HEBREËRS 1

1 God het deur Jesus Christus op

’n unieke manier met ons

Vroeër het God dikwels en op baie maniere deur die profete met ons voorvaders gepraat.

2 Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur sy Seun. God het Hom bestem om die erfgenaam van alles te wees; trouens, Hy het deur Jesus Christus ook die wêreld en alles wat daarin is, gemaak.

3 Die Seun weerkaats God se heerlikheid, en Hy is die presiese ewebeeld van wie God werklik is. Deur sy magtige bevel hou Hy die ganse heelal in stand. Nadat Hy gesterf het om ons van sondes te reinig, het Hy die posisie van eer en mag aan die regterhand van God ingeneem – dié God so vol majesteit wat in die hemel woon.

Jesus Christus as die Seun

oortref die engele verreweg

4 Jesus Christus is oneindig groter as die engele, net soos die erenaam van Seun wat Hy gekry het, baie heerliker is as dié van die engele.

5 God het tog nooit vir enige engel gesê wat Hy vir Jesus gesê het nie:

“Jy is my Seun.

Vandag het Ek jou Vader

geword.”

Op ’n ander plek sê God weer:

“Ek sal sy Vader wees,

en Hy sal my Seun wees.”

6 En wanneer God die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy:

“En laat al die engele van God

Hom aanbid.”

7 God sê van die engele:

“Hy verander sy engele in

stormwinde,

sy dienaars in vuurvlamme.”

8 Maar vir die Seun sê Hy:

“U troon, o God, staan vir altyd

onwankelbaar vas.

U koninklike heerskappy

word gekenmerk

deur regverdigheid.

9 U het lief wat reg is

en U haat wat verkeerd is.

Daarom het, o God, u God

U met jubelende vreugde

tot koning gesalf –

ver verhewe bo almal

saam met U.”

10 En verder:

“O Here, U het heel aan die begin

die fondamente

van die aarde gelê,

en die hemele is u handewerk.

11 Hierdie dinge sal vergaan,

maar U bly vir altyd.

Hulle sal almal

soos klere verslete raak.

12 Soos ’n oorkleed sal U hulle oprol;

soos ’n bo-kleed

sal hulle verander word.

Maar U bly steeds Uself

en U leef vir altyd.”

13 En God het nooit aan ’n engel gesê nie:

“Sit aan my regterhand

totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.”

14 Die engele is tog maar net diensknegte. Hulle is geestelike wesens wat God uitstuur in belang van daardie mense wat verlos gaan word.

HEBREËRS 2

Waarskuwing teen wegdryf

1 Ons moet dus baie styf vashou aan die boodskap wat ons gehoor het sodat ons tog nie dalk wegdryf nie.

2 Die woord wat God deur engele aan ons gegee het, het nog altyd onwrikbaar vasgestaan. Daarby is mense tereg gestraf vir elke oortreding van God se wet en elke daad van ongehoorsaamheid.

3 Hoe sal ons ontvlug as ons ons rug op so ’n groot saligheid draai – ’n boodskap wat ons Here Jesus eerste begin verkondig het en wat daarna deur dié wat Hom gehoor het, aan ons bekragtig is,

4 terwyl God dit nog verder bevestig deur tekens en wonderwerke, deur allerlei kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees toe te bedeel soos Hy dit goedvind.

Jesus het ons leidsman en broer

geword om by ons te staan

5 God het ook nie aan engele die beheer van die toekomstige wêreld waarvan ons praat, toevertrou nie.

6 Inteendeel, iemand het êrens soos volg getuig:

“Wat is die mens

dat U aan hom sou dink,

’n mensekind

dat U aan hom sou aandag gee?

7 Vir ’n klein rukkie

het U hom minder gemaak

as die engele;

U het hom met heerlikheid

en eer gekroon.

8 U het alles onder

sy beheer geplaas.”

Wanneer die Skrif sê “alles” is onder die mens se beheer geplaas, beteken dit werklik álles. Tog sien ons nou nog glad nie dat alles reeds onder die mens se beheer is nie.

9 Maar ons sien wel vir Jésus. Vir “’n klein rukkie” is Hý “minder gemaak as die engele”, maar nou is Hy “met heerlikheid en eer gekroon” omdat Hy vir ons die doodslyding deurgemaak het. Ja, Hy het deur God se genade vir elke mens gesterf.

10 God – wat alles gemaak het en op wie alles gerig is – wou baie mense deel laat kry aan die heerlikheid. Daarom was dit net gepas dat Hy hulle Voorganger – naamlik Jesus wat vir hulle die pad tot verlossing sou oopmaak – deur lyding volkome vir sy taak gereedmaak.

11 Nou is dit so dat sowel Jesus – dié Een wat geheilig is – as almal wat deur Hom geheilig word, dieselfde Vader het. Dit is waarom Jesus nie huiwer om hulle sy broers en susters te noem nie.

12 Want Hy sê vir God:

“Ek sal u Naam bekendmaak

aan my broers en susters.

Ek sal in u gemeente u lof

besing.”

13 Hy sê ook:

“Ek sal vas op Hom vertrou.”

En verder:

“Hier is Ek saam met die kinders

wat God My gegee het.”

14 Omdat hierdie “kinders” mense van vlees en bloed is, het Jesus ook ten volle mens net soos hulle geword. Want Hy kon net sterf as Hy ten volle mens was en Hy kon net deur self te sterf hom die nekslag toedien wat mag oor die dood gehad het – die duiwel.

15 Net op hierdie manier kon Hy dié vrymaak wat hulle lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny vasgevang gesit het.

16 Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie.

17 Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te verrig en die sondes van God se volk te versoen.

18 Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.

HEBREËRS 3

Jesus is Moses se meerdere

1 En nou, broers en susters – julle wat aan God behoort en vir die hemel bestem is – fokus nou skerp op hierdie Jesus van wie ons bely dat Hy Apostel en Hoofpriester is.

2 Hy was getrou aan God wat Hom aangestel het, net soos Moses getrou gedien het in God se hele huishouding.

3 Maar Jesus verdien baie groter erkenning as Moses, net soos die persoon wat ’n huis bou baie meer lof kry as die huis self.

4 Want elke huis het ’n bouer, maar God is die bouer van alles.

5 Moses was getrou in die hele huis van God, maar dan net as dienaar. Sy werk moes getuig van die waarhede wat God later sou uitspreek.

6 Maar Christus, as sy getroue Seun, was in bevel van die hele huis van God. Ons is daardie huis van God as ons met moed en vertroue bly vashou aan ons toekomsverwagting.

Ernstige waarskuwing teen ’n

houding van ongeloof

7 Julle moet dus luister wanneer die Heilige Gees die volgende sê:

“Vandag wanneer julle

sy stem hoor,

8 moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie,

toe hulle God se geduld

in die woestyn getoets het.

9 –

10 Dáár het julle voorvaders

my geduld beproef

ten spyte daarvan

dat hulle vir 40 jaar

my magtige dade aanskou het.

Daarom het Ek vir daardie geslag

kwaad geword

en gesê: ‘Hulle harte dwaal altyd

van My af weg.

Hulle wou nie doen

wat Ek van hulle verwag nie.’

11 Daarom het Ek in my toorn

onder eed verklaar:

‘Hulle sal nooit my land van rus

binnegaan nie.’”

12 Wees dan versigtig, broers en susters. Maak seker dat daar nie by enigeen van julle ’n verkeerde gesindheid van ongeloof posvat wat julle vervreem van die lewende God nie.

13 Julle moet mekaar van dag tot dag aanspoor, ja, so lank as wat die “vandag” nog bestaan, om te keer dat een van julle deur die verleidelikheid van die sonde verhard word.

14 Want as ons enduit stewig bly vashou aan die vertroue op God waarmee ons oorspronklik begin het, het ons deelgenote geword van alles wat aan Christus behoort.

15 Daarom moet julle nooit die vermaning vergeet nie:

“Vandag wanneer julle sy stem

hoor,

moet julle nie julle harte verhard

soos Israel gedoen het

toe hulle gerebelleer het nie.”

16 Wie was daardie mense wat gerebelleer het alhoewel hulle God se stem gehoor het? Was hulle nie die mense vir wie Moses uit Egipte gelei het nie?

17 En vir wie was God 40 jaar lank kwaad? Was dit nie die mense wat gesondig het en wat in die woestyn omgekom het nie?

18 Oor wie het God met ’n eed verklaar dat hulle nie sy land van rus sal binnegaan nie? Was dit nie juis hulle wat aan Hom ongehoorsaam was nie?

19 Ons sien dus dat dit juis as gevolg van hulle ongeloof was dat hulle nie in die land van rus kon ingaan nie.

HEBREËRS 4

’n Blye vooruitsig vir hulle wat

luister

1 God se belofte dat ons sy rus kan binnegaan, staan nog steeds. Daarom moet ons oppas dat dit nie dalk blyk dat een van julle langs die pad agtergebly het nie.

2 Want hierdie blye boodskap van ’n plek van rus het ons ook ontvang, net soos hulle. Dit het hulle egter niks gebaat nie omdat hulle die boodskap wat hulle gehoor het, nie geglo het nie.

3 Want net as ons glo, kan ons die rus binnegaan.

Ten opsigte van hulle wat nie geglo het nie, het God egter gesê:

“Daarom het Ek in my toorn

met ’n eed soos volg verklaar:

‘Hulle sal nooit my land van rus

binnegaan nie.’”

Dit is ten spyte van die feit dat God se rusplek alreeds gereed staan van die skepping van die wêreld af.

4 Ons weet dit is so, want die Skrif sê êrens van die sewende dag: “En God het op die sewende dag gerus van alles wat Hy gemaak het.”

5 In die ander gedeelte sê Hy weer: “Hulle sal nooit my land van rus binnegaan nie.”

6 God se plek van rus is dus beskikbaar, maar dié wat destyds die goeie tyding ontvang het, kon as gevolg van hulle ongeloof nie daar ingaan nie.

7 Gevolglik het God weer ’n dag bepaal om sy rus binne te kan gaan. Daardie dag is vandag. God het dit aansienlik later deur Dawid aangekondig, naamlik:

“Vandag wanneer julle sy stem

hoor,

moet julle nie julle harte verhard

nie.”

8 Hierdie nuwe rusplek was nie die land Kanaän waarheen Josua die Israeliete gelei het nie. Anders sou God nie later van ’n ander plek van rus gepraat het nie.

9 Daar wag dus nog ’n heel spesiale rus vir God se volk.

10 Want almal wat in hierdie rus van God ingaan, sal self rus van hulle moeitevolle arbeid, soos God ook van sy eie skeppingswerk gerus het.

11 Kom ons span dan alles in om daardie rus binne te gaan sodat nie-mand van ons dalk hulle slegte voorbeeld van ongehoorsaamheid volg en ook omkom nie.

Voor God en sy woord lê ons oop

en bloot

12 Die woord van God is vol lewenskrag en energie. Dit is skerper as ’n swaard wat twee skerp kante het. Dit sny diep tot binne-in ons innerlikste wese, tot in ons gewrigte en murg. Dit vlek ons diepste motiewe en oorwegings oop.

13 Voor God kan absoluut niks weggesteek word nie. Ons staan kaalgestroop en weerloos voor dié Een aan Wie ons verantwoording moet doen.

Ons Hoofpriester het verlossing

vir ons bewerk

14 Ons het dan nou ’n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.

15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.

16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

HEBREËRS 6

1 Kom ons hou op om oor en oor te konsentreer op die basiese aspekte van Christenskap. Kom ons gaan eerder verder en word geestelik volwasse. Dit behoort tog seker nie nodig te wees om nog ’n keer die fondament te lê deur te praat oor die noodsaaklikheid dat ons ons van ’n ongelowige leefwyse moet bekeer en in God moet glo nie.

2 Of oor die verskillende vorme van doop en die handoplegging, of die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

3 Daarom sal ons, as God dit toelaat, binnekort ons betoog voortsit.

4-6 Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot ’n bespotting.

7 As die grond die reën indrink wat gereeld daarop val en ’n goeie oes vir die landbouers voortbring, rus God se seën daarop.

8 Maar as dit net dorings en dissels oplewer, is dit nutteloos. God sal weldra sy vloek daaroor uitspreek en uiteindelik is dit bestem vir die vuur.

9 Maar, geliefdes, al praat ons so ernstig hieroor, is ons tog wat julle betref daarvan oortuig dat dit nie op julle van toepassing is nie. Ons is positief oor julle en glo dat julle verlos sal word.

10 God is nie onregverdig nie. Hy sal nie vergeet hoe hard julle vir Hom gewerk het nie: hoe julle julle liefde vir Hom betuig het deurdat julle julle medegelowiges gedien het en dit nog steeds doen nie.

11 Dit is ons hartsbegeerte dat elkeen van julle enduit dieselfde entoesiasme sal vertoon sodat julle toekomsverwagting bewaarheid kan word.

12 Dan sal julle nie traag raak nie. Inteendeel, julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoë besig is om te verkry wat God beloof het.

God se beloftes staan

onwrikbaar vas

13 Neem byvoorbeeld God se belofte aan Abraham. Omdat daar niemand groter as Hy self was by wie God ’n eed kon aflê nie, het Hy ’n eed by Homself afgelê deur te sê:

14 “Ek sal jou vir seker ryklik seën en Ek sal aan jou ’n baie groot nageslag gee.”

15 En so het Abraham volgehou en begin ontvang wat God beloof het.

16 Mense lê gewoonlik ’n eed af by iemand wat belangriker as hulleself is. Vir hulle is die eed dan absoluut bindend. Daar kan geen dispuut daaroor wees nie.

17 Omdat God bo alle twyfel vir hulle wat die belofte ontvang het, wou bewys hoe onwrikbaar vas sy besluit staan, het Hy dit met ’n eed gewaarborg. Hy het dus vir ons ’n belofte sowel as ’n eed gegee.

18 Hierdie twee dinge waarborg dat God sy woord sal hou. En so het ons wat onsself aan God toevertrou het, ’n kragtige aansporing om vas te hou aan die vooruitsig wat vir ons wink.

19 Hierdie vooruitsig is soos ’n betroubare en stewige anker – ’n anker wat onbeweeglik vasgemaak is in die Allerheiligste van die hemelse heiligdom, net agter die binneste gordyn.

20 Dít is tog waar Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan het – Hy wat ons ewige Hoofpriester geword het volgens die priesterorde van Melgisedek.

HEBREËRS 7

Die priesterskap van Melgisedek

oortref dié van die Leviete

1 Hierdie Melgisedek was koning van die stad Salem en ’n priester van God die Allerhoogste. Toe Abraham op pad terug was nadat hy die konings in ’n groot geveg verslaan het, het Melgisedek hom tegemoetgegaan en geseën.

2 Daarop het Abraham aan hierdie Melgisedek ’n tiende gegee van alles wat hy in die oorlog buitgemaak het. Sy naam Melgisedek beteken “koning van geregtigheid”. Hy is ook “koning van vrede” omdat die naam Salem “vrede” beteken.

3 Daar bestaan geen rekord van sy pa of ma of enige van sy voorouers nie – ook nie van sy geboorte of dood nie. Hy bly priester vir altyd en kan daarin vergelyk word met die Seun van God.

4 Oorweeg nou hoe belangrik hierdie Melgisedek moes gewees het. Selfs Abraham, die groot stamvader van Israel, het sy belangrikheid erken deur vir hom ’n tiende van sy oorlogsbuit te gee.

5 Die priesters, wat uit die nageslag van Levi is, word in die wet beveel om ’n tiende van die volk Israel in te vorder, alhoewel hulle hulle eie bloedverwante is en ook van Abraham afstam.

6 Maar Melgisedek, wat nie van Levitiese afstamming was nie, het nietemin ’n tiende van Abraham ontvang en hom, aan wie God sy beloftes gegee het, geseën.

7 Dit kan tog nie ontken word nie dat dit altyd die meerdere is wat die mindere seën.

8 In die geval van die Joodse priesterdom word tiendes aan sterflike mense betaal. Melgisedek is egter belangriker as hulle, want daar word van hom getuig dat hy voortlewe.

9 Ons kan dus so ver gaan om te sê dat, deur Abraham, Levi ook eintlik tiendes aan Melgisedek gegee het.

10 Want alhoewel Levi op daardie stadium nog nie gebore was nie, was hy reeds in Abraham se liggaam toe Melgisedek vir Abraham ontmoet het.

Waarom Christus se

hoofpriesterskap dié van

11 En verder: as die Levitiese priesterskap God se plan kon verwesenlik – die volk het tog met die oog op hulle die opdrag ten opsigte van die tiendes ontvang – waarom was dit dan vir God nodig om ’n ander priester, naamlik een uit die priesterorde van Melgisedek, te voorsien, een wat nie tot die priesterorde van Aäron en die Leviete behoort nie?

12 Wanneer die priesterskap verander, moet daar noodwendig ’n aanpassing van die wet plaasvind om daarvoor voorsiening te maak.

13 Want die Een van Wie ons praat, behoort tot ’n ander stam, ’n stam waarvan niemand ooit by die altaar diens gedoen het nie.

14 Ons weet tog almal dat ons Here uit die stam van Juda afkomstig was en dat Moses nooit enigiets gerep het oor priesters uit daardie stam nie.

15 Dit alles maak dit des te meer duidelik dat as daar ’n ander priester sou kom wat met Melgisedek ooreenstemming vertoon,

16 Hy nie sou verskyn volgens die ou vereiste van fisiese afkoms nie, maar in die krag van onvernietigbare lewe.

17 Die psalmdigter het dit soos volg uitgespel toe hy van Christus gesê het:

“Jy is priester vir ewig

volgens die priesterorde

van Melgisedek.”

18 Ja, die ou vereiste ten opsigte van die priesterskap is tersyde gestel omdat dit oneffektief en nutteloos was;

19 die wet kon glad nie God se doel verwesenlik nie. En toe het ’n baie beter vooruitsig verskyn, een waardeur ons daadwerklik in God se teenwoordigheid kan verskyn!

20 Boonop het God met ’n eed bevestig dat Christus vir altyd priester sal bly – iets wat nie in die geval van gewone priesters gebeur het nie.

21 Dis net vir Christus wat Hy gesê het:

“Die Here het ’n eed afgelê

en Hy sal dit nie herroep nie:

Jy sal vir ewig priester bly.”

22 Op grond van hierdie kragtige eed het Jesus die borg geword wat instaan vir die effektiwiteit van hierdie uitnemender verbond.

23 Nog ’n verskil tussen Jesus en die Levitiese priesterskap is dat daar onder die ou stelsel baie priesters was. Die dood het verhinder dat iemand vir altyd kon aanbly.

24 Maar Jesus bly priester vir altyd; sy priesterskap word nooit op iemand anders oorgedra nie.

25 Gevolglik kan Hy hulle wat deur Hom na God toe gaan, eens en vir altyd verlos. Ja, Hy leef vir altyd om hulle saak voor God te bepleit!

26 Hý is die baie spesiale soort hoofpriester wat ons nodig het, want Hy is heilig, sonder kwaad en onbevlek deur die sonde. Hy is nou verwyder van sondige mense en bevind Hom in die hoogste hemel.

27 Anders as die ander hoofpriesters, is dit nie vir Hom nodig om daagliks eers vir sy eie sondes en daarna vir die volk offers te bring nie. Want Hy het Homself eens en vir altyd aan die kruis geoffer!

28 Die mense wat deur die wet tot hoofpriesters aangewys word, gaan uiteraard gebuk onder menslike swakhede. Maar na die bedeling van die wet, het God sy Seun met ’n eed tot ewige en volmaakte Hoofpriester verklaar.

HEBREËRS 8

Christus is die Hoofpriester van

’n baie uitnemender verbond

1 Die hoofpunt van my hele betoog tot dusver is dat ons ’n baie spesiale Hoofpriester het wat plek ingeneem het op die hemelse troon, aan die regterhand van die Majesteit.

2 Daar doen Hy diens in die heiligdom, die ware hemelse tabernakel wat God self opgerig het, nie ’n mens nie.

3 En aangesien elke hoofpriester aangestel word om gawes en offers te bring, moet ons Hoofpriester ook iets hê om aan te bied.

4 As Hy nog hier op aarde was, sou Hy nie eers ’n priester kon wees nie omdat daar reeds priesters is wat die wetlike offers bring.

5 Hulle dien in ’n heiligdom wat maar net ’n kopie, ’n flou skadubeeld van die ware, hemelse heiligdom is. Want toe Moses aan die regmaak was om die tabernakel op te rig, het God aan hom die opdrag gegee: “Sorg dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat Ek vir jou op die berg gewys het.”

6 Maar nou het Jesus Christus ’n bediening verkry wat net soveel uitnemender is as wat Hy Middelaar is van ’n voortrefliker verbond, ’n verbond wat voortrefliker is omdat dit op voortrefliker beloftes berus.

7 As die eerste verbond perfek gewerk het, sou daar geen behoefte aan ’n tweede een gewees het nie.

8 God kritiseer die volk hieroor wanneer Hy verklaar:

“Daar kom ’n tyd, sê die Here,

dat Ek met Israel en Juda

’n nuwe verbond sal sluit.

9 Dit sal anders wees as die een

wat Ek met hulle voorouers

gesluit het

toe Ek hulle aan die hand gevat

en uitgelei het uit Egipte.

Hulle het nie aan my verbond

getrou gebly nie;

en Ek het my rug op hulle

gedraai.

10 Dít is nou die verbond

wat Ek hierna met die volk Israel

gaan sluit, verklaar die Here:

Ek sal my opdragte inskryf

in hulle verstand

en Ek sal dit in hulle harte

graveer.

Ek sal hulle God wees

en hulle sal mý volk wees.

11 En hulle sal nie nodig hê

om elkeen sy medeburger

te onderrig en vir sy broer te sê:

‘Jy moet die Here

leer ken’ nie.

Want elkeen van hulle,

van die kleinste tot die grootste,

sal My ken.

12 Ek sal My ontferm oor hulle

ongeregtighede

en Ek sal nooit weer

aan hulle sondes dink nie.”

13 Deur van ’n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.

HEBREËRS 9

Ons Hoofpriester dien in ’n baie

uitnemender heiligdom

1 Die eerste verbond het voorskrifte vir die erediens en ’n aardse heiligdom gehad.

2 Wat die aardse heiligdom betref: die verbondstent het twee vertrekke bevat. In die eerste een, dié een wat die Heilige genoem word, het die kandelaar en die tafel met die offerbrode gestaan.

3 Aan die agterkant van die Heilige was daar ’n tweede gordyn, en daaragter was die tweede vertrek wat bekend gestaan het as die Allerheiligste.

4 Daardie vertrek het die goue reukofferaltaar bevat en die ark van die verbond wat heeltemal met goud beklee was. Binne-in die ark was die goue kruik met manna, Aäron se kierie wat gebot het, en die kliptablette van die verbond waarop die Tien Gebooie gegraveer was.

5 Bo-op die ark het die glansende gerubs die deksel van die ark – die plek van versoening – met hulle vlerke oorskadu. Ek kan egter nie nou op die besonderhede ingaan nie.

6 Wat die erediensbepalings betref: Met alles so ingerig, het die priesters gereeld in die voorste vertrek van die verbondstent ingegaan om hulle dienste te verrig.

7 Maar in die agterste vertrek, die Allerheiligste, kon net die hoofpriester ingaan en dit net een keer per jaar – boonop altyd met bloed wat hy aan God moes offer vir sy eie sondes sowel as vir die sondes wat die volk in hulle onkunde begaan het.

8 Deur hierdie bepalings wys die Heilige Gees daarop dat die Allerheiligste nog nie vir almal oop was solank die voorste gedeelte van die verbondstent nog sy plek gehad het nie.

9 Die tekortkomings van die ou erediens bevat vir ons vandag ’n les deurdat gawes en offers gebring is wat nie vir die een wat dit bring ’n volkome skoon gewete kon gee nie

10 en net te doen gehad het met kos en drank en allerlei reinigingsgebruike – dinge wat net die uiterlike raak en wat net sou geld totdat God alles sou regstel.

11 Maar nou het Christus as Hoofpriester gekom om al God se weldade te bedien. Hy het daardie groot, volmaakte heiligdom in die hemel binnegegaan wat nie die handewerk van mense is nie, en dus nie deel uitmaak van hierdie skepping nie.

12 Eens en vir altyd het Hy met bloed in die Allerheiligste ingegaan, maar nie met die bloed van bokke en kalwers nie, nee, Hy het met sy eie bloed daar ingegaan en vir ons ’n ewige verlossing bewerk.

13 Onder die ou stelsel kon die bloed van bokke en bulle en die as van ’n vers, wanneer dit oor mense gesprinkel word, hulle liggame van rituele besoedeling reinig.

14 Hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die werking van die ewige Gees as ’n volkome offer aan God geoffer het, ons gewetens skoon was van die las van dade wat tot die dood lei sodat ons die lewende God kan dien!

15 Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat geroep is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het. Want Christus het gesterf om hulle te verlos van die straf op die oortredings wat onder die eerste verbond begaan is.

16 As iemand sterf en hy laat ’n testament na, kry niemand enigiets voordat die testateur werklik as dood bewys is nie.

17 ’n Testament word tog eers geldig by afsterwe; solank die testateur nog lewe, het dit geen regsgeldigheid nie.

18 Dit verduidelik ook waarom die eerste verbond nie sonder bloed ingestel is nie.

19 Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk voorgehou het, het hy die bloed van kalwers en bokke met water verdun en sowel die wetboek as die hele volk met behulp van rooi wol en hisoptakkies besprinkel.

20 Daarop het hy verklaar: “Hierdie bloed bekragtig die verbond wat God met julle gesluit het.”

21 En op dieselfde manier het hy bloed gesprinkel op die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens.

22 Ons kan inderdaad sê dat volgens die wet feitlik alles met bloed gereinig word. Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis van sonde plaas nie.

23 Dit is waarom die aardse verbondstent en alles daarin – wat maar net afbeeldings van die dinge in die hemel is – met die bloed van diere gereinig moes word. Maar die hemelse dinge self het ’n baie beter soort offerande as hierdie nodig gehad.

24 Christus het immers tot in die hemel self ingegaan om nou as ons voorspraak voor God te verskyn. Hy het nie in die aardse heiligdom ingegaan nie – dit is tog maar net ’n namaaksel van die ware een.

25 Hy het ook nie in die hemel ingegaan om Homself oor en oor te offer soos die aardse hoofpriester jaar na jaar in die Allerheiligste moes ingaan om die bloed van diere te offer nie.

26 Anders sou Christus mos telkens weer moes sterf van die begin van die wêreld af! O nee, Hy het nou, met die voleinding van die tye, eens en vir altyd verskyn om deur sy offer die sonde vir altyd weg te neem.

27 Soos elke mens bestem is om net een keer te sterf en daarna kom die oordeel,

28 net so is Christus ook net een keer geoffer om baie mense se sonde weg te neem. Hy sal weer kom, maar dan nie met die oog op die verlossing van sonde nie. Hierdie keer sal Hy verskyn om almal wat gretig na sy koms uitsien, finaal te verlos.

HEBREËRS 10

Christus se offer oortref dié van

die ou verbond

1 Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig nie.

2 As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring.

3 Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes,

4 want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik die sondes wegneem.

5 Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar:

“Diere- of graanoffers is nie

wat U wou hê nie,

maar die liggaam wat U

vir My voorberei het.

6 U was nie tevrede met brandoffers

of sonde-offers nie.

7 Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het

gekom, o God,

om u wil uit te voer –

so staan dit van My

in die Skrif geskryf.’”

8 Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word.

9 Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang.

10 Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is.

11 Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie.

12 Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit.

13 Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het.

14 Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig.

15 Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar:

16 “Dít is nou die verbond

wat Ek hierna met die volk Israel

gaan sluit, verklaar die Here:

Ek sal my opdragte inskryf

in hulle harte

en Ek sal dit

in hulle verstand graveer.”

17 Dan voeg Hy daarby:

“Ek sal aan hulle sondes

en hulle oortredings

nooit weer dink nie.”

18 Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.

Kom ons hou vas aan wat ons

Hoofpriester vir ons verwerf het

19 Broers en susters, ons het dus nou deur die bloed van Jesus volle vrymoedigheid om in die hemelse heiligdom in te gaan.

20 Hy het hierdie nuwe, lewegewende pad wat deur die binneste voorhangsel tot by God gaan, vir ons oopgemaak deur vir ons te sterf.

21 Wat meer is, ons het ’n groot priester wat toesig hou oor die huis van God.

22 Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water.

23 Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het.

24 Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade.

25 En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.

26 As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie.

27 Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer.

28 Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak.

29 Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade beledig het.

30 Ons ken tog die Een wat gesê het:

“Ék sal die straf voltrek,

Ek sal die kwaad vergeld.”

En verder:

“Die Here sal oor sy volk oordeel.”

31 Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.

Hou aan volhard in die geloof

32 Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het.

33 Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is.

34 Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het.

35 Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in.

36 Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het.

37 Nog net, soos die Skrif sê,

“’n baie kort tydjie,

en Hy wat op pad is, sal kom.

Hy sal nie talm nie.

38 Dié mense wat my wil doen,

sal uit die geloof lewe.

Maar dié wie se moed

hulle begewe –

van hulle wil Ek niks weet nie.”

39 Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.

HEBREËRS 11

Rolmodelle van

geloofsvolharding

1 Wat is geloof dan? Dit is ’n vaste versekering dat die dinge waarna ons uitsien, inderdaad sal gebeur. Dit is die bewys dat God die dinge wat ons nog nie kan sien nie, waar sal maak.

2 Juis op grond van hierdie geloof word daar so positief oor die mense van vroeër getuig.

3 Omdat ons glo, verstaan ons dat God, deur net ’n woord te spreek, die ganse heelal geskep het. Dit wat ons nou kan sien, het dus nie uit sigbare dinge ontstaan nie.

4 Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons.

5 Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra.

6 As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon.

7 Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang.

8 Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland.

9 Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het.

10 Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het.

11 Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom.

12 En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand.

13 Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is.

14 Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland.

15 As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek.

16 Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei.

17 Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het,

18 aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.”

19 Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang.

20 Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen.

21 Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het.

22 Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die Israeliete se uittog uit Egipte en opdrag gegee dat hulle sy beendere moes saamneem.

23 Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie.

24 Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan.

25 Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde.

26 Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee.

27 Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou.

28 Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie.

29 Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink.

30 Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort.

31 Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie.

32 Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.

33 Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop,

34 die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan.

35 Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang.

Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry.

36 Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap.

37 Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel.

38 Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond.

39 En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie.

40 Die rede daarvoor is dat God met ons in gedagte iets beters beoog het sodat hulle nie sonder ons volmaaktheid sou bereik nie.