HANDELINGE 21

Paulus reis oor Tirus en Sesarea

Jerusalem toe

1 Nadat ons van die Efese-ouderlinge afskeid geneem het, het ons reguit na die eiland Kos gevaar. Die volgende dag is ons na Rodos en daarvandaan na Patara.

2 Toe het ons ’n skip gekry na Fenisië.

3 Ons het die eiland Siprus in sig gekry en is Sirië toe terwyl ons Siprus aan ons linkerkant verbygevaar het. In Tirus het ons afgeklim, want die skip moes sy vrag daar aflaai.

4 Ons het die gelowiges daar opgesoek en sewe dae gebly. Deur die Gees gedring het hulle vir Paulus gesê om nie Jerusalem toe te gaan nie.

5 Ná ’n week moes ons vertrek en verder reis. Die hele gemeente, vroue en kinders ingesluit, is saam met ons strand toe, buitekant die stad. Daar het ons gekniel en gebid

6 en mekaar gegroet. Ons het toe aan boord gegaan, en hulle is terug huis toe.

7 Ons het van Tirus af die seereis voortgesit na Ptolemaïs. Daar het ons die gelowiges gegroet en ’n dag by hulle gebly.

8 Die volgende dag het ons vertrek en in Sesarea aangekom. Ons het by die evangelis Filippus, een van die sewe, tuisgegaan.

9 Hy het vier ongetroude dogters gehad met die gawe om te profeteer.

10 Ons was reeds ’n hele paar dae daar toe ’n profeet met die naam Agabus van Judea af daar aankom.

11 Toe hy ons kom opsoek, het hy Paulus se belt gevat en sy eie voete en hande daarmee vasgebind. Toe sê hy: “Só sê die Heilige Gees: ‘Die man wie se belt dit is hierdie – die Jode in Jerusalem sal hom net so vasbind en hom in die hande van nie-Jode uitlewer.’”

12 Toe ons dit hoor, het ons en die plaaslike gelowiges Paulus gesmeek om nie Jerusalem toe te gaan nie.

13 Sy reaksie was egter: “Waarom wil julle my hart sag maak met julle huilery? Julle weet mos ek is bereid om ter wille van die Naam van die Here Jesus nie net in Jerusalem gevange geneem te word nie, maar selfs ook te sterf.”

14 Toe hy nie tot ander insigte gebring kon word nie, het ons met dié woorde berus: “Laat dan die wil van die Here geskied.”

Paulus kom in Jerusalem aan

15 Hierna het ons opgepak en Jerusalem toe vertrek.

16 Party van die gelowiges het van Sesarea af saam met ons gegaan. Hulle het ons na Mnason toe gevat, wat oorspronklik van Siprus afkomstig was, en wat reeds van vroeg af ’n gelowige was. By hom sou ons tuisgaan.

17 Die gelowiges in Jerusalem het ons hartlik ontvang.

Paulus besoek Jakobus in

Jerusalem

18 Die volgende dag is Paulus saam met ons na Jakobus toe. Al die ouderlinge was by.

19 Ná Paulus hulle gegroet het, het hy in besonderhede vertel wat God onder die nie-Jode deur sy bediening gedoen het.

20 Toe hulle dit hoor, het hulle God geprys. Hulle het egter vir Paulus gesê: “Jy sien, broer, daar is hoeveel duisende van dié wat gelowiges geword het wat Jode is, en hulle is almal ywerige toepassers van die wet.

21 Die gelowiges hier in Jerusalem het gehoor dat jy al die Jode wat onder die nie-Jode woon, leer om die wet van Moses te ignoreer. Hulle beweer jy leer hulle om nie meer hulle kinders te laat besny nie en om nie die ander Joodse gebruike te onderhou nie.

22 Wat nou? Hulle sal beslis te hore kom dat jy nou hier is.

23 “Ons het ’n voorstel. Ons het vier mans hier wat ’n gelofte afgelê het en nou die nodige by die tempel moet gaan doen.

24 Vat hulle tempel toe en gaan saam met hulle deur die reinigings-handeling en betaal vir hulle haarsny. Dan sal almal weet dat die stories wat oor jou versprei word, nie waar is nie, maar dat jy self die Joodse wet nakom en onderhou.

25 “Wat betref die gelowiges wat vroeër nie-Jode was – ons het laat weet dat ons besluit het hulle moet hulle onthou van afgodsoffers, bloed, van iets wat verwurg is, en van seksuele sondes.”

Paulus word by die tempel

gearresteer

26 Paulus het toe die voorstel opgevolg en die volgende dag saam met die mans die reinigingshandeling verrig. Hy het tempel toe gegaan en kennis gegee van die datum waarop die reinigingstydperk verby sou wees, en die offer vir elkeen van hulle gebring sou word.

27 Die sewe dae reinigingstyd was amper om toe Jode van die provinsie Asië vir Paulus by die tempel sien en ’n hele skare teen hom aanhits. Hulle het Paulus gegryp

28 en geskreeu: “Al julle Israeliete, kom help! Hier is die man wat deur sy onderrig almal oral teen ons volk en teen ons wet en teen die tempel beïnvloed. Nou het hy boonop nog Grieke hier ingebring en hierdie tempel wat aan God gewy is, ontheilig!”

29 (Hulle het kort tevore Trofimus, ’n nie-Jood van Efese, saam met Paulus in die stad gesien en verkeerdelik die afleiding gemaak dat Paulus hom in die tempel ingebring het.)

30 Die hele stad het in beroering gekom en ’n betoging het begin. Hulle het Paulus by die tempel uitgesleep, en die deure is dadelik toegesluit.

31 Hulle het hom probeer vermoor toe die offisier oor duisend man van die Romeinse garnisoen hoor dat die hele Jerusalem in oproer is.

32 Hy het onmiddellik met soldate en offisiere op hulle afgestorm. Toe die betogers die offisier oor duisend man en sy soldate sien kom, het hulle opgehou om Paulus aan te rand.

33 Die offisier het Paulus toe gearresteer en hom met twee kettings laat boei. Hy vra toe die betogers wie die man is en wat hy gedoen het.

34 Sommige het dít en ander weer dát geskreeu. Daar was só ’n rumoer dat hy nie kon uitvind wat presies aan die gang is nie. Gevolglik het hy beveel dat Paulus kaserne toe gevat moes word.

35 Toe Paulus by die trappe kom, moes die soldate hom dra, só gewelddadig het die skare geword.

36 ’n Klomp is agterna en het geskreeu: “Weg met hom!”

Paulus spreek ’n Joodse skare toe

37 Net voor Paulus die barakke ingebring is, sê hy vir die offisier: “Verskoon my, kan ek u iets vra?”

“Ken jy tog nie Grieks nie!” reageer die offisier.

38 “Dan is jý nie die Egiptenaar wat onlangs ’n opstand gelei en met 4 000 ekstremiste die woestyn in getrek het nie?”

39 “Ek,” het Paulus geantwoord, “is ’n Jood van Tarsus in Silisië, ’n burger van ’n belangrike stad. Ek versoek u: Laat my toe om die mense toe te spreek.”

40 Die offisier het ingewillig, en Paulus het op die trappe gaan staan en met sy hand vir die mense beduie om stil te bly. Dit het doodstil geword, en hy het hulle in Aramees, hulle moedertaal, toegespreek.

HANDELINGE 22

1 “Geagte broers en vaders, luister na my verdediging teenoor julle oor hierdie saak.”

2 Toe hulle hoor dat hy hulle in Aramees toespreek, het hulle nog stiller geword.

3 Hy gaan toe voort: “Ek is ’n Jood wat in Tarsus in Silisië gebore is, en hier in Jerusalem het ek grootgeword en my opvoeding by Gamaliël gekry. Aan sy voete het ek geleer om ons Joodse wet streng na te kom. Ek het ’n kampvegter vir God geword, net soos julle almal vandag is.

4 Ek het jag gemaak op “Die Pad” tot die dood toe. Mans én vroue het ek gearresteer en in tronke laat stop.

5 “Só kan selfs die hoofpriester vir my getuig, en die hele Joodse Raad. Van hulle het ek selfs briewe aan ons volksgenote in Damaskus gekry om ook dáár hierdie mense te gaan arresteer en vir strafoplegging Jerusalem toe te bring.

6 “Juis toe ek op pad was, sommer naby Damaskus, het daar teen die middag skielik ’n sterk lig uit die hemel om my gestraal.

7 Ek het op die grond neergeval en ’n stem vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’

8 ‘Wie is U, Meneer?’ het ek gereageer. ‘Ek is Jesus van Nasaret,’ het Hy my geantwoord. ‘Dit is vir Mý wat jy vervolg.’

9 Die mense saam met my het wel die lig gesien, maar nie die stem gehoor van Hom wat met my praat nie.

10 Toe vra ek: ‘Wat moet ek doen, Here?’ Die Here sê toe vir my: ‘Staan op en gaan Damaskus binne, en dáár sal alles wat God bepaal het dat jy moet doen, aan jou meegedeel word.’

11 “Ek is deur my reisgenote Damaskus aan die hand binnegelei, want die helder lig het gemaak dat ek niks kon sien nie.

12 ’n Man met die naam Ananias het daar gebly. Hy het nougeset volgens die Joodse wet gelewe, en by al die Jode dáár ’n goeie naam gehad.

13 Hy het na my toe gekom, by my kom staan en vir my gesê: ‘Saul, broer, sién weer!’ En oombliklik is my sig herstel en het ek hom gesien!

14 “Toe sê hy: ‘Die God van ons voorvaders het jou uitgekies om sy wil te ken, en om die Regverdige te sien en Hom te hoor praat.

15 Jy sal inderdaad vir alle mense sy getuie wees van wat jy gesien en gehoor het.

16 En nou, waarom nog wag? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas. Jy het mos sy Naam aangeroep.’

17 “Ek is terug Jerusalem toe, en terwyl ek by die tempel besig was om te bid, het ek ’n buitengewone geestelike ervaring gehad.

18 Ek het die Here gesien en Hy het vir my gesê: ‘Maak gou! Gee dadelik pad uit Jerusalem. Hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie.’

19 “Toe het ék teëgestribbel: ‘Maar, Here, hulle weet dat ék die man is wat oral in die sinagoges die mense wat in U glo, gearresteer en laat slaan het.

20 En toe u getuie Stefanus vermoor is, het ek self hulle ondersteun. Ek het sy moordenaars se klere opgepas!’

21 Toe sê die Here vir my: ‘Gáán! Ék wil jou ver weg stuur, na die nie-Joodse nasies toe.’”

22 Die skare het na hom geluister tot op hierdie punt, en toe het hulle uit een mond begin skreeu: “Weg van die aarde af met so ’n vent! Só iemand behoort verseker nie te bly lewe nie!”

23 Hulle het aanhou skreeu, hulle bo-klere uitgepluk en stof in die lug opgegooi.

Paulus noem dat hy Romeinse

burgerskap het

24 Die offisier oor duisend man het Paulus toe die kaserne laat inbring en bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom sy misdaad te laat bely. Die offisier wou agterkom hoekom die skare Paulus so uitgejou het.

25 Hulle het hom klaar met rieme vasgebind gehad vir die géseling toe Paulus vir die offisier oor honderd man wat daar naby staan, vra: “Is dit wettig dat julle ’n Romeinse burger gésel, en boonop nog sonder verhoor?”

26 Die offisier oor honderd man gaan toe na die offisier oor duisend man en vra: “Wat is u van plan om te doen? U moet besef hierdie man is ’n Romeinse burger!”

27 Die offisier oor duisend man gaan vra toe vir Paulus: “Sê vir my, ís jy ’n Romeinse burger?”

“Ja,” het Paulus geantwoord.

28 “Ek is ook een,” het die offisier oor duisend man gereageer, “en hierdie burgerreg het my ’n klomp geld gekos!”

“Maar ék is as ’n burger gebore!” het Paulus gesê.

29 Die soldate wat hom moes gésel om hom te laat praat, het hom dadelik laat staan, en selfs die offisier oor duisend man het bang geword toe hy besef dat Paulus ’n Romeinse burger is en dat hy hom vir die géseling laat vasbind het.

Paulus stel sy saak voor die

Joodse Raad

30 Die offisier oor duisend man het die volgende dag sy boeie laat afhaal en die priesterhoofde en die hele Joodse Raad vir ’n vergadering opgeroep. Hy het Paulus laat inbring, want hy wou agterkom presies waaroor hy deur die Jode aangekla was.

HANDELINGE 23

1 Paulus het die Joodse Raad reguit in die oë gekyk en begin praat: “Geagte broers, met ’n absoluut goeie gewete het ek my lewe tot vandag toe in diens van God gelei!”

2 Toe het die hoofpriester Ananias die mense wat by Paulus staan, beveel om hom op die mond te klap.

3 Daarop sê Paulus vir hom: “God gaan jóú klap, jou skynheilige! Hier sit jý om my volgens ons wet te verhoor, maar in stryd met die wet beveel jy dat ek geklap moet word!”

4 Die mense by Paulus sê toe vir hom: “Dis die hoofpriester van God wat jy so uitskel!”

5 “Jammer, broers. Ek het nie besef hy is die hoofpriester nie,” het Paulus gereageer. “Daar staan inderdaad geskryf: ‘’n Leier van jou volk mag jy nie beledig nie.’”

6 Paulus het besef dat ’n deel van die Joodse Raad Sadduseërs was en ’n ander deel Fariseërs, en daarom roep hy toe in die raad uit: “Geagte broers, ek is ’n Fariseër en ek is uit ’n Fariseërfamilie. Dit is oor my toekomsverwagting oor die opstanding van die dooies dat ek verhoor word!”

7 Toe hy dit sê, het die Fariseërs en die Sadduseërs onder mekaar begin stry, en die vergadering het verdeeld geraak,

8 want die Sadduseërs sê daar is geen opstanding nie, en ook nie engele en geeste nie; die Fariseërs glo weer dat al drie bestaan.

9 ’n Hewige woordewisseling het toe ontstaan. Sommige van die skrifkenners uit die Fariseërparty het opgespring en baie heftig hulle saak gestel: “Ons vind niks slegs in hierdie man nie,” het hulle geskreeu. “Miskien het ’n gees of ’n engel met hom gepraat.”

10 Die bakleiery het só erg geword dat die offisier oor duisend man bang was dat hulle Paulus uitmekaar sou skeur. Daarom het hy sy eenheid beveel om hom tussen hulle te gaan uithaal en terug te bring kaserne toe.

11 Daardie nag het die Here by Paulus gestaan en vir hom gesê: “Hou moed! Net soos jy hier in Jerusalem oor My getuig het, só moet jy ook in Rome doen.”

’n Komplot word gesmee om

Paulus te vermoor

12 Toe dit dag word, het die Jode ’n komplot gesmee. Hulle het gesweer dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het nie.

13 Meer as 40 mense het só saamgesweer.

14 Hulle het na die priesterhoofde en die familiehoofde gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed verbind om nie aan iets te proe totdat ons Paulus dood het nie.

15 Julle en die Joodse Raad moet die offisier oor duisend man laat weet dat Paulus weer voor julle gebring moet word. Julle kan voorgee dat julle sy saak noukeuriger wil ondersoek. Ons is reg om hom voor sy aankoms permanent uit die weg te ruim.”

16 Paulus se susterskind het egter gehoor van die hinderlaag. Hy is na die kaserne toe en het by die barakke ingekom en Paulus ingelig.

17 Paulus roep toe een van die offisiere oor honderd man en sê vir hom: “Vat hierdie jong man na die offisier oor duisend man toe, want hy het iets om aan hom te rapporteer.”

18 Hy vat hom toe na die offisier oor duisend man toe en sê: “Paulus, die gevangene, het my geroep en my gevra om hierdie jong man na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te rapporteer.”

19 Die offisier vat hom toe aan die hand, gaan met hom eenkant toe en vra vir hom: “Wat is dit wat jy aan my wil rapporteer?”

20 Hy het geantwoord: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Paulus môre weer voor die Raad te bring, kwansuis om sy saak noukeuriger te ondersoek.

21 U moet u nie deur hulle laat oorreed nie, want meer as 40 mans uit hulle geledere lê hom voor om hom te vermoor. Hulle het gesweer dat hulle nie sal eet of drink voordat hulle hom permanent uit die weg geruim het nie. Hulle is gereed en wag nou net vir instemming van u kant af.”

22 Die offisier het hom toe dié opdrag gegee: “Moenie vir iemand sê dat jy dit vir my vertel het nie.” En hy het die jong man laat gaan.

Paulus word Sesarea toe gestuur

23 Die offisier oor duisend man het toe twee van die offisiere oor honderd man geroep en hulle beveel: “Maak 200 soldate, 70 perderuiters en 200 spiesvegters gereed om teen nege-uur vanaand Sesarea toe te vertrek.

24 Sorg dat daar rydiere vir Paulus is, en bring hom veilig by goewerneur Feliks.”

25 Toe skryf hy hierdie brief:

26 Claudius Lisias skryf aan die hooggeagte goewerneur Feliks. Groete!

27 Hierdie man is deur die Jode gearresteer en hulle was op die punt om hom te vermoor toe ek met my eenheid ingegryp het. Omdat ek agtergekom het dat hy ’n Romeinse burger is, het ek hom in beskerming geneem.

28 Ek wou uitvind wat hulle beskuldiging teen hom is, en het hom daarom voor hulle Raad gebring.

29 Ek het bevind dat die klag gaan oor twispunte in verband met hulle wet, verseker nie ’n klag wat die dood of tronkstraf verdien nie.

30 Toe ek verneem het daar is ’n komplot teen die man, het ek hom dadelik na u toe gestuur. Sy aanklaers het ek aangesê om hulle klagte teen hom aan u voor te lê.

31 Die soldate het ooreenkomstig hulle opdrag vir Paulus gevat en hom dwarsdeur die nag begelei tot in Antipatris.

32 Die volgende dag het hulle teruggekeer kaserne toe terwyl die berede soldate met hom Sesarea toe is.

33 Toe hulle in Sesarea aankom, het hulle die brief vir die goewerneur gegee en Paulus aan hom oorhandig.

34 Hy het die brief gelees en Paulus gevra van watter provinsie hy is. Hy hoor toe dat hy van Silisië af kom.

35 “Ek sal jou verhoor sodra jou aanklaers kom,” het die goewerneur gesê. Toe het hy beveel dat Paulus in die paleis van Herodes onder arres gehou word.

HANDELINGE 25

Paulus verskyn voor Festus

1 Drie dae na sy aankoms in die provinsie het Festus van Sesarea af opgegaan Jerusalem toe.

2 Die priesterhoofde en die leiers van die Jode het toe ’n verslag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het ’n beroep op hom gedoen

3 en van hom die guns gevra om Paulus Jerusalem toe te laat kom. (Hulle het ’n hinderlaag beplan om hom op pad permanent uit die weg te ruim.)

4 Festus het egter geantwoord dat Paulus in Sesarea aangehou word, en dat hy self van plan was om binnekort daarheen terug te vertrek.

5 “Dié onder julle,” het hy gesê, “wat die bevoegdheid daartoe het, kan dan saam met my gaan. As die man iets onwettigs begaan het, kan julle hom aankla.”

6 Hy het ongeveer agt dae, hoogstens tien, in Jerusalem deurgebring en toe afgegaan Sesarea toe. Die volgende dag het hy gereël dat die hof sit en Paulus laat haal.

7 Toe Paulus in die hof verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en hom van ’n hele klomp ernstige dinge beskuldig. Hulle kon egter niks bewys nie.

8 Paulus het hom toe verdedig: “Ek het niks teen die Joodse wet of die tempel of die keiser oortree nie.”

9 Maar Festus wou iets vir die Jode doen en sê toe vir Paulus: “Wil jy opgaan Jerusalem toe en dáár voor my oor hierdie dinge verhoor word?”

10 Paulus antwoord hom: “Nee! Voor die keiserlike regbank staan ek tereg. Dít is waar ek verhoor moet word. Ek het die Jode geen kwaad aangedoen nie. Dit weet u self baie goed.

11 As ek skuldig is en dinge gedoen het wat die dood verdien, probeer ek die dood nie ontduik nie. Aangesien alles waarvan hulle my beskuldig egter blote versinsels is, kan niemand my sommer maar net aan hulle uitlewer nie. Ek appelleer na die keiser!”

12 Festus het die saak met sy raad bespreek en toe geantwoord: “Jy het na die keiser geappelleer; na die keiser toe sal jy gaan!”

13 ’n Paar dae later het koning Agrippa en Bernice in Sesarea aangekom om Festus te verwelkom.

14 Hulle het ’n hele paar dae daar deurgebring, en Festus het Paulus se saak met die koning bespreek: “Hier is ’n gevangene wie se verhoor Feliks ná sy vertrek aan my oorgelaat het.

15 By my aankoms in Jerusalem het die priesterhoofde en die familiehoofde van die Jode my oor hom ingelig en van my ’n skuldigbevinding teen hom gevra.

16 Ek het hulle geantwoord dat dit nie die Romeinse gebruik is om iemand sommer net as guns uit te lewer nie. Die beskuldigde moet eers geleentheid kry om homself persoonlik in die teenwoordigheid van sy aanklaers te verdedig.

17 “Toe hulle vir die verhoor hierheen gekom het, het ek dus geen tyd gemors nie en die volgende dag die hofsitting gereël en die man laat haal.

18 Sy aanklaers het om hom gestaan en hom beskuldig, maar nie van ernstige misdade soos ék verwag het nie.

19 Hulle het dit gehad oor twisvrae in hulle eie godsdiens en oor ’n sekere Jesus wat dood is, maar van wie Paulus beweer dat hy lewe.

20 Ék het geen idee gehad hoe om hierdie tipe saak te ondersoek nie, en het hom daarom gevra of hy gewillig sou wees om Jerusalem toe te gaan en daar oor hierdie dinge verhoor te word.

21 Maar Paulus het geappelleer om onder arres te bly met die oog op ’n beslissing deur Sy Edele die Keiser. Ek het toe beveel dat hy onder arres bly totdat ek hom keiser toe kan stuur.”

22 “Ek sou self ook graag die man wou hoor,” sê Agrippa toe vir Festus.

Festus het geantwoord: “Môre sal jy hom hoor!”

Paulus stel sy saak voor

Agrippa

23 Die volgende dag het Agrippa gekom, en Bernice ook, met groot vertoon. Hulle het die saal binnegekom in geselskap van die generaals en die vooraanstaande inwoners van die stad. Op Festus se bevel is Paulus ingebring.

24 Toe sê Festus: “Koning Agrippa en al die mans hier saam met ons teenwoordig, julle sien hierdie man teen wie die hele Joodse gemeenskap in Jerusalem en hier plaaslik ’n aanklag by my aanhangig gemaak het. Hulle het geskreeu dat hy nie langer behoort te lewe nie.

25 My eie bevinding is egter dat hy niks gedoen het wat die dood verdien nie. Aangesien hy hom op Sy Edele die Keiser beroep het, het ek besluit om hom te stuur.

26 “Maar ek het nie iets spesifieks oor hom wat ek vir ons staatshoof kan skryf nie. Daarom het ek hom voor u gebring, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná die ondersoek iets kan hê om te skryf.

27 Na my oordeel is dit heeltemal sinloos om ’n gevangene te stuur sonder om die aanklag teen hom duidelik aan te dui!”

HANDELINGE 26

1 Agrippa rig hom toe tot Paulus: “Jy het geleentheid om jou saak te stel.”

Paulus het met sy hand beduie en sy verdediging begin:

2 “Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag juis voor u kan verdedig teen al die beskuldigings waarvan ek deur die Jode aangekla word,

3 veral omdat u soveel ondervinding het van al die Joodse gebruike en kwessies. Luister daarom asseblief geduldig na my!

4 “Al die Jode ken my lewenspad van jongs af. Van die begin af het ek my onder my volk in Jerusalem bevind.

5 Hulle weet dus al lankal, as hulle bereid is om daaroor te getuig, dat ek my lewe ingerig het ooreenkomstig die strengste party van ons godsdiens, naamlik die Fariseërparty.

6 En nou staan ek tereg oor my hoop op die belofte aan ons vaders, ’n belofte wat deur God self gegee is.

7 Dit is juis hierdie belofte wat ons volk se twaalf stamme hoop om te verkry, wat maak dat hulle God dag en nag met volle inspanning dien. En nou is dit oor hierdie hoop, U Majesteit, dat ek deur die Jode aangekla word!

8 Waarom is dit vir u almal so onmoontlik om te glo dat God dooies opwek?

9 “Ek self het gedink dat daar ’n verpligting op my lê om alles in my vermoë te doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.

10 En dis presies wat ek in Jerusalem gedoen het.

Met ’n mandaat van die priesterhoofde het ék baie van die gelowiges in tronke gestop, en wanneer daar oor hulle besluit moes word, het ek daarvoor gestem dat hulle permanent uit die weg geruim moes word.

11 Dikwels het ek hulle oral in die sinagoges lyfstraf laat kry om hulle te dwing om Jesus te vloek. Ek het só teen hulle tekere gegaan dat ek hulle selfs in buitelandse stede vervolg het.

12 Op ’n keer was ek hieroor op reis na Damaskus, met ’n mandaat en in opdrag van die priesterhoofde.

13 Dit was teen die middag, U Majesteit, toe ’n lig helderder as die son van die hemel af op my en my reisgenote geskyn het.

14 Ons het almal neergeval, en ek het ’n stem in Aramees vir my hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jouself net seer deur jou teen My te verset.’

15 “‘Wie is U, Meneer?’ vra ek toe.

“En die Here antwoord: ‘Ek is Jesus, dié Een wat jý vervolg.

16 Staan op! Ek het juis hiervoor aan jou verskyn om jou as my dienskneg en getuie aan te stel. Jy moet vertel hoedat jy My gesien het en van wat Ek jou nog sal laat sien.

17 Ek sal jou teen jou volk beskerm en teen die nie-Joodse nasies na wie toe Ek jou met volle mandaat stuur.

18 Jou bediening moet hulle oë oopmaak sodat hulle ’n lewensomkeer kan maak, weg van die duisternis na die lig, en weg van die mag van Satan na God. Deur in My te glo, ontvang hulle vergifnis van hulle sondes en word hulle deur die geloof deel van mý mense.’

19 “Dis hoekom, koning Agrippa, ek nie aan die gesig uit die hemel ongehoorsaam was nie.

20 Ek het eers vir die mense in Damaskus en in Jerusalem en toe deur die hele Judea en daarna vir die nie-Joodse nasies gepreek dat hulle tot inkeer moet kom en na God toe moet omdraai, terwyl hulle met hulle doen en late bewys dat hulle tot inkeer gekom het.

21 Oor hierdie prediking het sommige Jode my by die tempel gearresteer en probeer vermoor.

22 Tot vandag toe het God my beskerm, en daarom staan ek hier en getuig voor klein en groot. Ek verkondig niks anders as wat die profete en Moses gesê het gaan gebeur nie:

23 Die Messias moes ly en die eerste wees van die dooies wat opstaan. So sou Hy aan ons volk en aan die nie-Joodse nasies die lig verkondig.”

24 Terwyl hy nog só met sy verdediging besig was, skreeu Festus kliphard: “Jy’s van jou kop af, Paulus! Jou baie studies het veroorsaak dat jy van jou kop af geraak het!”

25 Maar Paulus sê: “Ek is nie van my kop af nie, hooggeagte Festus, maar die stellings wat ek maak, is waar en logies.

26 Die koning is verseker bewus van hierdie dinge, en met hom praat ek openhartig. Ek is doodseker dat niks hiervan sy aandag ontglip het nie, want dis nie iets wat êrens in ’n hoekie gebeur het nie!

27 Koning Agrippa, glo u die profete? Ek weet u glo … ”

28 Agrippa val Paulus in die rede: “Jy wil sommerso in ’n japtrap van my ’n Christen maak!”

29 “Of dit nou ’n oomblik of langer sou vat,” antwoord Paulus, “ek bid God dat nie net u nie, maar almal wat vandag na my luister, gelowiges sal word soos wat ek is, maar natuurlik net sonder hierdie boeie.”

30 Toe het die koning opgestaan, en ook die goewerneur en Bernice en dié wat saam met hulle daar gesit het.

31 Terwyl hulle uitgaan, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man doen niks wat die dood of tronkstraf verdien nie.”

32 Agrippa sê toe vir Festus: “Hierdie kêrel kon vrygelaat gewees het as hy nie na die keiser geappelleer het nie!”

HANDELINGE 27

Paulus per skip op pad Rome

toe

1 Toe daar besluit is dat ons per skip Italië toe moes reis, het hulle Paulus en ’n paar ander gevangenes aan Julius, ’n offisier oor honderd man van die keiserlike regiment, oorhandig.

2 Vir die vaart het ons aan boord gegaan van ’n skip van Adramittium wat by verskeie hawens van die provinsie Asië sou aandoen. Saam met ons was Aristargus, ’n Masedoniër van Tessalonika.

3 Ons het die volgende dag in Sidon aangekom. Julius was tegemoetkomend teenoor Paulus, en het hom toegelaat om na sy vriende toe te gaan om hom te voorsien van wat hy nodig het.

4 Ons het daarvandaan weggevaar en is aan die beskutte kant van Siprus verby omdat die winde teen ons was.

5 Ons het al langs die kus van Silisië en Pamfilië gevaar tot by Mira in Lisië.

6 Daar het die offisier ’n Aleksandrynse skip Italië toe gekry, en ons aan boord laat gaan.

7 Ons het ’n klompie dae lank maar stadig kon vorder en met moeite naby Knidus gekom. Toe die wind te erg teen ons geraak het, het ons onder Kreta verbygevaar, verby Salmone.

8 Ons het toe met moeite langs Kreta op gevaar en uiteindelik ’n plek met die naam Mooi Hawens bereik, naby die stad Lasea.

9 Ons het taamlik baie tyd verloor, en dit het al gevaarlik vir skeepvaart geword, want die winter het begin aanbreek. Paulus waarsku hulle toe:

10 “Manne, ek sien dat ons vaart gevaarlik gaan wees en dat daar nie net groot skade aan die vrag en die skip gaan kom nie, maar ook aan ons lewens.”

11 Die Romeinse offisier het egter meer waarde geheg aan die opinie van die skeepskaptein en die skeepseienaar as aan Paulus se woorde.

12 Die hawe was nie gerieflik om daar te oorwinter nie, en die meeste van die bemanning wou liewer daarvandaan wegvaar en Feniks probeer bereik om dáár te oorwinter. Feniks was ’n veilige hawe van Kreta omdat dit net na die suidwes- en noordweskant na die see toe oop was.

Die storm op see

13 ’n Ligte bries het uit die suide begin waai, en die bemanning het gedink dat hulle hulle plan sou kon uitvoer. Hulle het anker gelig en al langs die kus van Kreta gevaar.

14 Maar dit was nie lank nie toe slaan daar ’n stormwind bekend as die Noordooster van die land af toe.

15 Die skip is diepsee toe gedryf. Omdat dit onmoontlik was om die skip windop te hou, het ons ophou probeer, en ons is deur die wind voortgedryf.

16 Ons het onder ’n eilandjie met die naam Kauda verbygevaar en kon amper nie die reddingsbootjie van die skip (wat altyd op sleeptou was) onder beheer kry nie.

17 Nadat die matrose die reddingsbootjie aan boord gebring het, het hulle reddingstoue gebruik om die onderkant van die skip te verstewig. Omdat hulle bang was dat die skip op die sandbanke van die Sirtis sou vasval, het hulle die dryfanker uitgegooi en die skip só deur die wind laat dryf.

18 Toe die storm ons aanhoudend só erg teister, het hulle die volgende dag die skip se vrag oorboord begin gooi.

19 Die derde dag het hulle met hulle eie hande die skip se toerusting oorboord gegooi.

20 Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie en het die geweldige wind voortgewoed. Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word.

21 Vir ’n lang tyd het niemand sy mond aan kos gesit nie. Uiteindelik het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Mooi Hawens in Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade gespaar gewees het.

22 En nou vra ek julle: Hou moed! Daar sal verseker geen lewensverlies onder julle wees nie; net die skip sal tot niet gaan.

23 Verlede nag het daar ’n engel van die God aan wie ek behoort en wat ek dien, langs my gestaan

24 en vir my gesê: ‘Hou op bang wees, Paulus. Jy moet nog voor die keiser verskyn. En dis nie al nie – om jou ontwil spaar God almal wat hier saam met jou op die skip is.’

25 Daarom, hou moed, manne! Verseker vertrou ek op God dat alles presies só sal gebeur soos Hy vir my gesê het.

26 Ons moet op ’n eiland strand.”

Die skipbreuk

27 Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom.

28 Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter.

29 Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word.

30 Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak.

31 Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.”

32 Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval.

33 Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê.

34 “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle se koppe af verlore gaan nie!”

35 Nadat hy dit gesê het, het hy brood gevat, God voor almal gedank, ’n stuk afgebreek en begin eet.

36 Hulle het toe almal moed geskep en self ook begin eet.

37 (Ons was altesaam 276 mense op die skip.)

38 Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip nog ligter gemaak deur die res van die koringvrag oorboord te gooi.

39 Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand.

40 Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf.

41 Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek.

42 Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap.

43 Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal.

44 Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.

HANDELINGE 28

Paulus en sy reisgenote op die

eiland Malta

1 Nadat ons veilig aan wal gekom het, het ons uitgevind dat die eiland Malta genoem word.

2 Die inboorlinge was buitengewoon vriendelik teenoor ons. Dit het begin reën en dit was koud. Hulle het toe ’n vuur aangesteek en ons almal genooi om daar te kom sit.

3 Paulus het ’n klomp hout bymekaargemaak en op die vuur gegooi. Van die hitte het daar ’n slang uitgekom en hom aan sy hand gepik.

4 Toe die inboorlinge die gedierte aan sy hand sien hang, sê hulle vir mekaar: “Hierdie man is beslis ’n moordenaar. Al is hy uit die see gered, het geregtigheid hom nie toegelaat om te bly lewe nie.”

5 Paulus het egter die ongedierte in die vuur afgeskud en geen nagevolge gehad nie.

6 Hulle het verwag dat hy sou opswel of skielik morsdood neerslaan, maar nadat hulle ’n lang ruk gewag het en gesien het dat daar niks buitengewoons met hom gebeur nie, het hulle van mening verander en begin sê hy is ’n god.

7 Daar was ’n plaas in daardie omge-wing wat aan die hoof van die eiland, ’n man met die naam Publius, behoort het. Hy het ons ontvang en drie dae lank vriendelik as sy gaste gehuisves.

8 Dit het so gekom dat Publius se pa in die bed was, siek aan maagkoors. Paulus het na hom toe gegaan, en nadat hy gebid het, het hy sy hande op hom gesit en hom gesond gemaak.

9 Ná hierdie voorval het ook die ander siekes op die eiland gekom, en is hulle gesond gemaak.

10 Hulle het ons met baie eerbewyse oorlaai, en toe ons wou wegvaar, het hulle vir ons alles opgelaai wat ons nodig gehad het.

Van Malta af Rome toe

11 Na drie maande is ons daar weg met ’n skip wat by die eiland oorwinter het, ’n Aleksandrynse skip met die Dioskuri as boegbeeld.

12 Ons het by Sirakuse op die eiland Sisilië vasgemeer en drie dae daar oorgebly.

13 Daarvandaan het ons verder gevaar en in Regium gekom, heel in die suide van Italië. Na nog ’n dag het daar ’n suidewind begin waai, en op die tweede dag was ons in Puteoli.

14 Daar het ons gelowiges teëgekom wat ons uitgenooi het om sewe dae by hulle te bly. En só het ons Rome bereik.

15 Die gelowiges in Rome het van ons gehoor, en party van hulle het ons by die Appiusmark kom ontmoet en ander by die Drie Herberge. Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep.

Paulus in Rome

16 Na ons aankoms in Rome is Paulus toegelaat om op sy eie te woon met ’n soldaat wat hom bewaak.

17 Drie dae later het hy die Joodse leiers na hom toe uitgenooi. Toe hulle bymekaargekom het, het hy vir hulle gesê: “Geagte broers, ek het niks teen ons volk of teen die gebruike van ons voorvaders gedoen nie, en tog is ek as gevangene uit Jerusalem aan die Romeine uitgelewer.

18 Die Romeine het my verhoor en wou my loslaat omdat daar in my geval geen rede vir die doodstraf was nie.

19 “Maar omdat die Jode daarteen beswaar gemaak het, kon ek nie anders as om na die keiser te appelleer nie, alhoewel ek my volk nie van iets wil aankla nie.

20 Dit is dan die rede waarom ek u laat roep het om u te sien en met u te praat. Ek is in hierdie boeie omdat ek glo dat die hoop van Israel, die Messias, reeds gekom het.”

21 Toe sê hulle vir hom: “Ons het geen briewe oor jou van Judea af gekry nie, en nie een van ons broers het enige nuus gebring of iets kwaads van jou gesê nie.

22 Ons wil graag van jou hoor hoe jy oor die hele aangeleentheid dink, want ons verneem dat hierdie splintergroep oral omstrede is.”

23 Hulle het toe ’n dag met hom vasgemaak, en op daardie dag het daar nog meer mense na sy blyplek gekom. Van vroeg die môre tot laat die aand het Paulus vir hulle die koningsheerskappy van God verduidelik en daaroor getuig. Hy het hulle uit die wet van Moses en uit die profete probeer oortuig van Jesus.

24 Sy woorde het party oortuig, maar ander wou nie glo nie.

25 Toe ’n ernstige meningsverskil ontstaan, het hulle begin padgee. Paulus het egter nog vir oulaas een stelling teenoor hulle gemaak: “Hoe van toepassing is dit tog wat die Heilige Gees by monde van die profeet Jesaja vir julle voorvaders gesê het, naamlik:

26 ‘Gaan na hierdie volk toe

en sê:

Julle sal my woorde hoor

en tog nie verstaan nie.

Julle sal sien wat Ek doen,

en dit tog nie werklik

begryp nie.

27 Ja, die hart van hierdie volk

het verhard,

en hulle hoor swaar met hulle ore,

en hulle het hulle oë toegemaak

sodat hulle nie dalk

met hulle oë sien

en met hulle ore hoor

en met hulle hart begryp

en tot bekering kom

en Ek hulle gesond maak nie.’

28 “Van nou af moet julle goed besef dat hierdie verlossing van God nou vir die nie-Joodse nasies beskikbaar gestel word. En húlle sal luister.”

30 Paulus het ’n volle twee jaar lank in sy eie gehuurde huis gebly, en hy het almal ontvang wat by hom aangedoen het.

31 Hy het verkondig dat God as koning regeer, en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Hy het dit ongehinderd en met die grootste vrymoedigheid gedoen.