HEBREËRS 12

Met die oog vasgenael op Jesus

sal ons nie uitsak nie

1 Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,

2 ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

3 Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

Onthou: swaarkry is deel van

God se opvoedingsprogram

4 Julle het in die geveg teen die sonde nog nie tot die dood toe teenstand gebied nie.

5 Julle het ook vergeet van die woord van aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word:

“My kind, jy moet dit nie geringskat

as die Here jou dissiplineer nie.

Moenie ontmoedig word as Hy

jou aanspreek nie.

6 Die Here dissiplineer juis

die mense vir wie Hy lief is;

Hy tug elkeen

wat Hy as sy kind aanneem.”

7 Wanneer God julle as sy kinders dissiplineer, verduur dit dan as deel van sy opvoedingsprogram. Watter kind word nie gedissiplineer nie?

8 As God julle nie dissiplineer soos Hy met al sy kinders doen nie, is julle nie regtig sy kinders nie, maar buite-egtelik.

9 Ons aardse vaders het ons gedissiplineer, en ons het hulle daarvoor gerespekteer. Sal ons ons dan nie nog veel eerder aan ons geestelike Vader onderwerp, en só waarlik lewe nie?

10 Ons vaders het ons vir ’n kort tydjie gedissiplineer soos hulle dit goedgevind het, maar God doen dit beslis tot ons beswil, met die doel om ons te laat deel in sy heiligheid.

11 Elke vorm van tug lyk vir ons op die oomblik meer na ’n rede vir trane as vir blydskap, maar later sal dit vir hulle wat daardeur gedissiplineer is, ’n vredevolle oes oplewer van ’n lewe volgens die wil van God.

12 Versterk daarom daardie hande wat slap geword het en die knieë wat knak,

13 en maak julle hardloopbane reguit. Dan sal die lam ledemate nie ingee nie, maar eerder beter word.

Maak erns met God se roepstem

14 Doen julle bes om in vrede met almal te lewe en beywer julle om ’n toegewyde lewe te voer, want daarsonder sal julle nie eendag in die Here se teenwoordigheid kan kom nie.

15 Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se genade verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ’n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie.

16 Sorg dat niemand onder julle seksueel sondig of goddeloos optree soos Esau wat sy eersgeboortereg vir ’n skamele ete verkwansel het nie.

17 Julle weet hoe hy later, toe hy die seën wou hê, weggewys is. Dit was te laat vir egte berou. Selfs sy trane kon dit nie meer moontlik maak nie.

18 Anders as die Israeliete by Sinaiberg het julle nie by ’n fisiese berg aangekom met brandende vuur, donderwolke, donkerte, stormwind,

19 trompetgeskal en ’n stem wat praat nie – met die gevolg dat dié wat dit gehoor het, gesmeek het dat God nie verder met hulle moes praat nie.

20 God se opdrag dat selfs ’n dier wat die berg met sy poot aanraak, doodgegooi moes word, kon hulle nie hanteer nie.

21 Ja, so angswekkend was die aanskoue van alles dat Moses uitgeroep het: “Ek is absoluut verskrik, ek bewe van angs!”

22 Nee, julle het aangekom by Sionsberg, by die stad van die lewende God! Julle het aangekom by die hemelse Jerusalem, by die miljoene engele wat juigend feestelik bymekaar is,

23 en by die gemeente van God se kinders wie se name in die hemel opgeskryf staan. Julle het gekom by God, die Regter oor almal, en by die geeste van die verlostes wat nou volkomenheid bereik het.

24 Ja, julle het aangekom by Jesus, die Middelaar van ’n nuwe verbond en by die verbondsbloed wat gesprinkel is en wat van iets beters getuig – so anders as die bloed van Abel wat om vergelding geroep het.

25 Pas op dat julle Hom wat met julle praat, nie ignoreer nie. As die Israeliete nie ongestraf kon wegkom toe hulle Hom wat sy stem op aarde laat hoor het, afgewys het nie, hoeveel minder sal ons kan wegkom as ons die stem uit die hemel afwys!

26 Destyds het God se stem van Sinaiberg af die aarde geskud. Maar nou kondig Hy aan: “Nog een keer sal Ek nie net die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel.”

27 Die “nog een keer” wys daarop dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, plek sal maak vir die onwankelbare, ewige dinge.

28 Daarom moet ons wat bevoorreg is om hierdie onwankelbare koninkryk te ontvang, dankbaar wees, en ons dankbaarheid daarin laat blyk dat ons God gelukkig maak deur Hom met eerbied en ontsag te dien.

29 Want daar staan ook: “Ons God is ’n verterende vuur.”

HEBREËRS 13

Aansporing om as Christene te

lewe

1 Julle moet mekaar steeds met ware broederliefde liefhê.

2 Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!

3 Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof julle dit aan julle eie liggaam voel.

4 Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring.

5 Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”

6 Daarom kan ons moed skep en antwoord:

“Die Here is my hulp;

daarom sal ek nie bang wees nie.

Wat kan ’n blote mens

my aandoen?”

7 Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God.

8 Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

9 Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. Dit is goed om deur God se genade versterk te word en nie deur die nakoming van kosvoorskrifte, wat in elk geval vir dié wat dit nagekom het, niks gebaat het nie.

10 Ons het ’n altaar om van te eet; dis ’n altaar waarvan die priesters in die aardse verbondstent nie die reg het om te eet nie.

11 Die hoofpriester bring die bloed van die offerdiere in die Allerheiligste in om as ’n offer vir die sonde te dien, maar hulle karkasse word buitekant die laer verbrand.

12 Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om sy volk met sy eie bloed aan God toe te wy.

13 Kom ons gaan dan uit na Hom toe buitekant die laer en ons dra saam aan die smaad wat Hy moes verduur.

14 Want ons het hier geen blywende stad nie; ons hunker na die komende stad van God.

15 Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely.

16 Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak.

17 Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe, want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie.

Slotopmerkings

18 Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree.

19 Ek vra veral dringend dat julle sal bid dat God my binnekort aan julle sal terugbesorg.

20 Mag die God wat vrede gee, wat Jesus ons Here uit die dood teruggebring het – Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het –

21 julle toerus met alles wat goed is sodat julle sy wil kan uitvoer. Mag Hy, deur Jesus Christus se bemagtiging, in ons tot stand bring wat God se hart sal bly maak. Aan Hom kom die heerlikheid toe vir altyd en altyd! Amen.

22 Ek vra julle mooi, broers en susters, luister geduldig na hierdie woord van aansporing. Ek het ook maar heel bondig aan julle geskryf.

23 Julle weet dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy binnekort hier by my opdaag, bring ek hom saam wanneer ek na julle toe kom.

24 Gee my groete aan al julle voorgangers en aan al God se mense. Die gelowiges uit Italië stuur vir julle groete.

25 Mag God se genade met julle almal wees.