JEREMIA 11

Juda het die verbond verbreek

1 Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Herinner die inwoners van Juda en Jerusalem aan die voorwaardes van die verbond met My.

3 Sê vir hulle: ‘Die Here, die God van Israel, sê: ‘Daar rus ’n vloek op mense wat nie gehoorsaam is aan die voorskrifte van my verbond nie!

4 Ek het vir julle voorouers gesê toe Ek hulle as slawe in Egipte vrygemaak het: Julle moet aan My gehoorsaam wees. Doen alles wat Ek julle beveel om te doen. Dan sal julle my volk wees en Ek sal julle God wees.

5 “‘So sou Ek die belofte hou wat Ek met ’n eed aan julle voorouers gemaak het. Ek sal hulle ’n land gee waar melk en heuning vloei. Dit is die land waarin julle nou lewe.’”

Ek het geantwoord: “Dit is so, Here!”

6 Toe sê die Here: “Kondig hierdie boodskap aan in Juda se dorpe en Jerusalem se strate en sê: ‘Onthou die voorskrifte van hierdie verbond wat Ek met julle gesluit het, en kom dit na!

7 Toe Ek julle voorouers uit Egipte gebring het, het Ek hulle by herhaling gewaarsku en gesê: Wees gehoorsaam aan My!

8 Maar julle voorouers het hulle nie daaraan gesteur nie. Hulle wou nie eers luister nie. Elkeen het eenvoudig sy eie kop gevolg en verkeerde dinge gedoen. Hulle wou nie doen wat Ek hulle beveel het om te doen nie. Omdat hulle ongehoorsaam was, het Ek die strawwe wat in die verbond opgeteken is, oor hulle gebring.’”

9 Die Here het weer met my gepraat en gesê: “Ek het ontdek dat daar ’n komplot is teen My onder die mense van Juda en Jerusalem.

10 Hulle begaan nou dieselfde oortredings as hulle voorouers. Hulle weier om te doen wat Ek hulle beveel het. Hulle loop agter ander gode aan en aanbid hulle.

“Israel en Juda het die verbond wat Ek met hulle voorouers gesluit het, verbreek.

11 Omdat hulle so optree,” sê die Here, “sal Ek hulle tref met ’n ramp wat hulle nie sal vryspring nie. Al smeek hulle My om hulp, sal Ek nie na hulle luister nie.

12 Dan sal die mense van die dorpe van Juda en van Jerusalem na hulle afgode roep om hulp. Hulle sal selfs vir hulle wierook brand. Maar as die ramp hulle tref, sal die afgode hulle nie kan red nie.

13 “Juda, julle het net soveel afgode as wat julle dorpe het. Julle het ook op baie plekke altare opgerig om wierook vir Baäl te offer, amper soveel plekke as wat daar strate in Jerusalem is. Wat ’n skande!

14 “Jeremia, jy moenie meer vir hierdie mense bid nie. Dit sal nie help dat jy huil en by My pleit vir hulle nie, want Ek sal nie luister as hulle in die moeilikheid is en na My roep om hulp nie.

15 “Ek het my mense baie lief,

maar watter reg het hulle

om na die tempel te kom

as hulle hulle vantevore

so sleg gedra het?

Kan hulle offerandes

die vernietiging keer?

In werklikheid geniet hulle dit

om verkeerd te doen!”

16 Die Here sê:

“Daar was ’n tyd toe Ek julle

’n pragtige groen olyfboom

genoem het.

Julle was mooi om te sien,

vol goeie vrugte.

Maar Ek stuur die vyand,

wat soos weerlig die boom

aan die brand steek

en al die takke verskroei.

17 “Ek, die Here,

die Almagtige,

het hierdie olyfboom

geplant,

en Ek gee

opdrag dat dit vernietig word.

Want die mense van Israel en Juda

het bose dinge gedoen.

Hulle maak My kwaad

deur wierook

vir Baäl te offer.”

’n Sameswering teen Jeremia

18 Die Here het my toe ingelig dat my vyande besig was om ’n komplot teen my te smee.

19 Ek was soos ’n lam wat hulle weggelei het om te slag. Ek was onbewus daarvan dat hulle van plan was om my dood te maak. Hulle het gesê:

“Kom ons raak ontslae

van hierdie boom

en sy vrugte.

Kom ons maak hom dood,

dan sal niemand ooit onthou

dat hy geleef het nie!”

20 Maar, Here, Almagtige,

U tree altyd regverdig op.

U ondersoek

wat in ’n mens aangaan,

U weet selfs wat ons dink.

Laat ek sien

hoe U wraak neem,

want ek het my saak

in u hande gelaat.

21 Daarom sê die Here van die mense van Anatot: “Hulle wil jou doodmaak, Jeremia, omdat jy namens My profeteer. Hulle sê hulle sal jou doodmaak as jy nie ophou om dit te doen nie.”

22 Die Here, die Almagtige, sê van hulle: “Ek gaan hulle straf! Hulle jong mans sal in gevegte sterf, hulle kinders sal van honger doodgaan.

23 Nie een van hulle sal bly lewe nie. Ek gaan onheil oor die mense van Anatot bring. Die tyd om hulle te straf, het aangebreek.”

JEREMIA 12

Jeremia vra oor die Here se

regverdigheid

1 Here,

U behandel my

altyd regverdig

as ek ’n klagte

na U toe bring.

Maar nou wil ek my saak stel:

Hoekom gaan dit goed

met slegte mense?

En hoekom is oneerlike mense

so gelukkig?

2 U het hulle geplant

en hulle wortels

diep geanker;

daarom groei hulle goed

en dra hulle vrugte.

Hulle praat graag oor U,

maar hulle bedoel nie

’n woord daarvan nie.

3 Maar U ken my, Here.

U sien my net soos ek is.

U toets my ingesteldheid

teenoor U.

Sleep hierdie mense weg,

net soos slagskape!

Pas hulle op vir die slagtyd!

4 Hoe lank moet hierdie land

nog treur?

Selfs die grasvelde

het verdroog.

Die diere en die voëls

het ook verdwyn

weens die sonde

van die inwoners van die land.

En tog sê hulle:

“Die Here gaan niks doen nie!”

Die Here antwoord Jeremia

5 “As jy moeg raak

om teen mense te hardloop,

hoe sal jy ooit teen perde

kan meeding?

As jy struikel en val

in ’n land waar dit veilig is,

wat sal jy doen

in die digte bosse

by die Jordaan?

6 Jou broers, jou naby familie

het jou verraai.

Hulle is daarop uit

om jou kwaad aan te doen.

Moenie hulle vertrou nie,

selfs nie as hulle

vriendelik met jou praat nie.

7 “Ek het my volk prysgegee,

hulle wat my eiendom is.

Ek het hulle wat Ek liefhet

aan hulle vyande oorgegee.

8 My eie volk het vir My gebrul

soos ’n leeu in ’n bos.

Daarom het Ek hulle behandel

asof Ek hulle haat.

9 Die volk wat Ek vir My gekies het,

het só afstootlik vir My

geword soos ’n aasvoël.

En nou is húlle omring

deur ander aasvoëls!

Laat al die roofdiere kom

sodat hulle hulle karkasse

kan skoonvreet!

10 Baie herders het my wingerd

verniel,

en my druiwe

vertrap.

Hulle het my vrugbare grond

’n verlate woesteny gemaak.

11 Hulle het dit ’n woestyn

gemaak

wat verwoes voor My lê

omdat niemand daarvoor

omgee nie.

12 Soldate kom oor die heuwels

in die woestyn.

Die swaard van die Here

verteer mense

van hoek tot kant.

Niemand sal kan

ontsnap nie.

13 Hulle het koring gesaai,

maar sal dorings oes.

Hulle moeite was tevergeefs.

Staan dan maar beskaam,

sonder oes,

want die gloeiende woede

van die Here

het julle getref.”

’n Boodskap vir Israel se bure

14 Die Here sê: “Wat die buurvolke betref, hulle is sleg. Hulle probeer die erfenis wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Ek sal Juda uit hulle mag red.

15 Maar nadat Ek al hierdie volke uit hulle lande weggeneem het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land, waar sy eiendom is, laat terugkom.

16 Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar Ek verwag van hulle om die gewoontes van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer om ’n eed te sweer deur te sê: ‘So waar as die Here lewe.’ Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer.

17 As enige van hierdie volke nie gehoorsaam wil wees nie, sal Ek hulle met wortel en tak uitroei. Die Here het dit gesê!”

JEREMIA 13

Die voorbeeld van ’n linnegordel

1 Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n linnegordel en bind dit om jou heupe. Jy moet dit nie was nie.”

2 Ek het die lap gaan koop soos die Here gesê het en dit om my heupe vasgebind.

3 Toe het die Here weer vir my ’n boodskap gegee:

4 “Vat nou die linnegordel wat jy dra en gaan na die Eufraatrivier toe. Steek dit in ’n skeur in een van die rotse weg.”

5 Ek het toe na die Eufraat gegaan en dit weggesteek soos die Here my beveel het om te doen.

6 Na ’n lang tyd verloop het, het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die linnegordel wat Ek jou beveel het om weg te steek.”

7 Ek het toe teruggegaan na die Eufraatrivier toe. Ek het die linnegordel uit die plek gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al stukkend geword en dit was onbruikbaar.

8 Toe het die Here vir my verduidelik.

9 Hy het gesê: “Dis hoe Ek die arrogansie van Juda en van Jerusalem sal laat wegvrot.

10 Hierdie slegte volk sal nes hierdie linnegordel word. Hulle is niks werd nie! Hulle weier mos om na My te luister. Hulle is hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle dien ander gode.

11 Soos hierdie linnegordel om ’n mens se heupe span, so wou Ek gehad het moes Juda en Israel aan My gebind wees,” sê die Here. “My wens was dat hulle my volk sou wees, my roem en my heerlikheid, ’n eer vir My. Maar hulle wou nie gehoorsaam wees nie.

12 “Praat met hulle en gee vir hulle hierdie boodskap. ‘Die Here, die God van Israel sê: Al die wynkruike sal vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik, jy hoef ons nie eens te vertel hoe voorspoedig ons gaan wees nie!’

13 Dan moet jy vir hulle sê: ‘Nee, dit is wat die Here bedoel: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou op Dawid se troon regeer, en die priesters, profete en inwoners van Jerusalem.

14 Ek sal hulle teen mekaar stukkend stamp, selfs ouers en kinders, sê die Here. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek sal ook nie medelye met hulle hê nie. Ek gaan hulle vernietig.’”

Jeremia waarsku teen

hoogmoed

15 Luister, gee ’n bietjie aandag!

Moenie so arrogant wees nie,

want dit is die Here wat praat:

16 Gee eer

aan die Here julle God,

voordat dit te laat is.

Doen dit voordat Hy

dit vir julle donker maak,

want as dit skemer is,

sal julle struikel en val

op die donker berge.

Julle sal wens dit word lig,

maar Hy sal dit

stikdonker maak.

17 En as julle aanhou

om ongehoorsaam te wees,

sal ek eenkant staan en huil

omdat julle so verwaand is.

Ek sal bitterlik huil

omdat hulle

die kudde van die Here

in ballingskap wegneem.

18 Sê vir die koning

en sy ma:

“Gaan sit baie laag,

in die stof,

want

julle pragtige kroon

sal van julle koppe

weggeneem word.”

19 Die dorpe in die Negev

sal hulle poorte sluit,

en niemand sal dit

kan oopsluit nie.

En die mense van Juda

sal as ballinge weggevoer word.

Almal van hulle

sal in ballingskap gaan.

20 Sien julle vyand

uit die noorde aankom.

Wat het geword

van die pragtige kudde

wat Hy vir julle gegee het

om op te pas?

21 Hoe sal julle voel

as Hy die mense

wat vroeër julle bondgenote was,

nou toelaat

om oor julle te heers?

Julle sal krul van pyn

soos ’n vrou

wat geboorte gee!

22 Julle vra dalk

hoekom al hierdie dinge

met julle gebeur.

Die vyand verneder julle

en verkrag julle

oor julle baie sondes.

23 Kan Etiopiërs

die kleur van hulle velle verander?

Kan ’n luiperd sy kolle

laat verdwyn?

Dink julle miskien

dat julle skielik kan begin

goeie dinge doen

nadat julle gewoond was

om kwaad te doen?

24 “Ek sal julle verstrooi

net soos die wind

wat uit die woestyn waai

die kaf uit die koring oral versprei.

25 Dit is wat Ek besluit het

wat met julle moet gebeur,”

sê die Here.

“Dit is die deel wat Ek vir julle

afgemeet het,

want julle het My mos vergeet

en op valse gode vertrou.

26 Ek sal julle verneder

soos iemand wat kaal staan

voor ander mense.

27 Ek het gesien

hoe julle die afgode

in die veld en op hoogtes dien.

Ek het ook

al die skandelike dinge gesien

wat julle gedoen het

om hulle guns te wen.

Jerusalem,

jy sal sekerlik tot niet gaan!

Hoe lank sal dit neem

voordat jy eendag weer

vir My aanvaarbaar sal wees?”

JEREMIA 14

Droogte in Juda

1 Dit is die boodskap wat die Here vir Jeremia oor die droogte gegee het:

2 “Juda verdor,

sy besighede speel bankrot.

Sy mense rou oor die land,

en uit Jerusalem

klink ’n hulpgeroep.

3 Die vername mense

stuur hulle diensknegte

om water te gaan haal,

maar die putte is droog.

Hulle kom met leë houers terug.

Hulle maak hulle koppe toe,

dronkgeslaan en moedeloos.

4 Omdat dit nie gereën het nie,

bars die grond.

Die boere is ontsteld

en maak hulle koppe toe.

5 Selfs die wildsbokooi

gooi haar lammetjie weg

omdat daar nie gras is nie.

6 Die wildedonkies

staan op die kaal bulte

en snuif die lug

soos jakkalse wat dors is.

Hulle oë verdof,

want daar is nie gras om te eet nie.”

7 “Here, ons sondes

het ons nou ingehaal.

Help ons

ter wille van u eie reputasie.

Ons het baie keer

teen U gesondig.

8 U is Israel se enigste hoop,

ons Verlosser in krisistye!

Hoekom is U ’n vreemdeling

vir ons?

Hoekom is U soos iemand

wat reis deur die land

en net ’n nag oorslaap?

9 Hoekom tree U op

soos iemand wat verward is,

soos ’n soldaat wat ons

nie kan help nie?

Maar U, Here, is mos by ons.

Ons is immers u volk.

Moet ons tog nie

aan ons lot oorlaat nie!”

10 Die Here het sy volk

soos volg geantwoord:

“Julle hou mos daarvan

om van My af te dwaal.

Daarom aanvaar Ek

julle nie meer as my volk nie.

Ek sal nou

al julle boosheid onthou

en julle straf

vir julle sondes.”

Jeremia mag nie vir die volk bid

nie

11 Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.

12 Selfs al vas hulle, sal Ek My nie aan hulle geroep steur nie. En al bring hulle ook brandoffers en graanoffers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”

13 Maar toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle profete sê vir hulle: ‘Julle sal nie oorlog of hongersnood beleef nie. Die Here sal verseker vir julle vrede bring.’”

14 Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete vertel leuens in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek hulle opdrag gegee om met julle te praat. Wat hulle sien, is vals en wat hulle van God bekendmaak, is niks werd nie. Dit is ’n spul leuens wat hulle self uitdink.

15 Daarom sê die Here oor die profete: Ek sal die profete wat kamtig namens My praat, straf. Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle sê mos dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal egter self in oorlog of van honger doodgaan!

16 Die mense vir wie hulle profeteer, se lyke sal oral in die strate van Jerusalem lê. Mans, vroue en kinders sal slagoffers wees van hongersnood of van oorlog. Niemand sal oorleef om hulle te begrawe nie. Ek bring hulle eie oortredings oor hulle.

17 “Jeremia, sê vir hulle:

‘Dag en nag

loop trane uit my oë.

Ek kan nie ophou huil nie.

Want my volk is soos ’n jong meisie

wat swaar gewond is

en besig is om dood te bloei.

18 As ek in die veld kom,

sien ek oral mense lê

wat gewelddadig gesterf het.

Al wat ek sien as ek

in die strate van die stad loop,

is mense wat van honger

gesterf het.

Die profete en priesters

gaan aan met hulle werk,

maar hulle weet nie wat hulle doen nie.’”

Gebed om genesing

19 Het U Juda nou totaal verwerp?

Haat U werklik vir Jerusalem?

Waarom het U ons so verwond

dat niemand

ons gesond kan maak nie?

Ons het vrede verwag,

maar daar was geen vrede nie.

Ons het gehoop

op genesing,

maar verskrikking

het gekom.

20 Here, ons bely ons

verkeerde dinge

wat ons en ons voorouers

gedoen het!

Ons het teenoor U gesondig.

21 Ek vra dat U,

ter wille van Uself,

ons nie sal verwerp nie.

Moenie dat daar skade kom

aan u roemryke troon nie.

Moenie u verbond met ons

verbreek nie.

Moenie ons vergeet nie.

22 Kan enige van die vreemde

afgode vir ons reën gee?

Val die reën

sommer vanself

uit die hemel?

Nee, dit kom van U af,

Here, ons God!

Dit is net U wat sulke dinge

kan doen.

Ons sal wag

tot U ons help.

JEREMIA 15

Die Here se oordeel oor Juda

1 Die Here het toe vir my gesê: “Selfs al sou Moses en Samuel voor My gestaan en vir hierdie mense gepleit het, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Stuur hulle weg, Ek wil hulle nie sien nie!

2 En as hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die Here sê:

“‘Wie bestem is vir die dood,

na die dood.

Wie bestem is vir die oorlog,

na die oorlog.

Wie bestem is vir hongersnood,

na die hongersnood.

En wie bestem is vir gevangenskap,

na die gevangenskap.’

3 “Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle stuur,” sê die Here: “Die swaard om dood te maak, honde om hulle weg te sleep en aasvoëls om op te vreet en wilde diere om te vernietig.

4 “Ek sal van my volk ’n voorwerp van afsku maak vir al die koninkryke van die aarde. Ek doen dit oor wat koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, in Jerusalem gedoen het.

5 “Wie sal julle jammer kry,

Jerusalem?

Wie sal oor julle huil?

Wie sal nog moeite doen

om te vra hoe dit

met julle gaan?

6 Julle het My

in die steek gelaat,”

sê die Here.

“Julle steur julle nie aan My nie.

Daarom sal Ek sorg dat daar

niks van julle oorbly nie.

Ek is moeg daarvan om julle

altyd nog ’n kans te gee.

7 Ek sal julle uitwan

soos kaf by die dorsvloer.

Ek sal alles wat julle

na aan die hart lê,

wegvat.

Ek sal my volk vernietig

omdat hulle weier

om hulle van hulle bose lewe

te bekeer.

8 Daar sal meer weduwees wees

as sand in die see.

Laatmiddag bring Ek ’n vyand

wat die ma’s van jong mans

sal oorval.

Ek sal angs en vrees

skielik oor hulle laat toesak.

9 ’n Ma van sewe kinders

sal swak voel

en na haar asem snak.

Die son het vir haar gesak,

al is dit nog dag.

Sy is nou kinderloos –

wat ’n vernedering is dit nie!

Dié wat oorleef,

sal Ek aan die vyand oorgee

om hulle dood te maak,”

sê die Here.

Jeremia se klagte

10 “Wee my, Ma, dat u my

in die wêreld gebring het.

Deur die hele land

baklei mense met my.

Al het ek niks uitgeleen

wat ek terugvra

of by ander geleen

wat ek nie wil teruggee nie,

vervloek almal my.”

11 Die Here het geantwoord:

“Dit sal goed gaan met jou.

In tye van nood en ellende

sal jou vyande jou vra

om vir hulle in te tree by My.

12 “Kan ’n mens ’n stuk yster breek,

of brons wat uit die noorde kom?

13 Jou rykdom en besittings

sal Ek as buit

vir die vyand gee

oor al jou verkeerde dade.

14 Ek laat jou vyande

jou wegneem om as ballinge

in ’n vreemde land te gaan leef.

Want my woede brand soos ’n vuur

en sal julle verteer.”

15 “Here, U weet alles.

Dink tog aan my en help my.

Straf die mense wat my vervolg!

Moenie toelaat dat hulle my

doodmaak nie!

Wees genadig!

Neem tog in ag dat ek

ter wille van U bespot is.

16 Toe U gepraat het,

het ek noukeurig geluister.

Ek het elke woord ingeneem.

U woorde het my bly gemaak.

Dit het my opgewonde gemaak

om te weet

dat ek aan U behoort,

o Here, God, die Almagtige.

17 Ek het nooit

na die volk se vrolike partytjies

gegaan nie.

Ek het alleen gesit

omdat u hand op my was.

Ek was verontwaardig

oor hulle sonde.

18 Waarom hou my lyding

dan net aan en aan?

Waarom genees my wonde nie?

U hulp is vir my so bedrieglik

soos ’n wisselvallige waterstroom,

soos ’n fontein wat opdroog.”

Ek sal jou help en jou red

19 Die Here antwoord toe:

“As jy terugkom na My toe,

sal Ek jou herstel

sodat jy My weer kan dien.

As jy ophou

om onverantwoordelike

dinge te sê,

sal jy namens My kan praat.

Jy moet hulle beïnvloed,

nie hulle vir jou nie.

20 Ek maak jou ’n muur van brons

vir hierdie volk.

Hulle sal teen jou veg,

maar sal jou nie oorwin nie.

Ek sal jou beskerm

en jou red,” sê die Here.

21 “Ek sal jou red

uit die mag

van hierdie slegte mense,

en jou beskerm

teen hulle wreedheid.”

JEREMIA 16

Jeremia mag nie trou nie

1 Die Here het weer vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Jy moenie trou nie. Jy moet ook nie kinders in hierdie land hê nie.

3 Laat Ek, die Here, jou vertel wat met die kinders sal gebeur wat in hierdie land gebore word, en ook hulle ouers:

4 Hulle sal aan dodelike siektes sterf. Niemand sal oor hulle huil of hulle begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf en van honger doodgaan, en hulle lyke sal kos vir die aasvoëls en roofdiere wees.”

Straf kom vir Juda

5 Die Here het ook gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar daar getreur word oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of vir hulle simpatie hê nie. Want Ek het my beskerming en vrede van hierdie volk af weggeneem, sê die Here. Ek sal ook nie langer lojaal wees of vir hulle genade hê nie.

6 Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal ook nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afskeer omdat hulle rou nie.

7 Niemand sal ook kos gee vir mense wat rou of iets om te drink om hulle te troos nie. Dit maak nie saak of dit hulle eie ouers is wat gesterf het nie.

8 “Jy moet ook nie na hulle feeste en partytjies gaan nie. Moet hoegenaamd nie saam met hulle eet of drink nie.

9 Want so sê die Here, die Almagtige, die God van Israel: Voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek gaan ’n einde maak aan al die vrolike gesing en gelag in hierdie land. Die vrolike stemme van bruid en bruidegom sal ook stil wees.

10 “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here al hierdie rampe oor ons aangekondig? Wat het ons gedoen om dit te verdien? Hoe het ons teen Hom gesondig?’

11 Dan moet jy vir hulle sê: ‘Die Here sê dit is omdat julle voorouers nie lojaal aan My was nie. Hulle het ander gode vereer en hulle gedien. Hulle het van My vergeet. Hulle het nie my voorskrifte onderhou nie.

12 Maar julle gedra julle nog erger as julle voorouers! Julle is hardkoppig en hou net aan om verkeerde dinge te doen. Julle luister nie na My nie.

13 Daarom sal Ek julle uit hierdie land dryf na ’n vreemde land wat julle nie ken en waar julle voorouers nog nooit was nie. Daar kan julle net soveel afgode dien as wat julle wil. Julle moet geen guns van My verwag nie!’”

Daar is tog hoop

14 “Daar kom ’n tyd,” sê die Here, “dat mense nie meer sal sweer en sê nie: ‘So seker as die Here leef wat vir Israel uit Egipte gered het.’

15 In plaas daarvan sal hulle sê: ‘So waar as die Here lewe wat die mense van Israel teruggebring het uit die noorde en al die lande waarheen Hy hulle as ballinge gestuur het.’ Want Ek sal hulle terugbring na hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het.”

16 Die Here sê: “Ek stuur baie vissermanne wat hulle sal vang. Ek stuur ook jagters wat hulle oral in die berge, op heuwels of in rotsskeure sal jag.

17 Ek hou hulle fyn dop. Ek weet van elke sonde wat hulle doen, hulle kan niks vir My wegsteek nie.

18 Ek sal hulle weer en weer straf vir die slegte en verkeerde dinge wat hulle gedoen het. Hulle het die land besmet met lewelose beelde van afskuwelike gode. Hulle het oral in my land hulle afskuwelike dade gepleeg.”

Jeremia se gebed

19 Here, U gee my krag.

U beskerm my.

Ek kan veilig by U skuil

as gevaar dreig.

Nasies van oral oor die aarde

sal na U kom en sê:

“Ons voorouers was dom

om nikswerd afgode te dien.

20 Kan mense hulle eie gode maak?

Maar ’n god wat jy maak,

is mos geen god nie!”

21 “Ek sal hulle wys

hoe groot my krag is en

hoeveel mag Ek het.

Dan sal hulle weet

dat Ek die Here is!”

JEREMIA 17

Juda se sonde en straf

1 Die Here sê:

“My volk tree op

asof hulle bose weë

’n wet is wat ingegraveer is

met ’n ysterpen of

’n diamantpunt

op die tafels van hulle hart

en op die horings

van hulle altare.

2 Selfs hulle kinders

gaan aanbid by hulle altare

en die Asjerapale

onder elke groen koelteboom

en op elke hoë heuwel,

3 op die berge en in die veld.

Daarom sal Ek al julle rykdom

en julle kosbare besittings

vir die vyand gee as buit,

ook die hoë plekke

waar julle afgode aanbid het.

Dit is die prys vir die sonde

wat julle oral

deur julle land gedoen het.

4 Ek het die land vir julle

as ’n kosbare besitting gegee.

Dit sal uit julle hande glip.

Ek sal julle na ’n land stuur

wat julle nie ken nie,

as slawe vir julle vyande.

Julle het ’n vuur

in my woede aangesteek

en dit sal nie

geblus word nie.”

Vertroue in die Here

5 Die Here sê:

“Daar rus ’n vloek op dié

wat hulle vertroue stel

in gewone mense,

en nie op die Here

vertrou nie.

6 Hulle is soos bossies

in die woestyn

met geen vooruitsig

vir die toekoms nie.

Hulle sal woon

in ’n verskroeide woestyn,

op soutvlaktes

waar niemand kan oorleef nie.

7 “Maar gelukkig is dié mense

wat op die Here vertrou

en hulle verwagting

in Hom stel.

8 Hulle is soos bome

wat langs ’n rivier staan.

Hulle wortels reik diep

tot by die water.

Hitte bedreig hulle nie,

en hulle blare bly groen.

Lang maande van droogte

pla hulle ook nie.

Hulle hou nie op

om vrugte te dra nie.

9 “Die mens se hart

is deur en deur bedrieglik

en boos.

Wie weet regtig hoe sleg dit is?

10 “Maar Ek weet!

Ek, die Here,

deursoek mense se harte

en geheime motiewe.

En Ek gee aan almal

wat hulle toekom,

volgens wat hulle gedoen het.”

Jeremia vertrou die Here

11 Mense

wat op ’n oneerlike manier

ryk word,

is net soos ’n voël

wat eiers uitbroei

wat sy nie gelê het nie.

Vroeër of later sal hulle

al hulle rykdom verloor.

Aan die einde van hulle lewens

sal hulle niks anders

as dwase wees nie!

12 Maar ons aanbid U

by u glansryke troon,

ewig, hoog en glorieryk.

13 O Here, hoop van Israel,

almal wat van U wegdraai,

sal beskaam word.

Hulle sal in die stof

begrawe word,

want hulle het weggedraai

van die Here,

die fontein van lewende water.

14 Here, U alleen

kan my gesond maak.

U alleen kan my red.

U alleen prys ek!

15 Die mense vra my:

“Waar is die kamtige boodskap

van die Here?

Laat dit nou bietjie waar word!”

16 “Here,

ek het nie my taak opgegee

om ’n herder vir u volk te wees nie.

Ek het ook nie by U aangedring

om rampe oor hulle te bring nie.

Dit is u boodskap

wat ek aan hulle gegee het,

nie my eie nie.

17 Here, moenie my nou verlaat nie!

U alleen is my toevlug

as onheil toeslaan.

18 Laat dié wat my vervolg

in die skande kom.

Laat húlle vreesbevange word,

maar nie ek nie!

Laat verwoesting

dubbel en dwars oor hulle kom!”

Onderhou die Sabbat

19 Die Here het vir my gesê: “Gaan staan by die poorte van Jerusalem, eers die poort wat die konings van Juda gebruik waardeur hulle in- en uitgaan, en dan by al die ander poorte.

20 “Sê vir die mense wat hierdie poorte gebruik: ‘O konings, al julle mense van Juda en ook julle wat in Jerusalem bly, hoor die boodskap van die Here.

21 Hy sê: Luister sodat julle kan bly lewe! Hou op om op die Sabbatdag handel te dryf in Jerusalem se poorte.

22 Moenie op die Sabbatdag werk nie. Maak van die Sabbat ’n heilige dag soos Ek julle voorouers beveel het om te doen.

23 Maar hulle was ongehoorsaam en wou nie luister nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die voorskrifte navolg nie.’

24 “Maar die Here sê: ‘As julle My gehoorsaam en nie aanhou met julle handeldrywery op die Sabbatdag nie en ook nie op dié dag werk nie, maar dit ter wille van My heilig hou,

25 sal daar ’n toekoms vir hierdie volk wees. Daar sal altyd ’n koning uit die familielyn van Dawid in Jerusalem regeer. Die konings en amptenare sal by die poorte van Jerusalem ingaan. Hulle sal op strydwaens en perde ry en tussen die mense van Juda wees.

“‘Daar sal ook altyd mense in Jerusalem woon.

26 En mense sal uit die dorpe van Juda en die omgewing van Jerusalem, uit die gebied van Benjamin, van die heuwels in die weste van die land, van die berge en die woestyngebied in die suide na Jerusalem toe kom. Hulle sal brandoffers, graanoffers, wierook en dankoffers na die tempel van die Here bring.

27 “‘Julle moet na My luister en die Sabbatdag heilig hou. As julle dit nie doen nie en aanhou om op die Sabbatdag julle handelsware rond te dra deur die poorte van Jerusalem soos op ander dae, sal Ek daardie poorte aan die brand steek. Die vuur sal van die poorte af na die paleise versprei. Niemand sal in staat wees om die vuur te blus nie.’”

JEREMIA 18

Die pottebakker en die klei

1 Die Here het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.”

3 Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk.

4 Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê.

5 Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee.

6 Hy het gevra: “O Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande.

7 Dit kan wees dat Ek in ’n stadium sê Ek sal ’n sekere nasie of ’n regering omverwerp, afbreek en vernietig.

8 Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie.

9 Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal vestig, opbou, groot en sterk maak,

10 maar die nasie begin verkeerde dinge doen en My nie gehoorsaam nie, sal Ek nie dan sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek van voorneme was nie?

11 “Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem dat die Here sê: ‘Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou op die verkeerde koers wat julle ingeslaan het nie. Julle almal moet ophou om verkeerd te doen en begin doen wat reg is.’

12 Maar die mense het geantwoord: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil en ons eie oordeel volg, al is dit verkeerd.’”

13 Daarom sê die Here:

“Doen navraag onder die nasies.

Het iemand al ooit gehoor

van die afstootlike ding

wat die jong vrou Israel

gedoen het?

14 Sal die sneeu ooit smelt

op die hoë dele

van die Libanon?

Sal die koue bergstrome

van die Hermonberg

ooit opdroog?

15 Tog het my volk My vergeet

en offers gebring

aan nikswerd afgode

wat hulle laat struikel

op die goeie weë.

Hulle het op afdraaipaadjies,

op sondige paaie beland.

16 As gevolg hiervan

sal hulle land

in ’n woesteny ontaard.

’n Mens kan maar net fluit

van verbasing.

Almal wat deurreis,

sal verstom staan

en hulle koppe skud.

17 Soos die oostewind stof opwaai,

so sal Ek my volk

in alle rigtings verstrooi

voor hulle vyande.

Al sou hulle

in groot moeilikheid beland,

sal Ek my rug op hulle draai,

en My nie aan hulle steur nie.”

’n Slinkse plan teen Jeremia

18 Toe het die mense gesê: “Kom ons beraam planne teen Jeremia. Ons het mos priesters wat vir ons die gebooie kan leer, wyse mense wat ons met raad kan bedien en profete wat vir ons boodskappe kan gee. Kom ons versprei slegte stories oor hom en steur ons nie aan wat hy sê nie.”

19 Here, help my!

Luister na wat die mense

teen my beplan!

20 Is dit regverdig

om goed met sleg te betaal?

Hulle het ’n gat vir my gegrawe

om in te val.

Onthou U hoe ek namens

hulle by U gesmeek het

om hulle nie in u woede

te straf nie?

21 Daarom,

laat hulle kinders

van honger doodgaan!

Laat hulle in oorloë sneuwel!

Laat hulle vroue

weduwees wees

sonder kinders!

Laat die mans

deur ’n epidemie omkom!

Laat die jong manne sterf

in gevegte op die slagveld!

22 Laat hulle angskrete weergalm

as aanvallers

skielik op hulle toesak

terwyl hulle in hulle huise is!

Hulle het vir my ’n gat gegrawe

om in te val,

hulle het vangstrikke

vir my gestel om in te trap.

23 Here,

U weet van al hulle planne

om my dood te maak.

Moenie hulle

wat onregverdig optree, vergewe nie.

Moet ook nie hulle sondes uitvee

asof dit nooit bestaan het nie.

Laat hulle voor u oë ondergaan.

Straf hulle

terwyl U nog kwaad is

vir hulle!

JEREMIA 19

Die gebreekte kleipot

1 Die Here het vir my gesê: “Gaan koop ’n kleipot. Vra dan sommige van die leiers van die volk en van die priesters om saam met jou te gaan.

2 Gaan dan uit by die uitgang met die naam Potskerfhek na die vallei van die seun van Hinnom. Verkondig daar vir hulle die boodskap wat Ek vir jou gegee het.

3 Sê vir hulle: ‘Konings van Juda en inwoners van Jerusalem, luister na die boodskap van die Here! Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: Ek gaan ’n baie groot ramp oor hierdie plek laat kom. As mense daarvan hoor, sal hulle ore tuit.

4 “‘Ek doen dit omdat hulle dislojaal was aan My. Hulle het hierdie vallei onrein gemaak deur wierook vir vreemde gode te brand. Hierdie gode was so onbekend, nie vandag se mense of hulle voorouers of die konings van Juda het hulle geken nie. Hulle het ook onskuldige mense hier doodgemaak.

5 Hulle het hoogtes vir Baäl gebou. Hier het hulle hulle eie kinders as brandoffers aan Baäl geoffer. Dit is nie iets wat Ek hulle sou beveel het om te doen nie. Dit het nie eers in my gedagtes opgekom om so iets te beveel nie!

6 Die Here sê: Neem kennis, die tyd kom wanneer die naam van hierdie plek nie meer Tofet of Hinnomdal sal wees nie, maar Moorddal.

7 Hier sal Ek Juda en Jerusalem se oorlogsplanne dwarsboom. Ek sal toelaat dat julle vyande julle met geweld doodmaak. Die vyand sal julle lyke vir aasvoëls en wilde diere los om te verslind.

8 Ek sal hierdie stad só verwoes laat dat mense na hulle asems sal snak. Mense wat verbyloop, sal geskok wees en van verbasing fluit oor die slagting.

9 Hulle vyande en die mense wat hulle wil doodmaak, sal hulle beleër tot al die kos op is. Dan sal die mense wat in die stad vasgekeer is, hulle seuns, dogters en vriende weens honger begin eet. Hulle sal tot wanhoop gedryf word.’

10 “Jeremia, breek nou die kleipot voor die oë van die mense wat saam met jou gekom het.

11 Sê vir hulle: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Soos hierdie kleipot hier voor julle in skerwe lê, so sal Ek met hierdie stad en sy inwoners maak. Hulle sal soos hierdie kleipot wees wat ’n mens nie weer kan heelmaak nie. Hulle sal die lyke van die mense in Tofet begrawe omdat daar nêrens anders meer plek sal wees nie.

12 Dit is wat Ek met hierdie stad en sy inwoners sal doen, sê die Here. Ek sal hierdie stad soos Tofet maak.

13 “‘Die inwoners van Jerusalem het op die dakke van hulle huise wierook gebrand vir die sterregode. Hulle het ook vir ander gode drankoffers uitgegooi. Omdat hulle dit gedoen het, sal al die huise van die inwoners van Jerusalem en die paleise van die konings van Juda so onrein word soos Tofet.’”

14 Nadat Jeremia by Tofet geprofeteer het soos die Here gesê het hy moes, het hy na die stad toe teruggegaan. Hy het in die voorhof van die tempel gaan staan en vir almal wat daar was, gesê:

15 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Soos Ek beloof het, sal Ek rampe bring oor hierdie stad en al die dorpe wat in die omgewing van die stad is. Ek doen dit omdat julle so hardkoppig is en weier om na My te luister.’”

JEREMIA 20

Jeremia en Pasgur

1 Pasgur, die seun van Immer, was die priester in beheer by die tempel van die Here. Hy het die boodskap gehoor wat Jeremia geprofeteer het.

2 Pasgur het Jeremia gearresteer en hom laat slaan en in ’n voetblok vasgemaak by die boonste Benjaminingang van die tempel.

3 Die volgende dag het Pasgur Jeremia vrygelaat. Toe het Jeremia vir hom gesê: “Pasgur, die Here het jou naam verander. Hy noem jou nou: ‘Verskrikking rondom,’

4 want dit is wat die Here sê: Ek sal sorg dat jy en jou vriende verskrik is van vrees. Jou vyand sal jou vriende voor jou oë met die swaard doodmaak. Ek gee die hele bevolking van Juda oor in die hande van die koning van Babel. Hy sal die mense in ballingskap wegvoer na Babel of met die swaard doodmaak.

5 Ek sal toelaat dat jou vyande hierdie stad kaalstroop. Hulle sal al die rykdom in die stad – die kosbare juwele van goud en silwer van jou konings – na Babel toe neem.

6 Pasgur, hulle sal jou en ook jou familie as gevangenes na Babel toe wegvoer. Daar sal jy doodgaan en sal hulle jou begrawe. Dieselfde sal ook gebeur met al jou vriende vir wie jy geprofeteer het dat alles reg sal wees.”

Jeremia se klagte

7 Here, U het my omgepraat

en ek het my laat ompraat.

U is baie sterker as ek,

U het my oorweldig.

Nou bespot hulle my heeldag,

almal lag vir my.

8 As ek praat,

moet ek elke keer net uitroep:

“Geweld en vernietiging!”

Die boodskap wat die Here

vir my gegee het,

veroorsaak dat almal my

aanhoudend spot.

9 Ek het al gesê

ek sal niks van die Here sê

of namens Hom praat nie.

Maar dan is dit soos ’n vuur

wat in my hart brand!

Ek is moeg daarvan

om weerstand te bied;

trouens, ek kan nie meer nie.

10 Ek hoor hoe hulle spot:

“Oral is groot gevaar!”

Dan sê hulle:

“As jy iets sê,

gaan ons dit rapporteer!”

Selfs my ou vriende

hou my dop.

Hulle sit en wag vir my

om ’n fout te maak.

Hulle sê:

“Miskien kan hy verlei word,

dan sal ons ons kans kry

om ons op hom te wreek.”

11 Maar die Here is by my,

soos ’n sterk soldaat.

My vervolgers sal ondergaan!

Hulle sal my nie oorwin nie.

Hulle sal rooi in die gesig staan

omdat

hulle niks reggekry het nie.

Niemand sal hulle vernedering

ooit vergeet nie.

12 Here, Almagtige,

U weet wie tree reg op.

U sien presies wat aangaan

in mense se harte

en gedagtes.

Ek wil graag sien

hoe U U op hulle wreek.

Ek het my saak

in u hande gelaat.

13 Daarom sing ek

tot eer van die Here!

Prys die Here!

Want Hy red arm,

behoeftige mense soos ek

van kwaaddoeners.

14 Ek verwens die dag

wat ek gebore is!

Mag niemand my geboortedag

ooit as gelukkig beskou nie.

15 Ek verwens die dag

toe iemand vir my pa

die nuus gebring het:

“Geluk, jy het ’n seun!”

16 Mag dié man wees

soos die dorpe

wat die Here

sonder genade vernietig het.

Mag hy in die oggend

weeklag hoor,

en in die middag

oorlogsgeskreeu

17 omdat hy my nie

voor my geboorte

doodgemaak het nie.

Ag, kon my ma se liggaam

vir ewig my graf gewees het!

18 Hoekom is ek ooit gebore

om al die swaarkry en pyn

te sien?

Moet ek my lewe lank

vernedering ervaar?