ESEGIËL 41

1 Hierna het die man my in die tempel na die groot vertrek geneem, en hy het die pilare weerskante van die ingang van die tempel gemeet. Hulle was drie meter in deursnee.

2 Die ingang was vyf meter wyd, en die mure aan weerskante was twee en ’n half meter lank. Die tempelvertrek was twintig meter lank en tien meter breed.

3 Die man het na die binneste vertrek toe gegaan. Hy het die pilare by die ingang gemeet. Hulle was een meter dik. Die ingang self was drie meter wyd en die mure aan weerskante was drie en ’n half meter lank.

4 Die binneste vertrek was tien meter lank en tien meter breed. Hy sê toe: “Dit is die Allerheiligste.”

5 Toe het hy die muur van die tempelgebou gemeet. Dit was drie meter dik. Buite om die tempelgebou was daar kamers aangebou, twee meter breed.

6 Die kamers was op drie vlakke gebou, met 30 kamers op elke vlak. Die muur waarop hierdie kamers rus, was nie op die tempelmuur gebou nie, maar was in ’n afsonderlike muur ingebou.

7 Elke vlak was wyer as die vorige een soos die tempelmuur breër geword het hoe hoër dit gegaan het. Trappe het opgelei van die onderste verdieping af deur die middelste na die boonste toe.

8 Ek het opgemerk dat die tempelgebou op ’n terras gebou is wat die fondament vir die sykamers was. Die terras was drie meter hoog.

9 Die buitenste muur van die tempel se sykamers was twee en ’n half meter breed. So was daar ’n oop area tussen hierdie sykamers

10 en die ry kamers langs die buitenste muur van die binneste hof. Hierdie oop area was tien meter wyd en dit het reg rondom die tempel gegaan.

11 Twee deure het vanuit die sykamers op die terrasarea oopgemaak, en dit was twee en ’n half meter breed. Daar was ingange aan die noorde- en die suidekant.

12 Daar was ’n groot gebou aan die westekant wat na die tempelhof gekyk het. Dit was 35 meter breed en 45 meter lank, en sy muur rondom was twee en ’n half meter dik.

13 Die man het eers die tempel gemeet. Dit was 50 meter lank. Daarna het hy die tempelhof agter die tempelgebou saam met die westelike gebou en sy mure gemeet, en dit was ook 50 meter lank.

14 Die binneste hof aan die oostekant van die tempel was 50 meter wyd.

15 Daarna het hy die westelike gebou gemeet, insluitende die mure, wat 50 meter wyd was.

Die voorste en binneste tempelvertrek en die voorportaal was met houtpanele oordek

16 soos ook die drumpels, die hortjievensters en die gange rondom die tempelgebou, en ook die voorkante van die drumpels. Dit was alles met houtpanele oordek. Van die grond af tot teen die vensteropenings was alles met houtpanele oordek, ook die vensteropenings self.

17 Bokant die ingang na die binneste heiligdom en teen die mure rondom, binne en buite,

18 was die mure versier met gerubs en palmversierings, met elke keer ’n palm tussen twee gerubs. Elke gerub het twee gesigte gehad,

19 ’n gesig soos ’n mens wat na die kant van die palm aan die een kant kyk, en ’n gesig soos ’n leeu wat na die kant van die palm aan die ander kant kyk. Die figure was al langs die binnekant van die tempel uitgekerf.

20 Van die grond af tot bokant die ingang was daar gerubs en palms aangebring, ook teen die buitenste muur van die Allerheiligste.

21 Die deurkosyn van die voorste tempelvertrek was vierkantig, en ook dié van die Allerheiligste.

22 Hier was ook ’n altaar wat van hout gemaak is, een en ’n half meter hoog en een meter lank. Sy hoeke en sy kante rondom was van hout. Die man het vir my gesê: “Dit is die tafel wat in die teenwoordigheid van die Here staan.”

23 Die voorste tempelvertrek en die Allerheiligste het elkeen ’n deur gehad.

24 Elke deur het twee swaaideure gehad.

25 Die deure na die voorste tempelvertrek was versier met uitgekerfde gerubs en palms, net soos op die mure. Voor die voorportaal van die tempel aan die buitekant was ’n afdak van hout.

26 In die mure weerskante van die voorportaal was daar vensteropenings met hortjies, en teen die mure was palmversierings. Dit was ook die geval met die verdiepinggebou rondom die tempel en met die afdakke.

ESEGIËL 42

Kamers vir die priesters

1 Hierna het die man my uitgebring na die tempel se voorhof aan die noordekant. Ons het die buitenste hof ingegaan en by ’n groep kamers teen die noordelike muur van die binneste hof gekom.

2 Die lengte van die gebou met sy ingang aan die noordekant was 50 meter en die breedte 25 meter.

3 Die gebou het gegrens aan die tien meter wye strook teen die binneste voorhof en aan die deel van die tempelplein teen die buitenste voorhof. Die gebou was terrasvormig met drie vlakke, die een bokant die ander.

4 Voor elke ry kamers was ’n loopgang van vyf meter breed en 50 meter lank. Die ingange van die loopgange het almal noord gekyk.

5 Die kamers bo was kleiner as dié onder, want die boonste vlakke het meer plek nodig gehad vir loopruimtes voor hulle.

6 Die kamers was in drie vlakke en het nie pilare gehad soos die voorhowe nie. Daarom was die boonstes kleiner as dié onder en in die middel.

7 Daar was ’n muur voor die kamergebou al langs die buitenste voorhof, wat 25 meter lank was.

8 Die lengte van die kamergebou teen die buitenste voorhof was 25 meter, maar aan die tempel se kant was dit 50 meter.

9 Die ingang uit die buitenste voorhof na die onderste kamers toe was aan die oostekant.

10 Daar was ook kamers teen die muur van die buitenste voorhof, aan die suidekant teen die tempelplein. Daar was kamers net soos aan die noordekant teen die muur.

11 En daar was ’n gang voor hulle net soos voor die kamers aan die noordekant. Die kamers was net so lank en so breed soos dié aan die noordekant. Hulle afmetings was ook dieselfde.

12 Daar was ’n ingang aan die punt van die gang, die gang langs die keermuur, en nog een aan die oostekant vir dié wat daar wou ingaan.

13 Die man het vir my gesê: “Hierdie kamers wat oor die tempel uitkyk aan die noordekant en suidekant is heilig. Die priesters wat aan die Here offers bring, eet hier die heiligste offers. En hier bewaar hulle die graanoffer, die sonde-offer en die skuldoffer. Hierdie kamers is heilig.

14 Wanneer die priesters die heilige terrein verlaat, mag hulle nie direk na die buitenste voorhof toe gaan nie. Hulle moet eers die klere uittrek waarin hulle diens gedoen het, want die klere is ook heilig. Hulle moet ander klere aantrek voordat hulle na die dele van die gebou gaan wat vir die publiek oop is.”

15 Nadat die man die tempelgebied klaar aan die binnekant afgemeet het, het hy my by die oostelike poort uitgeneem om die totale tempelarea te meet.

16 Eers het hy die oostekant gemeet met sy meetstok. Die muur hier was 250 meter lank.

17 Toe meet hy die noordekant, ook 250 meter lank,

18 en die suidekant, wat dieselfde lengte was.

19 Daarna het hy omgegaan na die westekant toe en daar gemeet, ook 250 meter.

20 Hy het die muur rondom gemeet aan al vier kante. Die lengte was 250 meter en die breedte 250 meter. Die muur het die heilige plek van die alledaagse afgeskei.

ESEGIËL 43

Die Here se heerlikheid kom

terug

1 Hierna het die man my teruggeneem na die oostelike ingang.

2 Skielik het die heerlikheid van die God van Israel vanuit die ooste verskyn. Dit het geklink soos wanneer baie waters aangerol kom. Die hele wêreld het geskitter van sy heerlikheid.

3 Wat ek gesien het, het ooreengekom met wat ek die ander kere by die Kebarrivier gesien het en toe Hy gekom het om Jerusalem te vernietig. En ek het voor Hom neergeval.

4 Die heerlikheid van die Here het die tempel deur die oostelike ingang binnegegaan.

5 Die Gees het my toe na die binneste hof geneem, en die heerlikheid van die Here het die tempel gevul.

6 En ek het gehoor iemand praat met my in die tempel. Die man wat die afmetings gedoen het, het nog steeds langs my gestaan.

7 En die Here het vir my gesê: “Mensekind, hier is die plek waar my troon staan en waar Ek my voete laat rus. Ek sal vir altyd hier bly, tussen die mense van Israel. Hulle en hulle konings sal My nie meer onteer deur ander gode te aanbid of monumente vir hulle dooie konings op te rig nie.

8 Hulle het altare vir hulle afgode langs my altaar gesit met net ’n muur tussenin. So het hulle My onteer deur hulle afskuwelike dade. Ek het hulle in my woede vernietig.

9 Laat hulle nou hulle afgode en die monumente waarmee hulle hulle konings vereer het, wegvat. Dan sal Ek altyd tussen hulle woon.

10 “Mensekind, beskryf die tempel vir die mense van Israel soos Ek jou gewys het. Sê vir hulle hoe dit lyk en wat die plan is sodat hulle kan skaam kry oor al hulle sondes.

11 En wanneer hulle skaam is oor alles wat hulle gedoen het, beskryf vir hulle al die spesifika-sies van sy konstruksie, ook sy ingange en deure en die bepalings daarvoor. Skryf hierdie spesifikasies neer terwyl hulle kyk sodat hulle dit kan onthou en die voorskrifte onderhou.

12 Dit is die basiese vereistes van die tempel: absolute heiligheid. Die top van die berg waarop die tempel gebou is, is heilig. Ja, dit is die wet vir die tempel.”

Die altaar

13 “Hier is die afmetings van die altaar: Daar is ’n voor rondom die altaar wat ’n half meter diep en ’n half meter breed is, en sy rand was rondom ’n kwart meter breed. Dit is die hoogte van die altaar:

14 Van die afleivoor af na die onderste vlak toe was die hoogte een meter. Die vlak was ’n half meter wyer as die volgende. Van die onderste na die boonste vlak toe was die hoogte twee meter.

15 Die bokant van die altaar, die vuurmaakplek, was twee meter hoog, met ’n horing aan elkeen van die vier hoeke.

16 Die bokant van die altaar was vierkantig, ses meter lank en net so breed.

17 Die boonste vlak was ook vierkantig, sewe meter lank en net so breed. Die afleivoor onder het ’n rand van ’n kwart meter breed gehad en was rondom ’n half meter diep. Daar was trappe aan die oostekant van die altaar.

18 Hy het vir my gesê: “Mensekind, so sê die oppermagtige Here: Hier is die bepalings oor die bring van offers op die altaar en die sprinkel van bloed wanneer die altaar gebou is.

19 Daardie dag moet vir die Levitiese priesters uit die nageslag van Sadok ’n bul gegee word as ’n sonde-offer. Net hulle mag voor My diens verrig, sê die oppermagtige Here.

20 Jy moet dan van sy bloed vat en dit aan die vier horings en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar smeer, en ook teen die sykante rondom. Op hierdie manier moet die altaar gereinig word sodat dit versoening kan bring.

21 Dan moet jy die sonde-offerbul neem en dit op die aangewese plek buite die tempelarea verbrand.

22 “Op die tweede dag moet jy ’n bokram sonder liggaamsgebrek as sonde-offer offer. Dan moet jy die altaar reinig sodat dit versoening kan bring, net soos in die geval van die bul gedoen is.

23 Wanneer jy klaar is met die reiniging, moet jy ’n bul en ’n skaapram, albei sonder liggaamsgebrek, offer.

24 Bied dit vir die Here aan terwyl die priesters sout daaroor sprinkel en dit as ’n brandoffer vir die Here offer.

25 “Elke dag vir sewe dae lank moet ’n bokram, ’n jong bul en ’n ram uit jou kudde, almal sonder enige liggaamsgebrek, as ’n sonde-offer geoffer word.

26 Doen dit elke dag vir sewe dae lank om die altaar te reinig sodat dit versoening kan bring en vir heilige gebruik alleen gewy kan word.

27 Op die agtste dag, en op elke dag daarna moet die priesters die brandoffers en vrede-offers van die volk op die altaar offer. Dan sal Ek julle aanvaar, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 44

Regeerders, Leviete en priesters

1 Die man het my teruggebring na die ingang aan die oostekant van die buitenste muur, maar dit was gesluit.

2 Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie ingang moet gesluit bly. Dit mag nooit weer oopgemaak word nie. Niemand mag daar ingaan nie, want die Here, die God van Israel, het daar ingegaan. Dit moet altyd gesluit bly.

3 Net die regeerder mag binne hierdie ingang gaan sit om in die Here se teenwoordigheid fees te vier. Maar hy mag net deur die ingang se voorportaal kom en gaan.”

4 Die man het my toe deur die noordelike ingang na die voorkant van die tempel geneem. Ek het gekyk en gesien dat die heerlikheid van die Here die tempel van die Here gevul het. Ek het voor Hom neergeval.

5 Die Here sê toe vir my: “Mensekind, let goed op. Gebruik jou oë en ore. Luister sorgvuldig wat Ek vir jou sê oor die bepalings rakende die Here se tempel. Let goed op wie in die tempel toegelaat mag word en wie nie daar mag inkom nie.

6 Gaan sê vir hierdie opstandelinge, die mense van Israel, die oppermagtige Here sê: Volk van Israel, dis genoeg van julle afskuwelike dade!

7 Julle het vreemdelinge wat onbesnede is in my heiligdom gebring, mense wie se harte ver van My is. So het julle die tempel onteer terwyl julle terselfdertyd kos, vet en bloed aan My geoffer het. So het julle naas al julle ander afskuwelike sondes die ooreenkoms verbreek.

8 In plaas daarvan dat julle die tempeldiens reg uitgevoer het, het julle ander gehuur om dit vir julle te doen.

9 “So sê die oppermagtige Here: Geen vreemdelinge, ook nie dié wat tussen die mense van Israel bly, mag in my heiligdom kom as hulle nie besny is en die Here liefhet nie.

10 Die Leviete wat hulle rug op My gedraai het toe Israel van My weggedwaal het om afgode te aanbid, moet nou die gevolge van hulle ontrouheid dra.

11 Hulle mag tempelwagte en tempelbediendes wees, en hulle mag die diere slag wat as brandoffers geslag word en my mense help.

12 Maar hulle het my volk aangemoedig om afgode te aanbid sodat Israel in sonde geval het. Daarom het Ek ’n eed gesweer dat hulle die straf vir hulle sondes moet dra, sê die oppermagtige Here.

13 Hulle mag nie voor My kom om as priesters te dien nie. En hulle mag nie enige van die heilige voorwerpe of heilige offers aanraak nie. Hulle moet die skande dra van al die sondes wat hulle gedoen het.

14 Hulle mag in die tempel as bediendes werk om die tempel te onderhou en diens te verrig.

15 “Die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok het getrou in die tempel gewerk in die tyd toe Israel My vir hulle afgode verruil het. Daarom mag hulle voor My kom om My te bedien. Hulle mag in my teenwoordigheid staan om vet en bloed van offers te bring, sê die oppermagtige Here.

16 Net hulle mag in my heiligdom kom en voor my tafel gaan staan om My te bedien. Hulle voldoen aan al my bepalings.

17 Wanneer hulle by die ingang van die binneste hof ingaan, mag hulle net linneklere dra. Hulle mag nie iets van wol dra terwyl hulle aan diens is in die binneste hof of in die tempel self nie.

18 Hulle moet kopdoeke en onderklere van linne dra. Hulle mag nie iets dra wat hulle laat sweet nie.

19 Wanneer hulle uitgaan na die buitenste hof waar die volk is, moet hulle eers die klere uittrek waarin hulle My bedien het. Hulle moet dit in die gewyde kamers los en ander klere aantrek sodat hulle nie die volk skade aandoen deurdat hulle hulle heiligheid dalk met hulle klere aan hulle oordra nie.

20 “Hulle mag nie hulle hare te lank laat groei of dit heeltemal afsny nie. Hulle moet dit netjies sny.

21 Priesters mag nie wyn drink net voor hulle die binneste hof ingaan nie.

22 Hulle moet vroue kies net uit die ongetroude vroue van Israel of uit die weduwees van die priesters. Hulle mag nie met ander weduwees of geskeide vroue trou nie.

23 Hulle moet my volk leer wat die verskil is tussen die heilige en die alledaagse, en hoe om te onderskei tussen wat rein en wat besoedel is.

24 “Wanneer daar onmin tussen my mense is, sal hulle as regters optree en uitspraak gee. Hulle besluite moet gebaseer wees op my bepalings. En die priesters moet ook my voorskrifte en bepalings vir al die heilige feeste uitvoer. Hulle moet toesien dat die Sabbat as ’n heilige dag geëer word.

25 ’n Priester mag nooit homself besoedel deur by ’n lyk te kom nie, behalwe as dit sy pa of ma, kind of broer of ongetroude suster is. In sulke gevalle word dit toegelaat.

26 Dan mag hy weer in die tempel werk eers nadat hy hom gereinig het en dan sewe dae gewag het.

27 Die eerste dag terug by die werk, as hy die binneste hof en heiligdom ingaan, moet hy ’n sonde-offer vir homself bring, sê die oppermagtige Here.

28 “Wat grond betref, mag die priesters niks besit nie, want Ek is hulle erfdeel.

29 Hulle kos kom van die geskenke en offers wat die volk na die tempel bring, die graanoffers, sonde-offers en skuldoffers. Wat vir die Here eenkant gesit word, behoort aan die priesters.

30 Die eerste van die ryp vrugte en al die ander gawes soos die eerste deel van die graanoes wat vir die Here gebring word, gaan na die priesters. Dit moet vir die priesters van die Here gegee word sodat die Here julle huise sal seën.

31 Die priesters mag nooit vleis eet van ’n voël of dier wat vanself gevrek het of deur ’n ander dier doodgemaak is nie.”

ESEGIËL 45

Verdeling van die land

1 “Wanneer julle die land tussen die stamme van Israel verdeel, moet julle ’n deel vir die Here opsy sit. Dis sy heilige deel. Dit moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed wees. Die hele gedeelte sal heilig wees.

2 “’n Deel hiervan, 250 meter in die vierkant, moet vir die heiligdom opsy gesit word. ’n Oop strook van 25 meter rondom moet leeg bly.

3 Binne die groter heilige area moet julle ’n stuk afmeet van twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Die heiligdom met die Allerheiligste moet daarop staan.

4 Hierdie gebied is gewyde gebied in die land, eenkant gesit vir die priesters wat in die heiligdom die Here bedien. Hulle kan dit gebruik vir hulle huise, en my tempel sal ook daar wees.

5 Die gedeelte langsaan, naamlik twaalf en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed, is die leefarea van die Leviete wat in die tempel werk. Dit is hulle eiendom en ’n plek vir hulle dorpe.

6 “Aangrensend aan die groter heilige gebied moet daar ’n stuk grond van twee en ’n half kilometer breed en twaalf en ’n half kilometer lank wees. Dit moet opsy gesit word as ’n stad waar enigeen in Israel kan kom bly.

7 “Twee gedeeltes grond moet vir die regeerder eenkant gesit word. Een gedeelte grens aan die oostelike kant van die gewyde grond en stad, en die ander aan die westekant. Dit moet net so groot wees soos een van die stamgebiede en moet strek van die wesgrens van Israel af tot aan die oosgrens.

8 Dit moet sy deel van die land wees tussen die Israeliete.”

Reëls vir die regeerder

“Die regeerder wat Ek aanwys, sal my volk nie weer verdruk nie. Hy sal die volk van Israel toelaat om die land volgens hulle stamme te verdeel.

9 Want so sê die oppermagtige Here: Genoeg, julle regeerders van Israel! Hou op met julle geweld en verdrukking en doen wat reg en goed is. Hou op om my mense te besteel en uit hulle grond te bedrieg!

10 Gebruik eerlike skale en die regte inhoudsmate vir droë stowwe en vir vloeistowwe.

11 Inhoudsmate moet deurgaans dieselfde bly, volgens ’n vasgestelde maatstaf.

12 Die standaardeenheid vir gewig is die silwer sikkel. Een sikkel bevat twintig geras, en 60 sikkels is gelyk aan een mina.”

Offergawes en vierings

13 “Die belasting wat julle aan die regeerder moet betaal, is: een 60ste van die koring en die gars,

14 en een 100ste van julle olyfolie,

15 en uit die waterryke gebiede een uit elke 200 van julle kleinveekudde. Hierdie is die graanoffers, brandoffers en vrede-offers wat vir die mense versoening bring, sê die oppermagtige Here.

16 Die hele volk moet vir die regeerder hulle offers bring.

17 Die regeerder moet offers verskaf wat tydens die godsdienstige feeste gebring word, tydens die Nuwemaansviering, Sabbatdae en ander geleenthede. Hy moet die sonde-offers, brandoffers, graanoffers, drankoffers en vrede-offers verskaf wat vir die volk van Israel versoening sal bring.

18 “So sê die oppermagtige Here: In die vroeë lente, op die eerste dag van die eerste maand van die nuwe jaar moet jy ’n bul sonder enige liggaamsgebrek offer om die tempel te reinig.

19 Die priester moet dan van die bloed van die sonde-offer vat en dit aan die deurkosyne van die tempel smeer, en aan die vier hoeke van die boonste vlak van die altaar en die kosyne van die ingange na die binneste hof.

20 Doen dit ook op die sewende dag van die nuwe jaar vir almal wat per ongeluk of onkundig gesondig het. Op hierdie manier bring die tempel versoening.

21 “Op die veertiende dag van die nuwe jaar moet julle die Pasga vier. Die fees moet sewe dae aanhou. Julle mag in dié tyd net ongesuurde brood eet.

22 Daardie dag moet die regeerder ’n jong bul verskaf as sonde-offer vir homself en die volk van die land.

23 Op elkeen van die sewe dae van die fees moet hy ’n brandoffer vir die Here regmaak, wat bestaan uit sewe jong bulle en sewe ramme, almal sonder liggaamsgebrek. ’n Bokram moet ook elke dag as sonde-offer gegee word.

24 Die regeerder moet ook as graanoffer by elke bul en elke ram sestien kilogram meel aanbied, en vier liter olie by elke sestien kilogram meel.

25 “Gedurende die sewe dae van die Huttefees, wat elke jaar vroeg in die herfs gehou word, moet die regeerder sewe dae lank net soos met die Paasfees ook die sonde-offer, die brandoffer, die graanoffer en die olie aanbied.”

ESEGIËL 46

1 “So sê die oppermagtige Here: Die oostelike ingang na die binneste muur moet gedurende die ses werksdae van elke week gesluit bly, maar op die Sabbat en Nuwemaanfeeste oopgemaak word.

2 Die regeerder moet van buite af deur die voorportaal ingaan. Dan staan hy by die ingangsdeur terwyl die priester sy brandoffer en vrede-offer bring. Hy aanbid binne die drumpel van die ingang en gaan dan weer terug soos hy gekom het. Die ingang mag nie tot die aand gesluit word nie.

3 Op Sabbatdae en Nuwemaanfeeste moet gewone burgers die Here by hierdie ingang aanbid.

4 “Elke Sabbat moet die regeerder ’n brandoffer van ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, aan die Here offer.

5 Hy moet ook ’n graanoffer van sestien kilogram meel saam met die ram bring. Die offer saam met die lammers kan soveel meel wees as wat hy saam met elke lam wil gee. Daar moet vier liter olyfolie by elke sestien kilogram meel wees.

6 By die Nuwemaanfees moet hy ’n jong bul, ses lammers en een ram, almal sonder liggaamsgebreke, bring.

7 Saam met die jong bul en ook saam met die ram moet hy graanoffers van sestien kilogram bring, en saam met die lammers soveel as wat hy kan bekostig. Vir elke sestien kilogram meel moet hy ook vier liter olyfolie offer.

8 “Die regeerder moet deur die voorportaal by die ingang ingaan, en moet ook daar uitgaan.

9 Maar die mense moet deur die noordelike ingang gaan om die Here gedurende die godsdienstige feeste te aanbid, en moet weer uitgaan by die suidelike uitgang. Almal wat by die suidelike ingang ingaan, moet deur die noordelike uitgang uitgaan. Hulle mag nooit uitgaan by dieselfde ingang waar hulle ingegaan het nie. Almal moet by die ander kant uitgaan.

10 “Die regeerder moet saam met die mense by hierdie geleenthede ingaan en uitgaan.

11 “Op feesdae en tydens feestye moet die graanoffer sestien kilogram saam met ’n bul en ’n ram wees, en dié saam met die lammers soveel as wat die persoon wil gee. Vir elke sestien kilogram moet daar ook vier liter olyfolie gebring word.

12 “Wanneer ook al die regeerder ’n vrywillige brandoffer of vrede-offer aan die Here wil bring, moet die oostelike ingang oopgemaak word sodat hy daar ingaan. Hy bring sy offers net soos op Sabbatdae. Dan draai hy om en gaan terug soos hy gekom het. Die ingang moet agter hom gesluit word.

13 “Elke môre moet ’n jaaroud ramlammetjie sonder liggaamsgebrek vir die Here as brandoffer gebring word.

14 Saam met die lam moet daar ook ’n graanoffer van drie kilogram meel gebring word met een en ’n derde liter olyfolie om die meel mee klam te maak. Dit moet ’n vaste instelling wees.

15 Die lam, graanoffer en olyfolie moet elke môre gebring word as ’n daaglikse brandoffer.”

Die regeerder en grondbesit

16 “So sê die oppermagtige Here: As die regeerder aan een van sy seuns grond gee, behoort dit aan hom en sy nageslag vir altyd.

17 Maar as hy grond aan een van sy werknemers gee, mag die werknemer dit net hou tot die hersteljaar, elke 50ste jaar. Dan word dit weer die regeerder en sy nageslag se eiendom.

18 Die regeerder mag niemand se grond afvat nie. As hy vir sy kinders grond gee, moet dit van sy eie eiendom wees. Niemand van my mense mag van hulle grond afgesit word nie.”

Tempelkombuise

19 Toe het die man my na die noordelike ingang geneem, na die gewyde kamers waar die priesters bly. Hy wys my toe ’n plek agter die gebou, aan die westekant daarvan

20 en verduidelik vir my: “Hier moet die priesters die vleis van die skuldoffers en sonde-offers kook en van die meel van die graanoffers brood bak. Hulle moet dit hier doen sodat dit nie nodig is om die offers deur die buitenste hof te dra en so die gevaar loop dat mense daardeur skade kan opdoen nie.”

21 Toe bring hy my terug deur die buitenste hof en lei my na elkeen van die vier hoeke. In elke hoek het ek ’n kleiner voorhof gesien.

22 Dié kleiner voorhowe was elkeen twintig meter lank en vyftien meter breed, en daar het rook by hulle uitgekom.

23 Daar was ’n muur rondom elkeen en binne teen die muur rondom was daar kookplekke aangebring.

24 Die man het vir my gesê: “Dit is die kombuise waar die tempelbediendes die offervleis van die volk gaarmaak.”

ESEGIËL 47

Riviere van genesing

1 Die man het my teruggebring na die ingang van die tempel. Daar het ek ’n stroom water gesien wat onder die tempel se drumpel ooswaarts uitvloei, want die tempel het oos gekyk. Hierdie stroom het regs van die altaar, aan die suidekant, verbygegaan.

2 Die man bring my toe buitekant die muur deur die noordelike ingang en lei my na die oostelike ingang. Daar kon ek die stroom water sien vloei deur die suidelike kant van die oostelike ingang.

3 Die man het oos gestap en met die maatlyn wat hy by hom gehad het 500 metervanaf die oospoort gemeet. Toe laat hy my deur die water loop. Hier was die water enkeldiep.

4 Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Hier was dit kniediep. Hy het nog 500 meter afgemeet en my deur die water laat loop. Nou het dit tot by my heupe gekom.

5 Toe meet hy nog 500 meter af, maar toe was die water ’n rivier waardeur ’n mens nie kon loop nie. Die water was diep genoeg dat ’n mens daarin kon swem. Dit het ’n rivier geword waardeur ’n mens nie kon loop nie.

6 Hy vra toe vir my: “Mensekind, het jy dit gesien?” Toe lei hy my terug na die rivier se oewer.

7 Terwyl ek daar loop, sien ek ’n hele klomp bome aan albei kante van die rivier.

8 Hy het vir my gesê: “Hierdie rivier vloei oos deur die woestyn af na die Jordaanvallei toe, waar dit dan in die Dooie See invloei. Die water van dié rivier sal die soutwater van die Dooie See vars maak.

9 Oral waar hierdie rivier loop, bring dit lewe. Vis sal volop wees, want hierdie water sal die soutwater vars maak. Waar die water ook al vloei, sal alles lewe.

10 Vissermanne sal langs die oewers van die Dooie See staan en visvang, van En-Gedi tot by En-Eglajim. Die oewers sal vol nette wees wat in die son drooggemaak word. Allerhande soorte vis sal in die Dooie See wees, net soos in die Middellandse See!

11 Die moerasse en kuile se water sal egter nie vars word nie. Hulle sal soutbronne bly.

12 Allerhande soorte vrugtebome sal aan weerskante van die rivier groei. Die blare van hierdie bome sal nooit verlep nie en daar sal altyd vrugte aan die takke wees. Daar sal elke maand ’n vrugte-oes wees, want die bome kry hulle water van die rivier wat uit die tempel vloei. Die vrugte sal kos wees en die blare sal genesing bring.”

Grense van die land

13 “So sê die oppermagtige Here: So lyk die grense waarvolgens jy die land onder die twaalf stamme van Israel moet verdeel: Josef moet twee dele kry.

14 Jy moet die land eweredig tussen die res verdeel. Ek het hierdie land as hulle eiendom gegee omdat Ek aan hulle voorouers belowe het om dit te doen.

15 “Die noordelike grens loop van die Middellandse See af oor Getlon tot by Sedad,

16 dan oor Hamat, Berota, Sibrajim tussen die gebiede van Damaskus en Hamat, en Middel-Gaser op die grens van Gauran.

17 Die noordelike grens loop dus van die Middellandse See af tot by Gasar-Enan, op die grens tussen Hamat aan die noorde en Damaskus aan die suide.

18 “Die oostelike grens begin by ’n punt tussen Gauran en Damaskus en loop suidwaarts al langs die Jordaan af tussen Gilead en Israel, verby die Dooie See en tot so ver suid as Tamar. Dit is die oostelike grens.

19 “Die suidelike grens gaan suid van Tamar af tot by die waters van Meriba-Kades, dan met die Egiptespruit langs tot teen die Middellandse See. Dit is die suidgrens.

20 “Aan die westekant is die Middellandse See julle grens, van die suidgrens af tot regoor Lebo-Hamat. Dit is die wesgrens.

21 “Verdeel die land binne hierdie grense tussen die stamme van Israel.

22 Verdeel die land as ’n erfdeel vir julleself en vir die vreemdelinge wat tussen julle bly en wat kinders het. Julle moet sulke vreemdelinge as medeburgers tussen julle beskou. Hulle moet ’n erfdeel ontvang onder die stamme van Israel.

23 Hierdie immigrante moet grond kry binne die grense van die stam waarin hulle nou leef, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 48

Verdeling van die land

1 “Hier is die lys van die stamme van Israel en die gebied wat elkeen moet kry: Die grond van Dan is in die noorde. Die grenslyn volg die Getlonpad na Lebo-Hamat, dan na Gasar-Enan op die grens met Damaskus, met Hamat aan die noordekant. Dan se gebied strek heelpad oor die grondgebied van Israel, van die ooste na die westekant toe.

2 Aser se gebied lê suid van Dan en strek ook van oos na wes.

3 Naftali se gebied lê suid van Aser, ook van oos na wes.

4 Manasse se grond lê suid van Naftali, en strek ook van oos na wes.

5 Suid van Manasse lê Efraim,

6 en dan Ruben

7 en dan Juda. Hulle almal se grense strek van oos na wes.

8 “Suid van Juda is die grond wat opsy gesit word vir ’n spesifieke doel. Die heiligdom moet in hierdie gebied wees. Dit moet dertien en ’n half kilometer breed wees en net so lank soos die stamme se gebiede, van die oostelike tot by die westelike grens.

9 Die gebied wat julle opsy sit vir die Here se tempel moet dertien en ’n half kilometer lank en tien en ’n half kilometer breed wees.

10 Hierdie gebied is tot beskikking van die priesters, en moet ’n strook wees van dertien en ’n half kilometer lank van oos na wes en vyf kilometer breed van noord na suid. Die heiligdom van die Here is in die middel hiervan.

11 Die gebied word opsy gesit vir gewyde priesters, die nageslag van Sadok. Hulle was gehoorsaam aan My en het nie afgedwaal soos die mense van Israel en die res van die Leviete nie.

12 Dié grond is hulle spesiale deel van die heiligste gedeelte van die land. Langs die priesters se grond lê dié van die ander Leviete.

13 Die grond wat aan die Leviete toegedeel word, moet dieselfde grootte en vorm wees as dié wat aan die priesters behoort – ook dertien en ’n half kilometer lank en vyf kilometer breed. Saam is dié twee gedeeltes dus dertien en ’n half kilometer lank by tien en ’n half kilometer breed.

14 Dié spesiale grond mag nooit verkoop of verruil word nie, want dit behoort aan die Here. Dit is apart gesit om heilig te wees.

15 “’n Addisionele strook grond van dertien en ’n half by twee en ’n half kilometer wat oorbly, is bedoel as gewone stadsgebied, woongebied en weigebied. Die stad moet in dié gebied wees.

16 Die stad moet twee en ’n half vierkante kilometer wees.

17 Aan al vier kante moet daar ’n onbeboude strook van 130 meter wees.

18 “Buite die stad moet daar grond wees wat vyf kilometer oos en vyf kilometer wes van die stad strek, al langs die gewyde gebied. Hierdie grond moet bewerk word om kos te verskaf vir die mense wat in die stad werk.

19 Die mense wat in die stad werk, mag die grond bewerk. Hulle kom uit al die stamme van Israel.

20 “Die hele gebied, insluitende die gewyde grond en die stad, is dus dertien en ’n half vierkante kilometer.

21 “Die grond wat oorbly aan die oostekant en aan die westekant van die gewyde gebied met die tempel in die middel daarvan, asook die stadsgebied, is tot beskikking van die regeerder. Elkeen van hierdie gebiede is dertien en ’n half kilometer breed en loop tot by die oosgrens en wesgrens van die land.

22 Die regeerder se land sluit dus alles in tussen die gebiede wat aan Juda en Benjamin toegeken is, behalwe vir die gebiede wat opsy gesit is vir die gewyde grond en die stad.

23 “Dit is die grond wat aan die oorblywende stamme toegeken word. Benjamin se grond is suid van die regeerder se grond, en strek oor die hele land van Israel van die oosgrens tot teen die wesgrens.

24 “Suid van Benjamin se grond lê dié van Simeon, wat ook van oos na wes strek.

25 “Volgende is die grond van Issaskar, met dieselfde oostelike en westelike grense.

26 “Dan kom Sebulon aan die beurt, wat ook oor die land strek van oos na wes.

27 “Die gebied van Gad is net suid van Sebulon met dieselfde grense in die ooste en weste.

28 Die suidelike grens van Gad loop van Tamar tot by die waters van Meriba-Kades en volg dan die Egiptespruit tot by die Middellandse See.

29 Dit is die gebiede wat opsy gesit moet word vir elke stam se erfdeel, sê die oppermagtige Here.”

Die poorte van die stad

30 “Die uitgange uit die stad is soos volg: Die noordelike muur is twee en ’n kwart kilometer lank

31 en daar is drie poorte, genoem na stamme van Israel. Die eerste moet Ruben genoem word, die tweede Juda en die derde Levi.

32 Die oostelike muur moet ook twee en ’n kwart kilometer lank wees, met drie poorte, vernoem na Josef, Benjamin en Dan.

33 Die suidelike muur, ook twee en ’n kwart kilometer lank, is vernoem na Simeon, Issaskar en Sebulon.

34 En die westelike muur, ook twee en ’n kwart kilometer lank, se poorte moet vernoem word na Gad, Aser en Naftali.

35 “Die omtrek van die stad sal nege en ’n half kilometer wees. Van daardie dag af sal die stad se naam wees: ‘Die Here is daar.’”