GENESIS 31

Jakob vertrek in die geheim

1 Jakob het agtergekom dat Laban se seuns hom beskinder. “Jakob het ons pa se goed gesteel!” het hulle gesê. “Al sy rykdom het hy ten koste van ons pa bekom.”

2 Jakob het ook opgemerk dat Laban se gesindheid teenoor hom verander het.

3 Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou herkoms en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”

4 Jakob het vir Ragel en Lea na die veld toe laat kom waar sy kuddes was.

5 Hy het daar vir hulle gesê: “Ek kom agter dat julle pa my nie meer soos voorheen behandel nie. Maar die God van mý pa was by my.

6 Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het,

7 maar hy het my bedrieg deur telkens die ooreenkoms met my te verander. God het egter nie toegelaat dat hy my benadeel nie.

8 Wanneer hy sê die bont diere is myne, het die hele kudde bont lammers opgelewer. Wanneer hy van plan verander en sê ek kon die gestreepte diere kry, dan was al die lammers gestreep.

9 Op hierdie manier het God my voorspoedig gemaak ten koste van julle pa.

10 Gedurende die paartyd het ek ’n droom gehad en gesien dat die bokramme wat die ooie dek, gestreep, bont en gevlek was.

11 In my droom sê die engel van God vir my: ‘Jakob!’ Ek het geantwoord: ‘Ja, hier is ek!’

12 Die engel sê toe: ‘Let op en jy sal sien net die gestreepte, bont en gevlekte ramme dek die ooie in die trop, want Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het.

13 Ek is die God wat jy ontmoet het by Bet-El, die plek waar jy die olie op die klippilaar uitgegooi het en ’n eed geneem het dat jy My sal dien. Maak klaar om hierdie land te verlaat en na jou geboorteland toe terug te gaan.’”

14 Ragel en Lea sê toe: “Ons stem saam! Hier is niks meer vir ons oor nie en ons sal niks van ons pa se rykdom erf nie.

15 Hy het ons voorregte verminder tot dié van vreemdelinge. Hy het ons verkoop, en die geld opgebruik.

16 Dit wat God van hom af weggevat en vir jou gegee het, is wetlik ons en ons kinders s’n. Doen gerus alles wat God vir jou gesê het.”

17 Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai.

18 Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan.

19 Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar.

20 Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie.

21 Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead.

Laban sit Jakob agterna

22 Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het.

23 Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal.

24 Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!”

25 Laban het Jakob ingehaal waar hy tussen die heuwels van Gilead kamp opgeslaan het. Nie te ver daarvan af nie het Laban ook kamp opgeslaan.

26 “Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer.

27 Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere.

28 Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree!

29 Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’

30 Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?”

31 “Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’

32 Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie.

33 Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent.

34 Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie.

35 “Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie.

36 Jakob het toe baie kwaad geword en met Laban getwis: “Wat is my oortreding? Pa het my agternagesit asof ek ’n misdadiger is.

37 Pa het alles wat ek besit, deursoek. Nou, wys my wat het Pa gekry wat aan u behoort! Sit dit hier voor ons familie neer sodat almal dit kan sien. Laat hulle dan besluit wie is reg!

38 “Twintig jaar lank was ek by Pa en al die tyd het ek u skape en bokke opgepas sodat hulle gereeld gelam het. In al die jare het ek nie één van u ramme vir my gevat om te eet nie.

39 Ek het nooit die kleinvee wat deur wilde diere verskeur is na u toe gebring nie. Ek moes dit self vervang. Pa het my laat betaal vir elke dier wat gesteel is, of dit nou my skuld was of nie.

40 Deur skroeiende hitte in die dag en ysige slaaplose nagte het ek vir u gewerk.

41 Vir twintig jaar het ek u gedien, veertien jaar daarvan vir Pa se twee dogters en ses jaar om my eie kudde op te bou. Maar Pa het my vergoeding tien keer verander!

42 Trouens, was dit nie vir die genade van die God van my voorouers nie, die God van Abraham en die Beskermer van Isak nie, sou Pa my sonder vergoeding weggestuur het. Maar God het my swoeg en swaarkry raakgesien. Dis hoekom Hy aan Pa verskyn het en in my guns uitspraak gegee het.”

Jakob se ooreenkoms met

Laban

43 Laban antwoord toe vir Jakob: “Hierdie vroue is my dogters, en hierdie kinders is my kleinkinders, en hierdie vee wat jy het, alles wat jy sien, kom van my af. Waarom sou ek dan my eie dogters en kleinkinders kwaad aandoen?

44 Kom ons, ek en jy, sluit eerder ’n ooreenkoms en laat dit ’n getuienis wees tussen my en jou.”

45 Toe vat Jakob ’n klip en sit dit regop as ’n gedenkteken.

46 Hy het ook vir die mense by hom gesê om klippe bymekaar te maak en op ’n hoop te stapel. Hulle het toe langs die hoop gaan sit en saam geëet.

47 Hulle het dit die “Kliphoop van Getuienis” genoem, in Laban se taal Jegar-Sahaduta en in Jakob se taal Galed.

48 “Hierdie kliphoop sal dien as getuienis van ons ooreenkoms,” het Laban verklaar.

49 Die plek is ook Mispa genoem, want Laban het gesê: “Die Here sal waghou oor my en jou wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie.

50 As jy my dogters sleg behandel of as jy ander vroue neem, selfs as daar niemand anders by ons is nie – onthou, God is ’n getuie tussen my en jou.

51 Kyk na hierdie hoop klippe en hierdie klippilaar wat ek opgerig het.

52 Dit staan as getuies tussen ons. Ek sal nie hier verbygaan om teen jou uit te trek nie, en jy mag nie hier verbykom om my te kom aanval nie.

53 Die God van ons voorouers, die God van jou oupa Abraham en die God van my oupa Nahor, sal as regter tussen ons optree as enigeen van ons die ander een kwaad wil aandoen.”

Jakob het toe ’n eed afgelê by die Beskermer van sy pa, Isak, dat hy die grens sou eerbiedig.

54 Toe het Jakob ’n offer vir God gebring en almal genooi om deel te neem aan ’n fees. Na hulle geëet het, het hulle daar in die heuwels oornag.

55 Laban het die volgende oggend vroeg opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters met ’n seënwens gegroet, en teruggegaan huis toe.

GENESIS 32

Jakob maak reg om Esau te

ontmoet

1 Jakob het sy reis voortgesit en engele van God het hom tegemoetgekom.

2 Toe Jakob hulle sien, roep hy uit: “Dit is God se leër!” Hy het toe die plek Maganajim genoem.

3 Hierna stuur Jakob boodskappers na sy broer Esau in Edom, in die landstreek Seïr.

4 Hy sê vir hulle: “Gee die volgende boodskap vir my meneer, my broer Esau: ‘Groete van u dienaar Jakob! Ek het tot onlangs by my oom Laban gewoon.

5 Nou besit ek beeste, donkies, kleinvee en baie slawe en slavinne. Ek stuur hierdie boodskappers om Meneer in kennis te stel dat ek op pad terug is. Ek hoop dat u ons vriendelik sal ontvang.’”

6 Die boodskappers het teruggekom met die nuus dat hulle by Esau was. Hulle het gesê: “Esau is reeds op pad om u te ontmoet met 400 manskappe by hom!”

7 Jakob het baie beangs geword toe hy dié nuus hoor. Hy verdeel toe sy mense, die kleinvee, beeste en die kamele in twee groepe.

8 Hy het gedink: “As Esau een groep aanval, kan die ander groep dalk ontsnap.”

9 Toe bid Jakob: “God van my oupa Abraham en my pa, Isak! Here, U het gesê ek moet teruggaan na my land en my familie toe. U het belowe dat U vir my goed sal wees.

10 Ek is nie al die gunste wat U vir u dienaar gedoen het, werd nie. Toe ek destyds oor die Jordaan gegaan het, het ek net ’n stapstok besit. Nou het ek hierdie twee groepe mense!

11 Here, red my tog asseblief uit die hand van my broer Esau. Ek is bang dat hy kom om my, my vroue en my kinders dood te maak.

12 U het tog mos belowe om vir my goed te wees en om my nageslag te vermeerder sodat hulle so baie sal wees soos die sand by die see – te veel om te tel.”

13 Jakob het die nag daar oorgebly en ’n geskenk vir Esau uit sy besittings gereed gekry.

14 Dit was 200 bokooie en twintig ramme, 200 skaapooie en twintig ramme,

15 30 kameelkoeie met hulle kalwers, 40 koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien hingste.

16 Hy het sy slawe beveel om met hulle vooruit te trek, elke groep diere apart, geskei met ’n afstand tussen hulle.

17 Hy het die voorste groep beveel: “Wanneer julle Esau teëkom, sal hy vra: ‘Waarheen gaan julle? Wie se slawe is julle? Wie se diere is dit hierdie?’

18 Dan moet julle antwoord: ‘Dit behoort aan u dienaar Jakob. Dit is ’n geskenk vir sy meester Esau! Hy kom direk agter ons aan.’”

19 Jakob het dieselfde bevele aan die tweede en die derde groep gegee – en aan elkeen wat saam met ’n trop diere getrek het. “Julle moet elkeen so vir Esau sê:

20 ‘U dienaar Jakob kom direk agter ons aan.’” Jakob se plan was om Esau met die geskenke te paai voordat hulle mekaar ontmoet. “Dalk sal hy dan in ’n goeie bui wees,” het Jakob gehoop.

21 So is die geskenke vooruit gestuur, maar Jakob het die aand in die kamp agtergebly.

Jakob worstel met die engel van

God

22 Gedurende die nag het Jakob opgestaan en sy twee vroue, twee slavinvroue en elf seuns geneem en hulle deur die Jabbokdrif gestuur.

23 Nadat hy hulle na die oorkant toe laat gaan het, stuur hy ook al sy besittings deur.

24 Hy het daar alleen agtergebly. ’n Man het gekom en met hom gestoei tot dagbreek toe.

25 Toe die man sien dat hy hom nie kom onderkry nie het hy Jakob op sy heup geslaan sodat dit uit die potjie spring.

26 Toe sê die man: “Los my nou, die dag begin al breek.”

Uitasem sê Jakob: “Ek sal jou net laat gaan as jy my seën.”

27 “Wat is jou naam?” vra die man.

Hy antwoord: “Jakob.”

28 “Jou naam sal nie meer Jakob wees nie,” sê die man vir hom. “Van nou af is dit Israel, want jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.”

29 “Wat is jóú naam dan?” vra Jakob hom.

“Hoekom vra jy wat my naam is?” antwoord die man. Toe seën hy Jakob net daar.

30 Jakob het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God in die gesig gekyk. Tog is my lewe gespaar.”

31 Die son was besig om op te kom net toe hy van Pniël af weggaan. Van toe af het hy gehink as gevolg van sy heup.

32 Dis waarom die Israeliete tot vandag toe nie die heupsening eet nie. Dit is ter herinnering aan wat daardie nag gebeur het.

GENESIS 33

Die verrassende ontmoeting

tussen Jakob en Esau

1 Toe Jakob opkyk, sien hy vir Esau en sy 400 man aankom. Jakob verdeel toe die kinders tussen Lea, Ragel en die twee slavinvroue.

2 Hy plaas sy twee slavinvroue met hulle kinders heel voor, Lea en haar kinders agter hulle en heel laaste Ragel en Josef.

3 Jakob self het heel voor gaan staan en sewe keer laag voor Esau gebuig.

4 Maar Esau het aangehardloop gekom, hom om die nek geval en hom gesoen. Albei was in trane.

5 Esau kyk toe na die vroue en kinders en vra: “Wie is hierdie mense saam met jou?”

“Dit is die kinders wat God in sy goedheid aan u dienaar gegee het,” antwoord Jakob.

6 Eers kom die slavinvroue en hulle kinders nader en buig voor hom.

7 Toe kom Lea met haar kinders en buig ook voor hom. Laaste kom Ragel en Josef en doen dieselfde.

8 “En wat is jou bedoeling met al daardie goed wat ek gekry het?” vra Esau.

“Dit is geskenke om u goeie guns te wen, my heer,” antwoord Jakob.

9 “My broer, ek besit self baie,” sê Esau. “Laat wat aan jou behoort, joune bly.”

10 “Nee, asseblief! Neem dit terwyl u my so goedgesind is,” sê Jakob. “Dis asof ek die glimlag van God sien.

11 Neem asseblief die geskenke, want God was baie goed vir my. Ek het meer as genoeg vir myself.”

Jakob het só daarop aangedring dat hy dit moes neem, dat Esau dit uiteindelik aanvaar het.

12 “Nou moet ons gaan,” sê Esau. “Ek sal julle vergesel.”

13 Maar Jakob antwoord: “My broer, jy kan sien party van die kindertjies is baie jonk en die troppe vee het ook jong lammers en kalwers. As ons te vinnig trek, kan dit hulle dood beteken.

14 Gaan gerus voor ons uit. Ons sal op ons gemak trek en u by Seïr weer sien.”

15 “Goed,” sê Esau, “maar laat ek ’n paar van my manskappe agterlaat om julle te beskerm.”

“Dis regtig nie nodig nie,” sê Jakob. “Jou goeie gesindheid is vir my genoeg.”

16 Esau is daardie dag nog terug Seïr toe.

17 Jakob en sy geselskap het verder getrek na Sukkot toe. Daar bou hy vir hom ’n huis en maak hy skuilings vir die troppe vee. Dis hoekom die plek Sukkot genoem is.

18 Later het hulle by Sigem in Kanaän aangekom ná hulle reis van Paddan-Aram af. Net buite die stad het hulle kamp opgeslaan.

19 Hy het die grond waarop hy uitgekamp het vir 100 geldstukke gekoop van die familie van Gamor, Sigem se pa.

20 Jakob het daar ’n altaar gebou en dit “God is die God van Israel” genoem.

GENESIS 34

Dina en die inwoners van Sigem

1 Op ’n dag het Dina, Jakob se dogter by Lea, by die jong vroue van die omgewing gaan kuier.

2 Maar toe Sigem haar sien, het hy haar gegryp en haar verkrag. Sigem was die seun van Gamor, heerser van die gebied en ’n Hewiet.

3 Hy het haar egter begin liefkry en haar toegeneentheid probeer wen.

4 Hy praat toe met sy pa daaroor. “Kry tog hierdie meisie vir my,” vra hy, “want ek wil met haar trou.”

5 Jakob het gehoor dat sy dogter verkrag is. Sy seuns was nog in die veld by die vee. Hy doen toe niks aan die saak voordat hulle teruggekom het nie.

6 Intussen het Gamor, Sigem se pa, na Jakob toe gekom om die saak te bespreek.

7 Hy kom toe daar aan net toe Jakob se seuns uit die veld aankom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was hulle geskok en woedend. Dit was ’n skandelike ding in Israel dat Sigem gemeenskap met Jakob se dogter gehad het! Dis iets wat nooit moes gebeur het nie.

8 Gamor verduidelik toe vir Jakob en sy seuns: “My seun Sigem is regtig verlief op julle dogter. Gee asseblief toestemming dat hy met haar trou!

9 Ondertrou met ons: Laat julle dogters met ons seuns trou, en ons sal ons dogters toelaat om met julle seuns te trou.

10 Julle kan dan tussen ons woon. Die land is oop vir julle. Vestig julle hier en dryf met ons handel. Julle is ook welkom om eiendom tussen ons te bekom.”

11 Sigem praat toe self met Dina se pa en broers. Hy sê: “Aanvaar my tog. Ek sal gee wat julle ook al vra.

12 Maak nie saak wat die bruidsprys of geskenk is wat julle vra nie, ek sal dit betaal. Ek wil die meisie net baie graag as vrou hê.”

13 Omdat hy hulle suster verkrag het, het Dina se broers egter bedrieglik gereageer op Sigem en Gamor se versoek.

14 Daarom sê hulle: “Ons kan dit glad nie toelaat nie, want julle is nie besny nie. Dit sal ’n skande wees as sy met ’n man trou wat nie besny is nie.

15 Maar daar is ’n oplossing vir die probleem. As elke man onder julle soos ons besny word,

16 dan kan ons met julle ondertrou en saam hier in vrede lewe. Dan kan ons een nasie word.

17 Indien nie, vat ons haar en gaan weg hiervandaan.”

18 Hulle voorstel was aanvaarbaar vir Gamor en Sigem.

19 Sigem het nie op hom laat wag nie, want hy wou Dina bitter graag hê. Sigem was hooggeag in sy familie.

20 Hy en sy pa het saam na die vergaderplek in die poort gegaan en die voorstel aan die leiers voorgelê.

21 “Daardie mense is goedgesind teenoor ons,” het hulle gesê. “Kom ons laat hulle toe om hier by ons te woon en met ons handel te dryf, want die land is groot genoeg om hulle ook te dra. Dan kan ons met hulle ondertrou.

22 Hulle sal dit egter net op een voorwaarde oorweeg om hier te bly. Dit is dat elke manlike persoon onder ons besny word.

23 As ons dit doen, sal al hulle vee, trekdiere en besittings ons s’n word. Hulle sal dan saam met ons hier kan woon.”

24 Al die mans in die poort van die dorp het na Gamor en Sigem geluister en ingestem en hulle almal laat besny.

25 Drie dae later, toe die mans nog baie pyn gehad het, het Dina se broers, Simeon en Levi, hulle swaarde gevat en sonder weerstand die dorp binnegegaan. Hulle het al wat ’n man is, doodgemaak,

26 selfs ook Gamor en Sigem. Hulle het Dina uit Sigem se huis gaan wegneem en met haar na hulle kamp toe teruggekeer.

27 Daarna het Jakob se ander seuns die dorp geplunder omdat hulle suster daar verkrag is.

28 Hulle het al die kleinvee, beeste, donkies en alles wat hulle binne en buite die stad in die hande kon kry, gevat.

29 Hulle het ook al die vroue en kinders met alles wat in die huise was, geroof.

30 Daarna sê Jakob vir Levi en Simeon: “Julle het my ’n slegte naam gegee onder die Kanaäniete en Feresiete, die mense van hierdie land. Ons is maar min mense. Hulle kan saam teen ons optrek en ons almal uitroei!”

31 “Maar hy het dan ons suster soos ’n prostituut behandel!” het hulle teruggekap.

GENESIS 35

God praat weer met Jakob by

Bet-El

1 God sê toe vir Jakob: “Trek verder en gaan woon by Bet-El. Bou daar vir My ’n altaar. Ek is die God wat aan jou verskyn het toe jy destyds weggevlug het van jou broer Esau af.”

2 Jakob beveel toe almal in sy huishouding: “Raak ontslae van julle afgodsbeelde, was julle en trek skoon klere aan.

3 Ons gaan nou na Bet-El toe waar ek ’n altaar wil bou tot eer van die God wat my gebede verhoor het toe ek in die verknorsing was. Hy was oral by my waar ek gegaan het.”

4 Hulle gee toe al hulle afgodsbeelde en oorringe vir Jakob. Hy het dit onder die boom naby Sigem begrawe.

5 Terwyl hulle wegtrek, het daar so ’n verskrikking van God oor die mense van die omgewing gekom dat niemand eers gewaag het om Jakob en sy seuns te agtervolg nie.

6 Jakob-hulle het by Lus, nou Bet-El genoem, in Kanaän aangekom.

7 Daar bou hy ’n altaar en noem dit El-Bet-El, want God het hier by Bet-El aan hom verskyn toe hy vir Esau gevlug het.

8 Kort daarna het Debora, die slavin wat vir Rebekka grootgemaak het, gesterf. Hulle het haar onder die groot boom naby Bet-El begrawe. Hulle het dit Huilboom genoem.

9 Na Jakob se terugkeer uit Paddan-Aram het God weer ’n keer aan hom verskyn. God het hom geseën

10 en gesê: “Jou naam is nie langer Jakob nie. Jy sal van nou af Israel genoem word.”

11 God het verder gesê: “Ek is God die Almagtige. Wees vrugbaar en word ’n groot nasie. Baie nasies sal uit jou voortkom. Daar sal selfs konings onder hulle wees.

12 Hierdie land wat Ek vir Abraham en Isak gegee het, gee Ek ook vir jou en jou nageslag.”

13 Daarna het God van Jakob af weggegaan.

14 Jakob het toe ’n klip regop gesit op daardie plek waar God met hom gepraat het. Daarna het hy wyn daaroor uitgegiet en ook olie as ’n offer aan God.

15 Jakob het die plek Bet-El, huis van God, genoem, want God het daar met hom gepraat.

Die dood van Ragel en Isak

16 Hulle het Bet-El verlaat op pad na Efrata toe, dit is Betlehem. Toe hulle nog ’n ent van hulle bestemming was, was dit Ragel se tyd om geboorte te gee. Dit was ’n baie moeilike bevalling.

17 Toe sy so swaarkry met die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: “Moenie bang wees nie. Jy het weer ’n seun!”

18 Maar Ragel was besig om te sterf. Met haar laaste asem noem sy hom Ben-Oni. Sy pa het hom egter Benjamin genoem.

19 Ragel het gesterf en hulle het haar op pad na Efrata, dit is Betlehem, begrawe.

20 Jakob het ’n klip as gedenkteken op die graf gesit. Dit staan vandag nog daar.

21 Daarna het Jakob sy reis voortgesit en kamp opgeslaan by Migdal-Eder.

22 Terwyl hulle in daardie landstreek was, het Ruben by Bilha, sy pa se slavinvrou, geslaap. Jakob het hiervan te hore gekom.

Hier volg die name van Jakob se twaalf seuns:

23 Die seuns van Lea was: Ruben, Jakob se oudste seun, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon.

24 Die seuns van Ragel was Josef en Benjamin.

25 Die seuns van Bilha, Ragel se slavin, was Dan en Naftali.

26 Die seuns van Silpa, Lea se slavin, was Gad en Aser.

Dit is die seuns wat vir Jakob in Paddan-Aram gebore is.

27 Jakob is toe na sy pa, Isak, in Mamre. Dit is naby Kirjat-Arba, nou genoem Hebron, waar Abraham destyds gewoon het.

28 Isak het 180 jaar oud geword.

29 Hy is ná ’n vol lewe op ’n rype ouderdom oorlede. Sy twee seuns, Esau en Jakob, het hom begrawe.

GENESIS 36

Die afstammelinge van Esau

1 Hier volg die familieregister van die afstammelinge van Esau (ook Edom genoem).

2 Esau het met twee Kanaänitiese meisies getrou. Dit was Ada, dogter van Elon die Hetiet, en Oholibama, die dogter van Ana en kleindogter van Sibon die Hewiet.

3 Hy het ook getrou met sy niggie Basemat, dogter van Ismael en die suster van Nebajot.

4 Esau en Ada se seun was Elifas. Die naam van Esau en Basemat se seun was Reüel.

5 Esau en Oholibama se seuns was Jeüs, Jalam en Korag. Al hierdie seuns is vir Esau in die land Kanaän gebore.

6 Esau het met sy vroue, kinders, slawe, beeste en kleinvee en al die besittings wat hy in die land Kanaän bekom het, weggetrek van sy broer Jakob.

7 Daar was nie genoeg weiding vir die groot troppe beeste en kleinvee wat albei van hulle gehad het nie.

8 Esau, ook genoem Edom, het in die Seïrberge gaan woon.

9 Hier volg die lys van Esau se afstammelinge, die Edomiete, wat in die bergwêreld van Seïr gewoon het.

10 Die name van Esau se seuns was: Elifas, seun van Esau se vrou Ada, en Reüel, seun van Esau se vrou Basemat.

11 Die seuns van Elifas was Teman, Omar, Sefo, Gatam en Kenas.

12 Elifas het nog ’n seun gehad met die naam Amalek. Sy ma was Timna, Elifas se byvrou. Dit is al die kleinkinders van Ada, Esau se vrou.

13 Die seuns van Reüel was: Nagat, Serag, Samma en Missa. Dit is al die kleinkinders van Esau en Basemat.

14 Esau het ook seuns gehad by Oholibama, die dogter van Ana en kleinkind van Sibon. Hulle name was: Jeüs, Jalam en Korag.

15 Esau se kinders en kleinkinders het stamhoofde geword.

Die seuns van Esau se oudste seun Elifas wat stamhoofde geword het, was: Teman, Omar, Sefo, Kenas,

16 Korag, Gatam en Amalek. Hierdie stamhoofde in die land Edom was afstammelinge van Elifas, die seun van Esau en Ada.

17 Die seuns van Esau se seun Reüel wat stamhoofde geword het, was: Nagat, Serag, Samma en Missa. Hierdie stamhoofde in die land Edom was afstammelinge van Reüel, die seun van Esau en Basemat.

18 Die seuns van Esau en sy vrou Oholibama wat stamhoofde geword het, was: Jeüs, Jalam en Korag. Hierdie stamhoofde was afstammelinge van Esau se vrou Oholibama, die dogter van Ana.

19 Dit is al die stamhoofde wat van Esau, ook bekend as Edom, afgestam het.

Die eerste inwoners van Edom

20 Seïr die Goriet was die eerste inwoner van die land Seïr. Sy seuns was Lotan, Sobal, Sidon, Ana,

21 Dison, Eser en Disan. Hulle was almal stamhoofde van die Goriete, die nageslag van Seïr in die land Edom.

22 Lotan se seuns was: Gori en Hemam. Timna was Lotan se suster.

23 Sobal se seuns was: Alwan, Managat, Ebal, Sefi en Onam.

24 Sibon se seuns was: Aja en Ana. Dit is die Ana wat die warmbronne in die woestyn ontdek het terwyl hy sy pa se donkies opgepas het.

25 Ana se seun was Dison en sy dogter was Oholibama.

26 Dison se seuns was: Gemdan, Esban, Jitran en Keran.

27 Eser se seuns was: Bilhan, Saäwan en Akan.

28 Disan se seuns was: Us en Aran.

29 Die stamhoofde van die Goriete was: Lotan, Sobal, Sibon, Ana,

30 Dison, Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Goriete volgens die stamme in die land Seïr.

Die heersers van Edom

31 Voor daar nog enige konings in Israel was, het die volgende konings in Edom regeer:

32 Bela, seun van Beor, wat uit sy stad Dinhaba geheers het.

33 Toe Bela sterf, het Jobab, seun van Sera, uit Bosra koning geword.

34 Toe Jobab sterf, het Gusam uit die land van die Temaniete koning geword.

35 Toe Gusam sterf, het Hadad, seun van Bedad, koning geword en vanuit die stad Awit regeer. Hy het die leër van die Midianiete in die land van Moab verslaan.

36 Toe Hadad sterf, het Samla uit die stad Masreka koning geword.

37 Toe Samla sterf, het Saul uit die stad Rehobot-aan-die-Rivier koning geword.

38 Toe Saul sterf, het Baäl-Ganan, seun van Akbor, koning geword.

39 Toe Baäl-Ganan sterf, het Hadad koning geword en vanuit die stad Paü regeer. Hadad se vrou was Mehetabel, die dogter van Matred en kleindogter van Me-Sahab.

40 Dit is die stamhoofde van Esau volgens hulle woonplekke: Timna, Alwa, Jetet,

41 Oholibama, Ela, Pinon,

42 Kenas, Teman, Mibsar,

43 Magdiël en Iram. Dit is die name van die stamhoofde van Esau, voorvader van die Edomiete, volgens hulle woonplekke in die gebied wat hulle beset het.

GENESIS 37

Josef se drome

1 Jakob het hom weer in die land Kanaän gaan vestig waar sy pa gewoon het.

2 Nou volg die familiegeskiedenis van Jakob. Toe Josef sewentien jaar oud was, het hy dikwels sy pa se troppe vee opgepas saam met sy halfbroers, die seuns van sy pa se vroue Bilha en Silpa. Josef het by sy pa nuus aangedra oor die verkeerde dinge wat sy broers gedoen het.

3 Jakob het Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Hy gee toe vir Josef ’n besondere kleed.

4 Maar sy broers het Josef gehaat omdat hulle pa vir Josef voorgetrek het. Hulle het geen vriendelike woord vir hom gehad nie.

5 Een nag het Josef ’n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het.

6 “Kom luister na hierdie droom van my,” het hy gesê.

7 “Ons was besig op die land om gerwe graan vas te bind. My gerf het regop gestaan, maar julle gerwe het rondom kom staan en laag voor myne gebuig!”

8 “Gaan jy dan ons koning word, gaan jy nogal oor ons regeer?” spot sy broers. Ná die vertelling oor die droom het hulle hom nog meer gehaat.

9 Daarna het Josef nog ’n droom gehad en hy vertel dit weer aan sy broers. “Luister na hierdie droom,” sê hy. “Die son, maan en elf sterre het voor my kom neerbuig!”

10 Hierdie keer het hy dit vir sy pa en sy broers vertel. Sy pa het hom vermaan. “Watse soort goed droom jy?” het sy pa gevra. “Sal jou ma, jou broers en ek sowaar voor jou kom neerbuig?”

11 Maar terwyl sy broers jaloers was op Josef, het sy pa tog daaroor nagedink en gewonder wat dit alles sou beteken.

Josef se broers raak van hom

ontslae

12 Kort hierna gaan Josef se broers om die vee in die omgewing van Sigem te laat wei.

13 Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”

“Goed, Pa,” sê Josef.

14 “Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.”

Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom.

15 Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy.

16 “Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?”

17 “Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry.

18 Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak.

19 “Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep.

20 “Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!”

21 Maar Ruben het vir hom in die bres getree. “Ons moenie hom doodmaak nie,” sê hy.

22 “Hoekom sal ons bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf sonder dat ons hom self doodgemaak het.” Ruben het stilletjies beplan om Josef te help ontsnap en hom dan na sy pa terug te stuur.

23 Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek

24 en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog.

25 Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem.

26 Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou?

27 Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem.

28 Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe.

29 Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en

30 gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?”

31 Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed.

32 Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?”

33 Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!”

34 Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur.

35 Sy gesin het hom probeer troos, maar dit het niks gehelp nie. “Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!” het hy gesê. Hy was diep bedroef.

36 Intussen het die handelaars Josef in Egipte aan Potifar verkoop, ’n beampte van die farao, die koning van Egipte. Potifar was die hoof van die farao se lyfwag.

GENESIS 38

Tamar uitoorlê Juda

1 In hierdie tyd het Juda van sy broers af weggetrek na Adullam toe. Daar het hy by ’n man met die naam Gira uitgekom.

2 Daar ontmoet hy ’n Kanaänitiese vrou met die naam Bat-Sua en trou met haar.

3 Sy het swanger geraak en geboorte gegee aan ’n seun wat Juda Er genoem het.

4 Daarna het sy weer ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom Onan genoem.

5 Toe haar derde seun gebore is, het sy hom Sela genoem. Hulle was op daardie stadium in Kesib.

6 Toe sy oudste seun Er groot genoeg was, het Juda hom met ’n meisie met die naam Tamar laat trou.

7 Maar omdat Er in die oë van die Here ’n slegte persoon was, het die Here hom laat sterf.

8 Juda sê toe vir Er se broer Onan: “Gaan na jou broer se weduwee Tamar toe en verwek vir jou broer kinders by haar.”

9 Maar Onan was nie bereid om ’n kind te hê wat nie sy wetlike erfgenaam sou wees nie. Dus het hy, elke keer wanneer hy met Tamar gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom om te verhoed dat hy vir sy broer ’n erfgenaam verwek.

10 Vir die Here was dit ’n slegte ding dat hy nie vir sy broer ’n kind wou verwek nie. Daarom het die Here Onan ook laat sterf.

11 Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan terug en woon liewer as ’n weduwee by jou ouers totdat my seun Sela groot genoeg is om met jou te trou.” Maar eintlik was Juda glad nie van plan om dit te doen nie, want hy was bang dat Sela met dieselfde lot as sy broers getref sou word. Tamar het toe na haar ouerhuis toe teruggegaan.

12 Mettertyd het Juda se vrou, Bat-Sua, gesterf. Ná die routyd het Juda en sy vriend Gira van Adullam na Timna gegaan waar skeerders besig was om sy skape te skeer.

13 Iemand het vir Tamar gesê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe om sy skape te laat skeer.”

14 Tamar het opgemerk dat Sela nou al groot genoeg was, maar dat Juda nie sy belofte nagekom het nie. Sy het haar rouklere uitgetrek, ’n sluier aangesit en haarself vermom. Toe het sy langs die pad na Timna, by die poort van die dorpie Enajim, gaan sit.

15 Juda het daar verbygekom, haar gesien en gedink sy is ’n prostituut omdat haar gesig toegemaak was.

16 Hy draai toe uit en onderhandel met haar om gemeenskap te hê. Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie.

“Hoeveel sal jy my betaal?” vra Tamar hom.

17 “Ek sal vir jou ’n bokkie uit my trop stuur,” belowe Juda.

“Mits jy vir my ’n pand gee totdat jy dit stuur,” sê sy.

18 “Nou wat wil jy hê?” vra hy.

Sy antwoord: “Ek wil jou seël, jou armband en die stok in jou hand hê.” Juda gee toe die goed wat sy gevra het. Hy het met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword.

19 Daarna het sy huis toe gegaan, haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek.

20 Juda het later sy vriend Gira, die Adullamiet, gevra om die bokkie na haar toe te neem en die pand by haar terug te kry. Hy kon haar egter nie opspoor nie.

21 Hy vra toe vir die mense van die plek: “Waar is die tempelprostituut wat hier langs die pad by die poort van Enajim gesit het?”

“Ons het nog nooit ’n tempelprostituut hier gehad nie,” het hulle geantwoord.

22 Gira het toe maar teruggegaan na Juda toe en gesê: “Ek kon haar nêrens kry nie en die mense van die dorp sê daar is nie ’n prostituut daar nie.”

23 “Sy moet dan maar die goed hou!” sê hy. “Ons het ons bes probeer om die bokkie vir haar te gee. Ons sal van onsself ’n spektakel maak as ons weer na die dorpie toe teruggaan.”

24 Omtrent drie maande later hoor Juda dat Tamar, sy skoondogter, haar vir ’n prostituut uitgegee het en swanger geword het. “Bring haar uit en verbrand haar!” het Juda uitgeroep.

25 Toe hulle haar uitbring om haar te straf, stuur sy ’n boodskap aan haar skoonpa: “Die man aan wie hierdie seël, armband en kierie behoort, is die pa van my kind. Herken jy hulle?”

26 Juda het erken dat dit syne was en sê: “Ek is skuldiger as sy, want ek het nie my belofte nagekom om haar as vrou vir my seun Sela te gee nie.” Juda het daarna nie weer met Tamar gemeenskap gehad nie.

27 Toe die tyd van die bevalling kom, was dit ’n tweeling.

28 Tydens die geboorte het een sy hand uitgesteek. Die vroedvrou bind toe ’n rooi garingdraad om sy pols en sê: “Hierdie een is eerste.”

29 Maar toe trek hy sy hand terug en die ander baba word eerste gebore. “My wêreld!” roep die vroedvrou uit. “Kyk hoe het hy eerste deurgebreek!” Daarom was sy naam Peres.

30 Daarna is die baba met die rooi garingdraad om sy pols gebore. Hy is Serag genoem.

GENESIS 39

Josef in Potifar se huis

1 Die Ismaelitiese handelaars het vir Josef Egipte toe gebring. Daar het Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, hom by hulle gekoop.

2 Die Here was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester.

3 Toe Potifar dit raaksien en besef die Here is met Josef aangesien hy suksesvol was in alles wat hy doen,

4 was Potifar hom goedgesind. Hy het Josef as sy persoonlike sekretaris aangestel en sy hele huishouding en selfs sy saketransaksies aan hom toevertrou.

5 Van toe af het die Here Potifar geseën ter wille van Josef. Die huishouding het glad verloop en sy boerdery het vooruitgegaan.

6 Daarom het Potifar hom aangestel oor alles wat hy besit. Met Josef aan die stuur het hy geen bekommernisse gehad nie, behalwe om te besluit wat hy wou eet!

Josef was goed gebou en baie aantreklik.

7 Ná sy bevordering het Potifar se vrou met begeerte na hom begin kyk. Sy het hom genooi om by haar te kom slaap.

8 Maar Josef het geweier. “Kyk,” sê hy vir haar, “my meester vertrou my met alles in sy hele huishouding.

9 Niemand het meer gesag daaroor as ek nie. Hy het niks van my weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek ooit so ’n slegte ding doen? Ek sal mos teen God oortree.”

10 Sy het dag na dag druk op hom uitgeoefen, maar hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie. Hy het selfs so ver moontlik uit haar pad probeer bly.

11 Eendag was hy besig om sy werk te doen terwyl daar niemand anders in die huis was nie.

12 Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: “Kom slaap by my!” Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom gegryp het, agtergelaat en uit die huis gehardloop.

13 Toe sy sien dat sy ’n stuk van sy klere in haar hand vashou en dat hy gevlug het,

14 begin sy skree. Almal in die huis kom toe aangehardloop. “My man het hierdie Hebreeuse slaaf hier gebring om ons te beledig!” het sy gesnik. “Hy het my probeer verkrag, maar ek het geskree.

15 Toe hy hoor hoe ek om hulp roep, het hy weggehardloop, maar hierdie kledingstuk by my agtergelaat.”

16 Sy het die kledingstuk by haar gehou totdat haar man weer tuisgekom het.

17 Sy sê toe vir hom: “Daardie Hebreeuse slaaf wat jy hier ingebring het, het probeer om by my aan te lê.

18 Gelukkig het ek geskree. Toe hardloop hy hier uit, maar het sy kleed agtergelaat!”

Josef in die tronk

19 Nadat Potifar sy vrou se storie gehoor het oor wat hy met haar probeer aanvang het, was hy briesend.

20 Hy gryp Josef en gooi hom in die tronk waar die koning se gevangenes gehou word. Terwyl hy daar in die tronk was,

21 was die Here ook met Josef. Hy het sy getrouheid aan Josef bewys deurdat die tronkbewaarder hom goedgesind was.

22 Spoedig het die tronkbewaarder Josef oor die ander gevangenes aangestel en oor alles wat in die tronk moes gebeur.

23 Die tronkbewaarder het geen bekommernis gehad nie, want Josef het oor alles toesig gehou. Die Here was met hom sodat hy suksesvol was in alles wat hy gedoen het.

GENESIS 40

Josef verklaar die drome van die

skinker en die bakker

1 Na ’n tyd het die hoof van die koning se skinkers en die hoof van sy bakkers teen hom oortree.

2 Die farao was baie ontevrede met die twee amptenare

3 en het hulle in dieselfde tronk gegooi waar Josef was. Dit was die tronk van die hoof van Farao se lyfwag.

4 Die hoof van die lyfwag het Josef aangestel om hulle te bedien. Toe hulle al vir geruime tyd in aanhouding was,

5 het die skinker en die bakker elkeen in die nag ’n droom gehad met ’n eie betekenis.

6 Die volgende oggend sien Josef dat die twee baie neerslagtig lyk.

7 “Hoekom lyk julle vanmôre so bedruk?” vra hy.

8 Hulle antwoord hom: “Albei van ons het laas nag gedroom, maar niemand kan dit vir ons verklaar nie.”

“Om drome te verklaar, is die werk van God,” antwoord Josef. “Vertel my wat julle gedroom het.”

9 Die hoof van die skinkers vertel sy droom eerste. “In my droom,” sê hy, “het ek ’n wingerdstok voor my gesien.

10 Dit het drie lote gehad wat begin bot en blom het en gou was daar trosse ryp korrels.

11 Ek het die farao se beker in my hand gehad. Ek pluk toe van die druiwe en druk die sap daarin uit. Toe gee ek dit vir Farao.”

12 “Dit is wat dit beteken,” sê Josef. “Die drie lote dui op drie dae.

13 Binne drie dae sal Farao jou uit die tronk laat haal en jou herstel in jou vorige posisie as hoofskinker.

14 En, asseblief, dink aan my wanneer dit weer met jou goed gaan. Noem my naam by Farao en vra hom om my uit hierdie plek vry te laat.

15 Want ek is ontvoer uit my geboorteland, die land van die Hebreërs. Nou is ek in die tronk gesmyt sonder dat ek iets verkeerds gedoen het.”

16 Toe die hoof van die bakkers hoor dat die eerste droom gunstig was, vertel hy ook syne vir Josef. “In my droom,” sê hy, “was daar drie mandjies met brood op my kop.

17 In die boonste een was daar ’n heerlike baksel vir Farao. Maar die voëls het gekom en daaraan gevreet.”

18 “Dit is wat jou droom beteken,” sê Josef. “Die drie mandjies dui op drie dae.

19 Drie dae van nou af sal Farao jou kop afkap en jou liggaam aan ’n paal ophang. Die voëls sal dan jou vleis kom afpik.”

20 Drie dae later was dit die farao se verjaarsdag. Hy het ’n groot feesmaal gereël vir al sy amptenare. Hy laat haal toe die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers en verhoor hulle voor almal.

21 Hy het die hoof van die skinkers in sy ou pos herstel om soos vroeër weer die beker vir die farao aan te gee.

22 Maar die hoof van die bakkers het hy aan ’n paal laat ophang – alles presies soos Josef gesê het.

23 Tog het die hoof van die skinkers nie weer aan Josef gedink nie. Hy het heeltemal van hom vergeet.