FILIPPENSE 1

1 Paulus en Timoteus skryf aan

die gelowiges in Filippi en stuur

Hierdie brief kom van Paulus en Timoteus, diensknegte van Christus Jesus.

Ons skryf aan al God se mense in Filippi, al die Christene, ouderlinge en diakens ingesluit.

2 Die genade en die vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus sal met julle wees.

Paulus dank God vir die

gemeente

3 Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God.

4 Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal

5 omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra.

6 Ek is oortuig dat God die goeie werk wat Hy in julle begin het, sal voortsit totdat Hy dit voltooi op die dag wanneer Jesus Christus terugkom.

7 Dit is vanselfsprekend dat ek so oor julle almal voel omdat julle my na aan die hart lê. Julle almal deel saam met my in God se genade – wanneer ek in die tronk sit én wanneer ek die waarheid van die Goeie Nuus verdedig en bevestig.

8 God kan getuig hoe ek na julle almal verlang. Ek gee vir julle om met die liefdevolle deernis van Christus Jesus!

9 Ek bid dat julle liefde vir mekaar meer en meer sal word deurdat julle ’n al beter begrip en ’n fyn aanvoeling ontwikkel.

10 Dit sal julle in staat stel om dié dinge te onderskei wat regtig saak maak. Dit sal julle ook help om skoon en onberispelik te lewe tot op die dag wanneer Christus terugkom.

11 Dan sal julle hele lewe vol wees van die goeie gevolge van julle gehoorsaamheid aan die wil van God – goeie gevolge wat Jesus Christus bewerk het. God sal daarvoor geëer en geprys word!

Christus word gepreek, selfs in

die tronk

12 Julle moet weet, broers en susters, dat dit wat met my gebeur het, gelei het tot bevordering van die Goeie Nuus.

13 Dit het vir almal hier, ook vir die soldate van die paleiswag, duidelik geword dat ek in die tronk is ter wille van Christus.

14 En die meerderheid medegelowiges hier is só deur my gevangenskap in hulle vertroue in die Here versterk dat hulle dit al hoe meer waag om oor die boodskap van God te praat sonder om bang te wees.

15 Daar is wel sommige wat dit doen omdat hulle jaloers is of iets teen my het, maar daar is ook ander wat Christus met goeie bedoelings bekendmaak.

16 Hulle doen dit uit liefde omdat hulle weet dat ek hier is om die Goeie Nuus te verdedig.

17 Maar dié wat in eiebelang Christus verkondig, doen dit met onsuiwer motiewe. Hulle bedoeling is om die swaarkry van my gevangenskap nog swaarder te maak.

18 Maar wat maak dit saak? Of hulle motiewe nou onsuiwer of suiwer is – die feit is dat Christus op allerhande maniere verkondig word, en daaroor is ek baie bly!

Paulus se lewe vir Christus

My blydskap sal ook voortduur,

19 want ek weet dat deur julle voorbidding en die hulp van die Gees van Jesus Christus alles op my vrylating sal uitloop.

20 Dit is my strewe en hoop dat ek nooit iets sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil eerder, soos nog altyd, ook nou in my hele bestaan – of ek bly leef en of ek moet sterf – Christus met volle vrymoedigheid verheerlik.

21 Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.

22 As ek aanhou lewe, kan ek vrugbaar werk. Ek weet regtig nie wat om te kies nie!

23 Ek is in ’n tweestryd. Aan die een kant verlang ek om te vertrek en bý Christus te wees, want dit is vir my verreweg die beste.

24 Aan die ander kant is dit vir julle belangriker dat ek bly lewe.

25 Dit weet ek vas en seker: my blywende betrokkenheid by julle almal sal daartoe lei dat julle groei en blydskap in julle geloof sal beleef.

26 Dan, wanneer ek weer by julle is, sal julle nog meer rede hê om dit wat Christus Jesus deur my gedoen het, te besing.

’n Leefstyl wat pas by die Goeie

Nuus

27 Hoofsaak is dat julle leefstyl moet pas by die Goeie Nuus van Christus. Só sal ek dan as ek kom, sién of as ek nie kan kom nie, hóór dat julle met één gees vasstaan en soos ’n span eendragtig saamveg vir ons geloof in die evangelie.

28 Ek sal hoor dat teenstanders julle glad nie afskrik nie. Vir hulle is dit ’n bewys dat hulle verlore gaan, maar vir julle is dit ’n bewys dat God self julle red!

29 Aan julle is immers die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly.

30 Julle voer dieselfde stryd wat julle my vroeër sien stry het. En soos julle gehoor het, duur my stryd nog steeds voort.

FILIPPENSE 2

Wees eensgesind en sien in

nederigheid na mekaar om

1 Julle is mos deur Christus bemoedig en deur sy liefde getroos! Julle het die gemeenskap beleef wat die Gees bewerk! Julle weet wat omgee en meelewing beteken!

2 Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel.

3 Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van medegelowiges meer te dink as van jouself.

4 Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange.

Volg Jesus Christus se voorbeeld

5 Julle gesindheid moet soos Jesus Christus s’n wees:

6 Alhoewel Hy self God was,

het Hy nie vasgeklou

aan die Goddelikheid wat Hom

toekom nie,

7 maar Hy het dit prysgegee:

Hy het ’n slaaf geword

en aan mense gelyk geword.

En toe Hy as mens geleef het,

8 het Hy Homself

nog verder verneder

deur tot die dood toe

gehoorsaam te wees,

ja, tot die kruisdood toe!

9 Daarom het God Hom ook

tot die hoogste posisie verhoog

en aan Hom die Naam gegee

wat belangriker is

as elke ander naam.

10 Só sal by die noem

van Jesus se heerlike Naam

elke knie in die hemel

en op die aarde

en onder die aarde buig,

11 en elke tong sal bely:

“Jesus Christus is Here!”

En só sal God die Vader

verheerlik word!

Julle moet ligdraers in ’n donker

wêreld wees

12 My geliefdes, julle was altyd baie gehoorsaam toe ek by julle was. Noudat ek weg is, moet julle nog meer gehoorsaam wees. Vol ontsag en eerbied vir God moet julle voortgaan om aan julle verlossing gestalte te gee.

13 Dis mos God wat die gewilligheid en die vermoë in julle bewerk om te handel volgens wat Hy graag wil hê!

14 Doen alles sonder kla of teëpraat.

15 Dan sal julle as onberispelike kinders van God bo verdenking staan. Julle sal skoon lewe in ’n wêreld vol oneerlike en perverse mense. Skyn in hierdie donker wêreld soos helder sterre

16 deur noukeurig te leef volgens die boodskap wat tot die lewe lei. Dan, wanneer Christus terugkom, sal ek tevrede wees dat ek nie verniet gejaag en geswoeg het nie.

17 Selfs al word my lewe soos ’n drankoffer uitgegiet bo-op die offer van julle gelowige diens aan God, is ek bly daaroor en wil ek saam met julle almal bly wees daaroor.

18 Laat my vreugde hieroor ook julle vreugde wees!

Timoteus gaan Filippi toe

19 Ek hoop om, as die Here Jesus wil, binnekort vir Timoteus na julle toe te stuur. Dit sal my goeddoen as ek weet hoe dit met julle gaan.

20 Ek beskou Timoteus immers as die enigste persoon wat met ’n opregte gesindheid aan julle belange aandag sal gee.

21 Al die ander soek net hulle eie belang en nie dit wat vir Jesus Christus saak maak nie.

22 Julle weet egter hoe Timoteus homself bewys het. Soos ’n seun sy pa help, het hy saam met my gewerk om die Goeie Nuus uit te dra.

23 Ek hoop om juis hóm na julle toe te stuur sodra ek duidelikheid het oor my eie posisie.

24 Ek vertrou dat, as die Here wil, ek self ook binnekort na julle toe sal kan kom.

Epafroditus gaan Filippi toe

25 Ek het gedink ek behoort Epafroditus, my broer, medewerker en medestryder, wat deur julle gestuur is om my in my nood by te staan, na julle toe terug te stuur.

26 Hy verlang baie na julle almal en was bekommerd omdat julle gehoor het dat hy siek is.

27 Hy was regtig doodsiek, maar God het genade aan hom bewys – nie net aan hom nie, maar ook aan my – sodat ek nie nog groter hartseer sou moes verduur nie.

28 Ek stuur hom dus sommer dadelik terug sodat julle, wanneer julle hom sien, bly kan wees en ek minder bekommerd.

29 Verwelkom hom dan in die Here met volle blydskap en respekteer mense soos hy,

30 want vir die werk van Christus het hy by die dood omgedraai. Hy het sy lewe gewaag om my namens julle te help.

FILIPPENSE 3

Die ongelooflike wins van geloof

in Jesus Christus

1 Verder, my broers en susters, wees bly omdat julle aan die Here verbind is. Om weer hieroor vir julle te skryf maak my nie moeg nie, en vir julle gee dit duidelikheid.

2 Pas op vir daardie rondloperhonde, pas op vir daardie kwaaddoeners, pas op vir die mense van die versnydenis!

3 Ons wat God deur sy Gees dien, het mos klaar die ware besnydenis. Ons beroep ons op wat Christus Jesus gedoen het en nie op menslike dinge nie.

4 Nietemin sou ek ook op menslike dinge kon vertrou. As iemand meen om op menslike dinge te vertrou, ek nog méér!

5 Ek is op die agtste dag besny. Ek is ’n gebore Israeliet, uit die stam van Benjamin. ’n Egte Hebreër! As lid van die Fariseërs het ek streng volgens Joodse wette gelewe.

6 Ek was fanaties en het die kerk vervolg! Wat wetsgehoorsaamheid betref as metode om my saak met God reg te maak, was ek onberispelik!

7 Alhoewel ek hierdie menslike dinge eers as ’n wins beskou het, beskou ek dit ter wille van Christus nou as ’n verlies.

8 Ja, om Christus Jesus, my Here, te ken is só wonderlik dat ek alle ander dinge as ’n verlies beskou. Ter wille van Hom het ek alles as verlies afgeskryf. Ek beskou dit as gemors sodat ek Christus as wins kan verkry

9 en een met Hom kan wees.

Ek probeer nie langer my saak met God regstel deur die wet te gehoorsaam nie, maar deur in Christus te glo. Deur die geloof stel God ons saak met Hom reg.

10 Op hierdie manier kan ek Christus ken en die krag beleef wat Hom laat opstaan het. Deur saam met Hom te ly kry ek deel aan sy dood

11 in die hoop dat ek die opstanding uit die dood kan beleef!

Hoe om as gelowige doelgerig te

lewe

12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!

13 Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.

14 Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.

15 Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê. As daar enigiets is waaroor julle anders dink, sal God ook dít vir julle duidelik maak.

16 Nietemin, laat ons aanhou loop op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

17 Ja, broers en susters, volg my voorbeeld en hou julle oë op die mense wat volgens ons voorbeeld lewe.

18 Want – ek het julle al vroeër gesê, en met groot hartseer moet ek dit nou weer sê – daar is baie wie se lewe wys dat hulle vyande van die kruis van Christus is.

19 Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge.

20 Ons, daarteenoor, het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser.

21 Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring.

FILIPPENSE 4

1 My broers en susters, ek het julle lief en verlang baie na julle. Júlle maak my bly, ja, op júlle is ek baie trots. Geliefdes, bly dan nou regtig getrou aan die Here.

Laaste opdragte aan die

gemeente

2 Ek moedig sowel Euodia as Sintige aan om hulle meningsverskille op te los omdat hulle aan die Here verbonde is.

3 En ek vra ook dat jy, getroue kollega, hulle sal help. Hulle het hard gewerk saam met my en ook saam met Klemens en die ander medewerkers om die Goeie Nuus uit te dra. Hulle almal se name staan opgeskryf in die Boek van die Lewe.

4 Wees altyd bly omdat julle weet dat julle aan die Here behoort. Ek sê dit weer: “Wees bly!”

5 Laat almal sien hoe bedagsaam julle lewe. Onthou: Die Here kom binnekort!

6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.

7 En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is.

8 Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

9 En leef volgens alles wat julle van my geleer, oorgeneem, gehoor en gesien het. Dan sal die God wat vrede gee, by julle wees.

Paulus sê dankie vir die

Filippense se ondersteuning

10 Ek prys die Here met groot blydskap omdat julle weer ’n slag aan my kon dink. Ek weet julle het eintlik heeltyd aan my gedink, maar het net nie die geleentheid gehad om iets te doen nie.

11 Ek sê dit nie omdat ek iets kortkom nie. Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom.

12 Ek weet wat dit is om boomskraap te lewe, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê. Ek het lewenservaring opgedoen vir alle omstandighede, vir wanneer ek genoeg het om te eet én wanneer ek honger is, vir oorvloed én tekort.

13 Ek kan alles doen deur Hom wat my krag gee.

14 Nietemin, julle het goedgedoen deur my in my swaarkry by te staan.

15 Julle, Filippense, weet wat in die beginjare met die uitdra van die Goeie Nuus gebeur het. Toe ek van Masedonië af vertrek het, het geen gemeente behalwe julle my finansieel ondersteun nie.

16 Selfs toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een keer iets gestuur om my te help.

17 Nie dat ek ’n skenking soek nie; ek soek die resultaat daarvan: groter krediet op julle rekening!

18 Op hierdie stadium het ek alles ontvang – en meer as genoeg! Met dit wat julle saam met Epafroditus gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Wat julle gestuur het, is ’n lieflike reukoffer waarvan God hou.

19 Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy heerlike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het.

20 Aan dié God, wat ook ons Vader is, behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

Groeteboodskappe

21 Dra my groete oor aan Christene daar. Al die broers en susters hier by my stuur groete.

22 Al die ander Christene stuur ook groete, in besonder dié wat in die keiser se paleis werk.

23 Mag ons Here Jesus Christus se genade julle geestelik versterk.