HAGGAI 1

1 Herbou die tempel!

Op 29 Augustus, in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here die profeet Haggai gebruik om ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua oor te dra. Serubbabel, die seun van Sealtiël, was goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, was die hoëpriester.

2 “Die Here, die Almagtige, sê: Die mense sê: ‘Die tyd het nog nie aangebreek om die huis van die Here, die tempel, te herbou nie.’”

3 Die Here het toe deur die profeet Haggai die volgende boodskap gestuur:

4 “Hoe kan julle in weelderige huise bly terwyl my huis ’n ruïne is?

5 Die Here, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!

6 Julle het baie aanplantings gedoen, maar die oes was maar skraal. Julle het nou wel kos om te eet, maar julle is nog honger. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle dors te les nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie voldoende om julle warm te hou nie. Julle geld raak weg asof dit gebêre is in ’n broeksak met gate!

7 “Die Here, die Almagtige, sê: Dink ’n bietjie na oor hoe sake vir julle staan!

8 Gaan haal hout op die heuwels en begin dan my huis herstel. Dit sal My tevrede stel en Ek sal voel dat julle My eer betoon, sê die Here.

9 Julle het gehoop dat dit ’n goeie oes sal wees, maar dit was maar skraal. Die oes wat julle nog huis toe gebring het, het Ek weggewaai. Waarom? Omdat julle almal besig is om julle eie netjiese huise te bou en dit terwyl my huis in puin lê, sê die Here, die Almagtige.

10 Dit is die rede hoekom daar nie dou uit die hemel kom nie en die aarde nie graan oplewer nie.

11 Ek is verantwoordelik vir die droogte oor die weivelde en die heuwels. Dit is ’n droogte wat die graan, die druiwe, die olywe en al die ander graangewasse beskadig; ’n droogte wat julle en julle vee sal laat honger lei; ’n droogte wat alles waaraan julle so hard gewerk het, tot niet sal laat gaan.”

12 Die profeet Haggai het die boodskap van die Here aan die mense oorgedra. Serubbabel, Jesua en al die mense wat in die land agtergebly het, het die boodskap van die Here hulle God gehoorsaam. Hulle het toe in alle erns die Here begin aanbid.

13 Die Here se boodskapper Haggai het toe hierdie boodskap van die Here vir die mense gebring: “Ek is by julle, sê die Here!”

14 Hierdeur het die Here die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua, asook al die Here se mense wat in die land agtergebly het, baie entoesiasties gemaak. Hulle het na die huis van die Here, die Almagtige, hulle God gekom en daaraan begin werk.

15 Dit was op 21 September, die tweede jaar wat Darius koning was.

HAGGAI 2

Die prag van die nuwe tempel

1 Op 17 Oktober van dieselfde jaar het die Here weer vir die profeet Haggai ’n boodskap gegee.

2 “Sê vir Serubbabel, die seun van Sealtiël, goewerneur van Juda, en Jesua, die seun van Josadak, die hoëpriester, asook vir al die Here se mense wat in die land oorgebly het, die volgende:

3 Is daar nog enigiemand wat kan onthou hoe hierdie huis, die tempel, vroeër gelyk het? Hoe vergelyk die tempel nou met daardie een van vroeër? Daar is geen vergelyking nie, nie waar nie!

4 Maar skep moed, Serubbabel, skep moed, Jesua, seun van Josadak, die hoëpriester, sê die Here. Ook al die mense wat nog in die land oor is, moet moed skep, sê die Here. Skep moed en doen die werk, want Ek is by julle, sê die Here, die Almagtige.

5 My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie.”

6 Dit is wat die oppermagtige Here sê: “Binnekort gaan Ek die hemel en die aarde weer skud. Ek gaan die oseane en die droë grond skud.

7 Al die volke gaan Ek ook skud. Al hierdie nasies se skatte sal na hierdie tempel toe gebring word. Ek sal hierdie plek met heerlikheid vul, sê die Here, die Almagtige.

8 Die silwer en die goud behoort aan My, sê die Here, die Almagtige.

9 Die toekomstige roem van hierdie tempel sal baie groter wees as wat dit in die verlede was, sê die Here, die Almagtige. Ek sal in hierdie plek vrede bewerkstellig. Ek, die Here, die Almagtige, bevestig dit!”

Gehoorsaamheid bring

voorspoed

10 Op 18 Desember van die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here die volgende boodskap deur die profeet Haggai gestuur:

11 “Die Here, die Almagtige, sê: Vra vir die priesters die volgende vraag oor die gebooie:

12 Sê nou een van julle dra ’n heilige offer in ’n sak van sy klere. En sê nou hy raak aan ’n stuk brood, gekookte kos, wyn, olie of enige ander vorm van kos, sal dit dan gewy wees?”

Die priesters het geantwoord: “Nee.”

13 Haggai vra toe: “Sê nou iemand het onrein geword omdat so ’n persoon aan ’n lyk geraak het. As hy dan raak aan al die dinge wat reeds genoem is, is die goed dan ook onrein?”

Die priesters het geantwoord: “Ja.”

14 Toe sê Haggai: “Dit geld ook vir hierdie mense en hierdie volk, sê die Here. Net mooi alles wat hulle doen en wat hulle offer, is onrein.

15 Hou dit voortaan in gedagte. Dink ’n bietjie hoe julle omstandighede was voordat julle die fondament van die Here se tempel begin lê het.

16 Toe julle gehoop het vir ten minste twintig mate koring, het julle net tien geoes. En toe julle verwag het om darem 50 vate wyn uit die pers te kry, het dit net twintig opgelewer.

17 Ek het brandkoring, heuningdou en hael gestuur om julle handewerk te vernietig. Tog, ten spyte daarvan, het julle geweier om na My toe terug te kom, sê die Here.

18 “Let baie mooi op wat van vandag af, 18 Desember, die dag waarop die fondamente van die tempel gelê is, sal gebeur:

19 Ek maak nou aan julle ’n belofte terwyl die saad nog in die skuur is en die wingerd, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom nog nie hulle vrug opgelewer het nie. Van vandag af sal Ek julle voorspoedig maak.”

Beloftes aan Serubbabel

20 Die Here het op 18 Desember ’n tweede boodskap vir Haggai gegee:

21 “Sê vir Serubbabel, die goewerneur van Juda, dat Ek op die punt staan om die hemel en die aarde te skud.

22 Ek gaan konings se ryke omverwerp. Ek gaan die mag van koninkryke vernietig. Ek gaan strydwaens en hulle bemanning omdop. Die perde sal neerslaan en die ruiters sal mekaar doodmaak.

23 “Die dag wanneer dit gebeur, sê die Here, die Almagtige, sal Ek jou vereer, Serubbabel, seun van Sealtiël, my dienskneg. Ek sal jou beskou soos ’n seëlring aan my vinger, sê die Here. Ek sal dit doen omdat Ek jou gekies het. Ek, die Here, die Almagtige, sê dit!”