HOOGLIED 1

1 Salomo se heel mooiste lied.

Jong vrou:

2 “Soen my weer en weer!

Jou liefde

is soeter as wyn.

3 Jou parfuum ruik heerlik.

Jou naam

is soos parfuum!

Dis waarom meisies

so baie van jou hou.

4 Vat my saam met jou!

Kom, laat ons hardloop!

Laat die koning my

na sy kamer toe neem.”

Vriende:

“Kom ons juig!

Ons is bly oor jou!

Ons hou meer van jou liefde

as van wyn.”

Jong vrou:

“Geen wonder

meisies het jou so lief nie.

5 Ek is donker en ek is pragtig,

vroue van Jerusalem.

Ek het die kleur

van die tente van Kedar

en die tentdoeke van Salomo.

6 “Moenie my so staan en bekyk

omdat ek donker is nie.

Die son het my so gebrand.

My broers was kwaad vir my.

Daarom het hulle my die wingerde

laat oppas.

My eie wingerd

moes ek verwaarloos.

7 Sê vir my, my liefling,

waar laat jy

jou kleinvee wei?

Waar gaan jy met hulle oorstaan

vanmiddag?

Hoekom moet ek my

agter ’n sluier versteek

om na jou te gaan soek

by die veetroppe

van jou vriende?”

Jong man:

8 “As jy nie weet nie,

mooiste van die vroue,

loop op die spore

van die skape

en laat jou bokkies wei

daar by die veewagters se tente.

9 “My beminde, jy is vir my

soos ’n perd

voor die farao se oorlogwa.

10 Jou wange is pragtig

met oorbelle versier.

Jou nek is mooi

met juwele versier.

11 Ons maak vir jou

oorbelle van goud,

met silwer versiersels daarin.”

Jong vrou:

12 “Terwyl die koning

by sy tafel is,

versprei die geur

van my nardusparfuum.

13 My liefling is vir my

’n sakkie mirre

tussen my borste.

14 My liefling is vir my

’n bos hennablomme

uit die wingerde

van En-Gedi.”

Jong man:

15 “Jy is pragtig, my beminde.

Jou oë is so mooi

soos die oë van duiwe.”

Jong vrou:

16 “Jy is baie aantreklik,

my liefling.

Die bed waarop ons lê,

is soos groen gras,

17 ons huis se balke

is soos sederbome,

ja, soos sipresbome.”

HOOGLIED 2

1 “Ek is ’n roos

uit Saron,

’n lelie van die veld!”

Jong man:

2 “Soos ’n lelie

tussen doringbosse,

so is my beminde

tussen die ander meisies.”

Jong vrou:

3 “My liefling is vir my

soos ’n appelboom

in die boord

tussen die ander jong mans.

Om onder sy skaduwee te sit,

is vir my pure genot

en sy vrugte

is soet in my mond.

4 Hy vat my saam

na ’n banketsaal toe.

Sy liefde vir my is duidelik vir almal.

5 Laaf my met rosyntjies,

gee appels om my te verfris,

want ek het flou geword

van die liefde.

6 Sy linkerarm

is onder my kop.

Met sy regterarm

omhels hy my.

7 “Sweer vir my,

vroue van Jerusalem,

by die ribbokke

en die wilde takbokke

dat julle nie die liefde

sal aanblaas

voordat die tyd daarvoor

ryp is nie.

8 “Luister, daar kom my liefling!

Hy huppel oor die berge,

hy wip oor die heuwels.

9 My liefling is soos ’n ribbok.

Hy is soos ’n takboklam.

Kyk, daar staan hy

agter die huis se muur.

Hy kyk deur die venster.

Hy loer deur die hortjies.

10 “My liefling sê vir my:

‘Staan op,

my mooi beminde.

Kom saam met my!

11 Die winter is verby,

die reën is oor.

12 Die wêreld is vol bloeisels.

Die tyd het gekom om te sing.

Hoor hoe koer die tortelduiwe

die hele land vol.

13 Die vroeëvye begin swel,

die botsels in die wingerde

versprei hulle geur.

Staan op,

my beeldskone beminde.

Kom hier na my toe!’”

Jong man:

14 “My duif kruip vir my weg

êrens in die klipskeure,

iewers in ’n skuilplek

teen die kranse.

Laat ek sien

waar jy is!

Laat ek hoor

waar kruip jy weg!

Jou stem is so mooi

en jou gesig is pragtig.”

Jong vroue van Jerusalem:

15 “Gou! Vang vir ons

die jakkalse!

Dit is die klein jakkalsies

wat die wingerde verniel,

terwyl die wingerde al bot.”

Jong vrou:

16 “My liefling

behoort net aan my

en ek is net syne.

Hy laat sy skape

daar tussen die lelies wei

17 totdat die dag verby is

en die skaduwees

lank geword het.

Kom terug na my toe,

my liefling.

Kom maak soos ’n ribbok,

soos ’n jong takbok

op die Beterberge.”

HOOGLIED 3

1 Jong vrou:

“Elke nag lê ek op my bed

en verlang na die man

wat ek liefhet.

Ek het na hom gaan soek,

maar ek kon hom nie kry nie.

2 Ek sal weer opstaan

en in die stad

na hom gaan soek,

in die strate en op die pleine.

Ek het oral na hom gesoek,

maar kon hom nêrens kry nie.

3 “Die wagte wat die stad oppas,

het op my afgekom.

Ek het vir hulle gevra:

‘Het julle die man gesien,

hy wat ek liefhet?’

4 Ek was net by hulle verby,

toe kry ek die man

wat ek liefhet.

Ek het hom vasgegryp.

Ek het hom nie weer laat los

voor ek hom gebring het

na my ma se huis,

na die kamer

waar ek gebore is nie.

5 “Belowe my iets,

vroue van Jerusalem!

Ek roep die ribbokke

en wilde takbokke as getuies

dat julle nie die liefde

sal aanblaas

voordat die tyd daarvoor ryp is nie.”

Jong vroue van Jerusalem:

6 “Wie kom daar aangesweef

soos ’n wolkkolom

uit die woestyn?

Wie is dit

wat so lekker ruik na mirre,

wierook, en lekkerruik-kruie?

7 Dit is dan Salomo se drastoel

met 60 van Israel

se dapperste soldate

rondom hom!

8 Elkeen

het ’n swaard op die heup,

is vaardig met die swaard

en opgelei vir die oorlog.

Hulle kan die koning verdedig

teen enige aanval in die nag.

9 “Koning Salomo

het vir homself

’n drastoel laat maak

van hout uit die Libanon.

10 Die drastoel se pote

is van silwer,

sy basis is van goud,

sy sitplek van gebreide, pers wol.

Die vroue van Jerusalem

het dit gemaak

uit liefde vir Salomo.”

Jong vrou:

11 “Vroue van Sion,

gaan uit dat julle kan kyk

na die kroon

van koning Salomo.

Daarmee

het sy ma hom gekroon

op sy vreugdevolle troudag.”

HOOGLIED 4

1 Jong man:

“Jy is mooi, my beminde,

so pragtig!

Jou oë agter jou sluier

is soos die oë van ’n duif.

Jou hare golf weg soos bokke

wat afstroom

teen die Gileadberge.

2 Jou tande is so wit soos skape,

so pas geskeer en gewas.

Hulle is almal tweelinge

en nie een van hulle is alleen nie.

3 Soos rooi, gevlegte lint

is jou lippe,

pragtig is jou mond.

Soos lieflike, geurige granate

is jou wange onder jou sluier.

4 Jou nek is so sierlik

soos die Dawidstoring

wat versier is

met duisend skilde

van sy helde.

5 Jou twee borste

is soos tweeling-takboklammers

wat tussen die lelies wei.

6 Wanneer die dag aanbreek

en die skaduwees verdwyn,

wil ek na die berg van mirre toe gaan,

na die heuwel van wierook.

7 My beminde, alles aan jou

is mooi.

Daar is geen fout aan jou nie.

8 “My bruid, kom saam met my

van die Libanonberg af.

Kom kyk van die kruin

van Amana,

van bo van Senir en Hermon af,

waar die leeus bly

en die luiperds lê.

9 Jy het my opgewonde gemaak,

my suster, my liewe bruid.

’n Skalkse kyk van jou oë,

een kyk na die halssnoer

om jou nek

het my in vervoering gebring.

10 Om jou te liefkoos,

is wonderlik, my liewe bruid.

Dit is soveel beter as wyn.

Jou parfuum ruik lekkerder

as al die geurige kruie.

11 Jou lippe proe soos heuning,

my bruid.

As jy praat, is dit so heerlik

soos heuning en melk.

Jou klere ruik so lekker

soos die Libanon.

12 “My suster, my bruid,

is ’n tuin wat toegesluit is.

Sy is ’n fontein wat toegebou

en verseël is.

13 Sy is ’n pragtige boord

van granaatbome,

met uitsoekvrugte,

hennastruike en nardus,

14 nardus en saffraan,

kalmoes en kaneel

saam met

geurige kruie,

mirre en aalwyn,

saam met al die geurigste kruie.

15 Sy is ’n fontein in my tuin,

’n put

met borrelende vars water

wat van die Libanon af stroom.”

Jong vrou:

16 “Begin waai, noordewind,

kom, suidewind,

kom waai deur my tuin!

Waai sy geure aan

na my liefling

dat hy na sy tuin toe kan kom

om sy heerlike vrugte te eet.”

HOOGLIED 5

1 Jong man:

“Ek het na my tuin toe gekom,

my suster, liewe bruid.

Ek het my mirre,

my geurige kruie kom pluk.

Ek het my heuning kom eet,

my wyn en melk kom drink.”

Jong vroue van Jerusalem:

“Eet, vriende, drink;

word dronk van die liefde,

minnaar.”

Jong vrou:

2 “Een nag het ek gelê en slaap

en wakker geword

toe my liefling klop aan die deur.

Hy het gesê:

‘Maak vir my oop, my liefling,

my duif, my skat!

My kop is nat van die dou,

my hare is nat

van die nag se klammigheid!’

3 “Ek sê toe:

‘Ek het dan al klaar uitgetrek,

moet ek nou weer aantrek?

Ek het my voete al klaar gewas,

hoekom moet ek hulle

nou weer vuil laat word?’

4 “My liefling probeer toe

om die deur oop te maak.

Van opgewondenheid

het my hart gebons.

5 Ek het opgestaan

om oop te maak

vir my liefling.

My hande was nat

van parfuum,

en terwyl ek die deur oopsluit,

het mirre gedrup

van my vingers af.

6 “Ek het oopgemaak

vir my liefste,

maar hy het alreeds omgedraai

en weggeloop.

My hart wou gaan staan

toe hy gepraat het!

Ek het na hom gaan soek,

maar ek

kon hom nie kry nie.

Ek het na hom geroep,

maar hy

het nie geantwoord nie.

7 Die wagte wat

deur die stad gaan,

het my gekry.

Hulle het my geslaan,

my seergemaak.

Die wagte op die mure

het my tjalie geskeur.

8 “Vroue van Jerusalem,

wat sal julle vir my minnaar sê

wanneer julle hom teëkom?

Sê vir hom

dat die liefde my verteer.”

Jong vroue van Jerusalem:

9 “Wat is dan anders

aan jou beminde,

o mooiste vrou?

Wat is dan anders

aan jou beminde

dat jy ons so smeek?”

Jong vrou:

10 “My liefling is pragtig.

Hy staan uit

bo duisende ander.

11 Sy voorkop

is soos skitterende goud.

Hy het golwende hare,

so swart soos dié van ’n kraai.

12 Sy oë is soos dié van duiwe

wat by die waterstrome bly,

gewas in melk

en soos juwele geset.

13 Sy wange is soos beddings

vol geurige kruie.

Sy lippe is soos lelies

wat drup van mirre.

14 Sy hande is soos stukke goud

met edelstene

daarin gemonteer.

Sy lyf is soos ’n stuk ivoor,

ingelê met saffiere.

15 Sy bobene

is soos marmerpilare

wat op goue voetstukke staan.

Dit lyk soos sederstompe,

spesiaal gekap

in die Libanon.

16 Sy mond smaak soet,

hy is begeerlik in alles.

So is my liefling, my vriend,

vroue van Jerusalem.”

HOOGLIED 6

1 Jong vroue van Jerusalem:

“Nou waarheen

sou jou liefling gegaan het,

mooiste van al die vroue?

Waarheen

het jou minnaar gegaan?

Ons sal jou help

om na hom te soek.”

Jong vrou:

2 “My liefste is af na sy tuin toe.

Hy is na die kruiebeddings

om sy skape in die tuine

te laat wei

en om lelies te pluk.

3 Ek behoort aan my liefste

en hy is net myne.

Hy laat sy skape

tussen die lelies wei.”

Jong man:

4 “My minnaar,

jy is so mooi soos Tirsa,

net so pragtig soos Jerusalem.

Jy is so indrukwekkend

soos ’n afdeling soldate

wat die vaandel dra.

5 Moenie in my oë kyk nie,

want dit oorweldig my.

Jou hare is soos ’n trop bokke

wat afkom

teen die Gileadberge.

6 Jou tande is so wit soos skape

wat nou net gewas is.

Elkeen het tweelinge

en nie een is alleen nie.

7 Jou wange agter jou sluier

is soos skywe granate.

8 Ek kan 60 koninginne,

80 byvroue,

selfs ontelbare jong vroue

tot my beskikking hê,

9 maar ek kies nog steeds

net my duif,

want my volmaakte is uniek.

Sy is haar ma se enigste dogter,

die appel van haar oog.

As die jong meisies haar sien,

bewonder hulle haar.

Selfs koninginne en byvroue

besing haar lof.

10 Hulle vra:

‘Wie is dit wat uitkom

soos die vroeë oggendlig,

wat helder skyn soos die maan,

skitter soos die son,

indrukwekkend is soos soldate

wat die vaandels dra?’

11 “Ek het afgegaan

na die neuteboord

om te gaan kyk

na die nuwe lewe van die lente.

Ek het gaan kyk

hoe die wingerde bot,

hoe die granaatbome bloei.

12 Voor ek my kon kry,

is ek by hom waar hy,

die belangrikste

van al my volksgenote,

in sy strydwa ry.”

Jong vroue van Jerusalem:

13 “Kom terug! Kom terug na ons,

meisie van Sulam!

Kom terug! Kom terug

dat ons weer na jou kan kyk!”

Jong man:

“Wat wil julle sien

aan die Sulammitiese meisie

waar sy dans

tussen die twee rye?”

HOOGLIED 7

1 Jong man:

“Dogter van ’n prins,

hoe pragtig is jou voete

in jou sandale.

Die rondings van jou heupe

is soos juwele

wat ’n kunstenaar

met sy hande gemaak het.

2 Jou naeltjie

is soos ’n ronde houer

waarin wyn nooit ontbreek nie.

Jou maag

is soos ’n hopie koring

wat omring is met lelies.

3 Jou twee borste

is soos

tweeling-takboklammers.

4 Jou nek

is so sierlik

soos ’n toring van ivoor.

Jou oë

is soos die poele

by Gesbon,

by die ingang na Bat-Rabbim.

Jou neus

is soos die toring

van die Libanon

wat uitkyk na Damaskus toe.

5 Jou kop

is soos die Karmelberg,

so statig op jou lyf.

Die hare op jou kop

is soos koninklike purper.

Jou haarlokke

betower ’n koning.

6 “Hoe mooi is jy!

Hoe bekoorlik is jy,

my liefste!

Hoe ’n plesier is jy!

7 Jou lenige lyf

is soos ’n palmboom,

jou borste soos druiwetrosse.

8 Ek het vir myself gesê:

‘Teen hierdie palmboom

wil ek uitklim

en sy dadeltrosse gryp.’

Laat jou twee borste vir my wees

soos druiwetrosse.

Laat jou asem vir my ruik

soos dié van appels,

9 jou mond soos goeie wyn

wat tussen lippe en tande

glad na binne vloei.”

Jong vrou:

10 “Ek behoort

net aan my liefling.

Hy smag na my.

11 Kom, my liefste,

kom ons gaan uit na die veld,

kom ons gaan slaap

tussen die lelies.

12 Môre-oggend vroeg

gaan ons na die wingerde toe

om te kyk of dit al bot,

of die botsels al oop is,

en of die granaatbome al bloei.

Daar gee ek jou my liefde.

13 Liefdesappels

versprei hulle geur,

en by ons deur

is daar vrugte, vars en ryp.

My liefling,

ek het hulle net vir jou gebêre.”

HOOGLIED 8

1 “Was jy nou maar net my broer!

Het jy ook maar

aan my ma gedrink,

dan kon ek sonder skaamte

jou soen

as ek jou buite teëkom.

2 Ek kon jou dan bring

na my ma se huis,

sy wat my kon leer

hoe om lief te hê.

Ek sou jou laat drink

van my kruiewyn,

van my soet granaatwyn.

3 Sy linkerarm is onder my kop.

Met sy regterarm

omhels hy my.

4 “Belowe my,

vroue van Jerusalem,

dat julle nie die liefde

sal aanblaas

voordat die tyd daarvoor

ryp is nie.”

Jong vroue van Jerusalem:

5 “Wie kom daar uit die woestyn

terwyl sy leun

op haar beminde?”

Jong vrou:

“Onder die appelboom

het ek jou opgewek,

daar waar jou ma

jou in die wêreld gebring het,

waar sy met pyn

aan jou geboorte gegee het.

6 Hou my vas teen jou,

soos die seëlring op jou bors,

soos die seëlring

aan jou vinger.

Liefde is so sterk soos die dood.

Liefdesdrif so magtig

soos die doderyk.

Dit brand soos ’n vuurvlam

wat alles verteer.

7 ’n Stroom water

kan die liefde nie blus nie.

Riviere kan dit nie wegspoel nie.

Selfs al wil iemand liefde koop

met alles wat hy besit,

sal hy net uitgelag word.”

Jong vrou se broers:

8 “Ons sussie is nog baie jonk.

Borste het sy nog nie.

Wat gaan ons doen die dag

as iemand vra

om met haar te trou?

9 As sy ’n muur was,

het ons ’n silwertoring

rondom haar gebou.

As sy ’n deur was,

het ons haar afgehok

met sederplanke.”

Jong vrou:

10 “Ek is ’n muur.

My borste is al soos torings.

My beminde is tevrede met my.

11 “Salomo besit ’n wingerd

in Baäl-Hamon.

Hy huur dit uit aan mense

wat die wingerd bewerk.

Daarvoor betaal hulle hom elkeen

11 000 gram silwer.”

12 Maar ek werk alleen in my wingerd.

Salomo,

hou maar die 11 000 gram silwer

vir jouself

en gee 2 200 gram silwer

vir die mense

wat in die wingerd werk.”

Jong man:

13 “Jy wat in die tuine woon,

jou vriende luister na jou stem.

Laat my ook jou stem hoor!”

Jong vrou:

14 “Maak gou,

my liefling.

Kom na my toe

so vinnig soos ’n ribbok,

soos ’n jong takbok

in die kruieberge!”