ESEGIËL 31

Egipte vergelyk met Assirië

1 Op 21 Junie, gedurende die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:

2 “Mensekind, gaan sê vir die farao, koning van Egipte, en al sy mense:

“Met wie kan jou grootheid

vergelyk word?

3 Jy is soos Assirië.

Hy was op die Libanonberge

’n seder met baie dik takke.

Met sy top tussen die wolke,

het dit die bos donker gemaak.

4 Die waters het hom natgemaak

en hy het groot en hoog gegroei.

Die water was ook genoeg

vir alle bome rondom hom.

5 Hierdie groot boom

het bo al die ander bome

uitgestaan.

Hy het floreer

met lang, dik takke

omdat daar so baie water was.

6 Die voëls van die hemel

het in sy takke nes gemaak;

in sy skaduwee

het die wilde diere

hulle kleintjies

in die wêreld gebring.

Die groot nasies van die wêreld

het in sy skaduwee geleef.

7 Hy het groot en mooi geword

met takke

wat ver uitgesprei het.

Sy wortels het diep afgegaan

na waters

wat in oorvloed was.

8 Die seders in die tuin van God

kon nie met hom meeding nie.

Die sipresse en platane se takke

was nie so groot

soos syne nie.

Geen boom in die tuin van God

was so mooi

soos hierdie seder nie.

9 Ek het hom mooi gemaak

met baie takke.

Al die ander bome

in die tuin van God

was jaloers op hom.

10 “So sê die oppermagtige Here: Die seder het trots en arrogant geword, en homself bo ander aangestel en sy top tot tussen die wolke gedruk.

11 Daarom het Ek hom oorgegee aan die leier van nasies wat hom gaan vernietig soos sy boosheid verdien. Ek het hom eenkant neergegooi.

12 Die wreedste van vreemde soldate het hom afgekap en hom op die grond laat val. Die takke lê verstrooid oor die berge en valleie en ravyne. Al die mense wat in sy skaduwee geleef het, het weggegaan en hom agtergelaat.

13 Die voëls het op sy omgevalle stam kom sit, en die wilde diere het tussen sy takke gelê.

14 Daarom sal geen boom wat by waters staan, ooit weer trots word en sy kop tussen die wolke optel nie. Geen ander boom mag weer so hoog word nie. Hulle is almal bestem om dood te gaan, na die graf toe tussen sterflike mense.

15 “So sê die oppermagtige Here: Toe hy in die graf afgegaan het, het die waters oor hom getreur, en Ek het die strome teruggehou sodat daar nie meer water was nie. Ek het die Libanon swart aangetrek en die bome van die veld het oor hom verlep.

16 Ek het die nasies laat bewe voor die gedreun van sy val, want Ek het hom graf toe gestuur saam met al die ander wat soos hy is. Die ander trotse bome van Eden, die mooiste en beste van die Libanon, hulle wat water gebruik het, was bly in die onderwêreld.

17 Hulle is ook almal vernietig en doodgemaak. Al die nasies wat in sy skaduwee geleef het, het in die graf beland.

18 “Met watter een van die bome van Eden kan jou mag en aansien vergelyk word, Egipte? Tog sal jy ook saam met die bome van Eden na die onderwêreld gebring word. Jy sal lê tussen die bannelinge wat met die swaard doodgemaak is. Dit is wat met die farao en al sy soldate gaan gebeur, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 32

’n Waarskuwing vir die farao

1 Op 3 Maart, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

2 “Mensekind, huil oor die farao, die koning van Egipte.

“Sê vir hom: Jy het jouself as ’n sterk, jong leeu tussen die nasies gesien, maar eintlik is jy ’n seemonster wat in jou riviere rondtrap en die water modderig maak.

3 “Die oppermagtige Here sê:

Ek stuur baie mense

om jou in my net te vang

en jou uit die water te sleep.

4 Ek los jou op droë grond.

Al die voëls en wilde diere

sal aan jou karkas kom vreet,

hulle sal versadig word.

5 Ek maak heuwels toe

met jou vleis

en die valleie

met jou bene.

6 Ek deurweek die aarde

met jou bloed

tot by die berge.

Die klowe

maak Ek vol daarvan.

7 Wanneer Ek jou vernietig,

maak Ek die hemel toe

en verdonker Ek die sterre.

Ek bedek die son met wolke

en die maan sal nie skyn nie.

8 Ek bring donkerte

oor jou hele land.

Selfs die helderste sterre

sal bo jou donker word.

Ek is die oppermagtige Here,

en Ek sê so.

9 “Baie mense sal ontsteld wees

wanneer hulle hoor

van jou einde,

selfs in verre lande

waarvan jy

nie eens geweet het nie.

10 Ek maak baie mense verstom

oor wat met jou gebeur.

Hulle konings se hare

sal regop staan

oor wat jou sal tref

as Ek my swaard

oor hulle swaai.

Die dag as Ek jou

tot ’n val bring,

sal elkeen

vir sy lewe vrees.

11 “Die oppermagtige Here sê:

Die swaard van die koning

van Babilon

is op pad na jou toe.

12 Ek sal jou vernietig

met die swaard

van sterk soldate,

wat almal wrede mense is.

Hulle vernietig Egipte se trots;

al sy mense

word uitgeroei.

13 Ek vernietig ook al jou vee

wat by die water wei.

Die water sal nie meer

vertroebel word

deur mensevoete

of pote van vee nie.

14 Ek maak die water van Egipte

helder,

en dit sal rustig vloei

soos olyfolie,

sê die oppermagtige Here.

15 “Wanneer Ek Egipte vernietig

en alles uitwis

en al sy mense doodmaak,

sal julle besef

Ek is die Here.

16 Dít is die begrafnislied

wat hulle dan

vir Egipte sal sing,

die vroue van ander nasies

wat oor Egipte

en sy mense sing.

So sê die oppermagtige Here.”

Egipte beland in die graf

17 Op 17 Maart, in die twaalfde jaar, het ek nog ’n boodskap van die Here gekry:

18 “Mensekind,

treur oor die mense

van Egipte,

want saam met sterk nasies

stuur Ek hulle

na die onderwêreld,

om in die graf te lê.

19 Sê vir hulle:

‘Egipte, is jy beter

as die ander nasies?

Gaan af en gaan lê

tussen die onbesnedenes!’

20 Hulle sal omkom

saam met ander

wat deur die swaard

gesneuwel het,

want die swaard

is reeds uitgetrek.

Laat Egipte en al sy menigtes

weggesleep word.

21 Vanuit die graf

spot die magtige leiers

vir Egipte en sy bondgenote:

‘Hulle het neergedaal

na die graf

en lê nou by die onbesnedenes,

by die slagoffers van die swaard!’

22 “Assirië lê daar,

omring met grafte van al sy mense,

almal slagoffers van die swaard.

23 Hulle grafte

is diep in die doderyk,

omring deur hulle bondgenote.

Lank tevore het hulle oral

angs in mense gewek,

maar nou het hulle vyande

hulle doodgemaak.

24 “Elam en al sy menigtes

is daar

met sy mense rondom sy graf,

almal deur die swaard getref.

Hulle wat onder die lewendes

paniek gesaai het,

het onbesnede

na die doderyk gegaan.

Hulle dra die vernedering

saam met dié wat in die graf is.

25 Hy lê tussen dié wat dood is,

tussen die grafte van sy krygers.

Almal is onbesnede,

omgebring deur die swaard.

Hulle het verskrikking gesaai

in die land van die lewendes,

maar lê nou verneder

in die graf

saam met dié wat omgekom het.

26 “Mesek en Tubal is daar,

omring deur die grafte

van hulle menigtes,

almal onbesnede slagoffers

van die swaard,

want hulle het paniek gesaai

onder lewendes in die land.

27 Hulle is nie met eer begrawe

soos helde

met hulle wapens nie –

met skilde

wat hulle liggame bedek

en swaarde

onder hulle koppe nie.

In die land van die lewendes

het hulle oral paniek gesaai.

28 “Ook jy, Egipte, sal verslaan lê

tussen die onbesnedenes,

almal slagoffers van die swaard.

29 “Edom is daar,

met konings en prinse.

Eens was hulle magtig,

maar nou het hulle ook gesneuwel

en lê in die graf

saam met onbesnedenes.

30 Al die leiers van die noorde,

ook die Sidoniërs is daar.

Hulle wat met hulle mag

verskrikking gesaai het,

lê nou by onbesnedenes

saam met dié wat gesneuwel het.

Hulle deel die vernedering

met dié wat reeds dood is.

31 “Wanneer die farao

daar aankom,

sal hy verlig wees om te sien

dis nie net sy leër

wat vernietig is nie,

sê die oppermagtige Here.

32 Want Ek het paniek gebring

oor almal wat leef.

Die farao en al sy hordes

sal nou by onbesnedenes moet lê,

by hulle wat gesneuwel het.

Ek, die oppermagtige Here, sê so.”

ESEGIËL 33

Esegiël is Israel se wag

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, gaan sê vir jou mense: Wanneer Ek ’n leër teen ’n land stuur, kies die mense van die land iemand wat wagstaan.

3 As hy die vyand sien aankom, maak hy alarm om die mense te waarsku.

4 As die mense wat die alarm hoor, hulle nie daaraan steur nie, is dit hulle eie skuld as hulle doodgemaak word.

5 Hulle het die waarskuwing gekry, maar wou nie luister nie. Hulle is verantwoordelik vir hulle eie dood. As hulle hulle aan die waarskuwing gesteur het, sou hulle hulself gered het.

6 Maar as die wag die vyand sien aankom en nie alarm maak nie, is hy verantwoordelik as mense sterf. Hulle sal doodgemaak word oor hulle eie sondes, maar Ek hou die wag verantwoordelik.

7 “Mensekind, Ek maak jou die wag vir die mense van Israel. Luister na wat Ek vir jou sê en waarsku hulle namens My.

8 As Ek sê dat bose mense sal sterf en jy waarsku hulle nie oor hulle optrede nie, sal hulle sterf oor hulle sondes, maar Ek hou jou verantwoordelik vir hulle dood.

9 Maar as jy hulle waarsku om om te draai en hulle weier om dit te doen, sal hulle doodgaan oor hulle sondes, maar jy sal nie daarvoor verantwoordelik gehou word nie.”

Die wag se boodskap

10 “Mensekind, sê vir die mense van Israel: Julle sê: ‘Ons oortredings en sondes rus swaar op ons. Ons vergaan! Hoe gaan ons oorleef?’

11 So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek wil nie hê skuldige mense moet doodgaan nie. Ek wil net hê hulle moet omdraai van hulle bose optrede sodat hulle kan lewe. Draai om! Draai weg van julle boosheid, mense van Israel! Hoekom wil julle doodgaan?

12 “Mensekind, sê vir jou volksgenote: Die goeie dade van regverdige mense sal hulle nie red as hulle sonde doen nie. En die sondes van bose mense sal nie teen hulle tel as hulle hulle bekeer en wegdraai van hulle sonde nie.

13 As Ek vir regverdige mense sê hulle sal lewe, maar hulle begin dan sonde doen en verwag dat hulle regte optrede van die verlede hulle sal red, dan sal niks van hulle goeie dade onthou word nie. Ek sal hulle oor hulle sondes vernietig.

14 As Ek vir bose mense sê hulle sal doodgaan, maar hulle draai weg van hulle sondes en doen wat reg en goed is,

15 soos die goed teruggee wat hulle as waarborg vir skuld gehou het, of terugbetaal wat hulle gesteel het, lewe volgens die wette wat lewe bring en nie doen wat verkeerd is nie; as hulle dit doen, sal hulle beslis lewe en nie doodgemaak word nie.

16 Hulle sondes sal nie teen hulle gehou word nie. Hulle doen wat reg en goed is, en hulle sal verseker lewe.

17 “Jou mense sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar dis julle wat nie regverdig optree nie!

18 As mense wat regverdig is, wegdraai en die slegte begin doen, sal hulle doodgemaak word.

19 En wanneer mense wat verkeerd doen, wegdraai en begin doen wat goed en reg is, sal hulle lewe.

20 Mense van Israel, julle sê: ‘Die Here tree nie regverdig op nie!’ Maar Ek oordeel elkeen van julle volgens sy of haar dade.”

Verduideliking van Jerusalem se

val

21 Op 8 Januarie, in die twaalfde jaar van ons ballingskap, het ’n man wat uit Jerusalem ontsnap het, na my toe gekom en gesê: “Die stad het geval!”

22 Die vorige aand het die Here aan my verskyn en my mond oopgemaak sodat ek kon praat toe die man die volgende oggend by my kom.

23 Toe het die Here vir my gesê:

24 “Mensekind, die mense van Juda wat tussen die puinhope in die land Israel bly, sê: ‘Abraham was net een mens, en tog het hy die hele land gekry. Ons is baie. Die land behoort nou aan ons gegee te word!’

25 Sê vir die mense die oppermagtige Here sê: Julle eet vleis met bloed daarin, aanbid afgode en vermoor onskuldiges.

26 Julle is moordenaars, afgodsdienaars en egbrekers! Behoort die land aan julle gegee te word?

27 “Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: So seker as Ek leef, die mense wat tussen die puinhope leef, sal deur die swaard doodgemaak word. Dié wat in die oop veld bly, sal deur wilde diere doodgemaak word. Dié wat in forte en grotte wegkruip, sal van siekte doodgaan.

28 Ek vernietig die land en die mense se trots. Hulle mag sal gebreek word. Israel se berge sal verlate lê. Niemand sal daaroor trek nie.

29 Die dag as Ek die land verwoes het oor hulle walglike dade, sal hulle weet dat Ek die Here is.

30 “Mensekind, jou mense praat agter jou rug. Hulle praat oor jou in hulle huise en by hulle deure. Hulle sê: ‘Kom, laat ons gekskeer! Kom ons gaan hoor wat die profeet ons vertel wat die Here sê!’

31 Hulle kom en luister ewe vroom na jou prediking, maar hulle doen nie wat Ek vir hulle sê nie. Met hulle monde bely hulle liefde, maar hulle harte is net agter geld aan.

32 Jy vermaak hulle soos iemand wat liefdesliedjies met ’n mooi stem sing of goeie musiek maak. Hulle hoor wat jy sê, maar doen dit nie!

33 Maar as al hierdie verskriklike dinge gebeur – en dit gaan gebeur! – sal hulle weet dat daar ’n profeet tussen hulle was.”

ESEGIËL 34

Die herders van Israel

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, profeteer teen die herders, die leiers van Israel. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Verwoesting wag vir herders wat vir hulleself sorg! Moet herders nie hulle skape versorg nie?

3 Julle drink die melk, gebruik die wol vir klere en slag die beste skape, maar sorg nie vir die skape nie.

4 Julle sorg nie vir die swakkes, dokter nie die siekes en verbind nie die wonde van die beseerdes nie. Julle bring nie dié terug wat weggedwaal het en soek nie dié wat weggeraak het nie. Julle het hard en wreed oor hulle regeer.

5 My skape het verstrooid geraak sonder ’n herder. Hulle is maklike prooi vir enige wilde dier.

6 Hulle het op berge en oor heuwels rondgedwaal, oor die hele aarde, en tog het niemand hulle gaan soek nie.

7 “Daarom, herders, hoor die woord van die Here:

8 So seker as Ek leef, sê die oppermagtige Here, julle het die kudde verlaat en gelos sodat elke wilde dier hulle kon aanval. Julle was my herders, maar julle het nie my skape wat weggeraak het, gaan soek nie. Julle het vir julleself gesorg en nie vir die skape nie.

9 Daarom, herders, hoor die woord van die Here.

10 So sê die oppermagtige Here: Ek beskou hierdie herders nou as my vyande, en Ek hou hulle verantwoordelik vir wat met my kudde gebeur. Ek neem hulle reg weg om die kudde te versorg, en ook hulle reg om vir hulleself te sorg. Ek red my skape uit hulle mond. Die skape sal nie langer hulle slagoffer wees nie.”

Die goeie herder

11 “So sê die oppermagtige Here: Ek sal self my skape soek en vir hulle sorg.

12 Ek sal soos ’n herder wees wat na sy verstrooide kudde kyk. Ek sal my skape vind en red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker dag van oordeel.

13 Uit die nasies en lande waar hulle was, bring Ek hulle huis toe na hulle eie land. Ek laat hulle wei op die berge van Israel en in die klowe, op al die plekke waar mense lewe.

14 Ek gee hulle goeie weiveld op die hoë heuwels van Israel. Hulle sal in groen weivelde lê en herkou, op goeie velde op die berge van Israel.

15 Ek versorg self my skape en laat hulle in vrede lê en rus, sê die oppermagtige Here.

16 Ek soek na dié wat afgedwaal het en bring hulle veilig terug. Ek verbind die wonde van die beseerdes en versterk die swakkes. Maar Ek vernietig die vettes en magtiges. Ek lei die kudde in reg en geregtigheid.

17 “En wat julle betref, my kudde, my volk, so sê die oppermagtige Here: Ek oordeel regverdig tussen skaap en skaap, en tussen skaap en bok.

18 Is dit nie genoeg dat julle die beste weiveld vir julleself gehou het nie? Moet julle nou ook die res vertrap? Is dit nie genoeg dat julle skoon water vir julleself gehou het nie? Moet julle nou ook die res met julle pote modderig maak?

19 Al wat vir my kudde oorgebly het, is wat julle vertrap het. Al wat hulle kon drink, is water wat julle vuil gemaak het.

20 “Daarom, sê die oppermagtige Here, Ek oordeel tussen die vet en die maer skape.

21 Met julle skouers en horings stoot julle vet skape my swak skape weg totdat julle hulle ver weggejaag het.

22 Nou red Ek my kudde, en hulle sal nie langer geplunder word nie. Ek oordeel tussen skape.

23 En Ek stel een herder oor almal aan, my dienaar Dawid. Hy sal hulle versorg en hulle herder wees.

24 En Ek, die Here, sal hulle God wees, en my dienaar Dawid sal hulle leier wees. Ek, die Here, het so gesê!”

Die Here se vredesooreenkoms

25 “Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle en dryf al die gevaarlike diere uit die land weg. Dan sal my volk veilig in die wildernis kan uitkamp en in die woude slaap sonder om bang te wees.

26 My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge.

27 Die vrugteboorde en landerye sal volop dra. Almal sal veilig wees. Wanneer Ek hulle uit die ballingskap verlos en hulle red van die mense wat hulle verslaaf het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

28 Hulle sal nie ander volke se slagoffers wees nie, en wilde diere sal hulle nie meer aanval nie. Hulle sal in veiligheid woon, en niemand sal hulle bangmaak nie.

29 “Ek maak hulle land bekend vir sy rekordoeste sodat my volk nooit weer honger sal wees of deur nasies bespot sal word nie.

30 “Op dié manier sal hulle besef dat Ek, die Here hulle God, by hulle is. En hulle sal besef dat hulle, die volk van Israel, my volk is, sê die oppermagtige Here.

31 Julle is my kudde, die skape van my weiveld. Julle is my volk, en Ek is julle God, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 35

’n Boodskap vir Edom

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, kyk in die rigting van die Seïrberg en profeteer oor sy mense.

3 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:

“Ek is jou vyand, Seïrberg,

en Ek lig my vuis op

om jou verlate te maak.

4 “Ek maak jou stede puinhope wat verlate lê, en jy sal besef dat Ek die Here is.

5 Jy haat Israel nog altyd en jy het die mense van Israel uitgelewer toe die ramp oor hulle gekom het en hulle vir hulle sondes gestraf is.

6 So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, ’n bloedbad wag op jou wat nie bang is om ander se bloed te vergiet nie. Dis nou jou beurt!

7 “Ek maak die Seïrberg verlate. Ek maak almal dood wat probeer ontsnap en almal wat wil terugkom.

8 Jou berge sal vol dooies lê. Jou heuwels, valleie en strome sal vol lyke lê van mense wat gesneuwel het.

9 Ek maak jou vir altyd verlate. Jou stede sal nie herbou word nie. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.

10 “Jy het gesê: ‘Israel en Juda se grond sal myne word. Ek vat dit vir my. Wat gee ek om dat die Here daar is?’

11 Daarom, so seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, sal Ek jou met dieselfde woede en naywer behandel waarmee jy Israel behandel het. Jy sal My leer ken wanneer Ek jou oordeel.

12 Dan sal jy besef dat Ek, die Here, elke smalende woord gehoor het wat jy teen die berge van Israel gesê het. Jy het gesê: ‘Hulle is vernietig. Laat ons hulle verder verwoes!’

13 Julle monde was groot teen My, julle het gepraat sonder om te dink. En Ek het dit gehoor!

14 “So sê die oppermagtige Here: Die hele wêreld sal bly wees wanneer Ek jou verlate maak.

15 Jy was mos bly toe Israel se erfdeel verlate gemaak is. Nou gaan Ek jou net so behandel! Jy sal verlate word, Seïrberg en almal wat in Edom leef. Dan sal jy besef dat Ek die Here is!”

ESEGIËL 36

Herstel vir Israel

1 “Mensekind, profeteer teen Israel se berge. Sê vir hulle: Berge van Israel, hoor die woord van die Here!

2 So sê die oppermagtige Here: Jou vyande het met jou gespot: ‘Aha! Nou behoort die oeroue hoogtes uiteindelik aan ons!’

3 Daarom, mensekind, sê vir die berge van Israel die oppermagtige Here sê: Julle vyande het julle van alle kante aangeval en baie nasies het julle in besit geneem. Julle word bespot en beskinder.

4 Daarom, berge van Israel, hoor die woord van die oppermagtige Here. Die oppermagtige Here praat met die heuwels en berge, die klowe en valleie, en die puinhope en verlate stede wat deur al die nasies rondom julle vernietig en bespot is.

5 So sê die oppermagtige Here: Ek is woedend oor die res van die nasies, en veral oor Edom, want hulle het hulle daarin verlustig om my land vir hulleself as buit te vat.

6 “Daarom, profeteer aan die heuwels en berge, die klowe en valleie van Israel. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek is baie kwaad omdat julle verneder is deur die nasies rondom julle.

7 Daarom, sê die oppermagtige Here, lê Ek ’n plegtige eed af dat hierdie nasies verneder sal word.

8 Maar die berge van Israel sal groot vrugte-oeste dra om gereed te maak vir my mense wat terugkeer. Hulle kom gou weer huis toe!

9 Kyk, Ek gee vir julle om. Ek kom julle help. Julle grond sal omgeploeg en besaai word.

10 Ek vermeerder die bevolking van Israel, en die stede sal weer bewoon en die puinhope herbou word.

11 En nie net julle mense nie, maar ook julle kuddes sal toeneem en baie word. Ek sal mense bring om weer daar te woon. Ek maak julle selfs nog meer voorspoedig as vroeër. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

12 Ek sal sorg dat mense, my volk Israel, weer op julle loop, en julle sal hulle erfporsie wees. Julle sal hulle nooit weer kinderloos maak nie.

13 “So sê die oppermagtige Here: Die ander nasies spot met julle, berge van Israel. Hulle sê: ‘Israel is ’n land wat sy mense opvreet!’

14 Maar julle sal nooit weer julle volk en hulle kinders opvreet nie, sê die oppermagtige Here.

15 Ek sal nie toelaat dat vreemde nasies met julle spot of julle verneder of julle pootjie nie, sê die oppermagtige Here.”

16 Die Here het verder vir my gesê:

17 “Mensekind, toe die volk Israel in hulle eie land gelewe het, het hulle dit besoedel met hulle optrede. Wat hulle gedoen het, was vir My soos wanneer ’n vrou menstrueer.

18 Hulle het die land besoedel deur moord te pleeg en afgode te aanbid. Daarom het Ek my wraak oor hulle uitgestort.

19 Ek het hulle na baie lande toe verstrooi om hulle te straf vir die bose manier waarop hulle gelewe het.

20 Waar hulle tussen die nasies verstrooi was, het hulle my heilige Naam oneer aangedoen. Want die nasies het gesê: ‘Hierdie is die Here se mense, en tog moes hulle weggaan uit sy land!’

21 Ek is bekommerd daaroor dat mense respek vir my Naam verloor. Dit is veroorsaak deur die mense van Israel wat tussen die nasies gaan woon het.

22 “Daarom, sê vir die mense van Israel die oppermagtige Here sê: Ek bring julle terug, maar nie omdat julle dit verdien nie. Ek doen dit ter wille van my Naam wat julle oneer aangedoen het onder die nasies waar julle gebly het.

23 Ek gaan julle wys hoe heilig Ek is, Ek vir wie die nasies respek verloor het deur julle optrede. En as Ek my heiligheid deur julle voor hulle oë openbaar, sê die oppermagtige Here, sal die nasies besef dat Ek die Here is.

24 Want Ek maak julle bymekaar uit al die nasies en bring julle huis toe na julle eie land toe.

25 “Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees. Ek maak julle skoon van julle vuilheid en julle afgode.

26 Ek gee julle ’n nuwe hart met die regte begeertes en ’n nuwe gees. Ek vat die ou hart van sonde weg en gee julle ’n nuwe, gehoorsame hart.

27 En Ek gee my Gees in julle sodat julle my voorskrifte sal gehoorsaam en doen wat Ek beveel.

28 “Julle sal in die land bly wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal my volk wees, en Ek sal julle God wees.

29 Ek maak julle skoon van alles wat julle lewe besoedel het. Ek gee julle goeie oeste. Julle sal hongersnood nie ken nie.

30 Ek gee vir julle vrugte aan die bome en goeie oeste op die landerye. Nooit sal julle buurlande weer met julle land kan spot oor sy hongersnood nie.

31 Dan sal julle onthou hoe julle vroeër gesondig het, en julleself haat vir al die bose dinge wat julle gedoen het.

32 Maar onthou, sê die oppermagtige Here, Ek doen dit nie omdat julle dit verdien nie. Wees skaam en laat hang julle koppe oor julle gedrag, mense van Israel!

33 “So sê die oppermagtige Here: Wanneer Ek julle skoonmaak van julle sondes, bring Ek mense om in julle stede te leef. Die puinhope sal herbou word.

34 In plaas daarvan dat dit kaalgestroop lê voor almal wat daar verbygaan, sal die verlate velde weer bewerk word.

35 Wanneer Ek julle terugbring, sal mense sê: ‘Hierdie land wat godverlate was, is nou soos die Tuin van Eden! Die stede wat verlate in puin gelê het, is nou versterk en vol mense!’

36 Dan sal al die buurnasies wat oor is, besef dat Ek, die Here, die puinhope herbou het en die verlate landerye weer beplant het. Want Ek, die Here, het dit belowe en Ek sal dit doen!

37 “So sê die oppermagtige Here: Ek staan gereed om in antwoord op Israel se gebede ook dit te doen: Ek maak die volk so baie soos skape.

38 Hulle sal so baie word soos die offerskape wat gedurende feestye Jerusalem se strate vol loop. Die stede wat puinhope was, sal vol mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 37

’n Vallei met droë bene

1 Die Here het my in besit geneem, en die Gees van die Here het my weggeneem na ’n vallei vol bene.

2 Hy het my tussen die ou, droë bene wat op die valleivloer lê, rondgelei. Hulle het oral op die grond gelê.

3 Toe vra Hy: “Mensekind, kan hierdie bene weer lewende mense word?”

“Oppermagtige Here, U alleen ken die antwoord,” het ek gesê.

4 Hy sê toe vir my: “Profeteer vir hierdie bene en sê: ‘Droë bene, luister na die woord van die Here!

5 So sê die oppermagtige Here: Kyk, Ek gaan in julle blaas en julle weer lewend maak!

6 Ek sit vleis en spiere om julle en maak julle toe met vel. Ek sit asem in julle en julle sal lewend word. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.’”

7 Ek het gesê soos Hy my beveel het. Skielik was daar ’n gedreun terwyl ek praat. Die bene van elke liggaam het bymekaargekom soos dit voorheen was.

8 Terwyl ek gekyk het, het spiere en vleis oor die bene gevorm. Toe het vel die liggame toegemaak. Maar daar was nie lewe in hulle nie.

9 Toe sê Hy vir my: “Praat met die wind en sê: ‘So sê die oppermagtige Here: Wind, kom vanuit die vier windrigtings! Blaas in hierdie dooie liggame sodat hulle lewend kan word!’”

10 Ek het toe gesê soos ek beveel is, en die wind het in die liggame gekom en hulle het begin asemhaal. Hulle het lewend geword en op hulle voete gaan staan, ’n groot klomp mense.

11 Toe sê Hy vir my: “Mensekind, hierdie bene is die mense van Israel. Hulle sê: ‘Ons het ou, droë bene geword. Daar is geen hoop vir ons oor nie!’

12 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: My volk, Ek maak die grafte van ballingskap oop en laat julle opstaan. En Ek bring julle terug na die land Israel.

13 My volk, wanneer dit gebeur en Ek julle uit julle grafte bring, dan sal julle besef dat Ek die Here is.

14 Ek sit my Gees in julle, en julle sal lewe en terugkeer huis toe, na julle eie land toe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Julle sal sien dat Ek presies gedoen het soos Ek belowe het. Ek, die Here, het so gesê!”

Israel en Juda word een

15 Die Here het vir my gesê:

16 “Mensekind, vat ’n stok en krap dié woorde daarop uit: ‘Hierdie stok is Juda en sy bondgenote.’ Vat nog ’n stok en krap daarop uit: ‘Hierdie stok is die noordelike stamme van Israel.’

17 Hou nou die twee stokke soos een stok saam in jou hand.

18 Wanneer jou mense vra wat beteken dít wat jy doen,

19 sê vir hulle: ‘So sê die oppermagtige Here: Ek vat die noordelike stamme en voeg hulle by Juda. Ek maak hulle een stok in my hand.’

20 Hou dan die stokke vas waarop jy geskryf het sodat die mense kan sien.

21 En sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek maak die mense van Israel bymekaar van tussen die nasies uit. En Ek bring hulle na hulle eie land toe uit die lande waarheen hulle verstrooi was.

22 Ek verenig hulle tot een nasie in die land, op die berge van Israel. Een koning sal oor almal regeer. Hulle sal nie meer in twee nasies en twee koninkryke verdeel wees nie.

23 Hulle sal ook nie meer hulleself met hulle afskuwelike afgode en sondes besoedel nie, want Ek sal hulle bevry uit die plekke waar hulle gesondig het, en hulle skoonmaak. Dan sal hulle my volk wees, en Ek sal hulle God wees.

24 “My dienaar Dawid sal hulle koning wees, en hulle sal net een herder hê. Hulle sal my bepalings gehoorsaam en my bevele onderhou.

25 Hulle sal in die land leef wat ek vir hulle voorouer Jakob gegee het, die land waar julle pa’s geleef het. Hulle en hulle kinders en hulle kleinkinders sal vir altyd daar leef. En my dienaar Dawid sal vir altyd hulle leier wees.

26 Ek maak ’n ooreenkoms van vrede met hulle. Die ooreenkoms sal altyd geld. Ek gee hulle die land en maak hulle baie. Ek plaas my woonplek tussen hulle vir altyd.

27 My blyplek sal tussen hulle wees. Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.

28 Dan, wanneer my blyplek tussen hulle is, sal die nasies besef dat Ek, die Here, Israel vir myself eenkant gesit het as ’n heilige volk.”

ESEGIËL 38

’n Boodskap vir Gog

1 Die Here het met my gepraat:

2 “Mensekind, kyk na Gog van die land Magog, die prins wat oor die nasies van Mesek en Tubal regeer. Profeteer teen hom.

3 Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Ek is jou vyand, Gog, grootkoning van Mesek en Tubal!

4 Ek draai teen jou en sit hake in jou kakebeen om jou en al jou soldate, perde en ruiters, soldate met klein en groot skilde, almal met swaarde, na julle vernietiging te lei.

5 Persië, Kus en Put, almal met skilde en swaarde, sal saam met hulle wees.

6 So ook Gomer en sy baie mense, Bet-Togarma uit die verre noorde en sy mense saam met baie nasies.

7 “Maak reg! Wees gereed, jy en al jou soldate. Neem beheer oor hulle almal.

8 Oor ’n lang tyd sal jy opgeroep word. Dan sal jy na ’n land gaan wat van oorlog herstel het. Daardie land se mense is bymekaargemaak uit al die nasies om op die berge van Israel, wat lank verlate gelê het, te bly. Hulle is tussen die nasies uitgebring en bly nou veilig.

9 Dan sal jy en jou bondgenote en baie soldate soos ’n storm oor hulle aanrol en die land soos ’n wolk toemaak.

10 “So sê die oppermagtige Here: Daardie tyd sal jy ’n bose plan uitdink.

11 Jy sal sê: ‘Ek gaan die land wat oop lê, aanval. Ek gaan hierdie mense wat so onbesorgd lewe, sonder hoë mure en poorte, vernietig!

12 Ek gaan die puinhope wat herbou is, plunder. Die mense het teruggekom uit die nasies en is nou ryk met hulle groot kuddes en besittings. Hulle bly in die middel van die aarde!’

13 Skeba, Dedan en die handelaars van Tarsis sal vra: ‘Het jy kom plunder? Het jy jou soldate bymekaargemaak om die vee weg te dryf en die besittings te vat, die goud en silwer as buit weg te dra?’

14 “Daarom, mensekind, profeteer teen Gog. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Die dag as my volk in vrede leef, sal jy jouself gereed maak.

15 Dan kom jy met al jou ruiters en soldate van jou land af in die verre noorde, jy en baie ander nasies.

16 Jy sal die land soos ’n wolk toemaak. Dit gebeur in die verre toekoms. Ek gaan jou teen my land bring terwyl almal kyk, Gog, sodat die nasies sal sien hoe Ek myself as die Heilige deur jou openbaar.

17 “So sê die oppermagtige Here: Jy is die een van wie Ek lankal deur my profete gepraat het. Toe het Ek gesê dat Ek jou in die toekoms teen my volk sal laat optrek.

18 Daardie dag, as Gog die land Israel binneval, sal Ek baie kwaad word, sê die oppermagtige Here.

19 In my brandende woede belowe Ek dat daar ’n groot aardbewing in die land Israel sal wees.

20 Die vis, voëls en diere, alles wat beweeg en al die mense sal voor My bewe. Berge sal omgegooi word, kranse sal inmekaarstort en mure sal omval.

21 Ek stuur ’n swaard teen Gog op my berge, sê die oppermagtige Here. Elkeen sal teen sy broer baklei.

22 Dan straf Ek jou met siekte en dood. Ek stort wolkbreuke, hael, vuur en brandende swael uit oor jou en jou soldate en die baie nasies saam met jou.

23 So wys Ek hoe groot en heilig Ek is. Baie nasies sal My leer ken. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 39

Slagting van Gog se soldate

1 “Mensekind, profeteer teen Gog. Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Ek is jou vyand, Gog, grootkoning van Mesek en Tubal.

2 Ek draai teen jou en dryf jou na die berge van Israel. Ek bring jou uit die verre noorde, na die berge van Israel.

3 Ek slaan jou boog uit jou linkerhand en jou pyle uit jou regterhand.

4 Jy en jou baie soldate sal op die berge doodgemaak word. Ek maak julle kos vir die aasvoëls en wilde diere.

5 Jy sal op die oop veld val, sê die oppermagtige Here.

6 Ek gooi vuur op Magog en al sy bondgenote wat veilig langs die kus bly. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.

7 “So sal die mense van Israel My leer ken as die Heilige. Ek sal nie dat hulle my verder ontheilig nie. En die nasies sal ook besef dat Ek die Here is, die Heilige van Israel.

8 Die oordeelsdag kom nader, sê die oppermagtige Here. Dit sal gebeur net soos Ek gesê het.

9 “Dan sal die mense van die dorpe van Israel uitgaan en met jou soldate se wapens vuur maak – met groot en klein skilde, boë en pyle, steekspiese en werpspiese. Hulle sal sewe jaar lank daarmee kan vuur maak.

10 Dit sal nie nodig wees om in die veld hout bymekaar te maak of in die bos te kap nie. Hulle sal met jou wapens vuur maak. Hulle sal dié plunder wat hulle geplunder het en buit vat van dié wat by hulle buit wou vat, sê die oppermagtige Here.

11 “Ek maak ’n begraafplaas vir Gog in Israel, in Reisigersvallei, oos van die Dooie See. Die begraafplaas sal reisigers se pad versper. Hulle sal die plek Vallei van Gog se menigtes noem.

12 “Die mense van Israel sal sewe maande nodig hê om die land van al die lyke skoon te maak.

13 Elkeen in Israel sal help. Dit gaan ’n wonderlike oorwinning vir Israel wees daardie dag wanneer Ek vereer word, sê die oppermagtige Here.

14 “Aan die einde van sewe maande sal mense aangestel word om die land te deursoek vir lyke en om hulle te begrawe sodat die land skoongemaak kan word.

15 Waar geraamtes gekry word, sal hulle ’n teken oprig sodat die ondernemers dit kan sien en die lyke in die Vallei van Gog se menigtes kan begrawe.

16 (Daar sal selfs ’n stad wees met die naam ‘Menigtes’.) So sal die land uiteindelik skoongemaak word.

17 “Mensekind, roep nou al die voëls en wilde diere, sê die oppermagtige Here. Sê vir hulle: Kom bymekaar vir die groot offerfees! Kom van ver en naby na die berge van Israel, kom eet die vleis en drink die bloed!

18 Eet die vleis van magtige mense en drink die bloed van prinse asof hulle ramme en lammers, bokke en bulle is, almal vetgevoerde diere van Basan!

19 Eet vet vleis tot julle oorversadig is, drink bloed tot julle dronk is. Ek het die offerfees vir julle reggemaak.

20 Eet julle versadig aan perde en ruiters, magtige mense en soldate, sê die oppermagtige Here.

21 “So sal Ek myself onder die nasies vereer. En hulle sal sien hoe Ek hulle straf as Ek my hand op hulle lê.

22 Van daardie dag af sal die mense van Israel besef dat Ek, die Here, hulle God is.

23 Die nasies sal ook weet hoekom Ek Israel in ballingskap weggestuur het. Dit was as straf vir hulle sondes, want hulle was ontrou aan My. Daarom het Ek my rug op hulle gedraai en toegelaat dat hulle vyande hulle vernietig.

24 Ek het my gesig weggedraai en hulle gestraf vir hulle besoedelde leefwyse en oortredings.”

Die herstel van God se volk

25 “So sê die oppermagtige Here: Ek sal Jakob terugbring uit ballingskap en My ontferm oor die mense van Israel, want Ek gaan die eer van my Naam beskerm.

26 Die dag as hulle veilig in hulle land bly en vir niemand hoef bang te wees nie, sal hulle die skande en die ontrouheid vergeet waarmee hulle My behandel het.

27 Wanneer Ek hulle huis toe bring uit die lande van hulle vyand, sal Ek vir die nasies wys dat Ek heilig is.

28 Dan sal my volk besef dat Ek, die Here, hulle God is. Dis Ek wat hulle in ballingskap weggestuur het en dis Ek wat hulle huis toe bring. Ek laat nie een agterbly nie.

29 En Ek sal nooit weer my rug op hulle draai nie, want Ek sal my Gees oor die mense van Israel uitgiet, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 40

Die nuwe tempel

1 Op 28 April in die 25ste jaar van ons ballingskap, veertien jaar ná die val van Jerusalem, was die Here se hand op my.

2 In visioene het God my na die land Israel geneem en my op ’n hoë berg neergesit. Van daar kon ek iets sien soos ’n stad oorkant my, na die suidekant toe.

3 Soos Hy my naderbring, sien ek ’n man wie se gesig soos koper blink en wat by ’n hek staan. Hy het ’n maatband en ’n meetstok in sy hand gehad.

4 Dié man sê toe vir my: “Mensekind, kyk en luister aandagtig. Gee aandag aan alles wat ek vir jou wys. Jy het hiernatoe gekom sodat ek jou baie dinge kan wys. Dan kan jy na die mense van Israel teruggaan en hulle vertel wat jy alles gesien het.”

Die oostelike ingang

5 Ek sien toe ’n muur wat die hele tempelarea omring. Die man se meetstok was drie meter lank. Hy het die muur gemeet, en dit was drie meter breed en drie meter hoog.

6 Toe het hy na die ingang gegaan by die oostelike muur, die trappe opgeklim en die drumpel van die ingang gemeet. Dit was drie meter breed.

7 Die sykamers vir die wagte aan elke kant was elkeen drie vierkante meter, en die mure tussen die sykamers was elkeen twee en ’n half meter dik. Agter teen die poortgebou was daar ’n ingangsportaal, en die drumpel na die portaal was drie meter breed.

8 Hy het ook die ingangsportaal na die hek gemeet,

9 en dit was vier meter. Die pilare wat dit gedra het, was een meter dik. Dié ingangsportaal was aan die binnekant van die ingang en het na die tempel gekyk.

10 Daar was drie sykamers vir wagte aan weerskante, almal ewe groot, en die mure tussenin was ewe dik.

11 Die man het die ingang gemeet, wat vyf meter wyd was as dit oop staan, maar die volle wydte van die poort was ses en ’n half meter.

12 Voor elkeen van die sykamers was ’n afskorting van ’n half meter dik. Die sykamers was elkeen drie vierkante meter.

13 Hy het toe verder die volle lengte van die ingang gemeet tussen die agterste mure van die sykamers wat na mekaar kyk, en dit was twaalf en ’n half meter wyd.

14 Hy het die skeidingsmure al langs die binnekant van die ingang gemeet tot by die voorportaal, en die lengte was 30 meter.

15 Die volle lengte van die toegangsportaal tot by die ingang was 25 meter.

16 Agter in die sykamers en in die skeidingsmure was vensteropenings ingelaat. Daar was ook vensters in die voorportaal. Die skeidingsmure was versier met gekerfde palmbome.

Die buitenste voorhof

17 Die man het my toe na die buitenste voorhof gevat. Rondom die voorhof was daar vertrekke en ’n plaveisel. Daar was 30 vertrekke teenaan die plaveisel.

18 Die plaveisel was weerskante van die ingange en was so breed soos die voorpoorte. Dit was die laer plaveisel.

19 Die man het toe die afstand gemeet tussen die tempel se buitenste voorhof tussen die binneste en buitenste ingange, en dit was 50 meter.

Die noordelike ingang

20 Daar was ’n ingang aan die noordekant net soos aan die oostekant, en die man het dit ook gemeet.

21 Hier was ook drie sykamers vir wagte en ’n voorportaal. Die afmetings was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd, net soos die ander ingang.

22 Die vensters, toegangsportaal en palmversierings was identies aan dié van die oostelike ingang. Daar was sewe trappe wat na die ingang gelei het, en die ingangsportaal was binne-in die poort.

23 Net soos aan die oostekant was daar ook aan die noordekant ’n poortgebou wat na die binnekant van die tempel gelei het. Die afstand tussen die buitenste en die binneste poorte was 50 meter.

Die suidelike ingang

24 Daarna neem die man my na die suidekant toe, waar die suidelike ingang was. Hy het die tussenmure en die toegangsportaal van die poortgebou gemeet, en dit was presies dieselfde as dié in die ander poortgeboue.

25 Net soos die ander, het die toegangsportaal ook vensteropenings rondom gehad wat 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd was.

26 Daar was sewe trappe op na die ingang toe en agterin was ’n toegangsportaal. Die mure aan weerskante was met palms versier.

27 Reg oorkant die buitenste ingang was nog ’n poort wat na die binneste hof gelei het. Die afstand tussen die binneste en die buitenste poortgeboue aan die suidekant was 50 meter.

Ingange na die binneste hof

28 Daarna het die man my deur die suidelike ingang na die binneste voorhof toe gebring. Hy het dit gemeet en die afmetings was dieselfde as by die ander ingange.

29 Die sykamers, die tussenmure en toegangsportaal in dié gebou was dieselfde grootte as in die ander. Daar was ook vensteropenings langs die mure en in die voorportaal wat 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd was.

30 Elke poortgebou het ’n toegangsportaal gehad wat twaalf en ’n half meter lank en twee en ’n half meter wyd is.

31 Die voorportaal van die suidelike ingang het op die buitenste voorhof uitgekyk. Die mure was met palms versier, en agt trappe het na die ingang gelei.

32 Daarna het die man my na die oostelike ingang van die binneste voorhof gevat. Hy het die poort daar gemeet. Die afmetings was dieselfde as dié van die ander.

33 Die sykamers, die tussenmure en die toegangsportaal in dié gebou het dieselfde afmetings gehad as in die ander. Daar was ook vensteropenings langs die mure en in die voorportaal. Die ingang was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.

34 Die voorportaal het op die buitenste voorhof uitgekyk. Daar was palmversierings aan die mure aan weerskante, en agt trappe het na die ingang gelei.

35 Daarna het die man my na die noordelike ingang gevat. Hy het dit gemeet, en die afmetings was dieselfde as die ander ingange.

36 Die sykamers, mure en toegangsportaal het dieselfde afmetings as die ander gehad, en daar was ook vensteropenings rondom. Die ingang was 25 meter lank en twaalf en ’n half meter wyd.

37 Sy voorportaal het op die buitenste voorhof uitgekyk, en daar was versierings van palms aan die mure. Agt trappe het na die ingang gelei.

Kamers om die offers voor te

berei

38 ’n Deur het uit die voorportaal na die binneste ingang aan die noordelike kant gelei, na ’n sykamer waar die vleis vir die offers gewas is voor dit na die altaar geneem is.

39 Aan elke kant van hierdie voorportaal was daar twee tafels waar die offerdiere geslag is vir die brandoffer, sonde-offer en skuldoffer.

40 Buite, langs die voorportaal, aan elke kant van die trappe wat na die noordelike ingang opgaan, was nog twee tafels. Aan die ander kant van die trappe was daar ook twee tafels.

41 Daar was dus agt tafels in totaal, vier binne en vier buite. Dis waar die offers opgesny en voorberei is.

42 Daar was ook vir die voorbereiding van die brandoffer vier tafels van gekapte klip, elkeen ’n driekwart vierkante meter en ’n half meter hoog. Op hierdie tafels is die slagmesse neergesit om die brandoffer en ander offers te slag.

43 Hier was hake, elkeen agt sentimeter lank, wat aan die voorportaal se muur vas is. Die offervleis is op die tafels neergesit.

Kamers vir die priesters

44 Binne die binneste voorhof was daar twee geboue met vertrekke vir die sangers, een teen die noordelike ingang wat suid kyk en die ander teen die oostelike ingang wat noord kyk.

45 Die man sê toe vir my: “Die gebou langs die noordelike binneste ingang is vir die priesters wat in die tempel werk.

46 Die vertrek langs die suidelike binne ingang is vir die priesters, die nageslag van Sadok, wat by die altaar diens doen. Net hulle alleen van al die Leviete mag voor die altaar kom om die diens aan die Here te verrig.”

Die binneste voorhof en die

tempel

47 Die man het die binneste voorhof gemeet en dit was 50 vierkante meter. Die altaar het daar in die hof voor die tempel gestaan.

48 Daarna het hy my na die voorportaal van die tempel toe gebring. Hy het die pilare gemeet wat die struktuur ondersteun, en dit was twee en ’n half meter lank aan weerskante. Die ingang was een en ’n half meter breed aan weerskante.

49 Die portaal was tien meter lank en ses meter breed. Tien trappe het na die ingang gelei. Daar was pilare teen die mure weerskante van die ingang, een aan elke kant.