ESEGIËL 11

Oordeel oor Israel se leiers

1 Die Gees het my toe opgelig en na die oostelike ingang van die tempel van die Here gebring.

Daar sien ek toe 25 leiers van die stad. Tussen hulle was Jaäsanja seun van Assur en Pelatja seun van Benaja. Hulle was leiers van die volk.

2 Die Gees sê toe vir my: “Mensekind, dít is die mans wat bose planne uitdink en slegte advies in hierdie stad gee.

3 Hulle sê vir die mense: ‘Is dit nie ’n goeie tyd om huise te bou nie? Ons stad is soos ’n ysterpot. Daarbinne is jy so veilig soos vleis in die pot.’

4 Daarom moet jy hard en duidelik teen hulle profeteer, mensekind.”

5 Die Gees van die Here kom toe oor my en Hy beveel my om te sê: “Dit is wat die Here van die mense van Israel sê: Is dit wat julle sê? Ja, Ek weet dit is. Ek ken mos elke gedagte wat in julle gedagtewêreld opkom.

6 Julle het aangehou om mense te vermoor sodat julle strate vol lyke is.

7 “Daarom sê die oppermagtige Here nou: Hierdie stad ís ’n ysterpot. Maar die slagoffers van julle bose optrede is die stukke vleis daarin. En julle is hoegenaamd nie veilig nie, want Ek sleep julle binnekort uit die stad.

8 Julle is bang vir oorlog, en dis oorlog wat Ek oor julle gaan bring, sê die oppermagtige Here.

9 “Ek dryf julle uit Jerusalem en gee julle oor aan vreemdelinge wat julle namens My sal straf.

10 Julle sal al langs die grense van Israel uitgeroei word, en dan sal julle weet dat Ek die Here is.

11 Nee, hierdie stad sal nie ’n ysterpot vir julle wees nie, en julle sal nie daarbinne so veilig soos vleis wees nie. Ek sal julle straf tot by die grense van Israel.

12 “Dan sal julle weet dat Ek die Here is. Julle het mos geweier om aan My gehoorsaam te wees. Julle het eerder al die verkeerde dinge gedoen wat die nasies rondom julle gedoen het.”

13 Terwyl ek nog gepraat het, het Pelatja seun van Benaja skielik gesterf. Ek het toe met my gesig op die grond neergeval en uitgeroep: “O oppermagtige Here, gaan U almal in Israel doodmaak?”

Hoop vir Israel wat in

ballingskap is

14 Die Here het vir my gesê:

15 “Mensekind, die mense wat in Jerusalem agtergebly het, jou eie mense, praat oor hulle familie wat in ballingskap is. Hulle sê: ‘Hulle is ver weg van die Here, en nou het Hy hulle grond vir ons gegee!’

16 Daarom moet jy sê: So sê die oppermagtige Here: Alhoewel Ek julle in ballingskap in al die lande van die wêreld verstrooi het, sal Ek in die tyd wat julle ballinge is, ’n heiligdom vir julle wees.

17 Jy moet sê: So sê die oppermagtige Here: Ek maak hierdie mense bymekaar tussen die nasies en versamel hulle uit die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. En Ek gee die land Israel vir hulle terug.

18 “En as hulle terugkom na hulle eie land, sal hulle al die walglike dinge en elke verfoeilike beeld verwyder.

19 En Ek sal hulle harte verander en hulle gees nuut maak. Ek sal die harte van klip wegneem en vir hulle sagte harte in die plek daarvan gee.

20 Dan sal hulle my opdragte en wette gehoorsaam. En hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees.

21 Maar dié wat na walglike dinge en verfoeilike beelde verlang, sal Ek straf vir hulle sondes, sê die oppermagtige Here.”

Die Here se heerlikheid verlaat

Jerusalem

22 Die gerubs het toe hulle vlerke gelig en met die wiele langs hulle opgestyg. Die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

23 Toe het die heerlikheid van die Here uit die stad opgestyg en bokant die berg aan die oostekant van die stad gaan staan.

24 Hierna het die Gees van God my na die ballinge in Babilon teruggeneem. Dit was die gesig wat ek gesien het.

25 En ek het die ballinge alles vertel wat die Here vir my gewys het.

ESEGIËL 12

Die ballingskap is naby!

1 Die Here het weer met my gepraat:

2 “Mensekind, jy lewe tussen opstandelinge wat die waarheid kan sien as hulle wil, maar hulle wil nie. Hulle sou my stem kon hoor as hulle maar net sou luister, maar hulle wil nie luister nie, want hulle is opstandig.

3 “Gee nou vir hulle ’n praktiese uitbeelding van hoe dit sal wees om in ballingskap te gaan. Pak net wat jy op jou rug kan dra en gaan dan uit jou huis uit asof jy op reis vertrek. Doen dit in helder daglig sodat al die mense jou kan sien. Dalk sal hulle nadink oor wat dit beteken, al is hulle so opstandig.

4 “Bring vandag nog alles uit wat jy in ballingskap sou saamneem. Terwyl hulle vir jou kyk, gaan teen die aand se kant uit jou huis uit asof jy in ballingskap vertrek.

5 Maak ’n gat in die muur terwyl hulle kyk. Klim dan met jou besittings deur die gat.

6 Terwyl hulle kyk, tel jou besittings op jou rug en loop weg die nag in. Maak jou gesig toe en moenie na die land rondom jou kyk nie. Dit sal ’n teken wees vir die mense van Israel.”

7 Ek het toe gedoen soos ek beveel is. Helder oordag het ek alles wat ek in ballingskap sou wou saamneem, uitgedra na buite.

Teen die aand het ek met my hande ’n gat deur die muur gegrawe terwyl almal na my kyk. In die donkerte het ek met my besittings op my rug buitentoe gegaan.

8 Die volgende môre het die Here vir my gesê:

9 “Mensekind, hierdie opstandige mense, die volk van Israel, het gevra wat dit beteken.

10 Sê vir hulle: Dit is wat die oppermagtige Here sê: Wat jy gedoen het, is ’n boodskap vir die koning in Jerusalem en vir al die mense van Israel wat in die stad is.

11 Sê vir hulle: ‘Ek is vir julle ’n teken. Soos ek gedoen het, so sal met julle gedoen word.’

“Want hulle sal uit hulle huise verdryf word en in ballingskap weggestuur word.

12 Ook koning Sedekia wat tussen hulle is, sal sy besittings in die nag op sy rug sit en weggaan. Hulle sal ’n gat in die muur grawe sodat hy uit die stad kan gaan. En hy sal sy gesig toemaak sodat hy nooit weer sy eie land sal sien nie.

13 Dan sal Ek my vangnet uitgooi en hom vang. Ek bring hom na Babilon, die land van die Babiloniërs. Maar hy sal sy land nooit sien nie, en hy sal daar doodgaan.

14 Ek sal almal wat hom help, sy diensknegte en wagte, in alle rigtings verstrooi, en hulle met die swaard doodmaak.

15 “Die dag wanneer Ek hulle tussen die nasies en oor baie lande verstrooi, sal hulle weet dat Ek die Here is.

16 Maar Ek sal enkeles van hulle red van die oorlog, hongersnood en pessiektes sodat hulle vir die nasies waar hulle gaan bly van hulle afskuwelike dade kan vertel. Dan sal die nasies besef dat Ek die Here is!”

17 Die Here het weer met my gepraat:

18 “Mensekind, bewe terwyl jy jou kos eet en bewe van vrees terwyl jy jou water drink.

19 Sê vir die burgers van die land: So sê die oppermagtige Here vir die inwoners van Jerusalem en vir die land Israel: Hulle sal bewe terwyl hulle hulle kos eet en hulle sal hulle water in wanhoop drink. Hulle land sal gestroop word van alles wat daarin is oor al die geweld wat die mense wat daarin bly, gepleeg het.

20 Die stede sal verwoes word en die grond sal verlate lê. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.”

’n Nuwe spreekwoord vir Israel

21 Die Here het nog ’n keer met my gepraat:

22 “Mensekind, wat is daardie spreuk wat in die land Israel gebruik word? Julle sê: ‘Die tyd gaan verby en maak van elke profeet ’n leuenaar.’

23 Sê vir die mense die oppermagtige Here sê: Ek maak ’n einde aan hierdie spreekwoord. Hulle sal ophou om dit in Israel te gebruik. Ek gee ’n nuwe spreekwoord in die plek van die ou een: ‘Die tyd het gekom dat elke profesie waar sal word!’

24 “Dan sal julle sien wat van al die vals visioene en al die vleiende voorspellings in Israel word,

25 want Ek is die Here! Wat Ek sê, gebeur altyd. Dit sal nie verder uitgestel word nie. In julle dag, opstandige volk, sê Ek dit en doen Ek dit, sê die oppermagtige Here.”

26 Toe het die Here weer met my gepraat:

27 “Mensekind, die mense van Israel sê: ‘Wat hy nou sê, gaan nie gou gebeur nie, eers oor ’n lang tyd!’

28 Daarom, sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Niks van wat Ek gesê het, gaan verder uitgestel word nie. Ek gaan nou alles doen wat Ek gesê het! So sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 13

Oordeel oor die vals profete

1 Die Here het vir my gesê:

2 “Mensekind, profeteer teen die vals profete van Israel wat almal hulle eie profesieë uitdink. Sê vir hulle dat hulle na die Here moet luister.

3 So sê die oppermagtige Here: Verwoesting wag vir die vals profete wat geen visioene gesien het nie, maar wat praat volgens hulle verbeelding!

4 “Mense van Israel, hierdie profete van julle is soos jakkalse wat in die puinhope rondgrawe.

5 Hulle het niks gedoen om die gapings in die muur te help opbou nie. En hulle het nie ’n muur om Israel gebou sodat hy regop kan staan in die oorlog wanneer die Dag van die Here aanbreek nie.

6 Hulle het visioene gesien wat nie waar is nie. Hulle voorspellings is leuens. Hulle sê: ‘Die Here sê so en so,’ al het Hy hulle nie gestuur nie. En dan verwag hulle dat Hy moet laat gebeur wat hulle voorspel het!

7 Is jou visioene nie vals en jou voorspellings nie leuens as jy sê: ‘Hierdie boodskap is van die Here!’, as Ek nie eens met jou gepraat het nie?

8 “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek word jou vyand omdat jy leuens verkondig en jou visioene vals is. So sê die oppermagtige Here:

9 Ek lig my vuis teen elke profeet wat lieg, en hulle sal verban word uit die gemeenskap van Israel. Ek krap hulle name uit Israel se annale. Hulle sal nooit weer hulle eie land sien nie. Dan sal hulle agterkom dat Ek die oppermagtige Here is!

10 “Hierdie bose profete mislei my volk as hulle sê: ‘Daar is rus en kalmte!’ terwyl daar geen vrede is nie! Dit is asof mense vir hulleself ’n dun muur bou, en nou probeer hierdie profete dit sterker maak deur dit met kalk af te wit.

11 Sê vir die mense wat die muur afgewit het dat hulle muur binnekort gaan omval. ’n Groot reënstorm met baie haelstene en sterk winde sal die muur omgooi.

12 En wanneer die muur val, sal mense uitroep: ‘Waar is die kalk waarmee julle dit afgewit het nou?’

13 “Daarom sê die oppermagtige Here: Ek sal jou witgewaste muur wegvoer in ’n storm van verontwaardiging, met ’n vloed van woede en haelstene van toorn.

14 Julle muur wat julle ewe netjies afgewit het, breek Ek af tot op die fondasie. En wanneer dit inmekaarstort, sal dit julle verpletter. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.

15 Eers dan sal my woede teen die muur en die mense wat dit afgewit het, afgekoel wees. Dan sal Ek vir julle sê: Die muur én die mense wat dit afgewit het, is daarmee heen.

16 Hulle is die profete wat oor Jerusalem geprofeteer het en vertel het hoe goed dit sal gaan, terwyl daar geen vrede was nie, sê die oppermagtige Here.”

Oordeel teen vals vroueprofete

17 “Mensekind, waarsku ook teen die vroue wat net profeteer wat in hulle verbeelding opkom. Profeteer oor hulle.

18 Sê vir hulle: So sê die oppermagtige Here: Verwoesting wag vir die mense wat toorbande om mense se gewrigte vasmaak en vir jonk en oud sluiers laat dra in ’n poging om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in ’n lokval lei sonder om julleself te vernietig?

19 Julle laat my volk van My af wegdraai vir ’n paar hande vol gars of vir ’n stukkie brood. So het julle dié doodgemaak wat nie moes doodgaan nie. En julle het lewe belowe aan dié wat nie moes lewe nie. Julle het gelieg vir my volk wat baie graag na leuens luister.

20 “So sê die oppermagtige Here: Ek is teen julle toorbande omdat julle dit gebruik om mense soos voëls te vang. Ek ruk dit van julle arms af. Dan maak Ek my volk, wat julle soos voëls gevang het, vry.

21 Ek sal ook die sluiers afruk en my volk uit julle mag red. Hulle sal nie meer julle slagoffers wees nie. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.

22 Julle het regverdige mense met julle leuens moedeloos gemaak. Ek wou nie hê dat hulle ly nie. En julle het die goddeloses aangemoedig om nie met hulle sondige dade te breek en so hulle lewe te red nie.

23 Daarom sal julle nie langer praat oor visioene wat julle kamtig sien terwyl dit nie so is nie. En julle sal ook nie verder voorspellings waag nie, want Ek sal my volk uit julle mag red. Dan sal julle weet dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 14

Afgodsdiens van Israel se leiers

1 Party van die leiers van Israel het by my besoek kom aflê. Terwyl hulle by my sit,

2 het die Here vir my gesê:

3 “Mensekind, hierdie leiers het hulle harte op afgode gerig. Hulle het die struikelblok van sonde in hulle lewe toegelaat. Hoekom moet Ek toelaat dat hulle enigiets van My vra?

4 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Ek, die Here, sal die mense van Israel straf, hulle wat afgode in hulle harte oprig en die struikelblok van sonde toelaat, en wat dan nogtans die profeet vir raad kom vra.

5 Ek sal dit doen om die volk Israel se harte te herower, hulle wat My verlaat het om hulle afgode te dien.

6 “Daarom, sê vir die volk Israel die oppermagtige Here sê: Draai om! Draai weg van julle afgode! Hou op met julle afskuwelike dade!

7 Want as enigeen uit Israel of ’n vreemdeling My verwerp en sy hart rig op afgode en oor sonde struikel, en nogtans na die profeet toe kom om raad van My te kry, sal Ek so iemand self antwoord.

8 Ek sal self teen sulke mense draai en van hulle ’n verskriklike voorbeeld maak. Ek sal hulle uit my volk verwyder. Dan sal julle erken dat Ek die Here is.

9 En as ’n profeet hom laat mislei om iets te sê, sal dit wees omdat Ek, die Here, daardie profeet mislei het. Ek sal my hand teen hom uitsteek en hom verwyder uit die midde van my volk Israel.

10 Hulle sal hulle skuld moet dra. Die profeet sal net so gestraf word soos die mens wat hom kom raadpleeg het.

11 Op hierdie manier sal die volk Israel leer om nie weg te dwaal van My af nie. Hulle sal nie meer in sonde val nie. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees, sê die oppermagtige Here.”

Die oordeel van die Here kom

12 Die Here het ook nog vir my gesê:

13 “Mensekind, veronderstel die mense van ’n land sondig teen My en tree troueloos teen My op. Veronderstel Ek lig dan my vuis op om hulle te verpletter en Ek vat hulle kos weg en stuur ’n hongersnood wat mens en dier vernietig.

14 Dan, selfs al was Noag, Daniël en Job tussen hulle, sou dié drie se regverdige optrede niemand anders gered het behalwe net vir hulleself nie, sê die oppermagtige Here.

15 “Of veronderstel Ek stuur ’n klomp gevaarlike wilde diere om die land te verwoes en die mense dood te maak. Die land word verlate sodat niemand dit waag om daar deur te trek nie

16 Selfs al was hierdie drie mans daar, verklaar die oppermagtige Here, sou dit niks aan die situasie verander nie. Dit sou nie die mense van verwoesting red nie. Net daardie drie sou gered word. Maar die land sal verwoes word.

17 “Of veronderstel Ek bring oorlog teen die land, en Ek stuur vyande om te kom en mens en dier te vernietig.

18 Selfs al was hierdie drie mans in die land, sweer die oppermagtige Here dat hulle nie hulle eie seuns en dogters sou kon red nie. Net hulle sal gered word.

19 “Of veronderstel Ek stort my woede uit oor die land deur pessiekte in die land te laat uitbreek, en die pessiekte maak mens en dier dood.

20 Selfs al het Noag, Daniël en Job daar gebly, sweer die oppermagtige Here, sou hulle nie hulle eie seuns of dogters kon red nie. Net hulle sou gered word deur hulle regverdige optrede.

21 “So sê die oppermagtige Here: Hoeveel erger gaan dit nie wees nie as Ek al vier my vreesaanjaende strawwe oor Jerusalem uitstort: oorlog, hongersnood, wilde diere en pessiekte. Mens en dier sal doodgemaak word.

22 Tog sal daar ’n klompie oorlewendes oorbly, ’n oorblyfsel wat uit Jerusalem gebring word. Hulle sal as ballinge kom om tussen julle te kom bly. En dan sal julle self sien hoe boos hulle is. En dan sal julle beter voel oor die ramp wat Ek oor Jerusalem gebring het, oor alles wat Ek Jerusalem aangedoen het.

23 Julle sal verstaan wanneer julle sien hoe hulle optree. Dan sal julle saamstem dat Ek hierdie dinge wat Ek aan die stad gedoen het, nie sonder rede gedoen het nie, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 15

Jerusalem, ’n nuttelose

wingerdstok

1 Die Here het vir my nog ’n boodskap gegee:

2 “Mensekind, hoe vergelyk ’n wingerdstok met ’n boom in die woud? Is ’n wingerdstok se hout so nuttig soos die boom se hout?

3 Kan sy hout gebruik word om daarvan gebruiksartikels te maak, soos penne waaraan jy iets kan ophang?

4 Nee, dit kan net as brandhout gebruik word. En as albei kante van die stok gebrand het en die middel is geskroei, is dit dan nog enigsins bruikbaar?

5 Jy kon dit nie vir enigiets gebruik toe dit heel was nie. Hoeveel minder kan dit in iets nuttigs verander word as die vuur dit gebrand het en dit geskroei is?

6 “So sê die oppermagtige Here: Die mense van Jerusalem is soos wingerdstokke wat tussen die bome in die woud groei. Hulle het geen nut nie. Daarom het Ek hulle eenkant gesit om verbrand te word!

7 Ek sal hulle teenstander word. As hulle uit die een vuur ontsnap, sal Ek sorg dat ’n ander vuur hulle verteer. Wanneer Ek hulle teenstander geword het, sal hulle besef dat Ek die Here is.

8 Ek sal die land verlate maak omdat my volk troueloos teenoor My opgetree het, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 16

Jerusalem, ’n ontroue vrou

1 Ek het nog ’n boodskap van die Here gekry:

2 “Mensekind, konfronteer Jerusalem met haar afskuwelike sondes.

3 Sê vir haar die oppermagtige Here sê: Jy is niks anders as ’n Kanaäniet nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet.

4 Toe jy gebore is, het niemand vir jou omgegee nie. Jou naelstring is nie afgesny nie. Jy is nooit gewas nie. Niemand het jou met sout ingevryf of vir jou warm klere aangetrek nie.

5 Niemand het in jou belanggestel om dit vir jou te doen nie. Niemand het vir jou omgegee of vir jou gesorg nie. Die dag toe jy gebore is, is jy in die veld gelos om dood te gaan. Niemand wou jou hê nie.

6 “Maar Ek het verbygekom en jou daar gesien. Jy het hulpeloos in jou eie bloed gelê en skop. Terwyl jy daar in jou bloed gelê het, het Ek gesê: ‘Lewe!’ Ja, waar jy in jou bloed gelê het, het Ek vir jou gesê: ‘Lewe!’

7 Ek het jou gehelp om soos ’n veldplant te groei. Jy het grootgeword en ’n mooi juweel geword. Jou borste het vol geword en jou hare het gegroei. Maar jy was nog kaal en sonder klere.

8 En toe Ek verbykom en jou weer sien, was jy oud genoeg om te trou. Daarom het Ek my jas vir jou aangetrek sodat jy nie kaal sou wees nie. Ek het ’n verbond met jou gesluit en met jou getrou, sê die oppermagtige Here. Jy het Myne geword.

9 “Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas. En Ek het olie aan jou lyf gesmeer.

10 Ek het vir jou duur klere gegee wat van linne en sy gemaak is en mooi uitgeborduur is, asook sandale wat van fyn leer gemaak is.

11 Ek het vir jou mooi juweliersware gegee: armbande en halssnoere,

12 ’n ring vir jou neus en oorringe, en ’n pragtige kroon op jou kop.

13 Jy was pragtig met jou goud en silwer. Jou klere was van fyn linne en mooi geborduur. Jy het die lekkerste kos geëet: fynmeel, heuning en olyfolie. Jy het mooier as tevore geword. Jy het soos ’n koningin gelyk. En jy was ook een!

14 Jy het oor die hele wêreld bekend geword omdat jy so mooi was. Ek het jou skoonheid met my glans volmaak gemaak, sê die oppermagtige Here.

15 “Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop.

16 En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur?

17 Jy het jou juwele en die goud en silwer gevat wat Ek vir jou gegee het, en daarvan beeldjies van mans gemaak. En jy het hulle aanbid. So het jy egbreuk teen My gepleeg.

18 Jy het jou geborduurde klere gevat wat Ek jou gegee het, en vir jou afgode aangetrek. En jy het my olie en wierook gebruik om aan hulle te offer.

19 Verbeel jou! Jy het die fynmeel en olyfolie en heuning wat Ek jou gegee het, voor hulle as ’n offer neergesit, sê die oppermagtige Here.

20 “Jy het ook jou seuns en dogters, die kinders wat jy by My gehad het, gevat en aan jou afgode geoffer. Was dit nie genoeg dat jy ’n prostituut geword het nie?

21 Moes jy ook my kinders slag en aan jou afgode offer?

22 In al die jare wat jy egbreuk gepleeg en vreeslike sondes gedoen het, het jy nie een keer teruggedink aan die dae toe jy kaal in die veld gelê het nie. Daar het jy in jou eie bloed gelê en skop.

23 “Jy gaan sekerlik vernietig word, sê die oppermagtige Here. Ná al die verskriklike dinge wat jy aangevang het,

24 het jy ook ’n heiligdom vir jou afgode gebou. Jy het altare vir jou afgode op elke dorpsplein ingerig.

25 Op elke straathoek het jy ’n afgodsaltaar gebou en jou skoonheid verkoop. Jy het jou lyf aangebied vir elkeen wat verbygaan. Jy het nie opgehou om jou as prostituut uit te huur nie.

26 Jy het jouself ook verkoop aan jou goed bedeelde bure, die Egiptenaars. Jy het My baie kwaad gemaak deur aan te hou met jou afskuwelike dade.

27 Daarom het Ek jou met die vuis geslaan en jou grense ingekort. Ek het jou oorgegee aan jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle was geskok deur jou afskuwelike gedrag!

28 Jy het ook saam met die Assiriërs geslaap. Dit lyk of jy nie genoeg minnaars kon kry nie! En steeds was jy nie bevredig nie.

29 Jy het toe ook daardie groot handelsreus Babilon by jou lys minnaars gevoeg. Maar steeds was jy nie bevredig nie!

30 “Hoe siek is jy nie, sê die oppermagtige Here, dat jy aanhou om sulke dinge te doen! Jy is ’n prostituut wat geen skaamte ken nie!

31 Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie.

32 Jy is ’n slegte vrou wat ander mans verkies, maar nie jou eie man naby jou wil hê nie.

33 Prostitute vra geld vir hulle dienste. Maar nie jy nie. Jy betaal jou minnaars! Van oral af koop jy hulle om sodat hulle na jou toe sal kom.

34 Jy is die teenoorgestelde van ander prostitute. Niemand betaal jou vir jou liefde nie. Nee, jy betaal hulle!”

Oordeel oor Jerusalem se

prostitusie

35 “Daarom, prostituut, luister na wat die Here vir jou sê!

36 So sê die oppermagtige Here: Jy het jou eer vir jou minnaars gegee en jou vir hulle kaal uitgetrek, en afskuwelike afgode aanbid. Jy het jou kinders as offers vir die afgode geslag.

37 Daarom gaan Ek jou minnaars bymekaarmaak, die mense met wie jy saam plesier gehad het, dié wat jy liefhet en dié wat jy haat. En Ek gaan jou voor hulle kaal uittrek sodat hulle na jou kan kyk.

38 Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek.

39 Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat.

40 Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap.

41 Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.

42 “Eers wanneer Ek my wraak teen jou laat uitwoed het, sal my woede afgekoel wees. Dan sal Ek kalm word en nie meer vir jou kwaad wees nie.

43 Maar eers gaan Ek jou ten volle laat boet vir jou sondes, want jy het jou jongdae vergeet toe jy hierdie dinge gedoen het. So sê die oppermagtige Here. Want by al jou walglike sondes het jy ook hierdie afstootlike dinge gedoen.

44 Mense wat spreekwoorde maak, sal van jou sê: ‘Die dogter is nes die ma.’

45 Jou ma het ook haar eie man en kinders verag, net soos jy. En jy is net soos jou susters, want hulle het hulle mans en kinders ook verag. Ja, jou ma was mos ’n Hetiet en jou pa ’n Amoriet.

46 “Jou ouer suster is Samaria wat saam met haar dogters noord van jou geleef het. En jou jonger suster is Sodom wat saam met haar dogters suid van jou geleef het.

47 Jy het nie sommer maar net gesondig soos hulle nie. Nee, dit was nie genoeg vir jou nie. Binne ’n kort rukkie het jy hulle ver oortref!

48 So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Sodom en haar dogters het nooit gedoen wat jy en jou dogters gedoen het nie.

49 Sodom en haar dogters se sonde was dat hulle trots was en te veel kos gehad het en glad nie vir ander omgegee het nie. Hulle het nie arm en behoeftige mense gehelp nie.

50 Hulle was trots en het afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle uitgeroei, soos jy gesien het.

51 “Selfs Samaria het nie die helfte van die sondes gedoen wat jy gedoen het nie. Jy het veel erger dinge gedoen as jou susters. Trouens, in vergelyking met jou lyk hulle regverdig!

52 Jy moet jou skaam omdat jy met jou sondes jou susters geregverdig het. Skaam jou omdat jou sondes só afskuwelik is dat jou susters in vergelyking met jou regverdig lyk!

53 “Eendag gaan Ek die lot van Sodom en haar dogters en Samaria en haar dogters verander. Dan sal Ek jou ook weer oprig.

54 Daardie dag sal jy skaam voel oor alles wat jy gedoen het, oor jou sondes wat hulle goed laat voel het in vergelyking met jou.

55 Ja, jou susters, Sodom en Samaria, en hulle mense sal herstel word. Dan sal jy en jou mense ook herstel word.

56 Vroeër, toe jy trots was, het jy op Sodom neergesien.

57 Maar nou is jou afskuwelike gedrag voor die hele wêreld ten toon gestel. Jy is nou die een op wie neergesien word: deur die mense van Edom en die omgewing, en die mense van Filistea. Van alle kante af sien mense op jou neer.

58 Dit is die straf op jou afskuwelike sondes, sê die Here.

59 “Nou sê die oppermagtige Here: Ek gee jou wat jy verdien, want jy het jou plegtige eed geminag en jou verbond gebreek.

60 Nogtans sal Ek onthou van die verbond wat Ek met jou gesluit het toe jy nog jonk was. Ek sal ’n ewige verbond met jou sluit.

61 Dan sal jy skaam wees as jy die dinge onthou wat jy gedoen het. Ek maak jou jonger en ouer susters dan jóú dogters, selfs al is hulle nie deel van ons verbond nie.

62 Ek sal weer my verbond met jou sluit, en jy sal erken dat Ek die Here is.

63 Jy sal jou sondes onthou. En dan sal jy stilbly omdat jy skaam kry, dié dag as Ek jou vergewe vir alles wat jy gedoen het, sê die oppermagtige Here.”

ESEGIËL 17

’n Verhaal van twee arende

1 Toe het ek hierdie boodskap van die Here gekry:

2 “Mensekind, vertel hierdie storie, hierdie gelykenis vir die mense van Israel.

3 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê:

“‘’n Groot arend met wye vlerke

en bont vere

het na die Libanon toe gekom.

Hy het die top van ’n seder gevat

4 en dit afgepluk.

Toe het hy dit weggedra

na ’n stad vol handelaars

en dit daar geplant.

5 “‘Hy het ook ’n steggie

uit jou land gevat

en dit in vrugbare grond

langs ’n breë rivier geplant.

Hier sou dit so vinnig groei

soos ’n wilgerboom.

6 Dit het wortelgeskiet

en ’n wingerdstok geword,

welig, maar laag op die grond.

Sy takke het opgegroei

na die arend toe,

en sy wortels

was diep in die grond.

Dit het sterk ranke uitgestoot

met baie blare.

7 Maar ’n ander groot arend

met breë vlerke en baie vere

het toe verbygekom.

Die wingerdstok

het sy wortels en takke

na hom toe uitgesteek vir water.

8 Die wingerdstok het dit gedoen

al was daar goeie grond

en genoeg water

sodat dit ’n sterk wingerdstok

met baie blare

en druiwe kon word.’

9 “Jy moet sê:

‘Die oppermagtige Here vra:

Sal dit goed gaan

met die wingerdstok?

Sal dit nie ontwortel word,

gestroop van al sy vrugte

sodat dit verdroog nie?

Selfs die nuwe groei

sal verskrompel.

Baie mense of baie krag

is nie nodig

om die wingerdstok

wortel en tak uit te roei nie.

10 As die wingerdstok

oorgeplant is,

sal dit groei?

Sal dit nie heeltemal verdroog

wanneer die oostewind

dit tref nie?

Dit sal verdroog

in dieselfde grond

waarin dit nou so mooi uitspruit.’”

Die gelykenis verduidelik

11 Toe sê die Here vir my:

12 “Sê vir hierdie opstandige mense: Verstaan julle nie die betekenis van die gelykenis van die arende nie? Ek sal vir julle verduidelik, sê die oppermagtige Here. Die koning van Babilon het na Jerusalem gekom. Hy het haar koning en leiers weggeneem en hulle na Babilon toe saamgeneem.

13 Hy het ’n ooreenkoms met ’n lid van die koning se familie gesluit en hom ’n eed laat aflê dat hy lojaal sou wees. Hy het ook haar mees invloedryke leiers in ballingskap weggevoer

14 sodat Israel nie weer sterk kon word en in opstand kom nie. Sy kon oorleef slegs as sy haar hou by haar ooreenkoms met Babilon.

15 “Maar daardie koning het in opstand gekom en ambassadeurs na Egipte toe gestuur om ’n groot leërmag en baie perde te kry. Sal hy suksesvol wees? Sal die mens wat sulke dinge doen daarmee wegkom? Sal hy die ooreenkoms verbreek en tog ontsnap?

16 So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, hy sal in Babilon sterf, in die land van die koning wat hom op die troon gesit het. Hy het dié koning se ooreenkoms verag en verbreek.

17 Wanneer oorlog uitbreek en Jerusalem beleër word, sal die farao en sy magtige leër nie vir Israel kan help nie. Baie sal hulle lewe verloor,

18 want die koning het die eed wat hy afgelê het, geminag deur die ooreenkoms te verbreek. Hy het gesweer dat hy gehoorsaam sou wees; daarom sal hy nie ontsnap nie.

19 “So sê die oppermagtige Here: So seker as wat Ek lewe, Ek sal hom straf omdat hy die ooreenkoms met My verbreek het en die eed geminag het wat hy in my Naam gesweer het.

20 Ek sal my vangnet oor hom gooi en hom vang. Ek sal hom na Babilon toe bring en hom daar oordeel omdat hy verraad teen My gepleeg het.

21 En al sy beste soldate sal doodgemaak word. Dié wat in die stad oorbly, sal in alle windrigtings verstrooi word. Daardie dag sal julle weet dat Ek, die Here, so gesê het.

22 “Die oppermagtige Here sê: Ek sal ’n takkie van die top van ’n hoë seder neem en dit plant. Ek sal ’n takkie afpluk en dit op ’n hoë berg plant.

23 Ek sal dit op ’n hoë berg in Israel plant. Dit sal takke vorm en vrugte dra. Dit sal ’n groot seder word. Allerhande voëls sal daarin nes maak en skuiling tussen die takke kry.

24 En al die bome sal weet dat dit Ek, die Here, is wat die groot boom afgekap het en die klein boompie groot laat word het. Dit is Ek wat die groen boom laat verdroog en nuwe lewe vir die dooie boom gee. Ek, die Here, het gepraat! Ek sal doen wat Ek gesê het.”

ESEGIËL 18

Elkeen is vir homself

verantwoordelik

1 Ek het nog ’n boodskap van die Here gekry:

2 “Hoekom gebruik julle dié spreekwoord in die land Israel:

“‘Die ouers eet groen druiwe,

en die kinders se tande

word stomp’?

3 “So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, julle sal dit nie weer in Israel sê nie,

4 want Ek oordeel alle mense – ouers en kinders. Ek oordeel volgens dié reël: Die mens wat sondig, sal sterf.

5 “Veronderstel

iemand is regverdig:

hy doen wat goed en reg is;

6 hy vier nie saam fees

voor die afgode van Israel,

en aanbid hulle nie.

Hy is nie ontrou aan sy eie vrou,

en slaap nie by ’n vrou

wat menstrueer nie.

7 Hy verdruk nie mense nie

en gee goed terug

wat hy in pand geneem het.

Hy beroof niemand nie,

maar gee kos

vir honger mense

en klere vir behoeftiges.

8 Hy leen nie geld op rente nie,

en eis nie woekerwins nie.

Hy weerhou hom van onreg

en laat reg geskied

tussen mense.

9 Hy lewe

volgens my voorskrifte

en is getrou aan my bepalings.

So ’n persoon is regverdig.

Hy sal waarlik bly lewe,

sê die oppermagtige Here.

10 “Sê nou hierdie man het ’n seun wat ’n rower of moordenaar word. Hy weier om te doen wat reg is.

11 Hierdie seun doen al die bose dinge wat sy pa nooit sou doen nie:

“Hy aanbid afgode op die berge

en slaap by ander se vroue.

12 Hy verdruk arm en hulpelose mense.

Hy beroof mense

en gee nie goed terug

wat hy in pand geneem het nie.

Hy soek hulp by afgode

en pleeg afskuwelike dade.

13 Hy leen geld uit op rente

en eis woekerwins.

“Sal so ’n mens lewe? Nee, hy het afskuwelike dinge gedoen en hy moet doodgemaak word. Hy moet die volle blaam dra.

14 “Veronderstel nou hierdie sondige seun het weer ’n seun wat sy pa se afskuwelike gedrag sien, maar besluit om nie so te lewe nie.

15 “Hy weier om op die berge

afgode te aanbid

en soek nie hulp

by die afgode nie.

Hy slaap nie by die vrou

van ’n ander man nie.

16 Hy verdruk nie arm mense nie

en vat niks in pand nie.

Hy beroof niemand nie,

maar gee van sy kos

vir mense wat honger is

en sy klere vir behoeftiges.

17 Hy verdruk niemand nie

en vat nie rente

of woekerwins nie.

Hy is getrou aan my bepalings

en lewe

volgens my voorskrifte.

“Hy sal nie doodgemaak word vir sy pa se sondes nie. Nee, hy sal bly lewe.

18 Die pa sal doodgemaak word oor die afskuwelike dade wat hy gepleeg het. Hy was wreed en het sy eie familie beroof. Hy het tussen sy mense slegte dinge gedoen.

19 “Nou vra julle: ‘Waarom word die seun nie vir die pa se sondes verantwoordelik gehou nie?’ Die seun het dan gedoen wat reg en goed is en hy het my voorskrifte onderhou; daarom sal hy verseker lewe.

20 Die een wat sonde doen, word doodgemaak. ’n Kind sal nie vir die ouer se sondes gestraf word nie. En ’n ouer sal nie vir die kind se sondes gestraf word nie. Regverdige mense sal beloon word vir die goeie wat hulle doen. En slegte mense sal gestraf word vir die slegte wat hulle doen.

21 “Maar as slegte mense ophou om slegte dinge te doen en my voorskrifte begin gehoorsaam en doen wat goed en reg is, sal hulle verseker lewe. Hulle sal nie doodgemaak word nie.

22 Al die verkeerde dade van die verlede sal vergeet word. Hulle sal lewe omdat hulle doen wat goed en reg is.

23 “Dink julle, vra die oppermagtige Here, dat Ek daarvan hou om slegte mense te sien doodgaan? Natuurlik nie! Wil Ek nie veel eerder sien dat hulle omdraai van hulle slegte paaie en lewe nie?

24 “Maar as regverdige mense omdraai en op die verkeerde paaie gaan loop en slegte dinge begin doen nes ander sondaars, sal hulle toegelaat word om te bly lewe? Nee, natuurlik nie! Al die goeie dinge wat hulle voorheen gedoen het, sal vergete wees. Hulle sal oor hulle ontrouheid doodgemaak word.

25 “Tog sê julle: ‘Die Here is nie regverdig nie!’ Luister na My, mense van Israel. Is dit Ek wat onregverdig optree, of is dit julle?

26 Wanneer regverdige mense van die goeie af wegdraai en slegte dinge begin doen, sal hulle daaroor doodgemaak word. Ja, hulle sal sterf oor hulle sondige dade.

27 En as slegte mense van hulle slegte optrede wegdraai en doen wat die wet vereis en wat reg is, sal hulle hulle eie lewe red.

28 Hulle sal lewe omdat hulle oor hulle lewe nagedink het en besluit het om van hulle sondes weg te draai. Sulke mense sal nie doodgaan nie.

29 “En tog hou die mense van Israel aan om te sê: ‘Die Here is onregverdig!’ Mense van Israel, dit is julle wat onregverdig is, nie Ek nie!

30 “Daarom, mense van Israel, sal Ek elkeen van julle oordeel ooreenkomstig wat julle doen, sê die oppermagtige Here. Draai om! Draai weg van julle sondes af! Moenie dat dit julle vernietig nie!

31 Plaas al julle opstandigheid agter julle, en kry vir julleself ’n nuwe hart en ’n nuwe gees. Want hoekom wil julle sterf, mense van Israel?

32 Ek wil nie dat julle doodgaan nie, sê die oppermagtige Here. Draai terug en lewe!”

ESEGIËL 19

’n Begrafnislied vir Israel se

konings

1 “Sing hierdie begrafnislied oor die leiers van Israel:

2 “‘Wat is jou ma?

’n Leeuwyfie tussen leeus!

Sy lê tussen die jong leeus

en maak haar welpies groot.

3 Sy het een van haar welpies

as ’n sterk jong leeu

laat grootword.

Hy het geleer

om prooi te vang.

Toe het hy mense begin vang.

4 Die nasies het van hom gehoor.

Hulle het hom

in ’n vanggat gevang.

En hulle het hom in kettings

na Egipte weggelei.

5 “‘Toe die leeuwyfie sien

dat al haar hoop vir hom

vernietig is,

het sy ’n ander welpie gevat

en hom ’n sterk jong leeu

gemaak.

6 Hy het tussen die leeus

rondgeloop

en ’n sterk leeu geword.

Hy het geleer om prooi te vang

en ook ’n mensvreter geword.

7 Hy het vestings van nasies

vernietig

en hulle dorpe verwoes.

Die land en almal daarin

was verskrik

wanneer hulle hom hoor brul.

8 Toe het die leërs van die nasies

hom aangeval

en van alle kante omsingel.

Hulle het hulle vangnette

uitgegooi

en hom in hulle vanggat

vasgekeer.

9 Hulle het hom met kettings

in ’n hok

voor die koning van Babel

gebring.

Hulle het hom gevange gehou

sodat sy stem nie meer

op Israel se berge

gehoor word nie.

10 “‘Jou ma

was soos ’n wingerdstok

wat langs die water geplant is.

Dit het druiwe en ranke gehad

omdat daar baie water was.

11 Haar takke was sterk,

sterk genoeg vir septers

van konings.

Dit het hoog uitgetoring

bo almal.

Dit het uitgestaan

omdat dit hoog was

en ’n groot klomp welige takke

gehad het.

12 Maar dit is in woede

ontwortel

en teen die grond

neergegooi.

Die woestynwind

het dit laat opdroog

en die vrugte gestroop.

Die takke is afgeruk

en deur vuur verbrand.

13 Nou is die wingerdstok

in die woestyn geplant

waar die grond hard en droog is.

14 ’n Vuur het uit sy takke gekom

en die vrugte verbrand.

Van die oorblywende takke

is nie een sterk genoeg

vir ’n koninklike septer nie.’

“Dit is ’n begrafnislied.

Dit is nou tyd

vir die begrafnis.”

ESEGIËL 20

Israel se opstand

1 Op 14 Augustus, in die sewende jaar van koning Jojagin se ballingskap, het sommige leiers van Israel by die Here kom raad vra. Hulle het voor my gesit en op sy antwoord gewag.

2 Toe het die Here hierdie boodskap vir my gegee:

3 “Mensekind, sê vir die leiers van Israel die oppermagtige Here sê: Hoe durf julle My kom vra vir raad? So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle geen raad gee nie. Dit sê die oppermagtige Here.

4 “Mensekind, oordeel jý oor hulle; jý moet hulle veroordeel! Vertel vir hulle hoe afskuwelik die optrede van hulle voorouers regtig was.

5 Sê vir hulle die oppermagtige Here sê: Toe Ek Israel uitverkies het en Myself aan haar in Egipte openbaar het, het Ek, die Here, vir Israel gesweer: ‘Ek, die Here, is jou God.’

6 Ek het belowe dat Ek haar en haar nageslag uit Egipte sou bring na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het. Dit is ’n land van oorvloed waar melk en heuning volop is, die beste van alle lande.

7 Toe het Ek vir hulle gesê: ‘Elkeen van julle moet julle afgode nou weggooi. Moenie julle besoedel met Egiptiese afgode nie, want Ek, die Here, is julle God.’

8 “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie luister nie. Hulle het nie hulle afgode weggegooi en nie die Egiptiese gode gelos nie. Toe het Ek gedreig dat Ek my wraak oor hulle sou uitgiet om my woede op hulle af te koel terwyl hulle nog in Egipte is.

9 Maar, om my eer te beskerm het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies in die omgewing Israel se God spot en vir Israel lag. Hy het immers belowe om sy volk te red.

10 “Daarom het Ek my volk uit Egipte gebring en in die woestyn ingelei.

11 Daar het Ek vir hulle my voorskrifte gegee en my bepalings bekendgemaak sodat elkeen wat daaraan gehoorsaam is, kon bly lewe.

12 En Ek het vir hulle my Sabbatte gegee as dae van rus, as ’n teken van die verhouding tussen My en hulle. So wou Ek hulle daaraan herinner dat Ek, die Here, hulle afgesonder het om heilig en spesiaal te wees.

13 “Maar die mense van Israel was in die woestyn opstandig teen My. Hulle het daar al geweier om my voorskrifte te gehoorsaam. Hulle het hulle nie aan my wil gesteur nie, al sou gehoorsaamheid aan hulle die lewe gegee het. Daarom het hulle my Sabbatdae geminag. Ek het gedreig om my wraak oor hulle uit te giet. Ek was van plan om hulle in die woestyn heeltemal te vernietig.

14 Maar ter wille van my Naam het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies wat gesien het hoe Ek my volk uit Egipte uitgelei het, kon sê dat Ek hulle vernietig het omdat Ek kwansuis nie vir hulle kon sorg nie.

15 Maar Ek het in die woestyn vir hulle gesweer dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek vir hulle bestem het nie – die land van melk en heuning, die mooiste plek op aarde.

16 Want hulle het my bepalings verwerp, my wil vir hulle geïgnoreer en my Sabbatte geminag. Hulle harte het aan afgode behoort.

17 Tog het Ek hulle jammer gekry en hulle nie in die woestyn vernietig nie.

18 “Daar in die woestyn het Ek ook hulle kinders gewaarsku om nie in hulle ouers se voetspore te volg en hulle nie met die afgode te besoedel nie.

19 ‘Ek, die Here, is julle God,’ het Ek vir hulle gesê. ‘Wees gehoorsaam aan my voorskrifte, doen my wil

20 en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is ’n teken van die verhouding tussen My en julle. Dan sal julle weet dat Ek, die Here, julle God is.’

21 “Maar ook hulle kinders was teen My opstandig. Hulle het geweier om gehoorsaam te wees aan my voorskrifte. Hulle het nie my bepalings nagekom en my wil gedoen nie, al sou gehoorsaamheid daaraan beteken dat hulle lewe. Hulle het my Sabbatdae geminag. Daarom het Ek gedreig om daar in die woestyn my wraak oor hulle uit te giet en my woede oor hulle af te koel.

22 “Tog het Ek dit nie gedoen nie om my eer te beskerm tussen die nasies wat die mag gesien het waarmee Ek hulle uit Egipte gebring het.

23 Maar Ek het daar in die woestyn gesweer dat Ek hulle onder die nasies en oor al die lande sou verstrooi,

24 want hulle was nie gehoorsaam aan my bepalings nie. Hulle het my voorskrifte verag. Hulle het my Sabbatdae geminag en na hulle voorouers se afgode verlang.

25 “Toe het Ek hulle oorgegee aan waardelose voorskrifte en bepalings wat nie vir hulle lewe kon bring nie.

26 Ek het toegelaat dat hulle hulle besoedel met die geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het toegelaat dat hulle hulle eersgebore kinders aan hulle gode offer. So wou Ek hulle verwoes, om vir hulle te wys wie Ek, die Here, is.”

Oordeel en herstel

27 “Mensekind, daarom moet jy vir die mense van Israel sê: Die oppermagtige Here sê: Julle voorouers het aangehou om My te laster deur ontrou aan My te wees.

28 Want toe Ek hulle in die land bring wat Ek aan hulle belowe het, het hulle offers gebring en wierook gebrand op elke heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het. Hulle het My kwaad gemaak met hulle offers vir hulle afgode. Hulle het wierook gebrand en drankoffers voor hulle uitgegiet.

29 Toe het Ek vir hulle gevra: ‘Wat is hierdie hoogte waarheen julle gaan?’

“Dié plekke word vandag nog Bama – ‘hoogte’ – genoem.

30 “Daarom, gaan sê vir die mense van Israel die oppermagtige Here sê: Gaan julle julle besoedel net soos julle voorouers gedoen het? Gaan julle ontrou wees aan My deur voor die afstootlike afgode te buig?

31 Want elke keer as julle geskenke vir hulle bring en julle kinders as offers vir hulle verbrand, besoedel julle julleself, tot vandag toe. En moet Ek dan nou luister en julle help, mense van Israel? So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, Ek sal nie met julle praat nie, selfs al kom vra julle vir ’n boodskap.

32 “Julle sê: ‘Ons wil soos die nasies rondom ons wees wat afgode van hout en klip aanbid.’ Maar wat julle wil, sal nooit gebeur nie.

33 “So seker as Ek lewe, sê die oppermagtige Here, Ek sal met ’n ystervuis en met mag oor julle regeer en Ek sal my woede oor julle uitgiet.

34 Ek bring julle met ’n ystervuis en met mag tussen die nasies uit en Ek maak julle bymekaar uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het.

35 “En Ek bring julle na die woestyn van die nasies en daar oordeel Ek oor julle van aangesig tot aangesig.

36 Daar sal Ek julle oordeel soos Ek julle voorouers in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gebring het, sê die oppermagtige Here.

37 Ek sal julle sorgvuldig tel en julle verantwoordelik hou vir die eise wat my ooreenkoms aan julle stel.

38 Ek sal julle skoonmaak van almal wat opstandig teen My is en sondig. Ek sal hulle uit die lande bring waar hulle in ballingskap woon. Maar hulle sal nooit weer in die land Israel ingaan nie. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat Ek die Here is.

39 “Wat julle aangaan, volk van Israel, so sê die oppermagtige Here: As julle dan wil, loop agter julle afgode aan en aanbid hulle. Maar dan moet julle nie omdraai en nog verder oneer aan My bring met julle geskenke en afgode nie.

40 Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel, sê die oppermagtige Here, sal die mense van Israel My eendag aanbid. En Ek sal hulle aanvaar. Daar sal Ek bereid wees om julle bydraes en die keur van julle geskenke en julle offers te aanvaar.

41 Die dag as Ek julle huis toe vat uit julle ballingskap, sal julle vir My soos ’n offer met ’n heerlike reuk wees. Ek sal my heiligheid tussen julle vertoon waar al die nasies dit kan sien.

42 “Wanneer Ek julle huis toe gebring het, na die land Israel wat Ek aan julle voorouers belowe het, sal julle weet dat Ek die Here is.

43 Julle sal terugkyk na al julle sondes. En julle sal julleself verafsku oor al die boosheid wat julle aangevang het.

44 Julle sal weet, mense van Israel, dat Ek die Here is wanneer Ek julle behandel soos die eer van my Naam vereis en nie volgens julle bose weë en afskuwelike dade nie, sê die oppermagtige Here.”

Oordeel teen die Negevwoestyn

45 Die Here het ook nog vir my gesê:

46 “Mensekind, kyk na die suide en praat daarteen. Profeteer teen die woude van die Negevwoestyn.

47 “Sê vir die suidelike woestyn die oppermagtige Here sê: Hoor die woord van die Here! Woud, Ek steek jou aan die brand. Elke groen en droë boom in jou sal afbrand. Die verskriklike vlamme sal nie geblus word nie. Hulle sal alles afbrand van die suide tot die noorde.

48 “Die hele wêreld sal sien dat Ek, die Here, die vuur aangesteek het. Dit sal nie geblus word nie.”

49 Toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle sê van my: ‘Hy praat heeldag in raaisels!’”