HOSEA 11

Die Here se liefde vir Israel

1 “Ek het Israel liefgehad toe hy nog ’n kind was. Ek het my seun uit Egipte geroep.

2 Maar hoe meer die Baäls hom geroep het, hoe verder het hy van My af weggegaan. Hulle het aan die Baäls offers gebring en wierook vir afgodsbeelde gebrand.

3 Dit was Ekself wat Israel geleer het om te loop; Ek het hom in my arms gedra. Maar hy het nie erken dat dit Ek was wat hom versorg het nie.

4 Met mensebande, met toue van liefde het Ek hulle gelei. Ek was vir hulle soos iemand wat die slawering wat teen hulle nek druk, afhaal. Ek het My na hom toe neergebuig. Ek het hom versorg.

5 “Maar omdat my volk geweier het om na My toe terug te kom, sal hulle teruggaan na Egipte toe; hulle sal dwangarbeid in Assirië moet doen.

6 Oorlog sal deur hulle stede woed, die grendels sal vernietig word, en weens hulle planne verteer word.

7 My volk is vasberade om My te verlaat. Hulle noem My die Allerhoogste, maar hulle eer My nie werklik nie.

8 “Maar hoe kan Ek jou prysgee, Israel? Hoe kan Ek jou laat gaan, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, jou maak soos Sebojim? My hart is omgekeer in My, my medelye loop oor.

9 Nee, Ek sal jou nie in driftige woede straf nie. Ek sal nie kom om Israel te vernietig nie, want Ek is God, en nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat tussen julle lewe. Ek sal nie in toorn kom om julle te vernietig nie.

10 “Hulle sal agter die Here aan kom. Soos ’n leeu sal Hy brul. Wanneer Hy brul, sal sy kinders bewend terugkom uit die weste.

11 Soos ’n swerm voëls sal hulle vol ontsag uit Egipte kom. Soos duiwe sal hulle uit Assirië terugkeer. Ek sal hulle weer huis toe bring,” sê die Here.

HOSEA 12

Aanklagte teen Israel en Juda

1 Israel omring my met leuens en bedrog. En Juda is steeds wispelturig teenoor God en is getrou aan die afgode.

2 Israel hou hom op met die wind. Hy is die hele dag agter die oostewind aan. Hy vermeerder leuens en geweld. Hulle sluit verdrae met Assirië, maar as teken van hulle verbintenis stuur hulle olie na Egipte toe.

3 Die Here gaan nou ’n saak maak teen Juda. Hy staan op die punt om Israel te straf vir sy dade en hom te vergeld oor sy valse weë.

4 Voor Jakob se geboorte het hy sy broer se hakskeen vasgehou; as volwassene het hy met God kragte gemeet.

5 Hy het selfs met ’n Engel geworstel en gewen. Hy het gehuil en by Hom gepleit vir ’n seën. By Bet-El het hy God van aangesig tot aangesig ontmoet en daar het God met hom gepraat,

6 die Here, die almagtige God. Die Here is sy Naam!

7 Kom nou terug na jou God toe! Tree op met liefde en regverdigheid, en lewe voortdurend met ’n vaste vertroue op jou God.

8 Maar nee, die volk is soos ’n geslepe handelaar met valse weegskale – hy hou daarvan om te bedrieg.

9 Israel spog: “Ek is ryk, en ek het dit alles self verwerf! Niemand kan sê dat ek dit op ’n oneerlike manier gekry het nie! Ek is onskuldig aan enige oortreding!”

10 “Maar Ek is die Here jou God sedert jou slawerny in Egipte. Ek sal jou weer in tente laat woon soos destyds, soos tydens die woestyntyd.

11 Ek het deur my profete gepraat, hulle baie visioene laat sien. Ek het deur die profete in gelykenisse gewaarsku.”

12 Is Gilead vol boosheid? Hulle sal sekerlik tot niks kom nie. Offer hulle bulle in Gilgal? Hulle altare sal soos kliphope in rye langs die landerye wees.

13 Jakob moes na Aram toe vlug, Israel moes slawediens doen om ’n vrou te kry. Om ’n vrou te kry, moes hy skape oppas.

14 Die Here het deur ’n profeet Jakob se afstammelinge, die Israeliete, uit Egipte gelei. Die profeet het hulle gelei en beskerm.

15 Maar die volk Israel het die Here baie uitgetart en verdien die dood.

Daarom sal die Here hulle straf oor hulle dade.

HOSEA 13

Die toorn van die Here teen

Israel

1 Voorheen het die mense van vrees gebewe wanneer die stam Efraim gepraat het, want die ander stamme het na hom opgesien. Maar die mense van Efraim het gesondig deur Baäl te dien. Dit het sy lot verseël.

2 Nou gaan hulle aan om silwerafgodsbeeldjies te maak – beeldjies met bedrewe mensehande gemaak. Hulle roep uit: “Offer aan hulle! Soen die kalwerbeelde!”

3 Daarom sal hulle verdwyn soos ’n môrewolkie, soos dou wat vroegoggend verdwyn, soos kaf wat die wind wegwaai van die dorsvloer af, soos rook uit ’n skoorsteen.

4 “Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte gered het. Jy het geen ander God as Ek nie, want daar is geen ander redder nie.

5 Dis Ek wat jou in die woestyn, in daardie dor land, versorg het.

6 By goeie weiding aangekom, het hulle hulle dik geëet. Toe hulle genoeg geëet het, het hulle hoogmoedig geword en van My vergeet.

7 Nou word Ek vir hulle soos ’n leeu, soos ’n luiperd wat langs die pad ’n prooi voorlê.

8 Ek sal hulle aanval soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Ek sal hulle oopskeur en verslind soos ’n honger leeu. Wilde diere sal hulle uitmekaarskeur.

9 “Ek het jou verwoes, o Israel. Wie sal jou nou kan help?

10 Waar is jou koning dat hy jou kan red in al jou stede? Waar is jou leiers van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en leiers’?

11 In my toorn het Ek vir jou ’n koning gegee; en in my woede het Ek hom weggeneem.

12 “Die sondes van Efraim is opgeteken, sy oortredings is neergeskryf.

13 Toe die tyd vir geboorte aanbreek, was hy dwaas, ’n baba wat nie gebore wou word nie.

14 Moet Ek hulle loskoop uit die doderyk? Moet Ek hulle red uit die dood? O dood, bring maar jou verskrikking! O doderyk, bring maar jou plae! Ek sal beslis nie medelye hê nie!

15 Efraim floreer tussen die riete, maar die oostewind, ’n rukwind van die Here, sal uit die woestyn kom. Dit sal hulle waterbronne verdroog en hulle lopende fonteine laat opdroog. Al hulle skatte en waardevolle besittings sal geplunder word.”

HOSEA 14

1 Die inwoners van Samaria moet die gevolge van hulle skuld dra, want hulle het teen hulle God in opstand gekom. Hulle sal deur die swaard doodgemaak word. Hulle klein kindertjies sal verpletter word, hulle verwagtende vroue sal oopgesny word.

Genesing vir dié wat berouvol is

2 Keer terug na die Here jou God, o Israel, want jou sondes is jou ondergang.

3 Bely jou sondes en keer terug na die Here toe. Sê vir Hom: “Vergewe tog al ons sondes en aanvaar ons in genade sodat ons weer ’n lofoffer aan U kan bring.

4 Assirië kan ons nie red nie, ook nie militêre optrede nie. Ons sal nooit weer die afgode wat ons gemaak het ‘ons god’ noem nie. Nee, by U alleen is daar deernis vir ’n weeskind.”

5 Die Here sê: “Dan sal Ek julle genees van julle ontrouheid; my liefde sal geen perke ken nie, want my woede is weg vir altyd!

6 Ek sal vir Israel wees soos verfrissende dou. Hy sal bloei soos ’n lelie. Hy sal diep in die aarde wortelskiet soos die seders van die Libanon.

7 Sy takke sal uitsprei soos die sierlike olyfboom, so geurig soos die plante van die Libanon.

8 My volk sal dan weer terugkeer na die veiligheid van hulle land. Hulle sal welig groei soos koring en uitspruit soos wingerde. Hulle sal so hoog aangeskrewe wees soos die wyn van die Libanon.

9 “O Israel, bly weg van die afgode. Ek het jou verneder, maar sal jou nou weer versorg. Ek is soos ’n boom wat altyd groen is. Ek is die bron van jou vrugbaarheid.”

Slotwoord

10 Laat hulle wat wys is hierdie woorde verstaan. Laat hulle wat verstandig is aandagtig luister. Die paaie van die Here is waar en reg. Regverdige mense loop daarop, maar sondaars struikel en val op die pad.