GENESIS 41

Josef verklaar die farao se

drome

1 Twee jaar later het die farao gedroom hy staan langs die Nylrivier.

2 Hy sien hoe sewe mooi vet koeie uit die water kom en in die gras begin wei.

3 Toe kom daar sewe ander koeie uit die water uit, maar hulle was lelik en baie maer. Hulle het by die vet koeie gaan staan.

4 Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe mooi vettes op! Toe het die farao wakker geskrik.

5 Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom. Hierdie keer sien hy sewe mooi vol are aan een stingel.

6 Daarna kom daar nog sewe are uit wat verskroei is deur die oostewind.

7 Die maer are sluk toe die sewe vet are in! Die farao het toe weer wakker geskrik en besef dit was ’n droom.

8 Die volgende oggend het die farao hom bekommer oor wat die drome sou beteken. Hy roep toe al die waarsêers en wyse manne van Egipte en vertel hulle van sy drome. Maar niemand kon die drome uitlê nie.

9 Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het.

10 ’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit.

11 Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis.

12 Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê.

13 Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.”

14 Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn.

15 “Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.”

16 “Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.”

17 Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan.

18 Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei.

19 Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien nie!

20 Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet!

21 Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker.

22 “Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol.

23 Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind.

24 Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.”

25 “Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen.

26 Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom.

27 Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood.

28 Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen.

29 Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees.

30 Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring.

31 Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie.

32 Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen.

33 “My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte.

34 Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder.

35 Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede.

36 Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”

Josef beheer die voorsorg in

Egipte

37 Die farao en sy raadgewers was in hulle skik met Josef se voorstel.

38 Die farao beraadslaag toe met sy amptenare: “Waar sal ons nog iemand kry soos hierdie man? Hy het verseker die gees van die gode in hom.”

39 Hy draai hom toe na Josef toe en sê: “God het die betekenis van hierdie drome aan jou bekendgemaak. Niemand is ook nog so wys en verstandig soos jy nie!

40 Ek stel jou aan oor die projek en oor die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê. Net ek sal meer mag as jy hê.”

41 Die farao sê verder vir Josef: “Hiermee stel ek jou aan oor die hele Egipte.”

42 Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger as teken van sy gesag. Hy het vir hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang.

43 Die farao het ook sy tweede beste wa vir hom gegee. Oral waar hy gegaan het, het hulle voor hom uitgeroep: “Eer hom! Eer hom!” Op hierdie manier is Josef oor die hele Egipte aangestel.

44 Die farao sê vir Josef: “Ek is die koning, maar niemand sal in die ganse Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou goedkeuring nie.”

45 Die farao het hom ’n nuwe naam, Safenat-Paneag, gegee. Hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom as vrou gegee.

46 Josef was al 30 jaar oud toe hy in diens van die farao getree het. Daarna het Josef deur die hele Egipte gereis.

47 Die land het in die daaropvolgende sewe jaar oorvloed rekord-oeste opgelewer.

48 Josef het gedurende dié sewe jaar al die oeste van Egipte in graanskure opgegaar. Die opbrengste van die landerye is in die naaste stad van daardie omgewing gebêre.

49 Na sewe jaar was die graanskure propvol. Daar was soveel graan soos die sand by die see sodat hy nie meer daarvan rekord kon hou nie.

50 Gedurende hierdie tyd, voor die aanbreek van die eerste jare van hongersnood, het Josef se vrou, Asenat, die dogter van Poti-Fera, priester van On, twee seuns vir hom in die wêreld gebring.

51 Josef het die oudste een Manasse genoem, want hy het gesê: “God het my al my swaarkry laat vergeet, en alles wat my familie teen my gedoen het.”

52 Die tweede een het hy Efraim genoem, want hy het gesê: “God het my voorspoedig gemaak in die land van my swaarkry.”

53 Die einde van die tydperk van voorspoed het aangebreek.

54 Toe begin die tydperk van hongersnood, soos Josef gesê het. Hongersnood het in al die omliggende lande uitgebreek, maar in Egipte was daar genoeg graan in die skure.

55 In Egipte het mense ook begin honger ly. Hulle pleit toe by die farao vir kos, maar hy het gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy ook al vir julle sê.”

56 Daar was hongersnood oor die hele wêreld. Josef het toe die skure oopgemaak en graan aan die Egiptenaars begin verkoop.

57 Mense uit die omringende lande het ook by Josef kom graan koop omdat die hongersnood die hele wêreld getref het.

GENESIS 42

Josef se broers gaan na Egipte

toe

1 Jakob het gehoor dat daar in Egipte graan te koop was. Hy sê toe vir sy seuns: “Hoekom staan en kyk julle vir mekaar?

2 Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop vir ons daarvan sodat ons kan oorleef, anders sal ons van die honger doodgaan.”

3 Josef se tien oudste broers het toe na Egipte vertrek om daar graan te gaan koop.

4 Jakob het geweier dat Josef se jonger broer, Benjamin, saamgaan omdat hy bang was hy kom iets oor.

5 Jakob se seuns het saam met ander mense in Egipte aangekom om kos te koop omdat die hongersnood ook Kanaän getref het.

6 Josef was in beheer van die hele Egipte. Hy het ook die graanverkope behartig. Daarom het sy broers na hom toe gegaan. Hulle het diep voor hom gebuig.

7 Josef het hulle dadelik herken, maar hom as ’n vreemdeling voorgedoen. “Van waar is julle?” het hy kortaf gevra.

“Van die land Kanaän,” antwoord hulle. “Ons het gekom om graan te koop.”

8 Josef het hulle wel herken, maar hulle het hom nie herken nie.

9 Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede. Hy sê vir hulle: “Julle is spioene! Julle het kom kyk waar ons land kwesbaar is.”

10 “Nee, Meneer, ons is u dienaars!” sê hulle. “Ons het maar net gekom om kos te koop.

11 Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!”

12 “Nee, julle is!” hou Josef vol. “Julle het gekom om te kyk waar die land ingeval kan word.”

13 “Meneer,” sê hulle, “ons was twaalf broers, seuns van een pa wat in die land Kanaän woon. Ons jongste broer is daar by ons pa, maar een van ons broers leef nie meer nie.”

14 Maar Josef hou steeds vol: “Nee, julle ís spioene!

15 Kyk, ek sal julle storie toets. So waar as Farao leef, julle sal Egipte nie verlaat voordat julle jongste broer hierheen gekom het nie.

16 Een van julle moet julle broer gaan haal. Ek sal die ander hier in die tronk aanhou. Dan sal ek kan vasstel of julle storie waar is of nie. As dit blyk dat julle nie ’n jonger broer het nie, sal ek weet julle is spioene.”

17 Toe stuur hy hulle almal vir drie dae tronk toe.

18 Op die derde dag sê Josef vir hulle: “Ek dien God. As julle maak soos ek sê, sal julle lewe.

19 As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne.

20 Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen, sal ek julle lewens spaar.” Hulle het dié reëling aanvaar.

21 Die broers het toe onder mekaar gepraat: “Dit het alles gebeur oor wat ons lank gelede aan Josef gedoen het. Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou. Dis hoekom hierdie moeilikheid nou oor ons kom.”

22 “Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie?” sê Ruben. “Maar julle wou mos nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het.”

23 Hulle het natuurlik nie geweet Josef verstaan alles wat hulle gesê het nie, want hy het deur ’n tolk met hulle gepraat.

24 Josef het dadelik omgedraai weg van hulle af, want hy kon nie sy trane bedwing nie. Hy het weer na hulle toe teruggegaan en voor hulle oë vir Simeon laat boei en tronk toe gestuur.

25 Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol graan gemaak word en dat die geld wat hulle betaal het bo-op in die sakke teruggesit word. Hy het ook vir hulle padkos vir die pad gegee. Dit is presies net so gedoen.

26 Daarop het hulle die graan op die donkies gelaai en die tog terug huis toe aangepak.

27 Toe een van hulle sy sak oopmaak om kos vir sy donkies uit te haal, kry hy sy geld bo in die sak.

28 “Haai! Kom kyk hier!” skree hy vir sy broers. “My geld is hier bo-op in my sak!” Hulle het hulle doodgeskrik en vir mekaar gesê: “Wat het God met ons laat gebeur?”

29 Toe hulle in die land Kanaän by Jakob, hulle pa, aankom, het hulle hom alles vertel wat gebeur het.

30 “Die man in beheer van die land het bars met ons gepraat,” vertel hulle. “Hy het ons vir spioene aangesien,

31 maar ons het gesê: ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie.

32 Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een van ons is dood en die jongste is by ons pa in die land Kanaän.’

33 Daarop sê die belangrike man vir ons: ‘Om te kan vasstel of julle eerlik is, moet een van julle hier by my agterbly. Neem nou die graan vir julle honger gesinne en gaan huis toe.

34 Maar julle moet julle jongste broer saambring hier na my toe. Dan sal ek weet dat julle eerlik is en nie spioene nie. Ek sal dan julle broer uit die tronk vrylaat en julle mag vrylik rondbeweeg in die land.’”

35 Hulle het die sakke oopgemaak en kyk! die geld wat elkeen vir die graan betaal het, lê bo in sy sak! Hulle en hulle pa was vreesbevange.

36 Jakob het uitgeroep: “Julle beroof my van my kinders! Josef leef nie meer nie en Simeon is ook weg. Nou wil julle Benjamin ook wegneem. Alles is teen my!”

37 Ruben sê toe vir sy pa: “Pa kan al twee my seuns doodmaak as ek Benjamin nie na Pa toe terugbring nie. Laat hom in my hande en ek sal hom aan Pa terugbesorg.”

38 Maar Jakob sê: “My seun sal beslis nie met julle saamgaan nie. Sy broer Josef is nou al dood en hy is al een wat oor is van sy ma se kinders. As hy op die pad iets oorkom, sal julle my in my ouderdom met smart in die graf laat gaan.”

GENESIS 43

Josef se broers keer terug na

Egipte

1 Daar was geen verligting van die vreeslike hongersnood wat in die gebied geheers het nie.

2 Toe die graan wat hulle van Egipte af gebring het, begin opraak, het Jakob vir sy seuns gesê: “Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos.”

3 Maar Juda sê: “Pa, die man het ons ernstig gewaarsku: ‘Ek wil julle nie weer sien as julle broer nie saamkom nie.’

4 As u instem dat ons broer saam met ons gaan, sal ons die kos kan gaan koop.

5 Maar as hy nie mag saamgaan nie, gaan ons nie, want die man het uitdruklik gesê: ‘Ek wil julle nie sien as julle broer nie saamkom nie.’”

6 Baie ontsteld het Jakob geantwoord: “Hoekom het julle hierdie moeilikheid oor my gebring? Hoekom het julle die man vertel dat julle nog ’n ander broer het?”

7 Hulle antwoord hom: “Die man het spesifiek uitgevra oor ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog ’n broer?’ Hoe moes ons geweet het hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’? Ons het maar net sy vrae beantwoord.”

8 Juda sê toe vir sy pa: “Stuur tog maar die seun saam met my dat ons kan vertrek sodat ons kan bly lewe en nie doodgaan nie. Dit raak almal van ons, ook Pa en ons klein kindertjies.

9 Ek sal persoonlik instaan vir sy veiligheid. As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.

10 Ons kon nou al twee keer weg en terug gewees het as dit nie was dat Pa hom teruggehou het nie.”

11 Uiteindelik het Jakob toegegee: “As dit nie anders kan nie, gaan dan maar. Julle moet julle sakke vol maak met die beste wat ons land het en neem vir die man ’n geskenk: ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels.

12 Neem dubbel die hoeveelheid geld, asook die geld wat in julle sakke gekry is. Dalk het iemand ’n fout gemaak.

13 Vat nou julle broer en gaan terug na die man toe.

14 Mag God Almagtig julle genadig wees wanneer julle by die man aankom en mag hy Simeon vrylaat en Benjamin terugstuur. As ek dan van kinders beroof moet word, moet ek maar beroof word.”

15 Die mans vat toe die geskenke, dubbel die hoeveelheid geld én vir Benjamin en gaan Egipte toe en meld hulle by Josef aan.

16 Toe Josef sien dat Benjamin by hulle is, sê hy vir die bestuurder van sy huishouding: “Vat die manne na my huis toe en berei ’n feesmaal voor sodat hulle middagete by my kan geniet.”

17 Die man het so gemaak en hulle na Josef se paleis toe geneem.

18 Toe hulle sien waarheen hulle geneem word, het hulle baie bang geword. “Dis oor die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggesit is,” sê hulle. “Hy wil ons oorweldig, ons sy slawe maak en ons donkies vat.”

Josef onthaal sy broers by sy

paleis

19 Toe die broers by die ingang na die paleis kom, gaan hulle na die bestuurder van Josef se huishouding.

20 Hulle sê vir hom: “Meneer, toe ons laas keer Egipte toe gekom het,

21 het ons op pad huis toe vir die nag uitgespan. Toe ons ons sakke oopmaak, kry ons daar die presiese bedrag geld wat ons vir die graan betaal het. Hier is dit. Ons het dit teruggebring.

22 Ons het ook nog ander geld gebring om weer graan te koop. Maar ons het geen idee hoe die geld in ons sakke beland het nie.”

23 “Ontspan! Moenie julle daaroor bekommer nie,” sê die bestuurder vir hulle. “Julle God, die God van julle voorouers, moes dit teruggesit het. Ons het mos julle betaling gekry.”

Toe het hy Simeon na hulle toe gebring.

24 Daarna het die bestuurder hulle in Josef se paleis ingevat en vir hulle water gegee om hulle voete te was. Hy het ook voer vir hulle donkies gegee.

25 Hulle het gehoor dat hulle die middag daar sou eet en het die geskenke gereed gekry om dit vir Josef te gee.

26 Toe Josef inkom, gee hulle hom die geskenke en buig laag voor hom.

27 Hy vra hoe dit met hulle gaan en voeg by: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle gepraat het? Lewe hy nog?”

28 “Ja,” antwoord hulle. “U dienaar, ons pa, leef nog en dit gaan goed met hom.” Hulle buig toe weer voor hom.

29 Toe hy opkyk, sien hy sy bloedbroer Benjamin raak. Hy vra toe: “Is dit julle jongste broer, die een van wie julle gepraat het? Mag God jou seën, my seun.”

30 Toe kon hy sy trane oor Benjamin nie meer bedwing nie en het haastig die vertrek verlaat. Hy het na ’n aparte vertrek gegaan om daar te gaan huil.

31 Nadat hy sy gesig gewas het, het hy teruggekom. Met sy emosies nou onder beheer, het hy beveel: “Bring die kos!”

32 Josef het eenkant gesit, sy broers by ’n ander tafel en die ander Egiptenaars ook apart. Egiptenaars het nie saam met Hebreërs geëet nie. Dit was vir hulle ’n skande.

33 Josef het vir sy broers hulle plekke aangewys. Tot hulle verbasing was dit in volgorde van hulle ouderdomme, van die oudste tot die jongste.

34 Hulle kos is vanaf Josef se tafel bedien. Die grootste porsie het hy aan Benjamin gegee. Dit was vyf keer groter as dié van die ander. Hulle het toe saam met Josef wyn gedrink en daarvan vrolik geword.

GENESIS 44

Benjamin word vals beskuldig

1 Toe die broers gereed was om te gaan, gee Josef bevel aan die bestuurder van sy huis: “Maak al die sakke vol met soveel graan moontlik en sit elke man se geld weer terug in sy sak.

2 My silwerbeker moet jy bo in die sak van die jongste een sit saam met die geld wat hy vir die graan betaal het.” Die bestuurder het net so gemaak soos Josef beveel het.

3 Teen dagbreek was die broers op en begin hulle die terugtog met hulle donkies.

4 Hulle was skaars buite die stad, toe sê Josef vir die bestuurder: “Jaag agter hulle aan en stop hulle. Vra hulle: ‘Hoekom het julle ’n goeie daad met kwaad vergeld?

5 Waarom het julle my meester se persoonlike silwerbeker gesteel waarmee hy die toekoms voorspel? Dis ’n slegte ding wat julle gedoen het!’”

6 Die bestuurder het hulle ingehaal en gemaak soos hy beveel is.

7 “Waarvan praat u, Meneer?” sê die broers. “Nie een van ons sal so iets aanvang nie.

8 Het ons dan nie die geld wat ons ’n vorige keer in ons sakke gekry het al die pad van Kanaän af weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel?

9 As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.”

10 “Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.”

11 Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak.

12 Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak!

13 Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe.

14 Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.

15 “Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”

16 Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”

17 “Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”

Juda praat namens die broers

18 Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.

19 “Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het.

20 Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’

21 Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’

22 Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’

23 Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’

24 Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het.

25 Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’

26 het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’

27 Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het

28 en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie. Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nog nie weer gesien nie.

29 As julle nou sy broer ook van my wegneem en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan.’

30 “Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie. Ons pa is baie lief vir die seun.

31 As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf. Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smart in die graf gaan.

32 Meneer, ek het my pa gewaarborg dat ek na die seun sal kyk. Ek het vir hom gesê: ‘As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.’

33 Asseblief, Meneer, laat my hier agterbly as u slaaf in die plek van die seun en laat hy saam met sy broers teruggaan.

34 Hoe sou ek sonder die seun na my pa toe kon teruggaan? Ek kan dit nie verduur om daaraan te dink dat ek hom soveel smart sal aandoen nie.”

GENESIS 45

Josef maak homself aan sy

broers bekend

1 Toe kon Josef dit nie meer voor al sy personeel uithou nie. “Gaan uit, almal van julle!” beveel hy hulle. Daar was niemand anders teenwoordig toe Josef hom aan sy broers bekendstel nie.

2 Toe bars hy in trane uit. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het en ook die mense in die farao se paleis.

3 “Ek is Josef!” sê hy vir sy broers. “Leef Pa nog?” Maar sy broers was stomgeslaan, want hulle het baie bang geword.

4 “Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is.

5 Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word.

6 Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie.

7 God het my voor julle uit gestuur om voorsorg te tref dat julle en julle gesinne aan die lewe kan bly en sodat julle ’n groot nasie kan word.

8 Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte.

9 “Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen!

10 Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit.

11 Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’”

12 Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat!

13 Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.”

14 Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het.

15 Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat.

Die farao nooi Jakob na Egipte

toe

16 Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor.

17 Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe

18 en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’

19 Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring.

20 Julle moenie eers bekommerd wees oor die besittings wat julle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan julle.”

21 Jakob se seuns het toe so gemaak. Josef het waens aan hulle verskaf soos die farao beveel het. Hy het ook vir hulle genoeg voorrade vir die reis gegee.

22 Boonop het hy vir elkeen van hulle nuwe klere gegee. Benjamin het egter vyf stelle klere gekry en ook 300 stukke silwer.

23 Vir sy pa stuur hy tien donkies saam, gelaai met die beste ware uit Egipte, en tien donkiemerries wat met graan en allerlei kos gelaai was as padkos vir sy pa.

24 Hy het sy broers afgesien, en toe hulle vertrek, sê hy vir hulle: “Moenie langs die pad begin stry nie!”

25 Hulle is daar weg en het by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän aangekom.

26 “Josef lewe nog!” sê hulle vir hom. “Hy is die heerser van die hele land Egipte!” Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie.

27 Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom.

28 Toe sê Jakob: “Dit moet waar wees! My seun Josef lewe regtig! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterf.”

GENESIS 46

Jakob en sy nageslag vertrek na

Egipte

1 Jakob het met al sy besittings die reis na Egipte aangepak. Toe hy Berseba bereik, bring hy offers aan die God van Isak, sy pa.

2 In die nag het God in ’n visioen met hom gepraat. “Jakob! Jakob!” het Hy geroep.

“Ek luister,” antwoord Jakob.

3 Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot ’n groot nasie maak.

4 Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal julle weer terugbring. Wanneer jy sterf, sal Josef by jou wees om jou oë toe te druk.”

5 Jakob het gereedgemaak om vanaf Berseba te vertrek, en sy seuns het hom na Egipte toe gebring. Hulle het hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens laat klim wat die farao saamgestuur het.

6 Hulle het ook hulle lewende hawe en al die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het, saamgeneem. So het Jakob en sy hele nageslag in Egipte aangekom:

7 sy seuns en kleinseuns, sy dogters en kleindogters – sy hele familie.

8 Dit is die name van die Israeliete, die nageslag van Jakob, wat saam met hom na Egipte toe gegaan het:

Ruben, Jakob se oudste seun.

9 Die seuns van Ruben was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.

10 Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou.

11 Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari.

12 Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al vroeër in Kanaän gesterf.

Peres se seuns was Gesron en Gamul.

13 Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Job en Simron.

14 Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël.

15 Dit is die 33 seuns en kleinseuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter Dina gehad.

16 Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.

17 Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en hulle suster Serag.

Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.

18 Dit is die sestien afstammelinge wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea as slavin gegee.

19 Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel.

20 In Egipte is twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, het aan hulle geboorte gegee. Hulle was Manasse en Efraim.

21 Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.

22 Dit is die veertien seuns en kleinseuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het.

23 Dan en sy seun Sugam.

24 Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.

25 Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee.

26 Die getal direkte afstammelinge van Jakob wat saam met hom Egipte toe gegaan het, was 66, die vroue van die seuns uitgesluit.

27 Josef het ook twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. In totaal was daar dus 70 lede van Jakob se familie in Egipte.

Jakob se familie kom in Gosen

aan

28 Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het,

29 het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil.

30 Toe sê Jakob vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.”

31 Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees.

32 Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’

33 Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep,

34 moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”

GENESIS 47

Josef se familie ontmoet die

farao

1 Josef het na die farao toe gegaan en aan hom gerapporteer: “My pa en my broers is hier van Kanaän af. Hulle het met al hulle kleinvee en grootvee en ander besittings gekom en is nou in die Gosenstreek.”

2 Josef het vyf van sy broers met hom saamgeneem en hulle aan die farao voorgestel.

3 Die farao vra vir hulle: “Wat is julle beroep?”

Hulle antwoord hom: “Ons is veeboere soos ons voorouers.

4 Ons het gekom om as vreemdelinge hier in Egipte te woon, want daar is in Kanaän geen weiding meer vir ons vee nie. Die hongersnood is daar baie swaar. Ons vra u toestemming om in die Gosenstreek te woon.”

5 Die farao sê vir Josef: “Aangesien jou familie hulle nou by jou aangesluit het,

6 kies gerus enige plek waar hulle kan woon. Gee hulle die beste van die land Egipte. Die Gosenstreek sal goed wees. As enigeen van hulle oor besondere vaardighede beskik, laat hulle ook oor my veeboerdery toesig hou.”

7 Josef het ook vir Jakob, sy pa, gebring en hom aan die farao voorgestel. Jakob het die farao geseën.

8 “Hoe oud is jy?” vra die farao.

9 “Ek lewe al 130 jaar as ’n vreemdeling,” antwoord Jakob. “In vergelyking met my voorouers is my jare min, maar egter vol swaarkry.”

10 Net voordat hy vertrek, het Jakob weer die farao met ’n seën gegroet.

11 Josef het toe die beste deel van Egipte, die land van Rameses, aan sy pa en broers gegee om hulle daar te vestig, net soos die farao beveel het.

12 Josef het ook volgens die getal afhanklikes aan sy pa en broers kos voorsien.

Josef se vernuftige optrede

tydens die hongersnood

13 Intussen het die hongersnood al hoe erger geword. Die mense van Egipte en Kanaän het swaar daaronder gely.

14 Josef het baie geld ingesamel in ruil vir graan. Hy het die geld na die farao se skatkamers gebring.

15 Toe die geld van die mense van Egipte en Kanaän op was, het hulle kom pleit vir kos: “Ons geld is op,” het hulle gekla. “Gee ons asseblief kos om te eet. Hoekom moet ons dan sterf?”

16 “Aangesien julle geld op is,” sê Josef, “moet julle vee gee in ruil vir kos.”

17 Hulle het toe hulle vee gegee. In ruil vir hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies kon hulle minstens genoeg kos kry vir daardie jaar.

18 Die volgende jaar kom hulle weer en sê: “Ons kan dit nie vir u wegsteek nie: Ons geld is op en ons lewende hawe behoort nou ook aan u. Ons het niks meer oor nie as net onsself en ons landerye.

19 Hoekom moet ons hier voor u oë doodgaan? Koop ons en ons landerye in ruil vir kos. Ons sal dan Farao se slawe word. Gee tog asseblief net vir ons saad sodat ons nie van honger doodgaan en die grond nie onbewerk lê nie.”

20 Op hierdie manier het Josef die hele Egipte vir die farao gekoop. Al die Egiptenaars het hulle landerye verkoop as gevolg van die swaar hongersnood. Dit het die farao se eiendom geword.

21 Die inwoners van Egipte, oor die lengte en breedte van die land, het na die stede toe verskuif.

22 Die enigste landerye wat Josef nie opgekoop het nie, was dié van die priesters, want hulle het hulle kos van die farao gekry om van te leef sodat dit nie nodig was om hulle eiendom te verkoop nie.

23 Josef sê toe vir die mense van die land: “Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal julle nou voorsien van saad sodat julle dit kan plant.

24 Wanneer julle dan oes, sal een vyfde daarvan aan Farao behoort. Julle kan vier vyfdes vir julleself hou en dit gebruik vir saad vir volgende jaar en as kos vir julle, julle huismense en julle kinders.”

25 “U het ons lewens gered!” sê hulle. “Laat dit wees soos u goeddink. Ons sal Farao se slawe wees.”

26 Josef het toe vir die hele Egipte bepaal dat die farao een vyfde van die opbrengs op sy landerye moet kry. Dis ’n bepaling wat nog steeds geld. Omdat die farao nie die landerye van die priesters oorgeneem het nie, was hulle vrygestel van hierdie betaling.

Jakob se einde kom nader

27 Die Israeliete het hulle in Egipte, in die Gosenstreek, gevestig. Hulle het eiendom daar verkry en hulle getalle het vinnig toegeneem.

28 Jakob het nog sewentien jaar na sy aankoms in Egipte geleef. Hy het dus 147 jaar oud geword.

29 Toe sy einde begin naderkom, laat roep hy vir Josef en sê vir hom: “Bewys my ’n laaste guns. Belowe my met ’n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie.

30 Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte weg en begrawe my by my voorouers.” Josef belowe toe dat hy dit sou doen.

31 “Nee, lê ’n eed af dat jy dit sal doen,” dring Jakob daarop aan. Josef het hom toe met ’n eed beloof. Daarop het Jakob in aanbidding by die koppenent van die bed gebuig.

GENESIS 48

Jakob seën Manasse en Efraim

1 Kort hierna hoor Josef dat sy pa vinnig agteruitgaan. Hy het hom besoek en sy twee seuns, Manasse en Efraim, saamgeneem.

2 Toe Jakob hoor dat Josef daar aangekom het, gebruik hy al sy kragte om regop in die bed te sit.

3 Jakob sê vir Josef: “God die Allerhoogste het in Lus in die land Kanaän aan my verskyn en my geseën.

4 Hy het vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag tot baie nasies maak. Hierdie land Kanaän gee Ek vir jou en jou nageslag as eiendom vir altyd.’

5 Jou twee seuns, Manasse en Efraim wat in Egipte gebore is voor ek hier gekom het, neem ek aan as my eie. Hulle sal net soos Ruben en Simeon my seuns wees.

6 Enige kinders wat jy na hulle sal hê, sal saam met Manasse en Efraim erf.

7 Op pad terug van Paddan-Aram het Ragel in die land Kanaän gesterf. Ons was toe nog op pad, kort by Efrata (dit is Betlehem). Ek het haar toe met groot verdriet daar langs die pad na Efrata begrawe.”

8 Jakob kyk toe na die twee seuns en vra: “Is dit jou twee seuns?”

9 “Ja,” antwoord Josef. “Dit is die seuns wat God my hier in Egipte gegee het.”

Jakob sê vir hom: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”

10 Weens sy ouderdom kon Jakob nie meer so goed sien nie. Josef bring toe die twee nader. Jakob het hulle gesoen en omhels.

11 Jakob sê toe vir Josef: “Ek het nie gedink ek sou jou ooit weer sien nie, maar nou het God selfs toegelaat dat ek jou kinders ook kan sien.”

12 Josef tel toe die seuns af van hulle oupa se skoot af en buig laag voor hom.

13 Josef het albei sy seuns voor Jakob laat staan, Efraim aan sy regterhand, aan Jakob se linkerkant en Manasse aan sy linkerhand, aan Jakob se regterkant.

14 Maar Jakob het sy arms oorkruis gehou toe hy sy hande op die koppe van die seuns sit. Sy regterhand was dus op die kop van die jonger seun Efraim, en sy linkerhand op die kop van die oudste een Manasse.

15 Toe seën hy vir Josef en sê: “Mag God, die God voor wie my oupa Abraham en my pa, Isak, geleef het, die God wat my versorg het my lewe lank tot vandag toe,

16 en die Engel wat my uit alle gevaar gered het, mag Hy hierdie twee seuns seën. Mag Hy sorg dat my naam en die name van my oupa Abraham en my pa, Isak, in hulle voortleef. En mag hulle ’n groot nasie word.”

17 Maar Josef het gesien dat sy pa sy regterhand op Efraim se kop gesit het en gedink dit is ’n fout. Daarom tel hy Jakob se hand op om dit op Manasse se kop te sit.

18 “Nie so nie, Pa,” sê Josef. “Hy is die oudste. Sit u regterhand op sý kop.”

19 Maar sy pa het geweier. “Ek weet, my seun, ek weet,” sê hy. “Manasse sal ook ’n groot nasie word, maar sy jonger broer sal selfs magtiger wees as hy. Sy nageslag sal ’n magtige nasie word!”

20 Jakob het toe dié dag die seuns geseën met die woorde: “Die Israeliete sal julle name gebruik om mekaar seën toe te wens. Hulle sal sê: ‘Mag God jou so voorspoedig maak soos vir Efraim en vir Manasse.’” So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.

21 Toe sê Jakob vir Josef: “Ek is op die punt om te sterf, maar God sal met julle wees. Hy sal julle terugbring Kanaän toe, na die land van ons voorouers.

22 Vir jou laat ek iets meer na as vir jou broers, naamlik die stuk grond van Sigem wat ek met my eie swaard en pyl en boog van die Amoriete verower het.”

GENESIS 49

Jakob seën sy seuns

1 Jakob roep toe al sy seuns bymekaar en sê: “Kom staan hier om my sodat ek julle kan vertel wat in die toekoms met julle sal gebeur.

2 “Kom luister, seuns van Jakob;

luister na Israel, julle vader.

3 “Ruben, jy is my oudste seun,

die kind van my kragtige jeug,

die vernaamste en die sterkste.

4 Jy is onstuimig

soos die golwe van die see,

maar jy sal nie langer

die belangrikste wees nie.

Want jy het by een van my vroue

geslaap;

jy het my in my bed onteer.

5 “Simeon en Levi is een en dieselfde,

mense van geweld en wapens.

6 Ek wil ver van hulle af bly.

Ek wil nooit deel hê aan hulle bose

planne nie,

hulle wat in woede mense vermoor

het,

diere vir die plesier vermink het.

7 Vervloek is hulle woede, want dit is

wreed.

Daarom sal hulle nageslag verstrooi

word,

uitgestrooi oor die hele Israel heen.

8 “Juda, jou broers sal jou prys.

Jy sal jou vyande onderwerp.

Jou broers sal voor jou buig.

9 Juda is ’n jong leeu

wat pas sy prooi verslind het.

Soos ’n leeu rek hy uit en gaan lê,

soos ’n leeumannetjie, en wie sal

hom steur?

10 Die mag sal nie van Juda

weggeneem

word nie,

ook nie die heerskappy van sy

nasate

nie,

totdat die een kom aan wie dit

behoort,

die een vir wie die nasies sal

gehoorsaam.

11 Hy maak sy donkie vas aan ’n

druiwestok,

die vul van sy donkie aan die beste

wingerdstok.

Hy was sy klere in wyn,

sy kleed in druiwemos.

12 Sy oë is donkerder as wyn

en sy tande witter as melk.

13 “Sebulon sal hom vestig aan die kus

by die see

en sal ’n hawe wees vir skepe.

Sy grense sal tot by Sidon strek.

14 “Issaskar is ’n sterk pakdier

wat rus by die veekrale.

15 Wanneer hy sien hoe goed die plek

is,

hoe mooi die landstreek,

sal hy ’n las vrywillig dra

en hom aan dwangarbeid onderwerp.

16 “Dan sal regspreek oor sy mense

as een van die stamme in Israel.

17 Hy is ’n slang langs die pad,

’n giftige adder langs die voetpad

wat pik na die hakskeen van perde

en die ruiter agteroor laat val.

18 Ek wag op u verlossing, o Here!

19 “Gad sal deur rowerbendes

geplunder word,

maar hy sal hulle aanval van agter af.

20 “Aser sal voedsame kos produseer,

voedsel geskik vir ’n koning.

21 “Naftali is ’n bok wat vrygelaat is

en pragtige lammers voortbring.

22 “Josef is ’n vrugbare boom,

’n vrugbare boom by ’n fontein.

Sy takke strek oor die muur.

23 Hy word aangeval deur boogskutters

wat na hom skiet en hom teister.

24 Maar sy boog het sterk gebly,

sy arms het meer krag gekry

deur die Magtige Een van Jakob,

die Herder, die Rots van Israel.

25 Mag die God van ons vaders jou help;

mag die Almagtige jou seën

met die seëninge uit die hemel daarbo,

seëninge van die aarde hieronder,

en seëninge van borste en

moederskoot.

26 Mag die seëninge van jou pa

meer wees as die seëninge van die

ewige berge,

as die oorvloed van die eeue oue

heuwels.

Hierdie seëninge sal op die kop van Josef

kom,

hy wat die leier is onder sy broers.

27 “Benjamin is ’n wolf op soek na prooi.

Hy verslind sy prooi in die oggend

en in die aand verdeel hy die buit.”

28 Dit is die twaalf stamme van Israel en dit is die seëninge waarmee Jakob sy twaalf seuns geseën het. Elkeen het ’n seën ontvang wat vir hom toepaslik was.

Jakob se dood en sy begrafnis

29 Jakob het hulle opdrag gegee: “Ek gaan binnekort sterf. Begrawe my by my pa en oupa in die grot wat op die grond van Efron die Hetiet is.

30 Dit is die grot van Makpela, naby Mamre in Kanaän, wat Abraham van Efron die Hetiet as ’n permanente begraafplek gekoop het.

31 Abraham en sy vrou Sara is daar begrawe. Daar is ook Isak en sy vrou Rebekka begrawe. En daar het ek vir Lea begrawe.

32 Dit is die grot wat my oupa Abraham van die Hetiete gekoop het.”

33 Toe Jakob klaar was met sy opdragte, het hy sy voete in sy bed opgetrek, sy laaste asem uitgeblaas en gesterf.

GENESIS 50

1 Josef het op sy pa geval en gehuil terwyl hy hom soen.

2 Daarna sê Josef vir sy dokters om die lyk te balsem.

3 Hierdie proses het 40 dae geneem en was deel van die 70 dae waartydens die hele Egipte oor Jakob gerou het.

4 Ná die routyd praat Josef met die farao se raadgewers en vra dat hulle namens hom met die farao sal praat.

5 Hy sê vir hulle: “Sê vir die farao my pa het my ’n eed laat aflê. Hy het gesê: ‘Ek is op die punt om te sterf. Neem my liggaam terug na die land Kanaän toe en begrawe my in ons gesin se familiegraf.’ Ek wil nou opgaan soontoe en my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.”

6 Die farao het ingestem: “Gaan en begrawe jou pa soos jy belowe het.”

7 Josef het toe gegaan en saam met hom al die amptenare van die farao, die raadgewers van sy paleis en al die senior beamptes van Egipte.

8 Josef het ook sy broers en Jakob se hele huishouding saamgeneem. Hulle kinders, kleinvee en grootvee het hulle egter in die Gosenstreek agtergelaat.

9 ’n Groot stoet van waens en perderuiters het Josef vergesel.

10 Toe hulle by die dorsvloer van Atad, oos van die Jordaan aankom, het hulle sewe dae lank daar oor hulle pa gerou en getreur.

11 Die plaaslike Kanaäniete het gesien hoe hulle rou en het die plek toe Abel-Misrajim genoem, want hulle het gesê: “Dit is ’n plek van swaar rou vir hierdie Egiptenaars.”

12 Jakob se seuns het dus gedoen soos hy hulle beveel het.

13 Hulle het sy liggaam Kanaän toe geneem en dit in die grot van Makpela neergelê. Dit is die grot wat Abraham as ’n permanente begraafplek gekoop het op die grond van Efron die Hetiet, naby Mamre.

Josef vergewe sy broers

14 Josef het saam met sy broers en almal wat hom na sy pa se begrafnis vergesel het, na Egipte toe teruggekeer.

15 Ná hulle pa se dood het Josef se broers bang geword. “Nou gaan Josef ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het,” het hulle gesê.

16 Daarom stuur hulle die volgende boodskap vir Josef: “Voordat jou pa gesterf het, het hy ons beveel

17 om vir jou te sê: ‘Vergewe jou broers tog vir die groot onreg wat hulle jou aangedoen het.’ Vergeef ons tog nou, want ons dien ook die God van jou pa.” Toe Josef hierdie boodskap kry, het hy in trane uitgebars.

18 Sy broers kom toe self en val voor hom neer. “Ons sal u slawe wees,” het hulle gesê.

19 Maar Josef sê vir hulle: “Moenie vir my bang wees nie. Ek is nie in God se skoene om julle te straf nie.

20 Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ’n groot volk oorleef.

21 Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.”

Hy het hulle jammer gekry en hulle gerusgestel.

Josef se dood

22 Josef en sy broers het in Egipte bly woon. Josef het 110 jaar oud geword.

23 Hy het nog drie geslagte van sy afstammelinge gesien, dié van sy seun Efraim en die kinders van Manasse se seun Makir, wat hy soos sy eie kind behandel het.

24 “Ek gaan binnekort sterf,” het Josef vir sy broers gesê. “God sal sekerlik vir julle sorg en julle weer uit hierdie land, Egipte, laat wegtrek. Hy sal julle terugneem na die land wat Hy met ’n eed belowe het aan die nageslag van Abraham, Isak en Jakob.”

25 Toe laat Josef die seuns van Israel ’n eed aflê en hy sê: “Wanneer God julle na Kanaän toe teruglei, moet julle my liggaam saam met julle neem.”

26 Josef het op die ouderdom van 110 jaar gesterf. Hulle het sy liggaam gebalsem en dit in Egipte in ’n doodskis neergelê.