GENESIS 11

Babel

1 Daar was ’n tyd toe die hele wêreld net een taal gepraat het en dieselfde woorde gebruik het.

2 Soos wat die mense se woongebied ooswaarts uitgebrei het, het hulle op ’n vlakte in die land Sinar afgekom en daar gaan woon.

3 Na ’n tyd het hulle vir mekaar gesê: “Kom ons maak stene wat goed gebak is.”

Hulle gebruik toe stene in plaas van klippe en asfalt in plaas van klei.

4 “Kom,” sê hulle, “laat ons vir onsself roem verwerf en ’n stad bou met ’n toring wat aan die hemel raak. Dit sal ons bymekaarhou en keer dat ons oor die hele aarde verstrooi word.”

5 Die Here het toe afgekom om te kom kyk na die stad en sy toring wat die mense besig was om te bou.

6 “Nou kyk,” sê Hy, “as hulle, omdat hulle een taal praat, reeds aan die begin sulke dinge kan regkry, dink net wat sal hulle later kan doen. Niks sal meer vir hulle onmoontlik wees nie!

7 Kom, laat Ons afgaan en hulle verskillende tale laat praat sodat hulle mekaar nie kan verstaan nie.”

8 Op hierdie manier het die Here hulle van daar af oor die aarde versprei.

Dit was ook die einde van hulle bouprojek van die stad.

9 Dit is dan ook hoekom die stad Babel genoem is, want dis waar die Here die mense se taal verwar het sodat hulle oor die aarde versprei het.

Vanaf Sem tot Abram

10 Hier volg die lys van Sem se nageslag.

Toe Sem 100 jaar oud was, is sy seun Arpaksad gebore. Dit was twee jaar na die vloed.

11 Ná die geboorte van Arpaksad het Sem nog 500 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

12 Toe Arpaksad 35 jaar oud was, is sy seun Selag gebore.

13 Ná die geboorte van Selag het Arpaksad nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

14 Toe Selag 30 jaar oud was, is sy seun Heber gebore.

15 Ná die geboorte van Heber het Selag nog 403 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

16 Toe Heber 34 jaar oud was, is sy seun Peleg gebore.

17 Ná die geboorte van Peleg het Heber nog 430 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

18 Toe Peleg 30 jaar oud was, is sy seun Reü gebore.

19 Ná die geboorte van Reü het Peleg nog 209 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

20 Toe Reü 32 jaar oud was, is sy seun Serug gebore.

21 Ná die geboorte van Serug het Reü nog 207 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

22 Toe Serug 30 jaar oud was, is sy seun Nahor gebore.

23 Ná die geboorte van Nahor het Serug nog 200 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

24 Toe Nahor 29 jaar oud was, is sy seun Tera gebore.

25 Ná die geboorte van Tera het Nahor nog 119 jaar gelewe. Hy het ook nog ander seuns en dogters gehad.

26 Toe Tera 70 jaar oud was, het hy die pa van Abram, Nahor en Haran geword.

Tera se gesin

27 Wat volg, is die weergawe van Tera se familie. Tera was die pa van Abram, Nahor en Haran. Haran het ’n seun gehad met die naam Lot.

28 Maar Haran het jonk gesterf in sy geboorteplek, Ur van die Galdeërs. Hy is oorleef deur sy pa Tera.

29 Intussen het Abram met Sarai getrou en sy broer Nahor met Milka, die dogter van hulle broer Haran. (Milka het ook nog ’n suster met die naam Jiska gehad.)

30 Sarai was onvrugbaar; sy het geen kinders gehad nie.

31 Tera het sy seun Abram, sy skoondogter Sarai en sy kleinseun Lot (Haran se seun) geneem en uit Ur van die Galdeërs vertrek om na die land Kanaän toe te gaan. Maar hulle het in die dorp Haran oorgebly en hulle daar gevestig.

32 Tera het 205 jaar gelewe en is dood terwyl hulle nog by Haran was.

GENESIS 12

Die Here beveel Abram om te

trek

1 Die Here het vir Abram gesê: “Trek weg uit jou land, weg van jou familie en jou ouerhuis en gaan na die land wat Ek jou sal aanwys.

2 Ek sal jou die voorvader maak van ’n groot nasie. Ek sal jou seën sodat jy geëerd sal wees, en vir ander tot ’n seën sal wees.

3 Ek sal dié seën wat jou seën en dié wat jou vervloek, sal Ek vervloek. In jou sal al die mense op die aarde geseën word.”

4 Abram het toe weggetrek soos die Here hom beveel het en Lot het saamgegaan. Abram was 75 jaar oud toe hy uit Haran weggetrek het.

5 Hy het sy vrou, Sarai, sy neef Lot en al hulle besittings, asook almal wat in Haran deel van sy gesin geword het, saamgeneem Kanaän toe. Daar aangekom,

6 het hulle deur die land getrek tot by die waarsêersboom naby die plek Sigem. Die Kanaäniete het toe nog in die land gewoon.

7 Die Here het aan Abram verskyn en gesê: “Hierdie land gee Ek vir jou nageslag.” Toe bou Abram daar ’n altaar vir die Here wat aan hom verskyn het.

8 Daarna het Abram verder suid getrek en kamp opgeslaan in die heuwels met Bet-El aan die westekant en Ai aan die oostekant. Daar het hy ook ’n altaar gebou en die Here aanbid.

9 Mettertyd het Abram in die rigting van die Negev verskuif.

Abram en Sarai in Egipte

10 Toe die land met ’n swaar hongersnood getref is, het Abram Egipte toe gegaan om tydelik daar te bly.

11 Naby die grens van Egipte sê Abram vir Sarai: “Luister, my vrou, jy is ’n baie mooi vrou.

12 Sodra die Egiptenaars jou sien, sal hulle sê: ‘Dit is sy vrou. Kom ons maak hom dood en vat haar vir ons!’

13 Sê tog dat jy my suster is, want dan sal die Egiptenaars my goed behandel ter wille van jou, en ook my lewe spaar.”

14 En dit was ook so. Toe hulle in Egipte kom, het almal die beeldskone vrou raakgesien.

15 Die paleisamptenare het haar gesien, die farao van haar vertel en sy is in sy paleis opgeneem.

16 Ter wille van haar het die farao vir Abram baie geskenke gegee in die vorm van kleinvee, grootvee, donkies, slawe, slavinne en kamele.

17 Maar die Here het die farao en sy huis met ernstige plae getref oor Sarai, Abram se vrou.

18 Die farao laat roep toe vir Abram en vaar teen hom uit: “Wat het jy my aangedoen?

19 Hoekom het jy my nie gesê dat sy jou vrou is nie? Hoekom het jy toegelaat dat ek haar as vrou neem deur te sê dat sy jou suster is? Hier is jou vrou! Vat haar, en trap!”

20 Die farao het toe vir Abram en sy vrou, asook al hulle besittings onder begeleiding uit die land gestuur.

GENESIS 13

Abram en Lot se paaie gaan

uitmekaar

1 Abram het toe met sy vrou, al hulle besittings en Lot, Egipte verlaat en noordwaarts na die Negev getrek.

2 Abram was baie ryk aan lewende hawe, silwer en goud.

3 Hulle het van plek tot plek deur die Negev getrek op pad na Bet-El toe, na die plek tussen Bet-El en Ai, waar hy voorheen kamp opgeslaan het.

4 Dis die plek waar Abram destyds die altaar gebou het. Hier het hy weer die Here aanbid.

5 Lot, wat saam met Abram was, het ook baie kleinvee, grootvee en tente besit.

6 Maar Abram en Lot kon nie meer bymekaar woon nie, want die weiveld was te klein vir hulle groot troppe vee. Hulle kon dus nie meer saam boer nie.

7 Boonop het die Kanaäniete en die Feresiete ook destyds nog in die land gewoon. Toe ontstaan daar ’n rusie tussen Abram en Lot se veewagters.

8 Abram het die saak met Lot bespreek. “Hierdie getwis tussen ons veewagters moet einde kry,” het hy gesê. “Ons is tog naby familie!

9 Kies jy enige deel van die land, dan gaan ons uitmekaar. As jy anderkant toe wil gaan, sal ek hier bly. As jy verkies om hier te bly, sal ek elders heen trek.”

10 Lot het rondgekyk na die vrugbare vlaktes van die Jordaanvallei in die rigting van Soar. Die hele gebied was waterryk, soos die tuin van die Here of die vrugbare Egipte. Dit was nog voor die Here Sodom en Gomorra vernietig het.

11 Toe kies Lot die Jordaanvallei en trek ooswaarts. So is die twee mans van mekaar af weg.

12 Terwyl Abram in die land Kanaän gebly het, het Lot sy tente tussen die stede in die vallei opgeslaan naby Sodom.

13 Die inwoners van hierdie gebied was sleg en het baie teen die Here gesondig.

14 Nadat Lot vertrek het, sê die Here vir Abram: “Kyk ’n bietjie rond in alle rigtings, so ver as wat jy kan sien.

15 Die hele land wat jy sien, gaan Ek vir jou en jou nageslag as permanente eiendom gee.

16 Ek gaan vir jou soveel afstammelinge gee dat hulle, net soos die stof op die aarde, nie getel kan word nie.

17 Kom, trek nou kruis en dwars deur die land, want Ek gee dit vir jou.”

18 Daarna het Abram sy kamp verskuif na die groot bome van Mamre, naby Hebron. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou.

GENESIS 14

Abram red Lot

1 Omtrent hierdie tyd het daar oorlog in die omgewing uitgebreek. Koning Amrafel van Sinar, koning Arjok van Ellasar, koning Kedorlaomer van Elam en koning Tidal van Gojim

2 het opgetrek teen koning Bera van Sodom, koning Birsa van Gomorra, koning Sinab van Adma, koning Semeber van Sebojim en die koning van Bela (dit is Soar).

3 Die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela het ’n bondgenootskap gesluit en hulle leërs in die Siddimvlakte (dit is die vallei van die Dooie See), saamgetrek.

4 Twaalf jaar lank was hulle onderdanig aan Kedorlaomer, maar in die dertiende jaar het hulle in opstand gekom.

5 ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote hulle aangeval. Hulle het die Refaïete verslaan in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6 en die Goriete in die Seïrberge tot so ver as El-Paran, kort by die woestyn.

7 Daar het hulle omgedraai na En-Mispat (dit is Kades) en het die gebied van die Amalekiete verower, asook dié van die Amoriete wat in Gaseson-Tamar gewoon het.

8 Teen hierdie tyd het die leër van die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) in die Siddimvlakte gereedgemaak vir oorlog

9 teen koning Kedorlaomer van Elam, en die konings van Gojim, Sinar en Ellasar – dit is vyf konings teen vier.

10 Die vallei was egter vol asfaltgate. Toe die leër van Sodom en Gomorra vlug, het sommige in die gate geval en die ander het na die berge toe gevlug.

11 Die seëvierende invallers het Sodom en Gomorra geplunder. Daarna het hulle al die besittings en kos in die stede gevat en saamgeneem huis toe.

12 Hulle het ook Lot, Abram se neef wat toe in Sodom gewoon het, gevange geneem en al sy besittings saamgeneem.

13 Iemand wat ontsnap het, het dit vir Abram die Hebreër kom vertel. Abram het by die groot bome van Mamre die Amoriet gewoon. Mamre en sy bloedverwante Eskol en Aner was bondgenote van Abram.

14 Toe Abram hoor Lot is as gevangene weggevoer, het hy die weerbare manne in sy huishouding bymekaargeroep. Daar was 318 van hulle, almal in sy huishouding gebore. Hy het Kedorlaomer se leër agternagejaag en hulle by Dan ingehaal.

15 Daar het hy in die nag sy manskappe verdeel en die invallers van verskillende kante af aangeval. Kedorlaomer se leër het gevlug, maar Abram het hulle tot by Goba, noord van Damaskus, agtervolg.

16 Hy het alles wat geroof is, teruggekry, ook sy neef Lot met sy besittings en al die vroue en ander gevangenes.

Melgisedek seën Abram

17 Toe Abram terugkom van sy oorwinning oor Kedorlaomer en sy bondgenote, het die koning van Sodom hom in die Sawevlakte (dit is die Koningsvallei) tegemoetgegaan.

18 Melgisedek, die koning van Salem, het vir hom brood en wyn gebring. Hy was ook ’n priester van God die Allerhoogste.

19 Melgisedek het Abram geseën en gesê:

“Geseënd is Abram

deur God die Allerhoogste,

die Skepper van hemel en aarde.

20 En geseënd is God die Allerhoogste

wat jou bemagtig het

om oor jou vyande te seëvier.”

Toe gee Abram vir Melgisedek ’n tiende van alles wat hy teruggekry het.

21 Die koning van Sodom sê vir hom: “Gee net my mense terug, maar hou die besittings vir jouself.”

22 Abram antwoord hom toe: “Ek het die Here, God die Allerhoogste, Skepper van hemel en aarde, plegtig belowe

23 dat ek nie eens ’n garingdraad of ’n skoenveter van jou sal neem nie. Anders kan jy dalk sê: ‘Ek is die een wat vir Abram ryk gemaak het!’

24 Al wat ek sal aanvaar, is die kos wat hierdie manskappe reeds geëet het. Maar gee ’n deel van die buit aan my bondgenote Aner, Eskol en Mamre.”

GENESIS 15

Die Here sluit ’n verbond met

Abram

1 Daarna het die Here in ’n visioen aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, Abram, want Ek sal jou beskerm en jou beloning sal groot wees.”

2 Maar Abram het geantwoord: “Oppermagtige Here, wat beteken al u seëninge as ek nie eers ’n seun het nie? Daarom sal Eliëser van Damaskus my erfgenaam word.

3 U het my geen kinders gegee nie. Een van my slawe sal dus alles erf wat ek besit.”

4 Toe sê die Here vir hom: “Nee, hy sal nie jou erfgenaam word nie. Jy sal ’n seun van jou eie hê wat al die besittings wat Ek jou gee, sal erf.”

5 Daarop neem die Here Abram na buite toe en sê: “Kyk op na die naghemel en tel die sterre. Kan jy hulle tel? Net so baie sal jou nageslag wees!”

6 Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken.

7 Die Here sê verder vir hom: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs laat wegtrek het om hierdie land in besit te neem.”

8 Maar Abram antwoord Hom: “Oppermagtige Here, hoe kan ek verseker weet dat dit aan my sal behoort?”

9 Die Here antwoord hom: “Bring vir My ’n driejaaroud verskalf, ’n driejaaroud bokooi, ’n driejaaroud ram, ’n tortelduif en ’n jong duif.”

10 Abram bring dit toe vir die Here en slag hulle. Hy sny elkeen middeldeur en lê die helftes teenoor mekaar. Die duiwe sny hy egter nie in die helfte nie.

11 Toe roofvoëls op die karkasse toesak, verwilder Abram hulle.

12 Daardie aand, toe die son besig was om onder te gaan, oorval ’n diep slaap Abram en angs en donkerte het hom oorval.

13 Toe sê die Here vir Abram: “Weet verseker dat jou afstammelinge vreemdelinge in ’n vreemde land sal wees. Hulle sal 400 jaar lank as slawe verdruk word.

14 Maar Ek sal dié nasie wat hulle soos slawe behandel, straf. Daarna sal jou nageslag met groot rykdom daar uittrek.

15 Maar jy sal in vrede op ’n rype ouderdom sterf.

16 Vier geslagte ná jou, wanneer die sonde van die Amoriete ryp geword het vir oordeel, sal jou nageslag terugkom na hierdie land toe.”

17 Toe die son ondergegaan het en dit donker was, het Abram ’n rokende oond en ’n brandende fakkel gesien wat tussendeur die halwe karkasse beweeg het.

18 So het die Here daardie dag ’n verbond met Abram gemaak en gesê: “Ek het hierdie land vir jou nageslag gegee, vanaf die Egiptespruit tot by die groot Eufraatrivier.

19 Dit sluit in die land van die Keniete, die Kenissiete, die Kadmoniete,

20 die Hetiete, die Feresiete, die Refaïete,

21 die Amoriete, die Kanaäniete, die Girgasiete en die Jebusiete.”

GENESIS 16

Die geboorte van Ismael

1 Maar Sarai, Abram se vrou, het nog geen kinders gehad nie. Sarai het ’n Egiptiese slavin gehad met die naam Hagar.

2 Sarai sê toe vir Abram: “Die Here het my nie toegelaat om kinders te hê nie. Gaan slaap by my slavin. Dalk kan sy ’n kind in die wêreld bring wat ek as my eie kan beskou.” Abram het hiermee ingestem.

3 So het Sarai, Abram se vrou, haar Egiptiese slavin Hagar vir Abram as vrou gegee. Dit het gebeur tien jaar nadat Abram in Kanaän aangekom het.

4 Abram het toe by Hagar gaan slaap en sy het swanger geword. Toe Hagar agterkom dat sy ’n kind verwag, het sy haar meesteres met minagting begin behandel.

5 Toe sê Sarai vir Abram: “Dit is alles jou skuld! Ek het my slavin vir jou gegee om by te slaap. Vandat sy agtergekom het dat sy swanger is, minag sy my. Die Here sal oordeel tussen my en jou!”

6 Abram het haar terug geantwoord: “Aangesien sy jou slavin is, maak met haar soos jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar weggeloop het.

7 Die engel van die Here het haar by ’n fontein in die woestyn op pad na Sur gekry.

8 Die engel sê vir haar: “Hagar, diensmeisie van Sarai, waar kom jy vandaan? Waarheen gaan jy?”

“Ek loop weg van my meesteres,” antwoord sy.

9 Toe sê die engel van die Here vir haar: “Gaan terug na jou meesteres toe en wees aan haar onderdanig.”

10 Die engel van die Here sê ook: “Ek sal vir jou ’n groot nageslag gee wat nie getel kan word nie.”

11 Die engel van die Here sê toe weer vir haar: “Jy is nou swanger met ’n seun wat jy in die wêreld gaan bring. Jy moet hom Ismael noem, want die Here het jou noodkreet gehoor.

12 Hierdie seun van jou sal ’n wilde mens wees, soos ’n wildedonkie. Hy sal teen almal wees en almal sal teen hom wees. Hy sal in konflik lewe met sy broers.”

13 Van toe af het Hagar die Here wat met haar gepraat het, genoem “die God wat my sien”, want sy het gesê: “Ek het die Een gesien wat my gesien het!”

14 Dit is hoekom hierdie put Lagai-Roï-fontein genoem word. Dit is nog steeds tussen Kades en Bered.

15 Later het Hagar vir Abram ’n seun in die wêreld gebring. Abram het hom Ismael genoem.

16 Abram was toe 86 jaar oud toe Hagar Ismael vir hom in die wêreld gebring het.

GENESIS 17

Abram word Abraham

1 Toe Abram 99 jaar oud was, het die Here weer aan hom verskyn en gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe in my teenwoordigheid en wees opreg.

2 Ek sal my verbond met jou maak en jy sal ’n groot nasie word.”

3 Toe Abram dit hoor, val hy met sy gesig op die grond. God sê toe vir hom:

4 “Dit is my verbond wat Ek met jou sluit: Jy sal die voorsaat wees van baie nasies.

5 Ek verander jou naam. Jy sal nie meer Abram genoem word nie, maar jy sal as Abraham bekend staan, want jy sal die voorvader wees van baie nasies.

6 Ek sal jou talle nasate gee wat uit baie nasies sal bestaan. Daar sal ook konings uit jou nageslag voortkom.

7 “Ek sal my verbond tussen My en jou bevestig van geslag tot geslag. Dit sal vir altyd voortduur. Ek sal altyd jou God wees en ook die God van jou nageslag.

8 Hierdie hele land Kanaän waar jy nou bly, gee Ek vir jou en jou nageslag, vir altyd. En Ek sal hulle God wees.”

Die besnydenis

9 “Jou deel van die ooreenkoms,” sê God vir Abraham, “is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Dit geld vir jou en al die geslagte ná jou.

10 Dít is my verbond wat jy en jou nageslag moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word.

11 Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is die teken van die verbond tussen My en julle.

12 Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word.

13 Almal moet besny word. So sal julle aan julle liggame die teken dra van my ewigdurende verbond.

14 Elkeen wat nie besny is nie, sal afgesny word van God se belofte omdat hy die verbond verbreek het.”

Sara sal Isak in die wêreld

bring

15 Verder sê God: “Jou vrou Sarai sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal haar naam Sara wees.

16 Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Ek sal haar beslis ryklik seën. Sy sal moeder word van baie nasies en uit haar nageslag sal daar konings voortkom.”

17 Toe het Abraham tot op die grond neergebuig en by homself gelag. “Hoe kan ek op 100 jaar pa word?” het hy gewonder. “Daarby is Sara nou 90 jaar. Hoe kan sy geboorte gee?”

18 Abraham sê toe vir God: “Ja, mag Ismael maar net voor U lewe!”

19 Maar God sê vir hom: “Nee, Sara, jou vrou, sal vir jou ’n kind in die wêreld bring. Jy sal hom Isak noem en dis met hóm en sý nageslag dat Ek my blywende verbond sal bevestig.

20 Wat Ismael betref, Ek sal hom ook seën soos jy gevra het. Ek sal hom seën met ’n ryke nageslag wat ’n groot nasie sal word; twaalf heersers sal uit hom voortkom.

21 Maar my verbond is met Isak wat Sara ongeveer hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.”

22 Dit was die einde van die gesprek en God het van Abraham af weggegaan.

23 Op dieselfde dag nog het Abraham sy seun Ismael geneem, asook elke manlike persoon in sy huishouding, en hulle aan die voorhuid besny, presies soos God beveel het.

24 Abraham was 99 jaar oud toe hy besny is

25 en sy seun Ismael was dertien jaar.

26 Albei is op dieselfde dag besny

27 saam met al die ander mans en seuns in die huishouding, dié wat in die huishouding gebore is en dié wat as slawe gekoop is.

GENESIS 18

Die Here beloof vir Sara ’n seun

1 Die Here het weer by die groot bome van Mamre aan Abraham verskyn. Terwyl Abraham so in die middel van die dag by die ingang van sy tent sit,

2 sien hy skielik drie mans daar naby staan. Hy het opgestaan, vinnig na hulle toe gestap en hulle verwelkom deur diep te buig.

3 “Menere,” het hy gesê, “doen my ’n guns en vertoef ’n bietjie hier.

4 Rus eers in die skadu van hierdie boom terwyl ek water laat haal om u voete te was.

5 Terwyl u my dan die eer aandoen om by my te vertoef sal ek ’n bietjie kos laat voorberei sodat u versterk kan word. Vertoef tog ’n rukkie voordat u verder reis.”

“Alte seker,” sê hulle. “Doen soos jy gesê het.”

6 Abraham is vinnig terug tent toe en sê vir Sara: “Maak gou! Kry drie mate fynmeel, knie dit en bak roosterkoeke.”

7 Daarna loop hy vinnig na die beestrop toe en kies ’n vet jaaroudkalf en beveel ’n dienskneg om dit gou te slag en voor te berei.

8 Toe die kos gereed was, het hy botter en melk saam met die gaar vleis aan hulle voorgesit. Terwyl hulle eet, het Abraham by hulle onder die boom bly staan om hulle te bedien.

9 “Waar is Sara, jou vrou?” vra hulle hom.

“In die tent,” antwoord Abraham.

10 Toe sê een van hulle: “Omtrent hierdie tyd volgende jaar sal ek weer terugkom. Jou vrou Sara sal dan al ’n seun hê.”

Sara het by die ingang van die tent agter hom gestaan en afluister.

11 Omdat sowel Abraham as Sara bejaard was en Sara reeds verby die ouderdom was dat sy kinders kon kry,

12 het sy by haarself gelag. “Hoe kan ’n ou vrou soos ek nog sulke plesier ervaar?” het sy gedink. “En dit nogal met my man wat oud is!”

13 Daarop sê die Here vir Abraham: “Hoekom het Sara gelag? Hoekom het sy gesê: ‘Kan ’n bejaarde vrou soos ek regtig ’n kind in die wêreld bring?’

14 Is daar enigiets wat te moeilik is vir die Here? Ek sal oor ’n jaar terugkom en dan sal Sara ’n seun hê.”

15 “Nee, ek het nie gelag nie!” antwoord sy, want sy was bang. Maar Hy sê: “Dit is nie waar nie. Jy hét gelag.”

Abraham pleit vir Sodom

16 Ná ete het die mans opgestaan en in die rigting van Sodom gestap. Abraham het ’n entjie saamgeloop om hulle af te sien.

17 “Ek kan tog nie my voorneme vir Abraham wegsteek nie!” sê die Here.

18 “Abraham sal sekerlik ’n groot en magtige nasie word, en al die volke op aarde sal in hom geseën word.

19 Ek het hom gekies sodat hy sy seuns en hulle gesinne kan opvoed om aan die Here gehoorsaam te wees deur te doen wat goed en reg is sodat Ek vir hom alles kan doen wat Ek hom belowe het.”

20 Toe sê die Here vir Abraham: “Die boosheid van die mense van Sodom en Gomorra het rugbaar geword, want hulle doen alles wat sondig is.

21 Ek wil afgaan om te gaan kyk of dit waar is of nie. Dan sal Ek vir seker weet.”

22 Terwyl twee van die mans toe verder gaan in die rigting van Sodom, het die Here nog ’n rukkie by Abraham bly staan.

23 Abraham het nadergekom en gevra: “Sal U die onskuldiges saam met die skuldiges uitroei?

24 Sê nou daar is 50 onskuldige mense in die stad. Sal U nie die stad ter wille van hulle spaar nie?

25 U sal tog sekerlik nie die onskuldiges saam met die skuldiges laat doodgaan nie! Hoekom sou U die onskuldiges en die skuldiges almal oor een kam skeer? U sal dit tog sekerlik nie doen nie! Moet die regter van die hele aarde dan nie doen wat reg is nie?”

26 Die Here antwoord: “As Ek 50 onskuldige mense in Sodom kry, sal Ek ter wille van hulle die hele stad spaar.”

27 Abraham het toe weer gepraat: “Aangesien ek gewaag het om met die Here te praat, al is ek maar net stof en as, laat my toe om weer te praat.

28 Sê nou daar is 45? Sal U die stad verwoes net omdat daar vyf minder is?”

Die Here antwoord hom: “As Ek 45 kry, sal Ek dit nie verwoes nie.”

29 Abraham het verder aangedring: “Veronderstel daar is net 40?”

Die Here antwoord: “Ek sal dit ter wille van 40 nie verwoes nie.”

30 “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, Here,” het Abraham gepleit. “Laat my toe om te praat. Wat daarvan as daar net 30 is?”

Die Here sê: “As Ek 30 daar vind, sal Ek dit nie verwoes nie.”

31 Abraham het weer gevra: “Terwyl ek dit gewaag het om met U te praat, Here, laat my tog voortgaan. Wat as daar net twintig onskuldiges is?”

Die Here sê vir hom: “Ek sal dit nie verwoes as daar twintig is nie.”

32 Uiteindelik sê Abraham: “Here, moet tog nie kwaad word nie. Ek sal net nog hierdie een keer praat. Sê nou daar is net tien?”

En die Here sê: “Ter wille van tien mense sal Ek dit nie verwoes nie.”

33 Daarna het die Here sy gesprek met Abraham beëindig en weggegaan. Abraham het na sy tent toe teruggegaan.

GENESIS 19

Sodom en Gomorra word

uitgewis

1 Daardie aand het die twee engele by Sodom aangekom. Lot het juis in die poort van Sodom gesit. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan om hulle te ontmoet. Hy het hulle verwelkom en laag voor hulle gebuig.

2 “Menere,” sê hy, “kom gerus saam na my huis toe. Daar kan u u voete was en my gaste vir die nag wees. Môre-oggend kan u weer vroeg op pad wees.”

“Nee, dankie,” antwoord hulle, “ons sal die nag sommer hier op die stadsplein deurbring.”

3 Maar Lot het daarop aangedring sodat hulle uiteindelik ingewillig het om saam te gaan. Hy het ’n groot feesmaal voorgesit met ongesuurde brood en hulle het dit geëet. Ná die ete,

4 toe hulle begin klaarmaak om te gaan slaap, het al die mans van Sodom, oud en jonk, van oor die hele stad saamgekom en die huis omsingel.

5 Hulle skree vir Lot: “Waar is die mans wat die nag by jou deurbring? Bring hulle uit sodat ons seksueel met hulle kan verkeer!”

6 Lot het uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en met hulle gepraat.

7 “Asseblief, my broers,” het hy gesoebat, “moenie so ’n bose ding doen nie.

8 Kyk, ek het twee dogters, albei nog maagde. Ek sal hulle buitentoe bring. Doen met hulle wat julle wil, maar los hierdie mans uit, want hulle is onder my beskerming.”

9 “Staan opsy!” het hulle geskree. “Jy het as vreemdeling tussen ons kom woon en nou wil jy vir ons kom sê wat óns moet doen! Ons sal jou nog slegter behandel as vir hulle.” Hulle het Lot begin vasdruk en nadergekom om die deur af te breek.

10 Maar die twee engele het hulle arms uitgesteek, Lot ingetrek en die deur gegrendel.

11 Toe het hulle al die mans van Sodom buite die huis verblind sodat hulle die deur nie kon kry nie.

12 “Het jy enige ander bloedverwante hier in die stad?” vra die engele. “Kry hulle uit hierdie plek uit, of dit nou skoonseuns, seuns, dogters of wie ook al is.

13 Ons gaan hierdie plek heeltemal verwoes omdat die mense so sondig is. Daarom het die Here ons gestuur om die plek te verwoes.”

14 Lot is toe vinnig na sy dogters se aanstaande mans om hulle te vertel: “Maak gou, gaan uit die stad uit! Die Here gaan dit verwoes!” Maar die jong mans het gedink hy maak ’n grap.

15 Teen dagbreek die volgende dag het die engele by hulle aangedring: “Maak gou! Neem jou vrou en twee dogters wat by jou is uit hierdie plek, anders sal die verwoesting van die stad julle ook tref.”

16 Toe Lot nog talm, gryp die engele sy hand en dié van sy vrou en twee dogters, en lei hulle haastig uit die stad uit, want die Here was hulle genadig.

17 Buite die stad waarsku een van die engele: “Vlug vir julle lewe! Moet nêrens in die vlakte gaan stilstaan nie! En moenie omkyk nie! Vlug na die berge, anders sal julle doodgaan.”

18 “Ag nee tog, Menere,” pleit Lot.

19 “Julle was nou so goed om my lewe te red en het ook guns aan my betoon. Maar ek sal nie die berge haal nie. Die ramp sal my inhaal en ek sal doodgaan.

20 Kyk, hier naby is ’n klein dorpie. Laat my asseblief tog daarheen vlug. Kyk net hoe klein is dit! Dan sal my lewe gespaar word.”

21 “Goed,” sê die engel, “ek sal aan jou versoek voldoen. Ek sal die klein dorpie spaar.

22 Maar maak gou om daar te kom, want ek kan niks doen voordat jy daar is nie.” Van toe af is die klein dorpie Soar genoem.

23 Net toe die son opkom, het Lot by die dorpie aangekom.

24 Toe het die Here vuur en brandende swael uit die hemel op Sodom en Gomorra laat neerreën.

25 Hy het hierdie stede en hulle omgewing totaal verwoes met al hulle inwoners en die plante en die diere.

26 Agter hom het Lot se vrou omgekyk en toe in ’n soutpilaar verander.

27 Dié oggend het Abraham vroeg opgestaan en hom gehaas na die plek waar hy by die Here gestaan het.

28 Hy het oor die vlakte uitgekyk in die rigting van Sodom en Gomorra. Daar sien hy net rookkolomme optrek oor die hele gebied, soos rook uit ’n steenoond.

29 Maar God het Abraham se versoek onthou en Lot gered uit die verwoesting van die stede in die vlakte waar hy gewoon het.

30 Na ’n tyd het Lot weggegaan uit Soar omdat hy bang was vir die inwoners. Hy gaan woon toe saam met sy dogters in ’n grot in die berge.

31 Op ’n dag sê die ouer dogter vir haar suster: “Ons pa word nou oud. Daar is nêrens in hierdie omgewing ’n man met wie ons kan trou nie.

32 Kom ons maak hom dronk met wyn en dan slaap ons by hom. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”

33 Hulle het toe so gemaak. Daardie aand het hulle hom met wyn dronk gemaak en die ouer dogter het by haar pa gaan slaap. Hy was onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het.

34 Die volgende oggend sê sy toe vir haar suster: “Ek het laas nag by ons pa geslaap. Kom ons maak hom vanaand weer dronk met wyn en dan gaan jy in om by hom te slaap. Op so ’n manier kan ons deur ons pa ’n nageslag laat voortleef.”

35 Hulle het hom toe daardie aand weer dronk gemaak, en die jonger dogter het ingegaan en by hom gaan slaap. Soos die vorige keer, was hy onbewus daarvan dat sy kom lê het of dat sy opgestaan het.

36 Op hierdie manier het albei dogters van Lot swanger geword by hulle pa.

37 Toe die ouer dogter ’n seun in die wêreld bring, het sy hom Moab genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou as die Moabiete bekend staan.

38 Toe die jonger dogter geboorte gee aan ’n seun, het sy hom Ben-Ammi genoem. Hy het die stamvader geword van die volk wat nou bekend is as die Ammoniete.

GENESIS 20

Abraham mislei vir Abimelek

1 Abraham het suidwaarts na die Negev getrek en ’n tyd lank tussen Kades en Sur gewoon. Toe hy in Gerar gewoon het,

2 het hy daar rond vir die mense vertel dat sy vrou Sara sy suster is. Koning Abimelek van Gerar laat haar toe haal om met haar te trou.

3 In die nag verskyn God toe in ’n droom aan Abimelek en sê vir hom: “Jy speel met die dood, want daardie vrou wat jy geneem het, is alreeds getroud.”

4 Abimelek het toe nog geen omgang met haar gehad nie, en sê: “Here, sal U ’n onskuldige nasie doodmaak?

5 Abraham het dan vir my gesê: ‘Sy is my suster,’ en sy self het ook gesê: ‘Ja, hy is my broer.’ Ek het regtig in onkunde opgetree!”

6 “Ja, Ek weet jy is onskuldig,” antwoord God. “Dis hoekom Ek jou gekeer het om teen My te sondig. Ek het nie toegelaat dat jy haar aanraak nie.

7 Stuur haar nou terug na haar man toe. Hy sal vir jou bid, want hy is ’n profeet. Dan sal jy bly lewe. As jy haar nie na hom toe terugstuur nie, kan jy seker weet jy en jou hele huishouding sal beslis sterf.”

8 Abimelek het die oggend vroeg opgestaan en vinnig ’n vergadering met al sy amptenare belê. Toe hy hulle vertel wat gebeur het, het ’n groot angs hulle beetgepak.

9 Abimelek laat roep toe vir Abraham. “Wat het jy ons nou aangedoen?” het hy gevra. “Wat het ek verkeerd gedoen om so behandel te word? Ek en my hele koninkryk sou aan ’n groot sonde skuldig gewees het.

10 Hoekom het jy dit aan ons gedoen?”

11 “Maar,” antwoord Abraham, “ek was onder die indruk dis ’n goddelose plek hierdie. Ek het gedink: ‘Hulle sal my vrou wil hê en my doodmaak om haar in die hande te kry.’

12 Sy is inderdaad my suster. Ons het dieselfde pa, maar nie dieselfde ma nie. Ons is egter wel getroud.

13 Toe God my uit my geboorteland laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: ‘Waar ons ook al gaan, moet jy asseblief ter wille van my sê dat jy my suster is.’”

14 Abimelek gee toe kleinvee, beeste, slawe en slavinne vir Abraham. Hy gee ook sy vou Sara terug aan Abraham en sê:

15 “Gaan deur my koninkryk en kies vir jou ’n plek waar jy graag wil woon.

16 “Kyk,” sê hy vir Sara, “ek gee jou broer 1 000 stukke silwer om te vergoed vir enige verleentheid wat ek dalk vir jou of enigeen by jou kon veroorsaak het. Dit sal enige verdere eis teen my afhandel.”

17 Daarna het Abraham tot God gebid en God het Abimelek, sy vrou en die ander vroue gesond gemaak sodat hulle weer kon kinders hê,

18 want die Here het al die vroue met onvrugbaarheid getref as waarskuwing vir Abimelek omdat hy Abraham se vrou geneem het.