem:

‘Die Here doen reg aan ons!’”

17 Die Here sê: “Daar sal altyd iemand op die troon van die huis van Israel sit as koning oor Israel.

18 Daar sal ook altyd Levitiese priesters wees wat brandoffers, graanoffers en ander offers vir My sal bring.”

19 Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

20 “As julle die verbond wat Ek met die dag en die nag gesluit het, kan verbreek sodat dit nie meer aanbreek nie,

21 dan en dan alleen sal Ek my verbond met my dienaar Dawid verbreek sodat daar nie meer ’n opvolger as koning op sy troon sal wees nie. Dieselfde geld my verbond met die Levitiese priesters wat in my diens staan.

22 Soos die sterre en die sand op die strande nie getel kan word nie, so sal Ek die nageslag van my dienskneg Dawid en die Leviete in my diens vermeerder.”

23 Die Here het nog ’n boodskap vir Jeremia gegee. Hy het gesê:

24 “Het julle gehoor wat die mense sê? ‘Die Here het Juda en Israel gekies, maar nou verwerp Hy hulle weer! Omdat Hy dit gedoen het, kyk ander nasies met minagting neer op my volk. Hulle ag hulle nie langer as ’n nasie nie.’”

25 Maar die Here antwoord so: “Soos Ek nie die natuurwette van die nag en die dag of die aarde en die hemel sal verander nie, net so min sal Ek my mense verwerp.

26 Ek sal nie die nageslag van Jakob en my dienaar Dawid vergeet nie. Ek sal nie van plan verander dat iemand uit Dawid se nageslag oor die nageslag van Abraham, Isak en Jakob regeer nie. Ek sal hulle omstandighede verander en My oor hulle ontferm.”

JEREMIA 34

’n Waarskuwing vir Sedekia

1 In ’n stadium was koning Nebukadnesar van Babel met sy leër besig om teen Jerusalem en die dorpe van Juda te veg. Saam met sy leër het ook die leërs van ander nasies geveg wat onder sy gesag was. Gedurende hierdie tyd het die Here vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na koning Sedekia van Juda en sê vir hom: ‘Die Here, die God van Israel sê: Ek gaan die stad aan die koning van Babel oorgee. Hy sal dit afbrand.

3 Jy sal nie wegkom nie, hulle sal jou vang en in die mag van Nebukadnesar oorlewer. Jy sal persoonlik voor die koning van Babel verskyn en met hom praat voordat jy na Babel toe sal gaan.’

4 “Maar luister na die belofte wat die Here maak, Sedekia, koning van Juda. Hy sê: ‘Jy sal nie in die oorlog sterf nie.

5 Nee, jy sal in vrede sterf. Jou mense sal wierook brand by jou begrafnis, net soos hulle met konings voor jou gedoen het. Hulle sal oor jou huil en sê: Ag, ons koning is dood! Die Here sê Hy sal sorg dat dit gebeur.’”

6 Die profeet Jeremia het hierdie boodskap in Jerusalem aan koning Sedekia van Juda oorgedra.

7 In dié stadium was die Babiloniese leërs besig om Jerusalem, Lakis en Aseka te beleër, die enigste stede in Juda waarvan die mure nog staande gebly het. Hierdie was die enigste versterkte dorpe van Juda wat nog nie ingeneem was nie.

Vryheid vir slawe

8 Jeremia het nog ’n boodskap by die Here gekry. Dit was nadat koning Sedekia ’n verbond met al die mense in Jerusalem gesluit het om vryheid vir hulle slawe aan te kondig.

9 Hy het hulle beveel om al hulle Hebreeuse slawe, mans en vroue, vry te laat. Geen Judeër is toegelaat om ’n ander Judeër as slaaf aan te hou nie.

10 Die amptenare en al die mense van Juda het aanvanklik gedoen wat die koning beveel het. Almal wat die verbond aangegaan het om hulle manlike en vroulike slawe vry te laat, was gehoorsaam en het hulle vrygelaat.

11 Maar later het hulle weer anders besluit. Hulle het die mans en die vroue wat hulle vrygelaat het, teruggeneem en weer hulle slawe gemaak.

12 Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

13 “Ek, die Here, die God van Israel, sê die volgende: Lank gelede het Ek julle voorouers as slawe in Egipte vrygemaak. Ek het toe met hulle ’n verbond gesluit.

14 Aan die einde van sewe jaar moes hulle elke mede-Hebreër wat aan hulle verkoop was, vrylaat. Ná sulke mense ses jaar diens gedoen het, moes hulle vrygelaat word. Maar julle voorouers was ongehoorsaam en het dit nie gedoen nie.

15 Toe julle onlangs besef dat dit verkeerd was, het julle reg gedoen en My gehoorsaam. Julle het julle eie mense vrygelaat en in my tempel ’n verbond met My gesluit.

16 Maar nou het julle julle woord verbreek. Julle het My beledig deur die mans en die vroue wat julle vry laat gaan het, weer julle slawe te maak!”

17 Die Here sê: “Julle het My nie gehoorsaam nie. Julle wou nie julle eie mense vry laat gaan nie. Daarom sal Ek julle nou vrylaat – om slagoffers te wees van oorlog, epidemies en hongersnood. As die nasies van die wêreld julle toestand sien, sal dit hulle met afgryse vervul.

18 As twee partye ’n verbond sluit, sny hulle ’n kalf in twee dele. Daarna loop die twee partye tussen die dele deur om dit amptelik te maak. So sal Ek met elkeen maak wat die verbond met My verbreek het.

19 Dieselfde sal gebeur met die amptenare van Juda en Jerusalem, die paleisamptenare, die priesters en die gewone mense wat tussen die dele van die kalf deurgeloop het.

20 Ek sal julle aan julle vyande oorgee. Hulle sal julle doodmaak. Julle lyke sal kos vir die roofvoëls en die wilde diere wees.

21 “Die leër van die koning van Babel het alreeds van julle af teruggetrek. Maar al is dit so, sal Ek koning Sedekia van Juda en sy amptenare aan hulle vyande oorgee. Hulle wil julle graag dood sien.

22 Ek sal die Babiloniese leër opdrag gee om na Jerusalem toe terug te keer. Hulle sal weer teen die stad baklei. Hulle sal die stad inval en aan die brand steek.

“Verder sal Ek sorg dat al die dorpe van Juda soos ’n eensame en verlate plek is waar niemand meer bly nie. Ek, die Here, sê dat dit so sal gebeur!”

JEREMIA 35

Die Rekabiete

1 Die Here het vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die tyd toe Jojakim, seun van Josia, koning van Juda was. Hy het gesê:

2 “Gaan na die plek waar die Rekabiete bly. Nooi hulle om saam met jou na die tempel van die Here te kom. Vat hulle na een van die vertrekke binne-in die tempel en bied vir hulle wyn aan om te drink.”

3 Ek het toe vir Jaäsanja seun van Jeremia en kleinseun van Gabassinja gaan haal, en ook al sy broers en seuns en al die Rekabietefamilies.

4 Ek het hulle na die tempel van die Here toe gebring. Ons het toe na ’n vertrek gegaan wat aan die seuns van Ganan seun van Jigdalja behoort het. Hy was bekend as ’n man van God. Hierdie kamer was langs die een wat die amptenare in die paleis gebruik het en reg bokant die kamer wat Maäseja seun van Sallum gebruik het. Maäseja was in beheer van die tempel se ingange.

5 Ek het bekers met wyn en glase voor die Rekabiete neergesit. Toe nooi ek hulle om van die wyn te drink.

6 Maar hulle het geantwoord: “Nee, ons drink nie wyn nie. Jonadab seun van Rekab is ons voorvader. Hy het ons opdrag gegee: ‘Nie julle of julle nageslag mag ooit wyn drink nie.

7 Julle mag ook nie huise bou of graan of wingerde plant nie. Julle moet altyd in tente bly. As julle hierdie voorskrifte volg, sal julle lank in die land bly waar julle soos bywoners leef.’

8 Ons was nog altyd gehoorsaam aan die opdrag van Jonadab seun van Rekab, ons vader. Ons het niks gedoen wat hy ons beveel het om nie te doen nie. Ons het nog nooit wyn gedrink nie, nie ons of ons vroue, seuns of dogters nie.

9 Ons het ook nie huise gebou nie en ons besit geen wingerde, landerye of graan nie.

10 Ons bly in tente en gehoorsaam al die voorskrifte wat Jonadab, ons voorouer, vir ons gegee het.

11 Maar toe koning Nebukadnesar van Babel teen die land begin optrek, was ons bang vir die leërs van die Babiloniërs en die Arameërs. Ons het toe besluit om na Jerusalem toe te kom. Daarom bly ons nou in Jerusalem.”

12 Die Here het toe vir Jeremia ’n boodskap gegee:

13 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Gaan na die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem en sê vir hulle: ‘Leer ’n bietjie ’n les hoe om aan My gehoorsaam te wees.

14 Die Rekabiete drink nie wyn nie omdat hulle voorvader Jonadab gesê het hulle moenie dit doen nie.

“‘Ek het al keer op keer met julle gepraat, maar julle weier om na My te luister.

15 “‘Ek het al hoeveel keer my profete na julle toe gestuur om julle te waarsku om op te hou met julle verkeerde dade en om ander gode te aanbid. As julle dit sou doen, sou julle in rus en vrede kon bly in hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Maar julle wou nie na My luister of My gehoorsaam nie.

16 “‘Die nageslag van Jonadab seun van Rekab het die bevele van hulle voorouers nagekom. Maar hierdie volk het geweier om na My te luister.’

17 “Daarom sê die Here God, die Almagtige, die God van Israel: ‘Omdat julle nie na My wou luister nie, sal Ek al die rampe waarmee Ek gedreig het oor die mense van Juda en Jerusalem bring. Dit sal gebeur omdat julle julle nie aan My gesteur het toe Ek julle geroep het nie, en julle het My ook nie geantwoord nie.’”

18 Maar aan die Rekabiete het Jeremia gesê: “Die Here die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle het julle voorvader Jonadab in alles wat hy gevra het, gehoorsaam. Julle het al sy voorskrifte nagekom en gedoen soos hy julle beveel het.

19 Omdat julle dit gedoen het, sal daar altyd nakomelinge van Jonadab wees wat My sal dien. Dit belowe Ek, die Here, die Almagtige, die God van Israel!’”

JEREMIA 36

Baruk lees Jeremia se

boodskappe in die tempel voor

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Dit was in die vierde jaar wat Jojakim seun van Josia koning van Juda was. Hy het gesê:

2 “Kry ’n notaboek en skryf al die boodskappe neer wat Ek vir jou oor Israel, Juda en die ander nasies gegee het. Begin so ver terug as die tyd van koning Josia toe Ek die eerste boodskap vir jou gegee het tot dié wat Ek nou vir jou gee.

3 Miskien sal die mense van Juda ophou om verkeerd te doen as hulle al die slegte dinge hoor wat Ek vir hulle beplan. Dan sal Ek hulle oortredings en sondes kan vergewe.”

4 Jeremia het toe vir Baruk seun van Nerija laat roep. Baruk het al die boodskappe van die Here wat Jeremia vir hom hardop voorgedra het, op ’n boekrol neergeskryf.

5 Jeremia het toe vir Baruk gesê: “Ek mag nie naby die tempel kom nie.

6 Maar gaan jy op die volgende vasdag na die tempel toe en lees daar die boodskappe van die Here wat hier geskryf staan vir die volk. Lees dit sodat ook al die mense uit die verskillende dorpe in Juda dit kan hoor.

7 Miskien sal hulle die Here om genade smeek en ophou om so sleg te lewe. Die Here is baie kwaad. Hy het oordeel oor hierdie volk aangekondig.”

8 Baruk seun van Nerija het alles gedoen wat Jeremia hom beveel het. Hy het die boodskappe van die Here wat geskryf was vir die mense by die tempel voorgelees.

9 In die vyfde jaar wat Jojakim koning van Juda was, in die laatherfs, is ’n vasdag vir die Here aangekondig. Al die mense het uit die dorpe in Juda en Jerusalem gekom om hierdie dag by die tempel by te woon.

10 Baruk het Jeremia se boodskappe uit die boekrol in die tempel vir almal voorgelees. Hulle was in Gemarja seun van Safan die sekretaris se kantoor toe hy dit gedoen het. Hierdie kamer was in die boonste voorhof, naby die Nuwe Ingang van die tempel.

11 Miga seun van Gemarja en kleinseun van Safan het ook die boodskappe van die Here uit die boekrol gehoor.

12 Hy het toe na die sekretaris se kantoor in die paleis gegaan. Al die senior amptenare was in die vertrek besig met ’n vergadering. Hulle was Elisama die staatsekretaris, Delaja seun van Semaja, Elnatan seun van Akbor, Gemarja seun van Safan, Sedekia seun van Gananja en ook nog ander van die amptenare.

13 Toe Miga vir hulle vertel wat Baruk vir die mense by die tempel voorgelees het,

14 het die amptenare vir Jehudi gestuur om Baruk te gaan vra om ook vir hulle die boodskappe wat hy vir die volk gelees het, te kom lees. Jehudi was die seun van Netanja en kleinseun van Selemja, en ’n agterkleinseun van Kusi. Baruk het die boek gevat en na die paleis toe gegaan waar hulle was.

15 Die amptenare het Baruk genooi om te sit en uit die boekrol vir hulle voor te lees. Baruk het dit vir hulle voorgelees.

16 Nadat hulle alles gehoor het wat Baruk voorgelees het, het hulle bevrees na mekaar gekyk. Hulle het vir Baruk gesê: “Ons moet verseker vir die koning gaan vertel wat ons gehoor het.”

17 Maar eers wou hulle by Baruk hoor: “Sê vir ons, hoe het jy hierdie boodskappe gekry? Kom dit direk van Jeremia af?”

18 Baruk het hulle geantwoord: “Jeremia het vir my presies gesê wat om te skryf, woord vir woord. Ek het dit met ink op die boekrol neergeskryf.”

19 Die amptenare se raad aan Baruk was: “Jy en Jeremia moet liewer iewers gaan wegkruip. Niemand moet weet waar julle is nie!”

20 Die amptenare het die boekrol veilig in Elisama die sekretaris se kantoor weggebêre. Hulle het toe na die paleis toe gegaan en vir die koning alles oorvertel wat hulle gehoor het.

Koning Jojakim verbrand die

boekrol

21 Koning Jojakim het Jehudi gestuur om die boekrol te gaan haal. Hy het dit in Elisama se kantoor gaan haal en vir die koning voorgelees terwyl al sy amptenare bygestaan het.

22 Dit was laatherfs. Die koning het in ’n warm deel van die paleis voor die vuur gesit.

23 Baruk het die boekrol in kolomme geskryf. Elke keer as Jehudi drie of vier van hierdie kolomme voorgelees het, het die koning sy mes gebruik om dit uit die boekrol te sny. Hy het deel vir deel in die vuur gegooi. So het hy aangehou totdat hy die hele boekrol verbrand het.

24 Die koning en sy amptenare het geluister na alles wat geskryf was, maar dit het hulle nie banggemaak nie. Hulle het ook nie hulle klere geskeur nie.

25 Selfs nadat Elnatan, Delaja en Gemarja die koning gesmeek het om nie die boek te verbrand nie, wou hy nie luister nie.

26 Hierna het die koning vir sy seun Jeragmeël, Seraja seun van Asriël en ook vir Selemja seun van Abdeël opdrag gegee om Baruk en Jeremia te arresteer. Maar die Here het Baruk en Jeremia weggesteek.

Jeremia skryf die boekrol oor

27 Die koning het die boekrol wat Jeremia dikteer en Baruk geskryf het, verbrand. Nadat hy dit gedoen het, het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

28 “Kry vir jou ’n ander boekrol en skryf weer alles neer wat in die boekrol gestaan het wat Jojakim verbrand het.

29 Sê dan vir koning Jojakim van Juda: Die Here sê: Jy het die boek verbrand, want jy sê: Hoekom het jy daarop geskryf dat die koning van Babel hierdie land gaan verwoes en dat geen mens of dier gaan oorleef nie?

30 “Die Here sê oor Jojakim, die koning van Juda, die volgende: Hy sal nie iemand uit sy familie hê om die koningskap van Dawid voort te sit nie. Hulle sal sy lyk buite weggooi en hom nie begrawe nie. Hy sal so oop lê in die hitte van die dag en in die koue van die nag.

31 Ek sal hom, sy familie en sy amptenare oor hulle sonde straf. Ek sal hulle en die inwoners van Jerusalem en ook al die mense van Juda tref met al die rampe wat Ek beloof het hulle gaan tref. Hulle wou nie na my waarskuwings luister nie!”

32 Jeremia het toe weer ’n papier geneem en vir sy sekretaris Baruk gedikteer wat om te skryf. Hy het alles weer neergeskryf soos dit in die boekrol was wat koning Jojakim verbrand het. Jeremia het egter in hierdie boek nog baie boodskappe soortgelyk aan die ander bygevoeg.

JEREMIA 37

Sedekia soek raad by Jeremia

1 Sedekia was ’n seun van Josia. Koning Nebukadnesar van Babel het hom as koning oor Juda aangestel in die plek van Jojagin seun van Jojakim.

2 Nie Sedekia, sy amptenare of die gewone mense van die land het hulle gesteur aan wat die Here deur die profeet Jeremia gesê het nie.

3 Tog het koning Sedekia vir Jukal seun van Selemja saam met die priester Sefanja seun van Maäseja na die profeet Jeremia gestuur om te vra: “Bid namens ons tot die Here ons God.”

4 Jeremia was in dié tyd nog nie in die tronk opgesluit nie. Hy kon nog kom en gaan soos hy wou tussen die mense.

5 Die leër van die farao het uit Egipte opgetrek teen die Babiloniese leër wat Jerusalem omsingel het. Toe hulle hoor van die Egiptiese opmars, het die Babiloniërs van Jerusalem af teruggetrek.

6 Die Here het vir die profeet Jeremia ’n boodskap gegee:

7 “Die Here, die God van Israel, sê: Jeremia, die koning van Juda het jou mos na My toe gestuur om uit te vind wat gaan gebeur. Sê vir hom die leër van die farao is op pad terug Egipte toe. Sy plan was eintlik om julle te kom help.

8 Dan sal die Babiloniërs terugkom en weer teen hierdie stad kom veg. Hulle sal die stad inneem en afbrand.

9 “Die Here sê: Moenie julleself bedrieg en sê: ‘Die Babiloniërs sal ons uitlos’ nie. Hulle sal nie!

10 Selfs al kry julle dit reg om die Babiloniese leër te verslaan sodat net ’n paar gewondes in hulle tente oorbly, sal dit niks help nie. Hulle sal uit hulle tente strompel en hierdie stad aan die brand kom steek.”

Jeremia word opgesluit

11 Nadat die Babiloniese leër teruggetrek het van Jerusalem af omdat die leër van die farao op pad was,

12 het Jeremia van Jerusalem af weggegaan na die grondgebied van Benjamin. Hy wou die eiendom wat hy gekoop het, gaan besigtig.

13 Maar toe hy by die Benjaminpoort wou uitgaan, het ’n kaptein van die wagte met die naam Jirija hom gearresteer en beskuldig: “Jy wil oorloop na die Babiloniërs toe!” Jirija was ’n seun van Selemja en ’n kleinseun van Gananja.

14 Jeremia het hom geantwoord en gesê: “Dit is nie die waarheid nie! Ek het geen planne om na die Babiloniërs oor te loop nie.” Maar Jirija wou nie na hom luister nie. Hy het Jeremia gearresteer en hom na die amptenare toe gebring.

15 Die amptenare was woedend vir Jeremia en het hom laat slaan. Daarna het hulle hom in die sekretaris Jonatan se huis laat opsluit. Hulle het sy huis in ’n tronk verander.

16 Jeremia is in ’n ondergrondse sel gesit waar hy ’n baie lang tyd gebly het.

17 Later het koning Sedekia Jeremia in die geheim na sy paleis laat kom. Die koning wou van hom weet: “Het jy enige boodskappe van die Here vir my?”

Jeremia het hom geantwoord: “Ja, ek het! U sal in die mag van die koning van Babel beland.”

18 Toe vra Jeremia vir koning Sedekia: “Wat het ek verkeerd gedoen? Wat het ek aan u, u amptenare of aan die mense gedoen dat julle my in die tronk gegooi het?

19 Waar is julle profete nou wat geprofeteer het dat die koning van Babel nie teen julle of hierdie land sal optrek nie?

20 Meneer, ek smeek u: Luister asseblief na my nederige versoek! Moet my asseblief nie na Jonatan se huis terugstuur nie. Ek sal daar doodgaan.”

21 Koning Sedekia het opdrag gegee dat hulle Jeremia na die gedeelte van die paleis moes neem waar die wagte bly. Hulle moes ook elke dag vir Jeremia ’n brood gee wat van die bakkery af kom solank daar nog brood in die stad te kry was. So het Jeremia dan in die wagte se kwartiere gebly.

JEREMIA 38

Jeremia in ’n put

1 Sefatja seun van Mattan, Gedalja seun van Pasgur, Jukal seun van Selemja en Pasgur seun van Malkija het gehoor wat Jeremia vir die mense gesê het:

2 “Die Here sê: ‘Mense wat in hierdie stad agterbly, sal as gevolg van die oorlog, hongersnood of siektes sterf. Maar as mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle met hulle lewe daarvan afkom.’

3 Ek, die Here sê verder: ‘Julle kan verseker weet dat hierdie stad in die mag van die koning van Babel sal val. Hy sal die stad inneem.’”

4 Die amptenare het vir die koning gesê: “Hierdie man moet doodgemaak word! Die dinge wat hy sê, breek die moed van die soldate wat nog in die stad oor is asook van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie. Hy is ’n verraaier.”

5 Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.”

6 Hulle het Jeremia toe gevat en hom in die put van Malkija seun van die koning gegooi. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Hulle het toue gebruik om Jeremia te laat afsak. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in die modder weggesink.

7 ’n Baie belangrike amptenaar in die koning se paleis, Ebed-Melek die Etiopiër, het gehoor dat Jeremia in die put was. Die koning het toe in die Benjaminpoort gesit.

8 Ebed-Melek het van die paleis af na die koning gegaan en vir hom gesê:

9 “Meneer die koning, hierdie mans het ’n verkeerde ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal gou van honger doodgaan, want omtrent al die brood in die stad is op.”

10 Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 mense saam met jou en trek Jeremia uit die put op voordat hy doodgaan.”

11 Ebed-Melek het toe die manne saam met hom geneem na ’n pakkamer onder die stoorkamer van die paleis. Hulle het lappe en ou klere daar gevind, wat hulle na die put toe geneem het. Hulle het dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12 Ebed-Melek die Etiopiër het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat die toue jou nie seermaak nie.” Jeremia het toe so gemaak.

13 Hulle het Jeremia met die toue opgetrek en hom uit die put gehaal. Daarna het Jeremia weer in die paleis se gevangenis gebly.

Sedekia vra raad by Jeremia

14 Op ’n dag het koning Sedekia die profeet Jeremia laat haal. Hulle het mekaar by die derde ingang van die tempel ontmoet. Die koning het vir Jeremia gesê: “Ek wil jou ’n vraag vra. En moenie iets vir my wegsteek nie.”

15 Jeremia het Sedekia geantwoord: “As ek die waarheid praat, sal u my doodmaak. En as ek vir u raad gee, sal u in elk geval nie na my luister nie.”

16 Sedekia het toe in die geheim vir Jeremia gesweer: “So seker as die Here leef wat vir ons lewe gee, ek sal jou nie doodmaak nie. Ek sal jou ook nie oorlewer aan die mense wat jou dood wil sien nie.”

17 Jeremia het toe vir Sedekia gesê: “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As u aan die offisiere van die Babiloniese koning oorgee, sal u en u familie bly lewe. Hulle sal dan ook nie die stad met vuur verbrand nie.

18 Maar as u weier om oor te gee aan die offisiere van die Babiloniese koning, sal u nie ontsnap nie! Die stad sal in die mag van die Babiloniërs val en hulle sal dit aan die brand steek.”

19 Hierop het koning Sedekia geantwoord: “Ek is bang die Babiloniërs lewer my uit aan die Judeërs wat reeds na die Babiloniërs toe oorgeloop het. En wat sal hulle dan aan my doen?”

20 Jeremia het geantwoord: “U sal nie aan hulle uitgelewer word nie. Wees gehoorsaam aan die Here en doen wat ek sê. Dit sal dan met u goed gaan en hulle sal u lewe spaar.

21 Die Here het my gewys wat sal gebeur as u weier om oor te gee:

22 Hulle sal al die vroue wat in die paleis van die koning van Juda agtergebly het, vir die offisiere van die Babiloniese koning gee. En hulle sal u dan spot:

“‘U sogenaamde vriende

het u in die steek gelaat!

Hulle het u mislei.

Noudat u voete

in die modder gesink het,

waar is u vriende nou?’

23 “Hulle sal al u vroue en kinders na die Babiloniërs toe uitlei. U sal self ook nie ontsnap nie. Die koning van Babel sal u vang en die stad afbrand.”

24 Sedekia sê toe vir Jeremia: “Jy moet niemand vertel wat jy vir my gesê het nie. Doen jy dit, is jy dood!

25 My amptenare kan daarvan te hore kom dat ek met jou gepraat het. Hulle sal sê: ‘Ons wil weet waaroor jy en die koning gepraat het. Wat het jy vir hom gesê? Jy moet niks vir ons wegsteek nie! As jy ons nie wil vertel nie, sal ons jou doodmaak.’

26 As dit so gebeur, sê vir hulle jy het my kom smeek om jou nie na die tronk by Jonatan se huis terug te stuur nie. Sê jy is bang jy gaan daar dood.”

27 Die amptenare het toe ook na Jeremia toe gekom. Hulle wou weet hoekom die koning hom laat kom het. Maar Jeremia het geantwoord soos die koning hom beveel het om te sê. Hulle is by hom weg sonder om die waarheid uit te vind. Niemand het gehoor wat tussen die koning en Jeremia gesê is nie.

28 Jeremia het in die wagkwartiere van die paleis gebly tot Jerusalem die dag ingeneem is.

JEREMIA 39

Die val van Jerusalem

1 In Januarie van die negende jaar wat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar en sy leër teruggekom en Jerusalem beleër.

2 Twee en ’n half jaar later, op 18 Julie, het hulle dit reggekry om ’n gat in die stadsmuur te breek.

3 Al die offisiere van die koning van Babel het in die stad ingekom en by die Middelhek gaan sit. Onder hulle was Nergal-Sareser van Sinmagir en Nebu-Sarsekim, ’n hoofoffisier, verder ook Nergal-Sareser, die koning se adviseur en baie ander.

4 Toe koning Sedekia en sy soldate die Babiloniërs by die stadsingang sien, het hulle gevlug toe dit donker was. Hulle het deur die koning se tuin gegaan en by die hek tussen die twee mure uit die stad gegaan. Van daar het hulle in die rigting van die Jordaanvallei gegaan.

5 Maar die Babiloniërs het hom agtervolg en koning Sedekia op die vlaktes by Jerigo ingehaal. Hulle het hom gevang en hom na Nebukadnesar, koning van Babel, toe gebring. Nebukadnesar was in Ribla in die Hamatgebied. Daar het hy vir Sedekia gesê hoe hy hom gaan straf.

6 Daar in Ribla het die koning van Babel Sedekia se seuns voor sy oë doodgemaak. Hy het ook die leiers van Juda daar doodgemaak.

7 Daarna het hy Sedekia se oë uitgesteek. Hy het hom met kettings geboei en hom na Babel weggevoer.

8 Die Babiloniërs het toe die paleis en die mense se huise afgebrand. Hulle het ook die stadsmure afgebreek.

9 Nebusaradan was die bevelvoerder van die koning van Babel se persoonlike wagte. Hy het die mense wat in die stad oorgebly het, die res van die mense van Juda en dié wat reeds na die Babiloniërs oorgeloop het, na Babel toe weggevoer.

10 Maar Nebusaradan het van die armste mense in Juda agtergelaat. Hy het by dié geleentheid vir hulle wingerde en landerye gegee.

Jeremia se omstandighede

verander

11 Koning Nebukadnesar van Babel het aan Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, opdragte oor Jeremia gegee. Hy het gesê:

12 “Kyk goed na Jeremia en sorg dat hy niks oorkom nie. As hy iets vra, gee dit vir hom.”

13 Nebusaradan, bevelvoerder van die koninklike lyfwag, het die senior offisier Nebusasban en Nergal-Sareser, die koning se adviseur, en ook nog ander offisiere gestuur.

14 Hulle moes Jeremia uit die tronk haal. Hulle het hom in die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, geplaas. Hy het Jeremia na sy huis toe gevat. So kon Jeremia weer tussen sy mense bly.

15 Terwyl Jeremia nog in die tronk was, het die Here vir hom ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

16 “Sê vir Ebed-Melek die Etiopiër die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Ek gaan alles aan Jerusalem doen wat Ek gedreig het om te doen. Vir die stad wag daar nie goeie nie, maar slegte dinge. As die tyd kom, sal jy dit sien gebeur.

17 Dan sal Ek jou red, sê die Here. Jy sal nie oorgelewer word in die mag van dié mense vir wie jy so bang is nie.

18 Omdat jy My vertrou, sal Ek jou lewe spaar. Jy sal nie in die oorlog sterf nie, Ek sal sorg dat jy veilig is. Dit is wat Ek, die Here, sê sal gebeur!’”

JEREMIA 40

Jeremia in Gedalja se sorg

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee nadat Nebusaradan, hoof van die koning se lyfwagte, hom by Rama vrygelaat het. Hy het Jeremia gekry waar hy geboei gesit het tussen ’n groep gevangenes van Jerusalem en Juda wat in ballingskap op pad was na Babel.

2 Die hoof van die lyfwagte het Jeremia na hom toe laat kom en gesê: “Die Here jou God het bepaal dat onheil hierdie plek sal tref.

3 Dit is presies wat nou gebeur. Die rede hiervoor is omdat hulle teen die Here gesondig het en Hom nie gehoorsaam het nie.

4 Ek gaan nou jou boeie afhaal en dan is jy vry. Jy is welkom om saam met my na Babel toe te gaan. Ek sal goed vir jou sorg. Maar as jy verkies om hier in Jerusalem te bly, is dit ook goed. Jy is nou vry om te gaan net waar jy wil in die land.

5 As jy kies om te bly, gaan dan na Gedalja seun van Agikam, die kleinseun van Safan. Hy is deur die koning van Babel as goewerneur van die dorpe in Juda aangestel. Jy kan daar by hom bly tussen die mense oor wie hy aangestel is. Maar dit is jou keuse, jy kan gaan net waar jy wil.”

Nebusaradan het toe vir Jeremia kos en geld gegee. Daarna het hy hom laat gaan.

6 Jeremia het toe na Gedalja in Mispa gegaan. Hy het saam met hom tussen die paar mense van Juda wat in die land agtergebly het, gaan bly.

Gedalja bestuur Juda

7 Daar was nog offisiere en soldate van Juda wat in die plattelandse gebiede agtergebly het. Hulle het gehoor dat die koning van Babel vir Gedalja seun van Agikam as goewerneur van Juda aangestel het. Hy moes toesig hou oor die mans, vroue en kinders, die arm mense wat nie uit Juda na Babel weggevoer is nie.

8 Hulle het na Gedalja toe gekom waar hy in Mispa was. Hulle was Ismael seun van Netanja, Joganan en Jonatan, seuns van Kareag, Seraja seun van Tangumet, die seuns van Efai uit Netofa en Jaäsanja uit Maäka.

9 Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan, het die offisiere en hulle manskappe verseker: “Julle hoef nie bang te wees om die Babiloniërs te dien nie. Bly hier in die land en dien die koning van Babel, en dit sal goed gaan met julle.

10 Ek sal hier in Mispa bly en namens julle met die Babiloniërs wat ons kom besoek, onderhandel. Bly in die dorpe wat julle oorgeneem het en oes julle druiwe, vrugte en olywe en stoor dit in houers.”

11 Die Judeërs wat in Moab, Ammon en Edom en ook in ander buurlande was, het gehoor dat die koning van Babel ’n groep mense in Juda agtergelaat het. Toe hulle verder ook gehoor het dat hy Gedalja as goewerneur van Juda aangestel het,

12 het hulle uit al die plekke waarheen hulle gevlug het, na die land Juda teruggekeer. Hulle het eers na Gedalja in Mispa gegaan. Daarna het hulle ’n groot oes van druiwe en somervrugte begin insamel.

’n Komplot teen Gedalja

13 Kort hierna het Joganan seun van Kareag en die ander offisiere van die manskappe in die platteland na Gedalja in Mispa gekom.

14 Hulle het vir hom gesê: “Weet u dat die Ammonitiese koning Baälis vir Ismael seun van Netanja gestuur het om u te vermoor?” Maar Gedalja wou hulle nie glo nie.

15 Kort hierna het Joganan in die geheim met Gedalja in Mispa gaan praat. Hy het aangebied om Ismael dood te maak sonder dat iemand daarvan sal weet. Hy het gesê: “Hoekom sal ons hom toelaat om u te vermoor? As dit gebeur, sal al die Judeërs wat teruggekom het, net weer uitmekaargedryf word en die groep mense wat in Juda agtergebly het, sal tot niet gaan.”

16 Maar Gedalja het vir Joganan gesê: “Jy mag Ismael nie gaan vermoor nie. Wat jy oor hom sê, is nie die waarheid nie.”