HANDELINGE 11

Petrus verantwoord hom voor

die gemeente in Jerusalem

1 Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat ook nie-Jode die woord van God aangeneem het.

2 Toe Petrus in Jerusalem aankom, het die Joodse gelowiges hom gekritiseer:

3 “Jy het nie-Jode besoek en jy het selfs saam met hulle geëet!”

4 Petrus het toe vir hulle alles mooi begin uiteensit.

5 “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geestesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, het uit die hemel afgekom. En dit het tot by my gekom.

6 Toe ek in die doek kyk, sien ek daarin allerhande aardse diere, wilde diere en reptiele, en ook voëls.

7 Toe hoor ek ’n stem wat vir my sê: ‘Staan op, Petrus! Slag en eet!’

8 “‘Nooit nie, Here!’ het ek geantwoord. ‘Iets wat onrein is, het nog nooit my mond binnegegaan nie.’

9 “’n Tweede keer het ’n stem uit die hemel gereageer: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.’

10 “Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.

11 Presies op daardie tydstip het drie mans wat van Sesarea af gestuur was, by die huis aangekom waar ons tuis was.

12 Die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moet gaan, en dat ek nie moet aarsel omdat hulle nie-Jode is nie. Ek het toe saam met hierdie ses medegelowiges gegaan, en ons het die man wat my laat haal het, se huis binnegegaan.

13 Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het wat vir hom sê: ‘Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal.

14 Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy verlos sal word, jy en jou hele huishouding!’

15 “Ek het net begin om die Goeie Nuus aan hulle te vertel, toe kom die Heilige Gees op hulle net soos op ons in die begin.

16 Toe dink ek aan die woorde van die Here toe Hy gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar júlle sal met die Heilige Gees gedoop word.’

17 Aangesien God dan dieselfde geskenk aan die nie-Jode gegee het as aan ons toe ons tot geloof in die Here Jesus Christus gekom het, watter reg het ék om God te keer?”

18 Toe hulle dit hoor, het hulle stil geraak. Hulle het God begin prys en gesê: “God het selfs nie-Jode tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

’n Gemeente ontstaan in

Antiogië

19 Dié wat uit Jerusalem gevlug het oor die vervolging ná Stefanus se dood, het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan. Hulle het die evangelie verkondig, maar net aan Jode.

20 Daar was egter sekere Sipriese en Sireniese mans wat in Antiogië gekom en ook aan die Griekssprekendes die Goeie Nuus verkondig het dat Jesus die Here is.

21 Die Here het hulle werk geseën sodat ’n groot aantal tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.

22 Toe die gemeente in Jerusalem hoor wat gebeur het, het hulle Barnabas Antiogië toe gestuur.

23 Toe hy daar kom en sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, was hy bly. Hy het hulle almal aangespoor om lojaal aan die Here te bly.

24 Barnabas was ’n goeie man, vol van die Heilige Gees en van geloof. ’n Aansienlike groep mense is na die Here toe gebring.

25 Barnabas is daarna Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek.

26 Toe hy hom kry, het hy hom Antiogië toe gebring. En so het dit gekom dat hulle twee ’n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en ’n taamlike klomp mense onderrig het. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.

Hulp aan die armes in Judea

27 In dié tyd het profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom.

28 Een van hulle, met die naam Agabus, het tydens ’n byeenkoms opgestaan en is deur die Gees gelei om te voorspel dat ’n groot hongersnood die hele Romeinse wêreld gaan tref. (Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur.)

29 Die gelowiges in Antiogië het toe besluit dat elkeen van hulle na sy vermoë sou bydra tot ’n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges in Judea gestuur sou word.

30 Hulle het dit toe gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.

HANDELINGE 12

Jakobus word vermoor en

Petrus gearresteer

1 In dié tyd het koning Herodes Agrippa party van dié wat aan die kerk behoort, laat arresteer en hulle mishandel.

2 Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met ’n swaard laat vermoor.

3 Toe Herodes sien dat dit by die Jode byval vind, het hy nog verder gegaan deur ook Petrus tydens die Fees van die Ongesuurde Brood te laat arresteer.

4 Hy het hom in die tronk gesit en deur vier afdelings van vier soldate elk laat bewaak. Herodes wou hom ná Paasfees in die openbaar verhoor.

5 So is Petrus dan in die tronk bewaak. Die kerk het aanhoudend vir hom tot God gebid.

Petrus word uit die tronk bevry

6 Die nag voordat Herodes hom in die openbaar sou verhoor, het Petrus tussen twee soldate geslaap terwyl hy met twee kettings geboei was en ander wagte die tronkdeur bewaak.

7 Meteens staan daar ’n engel van die Here by Petrus, en ’n lig skyn in die sel. Die engel stoot toe aan Petrus se sy, en maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” Die boeie het van sy polse afgeval.

8 Toe sê die engel vir hom: “Maak vas jou belt en trek jou sandale aan.” Hy het so gemaak. Daarna sê die engel vir hom: “Trek jou bo-kleed aan en kom agter my aan.”

9 Petrus het hom uit die sel gevolg. Hy het nie besef dat die optrede van die engel werklikheid was nie, maar het gedink hy sien ’n gesig.

10 Hulle is by die eerste wag verby en ook by die tweede, en toe hulle by die ysterhek kom wat na die stad toe lei, het dit vanself vir hulle oopgegaan. Hulle het buitentoe gegaan en ’n ent met die straat af gestap. Toe het die engel Petrus skielik verlaat.

11 Uiteindelik dring dit tot Petrus deur wat met hom gebeur het en hy sê vir homself: “Nou besef ek eers regtig dat die Here sy engel gestuur het en my uit die mag van Herodes gered het en van die kwaad wat die Jode gehoop het om my aan te doen!”

12 Toe dit vir hom duidelik geword het, is hy na die huis van Maria, die ma van Johannes (sy noemnaam is Markus), waar ’n taamlike groep saam was en gebid het.

13 Hy het aan die buitedeur geklop, en ’n diensmeisie met die naam Rodé het kom hoor wie dit is.

14 Toe sy Petrus se stem herken, het sy van blydskap nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en uitgeroep dat Petrus by die buitedeur staan!

15 Maar hulle het vir haar gesê: “Jy is skoon van jou wysie af!” Toe sy egter daarmee volhou, het hulle gesê: “Dan is dit seker Petrus se engel.”

16 Intussen het Petrus weer geklop. Toe hulle oopmaak en hom sien, was hulle baie verbaas.

17 Hy het met sy hand vir hulle beduie om stil te raak en vir hulle vertel hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. “Vertel vir Jakobus en die ander gelowiges wat gebeur het,” het hy gesê. Hy is buitentoe, en het elders heen vertrek.

18 Toe dit dag word, was daar groot ontsteltenis onder die soldate oor wat van Petrus geword het.

19 Herodes Agrippa het hom laat soek. Toe hulle hom nie kon kry nie, het hy die wagte verhoor en bevel gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het Herodes van Judea na Sesarea toe gegaan en ’n tyd daar gebly.

Herodes sterf ’n aaklige dood

20 Herodes was destyds baie kwaad vir die mense van Tirus en Sidon. Daarom het hulle ’n gesamentlike afvaardiging na hom toe gestuur met ’n vredesvoorstel omdat hulle stede vir kos van Herodes se land afhanklik was.

Hulle het Blastus, die koning se kamerbediende, oorgehaal om vir hulle ’n oudiënsie by Herodes te kry.

21 Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy verhoog gaan sit en hulle in die openbaar toegespreek.

22 Die mense het hom toegejuig: “Dit is die stem van ’n god, nie van ’n mens nie!”

23 Onmiddellik het ’n engel van die Here Herodes getref omdat hy die verering aanvaar en nie aan God gegee het nie. Hy is deur wurms opgevreet en het gesterf.

24 Maar die Goeie Nuus het verder versprei en baie het tot geloof gekom.

25 Barnabas en Saulus het teruggekom nadat hulle hulle opdrag in Jerusalem voltooi het. Hulle het vir Johannes, met die noemnaam Markus, saamgeneem.

HANDELINGE 13

Die eerste sendingreis: Barnabas

en Saulus uitgestuur

1 In die gemeente in Antiogië was daar profete en leraars: Barnabas, Simeon met die noemnaam Niger, Lucius van Sirene, Manaen, wat saam met koning Herodes Antipas grootgeword het, en Saulus.

2 ’n Keer toe hulle bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: “Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.”

3 Ná nog vas en gebed is hulle die hande opgelê en het die gemeente hulle weggestuur.

Barnabas en Saulus bring die

Goeie Nuus na die eiland Siprus

4 Deur die Heilige Gees uitgestuur, het Barnabas en Saulus na Seleukië toe afgegaan en daarvandaan na die eiland Siprus toe oorgevaar.

5 In Salamis aangekom, het hulle die woord van God in die Joodse sinagoges verkondig. Hulle het Johannes as helper gehad.

6 Daarna het hulle die hele eiland deurgegaan tot by Pafos, waar hulle ’n Joodse towenaar teëgekom het, ’n vals profeet met die naam Barjesus.

7 Hy was saam met die goewerneur, Sergius Paulus, wat ’n verstandige man was. Die goewerneur het Barnabas en Saulus genooi om die woord van God van hulle te hoor.

8 Die towenaar Elimas (sy naam word só vertaal) het hulle egter teengestaan omdat hy die goewerneur wou weghou van die Christelike geloof.

9 Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom stip aangekyk

10 en gesê: “Duiwelskind! Jy loop oor van al wat skelmstreek en bedrogspul is! Vyand van alles wat reg is! Sal jy nooit ophou om die reguit paaie van die Here vol kronkels te maak nie?

11 Nou is die strawwende hand van die Here op jou. Jy sal blind word en die son ’n tyd lank nie sien nie.” Onmiddellik het hy net mistigheid en donkerte gesien, en hy het rondgetas en gesoek na iemand om sy gids te wees.

12 Toe die goewerneur sien wat gebeur het, het hy gelowig geword, en hy was verstom oor die Christelike leer.

Paulus en Barnabas tree in

Antiogië in Pisidië op

13 Paulus en sy reisgenote het van Pafos af weggevaar en by Perge in Pamfilië vasgemeer. Daar het Johannes hulle verlaat en teruggegaan Jerusalem toe.

14 Barnabas en Paulus het egter die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië aangekom.

Op die Sabbatdag het hulle die sinagoge binnegegaan en gaan sit.

15 Ná die gebruiklike voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir ons ’n woord van bemoediging het, kom praat!”

16 Paulus het opgestaan en met ’n handbeweging aandag gevra en gesê: “Geagte Israeliete en julle ander wat vir die ware God ontsag het, luister.

17 “Die God van hierdie volk Israel het ons voorgeslag uitgekies en hulle voorspoedig gemaak toe hulle in Egipte as uitlanders gewoon het. Hy het hulle kragtig daarvandaan uitgelei.

18 Hy het hulle in die woestyn ongeveer 40 jaar lank geduldig verdra.

19 Daarna het Hy sewe nasies in Kanaän uitgewis en hulle land as erfporsie aan die Israeliete gegee.

20 Dit alles het ongeveer 450 jaar geneem. Daarna het Hy rigters voorsien tot die tyd van die profeet Samuel.

21 Toe wou hulle ’n koning hê, en God het Saul, die seun van Kis, ’n man uit die stam Benjamin, vir 40 jaar aan hulle gegee.

22 Nadat God hom verwyder het, het Hy Dawid vir hulle as koning voorsien. Van hom het God getuig: ‘Ek het Dawid, seun van Isai, gekry; hy is ’n man na my hart. Hy sal alles doen wat Ek wil hê.’

23 “Uit hierdie man se nageslag het God die beloofde Verlosser vir Israel, Jesus, laat voortkom!

24 Voor sy koms het Johannes die bekeringsdoop aan die hele volk Israel verkondig.

25 En toe Johannes aan die einde van sy bediening gekom het, het hy gesê: ‘Dink julle miskien ek is die Messias? Nee, ek is nie! Die Messias kom ná my. Ek is selfs nie werd om sy sandale los te maak nie.’

26 “Geagte volksgenote, seuns uit die geslag van Abraham, en julle ander wat vir God ontsag het, aan óns het God die boodskap van hierdie verlossing gestuur!

27 Die mense in Jerusalem en hulle leiers het die uitsprake van die profete in vervulling laat gaan deur Jesus tot die dood te veroordeel. Hulle het Hom nie herken nie en ook nie besef dat dit Hy is oor wie die profete geskryf het nie, al word dit elke Sabbatdag voorgelees.

28 Hulle kon geen grond vir die doodvonnis kry nie, maar nogtans het hulle Pilatus gevra om Hom te laat doodmaak.

29 “Nadat hulle alles gedoen het wat oor sy lyding in die Skrif geskryf staan, het hulle Hom van die kruis afgehaal en in ’n grafkamer neergelê.

30 Maar God het Hom uit die dood opgewek!

31 Jesus het in die loop van baie dae aan die mense verskyn wat saam met Hom van Galilea na Jerusalem gegaan het. Hierdie mense is nou sy getuies by die volk.

32 “En nou verkondig ek en Barnabas hierdie Goeie Nuus aan julle: God het die belofte aan ons voorgeslagte waar laat word.

33 Hy het dit vir ons, hulle nageslag, vervul deur Jesus te laat opstaan. So staan dit dan ook in die tweede psalm oor Jesus geskryf:

‘Jy is my Seun;

Ék het jou vandag verwek.’

34 “God het Hom uit die dood laat opstaan, en daarom sal Hy nooit tot niet gaan nie. Dit het God met die volgende woorde gesê: ‘Ek sal vir julle die beloftes vervul wat Ek betroubaar aan Dawid toegesê het.’

35 “Daarom sê God ook elders: ‘U sal nie toelaat dat die Een wat aan U toegewy is tot niet gaan nie.’

36 Dit verwys nie na Dawid nie, want hy het tog gesterf nadat hy die mense van sy eie tyd gedien het soos God beskik het. Hy is by sy voorgeslagte begrawe, en sy liggaam hét tot niet gegaan.

37 Nee, die verwysing is na Iemand anders: Hóm het God opgewek, sý liggaam het nie tot niet gegaan nie.

38 “Daarom, geagte volksgenote, moet julle goed weet wat nou aan julle verkondig word: vergewing van sondes deur Jesus! Julle kon nie deur die wet van Moses God se vryspraak verkry nie,

39 maar deur Jesus word elkeen wat glo, deur God vrygespreek.

40 Pas dan op dat wat in die profete gesê is, nie op julle van toepassing word nie:

41 ‘Sien dit tog raak, julle veragters!

Staan verstom en gaan te gronde!

Want in julle tyd doen Ek iets,

iets wat julle beslis nie sal glo nie,

selfs nie as iemand dit

vir julle vertel nie.’”

42 Terwyl Paulus en Barnabas die sinagoge verlaat, het die mense hulle gevra om die volgende Sabbatdag meer van dié dinge te vertel.

43 Ná die sinagogediens het baie van die Jode en van die nie-Jode wat proseliete geword het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié twee het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

Paulus wend hom tot die

nie-Jode

44 Die volgende Sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om hulle die woord van die Here te hoor preek.

45 Toe die Jode die skares sien, het hulle jaloers geword. Hulle het Paulus beledig en alles teengestaan wat hy gesê het.

46 Paulus en Barnabas het toe reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan júlle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, wend ons ons nou tot die nie-Jode.

47 “Immers met hierdie woorde het die Here ons ’n opdrag gegee:

‘Ek het Jou gegee as ’n lig

vir die nie-Joodse nasies

sodat Jy verlossing kan bring

tot in die uithoeke van die

aarde.’”

48 Toe die nie-Jode dit hoor, was hulle baie bly en hulle het die woord van die Here toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.

49 Die woord van die Here het deur daardie hele streek versprei.

50 Maar die Jode het vooraanstaande vroue wat vir die ware God ontsag gehad het, asook toonaangewende burgers van die stad, opgesweep. Hulle het ’n betoging teen Paulus en Barnabas bewerk, en hulle uit die streek weggejaag.

51 Hulle het toe, as protes teen die stad, die stof van hulle voete afgeskud en Ikonium toe gegaan.

52 Die gelowiges was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

HANDELINGE 14

Ook Ikonium hoor die Goeie

Nuus

1 In Ikonium het dit ook so gegaan. Paulus en Barnabas het weer die Joodse sinagoge binnegegaan en daar gepreek, en ’n groot aantal Jode en Grieke het gelowig geword.

2 Maar die Jode wat nie oortuig geraak het nie, het die gemoedere van die nieJode opgesweep en hulle teen die gelowiges aangehits.

3 Die apostels het ’n taamlike tyd daar deurgebring en in vertroue op die Here met vrymoedigheid gepreek. Die Here het ook die waarheid van die boodskap van sy genade bevestig deur te gee dat tekens en wonders deur die apostels se toedoen plaasvind.

4 Die mense in die stad was verdeeld: party het hulle by die Jode geskaar en party by die apostels.

5 Op ’n stadium het die nie-Jode en die Jode, saam met hulle leiers, beplan om die apostels aan te rand en met klippe dood te gooi.

6 Toe die apostels dit agterkom, het hulle na Listra en Derbe en die Likaonië-omgewing gevlug.

7 Dáár het hulle toe die Goeie Nuus verkondig.

Paulus en Barnabas bring die

Goeie Nuus aan die mense van

8 In Listra was daar ’n man wat sy voete nie kon gebruik nie. Van sy geboorte af was hy verlam en kon hy nooit loop nie.

9 Hy het geluister terwyl Paulus praat. Paulus het stip na hom gekyk en gesien dat hy die geloof het om gesond gemaak te word.

10 Toe het hy met ’n harde stem gesê: “Op jou voete!” Die man het opgespring en begin rondstap.

11 Toe die skare sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het met mensliggame na ons toe afgekom!”

12 Hulle het Barnabas “Zeus” begin noem en Paulus, omdat hy die een was wat die praatwerk gedoen het, “Hermes”.

13 Die Zeustempel was net buite die stad. Die priester van die tempel het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy het gereedgemaak om saam met die skare offers aan die apostels te bring.

14 Toe die apostels Barnabas en Paulus daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die skare ingespring en geskreeu:

15 “Mense, waarom doen julle dit? Ons is mense, net soos julle. Ons bring vir julle die Goeie Nuus dat julle hierdie nikswerd kamstige gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle bestaan, gemaak het.

16 In vorige geslagte het Hy die ander nasies toegelaat om hulle eie koers te kies,

17 maar tog het Hy duidelike getuienis gegee dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën gegee van die hemel af, en oeste op hulle tyd; Hy het julle volop kos gegee en in julle harte volop vreugde.”

18 Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels skaars keer dat die mense offers aan hulle bring.

19 Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus gestenig en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.

20 Toe gelowiges ’n kring rondom hom begin vorm, het hy opgestaan en weer die stad ingegaan. Die volgende dag het hy en Barnabas na Derbe toe vertrek.

Paulus en Barnabas terug na

Antiogië in Sirië

21 Paulus en Barnabas het die Goeie Nuus ook in Derbe verkondig, en hulle het ’n redelike aantal volgelinge van Jesus bygekry. Daarna het hulle na Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië toe teruggegaan.

22 Hulle het die gelowiges geestelik versterk en hulle aangespoor om vol te hou met die geloof. “Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê,” het hulle gesê.

23 In elke gemeente het hulle vir hulle ouderlinge gekies. Nadat hulle gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here in wie hulle nou geglo het.

24 Die apostels het verder deur Pisidië gegaan en in Pamfilië gekom.

25 Daar het hulle in Perge die woord verkondig en daarna Attalië toe vertrek.

26 Daarvandaan het hulle na Antiogië in Sirië gevaar waar hulle aanvanklik aan die genade van God opgedra was vir die werk wat hulle nou voltooi het.

27 By hulle aankoms het hulle die gemeente bymekaargeroep en vir hulle vertel wat God alles deur hulle gedoen het en dat Hy ook vir die nie-Jode die deur na die geloof oopgemaak het.

28 Hulle het ’n geruime tyd daar saam met die gelowiges deurgebring.

HANDELINGE 15

Die kerkvergadering in

Jerusalem behandel ’n netelige

1 Daar het mense van Judea af gekom en die gelowiges probeer wysmaak: “As julle julle nie laat besny soos Moses dit voorskryf nie, kan julle nie verlos word nie.”

2 Paulus en Barnabas het hulle daarteen verset en in ’n taamlik ernstige meningsverskil met hulle betrokke geraak. Uiteindelik het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog ’n paar ander uit hulle geledere oor hierdie vraagstuk na die apostels en ouderlinge in Jerusalem moet gaan.

3 So is hulle deur die gemeente uitgestuur. Hulle het deur Fenisië en Samaria gereis en vertel van die bekering van die nie-Jode. Met hierdie nuus het hulle al die gelowiges baie bly gemaak.

4 Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die hele gemeente, insluitend die apostels en die ouderlinge, verwelkom. Hulle het vertel wat God alles deur hulle bediening tot stand gebring het.

5 Sommige van dié wat gelowiges geword het uit die geledere van die Fariseërs, het egter opgestaan en verklaar: “Nie-Joodse bekeerlinge moet besny word en die opdrag kry om die wet van Moses te onderhou.”

6 Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om mekaar in die oë te kyk oor hierdie vraagstuk.

7 Na ’n lang bespreking het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Geagte broers, julle weet dat God my van die vroeë dae af al uit julle geledere gekies het om deur my prediking die nie-Jode die Goeie Nuus te laat hoor en tot geloof te laat kom.

8 En God, wat die harte ken, het bevestig dat die Goeie Nuus ook vir nie-Jode bedoel is deur aan hulle die Heilige Gees te gee net soos aan ons.

9 Hy het dus geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie: Hy het ook hulle harte deur die geloof gereinig.

10 Waarom wil julle dan nou beter as God weet deur op die nek van die nie-Joodse gelowiges ’n juk te lê wat ons voorgeslagte nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?

11 Nee! Ons glo dat ons net deur die genade van die Here Jesus verlos word – en dit geld ook vir daardie mense.”

12 Daar was geen verdere bespreking nie en almal het vervolgens gesit en luister hoe Barnabas en Paulus vertel watter tekens en wonders God deur hulle onder die nie-Jode gedoen het.

13 Toe hulle stilbly, het Jakobus gesê: “Geagte broers, luister na my.

14 Simon het verduidelik hoe dit God self is wat die inisiatief geneem het deur vir Hom ’n volk uit die geledere van die nie-Jode te versamel.

15 En hiermee stem die woorde van die profete saam. Daar staan geskrywe:

16 ‘Daarna sal Ek terugkom,

en Ek sal die vervalle huis

van Dawid weer opbou.

Ek sal sy bouvalle herstel,

en dit weer regmaak

17 sodat ook die ander volke

die Here kan soek,

ja, al die nie-Joodse nasies

oor wie Ek my Naam uitgeroep

het.

So sê die Here wat hierdie dinge

18 lank gelede al bekendgemaak

het.’

19 “Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir die gelowiges wat hulle uit die geledere van die nie-Jode tot God bekeer het nie.

20 Ons moet egter vir hulle skryf om weg te bly van dinge wat deur afgode besoedel is, van seksuele sondes, asook van iets wat verwurg is, en van bloed.

21 Julle weet mos: Moses het in elke stad al vir geslagte lank mense wat sy voorskrifte verkondig; elke Sabbatdag word sy boeke in die sinagoges voorgelees.”

Die besluite van die vergadering

22 Daarna het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente in Jerusalem besluit om ’n afvaardiging uit hulle geledere saam met Paulus en Barnabas na Antiogië in Sirië te stuur. Hulle het twee leiersfigure onder die gelowiges gekies: vir Judas (sy noemnaam is Barsabbas) en vir Silas.

23 Die vergadering het die volgende brief self geskryf:

Hierdie brief kom van die apostels en die ouderlinge, julle broers in Jerusalem, en is geskryf aan die gelowiges uit die nie-Joodse volke in Antiogië, Sirië en Silisië. Groete!

24 Ons het gehoor dat daar mense van ons af gekom het wat julle gemoedere ontstel het met standpunte waarvoor ons hulle nie ’n mandaat gegee het nie.

25 Daarom het ons eenparig besluit om ’n amptelike afvaardiging na julle toe te stuur. Hulle vergesel ons geliefde Barnabas en Paulus,

26 mense wat hulle lewe gewaag het vir die Naam van ons Here Jesus Christus.

27 Ons stuur dan nou vir Judas en Silas om ook self mondeling ons besluit aan julle oor te dra.

28 Die Heilige Gees en ons het besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende voorskrifte:

29 dat julle julle moet weerhou van alles wat aan afgode geoffer is, en van bloed, van diere wat verwurg is, en van seksuele sondes. As julle julle van hierdie dinge weerhou, doen julle goed. Vaarwel.

30 So is hulle toe daar weg, op pad na Antiogië toe. Dáár het hulle die gemeente bymekaar laat kom en die brief oorhandig.

31 Die gemeente het dit gelees en was baie bly oor die bemoediging.

32 Judas en Silas, wat self ook profete was, het lank met hulle medegelowi-ges gepraat en hulle bemoedig en geestelik versterk.

33 Judas en Silas het ’n tyd lank daar gebly, en toe is hulle met ’n vredeboodskap deur die gelowiges teruggestuur na dié wat hulle afgevaardig het.

35 Paulus en Barnabas het ’n tyd lank in Antiogië gebly en saam met baie ander onderrig gegee en die woord van die Here verkondig.

Die tweede sendingreis begin –

Paulus en Barnabas skei van

36 Na ’n paar dae sê Paulus vir Barnabas: “Kom ons gaan terug na al die stede waar ons die woord van die Here verkondig het en kyk hoe dit gaan met ons medegelowiges.”

37 Barnabas wou vir Johannes (sy noemnaam is Markus) saamvat.

38 Paulus het egter gedink dit is nie reg om die man saam te vat wat hulle in Pamfilië in die steek gelaat het en nie aan hulle verdere bediening deel gehad het nie.

39 Daar het toe kwade gevoelens tussen hulle ontstaan, en hulle het elkeen sy eie koers gegaan. Barnabas het vir Markus gevat en Siprus toe gevaar.

40 Paulus het Silas gekies en hy het vertrek nadat hy deur die gelowiges aan die liefdevolle goedheid van die Here toevertrou is.

41 Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes daar versterk.

HANDELINGE 16

Timoteus sluit by Paulus aan

1 Paulus het na Derbe gegaan en toe na Listra. Dáár het hulle Timoteus ontmoet, ’n gelowige; sy ma was ’n Jodin, ’n gelowige, en sy pa ’n Griek.

2 Daar was van die kant van die gelowiges in Listra en Ikonium goeie getuienis oor Timoteus.

3 Paulus wou hom by sy vertrek saamneem. Met die oog op die Jode in daardie gebied het hy Timoteus toe besny. Almal het immers geweet sy pa is ’n Griek.

4 Soos hulle die stede deurreis het, het hulle die besluite wat die apostels en ouderlinge in Jerusalem geneem het, aan die gelowiges oorgedra om daarvolgens te leef.

5 So is die gemeentes in hulle geloof versterk, en die aantal gelowiges het by die dag meer geword.

Paulus ontvang in Troas ’n

visioen wat hom Europa toe lei

6 Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig.

7 Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie.

8 Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe.

9 Daar het Paulus in die nag ’n visioen gehad. Hy het ’n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: “Kom oor na Masedonië toe en help ons.”

10 Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig.

Lidia, die eerste bekeerling op

Europese bodem

11 Ons het van Troas af weggevaar en reguit koers gehou na die eiland Samotrake, en is die volgende dag Neapolis toe.

12 Daarvandaan is ons Filippi toe, die hoofstad van daardie deel van Masedonië, self ook ’n Romeinse kolonie. In hierdie stad het ons ’n tydjie gebly.

13 Op die Sabbatdag is ons na die rivier buite die stadspoort, waar ons gereken het daar ’n Joodse bidplek sou wees. Ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaar was.

14 Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia – iemand wat reeds die ware God vereer het. Sy was ’n handelaar van pers wolmateriaal en was van die stad Tiatira afkomstig. Die Here het haar hart oopgemaak sodat sy ontvanklik was vir Paulus se boodskap.

15 Sy en die ander lede van haar huishouding is toe gedoop. Daarna het sy ons oorgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.” En sy het aangehou tot ons ingestem het.

Lofliedere weerklink in die tronk

op Filippi

16 Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ’n slavin met ’n waarsêersgees ons raakgeloop. Deur haar waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld ingebring.

17 Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is diensknegte van God die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle die pad na verlossing.”

18 Sy het dit vir baie dae gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!” Die gees het oombliklik uit haar uitgegaan.

19 Toe haar eienaars sien dat hulle vooruitsig om geld te maak verdwyn het, het hulle vir Paulus en Silas gegryp en hulle na die leiers op die stadsplein gesleep.

20 Hulle het hulle voor die stadsbestuur gebring en gesê: “Hierdie mense maak moeilikheid in ons stad; hulle is Jode.

21 Hulle leer vir ons gebruike wat ons, omdat ons Romeine is, nie kan aanvaar of navolg nie.”

22 Die skare het toe ook teen hulle saamgestaan. Die stadsowerhede het hulle klere van hulle laat afskeur en beveel dat hulle met stokke geslaan word.

23 Hulle het baie houe gekry, en toe is hulle in die tronk gegooi. Die tronkbewaarder het opdrag gekry om seker te maak dat hulle nie ontsnap nie.

24 In reaksie op hierdie bevel het die tronkbewaarder hulle in die binneste sel gegooi en hulle voete in houtblokke vasgeklem.

25 Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.

26 Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom!

27 Die tronkbewaarder het wakker geword en die tronkdeure wawyd oop sien staan. Hy het aanvaar die gevangenes het ontsnap, en sy swaard uitgetrek om homself dood te maak.

28 Maar Paulus het met ’n harde stem geskreeu: “Moenie jouself iets aandoen nie! Ons is nog almal hier!”

29 Die bewaarder het toe ’n lig gevra en die sel ingestorm. Hy het begin bewe en voor Paulus en Silas neergeval.

30 Hy het hulle toe buitentoe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om verlos te word?”

31 Hulle het hom geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal verlos word, jy en al die lede van jou huishouding.”

32 Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huishouding verkondig.

33 Al was dit reeds baie laat in die nag, het hy Paulus en Silas se wonde versorg. Hy is toe daar en dan gedoop, en ook al sy mense.

34 Toe bring hy hulle in sy huis in en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huishouding was baie bly omdat hulle nou in God geglo het.

35 Toe dit dag word, het die stadsowerhede polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense vry!”

36 Die tronkbewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die landdroste het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan dan nou vertrek; gaan in vrede.”

37 Maar Paulus het geantwoord: “Ons is sonder dat ons skuldig bevind is, in die openbaar geslaan en in die tronk gestop – en dít terwyl ons Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons sommerso stilletjies ontslaan. Volstrek nie! Laat hulle ons self kom uitlei!”

38 Die polisie het hierdie boodskap vir die stadsowerhede vertel, en hulle het groot geskrik toe hulle hoor Paulus en Silas is Romeinse burgers.

39 Hulle het hulle om verskoning gevra, hulle uit die tronk gelei en hulle gevra om die stad te verlaat.

40 Paulus en Silas is toe terug na Lidia se huis, en hulle het die gelowiges gesien en hulle bemoedig. Daarna het hulle vertrek.

HANDELINGE 17

Die oproer in Tessalonika

1 Paulus en Silas het deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Tessalonika aangekom, waar daar ’n sinagoge van die Jode was.

2 Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy na die sinagogediens gegaan en op drie Sabbatdae na mekaar uit die Skrifte met die Jode geredeneer.

3 Hy het die Skrif verklaar en aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood opstaan. “Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,” het hy gesê, “Hý is die Messias.”

4 Party van hulle het toe oortuig geraak en by Paulus en Silas aangesluit. ’n Groot aantal Grieke wat die ware God aanbid het, en ’n klomp vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.

5 Die Jode was egter jaloers hieroor. Hulle het toe met die hulp van ’n paar nikswerd leeglêers ’n betoging begin en die stad in oproer gebring. Hulle het na Jason se huis opgeruk en wou Paulus en Silas voor die volk bring.

6 Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ’n paar ander gelowiges na die stadsowerhede en skreeu: “Dít is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. En nou is hulle hier in ons stad.

7 Jason het hulle as gaste ontvang. Hulle is almal skuldig aan verraad teen die keiser, want hulle erken ’n ander koning, naamlik Jesus!”

8 Die skare en die stadsowerhede was ontsteld toe hulle dit hoor.

9 Hulle het hulle egter laat gaan nadat hulle van Jason en die ander gelowiges voldoende borg gekry het.

Paulus en Silas vriendeliker in

Berea ontvang

10 Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan.

11 Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê.

12 Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans.

13 Toe die Jode van Tessalonika egter hoor dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig word, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die skares opgesweep.

14 Die gelowiges het Paulus dadelik weggestuur kus toe, maar Silas en Timoteus het agtergebly.

15 Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.

Paulus spreek die

Areopagusraad in Atene toe

16 Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde.

17 Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.

18 ’n Paar filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gedebatteer. Toe Paulus oor Jesus en sy opstanding praat, het party gesê: “Wat sou hierdie kletskous tog wil sê?” Ander het gesê: “Hy klink na vreemde gode se boodskapper.”

19 Hulle het hom na die Areopagusraad toe gevat en gesê: “Ons wil graag meer weet oor hierdie nuwe leer wat deur jou verkondig word.

20 Dis regtig vreemde dinge wat ons hoor; ons wil graag weet wat dit beteken.”

21 (Al die Ateners en die uitlanders in Atene het feitlik al hulle tyd aan die bespreking van nuwe idees bestee.)

22 Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is.

23 Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle.

24 “Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie.

25 Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee.

26 Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek.

27 “God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie.

28 Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’

29 Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding.

30 God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer.

31 Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”

32 Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het party hom uitgelag, maar ander het gesê: “Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor.”

33 Daarmee het Paulus uit hulle midde vertrek.

34 ’n Paar persone het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagusraad, en Damaris, ’n vrou, en nog ’n paar saam met hulle.

HANDELINGE 18

Paulus ontmoet Priscilla en

Akwila, en verkondig die Goeie

1 Paulus het Atene verlaat en Korinte toe gegaan.

2 Daar het hy Akwila ontmoet, ’n Jood wat in Pontus gebore is. Hy het kort tevore saam met sy vrou, Priscilla, uit Italië daar aangekom. Hulle is uit Italië weg omdat keiser Claudius beveel het dat alle Jode Rome moes verlaat. Paulus het hulle gaan opsoek.

3 Hy het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk, want hulle was tentmakers net soos hy.

4 Elke Sabbatdag het hy in die sinagoge met die mense geredeneer en sowel Jode as Grieke probeer oortuig.

5 Nadat Silas en Timoteus van Masedonië af aangekom het, het Paulus al sy aandag bestee aan die prediking om die Jode daarvan te oortuig dat Jesus die Messias is.

6 Toe hierdie Jode hom egter aanhou teenstaan en beledig, het hy die stof van sy klere afgeskud en vir hulle gesê: “Julle bloed is op julle eie kop. Ek is onskuldig. Van nou af spits ek my toe op die nie-Jode.”

7 Hy is toe daar uit, en het na die huis reg langs die sinagoge gegaan. Dit het behoort aan Titius Justus, ’n nie-Jood wat die ware God aanbid het.

8 Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huishouding het tot geloof in die Here gekom. Ook baie Korintiërs het in reaksie op die boodskap gelowig geword en is gedoop.

9 Een nag het die Here deur ’n visioen vir Paulus gesê: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie begin stilbly nie,

10 want Ék is by jou. Niemand sal ’n hand op jou lê om iets slegs aan jou te doen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.”

11 Paulus het die stad vir ’n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God.

12 Toe Gallio egter goewerneur van Agaje geword het, het sommige Jode ’n verenigde front teen Paulus gevorm en hom voor die hof gedaag.

13 Hulle het Paulus daarvan aangekla dat hy die mense “probeer oorhaal om God op maniere te vereer wat teen die wet is”.

14 Net toe Paulus homself wou begin verdedig, sê Gallio vir die Jode: “As dit oor ’n onreg of ’n ernstige misdaad gegaan het, Jode, sou ek julle klag aangehoor het.

15 Maar aangesien dit ’n twis is oor ’n boodskap en name en oor julle eie wet, moet julle self daaraan aandag gee. In sulke sake wil ek nie regter wees nie.”

16 Hy het die hof toe verdaag.

17 Die klaers het toe almal vir Sostenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom net daar voor die regbank aangerand. Gallio het hom egter aan niks hiervan gesteur nie.

Paulus keer terug na sy

tuisbasis in Antiogië

18 Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe weggevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.)

19 By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer.

20 Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie.

21 Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar

22 en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek.

23 Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk.

Die welsprekende Apollos preek

in Efese

24 Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg.

25 Hy het in “Die Pad van die Here” onderrig ontvang en het met brandende geesdrif gepraat en ander noukeurig geleer van Jesus. Hy het egter net die doop van Johannes geken.

26 Hy het self met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom eenkant gevat en vir hom “Die Pad van God” nog duideliker uiteengesit.

27 Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig. Hulle het vir die gelowiges in Agaje geskryf dat hulle hom moet ontvang. Daar aangekom, het hy baie beteken vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het,

28 want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en met die Skrif bewys dat Jesus die Messias is.

HANDELINGE 19

Paulus begin met sy derde

sendingreis

1 Terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus deur die binnelandse gebiede van Klein-Asië Efese toe gereis. Daar het hy ’n groepie gelowiges gekry.

2 Hy het vir hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle begin glo het?”

“Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie,” het hulle hom geantwoord.

3 “Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra.

Hulle het geantwoord: “Met die doop van Johannes.”

4 Paulus sê toe: “Johannes se doop was ’n bevestiging dat ’n mens jou van jou sonde bekeer het tot God. Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.”

5 Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.

6 Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer.

7 Altesaam was dit ongeveer twaalf mans.

In Efese triomfeer die evangelie

van Jesus Christus oor die bose

8 Paulus is toe na die sinagoge en hy het daar vir drie maande lank met vrymoedigheid gepreek. Hy het besprekings gehou en oortuigende argumente aangevoer oor die koningsheerskappy van God.

9 Party was egter koppig en wou hulle nie laat oortuig nie. Hulle het ook voor die gemeente sleg gepraat van “Die Pad”. Toe het Paulus die sinagoge verlaat en hy het die gelowiges saam met hom gevat. Hy het daagliks in die lesingsaal van Tirannus besprekings gehou.

10 So het dit vir die volgende twee jaar gegaan sodat almal in die Romeinse provinsie Asië, Jode sowel as Grieke, die boodskap van die Here gehoor het.

11 God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen.

12 Selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, het hulle siektes verdwyn. Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

13 Party rondreisende Joodse geesuitdrywers het ook probeer om die Naam van die Here Jesus te gebruik vir mense wat bose geeste gehad het. Die formule wat hulle probeer het, was: “Ek dryf julle uit in die Naam van dié Jesus vir wie Paulus verkondig!”

14 Hierdie geesuitdrywers was die sewe seuns van ’n senior Joodse priester, Skeva.

15 Maar die bose gees het vir hulle gesê: “Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar wie’s júlle?”

16 Die man in wie die bose gees was, spring toe onder hulle in. Hy was te sterk vir hulle en kry die oorhand oor hulle sodat hulle kaal en erg beseer uit daardie huis gevlug het.

17 Dié gebeure het bekend geword by al die Jode en Grieke in Efese. ’n Gevoel van diep ontsag het oor hulle almal gekom, en die Naam van die Here Jesus is grootgemaak.

18 Baie van dié wat gelowig geword het, het hulle aangemeld en al hulle praktyke openlik bely.

19 Heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, het hulle toorboeke saamgebring en voor almal verbrand. Die waarde van dié boeke was 50 000 silwermuntstukke.

20 So het die woord van die Here kragtig gegroei en sterk geword.

Paulus bots met die

ambagsmanne van Efese

21 Hierna het Paulus, deur die Gees gedring, besluit om deur Masedonië en Agaje na Jerusalem te reis. “Ná ek daar was,” het hy gesê, “moet ek ook Rome sien.”

22 Hy het twee van sy helpers, Timoteus en Erastus, met ’n mandaat Masedonië toe gestuur; self het hy nog ’n tyd lank in die provinsie Asië gebly.

23 Juis in daardie tyd was daar ’n taamlike groot opskudding oor “Die Pad”.

24 Dit het begin by ’n silwersmid met die naam Demetrius. Hy het silwer Artemistempeltjies gemaak en vir ambagsmanne ’n beduidende verdienste verskaf.

25 Hy roep toe die ambagsmanne en ander wat soortgelyke werk doen, en sê vir hulle: “Manne, julle weet dat ons voorspoed uit dié bedryf kom.

26 En nou sien en hoor julle dat hierdie Paulus ’n beduidende klomp mense van sy standpunt oortuig het, naamlik dat gode wat met die hand gemaak word, glad nie gode is nie. En dit gebeur nie net in Efese nie, maar in byna die hele provinsie Asië!

27 Dis nie net ’n geval van ons bedryf wat gevaar loop om sy goeie naam te verloor nie. Die gevaar bestaan ook dat die tempel van die groot godin Artemis, wat die hele Asië én die wêreld as god vereer, as nikswerd beskou word en dat sy van haar grootheid beroof gaan word!”

28 By die aanhoor hiervan het hulle woede oorgekook en hulle het begin skreeu: “Groot is Artemis van die Efesiërs!”

29 Die hele stad was in rep en roer, en soos een man het die mense amfiteater toe gestorm. Hulle het vir Gaius en Aristargus, albei Masedoniese reisgenote van Paulus, saamgesleep.

30 Paulus wou saam met die betogers ingaan, maar die gelowiges wou hom nie toelaat nie.

31 Ook het party van die hoë amptenare van die provinsie Asië wat Paulus se vriende was, vir hom ’n boodskap gestuur en hom gewaarsku om dit nie in die amfiteater te waag nie.

32 Binne die amfiteater het party dít geskreeu en ander dát. Die vergadering was regtig in die war en die meeste het eintlik nie eers geweet hoekom hulle daar bymekaar was nie.

33 Sommige van die Jode het vir Aleksander vorentoe gestoot, en hulle het uit die skare vir hom gesê wat hy moet doen. Hy het met sy hand beduie dat hy iets ter verdediging vir almal wil sê.

34 Maar toe hulle agterkom dat hy ’n Jood is, was daar vir byna twee uur lank één kreet van die kant van die skreeuende skare: “Groot is Artemis van die Efesiërs! Groot is Artemis van die Efesiërs!”

35 Uiteindelik het die stadsklerk die betogers tot bedaring gebring. “Geagte Efesiërs,” het hy gesê, “daar is verseker geen mens wat nie weet dat die stad Efese die tempelbeskermer is van die groot Artemis, wie se beeld hier by ons uit die hemel geval het nie!

36 Dít staan soos ’n paal bo water. Bedaar dus en moenie iets oorhaastigs doen nie.

37 “Julle het hierdie mans hierheen gebring, alhoewel hulle nie iets uit ons tempel gesteel of ons godin beledig het nie.

38 As Demetrius en sy ambagsmanne dus ’n klag teen iemand het – hofsittings word gehou en daar is goewerneurs. Laat hulle mekaar daar gaan aankla.

39 En as julle verdere klagtes het, moet die saak op ’n wettige volksvergadering ter tafel gebring word.

40 Ons loop eerlikwaar gevaar om oor vandag se gebeure van opstand aangekla te word. Daar is geen gronde vir hierdie betoging nie, en ons kan dit nie verantwoord nie.”

Hiermee het hy die vergadering verdaag.

HANDELINGE 20

Op pad na Jerusalem reis

Paulus deur Griekeland en

1 Met die betoging verby, het Paulus die gelowiges bymekaargeroep en hulle moed ingepraat. Daarna het hy hulle gegroet en Masedonië toe vertrek.

2 Op sy reis daarheen het hy die gelowiges met baie preke bemoedig. Hy kom toe in Griekeland aan

3 waar hy drie maande deurgebring het. Toe hy op die punt gestaan het om Sirië toe te vaar, het ’n komplot teen hom aan die lig gekom. Hy het toe besluit om landlangs deur Masedonië na Sirië toe terug te gaan.

4 Heelwat mans het saam met Paulus gereis. Hulle was Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargus en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, Timoteus, en Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië.

5 Hulle het vooruit gegaan en in Troas vir ons gewag.

6 Na die Pasga het ons per skip van Filippi af vertrek en vyf dae later by hulle in Troas aangekom. Daar het ons ’n week gebly.

Paulus vier die maaltyd van die

Here saam met die gemeente in

7 Ons het die Sondag bymekaargekom vir die maaltyd van die Here. Paulus het ’n bespreking met hulle gehou, en omdat hy die volgende dag wou vertrek, het hy tot middernag aanhou praat.

8 Daar was taamlik baie lampe in die bovertrek waar ons vergader het.

9 Terwyl Paulus aanhou en aanhou met die bespreking, het ’n jong man met die naam Eutigus, wat op die vensterbank gesit het, in ’n diep slaap begin wegsink. Vas aan die slaap het hy uit die derde verdieping tot onder geval. Hulle het hom as ’n lyk opgetel.

10 Paulus het ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê, sy arms om hom gesit en gesê: “Moenie julle ontstel nie. Hy lewe!”

11 Paulus het weer boontoe gegaan, brood gebreek en geëet. Hy het nog ’n hele ruk met hulle gepraat, tot dagbreek toe, en toe vertrek.

12 Die mense het die seun lewend huis toe gevat. Dit was vir hulle ’n buitengewoon bemoedigende ervaring.

Paulus rig vir oulaas ’n ernstige

woord tot die ouderlinge van

13 Paulus is landlangs Assus toe, maar ons is vooruit na die skip toe en het na Assus gevaar, waar Paulus afgespreek het dat hy aan boord sou gaan.

14 Hy het ons daar gekry; ons het hom aan boord geneem en Mitilene toe gevaar.

15 Die volgende dag het ons by Chios verbygevaar. Die dag daarna het ons by Samos aangedoen, en nog ’n dag later het ons Milete bereik.

16 Paulus het reeds voorheen besluit om by Efese verby te vaar sodat hy nie nog langer in die provinsie Asië tyd hoef deur te bring nie. Hy was haastig om, as dit kon, op Pinksterdag in Jerusalem te wees.

17 Maar Paulus het van Milete af ’n boodskap na Efese toe gestuur om die ouderlinge van die gemeente te ontbied.

18 Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Júlle weet dat ek die hele tyd, van die eerste dag af dat ek in die provinsie Asië gekom het,

19 die Here met my hele wese in alle nederigheid gedien het, en dat dit met trane gepaardgegaan het. Dan was daar ook die beproewings wat oor my gekom het vanweë die komplotte van sommige Jode.

20 Julle weet ook dat ek nooit weggeskram het van die waarheid toe ek by julle gepreek en julle in die openbaar en in julle huise onderrig het nie.

21 Ek het één boodskap vir Jode én Grieke gehad: dat hulle hulle tot God moet bekeer en in ons Here Jesus moet glo.

22 “En nou is ek op pad Jerusalem toe, gebind deur die Gees. Wat dáár met my gaan gebeur, weet ek nie.

23 Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê.

24 Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie: Om die Goeie Nuus te verkondig dat God mense liefhet sonder dat hulle iets hoef te doen om dit te verdien.

25 “En nou is dit duidelik: Ek weet dat nie een van julle my weer sal sien nie – julle onder wie ek rondgegaan en die koningsheerskappy van God verkondig het.

26 Daarom stel ek dit vandag duidelik aan julle dat dit nie my skuld is as enigeen van julle verlore gaan nie,

27 want ek het nie weggeskram daarvan om die volle plan van God aan julle te verkondig nie.

28 “Pas julleself op en die hele kudde oor wie die Heilige Gees julle as ouderlinge aangestel het. Julle moet as herders die kerk van God versorg, dié kerk wat Hy vir Hom verkry het deurdat sy eie Seun gesterf het.

29 Self weet ek dat daar ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie spaar nie.

30 Selfs uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat, deur verdraaide dinge te verkondig, die gelowiges sal probeer verlei om hulle te volg.

31 Daarom: Wakkerloop! Onthou dat ek vir drie jaar lank sonder ophou vir elkeen van julle die regte koers aangedui het, dag en nag, en met trane.

32 “En nou vertrou ek julle aan God toe en aan die boodskap van die genade wat Hy aan mense bewys. Dié boodskap is in staat om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfporsie belowe het.

33 “Ek het niemand se silwer of goud of klere begeer nie.

34 Julle weet self dat hierdie twee hande van my voorsien het in my behoeftes en in die behoeftes van dié wat saam met my was.

35 In alles het ek vir julle ’n voorbeeld gestel dat ons só hard moet werk dat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus: ‘Dit is meer geseënd om te gee as om te ontvang.’”

36 Toe Paulus klaar gepraat het, het hy saam met hulle almal gekniel en gebid.

37 Almal het baie gehuil en Paulus omhels en hom gesoen.

38 Hulle was veral hartseer oor sy stelling dat hulle hom nie weer sou sien nie. Toe het hulle hom skip toe gevat.