GALASIËRS 1

1 Paulus skryf aan die gemeentes

in Galasië en stuur

’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel wat nie deur mense aangestel of gestuur is nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader – Hy wat Jesus Christus uit die dood opgewek het.

2 Dit kom ook van al die broers en susters hier saam met my. Ons skryf aan die gemeentes in Galasië.

3 Mag die genade en vrede van God ons Vader en van Jesus Christus met julle wees.

4 Jesus Christus het volgens God ons Vader se wil vir ons sondes gesterf om ons te bevry van die bose tyd waarin ons nou lewe.

5 Hiervoor moet God se heerlikheid vir altyd en altyd geprys word! Amen.

Daar is geen ander Goeie Nuus

nie

6 Ek is verstom oor wat julle gedoen het. Hoe kon julle so gou julle rug op God draai? Op Hóm wat julle deur Christus se genade na Hom toe geroep het!

Julle het julle ore uitgeleen vir ’n ander “Goeie Nuus”.

7 Maar daar is geen ander Goeie Nuus nie! Al wat daar is, is ’n paar mense wat julle deurmekaarmaak, ja, wat die Goeie Nuus van Christus wil verdraai.

8 Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees.

9 Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het!

10 Hoe klink dit vir julle? Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? Probeer ek mense gelukkig maak? As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ’n dienskneg van Christus nie.

Paulus se Goeie Nuus deur

Christus aan hom

11 Ek verseker julle, broers en susters, die Goeie Nuus wat ek aan julle verkondig het, is nie deur mense uitgedink nie.

12 Ek het dit nie by ’n mens gehoor of geleer nie, maar deurdat God Jesus Christus aan my geopenbaar het.

13 Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër, toe ek nog die Joodse godsdiens aangehang het, gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het.

14 In die uitlewing van die Joodse godsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan. Ek was besig om my uitermate te beywer vir die tradisies van my voorgeslagte.

15 Maar toe het God besluit – Hy wat my al voor my geboorte gekies het en my deur sy genade geroep het –

16 om sy Seun aan my bekend te maak. Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Joodse nasies kan verkondig. Ek het nie dadelik met mense gepraat nie.

17 Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan na hulle wat reeds voor my apostels was nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe.

18 Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet. Ek het twee weke by hom gebly,

19 maar van die ander apostels het ek niemand gesien nie behalwe Jakobus, die broer van die Here.

20 Kyk, God is my getuie dat die dinge wat ek vir julle skryf nie leuens is nie.

21 Daarna het ek na die gebied van Sirië en Silisië toe gegaan.

22 Die Christene in die gemeentes van Judea het my nog nie persoonlik geken nie.

23 Hulle het net gehoor: “Die persoon wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy wou uitroei!”

24 En hulle het God oor my geprys.

GALASIËRS 2

Die ander apostels aanvaar

Paulus

1 Dit was eers veertien jaar later dat ek weer Jerusalem toe gegaan het. Ek het Barnabas en ook Titus saam met my gevat.

2 Daar is in ’n openbaring vir my gesê om te gaan. In ’n privaat gesprek met die leiers het ek die Goeie Nuus voorgelê wat ek aan die nie-Jode verkondig. Ek wou seker maak dat ek my nie tevergeefs inspan nie.

3 Maar hoewel Titus, wat saam met my was, ’n Griek is, is hy nie gedwing om hom te laat besny nie.

4 Net ’n paar skyngelowiges het daarop aangedring. Hulle het die byeenkoms binnegesluip om te kom spioeneer op die vryheid wat ons in Christus Jesus het. Hulle doel was om ons weer slawe te maak.

5 Ons het egter vir geen oomblik toegegee nie sodat die waarheid van die Goeie Nuus vir julle gehandhaaf kan bly.

6 Verder het die leiers – wat hulle status was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na ’n mens se status nie – niks meer van my verwag nie.

7 Inteendeel! Hulle het ingesien dat die Goeie Nuus vir die nie-Jode aan my toevertrou is, soos die Goeie Nuus vir die Jode aan Petrus toevertrou is.

8 Want, soos God vir Petrus toegerus het om ’n apostel vir die Jode te wees, het Hy my toegerus om ’n apostel vir die nie-Jode te wees.

9 En toe, omdat hulle besef het dat God sy genade aan my gegee het, het Jakobus en Petrus en Johannes – hulle is as die sleutelfigure beskou – my en Barnabas die hand gegee as teken dat ons kollegas is: Ons sou na die nie-Joodse nasies gaan en hulle na die Jode.

10 Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen.

Paulus wys Petrus tereg omdat

hy teen nie-Joodse Christene

11 Toe Petrus egter na Antiogië gekom het, het ek hom openlik teengestaan omdat hy verkeerd was.

12 Voordat daar mense van Jakobus af gekom het, het hy saam met die nie-Jode geëet. Maar nadat hulle gekom het, het hy hom onttrek en hom tydens etes eenkant gehou omdat hy bang was vir wat die Joodse Christene sou sê.

13 Daarop het die ander Joodse Christene hom gevolg en selfs Barnabas het hom deur hulle skynheiligheid laat saamsleep.

14 Toe ek egter sien dat hulle optrede nie strook met die waarheid van die Goeie Nuus nie, het ek voor almal vir Petrus gesê: “Hoe kan jy, wat ’n Jood is – wat egter nie meer Joods lewe nie, maar nie-Joods – die nie-Jode dwing om soos Jode te leef?”

15 Ons wat van geboorte Jode is en nie sondaars uit die nie-Joodse nasies nie,

16 weet dat niemand deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie. Net deur die geloof in Jesus Christus kan dit gebeur! Selfs ons het tot geloof in Christus Jesus gekom sodat ons deur geloof, en nie omdat ons die wet onderhou nie, deur God vrygespreek kan word. Niemand sal mos deur die wet te onderhou deur God vrygespreek word nie!

17 Dit is eers as ons deur Christus God se vryspraak soek dat ons raaksien dat ons self ook sondaars is. Beteken dit nou dat Christus in diens van die sonde staan? Natuurlik nie!

18 Dis eerder ék wat van myself ’n oortreder maak. Dis nou as ek weer begin leef volgens ’n stelsel wat ek klaar verwerp het.

19 Deur die wet het ek die wet afgesterf. Gevolglik leef ek nou vir God. Ek is saam met Christus gekruisig.

20 Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my. Die lewe wat ek nou op aarde leef, leef ek deur geloof in die Seun van God, Hy wat sy liefde vir my bewys het deur in my plek te sterf.

21 Ek verwerp nie dié genade van God nie. As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!

GALASIËRS 3

God spreek julle vry deurdat

julle glo, nie omdat julle die

1 O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang!

2 Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het?

3 Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak?

4 Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie!

5 Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het?

6 So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.”

7 Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo.

8 Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.”

9 Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham.

10 Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.”

11 Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.”

12 Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”

13 Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal hang.”

14 Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang.

God gee sy beloftes aan almal

wat in Jesus Christus glo

15 Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie.

16 My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie “nakomelinge” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel.

17 Ek sê dus: Die verbond wat God met Abraham gesluit het, kan nie deur die wet, wat 430 jaar later gekom het, ongeldig gemaak en daarmee ook die belofte ongedaan gemaak word nie.

18 As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee.

19 Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan Israel gegee.

20 My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één!

21 Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam.

22 Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word.

23 Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof geopenbaar sou word.

24 Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang.

25 Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie.

Deur geloof is julle kinders van

God

26 Julle is almal God se kinders deurdat julle in Christus Jesus glo.

27 Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal.

28 Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus.

29 Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

GALASIËRS 4

1 Ek bedoel: Solank ’n erfgenaam minderjarig is, verskil sy posisie nie eintlik van dié van ’n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2 Tot op die dag wat die pa bepaal het, staan die erfgenaam onder toesig en bestuur.

3 Toe ons nog geestelik minderjarig was, het ons die magte van die wêreld soos slawe gedien.

4 Maar in die volheid van die tyd het God sy Seun gestuur. Hy is uit ’n vrou gebore, onder die wet,

5 sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop, ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

6 En omdat julle sy kinders is, het God die Gees van sy Seun gestuur om in ons te lewe. Die Gees in ons roep voortdurend na God: “Abba!” – wat die Aramese woord is vir “Vader”.

7 Jy is dus nie meer slaaf nie, maar kind. En as sy kind het God jou sy erfgenaam gemaak!

Paulus is bekommerd oor die

Galasiërs

8 Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie.

9 Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien?

10 Julle hou aan om spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier!

11 Ek is bekommerd oor julle. Al my harde werk onder julle was dalk verniet.

12 Broers en susters, ek pleit by julle: Word soos ek, want ek is ook soos julle.

Julle het my nooit enige kwaad aangedoen nie.

13 Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het. Ek het na julle gekom terwyl ek siek was.

14 Hoewel my siekte vir julle ’n beproewing was, het julle nie vir my gegril of my vermy nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek ’n engel, ja, asof ek Christus Jesus self was.

15 Julle het julleself destyds as bevoorreg beskou. Wat het dan nou gebeur? Ek kan regtig daarvan getuig dat julle, as dit moontlik was, selfs julle oë sou uitgeruk het om hulle vir my te gee.

16 Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel?

17 Die ander mense wat skynbaar so baie ywer vir julle het, het nie goeie bedoelings nie. Hulle wil ’n wig tussen ons indryf sodat julle julle vir hulle saak sal beywer.

18 Dit is goed om jou vir ’n goeie saak te beywer. Maar doen dit dan altyd, en nie net as ek daar by julle is nie.

19 Ag, my kinders, totdat Christus in julle lewens vorm aanneem, het ek elke keer weer geboortepyne oor julle.

20 Ek wens dat ek op hierdie oomblik by julle kan wees en op ’n ander trant met julle kan praat, want ek is regtig bekommerd oor julle.

Abraham se twee seuns as

voorbeeld

21 Sê vir my, julle wat so graag aan die wet onderwerp wil wees: Hoor julle nie wat die wet sê nie?

22 Daar staan geskryf dat Abraham twee seuns gehad het, een by ’n vrou wat ’n slaaf was en een by ’n vrou wat vry was.

23 Die seun van die slavin het sy geboorte te danke aan die mens se eie planne, en die seun van die vrou wat vry was, aan God se belofte.

24 Hierdie dinge moet figuurlik verstaan word. Die twee vroue staan vir twee verbonde. Hagar staan vir die verbond wat by die Sinaiberg gesluit is. Dié verbond bring slawerny voort.

25 Hagar, wat vir die Sinaiberg in Arabië staan, is ook ’n beeld vir die huidige Jerusalem. Jerusalem en haar inwoners leef in slawerny.

26 Maar die hemelse Jerusalem is vry en sý is ons moeder!

27 Daar staan geskryf:

“Wees baie bly, onvrugbare vrou,

jy wat nie kinders kon hê nie!

Jubel en juig,

jy wat nooit ma kon word nie.

Want die vrou

wat deur haar man verlaat is,

het meer kinders as die vrou

wie se man by haar is.”

28 Broers en susters, soos Isak is julle beloftekinders.

29 Maar, soos destyds, toe die seun wat sy geboorte aan die mens se planne te danke het, die seun wat sy geboorte aan die Gees te danke het, vervolg het, so is dit ook vandag die geval.

30 Maar wat sê die Skrif? “Jaag die slavin en haar seun weg, want die seun van die vrou wat vry is, mag nie saam met die seun van die slavin erf nie.”

31 Met ander woorde, broers en susters, ons is nie kinders van ’n slavin nie, maar van die vrou wat vry is.

GALASIËRS 5

Christus maak julle vry van die

slawejuk van wetsonderhouding

1 Om vry te wees! – dit is waarvoor Christus ons vrygemaak het! Maak seker dat julle vry bly, en moet nie weer onder ’n slawejuk vasgebind word nie.

2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus niks vir julle beteken nie.

3 Ek sê dit weer: Elkeen wat besny word, is verplig om die hele wet na te kom.

4 Julle wat deur God vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, het julle van Christus losgemaak. Julle het God se genade verbeur.

5 Wat ons betref, die Gees laat ons uitsien na dit waarop ons hoop: vryspraak deurdat ons glo.

6 Vir mense wat met Christus verenig is, is dit nie belangrik of jy besny is of nie besny is nie. Wat egter wel belangrik is, is geloof wat deur liefde dade word.

7 Julle het so goed gevorder. Wie het julle gekeer om die waarheid te bly gehoorsaam?

8 Die idee kom nie van Hom wat julle geroep het nie!

9 Onthou: ’n Bietjie suurdeeg maak die hele deeg suur.

10 Ek het vertroue in die Here wat julle betref dat julle nie anders as ek sal dink nie. Maar die persoon wat julle verwar het, sal gestraf word, wie dit ook al is.

11 Wat my betref, broers en susters, as dit waar is dat ek steeds verkondig dat besnydenis noodsaaklik is, waarom word ek dan vervolg? Dan is daar mos nie meer ’n kruisboodskap wat kan aanstoot gee nie.

12 Ek wens werklik dat dié wat julle opstandig maak oor die besnydenis, sommer hulleself kastreer!

Ware vryheid beteken om

mekaar in liefde te dien

13 Broers en susters, julle is inderdaad geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien.

14 Die hele wet is saamgevat in een opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

15 Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie!

Julle leefstyl moet deur die Gees

bepaal word

16 Ek sê: Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.

17 ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie.

18 Maar as julle deur die Gees gelei word, is die wet nie meer julle baas nie.

19 Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid,

20 afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe,

21 afguns, dronkenskap, wilde partytjies en al sulke dinge. Ek herhaal my vroeëre waarskuwing oor hierdie dinge: Wie sulke dinge doen, sal nie as erfgenaam deel hê aan God se koningsheerskappy nie.

22 Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,

23 sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.

24 Maar dié wat aan Christus Jesus behoort, het die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig.

25 Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

26 Ons moenie te veel van onsself dink, mekaar irriteer of op mekaar jaloers wees nie.

GALASIËRS 6

Wat jy saai, sal jy maai

1 Broers en susters, wanneer iemand in die een of ander sonde verval, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie.

2 Help ander gelowiges wat swaarkry, en gee só uitvoering aan Christus se liefdeswet.

3 Julle weet dat mense wat baie van hulleself dink, terwyl hulle niks is nie, hulleself bedrieg.

4 Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets. Dan kan julle op julleself trots wees, sonder om julle met iemand anders te vergelyk.

5 Ons weet tog: Almal sal oor hulleself verantwoording moet doen.

6 Iemand wat in die woord van God onderrig word, moet dié een wat onderrig gee, in alle goeie dinge laat deel.

7 Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: Wat mense saai, sal hulle ook maai!

8 Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.

9 Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.

10 Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges.

Laaste waarskuwings en groete

11 Julle sien aan die groot letters ek skryf nou met my eie hand.

12 Al daardie mense wat julle wil dwing om besny te word, vir hulle gaan dit net om uiterlik die regte indruk te maak sodat hulle nie oor die kruis van Christus vervolg word nie.

13 Hulle wat besny word, leef self nie werklik volgens die wet nie. Hulle wil julle egter laat besny om met dit wat aan julle liggaam gedoen is, te spog.

14 Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld.

15 Dis nie belangrik of iemand besny of nie besny is nie, maar dis belangrik of iemand ’n nuwe mens is.

16 Mag God se vrede en ontferming met almal wees wat volgens hierdie beginsel lewe. Húlle is Gód se Israel!

17 Verder moet niemand vir my nóg moeite aandoen nie. Ek dra al klaar die littekens van Jesus aan my liggaam.

18 Broers en susters, mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle gees wees. Amen.