ESEGIËL 21

Die Here se swaard van oordeel

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, kyk na Jerusalem en profeteer teen Israel en haar heiligdomme. Profeteer teen die land Israel.

3 Sê vir haar die Here sê: Ek is jou vyand, Israel, en Ek is besig om my swaard te trek om jou mense daarmee dood te maak, sowel regverdiges as slegte mense.

4 Ja, Ek spaar nie eens die regverdiges nie. My swaard tref elkeen in die land, van die suide tot die noorde.

5 Die hele wêreld sal weet dat Ek die Here is. My swaard is in my hand, en Ek sal dit nie terugsit voordat sy werk klaar is nie.

6 “Mensekind, kreun voor die volk! Kreun voor hulle met ’n gebroke hart omdat jy bitter hartseer is.

7 En as hulle jou vra: ‘Hoekom kreun jy so?’ sê vir hulle: ‘Ek kreun oor die verskriklike nuus wat ek gehoor het. Wanneer dit waar word, gaan die dapperste hart van vrees wegsmelt. Almal se krag sal verdwyn. Elke mens sal flou word. Die sterkste knieë sal bewe en so swak word soos water.’ Die oppermagtige Here sê: Dit kom! Dis op pad!”

8 Toe sê die Here vir my:

9 “Mensekind, sê vir die mense die Here sê:

“’n Swaard word skerp gemaak

en blink gevryf.

10 Dit word gereed gekry

vir ’n verskriklike slagting.

Dit sal blink soos weerlig!

Lag julle daaroor?

Ander wat baie sterker as jy is,

het al voor sy mag geval!

11 Ja, die swaard

word skerp en blink gemaak.

Dit word gereed gekry

vir die laksman.

12 “Mensekind, roep uit en huil,

want die swaard

is teen my volk gerig.

Dit is gerig

teen die leiers van Israel,

uitgelewer om deur die swaard

te sneuwel.

Slaan met jou hande

teen jou heupe

omdat jy ontsteld is!

13 Almal sal getoets word.

Die oppermagtige Here vra nou:

Watter kans het hulle?

14 “Mensekind,

profeteer teen hulle.

Klap jou hande.

Vat dan die swaard,

swaai dit heen en weer,

twee keer, drie keer,

want dit gaan mense doodmaak

en hulle heeltemal

deurboor.

15 Laat hulle harte wegsmelt

van skrik,

want die swaard blits

by al hulle poorte.

Dit blits soos weerlig,

blink gevryf

om dood te maak.

16 Swaard, slaan na regs,

slaan na links,

wie jy ook al wil tref!

17 Ek klap ook my hande,

want my woede sal afkoel.

Ek, die Here, het dit gesê.”

’n Teken vir Babilon se koning

18 Toe het die Here vir my gesê:

19 “Mensekind, teken ’n kaart met twee roetes daarop wat die koning van Babilon se swaard kan volg. En sit ’n padteken langs die pad wat uit Babilon kom, net daar waar die pad vurk.

20 Die een pad gaan na Ammon en sy hoofstad Rabba, en die ander na Juda en die versterkte stad Jerusalem.

21 “Die koning van Babilon staan nou by die vurk in die pad. Hy weet nie watter een hy moet aanval nie. Hy roep sy towenaars om die voortekens te lees. Hulle skud pyle, raadpleeg die gode en ondersoek ’n dier se lewer.

22 In sy regterhand kom die teken: Draai na Jerusalem toe! Hulle beweeg met stormramme na die poorte toe. Hy gee die bevel om aan te val. Hulle bou ’n beleëringswal en torings teen die stad om oor die muur te kom.

23 “Die mense van Jerusalem dink dis ’n fout, want het hulle nie ’n ooreenkoms met die koning van Babilon aangegaan nie? Maar die koning van Babilon herinner hulle aan hulle opstandigheid. Hy val hulle aan en neem hulle gevange.

24 “Daarom sê die oppermagtige Here: Weer en weer het julle gewys hoe skuldig julle is. Julle kry nie eers skaam oor julle opstandigheid nie! Julle probeer dit nie eens wegsteek nie. Waar julle gaan en wat julle doen, alles is net sonde! Daarom het die tyd gekom dat julle gestraf word.

25 “Korrupte en slegte leier van Israel, jou dag van afrekening het aangebreek.

26 Haal af jou kopdoek en jou kroon, sê die oppermagtige Here.

“Alles het verander. Die magteloses word nou verhoog, en die magtiges word verneder.

27 Ek vernietig! Ek vernietig die koninkryk! En dit sal nie herstel word nie tot die een kom wat regverdig oordeel. Dan gee Ek dit oor in sy hand.”

’n Boodskap vir die Ammoniete

28 “En nou, mensekind, profeteer oor die Ammoniete en hulle gespot. Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:

“Ek het my swaard getrek

vir die slagting!

Dit is skerp gemaak

om te vernietig

en dit blits soos weerlig!

29 Jou towenaars en vals profete

sien gesigte

wat nie bestaan nie

en vertel leuens

oor die oorlog.

En nou breek die oorlog uit

teen mense wat boos is.

Die finale dag van afrekening

het vir hulle aangebreek.

30 Sal Ek die swaard terugsit

voordat Ek met jou

afgereken het?

Nee, Ek vernietig jou

in jou eie land,

die land waar jy gebore is.

31 Ek stort my wraak uit oor jou.

Ek koel my woede af op jou.

Ek gee jou oor aan wrede mense

wat weet hoe om mense

te vernietig.

32 Jy is brandstof vir die vuur.

Jou bloed loop in jou eie land.

Jy sal volledig uitgeroei word.

Niemand

sal jou meer onthou nie!

“Ek, die Here, het so gesê.”

ESEGIËL 22

Die sondes van Jerusalem

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, is jy gereed om Jerusalem te oordeel? Is jy gereed om die stad vol moordenaars te oordeel? Konfronteer die stad dan met sy verskriklike dade.

3 Sê vir hom die oppermagtige Here sê: Stad van moordenaars, jy het die oordeel oor jouself gebring. Stad vol afgode, jy het jouself besoedel.

4 Jy is skuldig aan moord en afgodsdiens. Jou dag van vernietiging het aangebreek! Jy het aan die einde van jou lewe gekom. Ek maak jou iets waarmee mense oor die hele wêreld sal spot.

5 Mense van naby en van ver sal met jou die spot dryf, stad vol onreinheid en verwarring.

6 “Elke leier in Israel wat in jou bly, is daarop uit om moord te pleeg.

7 Julle behandel julle pa’s en ma’s met minagting. Julle verdruk vreemdelinge wat tussen julle woon. Julle mishandel en onderdruk weeskinders en weduwees.

8 Julle sien neer op heilige dinge. Julle minag my Sabbatdae.

9 Mense kla mekaar valslik aan en sorg dat hulle onskuldig doodgemaak word. Jy is vol afgodsdienaars en mense wat afskuwelike dade pleeg.

10 Mans slaap saam met hulle pa’s se vroue en vroue wat menstrueer.

11 In jou bly daar mans wat met getroude vroue egbreuk pleeg, ander wat saam met hulle skoondogters slaap of hulle eie halfsusters verkrag.

12 Daar is mense wat hulleself uithuur om moord te pleeg, hulle vat rente en woekerwins, hulle pleeg bedrog en loop mense in. Hulle dink nie eers aan My en steur hulle nie aan my wil nie, sê die oppermagtige Here.

13 “Nou slaan Ek my hande saam oor die oneerlike wins wat jy maak en die moorde wat jy pleeg.

14 Hoe selfversekerd sal jy in die dag van afrekening wees? Ek, die Here, vra jou. Ek gaan doen wat Ek gesê het:

15 Ek verstrooi jou tussen die nasies, oor die hele wêreld. Ek maak jou skoon van al jou boosheid.

16 En wanneer julle tussen die nasies onrein geword het, sal julle weet dat Ek die Here is.”

Die Here is ’n smeltoond

17 Toe het die Here vir my gesê:

18 “Mensekind, die mense van Israel is waardelose metaalskuim wat agterbly ná die silwer gesmelt is. Hulle is die onsuiwerheid wat agterbly, ’n nuttelose mengsel van koper, tin, yster en lood.

19 Daarom moet jy vir hulle sê die oppermagtige Here sê: Omdat jy waardelose metaalskuim is, bring Ek jou na die smeltoond in Jerusalem.

20 Daar sal Ek jou smelt in die hitte van my woede, nes koper, tin, yster en lood in die smeltoond gesmelt word.

21 Ek sal jou bymekaarmaak in die vuur van my woede. En jy sal gesmelt word.

22 Jy sal soos silwer smelt in hoë hitte. Dan sal jy erken dat dit Ek, die Here, is wat my wraak oor jou uitgegiet het.”

Die sondes van Israel se leiers

23 Die Here het nog ’n keer met my gepraat:

24 “Mensekind, sê vir die mense van Israel Ek sê: In die dag wat my toorn oor julle losbreek, sal julle soos ’n woestyn word waar geen reën val nie.

25 Jou leiers smee komplotte in jou, nes leeus wat hulle prooi bekruip. Hulle vreet onskuldige mense op en vat hulle skatte en rykdom vir hulleself. Hulle maak baie vroue weduwees.

26 Jou priesters steur hulle nie aan my wette nie. Hulle onteer dinge wat vir My heilig is, en maak nie ’n onderskeid tussen wat heilig en onheilig is nie. Hulle leer ook nie die mense wat die verskil tussen rein en onrein is nie. Hulle steur hulle nie aan my Sabbatdae nie. Mense minag My deur wat hulle doen.

27 Jou leiers is nes wolwe wat hulle slagoffers uitmekaarskeur. Hulle vernietig mense se lewens vir wins!

28 En jou profete maak gekraakte mure reg deur kalk daaroor te smeer. Hulle kondig gesigte aan wat hulle nie gesien het nie, en bring vals boodskappe. Hulle sê: ‘So sê die oppermagtige Here,’ terwyl die Here nie ’n enkele woord met hulle gepraat het nie!

29 Selfs gewone mense verdruk die armes, besteel behoeftiges en verdruk vreemdelinge sonder om die reg in ag te neem.

30 “Ek het gesoek na iemand wat die muur wat die land beskerm, kon herbou, na iemand wat voor My in die gaping in die muur kon staan sodat Ek nie die land hoef te vernietig nie, maar Ek het niemand gekry nie.

31 Daarom gaan Ek nou my wraak oor hulle uitgiet en hulle in die vuur van my woede verbrand. Hulle kry wat hulle verdien het, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 23

Egbreuk van twee susters

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, daar was twee sussies, dogters van dieselfde ma.

3 Hulle het prostitute in Egipte geword. Selfs as jong kinders het hulle al toegelaat dat hulle betas en geliefkoos word.

4 Die ouer dogter se naam was Ohola, en haar sussie was Oholiba. Ek het met hulle getrou, en hulle het seuns en dogters by My gehad. Ohola is Samaria, en Oholiba is Jerusalem.

5 “Ohola was ontrou aan My. Sy het ander minnaars, die Assiriërs wat haar bure was, bo My verkies.

6 Hulle was almal aantreklike jong mans, goewerneurs en bevelvoerders, met pers klere aan. Hulle het op perde rondgejaag.

7 Sy was ’n prostituut vir die begeerlikste Assiriërs. En sy het die gode van haar minnaars aanbid.

8 Toe sy weggetrek het uit Egipte waar sy saam met jong mans geslaap het wat haar as maagd onteer het, het sy nie opgehou om haar as prostituut aan te bied nie.

9 Daarom het Ek haar aan haar minnaars oorgelewer, die Assiriërs wat sy so begeer het.

10 Hulle het haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. Hulle het haar kinders weggeneem. Elke vrou in die land het van haar geweet: sy was die sondaar wat gekry het wat sy verdien het.

11 “Alhoewel Oholiba gesien het wat met haar sussie gebeur, het sy aangehou om presies net so te maak. Trouens, sy was selfs nog erger. Sy het haar ten volle oorgegee aan haar sonde en prostitusie.

12 Sy het na die Assiriërs gesmag, die aantreklike jong mans op trotse perde, goewerneurs en bevelvoerders in mooi klere. Almal van hulle was begeerlik.

13 Ek het gesien hoe sy haar verontreinig het, hoe albei sussies dieselfde doen.

14 “Maar sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat teen ’n muur geverf was, prentjies van Babiloniese offisiere, met rooi verf geverf.

15 Hulle het mooi gordels gedra, met kopdoeke om hulle koppe. Hulle het nes die offisiere gelyk wat uit Babilonië kom.

16 Toe sy hulle sien, het sy daarna gesmag om haarself vir hulle te gee. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur.

17 Hulle het gekom en by haar kom slaap. Hulle het haar met hulle onsedelikheid kom besoedel. Later het sy ’n weersin in hulle gekry en haar verhouding met hulle verbreek.

18 “Daarom het Ek ’n weersin in Oholiba gekry, net soos in haar suster. Sy het mos haar lyf verkoop en haarself vir enigeen uitgetrek.

19 Maar sy het nie omgegee nie. Sy het net nog meer onsedelik geraak, nes in die dae toe sy nog jonk was, ’n prostituut in Egipte.

20 Daar het sy agter haar minnaars aangeloop, wat so driftig soos donkie- en perdehingste was.

21 Ja, jy het gesmag na jou afskuwelike gedrag in Egipte toe jy jonk was, toe jy toegelaat het dat jy betas en geliefkoos word.”

Die Here oordeel Oholiba

22 “Daarom, Oholiba, so sê die oppermagtige Here: Ek stuur jou minnaars in wie jy ’n weersin gekry het as vyande teen jou. Hulle sal van alle kante af teen jou kom.

23 Die Babiloniërs sal saam met al die Galdeërs kom vanaf Pekod en Soa en Koa. En die Assiriërs sal saam met hulle kom – aantreklike jong goewerneurs en bevelvoerders, offisiere en belangrike mense, almal te perd.

24 Hulle sal vanuit die noorde teen jou kom met strydwaens, waens en ’n groot leërmag. Hulle sal aan elke kant teen jou stelling inneem en jou omring met soldate wat gereedstaan vir die geveg. Ek sal jou aan hulle oorgee, en hulle sal met jou maak net wat hulle wil.

25 Ek stort my wraak uit oor jou. Hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en ore afsny. Enigeen wat dit oorleef, sal in die geveg doodgemaak word. Hulle sal jou kinders wegvoer en alles wat agterbly, verbrand.

26 Jou klere en juwele sal hulle vir hulleself vat.

27 So maak Ek ’n einde aan jou afstootlike optrede en prostitusie wat jy van Egipte af saamgebring het. Jy sal nooit weer na jou minnaars soek nie, en nie meer aan Egipte dink nie.

28 “So sê die oppermagtige Here: Ek sal jou oorgee aan jou vyande, dié wat jy geminag het.

29 Hulle sal jou met haat behandel, alles vat waarvoor jy gewerk het, en jou kaal agterlaat. Die hele wêreld sal jou kaal sien staan in jou afskuwelike onsedelikheid.

30 Ek het dit alles oor jou gebring omdat jy ’n prostituut vir die nasies geword het en jou met hulle afgode besoedel het.

31 Jy het nes jou sussie gemaak; daarom straf Ek jou op dieselfde manier as vir haar.

32 “So sê die oppermagtige Here:

Jy sal dieselfde beker moet drink

as jou sussie,

’n beker wat groot en diep is.

Almal sal met jou spot

omdat jou straf so groot is.

33 Jy sal in jou hartseer

soos ’n dronkaard rondslinger,

net soos jou sussie, Samaria.

34 Jy sal die beker drink,

dit leeg drink,

en dit stukkend breek

terwyl jy jou borste oopruk,

sê die oppermagtige Here.

35 “Omdat jy My vergeet het en jou rug op My gedraai het, sê die oppermagtige Here, sal jy die gevolge van jou afskuwelike onsedelikheid moet dra.”

Die Here se oordeel oor albei

susters

36 Die Here het vir my gesê: “Mensekind, kla Ohola en Oholiba aan oor hulle verskriklike dade.

37 Hulle het egbreuk en moord gepleeg – egbreuk deur afgode te aanbid, en moord toe hulle hulle kinders as offers op hulle altare verbrand het.

38 Ná dit alles het hulle ook my woonplek verontreinig en my Sabbatdae geminag.

39 Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor die afgode vermoor het, het hulle ewe dapper in my woonplek gekom om My te aanbid! Hulle het ingestap en my huis verontreinig!

40 “Julle het boodskappers na ver lande gestuur om mans te kry. Toe hulle aankom, het jy jouself vir hulle gebad, jou gesig opgemaak en jou mooiste juwele aangesit om hulle te beïndruk.

41 Jy het saam met hulle op ’n mooi bed gaan sit. Die wierook en olie wat Ek vir jou gegee het, het jy op die tafel voor jou geplaas.

42 Die geraas van sorgelose mense kon uit jou slaapkamer gehoor word. Hulle was dronkaards uit die woestyn wat vir jou armbande aangesit en mooi krone opgesit het.

43 Toe het Ek gesê: ‘Het hulle by ’n ou prostituut wat opgebruik is, kom slaap? Dis wat sy is!’

44 En dis wat hulle gedoen het. Hulle het by Ohola en Oholiba geslaap, die skaamtelose prostitute.

45 Regverdige mense sal die twee susterstede oordeel vir wat hulle eintlik is: egbrekers en moordenaars. Regverdige mense sal hulle die straf oplê wat hulle verdien.

46 “So sê die oppermagtige Here: Bring ’n hele leër teen hulle en laat hulle geterroriseer en geplunder word!

47 Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en met swaarde doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters slag en hulle huise afbrand.

48 Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor die afskuwelike optrede in die land. En alle vroue sal dit sien en nie dieselfde dinge as hulle doen nie.

49 Julle sal gestraf word vir julle afskuwelike optrede, toe julle afgode aanbid het. Julle sal die straf moet dra! Dan sal julle agterkom dat Ek die oppermagtige Here is.”

ESEGIËL 24

Die teken van die kokende pot

1 Op 15 Januarie, in die negende jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:

2 “Mensekind, skryf vandag se datum op, want vandag het die koning van Babilon met sy aanval op Jerusalem begin.

3 Gee dan ’n gelykenis vir hierdie opstandelinge. Gaan sê vir hulle wat die oppermagtige Here sê:

“Sit ’n pot water op die vuur

om te kook.

4 Maak dit vol

met die beste vleis,

die boud en blad

en die beste van die bene.

5 Gebruik net die beste skaap

uit jou kudde

en pak hout op die vuur

onder die pot.

Laat die pot kook,

kook die bene

saam met die vleis.

6 “Die oppermagtige Here sê:

Rampe wag verseker

vir Jerusalem,

die stad vol moordenaars!

Sy is ’n pot vol korrupsie.

Vat dan die vleis stuk vir stuk,

sonder om uit te soek.

7 Haar boosheid

is vir almal duidelik.

Sy maak sommer net dood

en los die bloed op die rotse

sodat almal dit kan sien.

Sy probeer dit nie eens

toesmeer nie.

8 Daarom sal Ek haar bloed

op die rotse laat spat

om te wys

hoe kwaad Ek vir haar is.

Niemand sal dit probeer

toesmeer nie.

9 “Die oppermagtige Here sê:

Rampe wag verseker

vir Jerusalem,

die stad vol moordenaars!

Ek sal self hout op die vuur

onder haar pak.

10 Ja, pak die vuur aan!

Laat die vuur dreun

tot die water kook.

Kook die vleis goed,

met baie speserye.

Verbrand dan die bene.

11 Sit die leë pot op die kole

en maak dit rooiwarm

sodat die vuilheid en roes

kan afbrand.

12 Maar dis hopeloos!

Die roes wil nie

van die pot afbrand nie.

Daarom, gooi dit in die vuur!

13 “Die vuilheid is jou afskuwelike dade. Ek het jou probeer skoonmaak, maar jy het geweier. Daarom sal jy vuil bly tot my wraak teen jou afgekoel is.

14 Ek, die Here, het so gesê! Die tyd het gekom en niks kan dit terughou nie. Ek verander nie van gedagte nie. Ek sal jou nie weer jammer kry nie. Jy sal geoordeel word op grond van jou afskuwelike dade, sê die oppermagtige Here.”

Die dood van Esegiël se vrou

15 Toe het die Here vir my gesê:

16 “Mensekind, Ek gaan jou vrou, jou kosbaarste skat, van jou wegneem. Sy sal skielik doodgaan. Maar jy mag op geen manier wys dat jy hartseer is nie. Moenie huil nie. Jy mag nie ’n traan stort nie.

17 Jy mag sug, maar net saggies by jouself. Jy mag ook nie by haar graf huil nie. Moenie doen wat mense doen en eet wat hulle eet as hulle oor die dood van ’n geliefde rou nie.”

18 Ek het dit die volgende môre vir die mense gesê. Daardie aand het my vrou gesterf. Die volgende oggend het ek alles gedoen wat ek beveel is.

19 Die mense het my gevra: “Wat beteken dit alles? Wat probeer jy vir ons sê?”

20 Ek het toe gesê: “Die Here het vir my gesê

21 dat ek dié boodskap vir die mense van Israel moet gee. Dit is wat die oppermagtige Here sê: Ek gaan julle tempel, julle trots, julle vreugde en die blydskap van julle harte, ontheilig. Julle seuns en dogters wat in Judea oorbly, sal in die oorlog omkom.

22 Daardie dag sal julle soos Esegiël maak. Julle sal nie in die openbaar huil nie en julleself nie troos deur die kos te eet wat julle vriende bring nie.

23 Julle sal nie rouklere aantrek nie. En julle sal nie huil en treur nie. Nee, julle sal vergaan onder die straf vir julle sondes. Julle sal stilweg huil oor die bose dinge wat julle aangevang het.

24 Ja, Esegiël is die voorbeeld wat julle moet volg. Julle sal doen wat hy gedoen het. Wanneer dit gebeur, sal julle erken dat Ek die oppermagtige Here is.”

25 Die Here sê toe ook nog vir my: “Mensekind, die dag as Ek hulle vesting wegvat, hulle vreugde en glorie, hulle harte se begeerte en hulle kosbaarste besitting, sal Ek ook hulle seuns en dogters wegvat.

26 Op daardie dag sal iemand wat uit Jerusalem gevlug het, die nuus vir jou bring.

27 En as hy hier aankom, sal jy jou stem skielik terugkry sodat jy met hom sal kan praat. Jy sal ’n teken vir hierdie mense wees. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 25

’n Boodskap vir Ammon

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, kyk in die rigting van die land van Ammon en profeteer teen sy mense.

3 Sê vir die Ammoniete die oppermagtige Here sê: Hoor die boodskap van die oppermagtige Here! Jy het met my volk gespot toe my woonplek ontheilig is, en Israel geminag toe hy verlate gemaak is. Jy het gelag omdat Juda in ballingskap weggevoer is.

4 “Daarom laat Ek toe dat die mense van die ooste jou vir hulle vat. Hulle sal kampe rondom jou opslaan en hulle tente in jou land oprig. Hulle sal jou vrugte eet en jou vee steel.

5 “Ek verander die stad Rabba in ’n weiveld vir kamele en Ammon sal ’n skaapkraal word. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.

6 “Die oppermagtige Here sê: Jy het ewe hatig jou hande geklap en voete gestamp en gejuig toe my volk vernietig is;

7 daarom lig Ek my vuis teen jou. Jy sal buit vir die nasies word. Jy sal nie meer ’n nasie wees nie. Ek vernietig jou heeltemal. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”

’n Boodskap vir Moab

8 “Die oppermagtige Here sê: Die mense van Moab en Seïr sê Juda is maar net soos al die ander nasies;

9 daarom stroop Ek Moab van sy stede, sy mooi stede. Bet-Jesimot, Baäl-Meon en Kirjatajim, die grensstede, sal verwoes word.

10 Ek gee Moab oor aan die mense van die ooste, net soos Ek met Ammon gemaak het. Die Ammoniete sal nie meer tussen die nasies getel word nie.

11 “Op dieselfde manier bring Ek my oordeel oor die Moabiete. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”

’n Boodskap vir Edom

12 “Die oppermagtige Here sê: Die mense van Edom het afgryslik gehandel toe hulle hulleself op die mense van Juda gewreek het.

13 Daarom sê die oppermagtige Here: Ek lig my vuis teen Edom om hom te oordeel. Mens en dier wis Ek uit met die swaard. Ek maak die land verlate. Van Teman tot by Dedan sal almal doodgemaak word.

14 Ek gebruik Israel om My op Edom te wreek. Hulle sal my woede op Edom afkoel. Edom sal my wraak smaak. Ek, die oppermagtige Here, het so gesê.”

’n Boodskap vir Filistea

15 “Die oppermagtige Here sê: Die Filistyne het wraaksugtig opgetree en hulle op Juda gewreek, want vir baie lank haat hulle die mense van Juda.

16 Daarom sê die oppermagtige Here: Ek lig my vuis van oordeel teen die land van die Filistyne. Ek wis die Kretense uit, die mense wat by die see leef.

17 Ek gaan My volledig op hulle wreek en hulle in my woede straf. En as Ek My op hulle gewreek het, sal hulle besef dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 26

’n Boodskap vir Tirus

1 Op 3 Februarie, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

2 “Mensekind, Tirus verlekker hom oor Jerusalem wat geval het. Hy sê: ‘Aha! Haar beheer oor die handelsroetes na die ooste is verby. Nou gaan ek ryk word omdat sy vernietig is!’

3 “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek is jou vyand, Tirus. Ek bring baie nasies teen jou. Hulle sal soos die golwe van die see teen jou kus aanrol.

4 Hulle sal die mure van Tirus vernietig en sy torings afbreek. Ek skraap die sand weg sodat net ’n kaal rots agterbly.

5 Niemand sal meer op hierdie eiland bly nie. Die vissermanne sal daar hulle nette uitsprei. So sê Ek, die oppermagtige Here. Tirus sal die prooi van baie nasies word

6 en die dorpies op die vasteland sal deur die swaard vernietig word. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.

7 “Die oppermagtige Here sê: Ek bring koning Nebukadnesar van Babilon, die koning oor konings, uit die noorde, teen Tirus. Hy kom met perde en strydwaens, ruiters en ’n groot leër.

8 Hy sal jou dogterstede wat in die veld is, oorweldig. Dan sal hy jou stad aanval deur ’n beleëringswal teen jou op te gooi en ’n dak van skilde teen jou mure aan te bring.

9 Hy sal jou mure met stormramme omstamp en jou to-rings met sy wapens omgooi.

10 Sy perde sal so baie wees dat jy toe onder die stof sal wees. En jou mure sal bewe van die gedruis van die wapentuig en waens as hulle die stad deur sy stukkende mure binnekom.

11 Sy ruiters sal elke straat vertrap. Hulle sal jou mense doodmaak en jou sterk pilare omgooi.

12 “Hulle sal jou rykdom plunder en jou handelsware steel en jou mure afbreek. Hulle sal jou pragtige huise verwoes en die bakstene en hout en sand in die see gooi.

13 Ek sal julle liedere en julle musiekinstrumente stilmaak.

14 Ek maak jou eiland ’n kaal rots waar vissermanne hulle nette uitsprei. Jy sal nooit weer herbou word nie, want Ek, die Here, sê so! Dit is die woord van die oppermagtige Here.”

Gevolge van Tirus se

vernietiging

15 “So sê die oppermagtige Here vir Tirus: Sal die hele kus nie bewe oor die geluid as jy neerslaan, oor die geskreeu van jou gewondes en die slagting in jou nie?

16 Die konings van die hawestede sal van hulle trone afklim en hulle koninklike klere uittrek. Hulle sal op die grond sit en bewe van angs oor wat met jou gebeur het.

17 Hulle sal oor jou treur en hierdie begrafnislied sing:

“O beroemde eilandstad,

eens het jy oor die see regeer,

en hoe is jy nou verwoes!

Jy het eens met jou mag

oor die hele wêreld

vrees ingeboesem.

18 Die kuslande bewe oor jou val.

Die eilande van die see

is verskrik omdat jy weg is.

19 “So sê die oppermagtige Here: Ek maak Tirus ’n onbewoonde puinhoop. Jy sal onder die groot golwe wegsink. Die groot waters sal oor jou spoel.

20 Ek stuur jou ondertoe saam met dié wat lankal dood is. Jou stad sal in puin onder die aarde begrawe lê, soos hulle wat lankal in die land van die dooies is. Nooit weer sal jy terugkom na die land van die lewendes nie.

21 Ek bring jou tot ’n verskriklike einde. Jy sal nie meer bestaan nie. Hulle sal jou soek, maar jy sal nooit weer gevind word nie. Ek, die oppermagtige Here, sê so.”

ESEGIËL 27

Treurlied oor Tirus

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, sing ’n begrafnislied oor Tirus

3 wat langs die see lê en met baie lande handel dryf. So sê die oppermagtige Here:

“Tirus, jy het gedink

jy is baie mooi.

4 Jy het jou grense uitgebrei

oor die see.

Bouers het jou ’n mooi skip

gemaak.

5 Jy was soos ’n groot skip,

gebou van sipresse uit Senir.

’n Seder van die Libanon

is gebruik vir jou mas.

6 Jou roeispane het hulle

van eike uit Basan gemaak.

Jou dek het hulle

gebou van dennehout

wat kom

van die suidkus van Siprus,

en dit met ivoor ingelê.

7 Jou seile is gemaak

van Egipte se fynste linne.

Dit het soos ’n vlag

bo jou gewapper.

Jy was bedek met wolstof,

pers en rooi

uit die Elisa-eilande.

8 “Jou roeiers

kom uit Sidon en Arwad,

jou matrose

was ervare manne uit Tirus.

9 Goeie vakmanne

het jou lekplekke toegestop.

Skepe het met hulle vrag

van elke land gekom

om met jou handel te dryf.

10 “Manne uit Persië, Lud en Put

het in jou weermag gedien.

Hulle het hulle skilde en helms

aan jou mure opgehang,

en vir jou aansien gegee.

11 Manne uit Arwad en Gelek

het op jou mure wag gestaan.

En manne uit Gammad

het jou torings bewaak.

Hulle skilde

het aan jou mure gehang,

en vir jou groot aansien gegee.

12 “Tarsis was jou agent.

Jy het jou ware verruil

vir silwer, yster, tin en lood.

13 Handelaars uit Griekeland,

Tubal en Mesek

het slawe en koperware gebring.

14 Uit Bet-Togarma het ryperde,

trekperde en muile gekom.

Jy het al hierdie goed geruil

vir wat jy vervaardig het.

15 Handelaars

het ook uit Dedan gekom.

Talle eilande was jou agente.

Hulle het jou betaal

met ivoor en ebbehout.

16 Aram het handelaars gestuur

om met jou besigheid te doen.

Met turkoois, pers wolstof,

fyn linne, koraal en robyne

het hulle vir jou ware betaal.

17 Juda en Israel

het jou ware gekoop,

en betaal met koring uit Minnit,

kos en heuning, olyfolie

en balsemgom.

18 Damaskus het baie produkte

van jou gekoop,

en met wyn uit Gelbon

en wol uit Sagar betaal.

19 Dan en Grieke uit Usal

het jou ware gekoop.

Hulle het met bewerkte yster,

met kaneel

en kalmoes betaal.

20 Vir jou ware het Dedan

met hulle saalkleedjies betaal.

21 “Die Arabiere

en prinse van Kedar

het met lammers, skaapramme

en bokramme

vir jou ware betaal.

22 Die handelaars van Skeba

en Rama

het met allerlei soorte speserye

en met kosbare stene en goud

vir jou ware betaal.

23 Haran, Kanne, Eden,

handelaars van Skeba,

Assirië en Kilmad

het ook met jou handel gedryf.

24 Met mooi blou materiaal,

en geborduurde materiaal,

het hulle betaal,

met veelkleurige matte,

vasgebind met koorde.

25 Die skepe van Tarsis

het jou ware vervoer.

Jou pakhuise

was tot boordens toe vol!”

Vernietiging van Tirus

26 “Kyk, jou roeiers het jou

tot op die diepsee gebring.

Hier sal die oostewind jou skip

in stukke breek.

27 Alles sal verlore gaan,

jou rykdom en handelsware,

jou matrose en seemanne,

jou skeepsbouers,

jou handelaars en soldate.

Almal sal in die diepte verdwyn,

die dag as jy vergaan.

28 “Jou stede langs die see

sal bewe

as jou matrose roep om hulp.

29 Die roeiers

spring van die skip af,

matrose en seemanne

staan langs die kus.

30 Hulle huil oor jou lot.

Hulle treur hardop.

Hulle gooi stof op hulle koppe

en rol op die grond rond.

31 Hulle skeer hulle koppe kaal,

en in rou oor jou

trek hulle begrafnisklere aan.

Hulle huil bitterlik

omdat hulle oor jou treur.

32 Hierdie begrafnislied

sing hulle

terwyl hulle treur:

“‘Was daar al ooit ’n stad

soos Tirus,

nou stil op die bodem

van die see?

33 Jou handelaars met hulle ware

het die behoeftes van nasies

bevredig.

Konings oor die hele aarde

het deur jou ryk geword.

34 “‘Nou lê jy vernietig

op die bodem

van die oseaan.

Jou handelaars en matrose

het saam met jou gesink.

35 Almal wat langs die kus bly,

is verskrik oor jou.

Hulle konings se hare rys

van skrik,

hulle gesigte

vertrek van vrees.

36 Die handelaars van die nasies

skud hulle koppe

as hulle jou sien.

Jou einde was verskriklik,

jy bestaan nie meer nie.’”

ESEGIËL 28

’n Boodskap vir Tirus se koning

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, sê vir die koning van Tirus die oppermagtige Here sê:

“Ewe trots het jy verklaar:

‘Ek is god!

Ek sit op die gode se troon

in die hart van die see.’

Maar jy is net ’n mens,

nie ’n god nie.

3 Jy dink jy is slimmer as Daniël,

en dat daar geen geheim is

wat jy nie ken nie.

4 Jy het groot rykdom versamel

met jou wysheid en insig.

Vol goud en silwer

is jou skatkamers.

5 Jou vaardigheid in handeldryf

het jou baie ryk gemaak,

en dis juis jou rykdom

wat jou so hooghartig

gemaak het.

6 “Daarom,

so sê die oppermagtige Here:

Jy dink jy is slimmer as ’n god.

7 Daarom laat Ek ’n vyandige,

’n wrede leër teen jou optrek.

Hulle sal jou wysheid aanval

en al jou aansien verwoes.

8 Hulle sal jou in die graf

laat beland.

Jy sal gewelddadig doodgaan

in die hart van die see.

9 Sal jy by dié wat jou doodmaak,

nog spog: ‘Ek is ’n god!’?

Voor hulle

sal jy nie ’n god wees nie,

maar net ’n mens.

10 Vreemdelinge

sal jou doodmaak

soos ’n heiden

doodgemaak word.

Ek, die oppermagtige Here,

sê so!”

11 Die Here het ook vir my gesê:

12 “Mensekind,

sing ’n begrafnislied

oor die koning van Tirus.

Sê vir hom

die oppermagtige Here sê:

Jy het wysheid en prag

vervolmaak.

13 Jy was in Eden,

die tuin van God.

Jou klere was versier

met kosbare stene:

robyn, topaas, jaspis, chrisoliet,

oniks, opaal, saffier, turkoois,

en smarag.

Hulle was almal in goud geset.

Jy het dit gekry

die dag toe jy gemaak is.

14 Jy is aangestel

as die gerub wat alles oppas.

Ek het dit so bepaal.

Jy was op die heilige berg

van God.

Tussen glinsterende edelstene

het jy rondgestap.

15 “Jy was onbesproke

in alles wat jy gedoen het,

vanaf die dag dat jy geskep is

tot op die dag

toe boosheid in jou gevind is.

16 Jou uitgebreide handelsbetrekkinge

het jou gewelddadig gemaak

en jou laat sondig.

Daarom het Ek jou verban

van die godeberg af.

Ek het jou verdryf,

o gerub wat moes waghou!

Ek het jou verwyder

van tussen die glinsterende

edelstene.

17 “Jy het trots geword

oor jou prag.

Jou aansien het veroorsaak

dat jy jou wysheid verloor het.

Daarom het Ek jou

op die aarde neergegooi,

voor konings wat toekyk.

18 Met jou sondes

en oneerlike handelspraktyke

het jy jou heiligdomme

besoedel.

Daarom brand Ek jou af

tot net as sal oorbly,

terwyl almal toekyk.

19 Almal wat jou geken het,

staan verstom

oor wat met jou gebeur het.

’n Verskriklike einde

het jou getref,

en jy bestaan nie meer nie.”

’n Boodskap vir Sidon

20 Die Here het vir my gesê:

21 “Mensekind, kyk in die rigting van Sidon en profeteer daarteen.

22 Sê vir die mense van Sidon die oppermagtige Here sê:

“Ek is jou vyand, Sidon.

In jou sal Ek

my heerlikheid vertoon.

Wanneer Ek jou straf

en my heiligheid onthul,

dan sal hulle weet:

Ek is die Here.

23 Ek stuur ’n plaag teen jou.

Bloed sal op jou strate vloei.

Die aanval kom uit elke rigting

en jou mense

sal in jou geslag word.

Dan sal almal besef

dat Ek die Here is.

24 “Die mense van Israel

sal nie meer deur hulle bure

geminag word

soos wilderose en dorings

wat steek nie.

Dan sal alle mense besef:

Ek is die oppermagtige Here.”

Herstel van Israel

25 So sê die oppermagtige Here: “Die mense van Israel sal weer in hulle eie land bly, die land wat Ek aan Israel, my dienaar, gegee het, want Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar Ek hulle verstrooi het. Daardie dag wys Ek vir die nasies dat Ek heilig is tussen die mense van Israel.

26 Hulle sal veilig in Israel bly en huise bou en wingerde aanlê.

“Wanneer Ek hulle bure straf wat hulle met minagting behandel het, sal hulle besef dat Ek, die Here, hulle God is.”

ESEGIËL 29

’n Boodskap vir Egipte

1 Op 7 Januarie, in die tiende jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

2 “Mensekind, draai in die rigting van Egipte en profeteer teen die farao, die koning van Egipte, en al sy mense.

3 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:

“Ek is jou vyand, Farao,

koning van Egipte.

Jy is ’n groot monster

in die Nyl wat sê:

‘Die Nyl behoort aan My.

Ek het dit self gemaak.’

4 Ek sit hake in jou kakebeen

en sleep jou uit die rivier

terwyl die visse vassit

aan jou skubbe.

5 Ek gooi jou in die woestyn,

jy en al die visse in jou.

Niemand sal jou begrawe nie,

want Ek maak jou kos

vir die wilde diere en die voëls.

6 “Die mense van Egipte

sal ontdek

dat Ek die Here is,

want jy was soos ’n riet

waarop Israel wou leun.

7 Toe hy jou hand vat,

het jy gebreek

en in sy skouer gesteek.

Toe hy sy gewig op jou sit,

knak jy en beseer hy sy rug.

8 “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek bring ’n leër teen jou, Egipte, en vernietig jou mense en diere.

9 Egipte sal ’n verlate puinhoop wees, en die mense van Egipte sal besef dat Ek die Here is.

“Want jy het gesê: ‘Die Nyl behoort aan my. Ek het dit self gemaak.’

10 Nou het Ek jou en jou rivier se vyand geword. Ek vernietig Egipte, van Migdol tot Aswan, tot by die grens van Kus.

11 Vir 40 jaar lank sal niemand, nie ’n mens of dier, daar verbygaan nie. Niemand sal daar bly nie.

12 Ek maak Egipte verlate, omring deur ander nasies wat verlate is. Die stede sal leeg en verlate lê vir 40 jaar, omring deur verlate stede. Ek verstrooi die mense van Egipte na verre lande.

13 “Die oppermagtige Here sê ook nog: Aan die einde van 40 jaar bring Ek die mense van Egipte huis toe uit die lande waarheen hulle verstrooi was.

14 Ek herstel die voorspoed van Egipte en bring hulle terug na die land van Patros, die land van hulle herkoms, maar dan sal Egipte ’n onbelangrike land wees.

15 “Dit sal die kleinste van die nasies wees, nooit groot genoeg om hom weer bo die ander te verhef nie. Ek maak dit so swak dat dit nie weer oor ander nasies sal regeer nie.

16 “Dan sal Israel nie weer in versoeking kom om op Egipte vir hulp te steun nie. Nee, Egipte sal Israel herinner hoe sondig hy was toe hy sy hoop op Egipte gestel het. Dan sal hulle besef dat Ek die oppermagtige Here is.”

Nebukadnesar gaan Egipte

oorwin

17 Op 26 April, in die 27ste jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die Here vir my gesê:

18 “Mensekind, die leër van koning Nebukadnesar van Babilon het so hard teen Tirus baklei dat die soldate se koppe kaal geskaaf en hulle skouers deurgeskuur is. Maar hulle kon niks as buit uit Tirus saamneem om die soldate mee te vergoed nie.

19 Daarom sê die oppermagtige Here: Ek gaan Egipte aan Nebukadnesar, koning van Babilon, gee. Hy dra Egipte se rykdom weg en plunder sy skatte om sy leër se lone te betaal.

20 Ek gee hom Egipte as beloning vir sy werk, sê die oppermagtige Here, want hy het vir My gewerk toe hy Tirus verwoes het.

21 “Daardie dag herstel Ek Israel se vroeëre eer. Dan sal mense na jou luis-ter. En hulle sal weet dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 30

’n Hartseer dag vir Egipte

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, profeteer, gaan vertel dat die oppermagtige Here sê:

“Huil,

3 want die verskriklike dag

is op hande,

die Dag van die Here.

Dit is ’n dag van donkerte,

wanneer nasies

geoordeel word!

4 ’n Swaard kom teen Egipte

en angs oor Kus.

Wanneer mense in Egipte

sneuwel,

sal haar rykdomme weggevoer,

haar fondasies blootgelê word.

5 “Kus, Put, Lud, die hele Arabië

en Kub,

en al hulle bondgenote

sal in die oorlog omkom.

6 “Want so sê die Here:

Al Egipte se bondgenote sal val,

en die mag

waarop hy so trots was,

sal vernietig word.

Van Migdol tot by Sewene

sal hulle deur die swaard

doodgemaak word,

sê die oppermagtige Here.

7 Egipte sal verlate wees,

omring deur verlate volke.

Sy stede sal puinhope wees,

omring deur stede

wat puinhope is.

8 Wanneer Ek Egipte

aan die brand steek

en al sy bondgenote

vernietig word,

sal hulle besef Ek is die Here.

9 “Daardie dag stuur Ek boodskappers met skepe om die rustige mense van Etiopië bang te maak. Hulle sal paniekbevange wees die dag as Egipte verwoes word, wat verseker gaan gebeur.

10 “Die oppermagtige Here sê:

Ek vernietig die hordes

van Egipte

deur koning Nebukadnesar

van Babilon.

11 Hy en sy wrede soldate

is gestuur

om die land te vernietig.

Hulle maak oorlog teen Egipte

tot die land vol dooies lê.

12 Ek lê die Nyl droog

en gee die land oor

aan slegte mense.

Ek verwoes die land

en alles daarin,

deur die optrede

van vreemdelinge.

Ek is die Here, Ek het so gesê!

13 “Die oppermagtige Here sê:

Ek slaan die afgode stukkend,

ook die beelde in Memfis.

In Egipte

sal geen koning oorbly nie.

Angs sal hulle oorval.

14 Ek vernietig Patros,

steek Soan aan die brand

en straf Tebes.

15 Ek stort my wraak uit

oor Pelusium,

die vestingstad van Egipte.

Ek vernietig die menigtes

van Tebes.

16 Ja, Ek brand Egipte af.

Pelusium sal in pyn wees.

Tebes sal oopgebreek word,

en Memfis daagliks

bedreig word.

17 Heliopolis en Bubastis

se jong manne

sal omkom in die oorlog

en die vroue

sal as gevangenes

weggevoer word.

18 Wanneer Ek kom

om Egipte se mag te breek,

sal dit ook vir Tagpanges

’n donker dag wees.

’n Donker wolk

sal daaroor hang

en sy dogters

sal weggelei word

as gevangenes.

19 So straf Ek Egipte.

Hulle sal weet

dat Ek die Here is.”

Die gebreekte arms van die

farao

20 Op 29 April, in die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap, het die Here vir my gesê:

21 “Mensekind, Ek het die arm van die farao, die koning van Egipte, gebreek. En sy arm is nie verbind om aan te groei nie; dit is nie gespalk om sterk te word ten einde weer ’n swaard vas te hou nie.

22 Daarom, so sê die oppermagtige Here: Ek is die vyand van die farao, die koning van Egipte! Ek breek albei sy arms, die goeie een en die een wat gebreek was. Die swaard sal uit sy hand val.

23 Ek verstrooi die mense van Egipte onder al die nasies van die wêreld.

24 Ek maak die arm van die koning van Babel sterk en Ek sit my swaard in sy hand, maar Ek breek die arms van die farao, Egipte se koning. Hy sal dodelik gewond wees en voor die koning van Babel krul van pyn.

25 Ek maak die arms van die koning van Babilon sterk, maar die arms van die farao sal hulpeloos langs sy sye hang. Wanneer Ek my swaard in die hand van die koning van Babilon sit en hy Egipte binneval, sal Egipte besef dat Ek die Here is.

26 Ek verstrooi die mense van Egipte onder die nasies. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.”