Die ideale koning
1 Die Here sê: “Dit sal sleg gaan met die leiers, die herders van my volk. Hulle het my mense wat hulle moes versorg, uitmekaar laat spat en laat afdwaal.”
2 Omdat dit so is, sê die Here, die God van Israel, vir hierdie leiers: “Julle het my mense soos skape uitmekaar laat spat. Julle was veronderstel om na hulle om te sien, maar julle het hulle weggedryf. Daarom sal Ek julle straf vir al die kwaad wat julle gedoen het.
3 Daar is van my mense wat oorleef het in die lande waarheen Ek hulle verdryf het. Ek sal hulle almal bymekaarmaak en hulle na hulle eie land toe terugbring. Hulle sal baie kinders hê en weer groei in getalle.
4 Dan sal Ek nuwe leiers voorsien wat na hulle sal omsien. Hulle hoef nooit weer bang of verskrik te wees nie. Nie een van hulle sal verlore raak nie,” sê die Here.
5 Die Here sê verder:
“Daar sal ’n tyd kom
wanneer Ek weer
’n wettige afstammeling
uit Dawid se familie
koning sal maak.
Hy sal
’n verstandige koning wees.
Hy sal sorg dat reg geskied
en almal in die land
regverdige behandeling ontvang.
6 “Sy naam sal wees:
‘Die Here is ons geregtigheid.’
Terwyl hy regeer,
sal Juda vrykom van al hulle vyande
en Israel sal veilig leef.”
7 Die Here sê verder: “Mense lê gewoonlik ’n eed af en sê: ‘So waar as die Here, wat die mense van Israel uit Egipte bevry het, leef.’ Maar ’n tyd kom dat dit nie meer sal gebeur nie.
8 In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as wat die Here lewe wat die mense van Israel na hulle eie land toe teruggebring het uit die land in die noorde en al die lande waar hulle in ballingskap was.’ Dan sal hulle weer in hulle eie land lewe.”
’n Boodskap oor die profete
9 My hart is stukkend
oor al die vals profete
en ek bewe
so groot as wat ek is.
Ek slinger rond soos ’n mens
wat dronk is van te veel wyn
oor die heilige woorde
van die Here.
10 Die land is vol ontroue mense.
Daar rus ’n vloek op die land,
sodat die land in rou gedompel is
en die weiding verdroog.
Want die profete tree boos op
en misbruik hulle mag.
11 “Die priesters is net so
goddeloos soos die profete.
Ek het gesien wat hulle
selfs in my tempel aanvang,”
sê die Here.
12 “Daarom sal hulle lewenspaaie
glad en donker wees.
Hulle sal verjaag word
op donker en verraderlike paaie
waarop hulle sal val.
Ek sal ellende oor hulle bring
in die jaar van my straf,
Ek, die Here, het dit gesê.
13 “Ek het gesien
dat die profete van Samaria
’n walglike ding doen.
Hulle profeteer wat Baäl sê.
So lei hulle my volk Israel
op ’n dwaalpad.
14 Maar nou sien Ek
dat die profete van Jerusalem
nog erger dinge doen.
Hulle is ontrou en leef vals.
Mense wat verkeerd doen,
moedig hulle aan
om daarmee aan te hou.
’n Mens sou eerder verwag dat
hulle mense sou aanmoedig
om op te hou om verkeerd
te doen.
Hulle is niks beter
as die mense
van Sodom en Gomorra nie!”
15 Daarom sê die Here,
die Almagtige,
oor die profete:
“Ek sal hulle
bitterheid gee om te eet
en gif om te drink.
Want dit is die profete
van Jerusalem se skuld
dat al die mense van die land
so afvallig leef.”
16 Die Here, die Almagtige, sê:
“Moenie luister
na hierdie profete nie.
Hulle boodskappe
skep vals hoop by julle.
Die visioene wat hulle oordra,
kom nie van die Here af nie.
Dit kom van hulleself af!
17 Hulle hou aan
om vir die mense
wat my woord verag, te sê:
‘Die Here sê
julle sal vrede hê!’
Vir die hardkoppiges
wat net doen wat hulle wil,
sê hulle: ‘Niks slegs
sal met julle gebeur nie!’
18 Wie van hulle
was al in die vergadering
van die Here
dat hulle gesien het
wat Hy doen
of gehoor het wat Hy sê?
Was daar enigeen van hulle
wat regtig wou luister?
19 “Kyk, die woede van die Here
bars los soos ’n storm.
Dit is soos ’n warrelwind
wat ronddraai om die koppe
van die kwaaddoeners.
20 Die Here se woede
sal nie afkoel
totdat Hy sy doel bereik het nie.
Julle sal binnekort
alles verstaan
wat aan die gang is.
21 Ek het nie hierdie profete
gestuur nie;
tog is dit wat hulle voorgee.
Ek het nie vir hulle
boodskappe gegee nie;
tog profeteer hulle.
22 As hulle na My geluister het,
sou hulle my boodskap
gehoor het
om oor te dra.
En my volk sou opgehou het
om al die verkeerde dinge
te doen
waarmee hulle besig is.
23 “Is Ek miskien ’n God
wat net op een plek is?”
vra die Here.
“Dink hulle Ek sien nie
wat hulle doen nie?
24 Dink enigiemand hulle kan
vir My wegkruip
en Ek sal hulle nie sien nie?
Is Ek nie oral,
in die hemel en op die aarde nie?”
vra die Here.
25 “Ek het gehoor wat die profete sê: ‘Ek het gedroom, ek het gedroom.’ Dan profeteer hulle leuens en sê Ék het vir hulle die boodskap gegee.
26 “Hoe lank nog sal profete voortgaan om mense te bedrieg? Die onwaarhede wat hulle kwytraak, het hulle self uitgedink.
27 “Hierdie mense vertel vir mekaar van hulle drome. So probeer hulle om my mense van My te laat vergeet. Hulle voorouers het My destyds net so vergeet toe hulle Baäl begin aanbid het.
28 “Laat hierdie profete hulle drome vir ander vertel. Maar dié wat my boodskap ontvang het, moet my woord eerlik oordra. Daar is ’n verskil tussen kaf en koring!” sê die Here.
29 “Is my woorde nie soos ’n vuur wat brand nie? Is dit nie soos ’n hamer wat ’n stuk rots aan stukke laat spat nie?” vra die Here.
30 Daarom sê die Here: “Ek is teen hierdie profete wat my boodskappe by mekaar steel.
31 Ek is gekant teen hierdie gladdebek-profete wat sê: ‘Hierdie profesie kom van die Here self af!’
32 Ek is gekant teen hierdie profete wie se drome niks anders is as hulle verbeelding nie. Dit is ’n spul leuens wat my mense laat afdwaal. Ek het hulle nie gestuur of aan hulle ’n opdrag gegee nie. Wat hulle sê, hou geen voordeel vir my mense in nie,” sê die Here.
Vals profesie en vals profete
33 Die Here het vir my gesê: “As iemand van hierdie volk of een van die profete of van die priesters vir jou sou vra: ‘Wat is die boodskap waarmee die Here jou belas het?’ moet jy antwoord: ‘Julle is die las waarmee Hy my opsaal. Hy wil niks meer met julle te doen hê nie!’ sê die Here.
34 As enige profeet, priester of enigiemand anders sê: ‘Ek het ’n ernstige boodskap van die Here vir julle,’ sal Ek daardie persoon en sy hele gesin straf.
35 Hou liewer aan om vir mekaar te vra: ‘Wat het die Here geantwoord?’ of: ‘Wat het Hy gesê?’
36 Moenie langer sê: ‘’n Ernstige boodskap van die Here’ nie. Julle gebruik dit om gesag aan julle eie idees te gee. Wat julle eintlik doen, is om die boodskap van ons God, die Here, die Almagtige, te verdraai.
37 Vra vir die profete die volgende vraag: ‘Wat het die Here julle geantwoord?’ of: ‘Wat sê die Here?’
38 Maar sê nou hulle antwoord: ‘Die Here het hierdie boodskap vir ons gegee!’ moet jy sê: ‘Die Here sê julle bly sê: Die boodskap kom van die Here af, selfs al het Ek julle gewaarsku om dit nie te doen nie.
39 Omdat julle dit doen, sal Ek heeltemal van julle vergeet. Ek sal My glad nie meer aan julle steur nie. Dit geld ook hierdie stad wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.
40 Ek maak dat mense met julle sal spot. Julle sal in die skande kom en niemand sal dit ooit vergeet nie.’”