ESTER 1

1 Ahasveros koning in Susan

Hierdie dinge het gebeur in die tyd van Ahasveros, wat koning was oor 127 provinsies wat gestrek het van Indië af tot by Etiopië.

2 Die setel van sy regering was in daardie tyd in die vestingstad Susan.

3 In die derde jaar van sy regering het hy ’n onthaal gegee vir al sy hoë amptenare en die ander vooraanstaande persone in sy diens. Die leëroffisiere van Persië en Medië, die vername mense en die goewerneurs van die provinsies was daar.

4 Die fees het 180 dae lank aangehou, terwyl die koning gespog het met die rykdom van sy koninkryk en al die prag en praal daarvan.

5 Na afloop hiervan het die koning almal wat in die vestingstad Susan gebly het, van die belangrikste tot die minste, ’n week lank in die tuin van sy paleis onthaal.

6 Die tuin was versier met wit en bloedrooi gordyne wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan die marmerpilare. Daar was goue en silwerrusbanke op die plaveisel wat uitgelê was met vier soorte edelstene.

7 Drank is bedien in goue bekers met verskillende ontwerpe. Daar was ’n oorvloed wyn wat die koning voorsien het.

8 Die koning se opdrag was dat elkeen sonder beperking kon drink. Hy het sy paleispersoneel beveel om elkeen se wense te eerbiedig.

Die koningin weier om te luister

9 Koningin Vasti het terselfdertyd ook die vroue in Ahasveros se paleis onthaal.

10 Teen die sewende dag was die koning al goed vrolik van die wyn. Hy het sy sewe persoonlike paleisbeamptes nadergeroep. Hulle was Mehuman, Bisseta, Garbona, Bigta, Abagta, Setar en Karkas.

11 Hy het hulle aangesê om koningin Vasti met haar koninklike kroon op haar kop na hom toe te laat kom. Hy wou hê al die mense en die hoë amptenare moes sien hoe mooi sy is. Sy was beeldskoon.

12 Toe koningin Vasti by die amptenare hoor wat die koning sê, het sy geweier om te kom. Die koning het baie kwaad geword. Hy het gekook van woede.

13 Hy het met sy verstandige raadgewers gepraat. Hulle het die gebruike en gewoontes, die wet en die reg geken. Die koning het hulle altyd geraadpleeg.

14 Karsena, Setar, Admata, Tarsis, Meres, Marsena en Memukan was die koning se vertrouelinge. Die sewe mans was hoofamptenare van Persië en Medië wat direkte toegang tot die koning gehad het. Hulle het die hoogste poste in die koninkryk beklee.

15 “Volgens die wet, hoe moet met Vasti gehandel word?” vra hy hulle. “Sy wou nie gehoorsaam wees aan die opdrag wat koning Ahasveros amptelik deur sy paleisbeamptes aan haar gegee het nie.”

Memukan se voorstel

16 Memukan sê toe vir die koning en sy hoë amptenare: “Dit is nie net teen die koning alleen wat koningin Vasti oortree het nie, maar tegelykertyd ook teen al die hoë amptenare en al die volke in al die provinsies van die koning.

17 Sodra haar optrede onder die vroue bekend word, sal hulle oral hulle mans begin minag. Hulle sal sê: ‘Koning Ahasveros het beveel dat koningin Vasti voor hom moet verskyn, maar sy het geweier om te kom.’

18 Die vroue van die hoë amptenare van Persië en Medië sal vandag nog te hore kom wat die koningin gedoen het. Dit gaan vir hulle rede gee om hulle mans ook met minagting te behandel.

19 “As dit reg is vir die koning, vaardig dan ’n skriftelike bevel van Persië en Medië uit wat nooit verander mag word nie, dat Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag kom nie. Die koning sal vir hom ’n ander koningin kry wat dit meer werd is as sy.

20 Sodra die bevel wat die koning uitgevaardig het oor sy uitgestrekte koninkryk bekend word, sal elke vrou haar man, belangrik of onbelangrik, met die nodige eerbied behandel.”

21 Dit het vir die koning en sy hoë amptenare reg gelyk. Die koning het toe gemaak soos Memukan voorgestel het.

22 Hy het na elke provinsie briewe gestuur in hulle eie skrif en in die taal van die mense wat daar bly. Hy het bevel gegee dat elke man baas moet wees in sy eie huis en kan sê wat hy wil.

ESTER 2

Ester word koningin

1 Toe koning Ahasveros se woede hierna tot bedaring kom, het hy Vasti begin mis. Hy het onthou wat sy alles gedoen het. Hy het nagedink oor wat hy oor haar besluit het.

2 Die amptenare wat in sy persoonlike diens was, sê toe vir hom: “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek.

3 Hy moet agente aanstel om in al die provinsies van sy koninkryk mooi meisies te werf vir die koning se harem in die vestingstad Susan. Hegai, die hoof-haremopsigter, moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang.

4 Die meisie wat vir die koning die mooiste is, moet in Vasti se plek koningin gemaak word.”

Die koning het van hierdie idee gehou. Hy het toe so gemaak.

5 In die vestingstad Susan was daar ’n Jood met die naam Mordegai. Hy was uit die stam Benjamin en was ’n seun van Jaïr, die seun van Simi, die seun van Kis.

6 Sy familie was tussen die ballinge wat koning Nebukadnesar van Babel saam met koning Jojagin van Juda uit Jerusalem weggevoer het.

7 Mordegai het sy niggie Hadassa grootgemaak. Haar ander naam was Ester. Sy was ’n weeskind. Nadat haar pa en ma dood is, het Mordegai haar as sy dogter aangeneem. Sy was buitengewoon mooi.

8 Nadat die koning se besluit bekendgemaak is, is Ester ook saam met baie ander meisies onder Hegai se sorg in die stad Susan in die koning se paleis geplaas.

Die koning kies Ester

9 Hegai was baie in sy skik met Ester en hy het haar baie goed behandel. Hy het gesorg dat sy goeie skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg. Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van die koning se harem verskuif.

10 Ester het vir niemand gesê van watter volk sy kom, of wie haar familie is nie. Mordegai het haar verbied om dit te doen.

11 Mordegai het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.

12 Voordat dit ’n meisie se beurt was om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry. Sy is ses maande lank met mirre-olie behandel en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels. Daarna kon sy voor koning Ahasveros gaan verskyn.

13 Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor die koning in sy paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek.

14 Elke meisie is in die aand na die koning se paleis toe geneem en die volgende oggend teruggeneem na ’n ander deel van die koning se harem. Dit was onder die sorg van Saäsgas, die haremopsigter oor die byvroue. Sy kon nooit weer na die koning toe teruggaan nie, behalwe as hy baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.

15 Toe kom Ester se beurt, die dogter van Abigajil, die oom van Mordegai wat haar as sy eie dogter aangeneem het. Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die koning se harem, vir haar aanbeveel het nie. Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar.

16 Ester is na koning Ahasveros se koninklike paleis gevat in die tiende maand, die maand Tebet, in die sewende regeringsjaar van die koning.

17 Die koning het Ester meer liefgehad as enige van die ander jong meisies. Sy was meer na sy sin as enigeen van die ander. Hy het toe die koningin se kroon op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.

18 Ter ere van Ester het die koning ’n groot onthaal gereël vir al sy hoë amptenare en almal wat in sy diens was. Hy het daarvan ’n vakansiedag in al die provinsies gemaak. Hy het rojaal geskenke vir almal uitgedeel.

Mordegai voorkom ’n moord

19 In die tyd toe die jong meisies na die tweede harem oorgeplaas is, is Mordegai as amptenaar van die koning aangestel.

20 Ester het nog steeds stilgebly oor haar familie en haar volk. Sy het nog steeds gedoen wat Mordegai vir haar sê, soos toe sy nog ’n kind by hom in die huis was.

21 In die tyd dat Mordegai aan diens was in die poort van die paleis, het die twee haremamptenare Bigtana en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het, kwaad geword vir die koning. Hulle het saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor.

22 Mordegai het daarvan gehoor en vir koningin Ester daarvan laat weet. Ester het dit toe namens Mordegai aan die koning gaan oorvertel.

23 Toe die gerug ondersoek word, is gevind dat dit waar is. Die twee mans is toe opgehang. Die gebeurtenis is voor die koning in die geskiedenisboek van sy regering opgeteken.

ESTER 3

Haman se plan

1 ’n Ruk na hierdie dinge gebeur het, het koning Ahasveros vir Haman, seun van Hammedata die Agagiet, bevordering gegee. Hy het hom in ’n posisie aangestel wat hoër is as enige van sy ander amptenare.

2 Die koning het bepaal dat al sy amptenare wat in die poort van sy paleis diens doen, voor Haman moes buig om aan hom eer te bewys.

Mordegai het egter geweier om dit te doen.

3 Die koning se ander dienaars wat in die poort van die paleis gewerk het, het vir Mordegai gevra: “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?”

4 Dag na dag het hulle dit vir hom gevra, maar hy het volgehou om dit te ignoreer. Hulle het dit vir Haman gaan vertel, want hulle wou kyk of Mordegai by sy standpunt sou hou. Hy het ook vir hulle gesê dat hy ’n Jood is.

5 Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom wil buig om hom eer te bewys nie, was hy briesend.

6 Toe hy boonop ook hoor wat Mordegai se volksverband is, was dit nie vir hom goed genoeg om net vir Mordegai dood te maak nie. Haman het na ’n manier gesoek om sommer al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te roei.

7 Die lot is die Pur genoem. Dit is voor Haman gewerp in die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, om ’n presiese dag en maand te kry om die Jode uit te roei. Die lot het geval op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar.

Haman oorreed die koning

8 Haman is toe na koning Ahasveros toe om vir hom te sê: “Daar is ’n sekere volk wat verspreid is in die provinsies van u koninkryk. Hulle hou hulle apart van al die ander volke. Hulle volg ander wette as dié van die ander nasies. Hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang dat hulle so lewe nie.

9 As dit vir die koning goed is, maak dan ’n wet om hulle uit te roei. Ek sal 342 ton silwer aan die regeringsamptenare betaal om dit in die skatkis te sit.”

10 Die koning is oorreed. Hy het sy seëlring van sy vinger afgehaal en dit vir Haman seun van Hammedata die Agagiet, die vyand van die Jode, gegee.

11 “Jy kan maar die geld vir jouself hou,” het die koning gesê, “maar maak met hierdie volk soos jy wil.”

12 Die koning se sekretarisse is op die dertiende van die eerste maand laat kom. Haman het beveel dat hulle alles aan die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk moes skryf. Dit was in hulle eie skrif en in hulle eie taal. Die proklamasie is geskryf in die naam van koning Ahasveros en met sy ring verseël.

13 Briewe is met hardlopers uitgestuur na elke provinsie van die koning met die opdrag dat al die Jode geheel en al uitgeroei moes word, oud en jonk, vrou en kind. Dit moes gebeur op die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar. Daar moes dan op hulle besittings beslag gelê word.

14 ’n Afskrif van die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan al die volke bekendgemaak word sodat hulle op daardie dag gereed kon wees.

15 Boodskappers het haastig met die koninklike bevel vertrek. Ook in die vestingstad Susan is die proklamasie afgekondig. Die koning en Haman het toe gaan sit om te drink. In die stad Susan was daar groot beroering.

ESTER 4

Mordegai stuur Ester na die

koning

1 Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy sy klere geskeur. Hy het rouklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy is in die stad in en het hard en droewig loop en huil.

2 Hy het voor die ingang van die paleis gaan staan. Iemand met rouklere aan was nie toegelaat om deur die hek in te gaan nie.

3 In elke provinsie waar die besluit en opdrag van die koning afgekondig is, was die Jode baie hartseer. Hulle het gevas en gehuil en getreur. Baie het rouklere aangetrek en as oor hulle gegooi.

4 Koningin Ester se diensmeisies en die haremamptenare het haar van Mordegai kom vertel. Sy was baie ontsteld. Sy het vir hom ander klere gestuur om in die plek van sy rouklere aan te trek. Hy het geweier.

5 Ester het vir Hatak laat kom. Hy was een van die koning se haremopsigters wat haar moes oppas. Hy moes by Mordegai gaan uitvind wat aan die gang is en hoekom hy so maak.

6 Hatak gaan toe na Mordegai waar hy op die plein voor die ingang van die koninklike paleis is.

7 Mordegai het hom ingelig oor alles wat gebeur het en van die bedrag wat Haman aangebied het aan die skatkis van die koning om die Jode te kan doodmaak.

8 Hy het ook vir Hatak ’n afskrif gegee van die proklamasie wat in Susan uitgevaardig is om hulle uit te roei. Hatak moes dit aan Ester wys en vir haar alles verduidelik. Hy moes by haar aandring om na die koning toe te gaan en by hom om genade te smeek vir haar volk.

9 Hatak het met Mordegai se boodskap na Ester toe teruggegaan.

10 Sy het Hatak weer na Mordegai gestuur om vir hom te sê:

11 “Elke amptenaar van die koning en die volke in die provinsies van die koning weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan as hulle nie ontbied is nie, volgens voorskrif net daar doodgemaak word, tensy die koning sy goue septer na so ’n persoon toe uitsteek. Dit is nou al 30 dae sedert die koning my laas laat kom het.”

12 Ester se woorde is aan Mordegai oorgedra.

13 Mordegai het haar laat weet: “Moenie vir een oomblik dink dat jy daar in die koning se paleis gaan vrykom van die lot van die ander Jode nie.

14 As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ’n ander plek af kom. Jy en jou familie sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ’n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!”

15 Ester het hom geantwoord:

16 “Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas. Al is dit in stryd met die voorskrif sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.”

17 Mordegai het toe gegaan en alles gedoen wat Ester hom laat weet het.

ESTER 5

Ester doen soos sy gesê het

1 Drie dae later het Ester haar koninklike klere aangetrek. Sy het in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar die koning se troon is. Die koning was toe juis op sy troon met sy gesig na die ingang.

2 Die koning was bly toe hy koningin Ester daar in die voorhof sien staan. Hy het die goue septer wat in sy hand was, na haar toe uitgesteek om haar te verwelkom. Ester het nadergekom en aan die punt van die septer gevat.

3 Die koning vra haar toe: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat is jou versoek? Jy sal dit kry, selfs al is dit die helfte van my koninkryk.”

4 Toe sê Ester: “As dit die koning behaag, sal hy en Haman dan asseblief vandag na die onthaal kom wat ek vir u voorberei het?”

5 Die koning sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Die koning en Haman is na die onthaal toe wat Ester reggemaak het.

6 Terwyl hulle besig was om wyn te drink, vra die koning vir Ester: “Wat is jou versoek? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”

7 Ester het geantwoord: “My wens en my versoek is soos volg:

8 As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekendmaak.”

Haman en Mordegai

9 Haman is daardie dag in ’n goeie bui en vrolik daar weg. Toe hy egter by die ingang van die paleis op Mordegai afkom en hy weer nie opstaan om aan hom eer te bewys nie, of glad nie wys dat hy bang is vir hom nie, het hy woedend geword vir Mordegai.

10 Haman het hom egter beteuel.

Toe hy by die huis kom, het hy sy vriende en sy vrou Seres nadergeroep.

11 Haman het by hulle gespog oor hoe ryk hy is en oor hoe baie seuns hy het. Hy het uitgewei oor die koning wat hom so vereer het en hom bo al die ander hoë amptenare en onderdane van die koning bevorder het.

12 “En dit is ook nie al nie,” het hy verder gesê. “Koningin Ester het vandag net vir my saam met die koning uitgenooi na die onthaal wat sy gegee het. Boonop is ek uitgenooi om môre weer saam met die koning te eet.

13 Maar dit alles help my niks solank ek teen daardie Jood Mordegai in die poort van die paleis moet vaskyk nie.”

14 Sy vrou Seres en sy vriende stel toe voor: “Plant ’n paal van 23 meter hoog en vra môre-oggend vir die koning dat hulle Mordegai daaraan moet ophang. Jy kan dan met ’n vrolike hart saam met die koning na die onthaal toe gaan.”

Haman het gedink dit is ’n goeie voorstel. Hy het toe die galg laat inplant.

ESTER 6

Slim vang sy baas

1 Die koning kon daardie nag nie slaap nie. Hy het beveel dat die boeke oor die geskiedenis van sy koninkryk gebring moes word sodat hulle vir hom daaruit kon lees.

2 Daarin is beskryf hoe Mordegai die twee haremamptenare Bigtan en Teres, wat diens as deurwagte gedoen het, se komplot om die koning te vermoor, aan die lig gebring het.

3 “Watter beloning of erkenning het Mordegai hiervoor ontvang?” wou die koning weet. Sy amptenare het geantwoord: “Hy het niks gekry nie.”

4 “Wie is daar in die voorhof?” wou die koning weet. Haman was juis besig om van die buitenste voorhof van die paleis af in te kom. Hy wou by die koning toestemming kry dat Mordegai aan die galg wat Haman vir hom laat oprig het, opgehang moes word.

5 Die amptenare van die koning sê vir hom: “Dit is Haman wat in die voorhof staan.”

“Laat hy inkom!” sê die koning.

6 Toe Haman inkom, vra die koning vir hom: “Wat dink jy moet gedoen word vir iemand wat die koning graag wil vereer?”

Haman het by homself gedink: “Vir wie anders sou die koning eerder wil vereer as vir my?”

7 Hy antwoord toe die koning: “As die koning iemand graag wil vereer,

8 moet hulle van die koning se klere bring wat hy self gedra het en die perd waarop die koning self gery het met die koning se embleem op sy voorkop.

9 Die klere en die perd moet vir een van die hoogste amptenare van die koning gegee word, en hy moet die klere aantrek vir die man vir wie die koning graag wil vereer. Die amptenaar moet dan die man op die perd laat ry en hom oor die stadsplein lei terwyl hy uitroep: ‘Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil vereer!’”

10 “Uitstekend,” sê die koning vir Haman. “Vat dadelik van my klere en my perd. Gaan doen dan soos jy voorgestel het met die Jood Mordegai wat in die poort van die paleis bly. Moet niks nalaat van alles wat jy gesê het nie.”

11 Haman het toe van die koning se klere gevat en ook sy perd en die klere vir Mordegai laat aantrek. Hy het hom op die rug van die perd laat sit en oor die stadsplein gelei terwyl hy voor hom uitroep: “Dit is wat gedoen word met die persoon wat die koning graag wil vereer!”

12 Mordegai is toe weer terug na die poort van die paleis toe, terwyl Haman haastig huis toe is, neerslagtig en verneder.

13 Hy het vir sy vrou Seres en al sy vriende vertel wat met hom gebeur het. Sy raadgewers en sy vrou Seres sê toe vir hom: “As Mordegai, voor wie jy vandag die knie moes buig, ’n Jood is, is jy nie teen hom opgewasse nie. Hy is beslis jou ondergang.”

Haman word tereggestel

14 Terwyl hulle nog besig was om met hom te praat, het die amptenare van die koning daar opgedaag om hom te kom haal vir die onthaal wat Ester sou gee.

ESTER 7

1 Die koning en Haman het by koningin Ester aangekom om saam met haar te eet.

2 Terwyl hulle besig was om op die tweede dag wyn te drink, vra die koning weer vir Ester: “Wat is jou versoek, koningin Ester? Ek sal dit vir jou gee. Jy kan kry net wat jy wil hê, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”

3 Koningin Ester antwoord toe: “As U Majesteit my genadig wil wees, en as dit vir u reg is, dan vra ek u asseblief om my en my volk se lewens te spaar.

4 Ek en my volk is verkoop aan hom wat ons wil doodmaak, ons wil uitwis en van die aarde af wil wegvee. As ons maar net as slawe en slavinne verkoop was, sou ek stilgebly het. Dit sou dan te onbenullig wees om die koning daarmee lastig te val.”

5 “Wie is dit wat so iets wil doen?” vra koning Ahasveros vir koningin Ester. “Waar is hy?”

6 Ester antwoord toe: “Ons vervolger en vyand is hierdie slegte Haman!”

Haman het asvaal van skrik voor die koning en koningin geword.

7 Die koning het woedend van die ete af opgespring en uitgegaan na die tuin van die paleis. Haman het by koningin Ester agtergebly om vir sy lewe te smeek. Hy het gesien dat dit verby was met hom by die koning.

8 Net toe die koning van die tuin van die paleis af terugkom na die vertrek waar die onthaal gegee is, kry hy Haman besig om op die bank waarop Ester sit, neer te val. Die koning skreeu toe vir hom: “Wil jy nou ook nog die koningin by my in my paleis verkrag?”

Die koning het bevel gegee en sy amptenare het Haman in hegtenis geneem.

9 Garbona, een van die koning se amptenare, sê toe vir hom: “Haman het by sy huis ’n paal laat inplant van 23 meter hoog om vir Mordegai, wat destyds die koning gered het, daaraan op te hang.”

Toe sê die koning: “Hang hóm daaraan op!”

10 Hulle het Haman toe opgehang aan die paal wat hy vir Mordegai laat oprig het. Die koning se woede het toe afgekoel.

ESTER 8

1 Daardie selfde dag nog het koning Ahasveros alles wat Haman, die vyand van die Jode, besit het, vir koningin Ester gegee. Ester het vir die koning vertel hoe Mordegai aan haar verwant is. Mordegai het na die koning toe gekom.

2 Die koning het sy seëlring afgehaal wat hy by Haman teruggevat het, en dit vir Mordegai gegee. Ester het Mordegai in beheer van Haman se besittings aangestel.

’n Tweede proklamasie

3 Ester het toe nog ’n keer gewaag om met die koning te kom praat. Sy het huilend by sy voete neergeval en hom gesmeek om die bose plan wat Haman die Agagiet teen die Jode beraam het, tot niet te maak.

4 Die koning het weer sy goue septer na Ester toe uitgesteek. Sy het opgestaan en voor hom kom staan.

5 Sy het gesê: “As dit goed is vir die koning en u my goedgesind is, en dit vir u in orde lyk, laat skryf dan ander briewe om die briewe met die plan van Haman, seun van Hammedata die Agagiet, terug te trek. Hy het daarin geskryf dat die Jode in al die provinsies van u ryk uitgeroei moet word.

6 Ek kan mos nie net toekyk wanneer my volk deur so ’n ramp getref word nie. Hoe kan ek toelaat dat my familie uitgeroei word?”

7 Koning Ahasveros het toe vir koningin Ester en vir die Jood Mordegai gesê: “Kyk, ek het alles wat Haman besit het vir Ester gegee en ek het hom aan sy eie galg laat ophang omdat hy die Jode wou uitroei.

8 ’n Proklamasie wat reeds in die naam van die koning uitgevaardig is en met sy seëlring bevestig is, kan nooit herroep word nie. Maar skryf julle nou ook ’n brief aan die Jode met julle plan. Skryf dit as ’n verdere proklamasie in my naam en verseël dit met my seëlring.”

9 Die sekretarisse van die koning is ontbied. Dit was op die 23ste van die derde maand, die maand Siwan. Hulle het alles neergeskryf wat Mordegai vir die Jode, die amptenare van die koning, die goewerneurs en die leiers in die 127 provinsies van Indië af tot by Etiopië wou laat weet. Hulle het aan elke provinsie in sy eie skrif geskryf en aan elke volk in sy eie taal. Ook vir die Jode het hulle in hulle eie skrif en taal geskryf.

10 Mordegai het namens koning Ahasveros laat skryf en die briewe met die koning se seëlring laat verseël. Die briewe is met boodskappers op resiesperde uit die koning se stalle gestuur.

11 In die briewe is geskryf dat die koning aan al die Jode in elke stad die vergunning gee om bymekaar te kom om hulleself te verdedig. Hulle kon enige gewapende mag van enige volk of provinsie wat hulle en hulle kinders en vroue aanval, doodmaak en vernietig en uitroei. Hulle kon op hulle besittings beslag lê.

12 Die dag waarop hulle dit in al die provinsies van koning Ahasveros kon doen, was die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar.

13 ’n Afskrif van die proklamasie moes na elke provinsie gaan en as wet afgekondig word. Al die volke moes daarvan kennis neem. Die Jode moes reg wees om hulle op daardie dag op hulle vyande te wreek.

14 Die boodskappers op die perde uit die koning se stalle het toe, volgens die opdrag van die koning, haastig vertrek. Die proklamasie is tegelyk ook in die hoofstad Susan afgekondig.

15 Toe Mordegai van die koning af weg is, was hy geklee in ’n koninklike kleed van blou en wit linne, met ’n groot goue kroon op sy kop, en ’n mantel van fyn linne en pers stof aan. Die stad Susan was verheug en baie bly oor die proklamasie.

16 Vir die Jode was daar weer lig en vreugde en blydskap en hulle het aansien onder die ander volke gehad.

17 In elke provinsie en in elke stad waar die besluit en proklamasie van die koning afgekondig is, was daar vreugde en blydskap onder die Jode. Hulle het ’n feesdag uitgeroep en saam geëet. Baie mense uit die ander volksgroepe het Jode geword omdat hulle bang was vir die Jode.

ESTER 9

Bedreiging word oorwinning

1 Op die dertiende dag van die twaalfde maand, die maand Adar, het die twee proklamasies van die koning van krag geword. Dit was die dag waarop die vyande van die Jode gereken het om hulle te oorweldig. Dit het egter net andersom gebeur, want die Jode het die mense wat hulle haat, oorweldig.

2 Die Jode het oral in die stede waar hulle gewoon het en in al die provinsies van koning Ahasveros bymekaargekom om hulleself te verdedig teen almal wat hulle wou aanval. Niemand was teen hulle opgewasse nie, want al die volke was bang vir hulle.

3 Al die leiers in die provinsies, die verteenwoordigers van die koning, die goewerneurs en die ander in diens van die koning, het die Jode gehelp omdat hulle bang was vir Mordegai.

4 Mordegai het opgang gemaak in die koning se hofhouding. Hy het in al die provinsies bekend geword. Hy het al hoe groter mag gekry.

5 Die Jode het hulle vyande met die swaard oorweldig. Hulle het onder hulle vyande gemaai.

6 In die hoofstad Susan het die Jode 500 mense doodgemaak.

7 Hulle het ook die tien seuns van Haman die seun van Hammedata, Parsandata, Dalfon, Aspata,

8 Porata, Adalja, Aridata,

9 Parmasta, Arisai, Aridai en Wajesata,

10 die vyande van die Jode, doodgemaak. Hulle het nie oorlogsbuit van hulle gevat nie.

11 Teen die aand van daardie dag het die koning gehoor hoeveel mense in die stad Susan doodgemaak is.

12 Hy sê toe vir koningin Ester: “In die stad Susan alleen het die Jode 500 mense doodgemaak, en ook die tien seuns van Haman. Wat sou hulle in die ander provinsies van my ryk reggekry het! Is daar nog iets meer wat jy wil hê? Jy sal dit kry. Is daar iets waarna jy nog soek? Dit sal vir jou gedoen word.”

13 Ester sê toe: “As dit vir die koning in orde is, laat dan die Jode in Susan toe om môre aan te gaan waarmee hulle vandag besig was. Laat ook die lyke van die tien seuns van Haman aan hulle pa se galg opgehang word.”

14 Die koning het ingestem dat dit mag gebeur. Hy het so ’n proklamasie in Susan uitgevaardig. Die liggame van Haman se tien seuns is aan sy galg opgehang.

15 Die Jode wat in Susan bly, het toe ook op die veertiende van die maand Adar bymekaargekom. Hulle het in Susan nog ’n verdere 300 mense doodgemaak. Hulle het nog steeds nie hulle eiendom as buit gevat nie.

16 Die ander Jode in die provinsies van die ryk het ook bymekaargekom om hulleself te verdedig. Hulle het die juk van hulle vyand afgeskud en van hulle haters 75 000 mense doodgemaak. Hulle het egter niks wat aan hulle vyand behoort het, vir hulleself as oorlogsbuit gevat nie.

17 Dit was op die dertiende dag van die maand Adar. Op die veertiende dag van die maand het hulle gerus. Hulle het daarvan ’n dag gemaak waarop hulle feesmaaltye gemaak het en hulle oorwinning gevier het.

18 Die Jode wat in Susan gebly het, het op sowel die dertiende asook die veertiende dag bymekaargekom om te veg. Hulle het eers op die vyftiende van die maand tot rus gekom en daarvan ’n dag van feesviering en vreugde gemaak.

19 Dit is hoekom die Jode wat op die platteland en in klein dorpies sonder veiligheidsmure woon, op die veertiende van die maand Adar ’n jaarlikse vakansiedag van vreugde en feesviering hou waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur.

20 Mordegai het laat opteken wat gebeur het. Hy het briewe gestuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, aan dié wat naby bly en dié wat ver is.

21 Hy het die Jode opdrag gegee om elke jaar op die veertiende en die vyftiende van die maand Adar fees te vier.

22 Hulle moet op daardie dae feesvier en bly wees en vir mekaar eetgoed stuur en geskenke vir die arm mense gee. Hulle moet dit in herinnering roep as die dae waarop die Jode van hulle vyande bevry is. Hulle vrees is in blydskap verander en hulle droefheid in feesviering.

23 Die Jode het die opdrag in Mordegai se brief aanvaar en dit as ’n vaste instelling begin vier.

24 Haman, die seun van Hammedata die Agagiet en vyand van die Jode, het planne gemaak om die Jode uit te roei. Hy het met die Pur, dit is die lot, beslis watter dag hy verskrikking oor hulle sou bring en hulle sou uitroei.

25 Toe Ester egter na die koning gegaan het, het hy ’n brief laat skryf om Haman se bose plan teen die Jode op sy eie kop te laat neerkom. Hy en sy seuns is aan hulle eie galg opgehang.

26 Dit is hoekom hierdie feesdae Purim genoem word, in aansluiting by die woord Pur. Na aanleiding van alles wat Mordegai in daardie brief geskryf het en alles wat hulle gesien en belewe het,

27 het die Jode hulleself en hulle nageslag onherroeplik daartoe verbind om nooit na te laat om elke jaar hierdie twee dae te vier nie. Dit moes elke jaar op die voorgeskrewe wyse en op die voorgeskrewe tyd gebeur.

28 Hierdie dae moes deur elke geslag en in elke familie, in elke provinsie en in elke stad herdenk en onderhou word. Hierdie dae van die Purim mag nooit in die Joodse gemeenskap oorgeslaan word nie. Hulle nageslag mag nooit daarvan vergeet nie.

29 Koningin Ester, die dogter van Abigajil, en die Jood Mordegai het saam en met hulle volle gesag ’n tweede brief geskryf om die reëlings oor die Purim te bevestig.

30 Mordegai het afskrifte van die brief aan al die Jode in die 127 provinsies van koning Ahasveros gestuur om hulle heil en voorspoed toe te wens.

31 Die briewe het hulle beveel om die dae van die Purim op die vasgestelde tyd te hou, soos hy, die Jood Mordegai, en koningin Ester dit vir hulle bepaal het, en soos hulle en hulle nakomelinge hulle daartoe verbind het. Daar was ook voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep.

32 Dit was op Ester se bevel dat die voorskrifte vir hierdie Purimdae vasgestel is. Dit is toe in ’n boek opgeskryf.

ESTER 10

Mordegai, die geliefde Jood

1 Koning Ahasveros het die inwoners van sy land en sy onderdane oorsee dwangarbeid laat verrig.

2 Al sy prestasies en die groot en magtige dinge wat hy reggekry het, en die verhaal oor die hoë pos waarin hy vir Mordegai aangestel het, is alles opgeteken in die geskiedenisboeke van die konings van Medië en Persië.

3 Die Jood Mordegai was net onder koning Ahasveros in rang. Hy was gerespekteer onder die Jode en baie gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die vooruitgang van sy volk beywer en die voorspoed van sy mense aan die hof bevorder.