EKSODUS 21

Slawe moet billik behandel

word

1 “Gee die volgende reëls vir Israel:

2 Wanneer jy ’n Hebreeuse slaaf vir jou koop, moet hy net ses jaar vir jou werk. In die sewende jaar moet jy hom vrylaat. Hy skuld jou niks verder nie.

3 As hy ongetroud was toe jy hom gekoop het, moet jy hom ongetroud vrylaat. As hy reeds getroud was toe jy hom gekoop het, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word.

4 “As sy eienaar vir hom ’n vrou gegee het terwyl hy in sy diens was en hulle het seuns of dogters gekry, bly die vrou en haar kinders in besit van die eienaar, maar die man word vrygestel.

5 Die slaaf kan egter uitdruklik verklaar: ‘Ek hou van my baas en ek is lief vir my vrou en my kinders. Ek wil nie vrygelaat word nie.’

6 As hy so maak, moet sy eienaar hom na God toe bring. Hy moet die slaaf na ’n deur vat en teen die deurkosyn ’n gat met ’n els in sy oor maak. Die slaaf sal dan vir altyd aan hom behoort.

7 “As iemand sy dogter as ’n slaaf verkoop, word sy nie soos die mans aan die einde van ses jaar vrygelaat nie.

8 As die persoon wat haar gekoop het nie met haar tevrede is nie, mag hy haar weer verkoop. Hy mag haar nie aan iemand van ’n ander volk verkoop nie. Dit kom neer op kontrakbreuk.

9 As die eienaar haar vir sy seun gee om mee te trou, moet hy haar behandel soos sy eie dogter.

10 As hy self met haar trou, mag hy nie haar kos of klere verminder of ophou om by haar te slaap wanneer hy daarna nog ’n ander vrou vat nie.

11 As hy enige van hierdie drie sake nalaat, moet sy vrygelaat word. Sy hoef hom dan niks te betaal nie.”

Persoonlike beserings

12 “As iemand ’n ander persoon so beseer dat hy daarvan sterf, moet hy self doodgemaak word.

13 As dit onopsetlik was, sal Ek vir hom ’n plek gee waarheen hy kan vlug.

14 As hy die persoon egter doelbewus aangeval het met die bedoeling om hom dood te maak, moet hy weggevat word om tereggestel te word, selfs al het hy by die altaar kom skuil.

15 “Enigeen wat sy pa of ma aanrand, moet doodgemaak word.

16 “Enigeen wat iemand ontvoer, moet doodgemaak word afgesien daarvan of hy hom klaar verkoop het en of die persoon nog by hom gekry word.

17 “Iemand wat sy pa of sy ma vloek, moet doodgemaak word.

18 “Tydens ’n stryery kan die een die ander een so met ’n klip of met sy vuis bydam dat hy wel nie daarvan doodgaan nie, maar tog in die bed beland.

19 As die beseerde persoon weer later kan opstaan en buite met ’n kruk rondloop, is die persoon wat hom aangeval het, onskuldig. Die persoon wat hom geslaan het, moet egter vergoed vir die tyd wat hy nie kon werk nie en vir hom sorg tot hy weer gesond is.

20 “As iemand sy manlike of vroulike slaaf so met ’n stok slaan dat die persoon daarvan doodgaan, moet die persoon gestraf word.

21 As die slaaf na ’n dag of twee weer op die been is, hoef die eienaar nie gestraf te word nie. Die slaaf is tog die eienaar se eiendom.

22 “As mans met mekaar baklei, kan dit gebeur dat hulle in die proses ’n vrou wat swanger is, omstamp. Sy kan haar baba verloor, maar nie self permanent beseer word nie. Die persoon wat dit veroorsaak het, moet haar man daarvoor vergoed volgens die bepaling van die regters.

23 As daar permanente skade is, moet hy in ooreenstemming met die skade gestraf word. As sy dood is, moet hy self doodgemaak word.

24 ’n Oog wat beseer is, moet met ’n oog se skade vergoed word. As ’n tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word. ’n Hand se skade moet met ’n hand vergoed word, ’n voet vir ’n voet,

25 ’n brandplek vir ’n brandplek, ’n wond vir ’n wond en ’n kneusplek vir ’n kneusplek.

26 “As ’n eienaar sy manlike of vroulike slaaf op die oog slaan en die oog word blind, moet die slaaf daarvoor vrygelaat word.

27 As ’n eienaar sy manlike of vroulike slaaf se tand uitslaan, moet die persoon vrygelaat word om daarvoor te vergoed.

28 “Wanneer ’n bees ’n man of vrou doodstoot, moet dit met klippe doodgegooi word. Sy vleis mag nie geëet word nie. Die eienaar van die bees hoef niks verder te betaal nie.

29 As dit al vantevore mense probeer doodstoot het, maar die eienaar het niks daaraan gedoen nie, moet die eienaar saam met die bees doodgegooi word.

30 Dit kan gebeur dat die familie van die persoon wat dood is, bereid is om vergoeding te aanvaar. Die eienaar mag dan die volle som betaal wat van hom geëis word.

31 “Dieselfde beginsel is van krag as ’n bees ’n seun of dogter doodstoot.

32 As die bees egter ’n manlike of vroulike slaaf doodmaak, moet die eienaar van die bees aan die eienaar van die slaaf 30 geldstukke betaal.

33 “Dit kan gebeur dat iemand ’n put grawe en dit oop los en dan val ’n bees of ’n donkie daarin.

34 Die eienaar van die put moet die eienaar van die dier ten volle vergoed. Hy kan egter die karkas van die dooie dier vir homself hou.

35 “As iemand se bees sy buurman se bees doodmaak, moet hulle die bees wat bly leef het, verkoop. Hulle moet die geld tussen mekaar verdeel. Hulle moet ook die karkas van die dooie dier onder mekaar verdeel.

36 As dit egter al vantevore bekend was dat die bees stoterig was en sy eienaar het dit nie onder beheer gehou nie, moet hy die eienaar van die dooie dier ten volle vergoed. Hy mag die karkas egter vir homself hou.”

EKSODUS 22

Beskerming van eiendom

1 “Iemand wat ’n bees of ’n skaap steel en dit dan slag of verkoop, moet daarvoor boete betaal. Hy moet vyf keer soveel betaal as wat die bees werd was. Vir die skaap moet hy vier keer soveel betaal.

2 “As ’n dief op heterdaad betrap word terwyl hy besig is om in te breek en hy word noodlottig gewond, is die persoon wat hom doodgemaak het, onskuldig.

3 As dit egter helder oordag gebeur, is die een wat hom doodmaak, skuldig aan moord.

“’n Dief wat gevang word, moet vir alles betaal wat gesteel is. As hy nie alles terugbetaal nie, moet hy self as ’n slaaf verkoop word om die skuld te betaal.

4 As iemand ’n bees of ’n donkie of ’n skaap steel en dit word nog lewendig by hom gekry, moet hy dubbel terugbetaal van wat die dier werd is.

5 “Iemand kan toelaat dat sy weiveld of sy wingerd oorbewei word en dan sy vee in ’n ander man se veld injaag om daar te gaan wei. Hy moet dan skadevergoeding betaal met die beste wat sy eie veld kan oplewer.

6 “Wanneer iemand die veld brand en dit na iemand anders se veld toe versprei en sy graan afbrand wat geoes is en reeds in gerwe gepak is, moet die een wat die vuur laat weghol het ten volle vergoed vir die skade.

7 “Dit kan gebeur dat iemand geld of goed vir ’n ander persoon gee om op te pas en dit word uit sy huis gesteel. As die dief gevang word, moet hy dubbel daarvoor vergoed.

8 As die dief nie gevang word nie, moet daardie persoon onder eed voor God verklaar dat dit nie hy was wat dit gesteel het nie.

9 “Elke geskil oor die regmatige eienaar van ’n bees of ’n donkie, ’n skaap, of klere of enigiets anders, moet voor God kom om daaroor te beslis. Die party wat verkeerd is, moet die een wat reg is dubbel vergoed.

10 “Dit kan gebeur dat iemand sy donkie of sy bees of sy skaap of enige ander dier vir iemand gee om op te pas. Dit gaan dan dood of kry seer of verdwaal terwyl niemand by is om te sien wat gebeur het nie.

11 Die man wat die diere moes oppas, moet dan ’n verklaring aflê voor die Here dat dit nie hy was wat die diere iets laat oorkom het nie. Die eienaar moet dan sy woord aanvaar. Die oppasser hoef nie daarvoor te vergoed nie.

12 As ’n dief dit egter gesteel het terwyl dit in sy sorg was, moet hy daarvoor vergoed.

13 As ’n roofdier dit verskeur het, moet hy bewys bring dat dit verskeur is. Hy hoef dan nie te vergoed nie.

14 “Wanneer iemand ’n dier van iemand anders leen en dit kry seer of gaan dood en die eienaar was nie by nie, moet hy ten volle vergoed word.

15 As die eienaar wel by was, hoef hy nie vergoed te word nie. Die huurgeld moet steeds betaal word om die skade te dek.”

Verantwoordelikheid teenoor

mekaar

16 “As iemand ’n meisie wat nog nie verloof is nie, oorhaal om saam met hom te slaap, moet hy aan haar pa die gewone bruidsprys betaal en met haar trou.

17 As haar pa volstrek weier dat hy met haar kan trou, moet hy nogtans aan hom dieselfde bedrag betaal as wat ’n pa as bruidsprys vir sy dogter kan kry.

18 “’n Vrou wat toorkunste beoefen, mag nie bly lewe nie.

19 “Elkeen wat met ’n dier seks het, moet doodgemaak word.

20 “Iemand wat aan enige ander god as die Here offer, moet uit die weg geruim word.

21 “Moenie iemand wat van ’n ander land kom, verontreg nie. Julle mag hulle nie laat swaarkry nie, want julle was self vreemdelinge in Egipte.

22 “Julle mag nie weduwees en weeskinders uitbuit nie.

23 As julle hulle onregverdig behandel en hulle kom kla by My, sal Ek hulle kant vat.

24 My woede sal teen julle losbreek en Ek sal julle in die oorlog laat omkom. Julle vroue sal dan ook weduwees word en julle kinders sonder ouers.

25 “As julle geld uitleen aan die arm mense van die volk, moet julle nie maak soos die mense wat teen rente uitleen nie.

26 As jy iemand se klere as ’n pand neem vir dit wat hy leen, moet jy dit vir hom teen sononder teruggee.

27 Hy het dit nodig om in die nag daaronder te slaap. Wanneer hy na My roep om hulp, gaan Ek na hom luister. Ek gee om vir sulke mense.

28 “Moenie lasterlik teen God optree nie. Moenie die leiers van die volk vloek nie.

29 “Moenie iets terughou van die deel van jou graan- en druiwe-oes wat jy vir My bring nie.

“Onthou dat jou oudste seun aan My behoort.

30 “So ook die eerstelinge van beeste en kleinvee. Dit mag die eerste sewe dae nog by sy ma bly. Maar op die agtste dag moet jy dit vir My gee.

31 “Julle moet mense wees wat vir My afgesonder is. Julle mag nie iets eet wat in die veld verskeur is nie. Gee dit vir die honde om te vreet.”

EKSODUS 23

Julle moet regverdig wees

1 “Moenie valse gerugte versprei nie. Moenie met misdadigers saamsweer en valse getuienis in hulle guns aflê nie.

2 “Moenie agter die meerderheid aangaan en ook verkeerd doen nie. Wanneer jy in ’n hofsaak moet getuig, moet jy nie agter die meerderheid aanhardloop en die waarheid verdraai nie.

3 Jy mag ook nie jou getuienis verdraai ter wille van iemand net omdat hy of sy arm is nie.

4 “As jy op jou vyand se beeste of donkie afkom wat verdwaal het, moet jy dit na hom toe terugvat.

5 As jy sien dat die vrag op jou vyand se donkie te swaar is vir hom, mag jy dit nie net so los nie. Jy moet jou vyand help om dit ligter te maak.

6 “Jy mag ook nie in ’n hofsaak iemand verontreg bloot net omdat hy arm is nie.

7 “Bly ver weg van bedrog. Moenie ’n onskuldige en eerlike persoon se dood veroorsaak nie. Ek sal nie een wat skuldig is, laat vrykom nie.

8 “Moenie omkoopgeld aanvaar nie, want dit maak jou blind vir die waarheid. Dit verongeluk die saak van die een wat regverdig is.

9 “Moenie iemand wat uit ’n ander land kom onregverdig behandel nie. Julle weet wat vreemdelinge alles ervaar. Julle was immers self vreemdelinge in Egipte.

10 “Jy moet ses jaar lank die lande bewerk, daarop saai en die oes inbring.

11 In die sewende jaar moet jy die grond net so onbewerk laat lê. Die arm mense van die volk mag dan die graan wat vanself opkom, vir hulle kom oes om te eet. Wat ná hulle oorbly, moet die wilde diere vreet. Jy moet met jou wingerde en olyfbome dieselfde doen.

12 “Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan. Op die sewende dag moet jy ophou om te werk sodat jou beeste en donkies kan uitrus. Jou werkers en die buitelanders by jou moet kans kry om te ontspan.

13 “Sorg dat julle alles doen wat Ek vir julle gesê het. Julle moenie vreemde gode aanbid nie. Julle mag nie eers hulle name noem nie.”

Drie jaarlikse feeste

14 “Daar is in die loop van die jaar drie feeste wat julle ter wille van My moet vier.

15 Die eerste is die Fees van die Ongesuurde Brood. Soos Ek al vantevore vir julle gesê het, moet julle vir sewe dae lank kos eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Dit moet jaarliks op dieselfde tyd aan die begin van die lente gevier word. Dit is die tyd van die jaar toe julle uit Egipte weg is. Elkeen moet dan iets vir My kom offer.

16 Die tweede fees is die Oesfees. Dan bring julle vir My die eerste graan wat julle afoes. Die derde fees is die fees aan die einde van die oesseisoen. Dit word gevier wanneer julle die laaste deel van die oes van die lande af inbring.

17 Gedurende elkeen van die drie feeste in die loop van die jaar moet elke manlike persoon die Here julle God kom aanbid.

18 “Julle mag nooit vir My bloed offer saam met brood waarin daar suurdeeg is nie. Die vet van die dier wat julle offer mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.

19 “Julle moet die beste deel van die graan wat julle op die eerste dag oes, na die Here julle God se tempel toe bring.

“Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”

Die Here se boodskapper gaan

saam met julle

20 “Ek stuur ’n engel saam met julle om julle langs die pad te beskerm. Hy sal vir julle die pad wys na die plek wat Ek vir julle uithou.

21 Gee aandag aan hom en luister na wat hy sê. Moenie julle teen hom verset nie. Hy sal dit nie verdra as julle teen hom in opstand kom nie. Hy verteenwoordig My.

22 “As julle mooi na hom luister en presies doen wat Ek vir julle sê, sal Ek self julle vyande se teenstander wees. Ek sal My stel teenoor hulle wat teen julle is.

23 “My engel sal saam met julle gaan. Hy sal vir julle die pad wys na die Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek sal hulle uitwis.

24 Julle mag nie voor hulle gode kniel om hulle te aanbid nie. Julle moenie maak soos hulle nie. Julle moet hulle afgodsdiens met wortel en tak uitroei. Julle moet ook die klippilare waar hulle aanbid tot op die grond toe afbreek.

25 “Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën.

26 In julle land sal kinders nie met geboorte sterf nie. Julle mense sal nie onvrugbaar wees nie. Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe.

27 “Ek sal sorg dat die mense wie se land julle inneem vir julle bang word. Ek sal julle vyande voor julle laat vlug.

28 Ek sal perdebye voor julle uitstuur. Hulle sal die Hewiete, Kanaäniete en Hetiete voor julle uitdryf.

29 “Ek sal dit egter nie alles in die eerste jaar laat gebeur nie. Die land sal dan verlate lê en die wilde diere sal dit oorneem.

30 “Ek sal hulle eerder stelselmatig voor julle uit verdryf. Soos julle al meer word, kan julle dan die land geleidelik oorneem.

31 “Ek sal die grense van julle land vasstel vanaf die Rietsee tot by die Middellandse See en vanaf die woestyn tot by die Eufraatrivier. Ek sal almal wat nou daar woon in julle mag gee. Julle sal hulle voor julle uit verdryf.

32 “Julle mag nooit met hulle enige ooreenkoms sluit nie. Julle mag niks met hulle gode te doen hê nie.

33 Hulle mag selfs nie eens langer tussen julle bly woon nie. As hulle langer daar bly woon, gaan dit vir julle ’n lokval wees. Hulle sal julle van My afrokkel en julle verlei om hulle gode te aanbid.”

EKSODUS 24

Ons sal alles doen wat die Here

1 Die Here het vir Moses gesê: “Klim op hiernatoe. Bring Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van die Israeliete saam met jou. Hulle moet ’n entjie weg staan en My van daar af aanbid.

2 Moses, net jy mag naby aan die Here kom. Die ander mag nie naderkom nie. Die volk self mag glad nie teen die berg uitklim nie.”

3 Moses het na die volk toe afgegaan en vir hulle alles gesê wat die Here beveel het. Hulle het soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het!”

4 Moses het alles wat die Here vir hom gesê het, neergeskryf. Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ’n altaar aan die voet van die berg gaan bou. Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant. Dit was vir die twaalf stamme van Israel.

5 Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die Here te offer. Dit was brandoffers en vrede-offers vir die Here.

6 Hy het ’n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang. Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.

7 Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees. Hulle het weer almal soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!”

8 Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel. Hy het gesê: “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die Here met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”

Moses en Josua klim teen die

berg uit

9 Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers uit Israel het toe teen die berg uitgeklim.

10 Daar het hulle die God van Israel met hulle eie oë gesien. Onder sy voete was iets wat gelyk het soos ’n vloer wat met saffierstene uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug.

11 Hulle het Hom gesien en Hy het nogtans niks aan hulle gedoen nie. Daarna het hulle in sy teenwoordigheid geëet en gedrink.

12 Die Here sê toe vir Moses: “Klim op na My toe hier op die berg. Bly hier. Ek wil vir jou plat klippe gee waarop Ek die wette en gebooie geskryf het wat jy vir die volk moet leer.”

13 Moses en sy helper Josua het teen God se berg uitgeklim.

14 Moses het vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons totdat ons weer na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As enige probleem opduik terwyl ek weg is, moet julle na hulle toe gaan.”

15 Moses het daarna teen die berg uitgeklim. Die wolk het oor die berg gehang.

16 Die wonderlike teenwoordigheid van die Here was op Sinai. Die wolk het ses dae lank oor die berg gehang. Op die sewende dag het die Here uit die wolk na Moses geroep.

17 Vir die Israeliete onderkant die berg het dit gelyk soos ’n vuur wat bo-op die berg brand.

18 Moses het verder teen die berg uitgeklim en in die wolk verdwyn. Hy was altesaam 40 dae en 40 nagte lank daar bo-op die berg.

EKSODUS 25

Vrywillige offers

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete dat elkeen wat graag wil vir My ’n offer kan bring.

3 Jy kan namens My vrywillige offers aanvaar van goud, silwer, koper,

4 van blou, pers of bloedrooi wol, van linne, van bokhaar,

5 van rooigekleurde vel, van gebreide vel, van akasiahout,

6 van olyfolie vir die lampe, van geurige wierook vir die offers,

7 van onikssteen of halfedelstene om in die efod en borssak te monteer.”

Bou vir die Here ’n heiligdom

8 “Die Israeliete moet vir My ’n heiligdom maak waarin Ek tussen hulle kan kom woon.

9 Jy moet hierdie tabernakel en al sy toebehore maak volgens die plan wat Ek vir jou gaan wys.”

Die aanwysings vir die ark

10 “Hulle moet ’n ark van akasiahout maak. Dit moet een en ’n kwart meter lank wees, ’n driekwart meter breed en presies net so hoog.

11 Jy moet dit aan die binne- en aan die buitekant met suiwer goud oortrek. Dit moet reg rondom ’n goue rand kry.

12 Maak vier ringe uit goud. Sit dit aan die onderste vier hoeke vas. Daar moet twee ringe aan elke kant kom.

13 Maak drapale uit akasiahout en trek dit ook oor met goud.

14 Steek die pale deur die ringe aan die kante om die ark daaraan te dra.

15 Hierdie pale moet altyd daar bly. Hulle mag nooit daar uitgehaal word nie.

16 Jy moet later die plat klippe wat Ek vir jou gaan gee en waarop Ek die bepalings van ons ooreenkoms neergeskryf het, binne-in die ark neersit.

17 “Jy moet ook ’n deksel van goud vir die ark maak. Dit is die versoendeksel. Dit moet een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed wees.

18 Maak twee beelde van gerubs met goud oorgetrek om weerskante bo-op die deksel te staan.

19 Sit hulle só vas dat dit ’n eenheid met die deksel vorm.

20 Die gerubs moet na mekaar kyk. Hulle moet met oopgespreide vlerke op die deksel afkyk.

21 Sit die klippe wat Ek jou sal gee binne-in die ark en die versoendeksel bo-op die ark.

22 Ek sal jou daar ontmoet. Ek sal van tussen die gerubs bo-op die ark met jou praat. Van daar af sal Ek vir jou my opdragte aan die Israeliete gee.”

Aanwysings vir die

offerbroodtafel

23 “Jy moet ook ’n tafel uit akasiahout maak. Dit moet ’n meter lank, ’n halwe meter breed en ’n driekwart meter hoog wees.

24 Trek dit met suiwer goud oor. Maak ’n goue rand om reg rondom te gaan.

25 Maak ook ’n lys van sewe sentimeter breed om reg rondom die tafel te gaan en sit daaraan ’n goue rand vas.

26 Maak vir die tafel ringe van goud en sit dit aan die lang kante

27 op die hoeke net onder die lys vas. Die drapaal moet daardeur gesteek word om die tafel daaraan te dra.

28 Maak die drapaal van akasiahout en trek dit oor met goud.

29 Jy moet ook vir die tafel skottels, panne, kanne en houers van goud maak sodat dit vir die drankoffers gebruik kan word.

30 Sorg dat daar altyd offerbrood op die tafel is.”

Aanwysings vir die kandelaar

31 “Maak ’n kandelaar uit suiwer goud. Dit moet ’n eenheid vorm met ’n voetstuk, steel, blomkelke, knoppe en blare – alles uit bladgoud.

32 Dit moet ses arms hê. Drie arms moet aan elke kant van die stam uitkom.

33 Aan elke arm moet daar ’n kelkie wees wat lyk soos ’n amandelbloeisel, kompleet met knoppe en blare.

34 Die steel in die middel moet vier amandelbloeisels hê met knoppe en blare.

35 Waar die arms uit die steel kom, moet elke paar aan die onderkant ’n blomknop hê.

36 Die steel en takke en versierings moet ’n eenheid vorm. Dit moet alles uit bladgoud gemaak word.

37 Maak sewe lampies vir die kandelaar. Sit hulle so daaraan vas dat hulle na die voorkant toe skyn.

38 “Die tangetjie waarmee die pit versorg word en die houers waarin die pit kom, moet ook van suiwer goud wees.

39 Jy sal 34 kilogram suiwer goud nodig hê vir die kandelaar en sy bybehore.

40 “Sorg dat jy alles maak presies volgens die planne wat Ek vir jou op die berg gewys het.”

EKSODUS 26

Aanwysings vir die tabernakel

1 “Maak die tabernakel uit tien stukke materiaal. Daar moet blou, pers en bloedrooi draad in die materiaal ingeweef word. Daar moet ook gerubs daarop uitgeborduur word.

2 Elke stuk materiaal moet veertien meter lank wees en twee meter breed. Al tien stukke moet ewe groot wees.

3 Werk vyf stukke aan mekaar om een stel te vorm. Werk ook die vyf ander aan mekaar om ’n tweede stel te maak.

4 “Werk blou lissies aan die kant van die buitenste stuk materiaal van elke stel.

5 Elke stel moet 50 lissies hê wat presies op mekaar pas.

6 Maak 50 goue hakies om die lissies van die twee stelle aan mekaar vas te maak. Dit vorm dan ’n eenheid wat bo-oor die tent kom.

7 “Maak ook nog ’n tweede laag vir die tent. Dit moet van bokhaar wees. Daar moet elf stukke hiervan wees.

8 Elkeen moet vyftien meter lank wees en twee meter breed. Al elf moet ewe groot wees.

9 Werk vyf stukke aan mekaar om een stel te vorm. Werk die ander ses aan mekaar om ’n tweede stel te maak. Die sesde stuk word dubbel gevou. Dit kom by die ingang van die tent.

10 “Werk 50 lissies aan die kant van die buitenste stuk van elke stel.

11 Maak hiervoor 50 hakies van koper. Sit die twee stelle reg op mekaar en haak hulle aan mekaar vas om ’n eenheid te vorm.

12 Die strook materiaal wat oorskiet, moet aan die agterkant van die tabernakel oorhang.

13 Die 50 sentimeter wat weerskante in die lengte van die stroke oorskiet, moet dus weerskante van die sye van die tabernakel ’n oorhang wees om dit toe te maak.

14 “Maak ’n derde laag van gebreide ramsvel. Sit ’n laag van gebreide vel booor. Dit alles vorm die dak van die tabernakel.

15 “Die raamwerk van die tabernakel bestaan uit panele wat van akasiahout gemaak is.

16 Elke paneel is vyf meter hoog en 75 sentimeter breed.

17 Daar moet aan elke paneel twee plekke wees waar dit met penne aan die volgende paneel verbind kan word. Al die panele moet so gemaak word.

18 Maak twintig panele vir die suidelike muur van die tabernakel.

19 Dit moet op 40 voetstukke van silwer pas. Onder elke paneel moet twee voetstukke kom.

20 Aan die noordekant kom ook twintig panele.

21 Vir hulle moet daar ook 40 voetstuk-ke van silwer wees, twee onder elke paneel.

22 Aan die westekant kom ses panele.

23 Op die hoeke kom versterkte panele.

24 Hierdie hoekpanele moet versterk word om bo en onder aan die ander muur vas te kom.

25 Daar moet dus altesaam agt panele aan daardie kant van die tabernakel wees wat op sestien voetstukke van silwer staan, twee onder elke paneel.

26 “Jy moet ook dwarsbalke van akasiahout maak om die panele aan mekaar vas te hou. Daar moet vyf balke vir die noordelike muur van die tabernakel wees.

27 Vir die suidelike muur moet daar ook vyf balke wees. Net so moet daar vyf dwarsbalke vir die westelike muur wees.

28 Die middelste dwarsbalk in die middel van die panele moet van een kant na die ander loop.

29 Trek die panele met goud oor. Maak hake daaraan sodat die dwarsbalke daarin kan pas. Trek die dwarsbalke ook met goud oor.

30 “Rig die tabernakel presies so op soos Ek vir jou op die berg gesê het.

31 “Maak ’n gordyn om die tent in twee dele af te skort. Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is. Gerubs moet daarop uitgeborduur wees.

32 Hang die gordyn in die tabernakel aan hake bo-aan vier regop balke. Hulle moet van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek word. Hulle moet elkeen op ’n voetstuk staan wat van silwer gemaak is.

33 Nadat jy die gordyn gehang het, moet jy die ark van die verbond agter die gordyn kom neersit. Die heiligdom word met hierdie gordyn van die Allerheiligste deel van die tent afgeskort.

34 “Sit die deksel – waar versoening gedoen word – op die ark daar in die Allerheiligste deel.

35 Sit die tafel en die kandelaar reg teenoor mekaar in die Heilige deel voor die gordyn. Die kandelaar kom teen die suidelike muur. Die tafel kom oorkant by die noordelike muur.

36 “Maak ’n gordyn van linne vir die ingang van die tent. Daar moet blou, pers en bloedrooi draad ingeweef word, met borduurwerk versier.

37 Hang dit aan goue hake aan vyf regop balke. Die balke moet van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek word. Dit kom op vyf voetstukke wat van koper gemaak is.”

EKSODUS 27

Aanwysings vir die altaar

1 “Maak ’n vierkantige altaar van akasiahout. Dit moet twee en ’n half meter aan elke kant wees en een en ’n half meter hoog.

2 Sit ’n horing vas op elke hoek. Alles moet ’n eenheid vorm. Trek die altaar en die horings met koper oor.

3 Die houers vir die as, die grafies, die bakke, die vleishake en die vuurpanne vir die altaar moet alles van koper gemaak word.

4 Jy moet ’n koperrooster om die altaar vassit. Sit ook ringe aan die vier hoeke van die altaar vas.

5 Sit die rooster net onder die rand van die altaar vas sodat dit tot by die helfte van die altaar gaan.

6 Om die rooster te dra moet jy drapale van akasiahout maak en hulle met koper oortrek.

7 Sit die pale deur die ringe aan die kante om dit daaraan te dra.

8 Die altaar is van plank en hol binne. Jy moet dit presies net so maak soos jy dit op die berg gesien het.”

Aanwysings vir die binnehof

9 “Maak ’n binnehof vir die tabernakel. Skort dit af met ’n gordyn van fyn linne. Aan die suidelike kant moet dit 44 meter lank wees. Die gordyn word regop gehou deur twintig regop koperpale wat op twintig voetstukke van koper staan.

10 Die gordyn hang aan hakies van silwer wat aan silwergordynpale bo-op die regop pale vas is.

11 Aan die noordekant van die binnehof is dit presies dieselfde. Daar is die gordyn ook 44 meter lank. Dit hang aan silwerhakies en pale wat op kopervoetstukke rus.

12 Die afskorting aan die westekant van die voorhof is 23 meter lank. Daar is tien koperpale op hulle voetstukke.

13 Aan die oostekant is die opening ook 23 meter lank.

14 Die ingang na die binnehof kom aan die oostekant. Aan die regterkant van die opening is daar ’n linnegordyn van sewe en ’n half meter lank wat aan drie regop pale op hulle voetstukke hang.

15 Die gordyn aan die linkerkant is ook van sewe en ’n half meter linne aan drie pale op hulle voetstukke.

16 “Vir die ingang na die binnehof moet jy ’n afskorting van tien meter maak. Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is. Dit moet ook geborduur wees. Dit hang aan vier regop pale op hulle voetstukke.

17 Al die regop pale van die binnehof word aan mekaar verbind met silwergordynpale waaraan daar silwerhakies is. Elke paal staan op sy voetstuk van koper.

18 Die binnehof is dus 44 meter lank en 23 meter breed. Dit word afgeskort met ’n linnegordyn wat twee en ’n half meter hoog is. Die gordyn hang aan regop pale wat van koper gemaak is.

19 “Alles wat binne-in die tabernakel gebruik word, ook die tentpenne waarmee die afskorting buite geanker word, moet van koper gemaak word.

20 “Sê vir die mense van Israel om vir jou suiwer olyfolie vir die kandelaar te bring. Dit moet sonder ophou bly brand.

21 Dit moet in die tabernakel net voor die tentafskorting staan. Aäron en sy seuns moet die lampies aan die kandelaar in die tent dwarsdeur die nag voor die Here laat brand. Dit is ’n vaste reël vir Israel. Elke geslag van Israel moet dit doen.”

EKSODUS 28

Klere vir die priester

1 “Laat jou broer, Aäron, en sy seuns Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar naderkom. Hulle is anders as die res van die volk. Hulle is my priesters. Hulle sal vir My by die tent werk.

2 Maak vir Aäron klere wat hom van die ander kan onderskei. Dit moet pas by sy werk.

3 Gee opdrag vir die manne wat die bekwaamheid het om vir Aäron klere te maak waarin hy vir My kan werk.

4 Hulle moet vir hom ’n borssak, ’n skouerkleed, ’n mantel, ’n geweefde kleed, ’n tulband en ’n gordel maak. Hulle moet ook vir Aäron se seuns spesiale klere maak om te dra wanneer hulle die priester se werk kom doen.

5 Alles moet met geweefde linne gemaak word. Daar moet gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad daarin geweef word.”

Aanwysings vir die skouerkleed

6 “Die gedeelte oor die skouers moet van geweefde linne gemaak word. Dit moet met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad geborduur word.

7 Dit het twee skouerstukke, die een voor en die ander agter, wat bo-op die skouers aan mekaar kom.

8 Ook die gordel moet van dieselfde soort materiaal gemaak word waarop daar met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad uitgeborduur is.

9 Vat twee halfedelstene van oniks en graveer op hulle die name van die twaalf stamme van Israel.

10 Op elke steen moet ses name gegraveer word in die volgorde waarin hulle gebore is.

11 Die name moet graveer word soos op ’n seëlring. Monteer die twee stene dan in goud.

12 Werk die gemonteerde stene nou vas aan die skouerstukke as herinneringstekens vir die Israeliete. Aäron sal hierdie name op sy twee skouers voor die Here dra om Hom aan hulle te herinner.

13 Die monterings van die stene moet van suiwer goud wees.

14 Twee kettinkies van suiwer goud en gevleg soos tou, moet aan die monterings vasgemaak word.”

Ontwerp van die deel oor die

bors

15 “Maak ’n borssak om daarmee die wil van die Here te bepaal. Dit moet ’n kunswerk wees, gemaak soos die skouerkleed uit geweefde linne geborduur met gouddraad en blou, pers en bloedrooi draad.

16 Vou materiaal dubbel om ’n borssak te vorm, 25 sentimeter lank en breed.

17 Jy moet hierop vier rye edelstene vaswerk. In die eerste ry karneool, topaas en smarag.

18 In die tweede ry kom turkoois, saffier en jaspis.

19 In die derde ry kom hiasint, agaat en ametis.

20 In die vierde ry kom chrisoliet, oniks en opaal. Almal word in goud gemonteer.

21 Elkeen van die stene verteenwoordig een van die stamme van Israel. Elke stam se naam moet daarop gegraveer word.

22 “Vir die borssak moet jy van suiwer goud kettinkies maak wat soos tou gevleg is.

23 Maak twee goue ringe vir die borssak en werk dit vas aan die twee hoeke van die borssak.

24 Die twee goue kettinkies moet jy vasmaak aan die twee ringe by die hoeke van die borssak.

25 Maak die ander punte van die kettinkies vas aan die twee monterings en werk dit vas aan die voorkant van die skouerstukke van die skouerkleed.

26 Maak nog twee ander goue ringe en werk dit vas aan die onderste twee hoeke van die borssak, aan die binnekant langs die skouerkleed.

27 Maak nog twee goue ringe en sit dit vas aan die skouerstukke onder aan die voorkant van die skouerkleed bokant die gordel.

28 Werk dan die ringe van die borssak met blou koorde vas aan die ringe van die skouerkleed. Dit sal bokant die gordel van die skouerkleed wees sodat die borssak nie wegskuif van die skouerkleed nie.

29 Sodoende dra Aäron die name van die stamme van Israel in die borssak oor sy hart wanneer hy ingaan in die teenwoordigheid van die Here in die binneste heiligdom. So sal die Here voortdurend herinner word aan sy volk.

30 Sit die Urim en die Tummim waarmee God se uitspraak bepaal word, in die borssak. Dit moet altyd oor Aäron se bors wees wanneer hy voor die Here kom. So dra Aäron altyd die tekens vir die regspraak in Israel op sy hart voor die Here.”

Die ander klere van die priester

31 “Die mantel wat saam met die skouerkleed gedra word, moet van blou materiaal gemaak word.

32 In die middel moet daar ’n opening vir Aäron se kop wees. Die opening moet ’n omboorsel hê sodat dit nie kan skeur nie.

33 Maak tosseltjies van blou, pers en bloedrooi garing en werk dit vas aan die mantel met goue klokkies tussenin.

34 Die tosseltjies en klokkies moet mekaar afwissel en reg rondom die soom van die mantel vasgewerk word.

35 Aäron moet die mantel elke keer aanhê wanneer hy na die Here toe gaan in die heiligdom. Die klokkies sal klingel wanneer hy ingaan en weer daar uitkom. As hy dit dra, sal hy niks oorkom nie.

36 “Maak ook ’n blom van suiwer goud. Graveer daarop soos op ’n seëlring die woorde: ‘Net vir die Here.’

37 Werk die blom met blou garing vas aan die voorkant van Aäron se tulband.

38 Aäron sal dit op sy voorkop dra as teken dat hy medeskuldig is aan die oortredings wat Israel oor die offers begaan. Hy moet dit deurentyd dra sodat die Here goedgesind teenoor sy volk kan bly.

39 “Aäron se mantel moet van fyn linne gemaak word. Die tulband op sy kop moet ook van fyn linne gemaak word. Jy moet ook vir hom ’n gordel van geborduurde materiaal maak.

40 “Maak ook vir Aäron se seuns mantels, gordels en tulbande wat aan hulle waardigheid verleen.

41 “Laat Aäron en sy seuns hierdie klere aantrek. Salf hulle en bevestig hulle in hulle ampte. Stel hulle aan om My as afgesonderde priesters te dien.

42 Maak ook vir hulle broeke om onder hierdie klere te dra sodat hulle toe is vanaf die heupe tot by die bobene.

43 Aäron en sy seuns moet elke keer hierdie klere aanhê wanneer hulle in die tabernakel ingaan of na die altaar toe gaan om daar hulle werk te doen. As hulle dit nie aanhet nie, sal hulle sterf. Dit is die vaste reëls vir Aäron en sy nageslag.”

EKSODUS 29

Toewyding van die priesters

1 “So moet jy maak wanneer jy Aäron en sy seuns as priesters aan My toewy: Vat ’n gesonde jong bul en twee ramme.

2 Bak ’n brood met meel sonder suurdeeg en plaatkoek met olyfolie en maak wafels waaroor olie gegooi is.

3 Sit alles in een mandjie en bring dit saam met die bul en die twee ramme na die ingang van die tabernakel.

4 “Laat Aäron en sy seuns by die tabernakel kom staan. Was hulle met water.

5 Trek vir Aäron sy klere aan saam met die mantel van die skouerkleed, die skouerkleed en die borssak. Maak die skouerkleed vas met die gordel.

6 Sit die tulband op sy kop en maak die gewyde kroon daaraan vas.

7 Vat die salwingsolie en gooi dit oor sy kop.

8 Laat sy seuns ook naderstaan en laat hulle hulle geweefde klere aantrek.

9 Sit hulle gordels om hulle heupe en laat hulle die tulbande opsit. So sal jy hulle in hulle ampte aanstel. Hulle sal dan vir altyd my priesters wees.

10 “Laat die bul by die ingang van die tabernakel staan. Aäron en sy seuns sit dan hulle hande op die dier se kop.

11 Dan moet jy die dier net daar by die ingang van die tabernakel in die teenwoordigheid van die Here slag.

12 Vat van die bul se bloed en smeer daarvan met jou vinger aan die horings van die altaar. Gooi die res van die bloed aan die onderkant van die altaar uit.

13 Vat die vet wat aan die dier se binnegoed was, die lewer en die twee niere met die vet daaraan en verbrand dit op die altaar.

14 Vat die karkas, vel en die mis uit die kamp uit en gaan verbrand dit daar as ’n offer vir die sonde.

15 “Vat een van die ramme en laat Aäron en sy seuns hulle hande op sy kop sit.

16 Slag die ram, vang van sy bloed op en sprinkel dit teen die kant van die altaar.

17 Sny die ram se karkas in verskillende dele op. Was die binnegoed en die pote af met water. Sit dit neer langs die kop en die ander dele van die vleis.

18 Verbrand dit alles op die altaar. Dit is ’n brandoffer vir die Here. Dit is aanneemlik vir die Here.

19 “Vat nou die ander ram. Laat Aäron en sy seuns hulle hande ook op sy kop sit.

20 Slag die ram en vang sy bloed op. Smeer van sy bloed aan die regteroorlel van Aäron en sy seuns en ook aan hulle regterduime en regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is teen die kant van die altaar.

21 Vat dan van die bloed by die altaar en meng dit met die olie waarmee jy Aäron en sy seuns bevestig het. Sprinkel daarvan oor hulle en hulle klere. Dit wys dat hulle en hulle klere vir die Here afgesonder is.

22 “Hierdie tweede ram word gebruik om Aäron en sy seuns in te seën. Sny die vet van die ram uit, ook die vet aan sy binnegoed, sy vetstert, die punt van die lewer, die twee niere met die vet oor hulle en die regterboud.

23 Uit die mandjie wat voor die Here gebring is, moet jy een van die brode, ’n stuk plaatkoek waarin olyfolie is, en van die wafels waaroor olie gegooi is, neem.

24 Laat Aäron en sy seuns hulle hande hou en sit dit alles in hulle hande. Hulle moet dit dan uitsteek na die Here toe as ’n geskenk wat hulle vir die Here aanbied.

25 Vat dit daarna weer by hulle en verbrand dit op die altaar. Dit is ’n brandoffer wat vir die Here aanneemlik is.

26 Vat die borsstuk van die ram waarmee Aäron georden is en hou dit uit na die Here toe om dit aan Hom op te dra. Daarna mag jy dit vir jouself hou om te eet.

27 “Die heilige dele van die ram wat gebruik is om Aäron en sy seuns te orden, moet vir hulle eenkant gesit word. Dit is die borsstuk en die boud wat na die Here toe uitgesteek is en aan Hom opgedra is.

28 Voortaan sal hierdie dele na Aäron en sy afstammelinge gaan wanneer die mense van Israel ’n vrede-offer of dankoffer vir die Here bring.

29 “Aäron se spesiale klere moet ook gebruik word wanneer sy opvolgers in sy plek gesalf en in hulle amp bevestig word.

30 Die seun van Aäron wat hom opvolg, moet hierdie klere sewe dae lank aanhou wanneer hy in die tabernakel ingaan en in die heiligdom met sy werk begin.

31 “Vat die vleis van die ram wat tydens die bevestiging gebruik is en maak dit gaar by ’n plek wat daarvoor eenkant gesit is.

32 Aäron en sy seuns moet daar by die ingang van die tabernakel hierdie vleis en die brood wat in die mandjie oor is, eet.

33 Net hulle mag van die brood en vleis eet waarmee hulle tydens hulle bevestiging vir hulle versoening gedoen is. Die gewone mense mag glad nie daarvan eet nie omdat dit heilig is.

34 As daar die volgende môre nog van die gewyde vleis of brood oor is, moet dit heeltemal verbrand word. Dit mag nie geëet word nie, want dit is vir God eenkant gesit.

35 “Dit is hoe Ek jou beveel het jy Aäron en sy seuns in hulle werk moet bevestig. Die geleentheid hou sewe dae lank aan.

36 Jy moet elke dag ’n jong bul as sonde-offer bring met die oog op versoening. Bring ook ’n offer om die altaar te reinig. Gooi olie daaroor uit om dit aan die Here te wy.

37 Sewe dae lank moet jy elke dag ’n versoeningsoffer op die altaar bring. Die altaar sal dan uitsluitlik aan God gewy wees. Enigeen wat daaraan raak, sal vir God afgesonder wees.

38 “Dit is wat jy op die altaar moet offer: Offer elke dag twee jaaroud lammers op die altaar.

39 Offer die een in die oggend en die ander een teen die aand.

40 Saam met die lam in die oggend moet jy een en ’n half kilogram fynmeel offer. Dit moet gemeng word met een liter gesuiwerde olie en een liter wyn.

41 Die aandoffer word saam met meel, olie en wyn geoffer net soos dié van die oggend. Dit is ’n vuuroffer wat aangenaam is vir die Here.

42 “Van geslag tot geslag moet daar vir My elke dag ’n brandoffer by die ingang van die tabernakel gebring word. Daar sal Ek julle ontmoet en met julle praat.

43 Daar sal Ek die Israeliete ontmoet en Ek sal dit ’n heilige plek maak omdat Ek daar is.

44 Ek sal die tabernakel en sy altaar ’n heilige plek maak. Ek sal Aäron en sy seuns vir My heilig as my priesters.

45 Ek sal tussen die Israeliete woon. Ek sal hulle God wees.

46 Hulle sal erken dat Ek die Here hulle God is. Dit is Ek wat hulle uit Egipte bevry het om saam met hulle te woon. Ek is die Here hulle God.”

EKSODUS 30

Die klein altaar

1 “Maak ook ’n klein altaar van akasiahout om wierook daarop te brand.

2 Dit moet aan die kante ’n halwe meter breed wees en ’n meter hoog. Op die hoeke moet daar horings wees wat uit dieselfde hout gemaak is om ’n eenheid te vorm.

3 Jy moet die bokant, die kante en die horings met suiwer goud oortrek. Sit ’n rand van goud reg rondom die altaar.

4 Maak draringe van goud vir die altaar. Sit dit onder die rand vas aan die teenoorstaande kante sodat die drapale waarmee die altaar gedra word daar kan deursteek.

5 Die drapale moet van akasiahout gemaak word. Trek dit ook oor met goud.

6 Sit die wierookaltaar voor die gordyn waaragter die ark van die verbond is. Dit moet reg teenoor die versoendeksel wees. Daar sal Ek jou ontmoet.

7 “Elke oggend wanneer Aäron die lampe kom uitdoof, moet hy geurige wierook op die altaar brand.

8 Ook wanneer hy die lampe teen die aand aan die brand steek, moet hy wierook daarop brand. Elke geslag moet wierook voor die Here laat brand.

9 “Julle mag nie op hierdie altaar onheilige wierook brand nie. Julle mag ook nooit offers van vleis of graanoffers of drankoffers op hierdie altaar bring nie.

10 “Een keer elke jaar moet Aäron die altaar heilig wanneer hy bloed van die versoeningsoffer aan die horings van die altaar smeer.

“Elke geslag moet een keer per jaar versoening op hierdie altaar kom doen. Dit is uitsluitlik hiervoor aan die Here gewy.”

Belasting vir die tabernakel

11 Die Here het ook vir Moses gesê:

12 “Wanneer jy die Israeliete tel, moet elkeen wat getel is ’n afkoopsom vir homself aan die Here betaal. Geen ramp sal hulle dan tref wanneer jy hulle tel nie.

13 Elkeen wat getel word, moet ses gram silwer vir die Here betaal. Dit is volgens die eenheid wat by die hei-ligdom gebruik word.

14 Elkeen bo twintig jaar oud moet hierdie afkoopsom vir die Here betaal.

15 Wanneer hulle hierdie afkoopsom vir hulleself betaal, moet dié wat ryk is nie meer gee en dié wat arm is nie minder betaal nie.

16 Gebruik hierdie geld vir die diens by die tabernakel. Dit sal die Israeliete daaraan herinner dat die Here hulle lewens losgekoop het.”

Die waskom

17 Die Here het vir Moses gesê:

18 “Maak ’n koperhouer op ’n kopervoetstuk om in te was. Sit dit tussen die tabernakel en die altaar en gooi dit vol water.

19 Aäron en sy seuns moet hulle hande en voete daarin was

20 wanneer hulle in die tabernakel ingaan om voor die Here te verskyn of om ’n offer te bring. Hulle moet hulle was voordat hulle diens verrig, anders sal hulle sterf.

21 Dis ’n vaste reël vir Aäron en sy opvolgers en moet deur elke geslag nagekom word.”

Die salfolie

22 Die Here het verder vir Moses gesê:

23 “Kry die volgende bymekaar: 500 dele mirre, die helfte soveel kaneel, 250 dele kalmoes,

24 500 dele kassie en vier liter olyfolie.

25 Meng dit met mekaar en maak daarvan heilige salfolie.

26 Gebruik dit om die tabernakel en die ark van die verbond te salf.

27 Salf daarmee ook die tafel en al sy toebehore, die kandelaar en al sy toebehore, die wierookaltaar,

28 die brandofferaltaar met sy toebehore en die waskom met sy voetstuk.

29 Dra hulle almal aan die Here op. Enigeen wat daarna daaraan raak, sal vir die Here geheilig wees.

30 “Jy moet ook Aäron en sy seuns met die olie salf en hulle aan My wy om my priesters te wees.

31 “Sê ook vir die Israeliete: ‘Hierdie olie sal altyd my heilige olie wees.

32 Dit mag nooit vir enige ander mens gebruik word nie. Julle mag ook nie daarvan vir julleself gebruik nie. Dit is heilig en moet altyd as heilig beskou word.

33 “‘Enigeen wat net so ’n mengsel maak of daarvan aan iemand sit wat nie ’n priester is nie, sal uit die gemeenskap verwyder word.’”

Die wierook

34 Die Here het verder vir Moses gesê: “Meet gelyke hoeveelhede speserye af van hars, naeltjies, galbanum en suiwer wierook.

35 Meng dit soos ’n apteker en maak daarvan suiwer en heilige wierook.

36 Maal dit tot ’n fyn poeier en strooi daarvan voor die ark van die verbond waar Ek jou ontmoet in die tent van ontmoeting. Dit is besonder heilige wierook.

37 Jy mag nooit hierdie wierook vir jouself maak nie. Dit is uitsluitlik vir die Here. Dit is vir die Here alleen.

38 Die een wat so ’n mengsel maak, sal uit die gemeenskap verwyder word.”