JEREMIA 1

1 Hier is die woorde van Jeremia seun van Gilkija, ’n priester van Anatot in die Benjamingebied.

2 In die dertiende jaar van koning Josia van Juda se regering het die boodskap van die Here na hom gekom. Josia was die seun van Amon.

3 Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee, ook in die tyd van koning Jojakim, die seun van Josia, tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. In Augustus van daardie jaar is baie van die mense van Jerusalem in ballingskap weggevoer.

Die Here roep Jeremia

4 Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

5 “Ek ken jou

nog voordat jy gevorm is

in die skoot van jou moeder.

Voor jou geboorte al

het Ek jou gekies en aangestel

om namens My te praat

met die nasies van die wêreld.”

6 Ek het geantwoord:

“Nee, oppermagtige Here,

ek kan nie goed praat nie.

Ek is ook te jonk!”

7 Maar die Here het geantwoord

en gesê:

“Moenie sê jy is te jonk nie.

Gaan na die mense

waarheen Ek jou stuur

en gee my boodskap vir hulle.

8 Jy moet ook nie bang wees

vir hulle nie.

Ek sal by jou wees

en jou beskerm!

Ek is die Here wat so sê.”

9 Toe het die Here

sy hand uitgesteek

en aan my mond geraak.

Hy het vir my gesê:

“Ek het my woorde

in jou mond gesit.

10 Ek stel jou vandag aan

oor nasies en regerings,

om sommige te ontwortel

en plat te slaan,

om ander op te bou

en nuut te vestig.”

11 Die Here het vir my gesê:

“Wat sien jy, Jeremia?”

Ek het geantwoord:

“Ek sien ’n amandeltakkie.”

12 En die Here het vir my gesê:

“Ja, dit is ’n amandeltakkie.

En dit beteken dat Ek oplet

en gereed staan om te doen

wat Ek gedreig het om te doen.”

13 Die Here het weer

met my gepraat

en gevra wat ek sien.

Ek het Hom geantwoord:

“Ek sien

’n kokende pot wat uit die noorde

oorval hiernatoe.”

14 Toe sê die Here vir my:

“Uit die noorde

sal dodelike gevaar kom

oor almal wat in Juda woon.

15 Ek laat die mense van

al die koninkryke

in die noorde na Jerusalem kom,”

sê die Here.

“Hulle sal hulle trone kom neersit

by die ingang van die hekke.

Hulle sal Jerusalem

se mure aanval

en al die ander dorpe van Juda

binneval.

16 So sal Ek my oordeel

uitspreek oor my volk

oor al hulle boosheid.

Hulle het My verlaat

en ander gode vereer.

Ja, hulle buig voor die beelde

wat hulle met hulle eie hande

gemaak het!

17 “Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan!

18 Ek beskerm jou teen hulle. Ek maak jou soos ’n versterkte stad, so vasgeanker soos ’n ysterpaal of soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om jou teen die konings van Juda, hulle amptenare, hulle priesters en enige van die land se mense te handhaaf.

19 Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe dit!”

JEREMIA 2

Klag teen die volk

1 Die Here het vir my nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

2 “Gaan na Jerusalem toe en

skreeu dit uit sodat almal kan hoor:

So sê die Here:

Ek onthou nog die toewyding

van jou jeug,

toe julle soos ’n jong bruid was

wat My liefgehad het.

Julle was toe bereid om My deur

die dorre woestyn te volg,

deur ’n dorre woestyn.

3 In daardie tyd het Israel net aan

My behoort.

Hy was vir My die belangrikste

van my kinders.

Almal wat my volk te na gekom het,

was skuldig.

Rampe het oor hulle gekom,

sê die Here.”

4 Luister na die boodskap

van die Here,

huis van Jakob,

luister, al die families van Israel!

5 Die Here vra:

“Wat het Ek verkeerd gedoen

dat julle voorouers

so ver weggedwaal het

van My af?

Hulle het afgode gedien

wat nikswerd is.

Deur dit te doen, het hulle self

waardeloos geword.

6 Hulle het nie eers gedink

om te vra nie:

‘Waar is die Here

wat ons veilig uit Egipte gebring het

en ons deur die woestyn

gelei het?

Die land was droog en vol slote,

dor met donker skaduwees.

Niemand trek daardeur nie.

Geen mense woon daar nie.’

7 Ek het julle gebring

na ’n vrugbare land

sodat julle die vrugte

en die goeie dinge

van die land moes geniet.

Maar toe julle in my land kom,

het julle dit besoedel.

Julle het wat Ek vir julle laat erf het,

veragtelik gemaak.

8 Die priesters vra nie:

‘Waar is die Here?’ nie.

Die regsgeleerdes het nie eers

twee keer aan My gedink nie.

Die leiers van die land

was in opstand teen My.

En die profete

het namens Baäl geprofeteer.

So mors hulle hulle tyd op niks.

9 Om dié rede,” sê die Here,

“maak Ek ’n saak teen julle.

Ek sal ook julle kinders

en hulle kinders

in die toekoms aankla.

10 Gaan wes tot by Siprus,

en oos tot by Kedar.

Kyk mooi wat daar aangaan.

Het so iets al ooit gebeur?

11 Het ’n volk ooit hulle gode

vir ander gode verruil

al is hulle nie regtig gode nie?

Tog het my mense My verruil

vir gode wat niks werd is nie!

12 Wees geskok, o hemele!

Krimp ineen van afgryse,”

sê die Here.

13 “My volk het twee bose dinge

gedoen:

Hulle het My verlaat,

die fontein wat lewe gee.

En hulle het vir hulle bakke

uitgekap,

bakke wat nie water hou nie.”

Gevolge van Israel se ontrou

14 “Is Israel ’n slaaf?

Hulle is mos nie gebore

as slawe nie!

Hoekom is hulle nou

soos ’n prooi?

15 Leeus het hard en dreigend

teen Israel gebrul.

Hulle het die land verwoes,

die dorpe is nou puinhope.

Niemand bly meer daar nie.

16 Die mense uit Egipte,

Memfis en Tagpanges

het Israel se mag verbreek

en hulle verneder.

17 Julle het die probleme

oor julleself gebring

deur teen die Here te rebelleer

toe Hy julle op die regte pad wou lei!

18 Wat het dit julle gehelp

om by Egipte,

of selfs by Assirië

te gaan hulp soek?

Kon die waters van die Nyl

of die Eufraat julle dors les?

19 Julle eie sonde sal julle straf.

Julle sal sien hoe bitter dit is

om ontrou aan My te lewe,

om die Here julle God nie te eer nie.

Dit is Ek, die oppermagtige Here,

die Almagtige, wat praat!

20 “Lank gelede het Ek die juk gebreek

waarmee jy moes ploeg.

Ek het die kettings van slawerny

van jou afgehaal,

maar jy het gesê:

‘Ek sal Hom nie dien nie.’

Op elke heuwel

en onder elke groen boom

het jy jou soos ’n prostituut gedra

en voor die afgode gebuig.

21 “Ek het jou geplant

as ’n uitgesoekte wingerdstok,

opreg gekweek!

Hoe het julle dan verander

in ’n wilde druiwestok?

22 Al was julle julleself ook

met groot hoeveelhede seep

en met die sterkste wasmiddels,

dit sal nie help nie.

Vir My sal al julle skuld

soos vuil vlekke bly,”

sê die oppermagtige Here!

Israel is soos ’n ontroue vrou

23 “Hoe kan julle sê:

‘Dit is nie waar nie!

Ons het nie beelde van Baäl

aanbid nie’?

Gaan kyk gerus wat julle

in al julle valleie doen.

Neem verantwoordelikheid

vir julle doen en late!

Julle tree op net soos ’n onrustige

kameelkoei

wat rondhardloop

op soek na ’n bul.

24 Julle tree net

soos ’n wildedonkie op.

As dit paartyd is,

snuif sy in die wind.

Wie kan haar drange beheer?

Die hingste hoef nie eers na haar

te soek nie.

Sy hardloop agter hulle aan!

25 Waarom loop julle agter

die gode aan

totdat julle skoene deurgeloop is

en julle kele brand van dors?

Maar julle sê:

‘Moenie jou asem mors nie.

Ons is lief

vir hierdie vreemde gode.

Ons sal nie ophou

om hulle te aanbid nie!’

26 “Soos ’n dief wat betrap word

in die skande kom,

so sal Israel – sy konings,

leiers, priesters en profete –

in die skande kom.

27 Hulle sê vir ’n beeld

uit hout gesny:

‘Jy is my pa.’

En vir ’n beeld

uit klip gekap:

‘Jy is my ma.’

Hulle steur hulle glad nie

aan My nie,

maar sodra hulle

in die moeilikheid is,

roep hulle: ‘Kom help ons!’

28 Hoekom vra julle nie hulp

by hierdie gode

wat julle gemaak het nie?

As húlle kan, laat hulle julle

uit die moeilikheid help!

Juda, julle het net soveel gode

as dorpe.

29 “Hoekom kla julle My aan?

Dit is julle wat teen My

in opstand kom,”

sê die Here!

30 “Tevergeefs het Ek julle mense

gestraf.

Hulle het hulle nie gesteur

aan vermanings nie.

Julle het julle profete afgemaai

soos leeus ’n prooi verskeur.

31 “Israel,

luister na die woord

van die Here!

Hy vra: ‘Is Ek vir Israel

soos die woestyn

of ’n pikdonker land?’

Hoekom sê my volk:

‘Uiteindelik is ons vry,

en ons wil nooit weer

iets met Hom te doen hê nie’?

32 Vergeet ’n meisie haar juwele?

Sal ’n vrou vergeet

hoe haar trourok gelyk het?

Hoe kan my mense

My dan dae aaneen vergeet?

33 Jy ken al die fyner kunsies

om minnaars te lok.

Die mees ervare prostituut

kan by jou kom leer.

34 Jou klere is bevlek met bloed

van onskuldige armes.

Jy maak hulle dood

selfs al het hulle nie

by jou huis ingebreek nie.

35 Tog sê jy:

‘Ek is onskuldig.

Regtig, die Here kan nie

vir my kwaad wees nie!’

Weet dit: Ek gaan jou straf

juis omdat jy sê:

‘Ek het nie gesondig nie!’

36 Jy flankeer van die een

na die ander om jou te help.

Maar soos Assirië

jou in die steek gelaat het,

so sal Egipte

jou ook in die steek laat.

37 Jy sal terugkom

met jou hande op jou kop,

en in ballingskap gaan,

want die Here het die nasies verwerp

op wie jy vertrou het.

Jy sal nie slaag nie,

ondanks hulle hulp.”

JEREMIA 3

1 Die Here vra:

“As ’n man van sy vrou skei

en sy trou met ’n ander man,

mag hy haar dan weer terugvat?

Sal dit nie die land

besoedel nie?

Israel, jy het by baie minnaars

geslaap.

Tog roep Ek jou;

wil jy nou terugkom na My toe?”

sê die Here.

2 “Kyk ’n bietjie om jou

na die heuwels.

Is daar enige plek

waar jy nie losbandig

was nie?

Jy sit langs die pad soos ’n prostituut

en wag vir ’n minnaar.

Jy sit soos ’n swerwer

in die woestyn.

Jy het die land besmet

met jou ontrou en boosheid!

3 Dit is hoekom dit nie

in die lente gereën het nie.

Jy is net so uitdagend soos

’n prostituut.

Jy skaam jou nie eers

oor wat jy gedoen het nie.

4 En nou skielik sê jy vir My:

‘U is my Vader,

my Vriend van kleins af.

5 U sal sekerlik nie vir altyd

kwaad wees

oor so ’n klein dingetjie nie?’

Dit is die soort praatjies

wat julle maak,

maar julle hou net aan

om verkeerd te doen.”

Juda volg Israel se voorbeeld

6 In die tyd toe Josia koning was, het die Here vir my gesê: “Het jy gesien wat Israel gedoen het? Soos ’n sedelose vrou het Israel op elke hoogte en onder elke groen boom ander gode aanbid.

7 Ek het gedink dat as Israel klaar rondgeloop het, sy weer na My toe sou terugkom, maar dit het nie gebeur nie.

“Israel se ontroue suster Juda het alles sien gebeur.

8 Sy het gesien dat Ek vir Israel, wat so ontrou was, geskei het. Maar dit het Juda nie banggemaak nie. Israel het soos ’n onsedelike vrou ander gode begin dien.

9 Sy was ongeërg oor haar onsedelikheid. Sy het die land met haar owerspel besmet, want sy het afgode van hout en klip gedien.

10 Maar ten spyte van alles het die ontroue suster Juda net halfhartig na My toe teruggekom. Sy het gemaak of sy jammer is,” sê die Here.

Hoop vir Israel

11 Toe sê die Here vir my: “Selfs die ontroue Israel is minder skuldig as die verraderlike Juda!

12 Gaan maar uit, kyk in die rigting van Israel en roep uit:

“O, Israel, sê die Here,

julle was ontrou,

maar kom terug na My toe.

Ek sal nie vir altyd kwaad bly nie,

want Ek is genadig,

sê die Here.

13 Erken net dat julle skuldig is.

Erken dat julle teen

die Here julle God

in opstand gekom het.

Julle was ontrou aan Hom

deur onder elke groen boom

afgode te aanbid.

Bely dat julle My

nie gehoorsaam het nie,

sê die Here!

14 “Kom terug na My toe, ontroue kinders, want Ek is julle man. Ek sal hier een uit ’n stad en daar twee uit ’n familie vat en na Sion toe terugbring.

15 Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.”

16 Die Here sê: “Wanneer daar weer baie mense in die land is, sal hulle nie meer oor die verbondsark van die Here praat nie. Trouens, dit sal nie eers in hulle gedagtes opkom nie. Hulle sal dit nie eers onthou of mis nie, wat nog te sê ’n nuwe een maak!

17 In dié tyd sal Jerusalem bekend staan as die troon van die Here. Al die nasies sal hierheen kom om eer aan die Here te bring. Hulle sal nie langer soos domastrante mense slegte dinge doen nie.

18 In hierdie tyd sal die mense van Juda en Israel by mekaar aansluit. Hulle sal saam uit die noorde terugkom na die land wat die Here vir hulle voorouers as erfenis gegee het.

19 “Ek het by Myself gedink:

‘Ek sou julle graag

soos my eie kinders

wou behandel!

En Ek sou graag hierdie mooi

land vir julle wou gee.

Nie een van die nasies

se grondgebied

is naastenby so mooi nie.’

Ek het gedink julle sou

My ‘Vader’ noem

en nooit weer julle rug

op My draai nie.

20 Maar Israel

het soos ’n ontrou vrou

wat haar man verlaat,

My verraai,”

sê die Here.

21 “Op die heuweltoppe hoor

’n mens uitroepe.

Dit is die gehuil en gesoebat

van Israel se mense.

Hulle het afgedwaal

en van die Here hulle God

vergeet.”

22 Die Here sê:

“Ontroue kinders,

kom terug na My toe.

Ek sal julle van julle ontrouheid

genees.”

Hulle het geantwoord:

“Ja, ons wil terugkom,

want U is die Here ons God!

23 Ons aanbidding van gode

op die heuwels

is heeltemal vals.

Dit is net die Here ons God

wat Israel kan red.

24 Van ons kinderjare af

het ons die skande gesien,

hoe alles verteer word

waarvoor ons voorouers

gewerk het:

hulle beeste, skape

en selfs ook hulle kinders.

25 Van skaamte sink ons weg

in die aarde,

oordek met skande.

Ons en ons voorouers

het oor die jare heen

teen die Here ons God

gesondig.

Ons was van jongs af

nie gehoorsaam

aan die Here ons God nie.”

JEREMIA 4

1 “Israel, keer terug na My toe,”

sê die Here.

“As julle ontslae raak

van die afskuwelike afgode,

sal julle nie meer so rigtingloos

wees nie.

2 As julle ’n eed sweer

en my Naam gebruik,

moet julle die waarheid praat.

Begin reg lewe,

behandel mense regverdig

en doen wat reg is.

As julle dit doen,

sal julle

die nasies van die wêreld seën.

Hulle sal My kom vereer.”

Oordeel oor Juda

3 Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel sê:

“Ploeg die harde grond

van julle harte.

Moenie goeie saad

tussen dorings saai nie.

4 Maak julle harte en gedagtes

skoon voor die Here,

inwoners van Juda

en Jerusalem.

Anders sal my woede

oor julle uitbreek

oor julle sonde,

soos ’n vuur

wat niemand kan blus nie.”

’n Ramp kom uit die noorde

5 “Verkondig dit in Juda,

vertel dit in Jerusalem en sê:

‘Maak alarm

sodat elkeen dit kan hoor!’

Skreeu hard en sê:

‘Laat almal byeenkom.

Laat ons skuil

in die versterkte dorpe.’

6 Stuur ’n sein na Jerusalem

en waarsku hulle:

‘Moenie wag nie,

vlug vir julle lewens!’

Ek bring ’n groot ramp oor julle

uit die noorde.”

7 ’n Leeu het opgestaan

uit sy lêplek.

Die verwoester is op pad.

Julle dorpe sal verwoes lê,

sonder enige inwoners.

8 Trek julle rouklere aan

en weeklaag,

want die woede van die Here

is teen ons gerig.

9 Die Here sê:

“In dié tyd sal die moed

van die koning

en sy amptenare

hulle begewe.

Die priesters sal verslae wees

en die profete

sal verstom staan.”

10 Toe het ek gesê:

“Oppermagtige Here, U het die volk en Jerusalem mislei deur te sê: ‘Hulle sal vrede hê.’ En nou is hulle lewens in gevaar!”

11 Die tyd kom dat Hy vir hierdie volk en die mense van Jerusalem sal sê: “’n Skroeiende wind waai uit die woestynheuwels na my volk toe, maar dis nie om kaf weg te waai nie.

12 Nee, Ek stuur ’n wind met sy volle krag. Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.”

13 Ons vyand kom aan

soos ’n groot onweerswolk.

Die oorlogwaens kom aangejaag

soos ’n orkaan.

Hulle perde is vinniger as arende.

Wee ons,

want ons gaan verwoes word!

14 Jerusalem, was julle harte

sodat julle gered kan word.

Hoe lank wil julle nog verkeerde

gedagtes koester?

15 Uit Dan en die heuwels van Efraim

word jou vernietiging aangekondig.

16 “Waarsku die nasies

in die omgewing,

laat Jerusalem dit hoor:

‘Die vyand uit ’n ver land

is op pad.

Hulle skreeu oorlogskrete

teen die dorpe van Juda.

17 Hulle omsingel Jerusalem

net soos wagte

wat ’n graanland oppas.

Want my volk het teen My

in opstand gekom,’”

sê die Here.

18 “Dit is julle eie skuld

dat dié dinge met julle gebeur.

As straf kry julle

van julle eie bitter medisyne.

Dit maak diep seer!”

Jeremia huil oor sy mense

19 O die angs, die benoudheid

van my pyn!

My hart klop onstuimig in my.

Ek kan nie stilbly nie.

Ek het trompette gehoor,

die gedreun van oorlogskrete.

20 Die een ramp volg die ander

totdat die land heeltemal

verwoes is.

Skielik is al wat ’n blyplek

en skuiling is, tot niet.

21 Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbanier aanskou?

Hoe lank gaan ek nog

die oorlogsbasuin hoor?

22 “My volk is dwaas,

hulle ken My nie.

Hulle is soos dom kinders,

hulle het geen insig nie.

Hulle is slim as dit kom

by kwaaddoen.

Maar vir goeddoen

het hulle geen talent nie!”

Jeremia sien verwoesting kom

23 Ek het na die aarde gekyk,

en dit was woes en leeg.

Ek het ook na die hemel gekyk,

en daar was geen lig nie.

24 Ek het gekyk na die berge

en die heuwels

en hulle het gebewe en geskud.

25 Ek het gekyk

en al die mense was weg.

Selfs al die voëls van die hemel

het weggevlieg.

26 Toe ek om my kyk,

sien ek die vrugbare grond

het in ’n woestyn verander.

Al die dorpe het in puin gelê,

want die Here

het hulle vernietig

in sy toorn.

27 Die Here het gesê:

“Die land

sal verwoes word,

maar Ek sal dit nie heeltemal

verwoes nie.

28 Die aarde sal huil en die hemel

donker word

oor die besluit wat Ek

oor my volk geneem het.

Ek het klaar besluit

en sal nie van plan

verander nie.”

29 Elke stad se mense vlug

as hulle die klank van perde

en boogskutters hoor.

Hulle kruip in die bosse

en tussen rotse weg.

Al die dorpe is leeg,

sonder ’n enkele inwoner.

30 Wat probeer jy doen,

jy wat gestroop is?

Hoekom trek jy vir jou

’n rooi rok aan,

versier jy jou

met goue juwele?

Hoekom maak jy jou oë mooi

met maskara?

Jy maak jou verniet mooi!

Jou bondgenote

het jou verwerp

en soek jou lewe.

31 Ek hoor ’n uitroep van pyn

soos ’n vrou wat kraam,

’n kreet van iemand

wat haar eerste kind

in die wêreld bring.

Ek hoor die dogter van Sion snak

na haar asem.

Sy pleit om hulp.

Sy kniel voor haar moordenaars.

JEREMIA 5

Juda se sonde

1 “Hardloop op en af

in die strate van Jerusalem.

Kyk oral rond

en soek op die pleine!

As julle net een persoon kan kry

wat probeer reg lewe

en eerlik is,

sal Ek die stad spaar.

2 Hulle sweer vals

selfs as hulle sê:

‘So waar as wat die Here

lewe!’”

3 Here, U verwag van mense

om eerlik te wees.

U het hulle geslaan,

maar hulle gee nie aandag nie.

U het hulle swaar getref,

maar hulle het hulle nie

van sondes bekeer nie.

Hulle is hardkoppige mense

en het geen berou getoon nie.

4 Ek het gedink:

“Wat kan ons verwag

van armes en onkundiges?

Hulle ken nie die Here

se pad nie

en verstaan nie

wat God van hulle verwag nie.

5 Daarom sal ek eerder met die leiers

gaan praat.

Hulle ken sekerlik

die pad van die Here

en wat God van hulle verwag.”

Maar ook die leiers het

God verwerp.

6 Daarom sal ’n leeu uit die bos

hulle aanval,

’n woestynwolf hulle verskeur.

’n Luiperd sal naby die dorpe

lê en loer

en enigiemand verskeur

wat waag om uit te kom.

Dit sal gebeur omdat

hulle oortredings so baie is

en hulle so opstandig is.

7 “Hoe kan Ek julle vergewe?

Selfs julle kinders

het My verlaat.

Hulle beloof trou aan gode

wat nie gode is nie!

Ek het hulle versorg;

tog pleeg hulle egbreuk

en drom saam in bordele.

8 Hulle is soos goed versorgde,

bronstige hingste,

wat runnik agter

hulle buurman

se vrou aan.

9 Moet Ek hulle nie hieroor

straf nie?

Behoort Ek nie wraak te neem

op ’n volk soos hierdie nie?

10 “Beweeg deur haar wingerde

en verwoes dit,

maar moenie alles verwoes nie.

Sny die lote af,

want hulle behoort nie aan

die Here nie.

11 Die mense van Israel

en Juda

was ontrou aan My,”

sê die Here.

12 “Hulle het leuens versprei

oor die Here, en gesê:

‘Hy sal niks aan ons doen nie!

Geen ramp sal ons tref nie!

Ons sal ook geen oorlog

of hongersnood beleef nie!

13 Die profete is soos wind –

sonder enige goddelike gesag.

Hulle voorspelling van rampe

sal oor hulleself kom!’”

14 Daarom sê die Here God,

die Almagtige:

“Omdat die mense dit gesê het,

sal Ek my woorde in jou mond

maak soos vuur

wat hulle sal verbrand

asof hulle vuurmaakhout is.”

15 Verder sê die Here vir Israel:

“Ek sal ’n volk

wat van ver af kom

teen julle laat optrek.

Dit is ’n volk

wat baie oud en sterk is,

’n nasie

wie se taal julle nie ken nie,

wie se woorde

julle nie verstaan nie.

16 Die wapens wat hulle gebruik,

is dodelik

en hulle soldate baie sterk.

17 Hulle sal julle oes en julle kos

vernietig,

julle seuns en dogters

om die lewe bring,

julle kleinvee en beeste slag

en julle druiwe en vye opeet.

Die versterkte dorpe

waarop julle vertrou,

sal hulle vernietig.

18 “Maar selfs in hierdie verskriklike tyd sal Ek julle nie totaal uitwis nie,” sê die Here.

19 “As julle mense sou vra: ‘Waarom doen die Here God hierdie dinge aan ons?’ moet julle antwoord: ‘Ons het God verraai en vreemde gode hier in ons eie land aanbid. Nou sal ons as vreemdelinge in hulle land moet dien.’”

’n Waarskuwing vir Jerusalem

20 “Kondig vir Israel en Juda

die volgende boodskap aan:

21 Luister hier, julle dom en

onverstandige volk,

wat oë het, maar niks sien nie,

en ore het, maar niks hoor nie.

22 Het julle geen respek

vir My nie?” vra die Here.

“Is julle nie bang vir My nie?

Ek is die Een wat die sand

as grense vir die see vasgestel het.

Die see kan nie hierdie grense

oorskry nie.

Die branders kan maar bruis,

maar sal nie seëvier nie.

23 Maar my volk is hardkoppig

en opstandig.

Hulle het teen My gedraai

en hulle eie koers ingeslaan.

24 Dit kom nooit by julle op nie

om te sê:

‘Kom ons aanbid die Here

ons God

wat vir ons reën gee

op die regte tyd.

Hy gee die herfsreëns

en die lentereëns

sodat ons goeie oeste het.’

25 Julle boosheid

het al dié goeie dinge verhoed.

Dit is julle sonde

wat julle van voorspoed beroof.

26 “Onder my volk

is daar bose mense

wat strikke stel

soos voëljagters.

Hulle stel strikke,

maar vir mense.

27 Hulle huise is vol bedrieglike

planne,

net soos ’n hok vol voëls.

Daarom is hulle nou

belangrik en ryk.

28 Hulle is vet en blink!

Hulle verkeerde dade

het geen grense nie.

Hulle ontsê reg aan weeskinders

en dra nie die belange

van die armes op die hart nie.

29 Behoort Ek hulle nie

hiervoor te straf nie?

Behoort Ek nie wraak te neem

op ’n nasie soos hierdie nie?”

sê die Here.

30 “Iets verskrikliks en skokkends

het in hierdie land gebeur:

31 Die profete gee vals profesieë,

die priesters regeer

met ’n ysterhand.

En die ergste van alles is

dat my volk tevrede is daarmee!

Maar wat sal julle doen

as die einde kom?”

JEREMIA 6

’n Laaste waarskuwing vir

Jerusalem

1 “Mense van Benjamin,

vlug weg uit Jerusalem!

Blaas die trompet in Tekoa!

Stuur rookseine op

in Bet-Hakerem!

Waarsku almal dat ’n groot mag

uit die noorde op pad is

en groot skade gaan aanrig.

2 Jerusalem is soos ’n meisie,

mooi en fyn,

maar Ek sal haar verwoes.

3 Vyandelike skaapwagters

sal jou omsingel.

Hulle sal rondom jou

kamp opslaan

en jou weiveld verdeel

vir hulle kuddes.

4 Hulle skreeu:

‘Maak julle reg om teen die middag

die stad aan te val!

Wag. Die dag is al amper verby.

Die aandskaduwees is al lank.

5 Kom ons val liewer die stad

in die nag aan

en vernietig die paleise.’”

6 Die Here, die Almagtige, sê:

“Kap bome af om stormramme

te maak

en bou skuinswalle

teen die mure van Jerusalem.

Hierdie stad verdien straf,

want sy verdruk baie mense.

7 Soos ’n put wat aanhou vars

water gee,

so hou die mense van die stad

aan met onreg.

In die stad hoor ’n mens

die klank van geweld

en mishandeling.

Ek sien voortdurend

net siek en gewonde mense.

8 Dit is jou laaste waarskuwing,

Jerusalem!

As jy nie luister nie,

sal Ek My van jou losmaak.

Ek sal jou verwoes,

en jou maak

soos ’n onbewoonde land.”

9 Die Here, die Almagtige, sê:

“Laat hulle

die oorblyfsel van Israel afoes

soos ’n mens ’n wingerd afoes.

Laat jou hand weer

oor die ranke gaan

soos iemand

wat elke tros druiwe

wil pluk.”

Juda bly opstandig

10 “Met wie sal Ek praat?

Wie sal luister

as Ek ’n waarskuwing gee?

Hulle ore is toe,

hulle kan nie luister nie.

Hulle minag die woorde

van die Here,

hulle vind geen vreugde

daarin nie.

11 Die woede van die Here

brand in my.

Ek kan dit nie langer

inhou nie!

Ek stort dit uit op kinders

in die straat

en ook jongmense

waar hulle bymekaarkom.

Sowel mans as vroue en oumense

sal getref word.

12 Die vyand sal kom en hierdie

mense se huise,

landerye en vroue afvat.

Ek sal die inwoners

van hierdie land

straf,” sê die Here.

13 “Almal,

van die eenvoudigste

tot die vernaamste mense,

probeer rykdom bekom

op ’n onregmatige manier.

Selfs die profete en priesters

doen oneerlike dinge!

14 Hulle probeer om my mense

se wonde

op ’n oppervlakkige manier

gesond te maak.

Hulle maak of daar vrede is,

terwyl daar eintlik

geen vrede is nie.

15 Is hulle enigsins skaam

oor die gruwels

wat hulle doen?

Nee, hoegenaamd nie!

Hulle weet nie eers

hoe om te bloos nie!

Daarom sal hulle

tussen die gesneuweldes lê.

Hulle sal verneder word

wanneer Ek hulle straf,”

sê die Here.

Juda steur hulle nie aan die

Here nie

16 Die Here sê:

“Staan by die paaie en kyk.

Vra na die ou paaie.

Vra na die beste pad

en volg dit

want julle sal daar ware rus vind.

Maar julle het gesê:

‘Ons sal nie luister nie.’

17 Ek het mense aangestel om

oor julle te waak, en hulle roep:

‘Luister na die trompetgeskal!’

Maar julle sê:

‘Ons sal nie luister nie!’

18 Luister, al die nasies.

Kyk wat met my volk

gaan gebeur.

19 Let op wat gaan gebeur, aarde!

Ek bring rampe oor my volk.

Hulle pluk net die vrug

van hulle eie planne,

want hulle het hulle nie gesteur

aan wat Ek sê nie.

Hulle het my opdragte verwerp.

20 Daar is geen nut in

om vir My wierook uit Skeba

te brand,

of kalmoes uit ’n ver land te bring nie.

Julle brandoffers aanvaar Ek nie,

julle offers

verskaf My geen vreugde nie.”

21 Daarom sê die Here:

“Ek bring struikelblokke

op die pad van my volk.

Pa’s en seuns sal daaroor val.

Bure en vriende

sal saam omkom.”

’n Inval uit die noorde

22 Die Here sê:

“Kyk, ’n leër kom uit die noorde.

Dis ’n sterk nasie

uit ’n verafgeleë land.

23 Hulle is gewapen

met pyl en boog en spiese.

Hulle is wreed

en toon geen genade nie.

As hulle ruiters optrek,

klink dit soos die gedruis

van die see.

Jerusalem, soldate trek op in formasie,

gereed om jou te vernietig.”

24 Ons het berigte gehoor

oor die vyand.

Dit maak ons lam van vrees.

Vrees en pyn oorval ons

soos geboortepyne

wat ’n vrou ervaar.

25 Moenie waag om in die veld

te stap nie!

Bly weg van die paaie!

Die vyand is gewapen,

hulle bring oral vrees.

26 My volk,

trek rouklere aan,

en gaan sit in sak en as!

Rou en huil met stukkende harte

asof ’n enigste kind dood is.

Die vernietigende vyand

gaan julle skielik aanval!

27 “Jeremia,

Ek stel jou aan om

die gehalte van my volk te toets

net soos ’n mens

die gehalte van metaal

sou toets.

28 Hulle is almal hardkoppig.

Hulle loop oral en kwaadpraat.

Hulle is soos brons en yster,

almal is korrup.

29 Blaas maar die vuur aan

om dit witwarm te kry.

Maar die suiwering is tevergeefs!

Niemand kry dit reg

om onreg uit te suiwer nie.

30 Ek noem hulle ‘weggooisilwer’,

want die Here het hulle

weggegooi.”

JEREMIA 7

Jeremia praat by die tempel

1 Jeremia het weer ’n boodskap van die Here ontvang wat hy aan Juda moes oordra.

2 Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die Here se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê vir die Judeërs:

“‘Almal van julle wat na die tempel toe kom om die Here te aanbid, luister na die boodskap van die Here.

3 “Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: As julle nou ophou om verkeerde dinge te doen, sal Ek julle in julle land laat bly.

4 Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die Here in Jerusalem is nie.

5 Ek sal julle genadig wees slegs as julle ophou om verkeerde dinge te doen en regverdig teenoor ander mense optree.

6 Julle moet ook ophou om vreemdelinge, weduwees en weeskinders uit te buit. Verder moet julle ophou om onskuldige mense te vermoor. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien.

7 “‘As julle dit doen, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly wat Ek lank gelede vir altyd vir julle voorouers gegee het.

8 “‘Maar julle vertrou op bedrieglike woorde wat mislei. Dink julle miskien omdat die tempel hier is, sal julle nie swaarkry nie?

9 Dink julle regtig julle kan maar steel, mense vermoor, egbreuk pleeg, lieg, wierookoffers vir Baäl bring en al die nuwe gode wat julle nie geken het nie, dien

10 en dan hier in my tempel voor My kom staan en sê: Ons is veilig! en daarna voortgaan om hierdie afskuwelike dinge te doen?

11 Dink julle my tempel, wat my Naam eer, is ’n wegkruipplek vir moordenaars? Ont-hou, Ek sien al die boosheid wat daar aangaan, sê die Here.

12 “‘Gaan na my plek in Silo waar Ek voorheen die tabernakel tot my eer opgerig het. Kyk wat het Ek met Silo gedoen omdat my volk Israel bose dinge gedoen het.

13 Die Here sê: Ek het aanhoudend met julle gepraat oor die verkeerde dinge wat julle doen, maar julle wou nie luister nie. Ek het julle probeer terugroep, maar julle het nie na My geluister nie.

14 Soos Ek Silo vernietig het, so sal Ek verseker maak met hierdie tempel wat tot my eer opgerig is, hierdie plek wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het.

15 Ek sal julle in ballingskap laat gaan soos met Israel gebeur het.’”

Juda bly ongehoorsaam

16 “Jeremia, moenie meer vir Juda bid nie. Moenie oor hulle huil of vir hulle bid nie. Moet ook nie namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie.

17 Sien jy nie wat hulle in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie?

18 Geen wonder Ek is woedend nie! Die kinders maak hout bymekaar en die pa’s maak die vuur. Die vroue knie deeg en hulle bak koekies om aan die koningin van die hemel te offer en hulle bring drankoffers vir ander afgode! En dit alles net om my eer te krenk.”

19 Die Here vra: “Is dit vir My wat hulle seermaak? Nee, hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.”

20 Daarom sê die oppermagtige Here: “Ek sal my woede en my straf oor hierdie land uitgiet. My woede is soos ’n vuur wat nie geblus kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste verteer.”

21 Die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Weg met julle brandoffers en ander offers! Eet self die vleis!

22 Toe Ek julle voorouers uit Egipte uitgelei het, het Ek nie brandoffers en ander offers van hulle verwag nie.

23 Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.’

24 “Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie idees gevolg en verkeerd gedoen sodat hulle agteruitgegaan het in plaas van vorentoe.

25 Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe het Ek aangehou om profete na hulle te stuur, dag-in en dag-uit.

26 Maar my volk het nie na My geluister nie. Hulle het hulle geensins aan My gesteur nie. Hulle het net nog meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers.

27 “Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer.

28 Sê vir hulle: ‘Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Julle ken nie meer iets soos waarheid nie en praat dit ook nie.

29 “‘Inwoners van Jerusalem,

sny julle hare af soos julle rou

en gooi dit weg.

Huil van smart

op die kaal heuwels.

Die Here het hierdie geslag

verwerp,

hulle wat sy toorn

laat ontbrand het!’”

Moorddal

30 “Die mense van Juda het dinge gedoen wat vir My verkeerd is,” sê die Here. “Hulle het in my tempel beelde van hulle afgode gesit. Hulle het die tempel onrein gemaak.

31 Hulle het heidense hoogtes in Tofet in die Hinnomlaagte gebou. Daar het hulle hulle seuns en dogters in die vuur geoffer. Ek het hulle nooit opdrag gegee om sulke afgryslike dinge te doen nie. Dit is nie eers iets waaraan Ek ooit sou dink nie!”

32 Daarom sê die Here: “Pas op, die tyd kom dat hulle hierdie plek nie meer Tofet of Ben-Hinnomdal sal noem nie, maar Moorddal. Hulle sal so baie mense in Tofet begrawe dat daar nie meer plek vir al die grafte sal wees nie.

33 Die lyke van my mense sal kos vir die aasvoëls en die wilde diere wees, en niemand sal oorleef om hulle te verwilder nie.

34 Ek sal die vrolike sang en gelag van die mense in die strate van Jerusalem stilmaak. Selfs in die dorpe van Juda sal ’n mens nie meer die opgewonde stemme van bruidegomme en bruide hoor nie. Die land sal ’n verlate plek van bouvalle wees.”

JEREMIA 8

1 Die Here sê: “In dié tyd sal die vyand die grafte oopmaak. Hulle sal die geraamtes van die konings van Juda en die leiers uit die grafte haal, asook die geraamtes van die priesters, die profete en die gewone mense van Jerusalem.

2 Hulle sal hierdie bene uitsprei onder die son, die maan en die sterre. Hulle het mos die son, die maan en die sterre as gode liefgehad, gedien en aanbid! Hulle sal die bene nie weer bymekaarmaak en begrawe nie. Dit sal soos mis bo-op die grond bly lê.

3 Almal wat dalk nog oorleef, sal verkies om eerder dood te wees as om daar te bly lewe waarheen Ek hulle wegjaag.” Dit is wat die Here, die Almagtige, sê!

Valse wysheid

4 “Jeremia, gaan sê vir hulle

wat Ek, die Here, sê:

As mense val,

staan hulle dan nie weer op nie?

Of as hulle agterkom

hulle is op ’n verkeerde pad,

draai hulle nie terug nie?

5 Waarom hou hierdie volk aan

om af te dwaal?

Hoekom hou Jerusalem aan

om My te bedrieg?

Hoekom weier hulle

om terug te kom?

6 Ek het fyn geluister na hulle

gesprekke.

Hulle praat nie

die waarheid nie.

Nie eers een van hulle

is spyt oor die dinge

wat hulle doen nie.

Niemand van hulle sê:

‘Wat het ek aangevang!’ nie.

Nee, hulle storm in sonde voort,

soos ’n perd injaag

in ’n geveg!

7 Die trekooievaar in die lug

weet wanneer om te kom,

die tortelduif en die swaeltjie

weet wanneer dit tyd is

om te vlieg,

maar my volk

ken nie die vereistes

van die Here nie.

8 Hoe kan julle dan sê:

‘Ons het wysheid,

want ons het die Here se gebooie

by ons’?

Maar hulle

wat die voorskrifte neerskryf,

pleeg bedrog

en vervals die gebooie.

9 Julle wyse mense

sal in die skande kom,

want hulle is verward

en vasgevang

in hulle eie manier van dink.

Hulle het die Here se woord verwerp.

Hoe wys is hulle werklik?

10 Ek sal hulle vroue en grond

vir invallers gee,

want almal van my volk,

klein en groot,

bedrieg om te kry

wat nie aan hulle behoort nie.

Selfs die priesters en die profete

doen sulke oneerlike dinge.

11 Hulle pogings om my volk

se wonde te genees,

is oppervlakkig.

Hulle sê: ‘Vrede, vrede,’

terwyl daar geen vrede is nie.

12 Is hulle glad nie skaam

oor al die afstootlike dinge

wat hulle doen nie?

Nee, hulle bloos nie eers nie!

Daarom sal hulle

tussen die gesneuweldes lê.

Wanneer Ek hulle straf,

sal Ek hulle verneder,”

sê die Here.

13 “Ek sal hulle oeste wegneem,”

sê die Here.

“Daar sal geen druiwe

aan die wingerdstokke wees nie.

Daar sal geen vye

aan die bome wees nie

en die blare sal verdor.

Wat Ek vir hulle gegee het,

sal Ek weer terugneem,”

sê die Here.

14 Dan sal die volk sê: “Hoekom sal ons hier bly sit? Kom ons gaan na die versterkte dorpe en sterf daar. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet vergaan. Hy het vir ons vergiftigde water gegee om te drink, want ons het teen die Here gesondig.

15 “Ons wag op vrede, maar daar het niks goeds gebeur nie. Ons het uitgesien na ’n tydperk van genesing, maar iets skrikwekkends het gebeur.

16 Ons kon alreeds uit Dan die gesnuif van die vyand se perde hoor! Die hele land het gebewe van die perde se gerunnik. Die vyand se plan was om ons land en alles daarin te kom verwoes, ook die stad en die mense wat daarin bly.”

17 Die Here sê: “Ek stuur die vyand soos giftige slange tussen julle in, adders wat julle nie kan besweer nie. Die slange sal julle pik.”

Jeremia huil oor Juda se sonde

18 My hartseer

kan nie genees word nie.

My hart is gebreek.

19 Hoor die gehuil van my mense

oor die hele land:

“Is die Here nie meer

in Jerusalem nie?

Is die Koning ook nie meer

in die stad nie?”

Die Here vra: “Hoekom

het julle My geterg

met julle afgodsbeelde

en vreemde, nuttelose afgode?”

20 “Die oes is af

en die somer is verby:

tog is ons nog nie gered nie,”

kla die mense.

21 Ek treur oor die pyn

van my mense.

Ek is stomverslae van verdriet.

22 Is daar nie medisyne in Gilead nie?

Is daar nie ’n dokter wat

kan help nie?

Hoekom is daar nie genesing

vir my volk nie?

JEREMIA 9

1 Ag, ek wens my kop

was soos ’n waterspruit,

my oë soos ’n fontein vol trane.

Dan sou ek dag en nag huil

oor my mense

wat geslag is.

2 As ek maar net ’n herberg

in die woestyn gehad het!

Dan sou ek daarheen ontsnap

en my mense agterlaat.

Want my volk is niks anders nie

as egbrekers

en ’n klomp verraaiers.

Straf vir ongehoorsaamheid

3 “Hulle span hulle tong

soos ’n boog om leuens af te vuur.

Hulle praat nie die waarheid nie.

Die onreg wat hulle doen,

raak net al hoe erger en erger.

Hulle gee niks meer

om vir My nie,”

sê die Here.

4 “Pas op vir jou vriende!

Moenie jou familie

of volksgenote vertrou nie!

Hulle is almal rugstekers

en versprei vals stories

oor mekaar.

5 Vriende lieg

en bedrieg mekaar

en praat nie die waarheid nie;

hulle het hulle tonge

geleer lieg.

Hulle kan nie ophou

sondig nie.

6 Hulle hou net aan

om leuen op leuen te vertel.

Hulle weier om enigiets

met My te doen te hê,”

sê die Here.

7 Daarom sê die Here, die

Almagtige:

“Ek sal hulle in ’n smeltoond sit

en hulle suiwer soos metaal.

Eintlik laat my volk

My geen ander keuse

as om dit te doen nie.

8 Hulle tonge is soos giftige pyle.

Hulle praat baie vriendelik

met hulle vriende,

maar in hulle harte

beplan hulle hulle ondergang.

9 Behoort Ek hulle nie

daaroor te straf nie?”

vra die Here.

“Behoort Ek My nie

op ’n nasie soos hierdie

te wreek nie?”

10 Ek sal huil en kla

oor die berge

en die weivelde van die woestyn.

Hulle is verlate,

sonder enige teken van lewe.

’n Mens hoor ook nie meer

die beeste bulk nie.

Selfs die voëls het gevlug

en die wilde diere is weg.

11 “Ek sal Jerusalem maak

tot ’n bouval.

Dit sal ’n plek wees

waar die jakkalse graag sal lê.

Die dorpe van Juda

sal spookdorpe wees,

want niemand sal meer

daar bly nie.”

12 Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom hierdie dinge gebeur? Vir wie het U onderrig sodat hy dit weer vir iemand anders kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eers wil waag om daardeur te gaan nie?

13 Die Here het geantwoord: “Dit is omdat my mense weier om my voorskrifte wat Ek vir hulle gegee het, te volg. Hulle weier om na My te luister en volgens my voorskrifte te lewe.

14 Hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het die Baäls aanbid soos hulle by hulle voorouers geleer het.”

15 Luister wat die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Kyk! Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.

16 Ek sal hulle verstrooi onder die nasies wat nóg hulle nóg hulle voorouers geken het. Ek sal hulle met die swaard agtervolg totdat Ek hulle heeltemal uitgewis het.”

Die mense van Jerusalem huil

17 Die Here, die Almagtige, sê:

“Dink ’n bietjie na

oor wat aan die gang is!

Roep die vroue wat rouklaag

om treurliedere te kom sing.

18 “Maak gou en huil oor ons!

Laat trane vloei uit julle oë.

19 Want die geluid van rouklag

word in Sion gehoor:

‘Verwoesting het ons getref!

Ons is verneder,

want ons moet die land verlaat,

en ons huise

het puinhope geword.’”

20 Vroue, luister

na die woorde

van die Here.

Hoor baie duidelik

wat Hy sê.

Leer julle dogters

’n treurlied,

leer hulle om klaagliedere

te sing.

21 Want die dood het ons huise

binnegekom

deur die vensters.

Kinders speel nie meer

in die strate nie.

Jongmense kom nie meer

bymekaar

op die stadspleine nie.

22 Jy moet sê: Die Here sê:

“Lyke sal oral soos mis

op die oop velde lê.

Dit sal lyk soos

bondels graan

wat afgeoes is.

Niemand sal oorbly

om hulle te begrawe nie.”

23 Die Here sê:

“Mense met insig moenie

spog met hulle kennis nie.

Sterk mense moenie grootpraat

oor hulle krag nie.

Ryk mense moenie roem

in hulle rykdom nie.

24 Laat hulle wat wil grootpraat,

spog dat hulle My ken,

en begryp dat Ek die Here is

wat reg en regverdig is,

wie se liefde onfeilbaar is,

en dat dit ook die dinge is

wat My bly maak.

Ek, die Here, het dit gesê!”

25 Die Here sê:

“Die tyd breek aan

wanneer Ek al die mense

wat net uiterlik besny is,

sal straf.

26 Dit is die mense van Egipte,

Edom, die Ammoniete,

Moab en die woestynbewoners

wat in afgeleë plekke woon.

Want al hierdie volke

is onbesnede.

Selfs die hele huis van Israel

is onbesnede van hart.”

JEREMIA 10

Afgodery lei tot vernietiging

1 Luister na wat die Here

vir julle sê, Israel!

2 Die Here sê:

“Moenie die praktyke

van die nasies navolg nie.

En moenie bang wees

vir hulle voorspellings

of vir tekens

aan die hemel nie,

al wek dit vrees by die nasies.

3 Hulle gebruike is tevergeefs

en dwaas.

Hulle kap ’n boom af in ’n bos

en ’n ambagsman

maak daarvan ’n beeld.

4 Hulle versier hierdie beeld

met goud en silwer.

Hulle spyker dit dan vas

sodat dit nie omval nie.

5 Hulle afgode is so hulpeloos

soos ’n voëlverskrikker

in ’n groentetuin!

Hulle kan nie praat of loop nie,

maar moet gedra word.

Moenie bang wees

vir sulke gode nie.

Hulle kan niemand

kwaad aandoen nie.

Hulle kan ook niks goeds vir

enigiemand doen nie.”

6 Here, daar is niemand

soos U nie!

U is groot, u Naam dra gesag!

7 Is daar iemand wat U

nie sal vrees nie,

Koning van al die volke?

U alleen verdien eer!

Daar is niemand op aarde

of in enige koninkryk

wat so verstandig soos U is nie.

8 Mense wat afgode vereer,

is dom en dwaas.

Die goed wat hulle aanbid,

is dan van hout!

9 Hulle bring die fynste silwer

uit Tarsis

en suiwer goud uit Ufas

en ’n handvaardige goudsmid

maak ’n beeld.

Vaardige kleremakers trek dan

vir hierdie beeld

klere van duur materiaal aan.

10 Maar die Here

is die enigste ware God,

Hy is die God wat lewe.

Hy sal vir altyd Koning bly!

As Hy kwaad is,

bewe die aarde.

Die nasies is nie bestand

teen sy woede nie.

11 Sê vir mense wat die afgode aanbid:

“Julle sogenaamde gode,

wat nie die hemel en

die aarde gemaak het nie,

sal van die aarde af

verdwyn.”

12 God het die aarde

deur sy krag gemaak.

Hy het die wêreld

deur sy kennis laat ontstaan.

Dit is deur sy insig

dat die hemel uitgesprei lê.

13 As Hy praat, kom

die wolkmassa in oproer.

Hy laat mistigheid opstyg

vanaf die eindes van die aarde.

Hy stuur ook weerlig

saam met die reën,

Hy laat die wind vry

uit sy stoorkamers.

14 In vergelyking met Hom

is mense dom en

sonder kennis!

Hulle maak afgodsbeelde,

maar die beelde

bring hulle makers in

die verleentheid,

want hulle is vals,

sonder enige lewe.

15 Hulle is niks werd nie.

Hulle is niks anders as leuens nie!

Die tyd van hulle vernietiging

sal kom.

16 Maar die God van Israel

is nie soos hierdie afgode nie!

Hy is Skepper van alles

wat bestaan,

ook van Israel,

sy besondere erfenis.

Sy Naam is die Here,

die Almagtige!

Vernietiging kom!

17 “Vat julle goed

om uit die land te gaan,

want die beleg gaan begin!”

18 sê die Here.

“Ek gaan julle skielik

uit julle land smyt.

Ek gaan groot ellende

oor julle laat kom.

Dan sal julle my toorn ervaar.”

19 My ellende is groot,

my wonde is seer.

Ek het gedink:

Dié lyding

sal ek maar moet verduur.

20 My huis is weg

en daar is niemand oor

om my te help

om dit te herbou nie.

My kinders is weggevat,

en ek sal hulle nooit weer sien nie.

21 Ons leiers is onnosel.

Hulle vra nie wat die Here

van hulle verwag nie.

Dit is waarom hulle misluk.

En dis ook hoekom ons mense

oral verstrooi is.

22 Hoor julle, dit is die gedreun

van die vyand se leërs

wat uit die noorde op pad is.

Hulle sal die dorpe van Juda

verwoes.

Die dorpe sal ’n lêplek wees

vir jakkalse.

Jeremia se gebed

23 Ek weet, Here,

mense se lewens

is nie hulle eie nie.

Niemand het beheer oor wat

met hulle gaan gebeur nie.

24 Here, help my reg,

maar werk sag met my.

As U dit in woede doen,

sal niks van my oorbly nie.

25 Haal u woede liewer uit

op ons vyande.

Hulle steur hulle mos nie

aan U nie.

Hulle het ook nie

respek vir U nie.

Hulle het u volk Israel uitgeroei

en die land verwoes.