JAKOBUS 1

1 Jakobus skryf aan Joodse

Christene, versprei oor die

Hierdie brief kom van Jakobus, ’n dienskneg van God en die Here Jesus Christus.

Ek skryf aan die Joodse Christene wat oor die wêreld versprei is. Groete!

Wees bly oor julle beproewings

en bid tot God vir wysheid

2 My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.

3 Julle weet mos: Wanneer ’n mens se geloof ’n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.

4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.

5 Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie.

6 Maar, as ’n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ’n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.

7 So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

8 Hy is iemand wat nie tot ’n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie.

’n Nuwe visie op armoede en

rykdom

9 Gelowiges wat nie status in die samelewing het nie, moet trots wees op die status wat God aan hulle gee.

10 Gelowiges wat ryk is, moet bly wees oor hulle nederige status voor God. Want hulle rykdom sal soos die veld se blomme net ’n rukkie hou.

11 Julle weet mos: Die warm son kom met gloeiende hitte op en verskroei die veld. Die blomme val af, en die veld se prag is weg. So sal die rykes ook met alles wat hulle bymekaargemaak het, vergaan.

Volharding in beproewing loop

uit op die lewe

12 Gelukkig is die mens wat in beproewing volhard! As die toets sy geloof as eg bewys, sal hy die lewe as oorwinningskroon ontvang. God het hierdie lewe belowe aan hulle wat Hom liefhet.

Beproewing kom van God,

maar nie verleiding nie

13 Wanneer iemand iets verkeerds wil doen, moet hy nie sê: “God verlei my” nie. Ons weet mos God kan nie verlei word om verkeerd te doen nie, en Hý verlei ook niemand nie.

14 Ons eie sondige begeertes beproef ons, sleep ons saam en verlei ons.

15 As ons sondige begeertes eers bevrug geraak het, is sonde die babatjie wat gebore word. En as hierdie babatjie kans kry om volwasse te word, gee dit geboorte aan die dood.

16 Moet dus nie mislei word nie, my geliefde broers en susters.

17 Van Bo af kom net goeie, ja, volmaakte gawes. Hulle kom van die Vader wat die hemelligte geskep het. Anders as die hemelligte, staan Hy onbeweeglik vas. Selfs sy skaduwee verskuif nie soos hulle s’n nie.

18 Omdat God só besluit het, het Hy ons deur sy woord wat waar is, as sy kinders verwek en gebore laat word. Só het dit gekom dat ons die keur van sy hele skepping is.

Julle hóór moet uitloop op dóén

19 My geliefde broers en susters, wees altyd gou om te luister, nie te gou om te praat nie, en nie te gou om kwaad te word nie.

20 As jy kwaad is, kan jy nie doen wat God wil hê nie.

21 Raak daarom ontslae van die vuilheid en boosheid wat so welig in julle tier, en aanvaar nederig die woord wat God in julle geplant het. Hierdie woord het die mag om julle te red.

22 Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie; dan bedrieg julle julleself.

23 Julle sal saamstem: As jy altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is dit so goed of jy kyk na jou gesig in die spieël sonder om iets aan jou voorkoms te doen.

24 Jy bekyk jouself, gee pad, en vergeet wat jy gesien het.

25 As jy jou egter verdiep in God se volmaakte wet – dié wet wat ’n mens vrymaak – en jy dóén wat die wet sê en jy vergeet nie wat jy gehoor het nie, dan kan jy God se seën verwag op wat jy doen.

26 As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie.

27 Suiwer en onbevlekte godsdiens voor God ons Vader is dat ons weeskinders en weduwees in hulle swaarkry versorg, en dat ons nie toelaat dat die wêreld ons besmet nie.

JAKOBUS 2

Moenie mense volgens die

uiterlike oordeel nie

1 My broers en susters, hoe kan julle beweer julle glo in ons Here Jesus Christus aan wie die heerlikheid behoort, terwyl julle sommer so op die uiterlike af tussen mense diskrimineer?

2 Gestel daar kom iemand in julle samekoms in met duur juwele en baie mooi klere aan, en daar kom terselfdertyd ook iemand in wat brandarm is en verslete klere aanhet.

3 As julle dan ’n ophef maak van die persoon met die deftige klere, en julle sê vir hom: “U moet asseblief hier gemaklik kom sit,” maar vir die arm man sê julle: “Jy kan maar daar anderkant gaan sit,” of: “Kom sit hier op die vloer,”

4 sal julle nie toegee dat julle diskrimineer en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5 Luister, my geliefde broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof nie? Is dit nie húlle wat die erfgename is van die koninkryk wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?

6 En tog beledig julle die arm persoon! Is dit nie juis die rykes wat julle onderdruk nie, en is dit nie húlle wat julle voor die hof sleep nie?

7 Is dit nie juis hulle wat Christus, wie se Naam julle as Christene dra, belaster nie?

8 Julle doen inderdaad die regte ding as julle God se koninklike wet uitleef soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

9 Maar as julle teen mense diskrimineer, doen julle sonde, want juis hierdie wet brandmerk julle dan as oortreders.

10 Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.

11 Want dieselfde God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dan nou aan jou huweliksmaat getrou is, maar tog moord pleeg, het jy mos al die gebooie oortree.

12 Sorg dus dat jou woorde en dade wys dat jy iemand is wat weet dat jy beoordeel gaan word deur die wet wat vrymaak, die wet van liefde.

13 Wie sonder ontferming optree, sal sonder ontferming geoordeel word. God se ontferming is sterker as sy oordeel.

Jou geloof moet dáde word

14 My broers en susters, wat help dit as ’n mens sê jy het geloof, maar jou lewe wys dit nie? Só ’n geloof kan jou nie verlos nie.

15 Sê nou jy sien ’n Christenbroer of -suster wat kos en klere nodig het,

16 en jy sê: “Ek hoop dit gaan goed met jou; sorg dat jy warm aantrek en genoeg eet,” maar jy gee nie vir daardie persoon kos of klere nie. Wat help dit dan?

17 Dis duidelik: Om net te sê jy glo, is nie genoeg nie. Geloof wat nie dade word nie, is eintlik glad nie geloof nie – sulke geloof is dood en help niks.

18 Maar iemand sou kon redeneer: “Party mense het geloof, en ander het dade.” Ek sê: “Wys my jou geloof wat sonder dade is. Maar juis uit my dade sal ek jou my geloof wys.”

19 Jy glo dat daar net een God is. Die demone glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle!

20 Jou dwaas! Soek jy ’n bewys dat geloof sonder dade dood is?

21 Ons voorvader Abraham se geloof het dade geword: Hy het sy seun Isak op die altaar gelê en God het hom vrygespreek.

22 Jy sien dus dat sy geloof gepaardgegaan het met sy dade, en die geloof uit die dade volmaak geword het.

23 Dit het dus presies gebeur soos dit in die Skrif staan: “Abraham het tot geloof in God gekom, en God het hom vrygespreek.” Hy is selfs “vriend van God” genoem.

24 Julle sien dus dat ’n mens óók op grond van sy dade vrygespreek word en nie net op grond van sy geloof nie.

25 Ragab die prostituut is nog ’n voorbeeld. God het haar vrygespreek op grond van haar dade toe sy die verkenners weggesteek en hulle met ’n ander pad laat wegkom het.

26 ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is ’n lyk. So is geloof wat nie dade word nie, ook dood.

JAKOBUS 3

Jou tong is ’n baie kragtige

instrument; hou dit in toom!

1 My broers en susters, julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.

2 Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry.

3 Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer.

4 En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai.

5 So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek.

6 Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel steek dit aan.

7 Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak,

8 maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif.

9 Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is.

10 Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters!

11 Kan ’n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel?

12 Kan jy olywe van ’n vyeboom afpluk, of vye van ’n druiwestok? Net so min as wat ’n brak bron vars water kan voortbring!

Hemelse wysheid word

sigbaar in ’n baie spesifieke

13 Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word.

14 As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg!

15 Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies,

16 want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry.

17 Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg.

18 Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God.

JAKOBUS 4

Pas op vir wêreldliefde en

hoogmoed

1 Waar kom die rusies en gevegte onder julle vandaan? Is dit nie julle sondige drange wat julle ledemate soos soldate gebruik om te veg nie?

2 Julle wil dinge hê wat julle nie het nie, en pleeg dan moord om dit te kry. Julle is jaloers oor wat ander het, en as julle dit nie in die hande kan kry nie, veg en baklei julle om dit by hulle te vat. En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie.

3 En selfs wanneer julle vra, kry julle dit nie omdat julle motiewe verkeerd is – julle wil goed hê net om dit self te geniet.

4 In julle huweliksverhouding met God is julle ontrou! Besef julle nie dat vriendskap met die wêreld jou ’n vyand van God maak nie? Hoor wat ek sê: As jy die wêreld tevrede wil stel, het jy klaar as vyand teen God stelling ingeneem.

5 Of dink julle dat die Skrif sommer maar net sê: “God wil die lewe wat Hy ons gee, nét vir Homself hê”?

6 God is egter besig om ons steeds meer genade te gee om aan Hom getrou te wees. Daarom sê die Skrif:

“God weerstaan hoogmoedige

mense,

maar aan nederige mense

gee Hy genade.”

7 Wys dus dat julle van God afhanklik is deur na Hom te luister. Weerstaan die duiwel en hy sal van julle af wegvlug.

8 Kom nader aan God, en Hy sal nader aan julle kom. Was julle hande van die sonde wat daaraan kleef, julle sondaars, maak julle harte skoon, julle tweegesigte wat nie kan besluit aan wie julle getrou wil wees nie.

9 Trane moet wys julle is jammer oor die verkeerde goed wat julle aangevang het! Treur en huil! Julle gelag moet in droefheid verander, en julle blydskap in bedruktheid!

10 Val voor die Here neer en wys dat julle van Hom afhanklik is, en Hy sal julle optel en aan julle aansien gee.

Moenie lelike goed van mekaar

sê nie

11 Moenie lelike goed van mekaar sê nie, broers en susters. As julle lelike dinge van ’n medegelowige sê of ’n medegelowige kritiseer, dan kritiseer julle die wet. En as julle die wet kritiseer, is julle nie daders van die wet nie, maar regters.

12 Net God – Hý wat die wet gemaak het – kan as Regter oor ons optree. Net Hý het die mag om te verlos of te vernietig. Dit is dus baie duidelik dat julle nie regter oor julle naaste kan speel nie.

Besef hoe afhanklik julle van

God is

13 Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly, ons sal sake doen en wins maak.”

14 Julle weet nie eers wat die lewe môre vir julle inhou nie! Julle is soos die oggendmis – dis vir ’n rukkie sigbaar, en dan is dit weer weg.

15 Julle moet eerder sê: “As die Here dit so beskik, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

16 Maar nou is julle arrogant en spog julle. Al sulke grootpratery is verkeerd.

17 Hou in gedagte: As ’n mens weet wat reg is en dit nie doen nie, is dit sonde.

JAKOBUS 5

Ryk onderdrukkers moet voor

God rekenskap gee

1 Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê.

2 Julle rykdom sal definitief vergaan en julle klere deur motte gevreet word.

3 Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig.

4 Kyk, die betaling van die arbeiders wat julle lande afgeoes het en wat julle van hulle teruggehou het, skree teen julle. En die krete van dié wat geoes het, het die oë van die Here die Almagtige bereik.

5 Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vetgemaak, net reg vir die slagdag.

6 Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie.

Volhard totdat die Here kom

7 Wees dan geduldig, broers en susters, totdat die Here weer hier is. Dink net hoe ’n boer uitkyk vir die herfs- en lentereën. Hy wag geduldig vir die kosbare oes wat die land oplewer.

8 Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby.

9 Moenie oor mekaar kla nie, broers en susters, anders sal God oor julle oordeel. Kyk, die Groot Regter kom. Hy staan al voor die deur!

10 Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld van geduld in swaarkry.

11 Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou.

Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde.

Moenie ’n eed aflê nie

12 My broers en susters, die belangrikste is dat julle nie moet sweer nie – nie by die hemel nie, nie by die aarde nie, nie by enigiets anders nie. Sê net “ja” of “nee”, en bedoel dit. Dan sal julle nie veroordeel word nie.

Wees verseker van die krag van

gebed

13 Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie.

14 Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid.

15 En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word.

16 Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking.

17 Elia was ’n mens net soos ons. Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ’n druppel op die aarde geval nie!

18 Toe hy vir reën gebid het, het God reën gegee. Die plante het weer gegroei.

Bring die afgedwaaldes terug

19 My broers en susters, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom laat terugdraai,

20 weet dan dat hy wat ’n sondaar op sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood verlos en maak dat ’n klomp sondes bedek word.