ESEGIËL 1

1 Die visioen van die Almagtige

Op 31 Julie van my dertigste jaar was ek saam met die Judese ballinge langs die Kebarrivier in Babilonië. Die hemel het vir my oopgegaan en ek het visioene van God gesien.

2 Dit het gebeur gedurende die vyfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was.

3 Die Here het vir my, Esegiël die seun van Busi, die priester, ’n boodskap gegee. Ek was langs die Kebarrivier in die land van die Babiloniërs. En die hand van die Here was daar op my.

4 Terwyl ek gekyk het, sien ek ’n groot storm na my toe aankom uit die noorde. Voor die storm was daar ’n reuse wolk waarin die weerlig slaan en ’n helder lig brand. Die vuur binne-in die wolk het soos gloeiende metaal geblink.

5 Uit die middel van die wolk het vier lewende wesens gekom wat soos mense gelyk het,

6 behalwe dat elkeen van hulle vier gesigte en twee paar vlerke gehad het.

7 Hulle bene was reguit soos ’n mens s’n, maar hulle voete het gelyk soos ’n kalf s’n, en dit het geblink soos brons wat opgevryf is.

8 Onder elkeen van die vier vlerke kon ek hande sien soos dié van mense.

9 Die vlerke van elke lewende wese het geraak aan die vlerke van die twee wat langs hom staan. Die wesens kon in enige rigting vlieg sonder om om te draai.

10 Elkeen het die gesig van ’n mens na voor gehad, die gesig van ’n leeu aan die regterkant, die gesig van ’n bees aan die linkerkant en die gesig van ’n arend aan die agterkant.

11 Elkeen het ook twee pare uitgestrekte vlerke gehad. Met een paar vlerke het hulle geraak aan die ander een wat langs hulle staan. Met die ander paar het hulle hulleself toegemaak.

12 Hulle het in enige rigting gegaan wat die Gees wou. Hulle kon reguit vorentoe gaan sonder om ooit om te draai.

13 Die wesens het gelyk soos skerp kole vuur wat gloei of soos helder ligte wat brand. Dit het gelyk of weerlig heen en weer tussen hulle flits.

14 Die wesens het soos weerligstrale heen en weer beweeg.

15 Terwyl ek na hierdie wesens gestaar het, het ek vier wiele op die grond langs elke wese gesien.

16 Die wiele het soos kosbare stene geskitter. Al vier wiele het presies dieselfde gelyk. Binne-in elke wiel was daar nog ’n wiel wat dwars daarteenoor gedraai het.

17 Die wesens kon vorentoe beweeg in enige rigting waarheen hulle kyk sonder om om te draai as hulle beweeg.

18 Die vier wiele was ontsagwekkend groot, en hulle was rondom vol oë.

19 Wanneer die vier wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg. As hulle opgestyg het, het die wiele ook opgegaan.

20 Die gees van die vier lewende wesens was in die wiele. Daarom het die wiele en die wesens gegaan waar die gees ook al gegaan het.

21 As die wesens beweeg het, het die wiele beweeg. En as die wesens stilgestaan het, het die wiele ook stilgestaan. As die wesens in die lug opgestyg het, het die wiele ook opgestyg, want die gees van die wesens was in die wiele.

22 Daar was ’n koepel bokant hulle koppe soos die horison. Dit het soos ’n kristal geblink, en dit was angswekkend.

23 Onder hierdie oppervlakte was die vlerke van die wesens uitgestrek wat aan mekaar geraak het, en elkeen het ook twee vlerke gehad waarmee hulle hulle lywe bedek het.

24 Wanneer hulle vlieg, het hulle vlerke gedreun soos golwe wat op die strand breek, of soos die stem van die Almagtige, of soos die geraas van ’n groot klomp soldate. En wanneer hulle stilstaan, het hulle die vlerke laat sak.

25 Daar het ’n stem gekom van bokant die koepel bo-oor die wesens se koppe, en hulle het hulle vlerke laat sak terwyl hulle tot stilstand kom.

26 Bokant die koepel bo hulle koppe was daar iets soos ’n troon van blou saffier. Hoog bokant hierdie troon was daar ’n figuur wat soos ’n mens gelyk het.

27 Van sy heupe af boontoe het sy lyf gegloei soos witwarm metaal. En van sy heupe af ondertoe het hy gelyk soos ’n baie helder vlam wat brand.

28 Reg rondom hom was die lig so helder soos die glans van ’n reënboog tussen die wolke. So het die heerlikheid van die Here aan my verskyn. Toe ek dit sien, het ek op my gesig op die grond neergeval, en toe het ek gehoor dat iemand met my praat.

ESEGIËL 2

Esegiël se roeping en opdrag

1 “Staan op, mensekind,” het die stem gesê. “Ek wil met jou praat.”

2 Die Gees het oor my gekom terwyl Hy gepraat het en my op my voete geplaas. Ek het sorgvuldig na sy woorde geluister.

3 “Mensekind,” het Hy gesê, “Ek stuur jou na die volk Israel toe, ’n nasie wat teen My rebelleer. Hulle voorouers het al van die begin af teen My gerebelleer, en hulle is steeds tot vandag toe in opstand teen My.

4 Hulle is ’n hardkoppige geslag wie se harte verhard is. Maar Ek stuur jou om vir hulle te gaan sê: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê!’

5 En of hulle luister of nie, hulle moet ten minste weet dat daar ’n profeet tussen hulle is. Onthou, hulle is ’n opstandige spul.

6 “Mensekind, moenie vir hulle bang wees nie. Moenie vrees nie, selfs al steek hulle dreigemente soos skerp dorings en doringstruike, en al leef jy tussen skerpioene. Moenie skrik vir wat hulle sê nie en moenie vrees vir hoe hulle lyk nie. Onthou, hulle is ’n klomp opstandige mense.

7 Gee my boodskap vir hulle, of hulle luister of nie. Maar hulle sal nie luister nie. Die hele spul is immers hardkoppig.

8 “Mensekind, luister na wat Ek vir jou sê. Moenie so opstandig wees soos hulle nie. Maak jou mond oop en eet wat Ek vir jou gee.”

9 Toe sien ek ’n hand wat na my toe uitgesteek word. Dit het ’n boek vasgehou.

10 Die hand het die boek oopgerol en daar was hartseer begrafnisliedere en klaagliedere aan albei kante daarvan geskryf.

ESEGIËL 3

1 Die stem sê toe vir my: “Mensekind, eet wat Ek jou gee. Eet hierdie boek. En gaan dan en gee hierdie boodskap vir die volk Israel.”

2 Ek het toe my mond oopgemaak en Hy het my die boek gegee om te eet.

3 “Eet dit alles. Eet jou versadig daaraan,” sê Hy. En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning geproe.

4 Toe sê Hy: “Mensekind, gaan na die volk Israel met my boodskappe.

5 Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk wie se taal jy nie verstaan nie.

6 Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk met ’n vreemde of moeilike taal nie. As Ek jou na húlle toe gestuur het, sou hulle geluister het.

7 Ek stuur jou na die volk Israel, maar hulle sal nie na jou luister nie, net soos hulle nie na My luister nie. Want die hele spul van hulle is hardkoppig en hulle harte is hard.

8 Maar kyk, Ek het jou net so hardkoppig en koppig gemaak soos hulle.

9 Ek het jou so hard soos ’n rots gemaak. Daarom moet jy nie vir hulle bang wees nie, ook nie as hulle jou kwaai aankyk nie, want hulle is ’n opstandige klomp.”

10 Toe voeg Hy by: “Mensekind, laat al my woorde eers diep in jou eie hart ingaan. Luister eers self sorgvuldig daarna.

11 Gaan dan na jou volk wat in ballingskap is en sê vir hulle: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê.’ Doen dit of hulle na jou luister of nie.”

12 Die Gees het my toe opgetel, en ek het ’n harde dreuning agter my gehoor wat sê: “Mag die heerlikheid van die Here in hierdie plek geprys word!”

13 Dit was die geluid van die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het en die gerommel van die wiele onder hulle.

14 Die Gees het my toe opgetel en weggevat. Ek was verbitterd en kwaad, maar die Here het my veilig vasgehou.

15 Ek het by die Judese ballinge gekom wat langs die Kebarrivier bly. Ontsteld en verstom het ek sewe dae lank tussen hulle gesit.

’n Wagter vir Israel

16 Toe die sewe dae verby is, het die Here vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:

17 “Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. As jy ’n boodskap van My af kry, moet jy dit dadelik vir die volk gee.

18 As Ek die bose mense waarsku en sê: ‘Jy verdien die doodstraf,’ maar jy waarsku hulle nie, sal hulle doodgaan vanweë hulle afskuwelike dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou, en hulle bloed van jou eis.

19 As jy hulle waarsku en hulle hou aan om afskuwelike dinge te doen en weier om om te draai, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Maar jy sal jou eie lewe red omdat jy gedoen het wat vir jou gesê is.

20 “As goeie mense die slegte begin doen en Ek hulle dan laat struikel om hulle te waarsku, sal hulle doodgaan. As jy hulle nie oor die gevolge van hulle optrede waarsku nie, sal hulle as gevolg van hulle sondes doodgaan. Die goeie wat hulle voorheen gedoen het, sal hulle dan nie help nie. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou en hulle bloed van jou hand eis.

21 Maar as jy hulle waarsku en hulle draai om, sal hulle lewe, en jy sal ook jou eie lewe red.”

22 Toe het die Here van my besit geneem en vir my gesê: “Gaan uit na die vallei toe. Ek wil daar met jou praat.”

23 Ek het opgestaan en gegaan, en daar het ek die heerlikheid van die Here gesien, net soos in my eerste visioen by die Kebarrivier. En ek het op my gesig op die grond neergeval.

24 Toe het die Gees oor my gekom en my regop laat staan. Hy het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan sluit jou toe in jou huis.

25 Daar sal jy met toue vasgebind word sodat jy nie tussen jou mense kan kom nie.

26 En Ek sal jou tong aan jou verhemelte laat klou sodat jy hulle nie kan waarsku nie, want hulle is ’n opstandige spul.

27 Maar wanneer Ek vir jou ’n boodskap gee, sal Ek jou tong losmaak sodat jy kan praat. Dan sal jy vir hulle sê: ‘Dit is wat die oppermagtige Here sê!’ Party sal na jou luister en ander sal weier, want hulle is ’n opstandige klomp.”

ESEGIËL 4

’n Teken van die beleg wat kom

1 “En nou, mensekind, vat ’n groot baksteen en sit dit voor jou neer. Teken dan ’n kaart van Jerusalem daarop.

2 Bou beleëringswalle teen die stadsmure. Omring dit met kampe vir die vyand se soldate en rig stormramme teen die mure op.

3 Neem dan ’n ysterplaat en sit dit tussen jou en die stad. Kyk na die stad en demonstreer hoe die vyand Jerusalem sal aanval. Laat dit Israel waarsku.

4 “Gaan lê dan op jou linkersy en sit die sondeskuld van Israel op jou. Jy moet hulle straf dra vir die aantal dae wat jy daar op jou sy lê.

5 Jy moet Israel se straf dra vir 390 dae – een dag vir elke jaar wat hulle gesondig het.

6 Daarna moet jy omdraai en op jou regtersy lê vir 40 dae – ’n dag vir elke jaar wat Juda gesondig het.

7 “Intussen moet jy aanhou om te wys hoe jy Jerusalem beleër. Lê daar met jou arm ontbloot en profeteer oor haar ondergang.

8 Ek sal jou met toue vasmaak sodat jy nie op jou ander sy kan draai nie, tot die tyd verby is dat jy die beleëring gedoen het.

9 “Gaan dan nou en kry koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt. Meng dit saam in ’n skottel. Gebruik hierdie kos om vir jou brood te maak gedurende die 390 dae dat jy op jou sy moet lê.

10 Meet vir jouself 230 gram kos uit vir elke dag, en eet dit op vasgestelde tye.

11 Meet ook 600 milliliter water af vir elke dag, en drink dit op vasgestelde tye.

12 Bak die kos elke dag soos ’n ronde garsbrood. Terwyl al die mense kyk, moet jy dit gaarmaak oor ’n vuur van menslike ontlasting.

13 Want dit is wat die Here sê: Israel sal onrein kos eet tussen die volke waarheen Ek hulle verban!”

14 Toe sê ek: “O oppermagtige Here, ek is nooit voorheen verontreinig nie. Van kindsdae af tot nou toe het ek nooit enige dier geëet wat dood gevind is of wat deur wilde diere verskeur is nie. Ek het nooit enige onrein vleis geëet nie.”

15 “Goed,” sê Hy. “Jy mag jou brood op koeimis gaarmaak eerder as op menslike ontlasting.”

16 Verder sê Hy vir my: “Mensekind, Ek sal sorg dat kos baie skaars word in Jerusalem. Dit sal sorgvuldig uitgeweeg word en met angs geëet word. Water sal druppel vir druppel uitgemeet word en met huiwering gedrink word.

17 Kos en water sal so skaars wees dat die mense mekaar wantrouig sal aankyk, en hulle sal wegkwyn onder hulle straf.”

ESEGIËL 5

’n Teken van die oordeel wat op

pad is

1 “Mensekind, vat ’n skerp swaard en gebruik dit as ’n skeermes om jou hare en jou baard af te skeer. Gebruik dan ’n skaal om jou hare in gelyke dele te verdeel.

2 “Wanneer die beleëringsdae verby is, verbrand ’n derde daarvan in die middel van jou kaart van Jerusalem. Gooi nog ’n derde daarvan rondom die stad en kap dit stukkend met ’n swaard. Gooi die laaste derde in die wind, want Ek sal my volk met die swaard verstrooi.

3 Hou net ’n bietjie van die hare en knoop dit vas in jou klere.

4 Vat dan ’n bietjie van dié hare en gooi dit in die vuur en verbrand dit. Dan sal ’n vuur daarvandaan uitgaan en die hele Israel vernietig.

5 “So sê die oppermagtige Here: Hierdie is ’n demonstrasie van wat met Jerusalem gaan gebeur. Ek het haar in die middel van die nasies geplaas.

6 Maar sy het in opstand teen my bepalings gekom en was boser as die nasies in die omgewing.Sy het geweier om die wette te gehoorsaam wat Ek vir haar gegee het.

7 “Dis wat die oppermagtige Here sê: Omdat jy geweier het om die wette en bepalings te gehoorsaam en slegter opgetree het as jou bure,

8 het Ek, die oppermagtige Here, nou self jou vyand geword. Ek sal jou in die openbaar straf terwyl al die nasies toekyk.

9 Oor al die afskuwelike dinge wat jy gedoen het, sal Ek met jou doen wat Ek nog nooit gedoen het nie, en wat Ek ook nooit weer sal doen nie.

10 Ouers sal hulle eie kinders eet, en kinders sal hulle ouers eet. En Ek sal julle straf deur die enkeles wat oorleef tot by die uithoeke van die aarde te verstrooi.

11 “So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige Here, sal Ek jou volledig afsny. Ek sal jou nie jammer kry nie omdat jy my tempel verontreinig het met walglikhede en afskuwelikhede.

12 ’n Derde van jou volk sal in die stad van hongersnood en siekte omkom. ’n Derde sal deur die vyand buite die stadsmure doodgemaak word. En ’n derde sal Ek in die wind verstrooi en hulle met my swaard agtervolg.

13 Dan sal my woede afgekoel wees, en Ek sal tevrede wees. En wanneer my woede teen hulle bedaar het, sal die hele Israel weet dat Ek, die Here, met hulle in my jaloerse ywer gepraat het.

14 “En so verander Ek jou in ’n puinhoop, en die omringende nasies en elkeen wat verbygaan, sal met jou spot.

15 Hulle sal jou spot en jou uitlag en beledig. Jy sal ’n waarskuwing en afskrikmiddel wees vir die volke rondom jou. Hulle sal sien wat gebeur wanneer die Here teen ’n volk draai as Hy kwaad is.

“Dit is Ek, die Here, wat praat!

16 “Ek sal dodelike pyle van hongersnood op julle afskiet om julle te vernietig. Die hongersnood sal al erger word totdat elke krummeltjie kos op is.

17 Saam met die hongersnood sal wilde diere julle aanval en julle van julle kinders beroof. Siekte en oorlog sal deur julle land woed, en Ek sal die vyand se swaard teen julle bring. Dit is Ek, die Here, wat praat!”

ESEGIËL 6

Oordeel teen Israel se berge

1 Daar het toe weer ’n boodskap van die Here gekom:

2 “Mensekind, kyk in die rigting van die berge van Israel en profeteer teen hulle.

3 Gee vir die berge van Israel hierdie boodskap van die oppermagtige Here. Dit is wat die oppermagtige Here vir die berge en heuwels, vir die klowe en valleie sê: Ek gaan oorlog op julle laat losbreek. En Ek gaan die heidense tempels op julle hoogtes vernietig.

4 Al julle altare sal stukkend geslaan word, en julle wierookaltare sal uitmekaargebreek word. En Ek sal julle mense voor julle afgode doodmaak.

5 Ek sal julle lyke voor julle afgode neergooi en julle bene voor julle altare verstrooi.

6 Waar julle ook al bly, sal julle stede in puinhope verander en julle hoogtes vernietig word. Julle altare sal vernietig en verwoes word. Julle afgode sal stukkend geslaan word en verdwyn. Julle wierookaltare sal uitmekaargeskop word. Daar sal niks oorbly van alles wat julle gemaak het nie.

7 Die dag wanneer die hele plek vol lyke lê, sal julle weet dat Ek die Here is.

8 “Tog sal Ek enkeles onder my mense aan die verwoesting laat ontsnap, en hulle sal onder die nasies van die wêreld verstrooi word.

9 En wanneer hulle as ballinge tussen die nasies bly, sal hulle My onthou. Hulle sal raaksien hoe hartseer Ek gevoel het toe hulle ontrou was deur van My af weg te draai en agter ander gode aan te loop. En dan sal hulle hulleself haat oor al hulle boosheid en al hulle afskuwelike dade.

10 Dan sal hulle erken dat Ek alleen die Here is en dat Ek ernstig was toe Ek gedreig het dat al hierdie dinge met hulle gaan gebeur.

11 “Dit is wat die oppermagtige Here sê: Klap jou hande en stamp jou voete van ontsteltenis. Roep uit ‘Ag, nee!’ oor al die afskuwelike dinge wat die mense van Israel aangevang het. Hulle sal omkom deur oorloë, hongersnood en pessiektes.

12 Hulle wat ver weg in ballingskap gevoer is, sal deur die pes getref word en dié wat naby is, sal in gevegte omkom. En enigeen wat oorbly en nog oorleef, sal in die hongersnood doodgaan. So sal Ek my woede op hulle afkoel.

13 Dan, wanneer hulle lyke tussen hulle afgode en altare verstrooi lê, sal hulle weet en erken dat Ek alleen die Here is. Dit sal wees op elke heuwel en berg en onder elke groen boom en groot eik waar hulle wierook vir hulle gode gebrand het.

14 Ek sal hulle met my hand stukkend druk en hulle land verlate laat, vanaf die wildernis in die suide tot Ribla in die noorde. Dan sal hulle weet dat Ek die Here is.”

ESEGIËL 7

Die einde

1 Toe het hierdie boodskap van die Here na my toe gekom:

2 “Mensekind,

die oppermagtige Here

sê vir Israel:

Die einde is hier!

Die einde kom

tot aan die uithoeke van die land.

3 Nou het die einde aangebreek

oor jou,

want Ek laat my woede

teen jou losbars.

Ek gaan jou straf

vir wat jy aangevang het.

Ek roep jou tot verantwoording

oor jou afskuwelike gedrag.

4 Ek sal wegkyk

en jou nie weer jammer kry nie.

Ek gaan jou ten volle laat betaal

vir al die afskuwelike dinge

wat jy aangevang het.

Dan sal jy weet en erken

dat Ek die Here is!

5 “Die oppermagtige Here sê:

Ramp na ramp

bring Ek oor jou!

6 Die einde het gekom!

Dit het aangebreek!

Jou finale vernietiging wag!

7 Mense van Israel,

die dag van jou vernietiging

breek aan.

Die tyd het gekom.

Die dag van moeilikheid

is naby!

Daardie dag

sal daar verwarring wees,

nie vreugde nie.

8 Binnekort stort Ek my woede

uit op jou.

Ek sal jou oordeel

oor jou optrede.

Dan straf Ek jou

vir jou afskuwelike gedrag.

9 Ek sal jou nie verskoon en

jou nie jammer kry nie.

Ek sal jou straf oor jou gedrag

en al jou afskuwelike dade.

Dan sal jy weet dis Ek,

die Here,

wat jou geslaan het.

10 “Die dag van oordeel is hier.

Jou vernietiging wag!

Die volk se afskuwelike dade

en trots

het ’n klimaks bereik.

11 Geweld sal teen hulle losbreek

as straf

oor hulle afskuwelike optrede.

Van die trotse en bose mense

sal nie een oorleef nie.

Al hulle skatte

sal saam met hulle vergaan.

12 Ja, die tyd het gekom!

Die dag is hier

dat die een wat koop,

nie bly moet wees nie,

en dié wat verkoop

nie spyt sal wees nie,

want my woede

rus op almal in die land.

13 Sou enige handelaars oorleef,

sal hulle nooit weer

kan terugkeer

na hulle besigheid nie.

Want wat Hy gesê het,

geld vir almal.

Dit kan nie verander word nie!

Nie een mens se lewe

deur sonde verwring,

sal herstel nie.”

Vernietiging van Israel

14 “Die trompette

roep Israel se weermag op

om gereed te maak

vir die geveg,

maar niemand luister daarna nie.

My woede is teen hulle gerig.

15 Enigiemand wat dit

buite die stadsmure waag,

sal deur die vyand

doodgemaak word.

En dié wat in die stad agterbly,

sal doodgaan van hongersnood

en pessiektes.

16 Die enkeles wat wel ontsnap

en na die berge vlug,

sal soos duiwe kla.

Hulle sal huil oor hulle sondes.

17 Almal se hande sal slap hang.

Hulle knieë sal so swak wees

soos water.

18 Hulle sal

begrafnisklere aantrek

en hulle aantrek met angs.

Skaamte sal geskryf staan

op hulle gesigte.

Hulle sal hulle koppe kaal skeer.

19 “Hulle sal hulle geld weggooi

soos ’n mens

waardelose gemors weggooi.

Want geld

sal nie verlossing kan koop

op die dag wat die Here

sy woede afkoel nie.

Dit sal hulle nie kan bevredig

of hulle versadig nie.

Dit was juis hulle liefde vir geld

wat veroorsaak het

dat hulle gestruikel het.

20 Hulle was so trots

op hulle goue juweliersware,

en het dit gebruik

om vir hulle walglike beelde

en afskuwelike afgode te maak.

Dis hoekom Ek hulle rykdom

afskuwelik vir hulle sal maak.

21 Ek sal dit weggee as buit

vir vreemdelinge.

Die slegste van die nasies

sal dit onrein maak.

22 Ek sal wegkyk

wanneer hierdie rowers

my kosbare land binneval

en dit vernietig.

23 “Maak kettings gereed

vir my volk,

want die land is vol bloed

deur verskriklike misdade.

Jerusalem is vol geweld.

24 Die wreedste nasies bring Ek

om hierdie mense se huise

vir hulleself te vat.

Ek beëindig die trotsheid

van die sterkes;

hulle heiligdomme

sal ontheilig word.

25 My volk sal bewe van angs.

Hulle sal na vrede soek,

maar dit nêrens kry nie.

26 Ramp sal volg op ramp

en gerug sal volg op gerug.

Verniet soek hulle na profete

wat ’n visioen kan bring.

Die priesters

sal hulle nie leer nie

en die leiers

sal hulle nie raad gee nie.

27 Die koning en die leier

sal hulpeloos staan.

Hulle sal wanhopig huil,

en die mense se hande

sal bewe van vrees.

Ek sal die bose dag

oor hulle bring

wat hulle oor ander gebring het.

Hulle sal die straf ontvang

wat hulle so ryklik verdien.

Dan sal hulle weet

dat Ek die Here is!”

ESEGIËL 8

Afgodsdiens in die tempel

1 Op 17 September, in die sesde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was, het die leiers van Juda in my huis gesit. En die hand van die oppermagtige Here was op my.

2 Ek het iemand gesien wat soos ’n mens lyk. Van die heupe af ondertoe het dit gelyk of hy van ’n brandende vlam gemaak is. En van sy heupe af boontoe het hy soos gloeiende metaal gelyk.

3 Hy het wat na sy hand gelyk het, na my uitgesteek en my aan my hare gevat. Toe het die Gees my in die lug opgetel en Hy het my in ’n visioen wat van God af kom na Jerusalem toe gedra. Ek is na die hek aan die noordekant van die binnehof van die tempel geneem. Daar het ’n groot afgodsbeeld gestaan wat die Here baie kwaad gemaak het.

4 Skielik was die heerlikheid van God daar, net soos ek dit die vorige keer in die vallei gesien het.

5 Toe het die Here vir my gesê: “Mensekind, kyk na die noordekant.” Ek het gekyk. Daar langs die ingang aan die noordekant van die hek na die altaar het die beeld gestaan wat soveel goddelike woede veroorsaak het.

6 “Mensekind,” het Hy gesê, “sien jy wat hulle doen? Sien jy die afskuwelike groot sondes wat die mense van Israel doen, sondes wat My uit my heilige woning dryf? Maar kom, jy sal selfs nog groter sondes sien as dit.”

7 Toe het Hy my na die deur van die tempel se voorhof geneem. Ek kon daar ’n opening in die muur sien.

8 Hy het vir my gesê: “Mensekind, breek die muur af.” Ek het die muur afgebreek en toe ’n deur na ’n geheime kamer gekry.

9 “Gaan in,” sê Hy vir my. “Gaan kyk na die afskuwelike dinge wat daar binnekant aangaan.”

10 Ek het toe ingegaan. Ek het gesien dat die mure vol kruipende dinge en ander afskuwelike skepsels geteken was. Ek het ook die afgode van Israel gesien wat rondom teen die mure uitgekap is.

11 Daar het 70 leiers van Israel gestaan met Jaäsanja seun van Safan in hulle midde. Elkeen van hulle het ’n wierookbak gehad. Daar het ’n dik wolk wierook bokant hulle koppe gehang.

12 Toe het Hy vir my gesê: “Mensekind, het jy gesien wat die leiers van Israel in die donkerte doen, elkeen by die heiligdom van sy afgod? Hulle sê: ‘Die Here sien ons nie. Die Here is uit die land uit!’”

13 Toe voeg Hy by: “Kom Ek wys jou nog afskuweliker sondes as dié.”

14 Hy het my na die noordelike hek van die Here se heilige woning gebring waar ’n klomp vroue gesit het. Hulle het verlangend na die afgod Tammus geroep.

15 “Het jy dit gesien?” het Hy gevra. “Maar Ek sal jou selfs nog groter sondes as hierdie wys!”

16 Toe bring Hy my na die binneste voorhof van die Here se woning. By die ingang, tussen die voorportaal en die altaar, het 25 mans met hulle rug na die Here se tempel toe gestaan. Hulle het na die oostekant gekyk en voor die son in die ooste neergebuig.

17 “Het jy dit gesien, mensekind?” vra Hy my. “Is dit nie genoeg vir die volk van Israel dat hulle hierdie afskuwelike sondes doen nie? Moet hulle nou ook die land vol geweld maak, en my woede aanhoudend laat losbreek? Kyk hoe hulle nou in afvalligheid van My druiweranke voor hulle neuse rondswaai!

18 Daarom gaan Ek hulle nou in my woede tref. Ek sal hulle nie jammer kry of hulle verskoon nie. En al pleit hulle vir genade, sal Ek nie luister nie.”

ESEGIËL 9

Die afgodsdienaars word geslag

1 Toe het die Here baie hard geroep waar ek kon hoor: “Laat kom die mense wat die stad moet straf! Sê vir hulle hulle moet wapens saambring!”

2 Toe kom daar ses mans van die boonste hek af aan die noordekant, elkeen met ’n wapen in die hand waarmee hulle kan doodmaak. Een van hulle het klere van linne aangehad met ’n skrywer se gereedskap aan sy sy. Hulle het almal in die tempel se voorhof ingegaan en daar langs die bronsaltaar gaan staan.

3 Toe het die heerlikheid van die God van Israel opgestyg van tussen die gerubs, waar dit gebly het, en beweeg na die drumpel van die tempel. Die Here het geroep na die man met linneklere aan en skrywersgereedskap by hom.

4 Hy sê toe vir hom: “Gaan stap deur die strate van Jerusalem en sit ’n merk op die voorkop van elkeen wat huil en sug oor al die afskuwelike sondes wat hulle rondom hulle sien.”

5 Toe hoor ek die Here sê vir die ander mans: “Loop agter hom aan deur die stad en maak almal dood wat nie ’n merk op hulle voorkop het nie. Julle mag geen genade bewys nie! Julle mag niemand jammer kry nie!

6 Maak almal dood, jonk en oud, dogters en vroue en kindertjies. Maar julle mag nie raak aan iemand wat die merk het nie. Begin met julle werk hier by my heiligdom!” Hulle het eers die 70 leiers wat voor in die tempel gestaan het, doodgemaak.

7 “Verontreinig my woonplek!” het die Here beveel. “Maak sy voorhowe vol met die lyke van die mense wat julle doodmaak! Gaan!” Toe het hulle deur die stad gegaan en gedoen soos hulle beveel is.

8 Terwyl hulle gedoen het soos hulle beveel is, was ek alleen. Ek het op my gesig op die grond neergeval en gepleit: “O oppermagtige Here, sal U niemand in Israel laat oorbly as U u woede op Jerusalem afkoel nie?”

9 Toe sê Hy vir my: “Die sondeskuld van die mense van Israel en Juda is baie groot. Die hele land is vol bloed. Die hele stad verdraai die reg. Boonop sê hulle: ‘Die Here het uit die land weggetrek! Die Here sien dit nie!’

10 Daarom gaan Ek hulle nie red nie. Ek sal hulle nie jammer kry nie. Ek sal hulle ten volle laat boet vir alles wat hulle gedoen het.”

11 Toe het die man met klere van linne en met die skrywersgereedskap by hom, verslag kom doen: “Ek het die werk voltooi wat U vir my gegee het.”

ESEGIËL 10

Die Here se heerlikheid verlaat

die tempel

1 Terwyl ek nog kyk, sien ek iets wat lyk soos ’n troon van blou saffier en wat bokant die kristalkoepel verskyn. Dit was bokant die koppe van die gerubs.

2 Toe sê die Here vir die man met klere van linne: “Gaan in tussen die wiele onder die gerubs en vat ’n hand vol van die gloeiende kole tussen die gerubs. Gaan strooi dit oor die stad!” Hy het toe so gemaak terwyl ek toekyk.

3 Die gerubs het aan die suidekant van die tempel gestaan toe die man ingegaan het, en die wolk van heerlikheid het die hele voorhof gevul.

4 Toe het die heerlikheid van die Here opgestyg van bokant die gerubs en na die drumpel van die tempel gegaan. Die tempel was gevul met hier-die wolk van heerlikheid, en die tempel het blink geskyn van die heerlikheid van die Here.

5 Die vlerke van die gerubs wat beweeg het, het soos die stem van God die Almagtige geklink. Dit kon duidelik in die buitenste voorhof gehoor word.

6 Die Here sê toe vir die man met die linneklere: “Gaan tussen die gerubs in en vat van die brandende kole tussen die wiele.” Die man het ingegaan en langs een van die wiele gaan staan.

7 Een van die gerubs het sy hand uitgesteek en brandende kole gevat uit die vuur wat tussen hulle is. Hy sit toe die kole in die hande van die man met die linneklere. Die man het dit gevat en uitgegaan.

8 Die gerubs het almal iets onder hulle vlerke gehad wat soos mense se hande gelyk het.

9 Ek sien toe dat daar langs elkeen van die gerubs ’n wiel is. Die wiele het soos edelstene geblink.

10 Die vier wiele het presies eenders gelyk. Binne-in elke wiel het ’n ander wiel dwars gedraai.

11 Die gerubs kon beweeg in die rigting van enige van die vier kante, sonder om van koers te verander as hulle beweeg; in die rigting waarheen die voorste gedraai was, het die ander gevolg, en hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie.

12 Die gerubs en die wiele was vol oë. Die gerubs het oë oor hulle hele lywe gehad, en ook op hulle hande en hulle rûe en hulle vlerke.

13 Ek het gehoor iemand praat daarvan as “wiele”.

14 Elkeen van die vier gerubs het vier gesigte gehad. Die eerste was die gesig van ’n bees. Die tweede was die gesig van ’n mens. Die derde was die gesig van ’n leeu. En die vierde was die gesig van ’n arend.

15 Die gerubs het opgestyg. Dit was dieselfde lewende wesens wat ek langs die Kebarrivier gesien het.

16 Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele saam beweeg. Wanneer hulle in die lug opgestyg het, het die wiele langs hulle gebly.

17 Wanneer die gerubs stilgestaan het, het die wiele ook gaan staan, want die gees van die lewende wesens was in die wiele.

18 Toe het die heerlikheid van die Here van die deur van die tempel af beweeg en oor die gerubs gehang.

19 Terwyl ek gekyk het, het die gerubs met hulle wiele na die oostelike ingang van die Here se tempel gevlieg. En die heerlikheid van die God van Israel het oor hulle gehang.

20 Dit was dieselfde lewende wesens wat ek onder die God van Israel gesien het toe ek langs die Kebarrivier was. Ek het geweet hulle is gerubs,

21 want elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en iets wat soos mensehande gelyk het, was onder hulle vlerke.

22 Hulle gesigte het ook net soos die gesigte gelyk van die wesens wat ek langs die Kebar gesien het, en hulle het reguit vorentoe beweeg, net soos die ander gedoen het.