HANDELINGE 1

1 Jesus belowe die Heilige Gees

aan sy dissipels

Beste Teofilus

In my eerste boek het ek jou vertel van alles wat Jesus begin doen en leer het

2 tot op die dag toe Hy opgeneem is.

Voor sy hemelvaart het Hy deur die Heilige Gees aan die mans wat Hy as apostels uitgekies het, opdragte gegee.

3 In die loop van 40 dae na sy lydenstyd het Hy by verskeie geleenthede aan die apostels verskyn, en op baie maniere aan hulle bewys dat Hy regtig lewe. Hy het telkens met hulle oor die koningsheerskappy van God gepraat.

4 ’n Keer toe hulle so saam was, het Hy aan hulle dié opdrag gegee: “Moenie Jerusalem verlaat voordat julle van die Vader ontvang het wat Hy belowe het nie. Julle onthou mos dat Ek julle vroeër daarvan vertel het:

5 Johannes het met water gedoop, maar júlle sal binne ’n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.”

6 Toe hulle ’n keer weer bymekaar was, het die apostels Jesus aanhou vra: “Here, is dit nou die tyd dat U Israel weer ’n onafhanklike volk met ’n eie koning gaan maak?”

7 “Die Vader bepaal hierdie datums,” het Hy geantwoord, “en die bedoeling is nie dat julle dit moet ken nie.

8 Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Jesus word in die hemel

opgeneem

9 Hy het dit gesê, en is toe in die hemelruim opgeneem terwyl hulle toekyk. Hy het in ’n wolk verdwyn.

10 Toe Hy wegraak en hulle nog stip die hemelruim inkyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.

11 Die twee mans sê toe: “Galilese manne, waarom staan julle na die hemel en kyk? Jesus is van julle af weggeneem die hemel in. Hy sal egter nét so terugkom soos julle Hom die hemel sien ingaan het!”

Mattias word as Judas se

opvolger verkies

12 Na hierdie gebeure het die apostels van die Olyfberg af na Jerusalem toe teruggestap, ’n afstand van net onder ’n kilometer.

13 Hulle is toe na die bovertrek toe waar hulle tuisgegaan het. Die volgende persone was daar: Petrus, Johannes, Jakobus, Andreas, Filippus, Tomas, Bartolomeus, Matteus, Jakobus (seun van Alfeus), Simon die Yweraar, en Judas (seun van Jakobus).

14 Hulle het almal saam aanhou bid. Maria, Jesus se ma, ander vroue en Jesus se broers was ook by.

15 In daardie tyd was daar ’n byeenkoms van sowat 120 gelowiges. Petrus het tussen hulle opgestaan en gesê:

16 “Medegelowiges, dit was nodig dat die Skrif oor Judas vervul moes word – dié man wat die tempelpolisie wat Jesus wou arresteer, na Hom toe gelei het. Die Heilige Gees het dit al lankal voorspel toe Hy deur Dawid daaroor gepraat het.

17 Judas was inderdaad een van ons, en hy is ook saam met ons gekies vir hierdie bediening.”

18 (Met die omkoopgeld wat Judas vir sy verraad gekry het, het hy ’n stuk grond gekoop. Daar het hy vooroor geval en sy middellyf het oopgebars. Al sy ingewande het uitgepeul.

19 Die nuus oor sy dood het vinnig onder die inwoners van Jerusalem versprei. Hulle het daardie plek toe Akeldama genoem, ’n Aramese woord wat “Bloedgrond” beteken.)

20 Petrus het voortgegaan: “Dis presies soos dit in die Psalmboek geskryf staan:

‘Laat sy woonplek verlate word;

laat niemand daar bly nie.’

“En op ’n ander plek:

‘Laat iemand anders

sy toesigverantwoordelikheid

oorneem.’

21 “Daarom moet ons nou iemand anders kies. Dit moet een van die mans wees wat die hele tyd toe die Here Jesus by ons was, ook saam met ons was –

22 van die tyd toe Jesus heel aan die begin deur Johannes gedoop is, tot op die dag toe Hy van ons in die hemel opgeneem is. Die een wat gekies word, sal saam met ons ’n getuie wees van Jesus se opstanding.”

23 Hulle stel toe twee voor: Josef, wat ook Barsabbas of Justus genoem word, en Mattias.

24 Hulle bid toe saam dat die regte een verkies word. “Here,” het hulle gebid, “U ken elke hart. Wys ons watter een U gekies het

25 om as apostel te dien in die plek van Judas wat ons in die steek gelaat het en na die plek toe is waar hy hoort.”

26 Hulle het toe geloot, en die loting het vir Mattias aangewys. So is hy gekies as die twaalfde apostel.

HANDELINGE 2

Die Heilige Gees op Pinksterdag

op die dissipelkring uitgestort

1 Op Pinksterdag, sewe weke na Jesus se opstanding, was al die gelowiges op een plek saam.

2 Skielik was daar in die lug bokant hulle ’n geluid soos van ’n geweldige stormwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle bymekaar was.

3 Tonge wat gelyk het soos individuele vuurvlamme het toe tussen hulle verskyn en op elkeen van hulle gaan sit.

4 Almal is toe met die Heilige Gees vervul en soos die Gees vir hulle die vermoë gegee het, het hulle in ander tale begin praat.

5 Daar het toegewyde Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon.

6 Die geluid van die stormwind en die stemme het ’n groot skare daar laat saamkom. Hulle was uit die veld geslaan omdat elkeen die gelowiges in hulle eie taal hoor praat het.

7 Hulle was heeltemal uit die veld geslaan. “Hoe is dit moontlik?” het hulle uitgeroep. “Almal wat hier praat, is Galileërs,

8 en tog hoor ons hulle in ons moedertaal praat!

9 Hier is ons – Perse, Mediërs en Elamiete, mense wat in Mesopotamië bly, in Judea, Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië,

10 Frigië, Pamfilië, Egipte en die dele van Libië na Sirene se kant toe, besoekers uit Rome –

11 Jode sowel as proseliete, Kretensers en Arabiere. Ons almal hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het!”

12 Hulle was almal uit die veld geslaan. “Wat kan dit tog beteken?” het party van hulle mekaar gevra.

13 Maar ander het gespot. “Hulle is maar net dronk!” het hulle gesê.

Petrus se preek op Pinksterdag

14 Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op. Hy het die skare met ’n harde stem toegespreek: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, neem nou deeglik kennis en luister goed na wat ek gaan sê: Julle moet nou goed luister!

15 Party van julle beweer hierdie mense is dronk. Dis nie waar nie! Dis heeltemal te vroeg daarvoor. Mense is nie nege-uur in die oggend al dronk nie.

16 Nee, wat hier gebeur, is waarvan God deur die profeet Joël gepraat het:

17 ‘Só sal dit in die laaste dae wees, sê God:

Ek sal my Gees uitstort op elke

mens.

Julle seuns en dogters

sal die woord van God

verkondig;

julle jongmense sal gesigte sien,

en julle oumense sal drome

droom.

18 Ja, op die mans en vroue

wat in my diens staan,

sal Ek in daardie dae

my Gees uitstort

en hulle sal my woord verkondig.

19 En Ek sal wonders gee

bo in die hemelruim

en wondertekens onder op die

aarde –

bloed en vuur en rookwolke.

20 Die son sal ’n donker kol word,

en die maan ’n bloedkol,

voordat die groot en heerlike

Dag van die Here kom.

21 Elkeen wat die Naam

van die Here aanroep,

sal verlos word.’

22 “Luister na wat ek gaan sê, geagte mede-Israeliete! Soos julle self weet, het God in die openbaar by julle bevestig dat Jesus van Nasaret die Here is. Dit is bevestig deur kragtige dade, wonders en tekens wat God Hom by julle laat doen het.

23 Maar julle het opgetree soos God dit vooruit bepaal het. Met die hulp van nie-Jode het julle Hom aan die kruis gespyker en vermoor.

24 God het Hom egter van die smarte van die dood gered en Hom opgewek, want die dood kon Hom nie in sy greep hou nie.

25 “Koning Dawid het die volgende van Hom gesê:

‘Ek het die Here altyd by my gesien.

Niks en niemand

sal my laat wankel nie,

want Hy is hier reg by my.

26 Dis hoekom my hart bly is,

en my tong jubel!

Ja, nog meer:

omdat ek hoop het,

leef ek rustig.

27 Ek weet U sal my gees

nie in Hades agterlaat nie

of toelaat dat u Heilige

in die graf vergaan nie.

28 U het my die paaie geleer

wat na die lewe lei,

U sal my bly maak

met u teenwoordigheid.’

29 “Geagte volksgenote, verstaan goed! Dawid het in dié woorde wat ek aangehaal het, nie van homself gepraat nie. Ons weet mos: hy hét gesterf en is begrawe, en sy graf is tot vandag toe nog hier by ons.

30 “Hy het dus as profeet opgetree, en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge as Messias op sy troon sou sit.

31 Dawid het in die toekoms gesien en oor die opstanding van die Messias gepraat:

Hy sal nie in Hades

agtergelaat word nie,

sy liggaam sal nie in die graf

vergaan nie.

32 “Hierdie woorde van Dawid handel oor Jesus: God het Hom opgewek. Ons is almal getuies hiervan.

33 Hy is derhalwe verhoog tot die regterhand van God, en nadat Hy die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy dit uitgestort soos julle nou sien en hoor.

34 Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy:

‘Die Here het vir my Here gesê:

Sit aan my regterhand

35 totdat Ek jou vyande

heeltemal aan jou

onderwerp het.’

36 “Die hele Israel moet dus vir seker weet: God het hierdie Jesus wat júlle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Die eerste Pinksteroes word

ingebring

37 Petrus se woorde het hulle diep geraak. Hulle het toe vir Petrus en die ander apostels gevra: “Geagte volksgenote, wat moet ons doen?”

38 Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.

39 Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep.”

40 Petrus het nog lank aanhou getuig en ’n ernstige beroep op sy hoorders gedoen: “Laat julle red uit hierdie afgedwaalde geslag!”

41 Dié wat Petrus se boodskap aanvaar het, is gedoop en hulle het lede van die kerk geword. Hulle was so 3 000.

Die eerste gemeente in

Jerusalem – ’n besielende

42 Hulle het hulle volledig gewy aan die leer van die apostels, aan die versorging van mekaar, aan die gemeenskaplike maaltye, en aan gebede.

43 Diep ontsag het oor elke persoon gekom, en die apostels het baie wonders en wondertekens laat plaasvind.

44 Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom, en hulle het alles wat hulle besit het, met mekaar gedeel.

45 Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

46 Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die maaltyd van die Here gevier, en hulle kos met jubelende blydskap en in alle opregtheid geëet.

47 Hulle het God deurentyd geprys, en die goedgesindheid van die hele volk geniet. En die Here het elke dag mense wat verlos word, by hulle gevoeg.

HANDELINGE 3

’n Verlamde man beleef by

Mooipoort sy mooiste dag

1 Petrus en Johannes was een middag op pad tempel toe. Dit was drie-uur, die gebedstyd.

2 Net tóé word daar ’n man aangedra wat van sy geboorte af lam was. Mense het hom daagliks laat sit by die tempelpoort wat as Mooipoort bekend staan, om by die tempelgangers te bedel.

3 Petrus en Johannes wou net in die tempel ingaan, toe hy hulle sien en ’n bydrae by hulle vra.

4 Petrus kyk hom toe saam met Johannes stip aan, en sê: “Kyk na ons!”

5 Die verlamde man kyk toe na hulle in die verwagting dat hy ’n bydrae gaan kry.

6 Maar Petrus sê: “Geld het ek nie. Maar wat ek het, dít gee ek vir jou: Op gesag van Jesus Christus van Nasaret, staan op en loop!”

7 Petrus vat die man toe aan sy regterhand en help hom op. En onmiddellik het sy voete en enkels gesond en sterk geword.

8 Hy het opgespring, op sy voete gestaan, en begin rondstap. Daarna, terwyl hy rondstap, huppel en God prys, is hy saam met hulle die tempel in.

9 Die hele volk het gesien hoe hy loop en gehoor hoe hy God prys.

10 Toe hulle hom eien en besef dat dit hý is wat voor die tempel by Mooipoort gesit en bedel het, was hulle heeltemal verstom.

11 Hulle het van verwondering by die Pilaargang van Salomo saamgedrom terwyl die man gesorg het dat hy bý Petrus en Johannes bly.

Petrus lewer ’n preek in die

Pilaargang van Salomo

12 Toe Petrus dit agterkom, het hy soos volg op die mense gereageer: “Geagte Israeliete, wat is so besonders hieraan? Wat kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsdienstigheid veroorsaak het dat hierdie man kan rondstap?

13 “Dis die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, die God van ons voorvaders wat met hierdie daad Goddelike eer aan Jesus, sy Dienaar, gee. Dis hierdie selfde Jesus vir wie júlle uitgelewer en voor Pilatus verwerp het, al was Pilatus se uitspraak dat Hy vrygelaat moes word.

14 Julle het hierdie heilige en opregte man verwerp, en eerder geëis dat ’n moordenaar vir julle vrygelaat word.

15 Julle het die Bron van lewe doodgemaak, maar God het Hom uit die dood opgewek! Van Hóm is óns getuies!

16 “Die Naam van Jesus het hierdie man se bene weer sterk gemaak – en julle weet hoe verlam hy was.

“Geloof in die Naam van Jesus het hom heeltemal gesond laat word, hier reg voor julle oë.

17 “Volksgenote, ek weet dat wat julle aan Jesus gedoen het, in onkunde gebeur het, en dieselfde geld van julle leiers.

18 “God was egter besig om te laat gebeur wat al die profete vroeër oor die Messias aangekondig het – dat Hy sou ly.

19 Kom tot inkeer en maak reg met God sodat Hy julle sondes sal uitwis.

20 Dan sal die teenwoordigheid van die Here tye van oplewing tot gevolg hê, en Hy sal Jesus julle Messias weer na julle toe stuur.

21 Hy moet in die hemel bly totdat die tyd aangebreek het wanneer God alles nuut maak, soos God dit lank gelede deur sy heilige profete belowe het.

22 “Moses het gesê: ‘Die Here julle God sal ’n Profeet soos ek uit julle volk vir julle laat voortkom. Luister mooi na alles wat Hy vir julle sê.’

23 Moses het ook nog verder gesê: ‘Elkeen wat nie na daardie Profeet luister nie, sal van die volk van God afgesny en vernietig word.’

24 “Van Samuel af het elke profeet gepraat oor wat vandag gebeur.

25 Júlle is die kinders van daardie profete, en julle het deel aan die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het. God het mos vir Abraham gesê: ‘In jou nageslag sal al die families van die aarde geseën word.’

26 Toe God sy Dienaar in die wêreld laat kom het, het Hy Hom heel eerste na julle, Israeliete, toe gestuur om vir julle tot ’n seën te wees deurdat julle almal van julle verkeerde paaie af omdraai.”

HANDELINGE 4

Petrus en Johannes lewer hulle

getuienis voor die Joodse Raad

1 Petrus en Johannes was nog besig om met die mense te praat toe die priesterhoofde, die bevelvoerder van die tempelwag en sommige van die Sadduseërs op hulle afstorm.

2 Hulle was baie ontsteld omdat Petrus en Johannes die volk geleer het en die opstanding uit die dood in Jesus verkondig het.

3 Die tempelwag het hulle gearresteer, en omdat dit al laat was, hulle oornag in die tronk gesit.

4 Tog het baie van die mense wat hulle boodskap gehoor het, gelowig geword. Gevolglik het die getal gelowiges aangegroei tot omtrent 5 000.

5 Die volgende môre het die priesterhoofde, die leiers, die familiehoofde en die skrifgeleerdes in Jerusalem vergadering gehou.

6 Annas die hoofpriester was daar, asook Kajafas, Johannes, Aleksander en ander familielede van die hoofpriester.

7 Hulle het die twee apostels voor hulle laat bring en hulle onder druk gesit met die vraag: “Deur watter krag en in watter naam het julle dit reggekry?”

8 Toe het Petrus, vervul met die Heilige Gees, vir hulle gesê: “Leiers en familiehoofde van ons volk,

9 word ons vandag verhoor oor ’n goeie daad aan ’n verlamde man? Wil julle weet hoe hy gesond gemaak is?

10 Ek wil dit duidelik stel aan julle almal en aan die hele volk Israel dat hy gesond gemaak is in die Naam van Jesus Christus van Nasaret, dié Jesus vir wie júlle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het.

11 Hy is:

‘Dié klip wat deur julle bouers

geminag is;

Hý het nou die sluitklip geword.’

12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

13 Die raadslede was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se waagmoed sien, want hulle het besef dis gewone mense sonder enige besondere opleiding. Hulle het hulle ook herken as mense wat saam met Jesus was.

14 Maar omdat die man wat gesond gemaak is, daar reg by hulle gestaan het, het die raadslede niks gehad om te sê nie.

15 Daarom het hulle Petrus en Johannes uit die raadsaal gestuur en die saak met mekaar bespreek.

16 “Wat gaan ons met hierdie mans aanvang?” het hulle gevra. “Dit is vir almal wat in Jerusalem woon, duidelik dat ’n onmiskenbare teken deur hulle plaasgevind het, en ook ons kan dit nie ontken nie.

17 Maar om te keer dat dit nog verder onder die volk versprei, kom ons dreig hulle om nie weer met iemand in die Naam van Jesus te praat nie.”

18 Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie.

19 Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom?

20 “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.”

21 Die Raad het hulle nog verder gedreig. Uiteindelik het hulle hulle egter laat gaan, want hulle het nie geweet hoe om hulle te straf sonder om ’n volksopstand te veroorsaak nie. Almal was inderdaad besig om God te prys

22 vir die wonderteken – ’n man wat al oor die 40 jaar verlam was, is immers gesond gemaak!

Die gelowiges bid vir waagmoed

23 Toe hulle losgelaat is, het Petrus en Johannes dadelik die ander gelowiges opgesoek en vir hulle vertel wat die priesterhoofde en die familiehoofde alles gesê het.

24 Toe het al die gelowiges saam tot God gebid: “Almagtige Here, Skepper van die hemel en die aarde, die see en alles daarin –

25 U het lank gelede u dienaar, ons voorvader Dawid, deur die Heilige Gees laat sê:

‘Waarom het die nasies

tekere gegaan?

Waarom het die volke

sinlose planne beraam?

26 Die konings van die aarde

het hulle slaggereed gemaak;

die heersers het saamgespan

teen die Here

en teen sy Messias.’

27 “Dit is wat hier in hierdie stad gebeur het! Herodes Antipas, Pontius Pilatus die goewerneur, die ander volke en die volk Israel het saamgespan teen Jesus, u heilige Dienaar, wat deur U toegerus is vir sy taak.

28 Eintlik was alles wat hulle gedoen het, volgens u beskikking en besluit.

29 En nou, Here, hoor hoe dreig hulle ons. Gee dat ons, u diensknegte, u woord met waagmoed sal verkondig.

30 Steek u hand uit en bewerk genesing, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.”

31 Na hierdie gebed het die gebou waar hulle bymekaar was, geskud, en hulle is almal met die Heilige Gees vervul. En hulle het God se boodskap onverskrokke verkondig.

Die gelowiges deel hulle

besittings met mekaar

32 Al die gelowiges was in hart en siel één. Niemand het opgetree asof sy besittings net sy eie was nie, hulle het alles gedeel wat hulle gehad het.

33 Die apostels het kragtige getuienis gegee oor die opstanding van die Here Jesus, en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee.

34 Nie een van hulle het ’n tekort gehad nie, want gelowiges wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die opbrengs daarvan gebring

35 en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.

36 So was daar byvoorbeeld Josef wat deur die apostels Barnabas genoem is (dit beteken iemand wat mense moed inpraat). Hy was uit die stam van Levi, en is op Siprus gebore.

37 Hy het sy grond verkoop en die geld vir die apostels gebring om vir dié te gee wat tekort het.

HANDELINGE 5

Ananias en Saffira betaal die

prys vir hulle bedrog

1 Daar was egter ook ’n sekere man, Ananias, wat saam met sy vrou, Saffira, ’n eiendom verkoop het.

2 Hy het met die medewete van sy vrou van die verkoopprys vir hulleself gehou en net ’n gedeelte daarvan gebring en vir die apostels gegee.

3 Petrus sê toe: “Ananias, hoekom het jy jou deur Satan laat omhaal? Jy het vir die Heilige Gees gelieg toe jy ’n deel van die geld teruggehou het.

4 Die grond was joune om te verkoop of nie. En selfs ná jy dit verkoop het, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Hoe kon jy so iets doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”

5 Toe Ananias hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf. Almal wat hiervan gehoor het, het groot geskrik.

6 ’n Paar jong mans het hom toegedraai en gaan begrawe.

7 Omtrent drie ure later het sy vrou ingekom, onbewus van wat gebeur het.

8 Petrus vra haar toe: “Het julle die grond vir hierdie bedrag verkoop?”

“Ja,” het sy geantwoord, “dit was die bedrag.”

9 Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle twee saamgesweer om die Gees van die Here te toets? Net hier buite die deur is die jong mans wat jou man begrawe het, en hulle gaan jou ook uitdra.”

10 Onmiddellik het sy by sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong mans inkom en sien sy is dood, het hulle haar by haar man gaan begrawe.

11 Die hele gemeente het groot geskrik en al die ander wat hiervan gehoor het, het net so geskrik.

Die apostels genees baie mense

12 Die apostels het baie tekens en wonders onder die volk gedoen. Al die gelowiges het gereeld saamgekom in dié deel van die tempel wat as die Pilaargang van Salomo bekend staan.

13 Niemand anders het dit sommer gewaag om by hulle aan te sluit nie, al het almal hoë agting vir hulle gehad.

14 Al meer mense het in die Here geglo, groot getalle mans en vroue.

15 Mense het selfs siekes op draagbare en bedmatjies in die straat uitgedra sodat wanneer Petrus verbyloop, sy skaduwee dalk op party van hulle kon val.

16 Skares mense het van die dorpe rondom Jerusalem af gekom en siekes en mense gebring wat onder onrein geeste gely het. Hulle is almal gesond gemaak.

Die apostels word vervolg

17 Die hoofpriester en sy ondersteuners, die Sadduseërs, word toe jaloers en besluit om iets aan die saak te doen.

18 Hulle het die apostels gearresteer en in die publieke tronk gestop.

19 Maar ’n engel van die Here het in die nag die tronkdeure oopgemaak, hulle uitgelei en vir hulle gesê:

20 “Gaan tempel toe en verkondig aan die volk die volle boodskap van hierdie nuwe manier van lewe!”

21 Hulle het geluister en met dagbreek tempel toe gegaan en die mense begin onderrig.

Toe het die hoofpriester en sy amptenare ’n sitting van die Joodse Raad en die leiers van Israel belê. Hulle het die apostels vir die verhoor van die tronk af laat haal.

22 Maar toe die tempelwagte by die tronk kom, was die apostels weg. Hulle het kom rapporteer:

23 “Ons het die tronk toegesluit en ten volle beveilig gekry. Die bewaarders was buite op hulle pos. Toe ons egter die tronkdeure oopmaak, was daar niemand binne nie!”

24 Toe die bevelvoerder van die tempelwag en die priesterhoofde hierdie verslag hoor, was hulle verstom en hulle het gewonder wat aangaan.

25 Net toe kom daar iemand en sê vir hulle: “Weet julle, die mans vir wie julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en onderrig die mense!”

26 Die bevelvoerder het toe saam met die tempelwagte die apostels gaan arresteer. Hulle het nie geweld gebruik nie, want hulle was bang die mense steek hulle onder die klippe.

27 Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra:

28 “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie Man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!”

29 Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!

30 Die God van ons voorouers het Jesus uit die dood opgewek nadat julle Hom vermoor het deur Hom te kruisig.

31 God het Hom verhoog tot Leier en Verlosser in die regeerposisie reg langs Hom. Hy het dit gedoen om Israel tot inkeer te bring sodat hulle vergifnis van sonde kan ontvang.

32 Óns is getuies hiervan, ons en die Heilige Gees wat God gegee het aan dié wat aan Hom gehoorsaam is.”

33 Toe die Raad dit hoor, was hulle woedend en het hulle begin planne maak om die apostels dood te maak.

34 Maar een van die Raadslede het opgestaan. Hy was ’n Fariseër met die naam Gamaliël, ’n geëerde wetskenner van Moses en baie gerespekteer deur al die mense. Hy het opgestaan en gevra dat die apostels ’n rukkie moet uitgaan.

35 Hy het sy kollegas toe soos volg toegespreek: “Geagte Israeliete, wees versigtig wat julle met hierdie mans gaan doen!

36 ’n Tyd gelede het ene Teudas na vore getree en daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders is. Omtrent 400 man het by hom aangesluit. Hy is egter tereggestel, en al sy volgelinge is verstrooi. Dié hele beweging het op niks uitgeloop nie.

37 Na hom, in die tyd van die sensus, was daar Judas die Galileër. Hy het ’n opstand georganiseer en ’n klomp mense is agter hom aan. Ook hý is om die lewe gebring, en al sy volgelinge is uitmekaargejaag.

38 “Wat die huidige geval betref, is my aanbeveling daarom aan julle: Laat staan hierdie mense en los hulle uit. As hulle beplanning en aksies mensewerk is, sal daar niks van kom nie.

39 As dit egter van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. Netnou word daar bevind dat julle selfs teen God geveg het!”

Die Raad het sy advies aanvaar.

40 Hulle het die apostels ingeroep en hulle laat slaan. Toe het hulle hulle belet om weer in die Naam van Jesus te praat, en hulle laat gaan.

41 Die apostels het van die Raad af weggegaan, bly dat God hulle werd geag het om ter wille van die Naam van Jesus vernedering te ly.

42 En elke dag het hulle aangehou om mense in die tempel en van huis tot huis te onderrig en die Goeie Nuus te preek dat Jesus die Messias is.

HANDELINGE 6

Sewe mans word vir ’n

spesifieke diens in die gemeente

1 Namate die aantal gelowiges steeds toegeneem het, het daar klagtes gekom. Die Griekssprekendes het gekla oor die daaglikse verspreiding van kos aan hulle weduwees. Hulle het beweer dat die Arameessprekendes hulle afskeep.

2 Die Twaalf roep toe al die gelowiges bymekaar en sê vir hulle:

“Ons as apostels behoort ons besig te hou met die verkondiging van die woord van God, nie met die verspreiding van kos nie.

3 Medegelowiges, kies sewe mans onder julle wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het. Ons sal hulle dan vir hierdie bediening aanstel.

4 Óns sal dan al ons tyd bestee aan gebed en die bediening van die woord.”

5 Die voorstel het by almal byval gevind, en hulle het die volgende mans verkies: Stefanus (’n man vol van geloof en die Heilige Gees), Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus van Antiogië (wat voorheen ’n Joodse proseliet was).

6 Hierdie sewe is aan die apostels voorgestel, en dié het vir hulle gebid en hulle die hande opgelê om hulle vir hulle taak toe te rus.

7 Die woord van God het verder versprei, en die aantal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ’n groot klomp priesters het gelowig geword.

Stefanus word gearresteer

8 Stefanus, ’n man vol van God se genade en krag, het wonders en groot tekens onder die mense gedoen.

9 Op ’n dag het ’n klompie lede van die sogenaamde “Sinagoge van die Vrygelate Slawe” met hom in debat getree. Hulle was Jode wat van Sirene en Aleksandrië, en van die provinsies Silisië en Asië gekom het.

10 Hulle was egter nie opgewasse teen die wysheid en die Gees waarmee hy gepraat het nie.

11 Toe het hulle mans omgekoop om oor Stefanus te jok en te sê: “Ons het hom beledigende dinge teen Moses en selfs teen God hoor sê.”

12 Só het hulle dit reggekry om die skares en die familiehoofde en die skrifkenners op te sweep. Dié het Stefanus gearresteer en hom voor die Joodse Raad gebring.

13 Die vals getuies het gesê: “Hierdie man hou aan om afbrekend van die tempel en van die wet van Moses te praat.

14 Ons het hom regtig hoor sê dat hierdie Jesus van Nasaret die tempel sal verwoes en die tradisies wat Moses vir ons gegee het, sal verander.”

15 Al die raadslede het stip na Stefanus gekyk en gesien dat sy gesig soos dié van ’n engel skitter.

HANDELINGE 7

Stefanus lewer ’n kragtige

getuienis voor die Joodse Raad

1 Die hoofpriester vra toe vir Stefanus: “Is hierdie aanklagte waar?”

2 Toe het Stefanus gesê: “Medegelowiges, luister na my! Ons glorieryke God het in Mesopotamië aan ons voorvader Abraham verskyn voordat hy Haran toe is.

3 God het vir hom gesê: ‘Verlaat jou geboorteland en jou familie, en gaan na die land toe wat Ek vir jou sal wys.’

4 Abraham het toe die land van die Galdeërs verlaat en in Haran gaan woon. Ná sy pa se dood het God hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waar julle nou woon.

5 God het hom geen eiendom as erfdeel hier gegee nie, selfs nie ’n vierkante meter nie. God het egter belowe dat die hele land syne en sy nageslag s’n sal wees, al het hy toe nog geen kind gehad nie.

6 “God het egter ook gesê dat sy nageslag as uitlanders sal woon in ’n vreemde land, waar hulle vir 400 jaar as slawe mishandel sal word.

7 ‘Maar Ék sal die nasie straf wat hulle as slawe laat werk,’ het God gesê, ‘en uiteindelik sal hulle wegtrek en My op hierdie plek aanbid.’

8 God het in hierdie tyd vir Abraham die verbond gegee waarvan die besnydenis die teken is. So het dit gekom dat Abraham sy seun Isak besny het toe hy agt dae oud was. Isak het dieselfde gedoen met Jakob, en Jakob met die twaalf stamvaders.

9 “Hierdie seuns van Jakob was jaloers op hulle broer Josef, en hulle het hom verkoop om ’n slaaf in Egipte te wees. Maar God was by hom

10 en het hom uit al sy swaarkry gered. God het gemaak dat Farao, die koning van Egipte, van hom hou. God het ook besondere wysheid aan Josef gegee sodat Farao hom as onderkoning oor Egipte en as hoof van sy hele huishouding aangestel het.

11 “Toe het daar hongersnood in die hele Egipte en ook in Kanaän gekom. Ons voorouers het baie swaar gehad, want hulle kos het opgeraak.

12 “Toe Jakob hoor dat daar in Egipte koring is, het hy sy seuns gestuur om daarvan te gaan koop.

13 Op hulle tweede besoek het Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendgemaak, en hulle aan Farao voorgestel.

14 Josef het sy pa, Jakob, en sy hele familie laat haal, altesaam 75 mense.

15 So is Jakob Egipte toe. Hy is daar dood, en ook al sy seuns.

16 Hulle is na Sigem toe gebring en begrawe in die grafgrot wat Abraham daar met geld by die seuns van Hemor gekoop het.

17 “Soos die tyd dat God sy belofte aan Abraham sou vervul, nadergekom het, het ons volk in Egipte tot ’n groot getal aangegroei.

18 ’n Nuwe koning, wat niks van Josef geweet het nie, het egter in Egipte aan die bewind gekom.

19 Hierdie koning het ’n slinkse plan teen ons mense beraam en ons voorouers verplig om hulle babatjies buite aan hulle lot oor te laat sodat hulle sou sterf.

20 “In dié tyd is Moses gebore, en hy was besonder mooi. Sy ouers het hom drie maande lank tuis versorg.

21 Toe hulle hom uiteindelik buite aan sy lot moes oorlaat, het die farao se dogter hom gekry, en sy het hom as haar eie seun grootgemaak.

22 Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en hy het met woord en daad presteer.

23 “Op 40-jarige leeftyd het hy besluit om te gaan kyk hoe dit met sy mense, die volk Israel, gaan.

24 Tydens sy besoek het hy gesien hoe ’n Egiptenaar een van die Israeliete aanrand, en hy het die slagoffer gaan help. Tydens sy vergelding het hy die Egiptenaar doodgemaak.

25 Hy het gemeen sy mense sou begryp dat God hom gestuur het om hulle te verlos, maar hulle het nie.

26 “Toe hy die volgende dag weer daar kom, kry hy twee Israeliete wat baklei. Hy het probeer vrede maak, en sê: ‘Manne, julle is tog volksgenote! Hoekom maak julle mekaar seer?’

27 “Maar die een wat die oorsaak van die bakleiery was, stamp Moses eenkant toe en sê vir hom om hulle uit te los. ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?

28 Wil jy my ook vermoor, soos jy gister die Egiptenaar vermoor het?’

29 Toe Moses dit hoor, het hy gevlug en as uitlander in die land Midian gaan woon. Dáár het hy die pa geword van twee seuns.

30 “’n Engel het 40 jaar later in die woestyn by Sinaiberg in die vlam van ’n brandende doringbos aan Moses verskyn.

31 Moses het dit gesien en gewonder wat aangaan. Toe hy nadergaan om dit te bekyk, kom die stem van die Here:

32 ‘Ek is die God van jou voorvaders – die God van Abraham, Isak en Jakob.’ Moses was só bang dat hy gebewe het; hy het dit nie gewaag om te kyk nie.

33 “En die Here het vir hom gesê: ‘Trek jou sandale uit, want jy staan op gewyde grond.

34 Die mishandeling van my volk in Egipte het Ek inderdaad gesien. Ek het hulle hulpgeroep gehoor. Hier is Ek nou om hulle te red. Kom, Ek stuur jou nou Egipte toe.’

35 Só, deur die engel wat in die brandende doringbos aan hom verskyn het, het God juis hóm as leier en redder na die Israeliete toe gestuur, dieselfde Moses vir wie die Israeliete verwerp het en toegesnou het: ‘Wie het jou ons leier en regter gemaak?’

36 So het dit gekom dat Moses hulle uitgelei het. Dit het gepaardgegaan met baie wonders en tekens wat hy oor die verloop van 40 jaar in Egipte, die Rooisee en in die woestyn gedoen het.

37 “Hierdie selfde Moses het vir die volk Israel gesê: ‘God sal uit julle eie geledere vir julle ’n Profeet soos ek laat voortkom.’

38 Dit is dieselfde Moses wat, toe die volk as gemeente daar in die woestyn was, as tussenganger opgetree het tussen ons voorouers en die engel wat op Sinaiberg met hom gepraat het. Hy het lewende woorde ontvang om aan ons oor te dra.

39 “Ons voorouers het hom egter geïgnoreer, en hulle wou teruggaan Egipte toe.

40 Toe het hulle vir Aäron gesê: ‘Maak vir ons gode wat ons kan lei, want hierdie Moses wat ons uit Egipte uitgelei het – ons weet nie wat met hom gebeur het nie.’

41 Hulle het toe ’n kalf-afgodsbeeld gemaak en aan dié afgod offers gebring. Hulle was baie ingenome met wat hulle gedoen het.

42 Maar God het sy rug op hulle gedraai en hulle laat begaan. Hulle het die son, die maan en die sterre as hulle gode gedien! So staan dit in die boek van die profete geskryf:

‘Was dit vir Mý dat julle

die offers gebring het

gedurende die 40 jaar

in die woestyn, Israel?

43 Nee! Julle het net oë en ore gehad

vir julle afgode:

die heiligdom van Molek,

en die stergod Refan,

die beelde wat julle gemaak het

om te aanbid.

Daarom sal Ek julle as gevangenes

ver weg stuur tot anderkant

Babilon.’

44 “Ons voorgeslag het die tabernakel by hulle in die woestyn gehad. Dié tabernakel is gemaak presies volgens die plan wat God aan Moses gewys het.

45 Jare later, toe Josua die gevegte aangevoer het teen die volke wat God uit die land verdryf het, het hulle die tabernakel saamgeneem na hulle nuwe land toe. Daar is dit gebruik tot in die tyd van koning Dawid.

46 “Dawid het God se genade ervaar, en het gevra vir die voorreg om ’n tempel vir die huis van Jakob te bou.

47 Dit was egter Salomo wat die tempel vir God gebou het.

48 Die Allerhoogste woon egter nie in mensgemaakte plekke nie. Soos die profeet dit stel:

49 ‘Die hemel is my troon,

en die aarde is my voetbank.

Enige tempel

wat julle vir My bou,

skiet ver tekort,’ sê die Here.

‘Kan julle ’n blyplek

vir My bou?

50 ‘Het Ek nie self

al hierdie dinge

gemaak nie?’

51 “Julle hardkoppiges! In julle harte is julle nie-Jode. Julle is doof vir die woord van God! Moet julle alewig die Heilige Gees weerstaan? Maar julle voorouers het dit gedoen, en julle doen dit nou ook!

52 Noem een profeet vir wie julle voorouers nie vervolg het nie! Hulle het selfs dié doodgemaak wat die koms van die Regverdige voorspel het – die Messias wat julle uitgelewer en vermoor het.

53 Júlle het die wet van God nié uitgeleef nie, alhoewel julle dit deur bemiddeling van engele ontvang het.”

Stefanus betaal die hoogste prys

54 Die Joodse leiers was woedend oor Stefanus se aanklag, en hulle het hulle woede gewys.

55 Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het aanhou opkyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien. Hy het Jesus in die regeerposisie reg langs God sien staan.

56 “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel óóp en die Seun van die Mens in die regeerposisie reg langs God staan!”

57 Toe het hulle hulle ore toegedruk en hom doodgeskreeu. Soos een man het hulle op hom afgestorm.

58 Hulle het hom uit die stad gesleep en hom met klippe doodgegooi. Die amptelike getuies het hulle klere uitgetrek en by die voete van ’n jong man met die naam Saulus neergesit.

59 Terwyl hulle besig was om Stefanus te stenig, het hy gebid: “Here Jesus, ontvang my gees.”

60 Hy het op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie!” Met hierdie woorde het hy gesterf.

HANDELINGE 8

1 Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus.

Vervolging verstrooi die

gelowiges

’n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria.

2 (Godvresende mense het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.)

3 Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit.

Filippus preek met groot seën in

Samaria

4 Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het so ver as wat hulle gegaan het, die Goeie Nuus verkondig.

5 Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel.

6 Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister.

7 Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak.

8 Daar was groot blydskap in daardie stad.

9 In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was.

10 Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.”

11 Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste.

12 Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop.

13 Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.

14 Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig.

15 Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang.

16 Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.

17 Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

18 Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle sit, wou hy hierdie mag koop.

19 “Gee my ook hierdie mag,” het hy gesê, “sodat elkeen op wie ek my hande sit, die Heilige Gees kan ontvang!”

20 Petrus het hom egter geantwoord: “Mag jou geld saam met jou vernietig word omdat jy dink dat dié gawe van God gekóóp kan word!

21 Hier is nie plek vir jou nie, want voor God is jou hart nie reg nie.

22 “Bekeer jou van hierdie boosheid van jou en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe.

23 Ek kan sien jy is vol bitterheid en deur sonde geboei.”

24 “Bid júlle tog vir my tot die Here,” het Simon uitgeroep, “dat hierdie verskriklike dinge nie met my gebeur nie!”

25 Nadat Petrus en Johannes kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here in Samaria verkondig het, het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. Op pad het hulle die evangelie ook in baie Samaritaanse dorpies verkondig.

Filippus bring die Goeie Nuus

aan ’n ontmande Etiopiër

26 Vir Filippus het ’n engel van die Here egter gesê: “Gaan suid met die woestynpad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.”

27 Filippus het dit gedoen, en hy het die Minister van Finansies van Etiopië teëgekom. Hy was ’n ontmande in dié hoë pos by die koningin van Etiopië. Hy het Jerusalem toe gekom om te aanbid,

28 en was nou op pad terug. Hy het op sy wa die boek van die profeet Jesaja gesit en lees.

29 Toe het die Gees vir Filippus gesê: “Gaan loop langs sy wa.”

30 Filippus het nadergedraf en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra hom toe: “Verstaan u wat u lees?”

31 Die Etiopiër het geantwoord: “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie?”

Hy het Filippus toe mooi gevra om op te klim en by hom te kom sit.

32 Die Skrifdeel waarmee hy besig was, lui:

“Hy is gelei soos ’n skaap

na die slagplek,

en soos ’n lam stil is

by sy skeerder,

só het Hy sy mond

nie oopgemaak nie.

33 Hy is verneder,

en alle reg is Hom ontsê.

Wie kan van sy nageslag vertel?

Want sy lewe word

van die aarde af weggevat.”

34 Die ontmande het toe vir Filippus gevra: “Praat die profeet hier van homself of van iemand anders?”

35 Filippus het toe by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom vertel.

36 Op pad kom hulle by water aan, en die ontmande sê: “Kyk, daar is water! Waarom kan ek nie gedoop word nie?”

38 Hy het toe die wa laat stilhou, en hulle twee het in die water gegaan, en Filippus het hom gedoop.

39 Toe hulle uit die water opkom, het die Gees van die Here vir Filippus weggevat. Die ontmande het hom nie meer gesien nie en hy het sy reis met blydskap voortgesit.

40 Toe Filippus hom weer kom kry, was hy in die stad Asdod. Hy het daarvandaan deur al die dorpe die Goeie Nuus verkondig totdat hy in Sesarea aangekom het.

HANDELINGE 9

Jesus die Here gryp magtig in

Saulus se lewe in

1 Intussen het Saulus met elke asemteug dreigemente uitgespreek. Hy wou die volgelinge van die Here doodmaak, en het daarom na die hoofpriester toe gegaan.

2 Hy het briewe van hom aan die sinagoges in Damaskus gevra waarin hulle versoek word om hom te help om dié wat aan “Die Pad” behoort, mans én vroue, op te spoor, en hulle geboei na Jerusalem toe te bring.

3 Toe hy op sy sending naby Damaskus kom, het daar skielik ’n lig uit die hemel hom omstraal!

4 Hy het op die grond neergeval en ’n stem vir hom hoor sê: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

5 “Wie is U, Here?” het hy toe gevra.

“Ek is Jesus,” antwoord Hy. “Dis vir Mý wat jy vervolg!

6 Staan nou op en gaan die stad in. Dáár sal vir jou gesê word wat jou te doen staan.”

7 Die mans saam met hom was sprakeloos van verbasing, want hulle het iemand se stem gehoor, maar niemand gesien nie.

8 Saulus het van die grond af opgestaan en alhoewel sy oë oop was, kon hy niks sien nie. Hulle is Damaskus in terwyl sy reisgenote hom aan die hand lei.

9 Hy was drie dae lank daar sonder om te sien, en hy het ook niks geëet of gedrink nie.

10 Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!”

“Ja, Here!” het hy geantwoord.

11 Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid.

12 Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.”

13 Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het!

14 En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.”

15 Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel.

16 Ek sal inderdaad self vir hom wys hoeveel hy vir My moet ly.”

17 Ananias het toe vertrek en in daardie huis ingegaan. Hy het sy hande op Saulus gesit en gesê: “Broer Saul, die Here het my gestuur, Jesus wat aan jou verskyn het op pad hierheen. Hy het my gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word.”

18 Onmiddellik het iets soos skille van Saulus se oë afgeval en hy kon weer sien. Hy het opgestaan en is gedoop.

19 Hy het toe kos geëet en sy kragte begin herwin.

Saulus verkondig die Goeie

Nuus in Damaskus

Saulus het ’n paar dae by die gelowiges in Damaskus gebly.

20 Hy het Jesus dadelik in die sinagoges begin verkondig – dat Hy die Seun van God is.

21 Almal wat hom gehoor het, was verbaas en het gesê: “Is dit nie dié man wat Jesus se volgelinge in Jerusalem getreiter het nie? Dis mos presies waarvoor hy hierheen gekom het: om hulle geboei voor die priesterhoofde te bring!”

22 Saulus se prediking het al hoe kragtiger geword en het die Damaskus-Jode in die war gebring deur te bewys dat Jesus die Christus is.

23 Na etlike dae het dié Jode saamgesweer om Saulus te vermoor.

24 Hulle komplot het egter aan Saulus uitgelek. Dag en nag het hulle die stad se poorte dopgehou om hom te vermoor.

25 Maar sy volgelinge het hom in ’n mandjie deur ’n opening in die stadsmuur laat afsak.

Saulus tree in Jerusalem op

26 Toe Saulus in Jerusalem aankom, het hy probeer om by die gelowiges aan te sluit, maar almal was bang vir hom. Hulle kon nie glo dat hy ’n gelowige is nie.

27 Barnabas het hom toe na die apostels toe gevat, en vir hulle vertel hoe Saulus op pad na Damaskus die Here gesien het. Barnabas het ook vertel dat die Here met Saulus gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het.

28 Saulus het toe oral in Jerusalem saam met hulle rondgegaan en openlik in die Naam van die Here gepreek.

29 Hy het ook met Griekssprekende Jode gepraat en met hulle geredeneer, maar hulle het planne beraam om hom te vermoor.

30 Toe die gelowiges dit agterkom, het hulle hom Sesarea toe gevat en hom van daar na Tarsus toe weggestuur.

31 Die kerk het deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad. Die gelowiges is opgebou en het in ontsag vir die Here geleef, en hulle is deur die Heilige Gees versterk. Op hierdie manier het hulle getalle aangegroei.

Eneas word gesond gemaak

32 Petrus het van plek tot plek gereis en het op ’n keer ook by die gelowiges in die dorp Lidda gekom.

33 Daar het hy ’n man met die naam Eneas gekry wat verlam en al agt jaar bedlêend was.

34 “Eneas,” het Petrus toe vir hom gesê, “Jesus Christus maak jou gesond! Staan en rol jou bed op!” En hy het dadelik opgestaan.

35 Al die inwoners van Lidda en die Saronvlakte het hulle tot die Here bekeer toe hulle Eneas sien rondgaan.

Tabita word opgewek

36 In Joppe was daar ’n gelowige vrou met die naam Tabita (in Grieks is sy “Dorkas”). Sy was altyd besig om aan ander goed te doen en armes te help.

37 Juis in dié tyd het sy siek geword en is sy dood. Hulle het haar liggaam vir die begrafnis voorberei, en in ’n bokamer neergelê.

38 Met Lidda naby Joppe het die gelowiges gehoor dat Petrus daar is. Hulle het toe twee mans na hom toe gestuur met die versoek: “Kom asseblief sonder uitstel na ons toe!”

39 Petrus is dadelik saam met hulle terug. Toe hy daar kom, het hulle hom bokamer toe gevat. Al die weduwees het by hom kom staan en snikkend vir hom die verskillende soorte klere gewys wat Dorkas gemaak het toe sy nog by hulle was.

40 Petrus het almal egter uitgestuur, en toe het hy gekniel en gebid. Hy het na die liggaam toe gedraai en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak! Toe sy Petrus sien, het sy regop gesit.

41 Hy het haar sy hand gegee en haar help opstaan. Toe het hy die gelowiges en die weduwees geroep, en hulle gewys sy leef.

42 Dié gebeure het in die hele Joppe bekend geword, en baie het tot geloof in die Here gekom.

43 Petrus het ’n hele aantal dae in Joppe gebly by ’n sekere Simon, ’n leerlooier.

HANDELINGE 10

God stuur Petrus na die huis

van ’n nie-Joodse

1 In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n offisier oor honderd man van die Italiaanse Regiment.

2 Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid.

3 Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!”

4 Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?”

Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval!

5 Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus.

6 Hy is ’n gas by ’n ander Simon, ’n leerlooier. Sy huis is by die see.”

7 Toe die engel wat met hom gepraat het, vertrek, het Kornelius twee van sy huiswerkers en een van sy lyfwagte, self ’n soldaat wat aan God toegewy geleef het, geroep.

8 Hy het hulle alles vertel en hulle Joppe toe gestuur.

9 Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag,

10 en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak.

11 Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe.

12 In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls.

13 ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!”

14 “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.”

15 Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.”

16 Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek.

17 Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon

18 en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is.

19 Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek.

20 Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.”

21 Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?”

22 Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.”

23 Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan.

24 Hulle het die volgende dag in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en naby vriende reeds saamgeroep.

25 Toe Petrus die huis inkom, het Kornelius voor sy voete neergeval en hom begin aanbid.

26 Maar Petrus het hom opgehelp en gesê: “Staan op! Ek is ’n mens net soos jy!”

27 En terwyl hy met hom praat, gaan hulle binne, en kry die klomp mense wat daar bymekaar is.

28 Petrus sê toe vir hulle: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk kontak mag hê of by hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onrein mag beskou nie.

29 Daarom het ek sonder beswaar gekom toe ek laat haal is. Ek vra dan nou waarom julle my laat haal het.”

30 Kornelius antwoord: “Vier dae gelede was ek in my huis besig om te bid, so teen drie-uur die middag. Skielik staan daar toe ’n man met blink klere voor my.

31 Hy sê vir my: ‘Kornelius, jou gebed is verhoor en God het jou bydraes vir die armes nie vergeet nie!

32 Stuur mense Joppe toe en laat vir Simon met die noemnaam Petrus daar haal. Hy is ’n gas in die huis van Simon, ’n leerlooier wat naby die see woon.’

33 So het ek dadelik mense na u toe gestuur, en u was so goed om te kom. Hier is ons nou almal voor God om te hoor watter boodskap die Here aan u gegee het.”

Petrus verkondig die Goeie

Nuus aan Kornelius en sy

34 Toe antwoord Petrus: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.

35 In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.

36 Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is.

37 Julle weet ook self wat dwarsdeur Judea gebeur het; dit het van Galilea af begin ná Johannes die Doper begin preek het.

38 Julle weet ook hoe God Jesus van Nasaret met die Heilige Gees en met krag gesalf het. Jesus het toe rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat onder die mag van die duiwel was, want God was by Hom.

39 “En ons as apostels is getuies van alles wat Hy in Judea en in Jerusalem gedoen het. Die Jode het Hom vermoor deur Hom te kruisig,

40 maar God het Hom drie dae later opgewek. Toe het God Hom laat verskyn,

41 nie in die openbaar aan almal nie, maar net aan ons vir wie Hy vantevore gekies het om Jesus se getuies te wees, ons wat ná sy opstanding uit die dood saam met Hom geëet en gedrink het.

42 Hy het ons toe opdrag gegee om aan almal te verkondig en te getuig dat dit Hy is wat deur God beskik is om Regter oor almal te wees – dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

43 “Van Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergewing van sondes deur sy Naam ontvang.”

Mense wat nie Jode is nie,

ontvang ook die Heilige Gees

44 Terwyl Petrus nog hierdie dinge sê, het die Heilige Gees op almal gekom wat sy boodskap gehoor het.

45 Die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die Heilige Gees ook op nie-Jode as geskenk uitgestort is.

46 Hulle het geen twyfel daaroor gehad nie, want hulle het hulle ongewone tale hoor praat, en hoe hulle God se grootheid besing.

Petrus het toe gesê:

47 “Wat kan verhinder dat hulle met water gedoop word noudat hulle net soos ons die Heilige Gees ontvang het?”

48 Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae daar te bly.