EKSODUS 31

Besaleël en Oholiab

1 Die Here het ook vir Moses gesê:

2 “Ek het Besaleël, die seun van Uri en kleinseun van Gur uit die stam van Juda, gekies.

3 My Gees gee vir hom die kennis, begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan maak.

4 Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak.

5 Hy kan edelstene graveer en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak.

6 “Ek het ook Oholiab, die seun van Agisamak uit die stam van Dan, gekies om saam met hom te werk. Ek het aan verskillende manne wat oor die kennis beskik die vaardigheid gegee om al die dinge te maak wat Ek vir jou gesê het.

7 Hulle sal die tabernakel bou, die ark van die verbond, die ark se deksel en al die gereedskap wat in die tent gebruik word.

8 Hulle sal ook die tafel maak met sy toebehore en die kandelaar met al sy toebehore en die wierookaltaar.

9 Hulle sal ook die altaar vir die brandoffer met sy toebehore maak en die waskom met sy voetstuk.

10 “Ook die spesiaal geborduurde klere wat Aäron en sy seuns dra wanneer hulle die priesterwerk doen, sal hulle maak.

11 Hulle sal ook die salfolie en die spesiale wierook maak, alles presies soos Ek vir jou gesê het.”

Voorskrifte vir die Sabbat

12 Die Here het verder ook vir Moses gesê:

13 “Jy moet vir die Israeliete sê om my Sabbatte te onderhou. Die Sabbat is ’n teken van die ewige verbond tussen My en julle. Dit herinner julle daaraan dat Ek die Here is wat julle vir My afgesonder het.

14 Hou die Sabbatdag gereeld, want dit is ’n heilige dag. Die een wat dit verontagsaam, moet beslis doodgemaak word. Iemand wat op daardie dag met sy werk aangaan, sal uit die gemeenskap verwyder word.

15 Gaan ses dae lank aan met jou gewone werk. Op die sewende dag moet jy daarmee ophou en tot rus kom. Dit is die Here se heilige rusdag. Enigeen wat op die Sabbatdag met sy werk aangaan, moet doodgemaak word.

16 “Die Israeliete moet die dag van die Sabbat onderhou.

17 Dit is tussen My en die Israeliete ’n teken wat vir altyd sal bly staan. Die Here het in ses dae die hemel en die aarde gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom.”

18 Toe die Here klaar gepraat het met Moses op Sinai, het Hy vir hom twee plat klippe gegee waarop God met sy eie vinger die bepalings van sy verbond geskryf het.

EKSODUS 32

Die goue kalf

1 Toe die volk sien dat Moses lank wegbly en nie van die berg af kom nie, het hulle na Aäron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het wat ons uit Egipte weggelei het nie.”

2 Aäron het toe vir hulle gesê: “Haal julle vroue en seuns en dogters se goue ringe van hulle ore af en bring dit hier vir my.”

3 Almal van die volk het toe die goue ringe afgehaal en dit vir Aäron gebring.

4 Aäron het dit by hulle gevat, dit gesmelt en daarvan ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het!”

5 Toe Aäron dit sien, het hy ook ’n altaar voor die kalf gebou. Hy het aangekondig: “Ons hou môre ’n fees vir die Here!”

6 Van vroeg die volgende oggend af het hulle brandoffers en vrede-offers gebring. Die volk het geëet en gedrink. Dit het later begin hand uitruk.

7 Die Here het toe vir Moses gesê: “Klim dadelik van die berg af! Die volk wat jy uit Egipte bevry het, is besig om lelike dinge te doen.

8 Hulle het van die koers afgewyk wat Ek vir hulle gewys het. Hulle het vir hulle ’n kalf gemaak wat hulle aanbid en waarvoor hulle offer. Hulle sê daarvoor: ‘Hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’”

9 Die Here sê toe vir Moses: “Ek het nou gesien dat hierdie volk hulle eie kop gaan volg.

10 Moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitwis. Ek sal eerder van jou ’n groot nasie maak.”

11 Maar Moses het by die Here gepleit om dit nie te doen nie. Hy het vir die Here gevra: “Here, waarom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag en sterk mag uit Egipte bevry het?

12 Waarom sal U die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle om die bos gelei. Hy het hulle bevry sodat Hy hulle tussen die berge kon uitwis en van die aarde af laat verdwyn’? Moet tog asseblief nie kwaad word nie. Sien af daarvan en moenie hierdie ramp oor hulle laat kom nie.

13 Onthou tog dat U ’n ooreenkoms gesluit het met u dienaars Abraham, Isak en Jakob.

“U het vir hulle belowe: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee om vir altyd in te woon.’”

14 Die Here het toe afgesien van die ramp wat Hy oor sy volk wou bring.

15 Daarna het Moses omgedraai en van die berg afgeklim. Hy het die klippe waarop die verbond geskryf was in sy hand gehou. Dit was op albei kante, voor en agter, geskryf.

16 Dit was God se eie handewerk. Hy het self daarop geskryf.

17 Toe Josua hoor hoe die volk tekere gaan, het hy vir Moses gesê: “Dit klink of daar oorlog in die kamp is!”

18 Moses het geantwoord:

“Nee, dis nie die gejuig

van oorwinning nie;

ook nie die gekerm

van verloorders nie.

Dis die lawaai van feesviering

wat ek hoor!”

19 Toe hulle nader aan die kamp kom, het Moses die kalf en die gedansery gesien. Hy het so kwaad geword dat hy die klippe op die grond neergegooi het. Dit het daar by die voet van die berg in stukke gebreek.

20 Hy het toe die beeld van die kalf wat hulle gemaak het in die vuur gegooi. Toe dit afgekoel het, het hy dit fyngemaal. Hy het die poeier in water gegooi en die Israeliete gedwing om dit te drink.

21 Hy vra toe vir Aäron: “Wat het die volk dan aan jou gedoen dat jy hulle so ’n groot sonde laat doen het?”

22 “Moenie kwaad word nie,” het Aäron geantwoord. “Jy weet self hoe gereed is hierdie volk om kwaad te doen.

23 Hulle het vir my kom sê: ‘Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat geword het van hierdie Moses wat ons uit Egipte gelei het nie.’

24 Ek het toe vir hulle gesê: ‘Haal af julle goue oorringe en bring dit vir my.’ Ek het dit by hulle gevat en in die vuur gegooi en siedaar, hierdie kalf kom toe uit die vuur!”

25 Moses het besef dat Aäron toegelaat het dat die volk hand uitruk. Hulle was ’n bespotting vir hulle vyande.

26 Moses het by die ingang van die laer gaan staan en hardop uitgeroep: “Almal wat aan die Here se kant is, kom staan hier by my!” Al die Leviete het by hom gaan staan.

27 Hy het vir hulle gesê: “Die Here, die God van Israel, sê: ‘Elkeen moet sy swaard vat en van hoek tot kant almal in die kamp doodmaak, of dit nou broer, vriend of familielid is.’”

28 Die Leviete het net so gemaak soos Moses gesê het. Ongeveer 3 000 mans het daardie dag gesterf.

29 Moses het toe vir die Leviete gesê: “Julle het vandag julleself aan die Here toegewy. Julle het gedoen wat Hy gesê het, selfs al het dit beteken dat julle julle eie seuns en broers moes doodmaak. Die Here sal julle seën.”

Moses pleit vir Israel

30 Die volgende dag het Moses vir die volk wat oor was gesê: “Julle het verskriklik oortree. Ek sal egter weer opklim na die Here toe. Miskien kry ek dit reg dat Hy julle vergewe vir die sonde wat julle gedoen het.”

31 Moses het toe teruggegaan na die Here toe. Hy het vir Hom gesê: “Ag tog, Here, hierdie volk het ’n verskriklike sonde gedoen. Hulle het vir hulle ’n afgod van goud gemaak.

32 Wil U nie maar asseblief hulle sonde vergewe nie? As U nie wil nie, moet U tog maar my naam uitvee uit die boek waarin U dit opgeteken het.”

33 Die Here het vir Moses gesê: “Ek sal net die name van dié wat teen My oortree het, uitvee uit die boek.

34 Gaan nou en gaan lei die volk na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal voor jou uitgaan. Ek sal met hulle wat gesondig het, afreken op die dag wanneer Ek hulle tot rekenskap roep.”

35 Die Here het ’n groot ramp oor die volk laat kom omdat hulle die kalf aanbid het wat Aäron vir hulle gemaak het.

EKSODUS 33

Die Here gaan nie verder saam

nie

1 Die Here het vir Moses gesê: “Jy en die volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar van hier af verder trek. Gaan na die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob beloof het. Toe het Ek belowe dat Ek hierdie land vir hulle nageslag sal gee.

2 Ek sal ’n engel voor julle uitstuur. Ek sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf.

3 Dit is ’n baie vrugbare land.

“Ek sal egter nie verder saam met julle trek nie. Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek saamgaan, sal Ek julle dalk vernietig.”

4 Toe die volk hierdie harde woorde hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle wou nie langer juweliersware dra nie.

5 Die Here het dan immers vir Moses beveel om vir die Israeliete te sê: “Julle is ’n eiesinnige volk. As Ek ’n tree verder saam met julle moet trek, gaan Ek julle vernietig. Haal af julle juweliersware. Ek sal kyk wat Ek met julle moet doen.”

6 Vandat hulle van Sinai af weg is, het die Israeliete nie weer juweliersware gedra nie.

Die tent buite die kamp

7 Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af opgeslaan. Hy het dit “die ontmoetingstent” genoem. As iemand by die Here raad gesoek het, het hy na die ontmoetingstent buite die kamp gegaan.

8 Wanneer Moses uit die kamp na die tent toe gegaan het, het al die mense by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het Moses agternagestaar tot hy in die tent van ontmoeting ingegaan het.

9 Die oomblik wanneer hy die tent binnegegaan het, het die wolkkolom afgesak. Dit het oor die deur van die tent bly hang terwyl die Here daar met Moses gepraat het.

10 Wanneer die volk die wolkkolom oor die tent se deur sien hang het, het hulle opgestaan en by die ingang van hulle tente gekniel om die Here te aanbid.

11 Binne-in die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk. Wanneer Moses daarna weer na die kamp toe teruggekom het, het Josua die seun van Nun wat hom gehelp het, daar agtergebly. Hy het nie van die tent af weggegaan nie.

Moses wil sien hoe die Here lyk

12 Op ’n keer het Moses vir die Here gesê: “U het vir my gesê om hierdie volk te lei na die land wat U aan hulle beloof het. U het egter nooit vir my gesê wie U saam met my gaan stuur nie. U het wel vir my gesê dat U my baie goed ken en dat ek u goedkeuring wegdra.

13 “As dit dan so is, sê asseblief wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my verwag. Hierdie mense is tog u eie volk.”

14 Hy vra toe vir Moses: “Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?”

15 Moses sê vir Hom: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ’n tree van hier af laat beweeg nie.

16 As U nie saam met ons gaan nie, waaraan sal dit duidelik wees dat U vir my en u volk lief is? Hoe anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor die ander volke op aarde?”

17 Die Here het vir Moses geantwoord: “Goed, Ek sal doen wat jy gevra het. Jy dra my goedkeuring weg. Jy is my vriend.”

18 Toe vra Moses: “Kan ek nie maar u heerlikheid sien nie?”

19 Die Here sê vir hom: “Ek sal jou iets van my goedheid laat sien en Ek sal jou my stem laat hoor wanneer Ek my Naam ‘die Here’ uitroep. Ek gee genade aan dié wat Ek wil; en ontferming aan dié wat Ek wil.”

20 Hy sê toe vir hom: “Jy durf nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly leef as hy sien hoe die Here lyk nie.”

21 Die Here sê verder vir hom: “Kom staan by hierdie rotse, hier by My.

22 Wanneer Ek in my majesteit hier verbykom, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm terwyl Ek verbygaan.

23 Wanneer Ek verby is, sal Ek my hand wegvat en dan sal jy My van agter kan sien. Niemand mag My van voor af sien nie.”

EKSODUS 34

Die bepalings weer opgeskryf

1 Die Here het vir Moses gesê: “Kry twee plat klippe gereed. Ek sal weer al die woorde wat op die klippe was wat jy stukkend gegooi het, daarop skryf.

2 Wees môre-oggend vroeg gereed daarmee sodat jy die berg kan uitklim. Kry My bo-op die berg.

3 Niemand anders mag saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg iemand anders wees nie. Daar mag selfs nie enige beeste of vee teen die berg wei nie.”

4 Moses het toe twee plat klippe soos die eerstes gereed gekry. Hy het vroeg die oggend opgestaan en teen die berg begin uitklim, soos die Here vir hom gesê het. Hy het die twee plat klippe in sy hande gedra.

5 Die Here kom toe in ’n wolk af, gaan staan by Moses en roep hardop sy eie Naam, “die Here”, uit.

6 Terwyl Hy by Moses verbybeweeg, het Hy uitgeroep: “Ek is die Here. Ek is ’n God wat barmhartig en genadig is. Ek het geduld met mense. Ek is lojaal. Ek bly getrou.

7 Ek bly vol liefde oor al die geslagte. Ek vergeef alles wat hulle verkeerd gedoen het. Ek laat sonde egter nie sommer verbygaan nie. Ek straf selfs die kinders tot in die derde en vierde geslag daarna vir die sonde wat hulle voorouers gedoen het.”

8 Moses het diep vooroor gebuig en begin bid.

9 Hy het gesê: “As ek dan regtig u goedkeuring geniet, Here, trek dan verder saam met ons. Dit is wel ’n eiesinnige volk hierdie, maar vergeef ons tog ons sonde en ons oortredings. Aanvaar ons tog as u eiendom.”

10 Die Here sê toe: “Goed, Ek sluit met julle ’n ooreenkoms. Ek sal voor die hele volk wonderlike dinge laat gebeur wat nog nêrens op aarde of voor enige volk gebeur het nie. Al die volke sal sien wat die Here kan doen. Ek sal wonderlike dinge met julle laat gebeur.

11 Sorg dat julle alles doen wat Ek vandag vir julle sê. Ek sal die Amoriete, Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete voor julle uit die land verdryf.

12 “Maak seker dat jy op geen manier enige ooreenkoms sluit met die mense van hierdie land waarin julle gaan woon nie. As julle dit doen, gaan julle dieselfde dinge as hulle doen.

13 Trouens, julle moet hulle heidense altare afbreek. Trek hulle klippilare om en vernietig hulle afgodsbeelde.

14 Julle mag geen ander god behalwe die Here aanbid nie. Hy is ’n God wat volle getrouheid vereis.

15 “Moenie ooreenkomste sluit met die inwoners nie. Hulle sal julle verlei om saam met hulle agter hulle gode aan te gaan en soos prostitute teenoor My op te tree. Wanneer hulle hulle gode aanbid, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle van hulle afgodsoffers te eet.

16 Julle sal julle seuns met hulle dogters laat trou. Wanneer hulle vroue hulle gode aanbid, sal julle seuns agter hulle aangaan en soos prostitute teenoor My optree.

17 Julle mag nooit afgodsbeelde maak om te aanbid nie.

18 “Onthou om gereeld die Fees van die Ongesuurde Brood te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet waarin daar geen suurdeeg gebruik is nie. Julle moet dit elke jaar in die vroeë lente hou. Dit is die tyd toe julle uit Egipte weg is.

19 “Alles wat eerste gebore is en manlik is, behoort aan My. Jou seun of jou bees of skaap wat eerste gebore word, is Myne.

20 Die eerste donkiehings mag met ’n skaap vervang word. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie se nek breek om dit dood te maak. Jou eerste seun wat gebore word, moet ook met geld uitgekoop word. Niemand mag na My toe kom sonder ’n offer nie.

21 “Ses dae lank moet jy besig wees met jou werk. Op die sewende dag moet jy ophou, selfs al is dit planttyd of oestyd.

22 Onthou ook om die Oesfees te hou wanneer die oes begin inkom. Onthou ook die Insamelingsfees aan die einde van die oestyd.

23 Drie keer elke jaar moet al die mans voor die oppermagtige Here, die God van Israel, kom aanbid.

24 Niemand sal julle aanval of julle land probeer afneem terwyl julle van die huis af weg is om die Here te gaan aanbid nie. Ek sal die nasies voor jou uit verdryf. Ek sal jou grond al meer maak.

25 “Daar mag nie suurdeeg wees in die brood wat julle vir My offer nie. Daar mag niks van die vleis van die paaslam gedurende die Paasfees oor wees teen die volgende oggend nie.

26 Julle moet die beste deel van die eerste oes wat jy insamel na die huis van die Here bring.

“Jy mag nie ’n boklam offer wat nog nie gespeen is nie.”

27 Die Here het ook vir Moses gesê: “Skryf alles neer wat Ek vir jou sê. Dit is die bepalings van my verbond met Israel.”

28 Moses was daar bo-op die berg by die Here vir 40 dae en 40 nagte. Hy het gedurende daardie tyd niks geëet of gedrink nie. Hy het die Tien Gebooie van God se ooreenkoms op die plat klippe geskryf.

29 Moses het van Sinaiberg afgeklim met die twee plat klippe waarop die bepalings van die verbond geskryf was in sy hande. Toe hy afklim, het hy nie geweet dat sy gesig blink omdat God met hom gepraat het nie.

30 Aäron en die Israeliete het gesien hoe sy gesig blink en was bang om naby hom te kom.

31 Moses het hulle egter nadergeroep. Toe Aäron en die leiers naderkom, het hy met hulle begin praat.

32 Die hele volk het nadergekom, en Moses het alles oorvertel wat die Here vir hom op Sinaiberg gesê het.

33 Nadat Moses met hulle gepraat het, het hy ’n doek oor sy kop gegooi.

34 Elke keer wanneer Moses met die Here in die tent gaan praat het, het hy die doek afgehaal tot hy weer teruggekom het. Dan het hy alles aan die Israeliete gerapporteer wat die Here vir hom gesê het.

35 Die Israeliete het sy gesig sien blink. Hy het daarom weer die doek oor sy kop gegooi totdat hy weer met die Here gaan praat het.

EKSODUS 35

Die Sabbat

1 Moses het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die voorskrifte wat die Here vir julle gegee het:

2 Julle moet ses dae lank julle werk doen. Die sewende dag moet vir julle ’n heilige dag wees wat aan die Here gewy word en waarop gerus moet word. Enigeen wat op daardie dag werk, moet doodgemaak word.

3 Op daardie dag mag julle selfs nie vuur in julle huise maak nie.”

Vrywillige bydraes vir die bou

van die tabernakel

4 Moses het vir die vergadering van die Israeliete gesê: “Dit is wat die Here beveel het.

5 Gee vir die Here ’n vrywillige offer uit julle besittings. Almal wat bereid is, kan enigiets van die volgende vir die Here bring: goud, silwer of koper,

6 blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar,

7 rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of akasiahout,

8 olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook,

9 oniks en ander edelstene wat in die skouerkleed en borssak van die hoëpriester gesit kan word.

10 “Almal onder julle wat die bekwaamheid het, moet kom om die dinge te maak wat die Here gesê het:

11 die tabernakel met sy seile bo-oor, die hakies, die rame, die dwarsbalke en die regop pale met hulle voetstukke;

12 die ark met sy drahoute; die deksel daarop en die gordyn wat dit afskort;

13 die tafel met die pale waaraan dit gedra word en al sy toebehore; die offerbrood;

14 die kandelaar en alles wat daarby hoort; sy lampies met hulle olie;

15 die wierookaltaar en die pale waaraan dit gedra word; die salfolie en die geurige wierook; die gordyn by die ingang van die tabernakel;

16 die brandofferaltaar met alles wat daarby hoort; sy koperrooster en die pale waaraan dit gedra word; die waskom en sy voetstuk;

17 die materiaal vir die muur rondom die binnehof; die regop pale en hulle voetstukke; die gordyn by die opening van die binnehof;

18 die tentpenne vir die tabernakel en vir die binnehof met hulle toue;

19 die spesiale klere wat die priester dra wanneer hy in die heiligdom werk; Aäron en sy seuns se klere om hulle dienswerk in te doen.”

Voorbereiding vir die werk aan

die tabernakel

20 Almal van die vergadering is toe weg van Moses af.

21 Elkeen wat so gevoel het, het uit vrye wil vir die Here iets gebring vir die tabernakel en sy toerusting, en vir die heilige klere wat gemaak moes word.

22 Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee.

23 Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring.

24 Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.

25 Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring.

26 Die vroue wat gewillig was en dit kon doen, het bokhaar gespin.

27 Die leiers het onikssteen en die ander edelstene geskenk wat vir die skouerstuk en die borssak nodig was.

28 Hulle het ook die speserye en die olie vir die kandelaar gebring, die salfolie en die geurige wierook.

29 So het elke man en vrou van die Israeliete wat bereid was, vrywillige bydraes gemaak om te help met die werk wat die Here vir hulle deur Moses opgedra het.

30 Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël, die seun van Uri uit die Judastam gekies.

31 God se Gees gee vir hom die verstand, die kennis en die vaardigheid vir die werk wat gedoen moet word.

32 Hy kan voorwerpe maak uit goud, silwer en koper.

33 Hy kan edelstene bewerk en dit monteer en ook houtsnywerk doen. Hy is in staat om enige kunswerk te maak.

34 God het vir hom en Oholiab, seun van Agisamak uit die Danstam, die vermoë gegee om ander op te lei.

35 Die Here stel hulle in staat om graveerwerk, borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.”

EKSODUS 36

1 “Besaleël, Oholiab en al die ander persone vir wie die Here die kennis, verstand en vaardigheid gegee het om die werk by die tabernakel te doen, moet alles maak soos die Here gesê het.”

2 Moses het toe Besaleël en Oholiab laat kom saam met al die ander vir wie God toegerus het en wat gewillig was om die werk te doen.

3 Hulle het by Moses alles gekry wat die Israeliete gegee het om die heiligdom te bou. Die volk het elke oggend nog meer vrywillige offers gebring.

4 Die mense wat aan die heiligdom gewerk het, het naderhand hulle werk gestaak en met Moses kom praat.

5 “Die volk bring nou meer as wat ons nodig het om die werk te doen wat die Here vir ons gegee het,” het hulle gesê.

6 Moses het toe oral in die kamp laat afkondig: “Moenie meer offergawes bring nie. Julle het nou genoeg gegee.” Die volk het toe opgehou om te bring.

7 Daar was nou oorgenoeg materiaal om die tent te maak. Daar sou selfs nog oorbly.

Bou van die tabernakel

8 Almal wat kon help, het met die werk aan die tabernakel begin. Hulle het eers die onderste laag uit tien stukke materiaal gemaak. Hulle het blou, pers en bloedrooi draad ingeweef en gerubs daarop uitgeborduur.

9 Elkeen van die stukke materiaal was dieselfde grootte. Elkeen was veertien meter lank en twee meter breed.

10 Hulle het vyf stukke op mekaar gepas en aanmekaargewerk om een stel te vorm. Met die ander vyf het hulle ’n soortgelyke tweede stel gemaak.

11 Hulle het 50 lissies al om die rand aan die buitenste stuk materiaal van elke stel gewerk.

12 Die lissies van die twee stelle het presies op mekaar gepas.

13 Hulle het toe 50 goue hakies gemaak en deur die lissies gehaak sodat die twee stelle een dubbele vel gevorm het. Dit het saam die onderste laag oor die tabernakel gevorm.

14 ’n Tweede laag van elf stukke bokhaarmateriaal is gemaak om bo-oor die tent te gaan.

15 Elkeen van die stukke materiaal was presies dieselfde grootte. Elkeen was vyftien meter lank en twee meter breed.

16 Hulle het vyf stukke gebruik om een stel te maak. Vir die tweede stel het hulle die ander ses stukke gebruik.

17 Hulle het ook vir hierdie stelle 50 lissies rondom aan die buitenste stuk materiaal van elke stel gewerk.

18 Hulle het hakies van koper gemaak om deur die lissies te haak sodat die twee stelle aanmekaargesit kon word om een dubbele vel te vorm.

19 Hulle het ook ’n derde en vierde laag gemaak om bo-oor die tabernakel te span. Die een was van gelooide ramsvel en die ander van gebreide bokvel.

Die houtpanele en dwarslatte

20 Hulle het regop houtpanele uit akasiahout gemaak as raamwerk vir die tabernakel.

21 Elke paneel was vyf meter hoog en 75 sentimeter breed.

22 Daar was twee penne aan elke paneel sodat dit aan die volgende paneel verbind kon word. Al die panele was identies.

23 Hulle het twintig panele gemaak vir die suidelike muur.

24 40 voetstukke van silwer is ook gemaak, twee onder elke paneel.

25 Ook vir die noordelike muur het hulle twintig rame gemaak.

26 Hier was ook 40 voetstukke uit silwer, twee onder elke raam.

27 Vir die koppenent aan die westekant van die tabernakel het hulle ses panele gemaak.

28 Hulle het ook versterkte panele vir die hoeke gemaak.

29 Hierdie hoekpanele kon bo en onder met ringe vasgeklamp word om ’n eenheid met die ander mure te vorm. Daar was twee van hierdie panele, een vir elke hoek.

30 Vir die muur aan die koppenent was daar dus agt panele met twee voetstukke van silwer vir elkeen.

31 Hulle het toe vyf dwarslatte van akasiahout gemaak wat die panele aan die suidekant aan mekaar moes sluit.

32 Ook vir die noordelike en die westelike muur het hulle vir elkeen vyf dwarslatte gemaak.

33 ’n Dwarslat het in die middel van die panele van kant tot kant al teen die muur geloop.

34 Al die dwarslatte is met goud oorgetrek. Ook die ringe waardeur die dwarsbalke moes kom, is met goud oorgetrek.

35 Die afskorting vir binne-in die tabernakel is van geweefde linne gemaak. Hulle het daarin blou, pers en bloedrooi draad kunstig ingeweef en gerubs daarop uitgeborduur.

36 Hulle het vier pale uit akasiahout met goue hake gemaak. Die afskorting is daaraan opgehang. Die pale is met goud oorgetrek en op vier silwer voetstukke neergesit.

37 ’n Tweede afskorting is vir die ingang van die tent gemaak. Dit is gemaak van geweefde materiaal met blou, pers en bloedrooi wol.

38 Hierdie afskorting is met goue hakies aan vyf regop pale gehang. Die pale is met goud oorgetrek. Elkeen se voetstuk was van koper gemaak.

EKSODUS 37

Die ark

1 Besaleël het toe die ark van akasiahout gemaak. Dit was een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed.

2 Hy het dit aan die binne- en buitekant met goud oorgetrek. Buite-om het dit ’n versierde rand gekry.

3 Daar was vier ringe onder aan elke hoek, twee ringe aan elke kant.

4 Besaleël het drapale van akasiahout gemaak, dit met goud oorgetrek

5 en die drapale deur die ringe gesteek om die ark daaraan te dra.

6 Daarna het hy die deksel vir die ark van suiwer goud gemaak. Dit was een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed.

7 Hy het twee gerubs uit goud gemaak en hulle bo-op aan die twee ente van die versoendeksel vasgemaak.

8 Dit het ’n eenheid met die deksel gevorm.

9 Hulle gesigte was na mekaar toe gedraai. Hulle het afgekyk op die deksel en hulle vlerke was oor die deksel oopgesprei asof hulle dit beskerm.

Die tafel vir die offerbrood

10 Besaleël het die tafel uit akasiahout gemaak. Dit was een meter by ’n halwe meter groot en ’n driekwart meter hoog.

11 Hy het dit met goud oorgetrek en ’n goue rand reg rondom vasgesit.

12 Reg rondom was ’n lys van omtrent sewe sentimeter wat met ’n goue rand vasgesit is.

13 Hy het vier ringe vir die tafel gegiet, en dit aan die vier hoeke gesit waar die pote was.

14 Die ringe was net onder die lys sodat drapale daardeur gesit kon word om die tafel te dra.

15 Hy het ook drapale uit akasiahout gemaak en met goud oorgetrek.

16 Die toebehore vir die tafel het hy van suiwer goud gemaak. Daar was skottels en bakke waarin die geurige offers gekom het en flesse en komme wat by die tafel en by die drankoffer gebruik is.

Die kandelaar

17 Besaleël het die kandelaar uit suiwer goud gemaak. Sy voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en kroonblare het almal saam ’n eenheid gevorm.

18 Die kandelaar het ses arms gehad, drie aan elke kant.

19 Aan elke arm was daar ’n blomkelk in die vorm van ’n amandelbloeisel met knoppe en kroonblare.

20 Bo-aan die regop middelbalk was daar ook vier blomkelke in die vorm van amandelbloeisels met knoppe en kroonblare.

21 Onder aan elke arm waar dit uit die sentrale balk kom, was daar ’n blomknop.

22 Die arms en blomknoppe was alles uit goud en het ’n eenheid gevorm.

23 Besaleël het ook sewe lampe vir die kandelaar gemaak. Die tangetjie waarmee die vlammetjies uitgedoof word en die oliepithouer vir die lampies was ook alles van suiwer goud gemaak.

24 Die kandelaar met alles wat daarby kom, is van 34 kilogram goud gemaak.

Die altaar vir die wierook

25 Besaleël het daarna die altaar vir die wierook uit akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, ’n halwe meter breed aan elke kant en een meter hoog. Die tafel met sy horings op die hoeke het alles saam ’n eenheid gevorm.

26 Hy het die bokant, die sykante en die horings op die hoeke met suiwer goud oorgetrek. Hy het ook ’n rand van goud reg rondom die tafel vasgesit.

27 Hy het twee goue ringe aan die teenoorstaande kante net onder die rand vasgesit.

28 Ook die drapale vir die tafel is uit akasiahout gemaak en met goud oorgetrek.

29 Verder het Besaleël ook die salfolie en die wierook gemeng. Dit was die werk van ’n bekwame vakman.

EKSODUS 38

Die brandofferaltaar

1 Hy het toe die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Dit was vierkantig, elke kant twee en ’n halwe meter breed en die hoogte was een en ’n half meter.

2 Hy het horings aan die vier hoeke aangebring om ’n eenheid met die res te vorm. Hy het toe die altaar met koper oorgetrek.

3 Al die gereedskap wat by die altaar gebruik is, het hy uit koper gemaak. Daar was aspanne, asgrafies, komme, vurke en panne om kole in te dra.

4 Hy het ook ’n rooster van koper gemaak en dit halfpad na onder en reg rondom, onder die rand, vasgesit.

5 Verder het hy vier ringe van koper gemaak en aan die kante vasgesit. Die drapale moes deur die ringe gaan sodat die altaar gedra kon word.

6 Die drapale het hy van akasiahout gemaak en met koper oorgetrek.

7 Die drapale is deur die ringe aan die kant van die altaar gesteek. Die altaar self was hol van binne. Dit is uit geskaafde plank gemaak.

Die waskom

8 Besaleël-hulle het die waterbak en sy voetstuk uit koper gemaak. Die koper was afkomstig van die waterspieëls wat die vroue geskenk het wat by die ingang van die tabernakel gewerk het.

Die binnehof

9 Hy het ook die binnehof gemaak. Die suidekant was van fyn linne gemaak, 44 meter lank.

10 Daar was twintig regop pale met voetstukke van koper, en tussenin was daar silwergordynrelings en -hakies waaraan die gordyne gehang het.

11 Aan die noordekant was daar ook gordyne, 44 meter lank. Dit het ook twintig regop pale met voetstukke van koper en silwergordynrelings en -hakies gehad.

12 Die gordyne aan die westekant was 23 meter lank. Dit was ook van fyn linne gemaak. Hier was daar tien regop pale op voetstukke van koper. Die relings en hakies was ook van silwer.

13 Aan die oostekant was die binnehof ook 23 meter breed.

14 Die oostelike ingang van die binnehof het weerskante twee gordyne gehad. Die gordyn regs was sewe en ’n half meter lank, vasgemaak aan drie regop pale op voetstukke.

15 Die gordyne links was net so lank, en is ook vasgemaak aan drie regop pale op voetstukke.

16 Al die materiaal reg rondom die binnehof was van fyn linne.

17 Al die voetstukke was van koper en al die relings en hakies was van silwer. Die regop pale was aan hulle bokante met silwer oorgetrek. Die relings waaraan die materiaal vir die mure gehang het, was ook van silwer.

18 Die gordyn by die ingang van die binnehof is gemaak van geweefde linne. Daar was blou, pers en bloedrooi wol ingeweef en dit was ook geborduur. Dit was tien meter breed en soos die hele afskorting van die binnehof reg rondom, twee meter hoog.

19 Dit het aan vier regop pale op vier kopervoetstukke gehang. Die bopunte van die regop pale, die relings tussen die pale waaraan die materiaal gehang het en die hakies wat gebruik is, was alles van silwer.

20 Al die tentpenne waarmee die tabernakel en die mure rondom die voorhof geanker was, was van koper.

Die materiaal wat gebruik is

21 Hier volg nou ’n lys van die materiaal wat gebruik is om die tent te maak waarin die klippe met getuienis was. Moses het die Leviete opdrag gegee om dit alles op te skryf. Hulle het dit onder leiding van die priester Aäron se seun Itamar gedoen.

22 Besaleël, seun van Uri en kleinseun van Gur van die Judastam, het alles gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.

23 Oholiab, Agisamak se seun uit die Danstam, het hom gehelp. Hy het uitgemunt in die ontwerp en weef van blou, pers en bloedrooi wol en linne.

24 Die goud wat die volk vrywillig gebring het om die tabernakel te bou, was in totaal 1 002 kilogram.

25 Die silwer wat bymekaargemaak is toe die volk getel is, was altesaam 3 447 kilogram volgens die standaardgewig van die heiligdom.

26 Toe hulle getel is, moes elke man bo twintig ses gram silwer betaal. In die sensus is 603 550 mans getel.

27 Om die 100 voetstukke vir die regop pale van die binnehof te maak, is 100 stawe silwer gebruik. Dit was 34 kilogram vir elke voetstuk.

28 Van die silwer wat oor was, is die hakies en die relings gemaak en die bokante van die regop pale oorgetrek.

29 Die koper wat die volk gebring het, was in geheel 2 426 kilogram.

30 Die voetstukke van die regop pale by die ingang, die rand om die altaar, sy rooster en die gereedskap wat by die altaar gebruik word, is hiervan gemaak.

31 Ook die ander voetstukke van die regop pale rondom die binnehof, die voetstukke van die pale by die ingang en al die koperpenne wat gebruik is om die tent en die linnemuur rondom die binnehof te anker, is van hierdie koper gemaak.

EKSODUS 39

Klere vir die priesters

1 Vir die priesters het hulle klere van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak. Hulle moes hierdie klere dra wanneer hulle by die heiligdom diens gedoen het. Hulle het dit presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

2 Die skouerkleed was van fyn linne waarin gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol geweef was.

3 ’n Kunstenaar het goud in dun velle uitgerol en dun repies daaruit gesny. Hy het dit saam met die blou, pers en bloedrooi wol ingeweef in die materiaal.

4 Hulle het aan die skouerkleed twee skouerbande gemaak waarmee dit aan die skouers vasgemaak kan word.

5 Hulle het ook ’n gordel gemaak waarmee die skouerkleed om die heupe vasgetrek word. Dit was uit dieselfde fyn linne met blou en pers en bloedrooi wol ingeweef. Dit was presies net soos die Here vir Moses gesê het.

6 Hulle het oniks poleer en dit in goud gemonteer. Hulle het daarin die name van die stamme van Israel gegraveer.

7 Dit is op die skouerbande van die skouerkleed vasgesit. Hierdie stene het die Here aan die volk van Israel herinner. Dit is alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

Die borssak

8 Die sak wat voor die bors kom, is op dieselfde manier as die skouerkleed gemaak. Dit was van fyn linne waarop gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol geborduur is.

9 Die materiaal is dubbel gevou om ’n sak te vorm van 25 sentimeter lank en breed.

10 Hulle het hierop vier rye met drie edelstene elk vasgemaak. In die eerste ry was daar karneool, topaas en smarag.

11 In die tweede ry was daar turkoois, saffier en jaspis.

12 In die derde ry was daar hiasint, agaat en ametis.

13 Die laaste ry het chrisoliet, oniks en opaal gehad. Elkeen was in goud gemonteer.

14 In elke steen was ’n naam van die twaalf stamme van Israel fyn gegraveer.

15 Om die borssak aan die skouerkleed vas te maak, het hulle goue kettinkies gemaak wat soos tou gevleg is.

16 Hulle het ook twee ringetjies gemaak wat hulle aan die bokant van die borssak vasgewerk het.

17 Die kettinkies is deur die ringetjies gesteek.

18 Die punte van die kettinkies is aan die bande vasgewerk wat oor die skouers kom.

19 Twee ander ringetjies is aan die onderkant van die borssak vasgewerk. Hulle was aan die agterkant vasgewerk waar dit oor die skouerkleed kom.

20 Twee ringetjies is ook vasgewerk aan die skouerkleed waar die gordel kom.

21 Hierdie onderste ringetjies is aan mekaar vasgemaak met blou toutjies om te keer dat die borssak afsak. Alles is presies net so gemaak soos die Here vir Moses gesê het.

Die ander klere van die priester

22 Die mantel wat agter die skouerkleed afgehang het, is uit een stuk blou materiaal gemaak.

23 In die middel was daar ’n opening waardeur Aäron sy kop kon steek. Dit het ’n omboorsel gehad om te keer dat dit skeur.

24 Al op die kant van die mantel het hulle blou, pers en bloedrooi tosseltjies vasgewerk wat uit garing gemaak is.

25 Hulle het ook goue klokkies al op die soom vasgewerk.

26 Die tosseltjies en klokkies het mekaar afgewissel. Dit is gemaak presies net soos die Here vir Moses gesê het.

27 Hulle het ook vir Aäron en sy seuns ander klere uit fyn linne gemaak.

28 Hulle het ’n tulband en kopdoeke van fyn linne gemaak asook linnebroeke.

29 Daar was ook serpe van geborduurde materiaal waarin blou, pers en bloedrooi wol ingeweef is. Dit was net soos die Here vir Moses gesê het.

30 Hulle het ook vir Aäron se tulband ’n blom van suiwer goud gemaak. Daarin was fyn gegraveer: “Net vir die Here.”

31 Hierdie blom is met blou gare aan die voorkant van die tulband vasgewerk, presies net soos die Here vir Moses gesê het.

Die werk word voltooi

32 Uiteindelik was al die werk aan die tabernakel klaar. Die Israeliete het alles presies net so gemaak soos die Here vir Moses beduie het.

33 Hulle het die hele tent met alles wat daarby hoort na Moses toe gebring. Dit was die tent en die meubels, die hakies en die panele, die dwarslatte en die pale op hulle voetstukke.

34 Daar was die dak van die tent met die lae van gebreide velle en die gordyn om die binneste deel af te skort.

35 Daar was ook die ark met die getuienis en die drapale met die deksel.

36 Dan was daar ook die tafel met sy toebehore en die offerbrood;

37 die goue kandelaar, met sy lampies en olie en alles wat daarby hoort;

38 die goue altaar, die salfolie, die geurige wierook en die gordyn voor die ingang was ook daar.

39 Die altaar van koper met sy koperrooster, die drapale en die bybehore en die groot waskom met sy voetstuk was ook daar.

40 Daar was ook die gordyne vir die binnehof met die regop pale en hulle voetstukke, die gordyn by die ingang van die binnehof, die penne en hulle toue en al die ander gereedskap wat by die tent nodig was.

41 Daar was ook die geborduurde klere wat tydens diens in die heiligdom gedra moes word, naamlik die gewyde klere vir die priester Aäron en sy seuns wanneer hulle as priesters opgetree het.

42 Die Israeliete het alles gemaak net soos die Here vir Moses gesê het.

43 Moses het alles ondersoek en toegesien dat alles presies net so was soos die Here beveel het. Daarna het Moses almal geseën.

EKSODUS 40

Die tabernakel opgerig

1 Die Here het toe vir Moses gesê:

2 “Jy moet die tabernakel, die tent van ontmoeting, op die eerste dag van die eerste maand oprig.

3 Sit die ark met die getuienis binne-in die tent. Skerm die ark af met die gordyn in die binneste heiligdom.

4 Bring die tafel in en sit die toebehore by die tafel neer. Bring die kandelaar in en steek sy lampies aan.

5 “Die altaar vir die wierook moet jy neersit net buite die gordyn, reg teenoor die ark met die getuienis. Hang die afskorting voor die ingang van die tabernakel.

6 Die altaar vir die brandoffers moet buite staan, reg teenoor die ingang na die tent.

7 Die waskom moet tussen die tabernakel en die altaar wees. Gooi dit vol water.

8 Jy moet die linnemure rondom die binnehof opslaan en die gordyn by die ingang na die binnehof ophang.

9 “Vat van die salfolie en sprinkel daarvan op die tabernakel en alles wat daarin is om dit so vir My te wy. Dit sal dan heilig wees.

10 Sprinkel ook van die salfolie oor die brandofferaltaar en al sy bybehore om dit te heilig. Die altaar sal dan ook aan My gewy wees.

11 Salf ook die koperbad op sy voetstuk om dit aan My te wy.

12 “Laat Aäron en sy seuns dan na die ingang van die tabernakel toe kom. Was hulle daar met water.

13 Trek vir Aäron sy spesiale klere aan en salf hom. Wy hom aan My sodat hy My as priester kan dien.

14 Laat sy seuns ook naderkom. Trek ook hulle klere vir hulle aan.

15 Salf hulle ook soos hulle pa en wy hulle aan My as priesters. Met hierdie salwing word Aäron en sy nageslag priesters vir altyd.”

16 Moses het toe presies gemaak soos die Here vir hom gesê het.

17 Die tent is opgerig op die eerste dag van die nuwe jaar.

18 Moses het eers die voetstukke op hulle plek gesit. Daarna het hy die houtpanele daarop neergesit en hulle met die dwarslatte aan mekaar vasgesluit.

19 Daarna het hy die dak oor die tent getrek en die boonste laag daar booor getrek, soos die Here beveel het.

20 Hy het die kliptafels met die getuienis binne-in die ark gesit, die drapale deurgesteek en die deksel bo-op die ark gesit.

21 Toe het hy die ark in die tabernakel neergesit. Hy het die gordyne voor die ark gehang om dit af te skort. Dit was presies soos die Here vir hom gesê het.

22 Daarna het hy die tafel in die tabernakel teen die noordelike muur neergesit net buite die afskorting.

23 Hy het die offerbrode daarop neergesit voor die Here, net soos die Here vir hom gesê het.

24 Hy het die kandelaar in die tabernakel regoor die tafel teen die suidelike muur neergesit.

25 Die lampies het hy aan die staander vasgesit soos die Here gesê het

26 en die altaar vir die wierook in die tabernakel het hy voor die afskorting neergesit.

27 Toe het hy die geurige wierook daarop aan die brand gesteek, soos die Here vir hom gesê het.

28 Hy het die gordyn by die ingang van die tabernakel opgehang.

29 Hy het ook die altaar vir die brandoffer by die deur van die tabernakel neergesit, dit is die tent van ontmoeting, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek, soos die Here hom beveel het.

30 Daarna het hy die waskom tussen die tabernakel en die altaar neergesit en dit vol water gemaak sodat die priesters hulle daar kon was.

31 Moses, Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daar gewas.

32 Elke keer wanneer hulle by die tabernakel kom en na die altaar toe gaan, het hulle eers gewas, soos die Here vir Moses gesê het.

33 Toe het hy die gordyn wat die binnehof rondom die tabernakel en die altaar vorm, opgehang. Hy het ook die gordyn by die ingang na die binnehof opgehang. So het Moses sy werk afgehandel.

Die Here kom na die tabernakel

toe

34 Toe het die wolk afgesak en oor die tabernakel gehang. Die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tent gevul.

35 Moses kon nie langer in die tabernakel kom nie, want die wolk was oor die tabernakel en die teenwoordigheid van die Here het dit gevul.

36 Wanneer die wolk van die tabernakel af opgelig en begin beweeg het, het die Israeliete geweet dat hulle verder moes trek.

37 As die wolk nie opgelig en begin beweeg het nie, het hulle net daar gebly.

38 Die wolk van die Here het gedurende die dag oor die tent gehang en snags was daar vuur oor die tabernakel. So het dit dwarsdeur Israel se reis gegaan.