EKSODUS 11

Die oudste seuns gaan dood

1 Toe sê die Here vir Moses: “Ek gaan nog een verdere ramp oor die farao en Egipte laat kom. Daarna sal hy julle laat gaan. Om die waarheid te sê, hy sal so graag van julle ontslae wil raak dat hy julle van hier af gaan wegjaag.

2 Sê vir die mans en vroue van die volk dat hulle by hulle bure goue en silwerware moet eis.”

3 (Die Here het die Egiptenaars positief ingestel teenoor die Israeliete. In Egipte is Moses beskou as ’n baie belangrike man en die farao se amptenare en die volk het groot agting vir hom gehad.)

4 Moses het toe vir die farao gesê: “Die Here het besluit: Teen middernag gaan Ek deur Egipte beweeg.

5 Dan sal die oudste seun in elke gesin in Egipte sterf, vanaf die oudste seun van die farao tot die oudste seun van die onbelangrikste diensmeisie. Selfs onder die diere sal die een wat eerste gebore is, getref word.

6 ’n Droewige gehuil sal in Egipte opklink soos daar nog nooit was nie en nooit weer gehoor sal word nie.

7 By die Israeliete sal dit egter doodstil wees. Daar sal ’n hond nie eers vir ’n mens of ’n dier grom nie. Dit sal duidelik wees dat die Here onderskeid maak tussen Israel en die Egiptenaars.

8 Al die amptenare van Egipte sal dan voor my kom neerval en my smeek: ‘Trek tog en vat al jou volgelinge saam met jou!’ Eers dan sal ek gaan!” Moses is toe kwaad van die farao af weg.

9 Die Here het met Moses gepraat: “Die farao gaan nog nie na julle luister nie. Dit gaan My kans gee om nog kragtiger wonders in Egipte te doen.”

10 Alhoewel Moses en Aäron al hierdie wonders voor die farao laat gebeur het, het die Here hom tog nog hardkoppig gemaak. Hy het bly weier om Israel te laat gaan.

EKSODUS 12

Die eerste Paasfees

1 Terwyl hulle nog in Egipte was, het die Here vir Moses en Aäron gesê:

2 “Hierdie maand sal van nou af die belangrikste maand wees. Die nuwe jaar moet met hierdie maand begin.

3 Julle moet vir al die Israeliete die opdrag gee dat elke gesin op die tiende van hierdie maand vir hulle ’n lam in die hande moet kry.

4 As daar te min mense in ’n gesin is om ’n lam alleen op te eet, moet hulle dit deel met ’n ander gesin in die omgewing. Dit moet in verhouding verdeel word volgens die getal en behoefte van elke gesin.

5 Dit moet ’n rammetjie wees uit die skape of die bokke wat ’n jaar oud is en waarmee daar niks verkeerd is nie.

6 Sorg vir die rammetjie tot op die veertiende van die maand. Elke gesin in Israel moet teen skemertyd sy rammetjie slag.

7 Hulle moet van die rammetjie se bloed vat en daarvan smeer aan die bokant en sykante van die kosyn van die huis se voordeur waarin hulle dit gaan eet.

8 Die vleis word oor die vuur gebraai. Dit moet nog daardie selfde aand saam met brood wat sonder suurdeeg gemaak is en met kruie geëet word.

9 Die vleis mag nie meer rou wees nie. Dit mag ook nie gekook word nie. Die hele lam moet gebraai word met kop, pote en alles.

10 Daar mag ook niks daarvan oor wees teen die volgende oggend nie. Wat daarvan oorbly, moet voor die volgende oggend verbrand word.

11 “Wanneer julle dit eet, moet julle aangetrek wees om op reis te gaan. Julle moet skoene aanhê en julle kieries moet al in julle hande wees. Eet die kos vinnig. Dit is die Here se Paasfees.

12 Ek sal daardie nag deur Egipte trek en in die land al die oudste seuns en die diere wat eerste gebore is, doodmaak. Ek sal die gode van Egipte straf. Ek is die Here!

13 Die bloed wat julle aan julle kosyne gesmeer het, sal vir My ’n teken wees dat julle daar bly. As Ek dit sien, sal Ek daardie huis oorslaan. Die ramp wat Ek oor Egipte laat kom, sal julle nie tref nie.

14 “Hierdie dag moet altyd gevier word as ’n dag van herinnering. Dit is ’n spesiale feesdag van die Here wanneer julle nageslag moet onthou wat Hy gedoen het.

15 Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die eerste dag al moet julle alle suurdeeg uit julle huise wegvat. Enigeen wat gedurende hierdie sewe dae brood eet waarin daar suurdeeg is, moet uit die samelewing weggejaag word.

16 Op die eerste en weer op die sewende dag moet julle bymekaarkom vir die Here. Op daardie dae mag niks anders gedoen word nie, behalwe om kos te maak.

17 “Die Fees van die Ongesuurde Brood moet by julle ’n vaste instelling wees. Julle moet altyd in herinnering roep dat dit op daardie dag was dat Ek julle stamme uit Egipte laat wegkom het. Hierdie dag moet altyd onthou word.

18 Van die aand van die veertiende dag van die maand af tot op die aand van die 21ste van die maand, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.

19 Vir sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd iets eet met suurdeeg in sal uit die gemeenskap van Israel weggejaag word. Dit geld vir sowel gaste wat by julle oorbly as gebore Israeliete.

20 Julle mag gedurende daardie tyd niks eet wat suurdeeg in het nie. Waar julle ook al woon, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.”

21 Moses het toe die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Laat elke gesin vir hulle ’n rammetjie vang sodat hulle dit vir die Paasfees kan slag.

22 Vang die dier se bloed op in ’n houer. Vat dan ’n takkie van ’n hisopboom en doop dit in die bloed. Verf dan die bloed bo-aan die kosyn met die hisoptak en aan die kant van die huis se deur. Niemand mag by die deur uitgaan voor die volgende oggend nie.

23 Die Here gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die Here by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie.

24 “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld.

25 Wanneer julle in die land kom wat die Here belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou.

26 Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’

27 moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die Here. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’”

Die volk het toe afgebuk en die Here aanbid.

28 Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die Here vir hulle deur Moses en Aäron gesê het.

29 Teen middernag het die Here al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek.

30 Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie.

Israel trek weg uit Egipte

31 Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die Here soos julle gevra het.

32 Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!”

33 Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!”

34 Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat.

35 Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee.

36 Die Here het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder.

37 Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans.

38 Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad.

39 Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so haastig padgee uit Egipte dat daar nie nog tyd was om padkos te maak nie.

40 Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gebly.

41 Presies aan die einde van die 430 jaar is die Here se mense uit Egipte weg.

42 Die Here het hierdie nag gekies om hulle uit Egipte te laat trek. Hierdie nag het aan die Here behoort. Dit sal vir altyd in Israel onthou word.

Verdere voorskrifte vir die

Paasfees

43 Die Here het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die reëlings vir die Paasfees is soos volg: Iemand wat nie aan Israel behoort nie, mag nie saam eet nie.

44 ’n Slaaf wat gekoop is, mag wel saam eet, mits hy besny is.

45 Mense wat gehuur word of trekarbeiders mag nie saam eet nie.

46 Dié wat die rammetjie deel, moet dit saam eet in een huis. Julle mag nie van die vleis buitentoe vat nie. Julle moet ook nie sy bene breek nie.

47 Al die Israeliete moet deelneem aan die fees.

48 “As daar ’n buitelander tussen julle is wat aan die fees wil deelneem, moet hy en almal in sy huis wat manlik is, eers besny word. Hulle mag dan saam met julle aan die fees deelneem. Dit sal wees asof hulle tussen julle gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag egter glad nie aan die fees deelneem nie.

49 Dieselfde reël geld vir almal, of hulle nou in Israel gebore is en of dit iemand is wat uit die buiteland by julle kom woon het.”

50 Die Israeliete het toe presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.

51 Op dieselfde dag waarop die fees nog tans gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte gelei.

EKSODUS 13

Die oudste seun aan God

opgedra

1 Die Here het toe vir Moses gesê:

2 “Elke oudste seun in Israel moet aan My opgedra word. Die een wat eerste gebore word, behoort aan My, of dit nou ’n mens of ’n dier is.”

3 Moses het toe vir die volk gesê: “Ons moet altyd hierdie dag onthou waarop ons weg is uit Egipte waar ons slawe was. God het ons met sy groot krag daar uitgelei. (Onthou om nie op hierdie dag iets met suurdeeg te eet nie.)

4 Ons trek weg op ’n dag in die maand Abib.

5 Julle moet altyd gedurende hierdie maand die fees vier wanneer die Here julle eendag in die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Hewiete en Jebusiete gebring het. Dit is ’n vrugbare land wat die Here aan ons voorgeslagte belowe het.

6 Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die sewende dag moet julle feesvier vir die Here.

7 Gedurende daardie sewe dae mag julle net brood eet sonder suurdeeg. Daar mag nie ’n krieseltjie suurdeeg te sien wees nie, nie by julle nie en nêrens in julle land nie.

8 “Julle moet op die dag van die fees aan julle kinders vertel waaroor dit gaan. Julle moet vir hulle verduidelik: ‘Ons vier fees oor wat die Here vir ons gedoen het toe ons uit Egipte weg is.’

9 Hierdie jaarlikse fees sal julle daaraan herinner. Dit sal soos ’n merk op jou hand en ’n herinneringsteken op jou voorkop wees. Dit sal julle help om altyd die Here se bevele in gedagte te hou. Dit was tog die Here wat julle met sy groot krag uit Egipte gered het.

10 “Onthou hierdie opdrag sodat julle die fees elke jaar op die vasgestelde tyd kan hou.

11 Onthou hierdie voorskrifte wanneer die Here julle in die land gebring het waar die Kanaäniete nou woon. Hy het dit lankal reeds aan julle voorouers belowe.

12 Al die oudste seuns en manlike diere wat eerste gebore is, moet dan aan die Here opgedra word.

13 Jy moet die eerste donkie wat gebore word, omruil met ’n skaap wat in sy plek vir die Here gegee word. As julle nie so wil maak nie, moet die donkie se nek gebreek word. Jy is egter verplig om jou seun wat eerste gebore is los te koop.

14 “Wanneer julle seuns vorentoe vir julle vra: ‘Hoekom maak ons so?’ moet julle vir hulle vertel: ‘Die Here het ons met sy groot krag van die slawewerk in Egipte bevry.

15 Die farao het bly weier om ons te laat gaan. Die Here het toe deur die hele Egipte die seuns en die diere wat eerste gebore is, laat doodgaan. Dit is hoekom ons almal wat eerste gebore is vir die Here offer, behalwe die seuns wat ons eerder kan loskoop.’

16 Hierdie fees sal dus soos ’n merk op jou hand en ’n teken op jou voorkop wees. Dit sal julle herinner dat die Here julle met sy groot krag uit Egipte bevry het.”

Israel se ompad deur die

woestyn

17 Toe die farao uiteindelik die volk laat gaan het, het God hulle nie kortpad deur die Filistynse gebied laat trek na die land wat Hy vir hulle beloof het nie. Die Here het gesê: “As die volk nou met oorlog moet te doen kry, gaan hulle van plan verander en omvlieg terug Egipte toe.”

18 Daarom het God hulle eerder met die woestynpad in die rigting van die Rietsee laat trek. Hulle het vertrek soos ’n leër wat op mars is.

19 Moses het Josef se oorskot saam met hom gevat. Josef het destyds die Israeliete plegtig laat belowe dat hulle sy liggaam saam met hulle sal vat die dag wanneer God sy woord gestand doen en hulle uit Egipte sal laat teruggaan.

20 Hulle is van Sukkot af weg en het by Etam aan die rand van die woestyn gekom. Hulle het daar kamp opgeslaan.

21 Gedurende die dag het die Here vir hulle die pad gewys met ’n hoë wolkstapel wat voor hulle uitgegaan het. Gedurende die nag het ’n wolk waarin vuur was vir hulle lig gegee. So kon hulle bly trek of dit nou dag of nag was.

22 Die wolkstapel in die dag en die wolk met vuur in gedurende die nag het nooit voor die volk weggegaan nie.

EKSODUS 14

1 Die Here het vir Moses gesê:

2 “Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en gaan kamp opslaan by Pi-Hagirot. Hulle kamp moet langs die see staan reg teenoor Baäl-Sefon, tussen Migdol en die see.

3 Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal het en die woestyn hulle gevang het.

4 Ek sal die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan julle agternasit. Die farao en sy leër gaan egter teen My verloor. Die Egiptenaars sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe daar kamp opgeslaan.

Die Egiptenaars agtervolg die

Israeliete

5 Toe die koning van Egipte berig kry dat die volk weggekom het, het hy en sy amptenare se houding teenoor die volk verander. “Wat het ons aangevang om die Israeliete wat vir ons gewerk het van ons af te laat weggaan?” het hulle hulleself afgevra.

6 Die farao het toe sy oorlogwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat.

7 Hy het ook al Egipte se oorlogwaens saamgeneem. Op elkeen was daar ’n bemanning van drie. Onder hulle was sy 600 beste oorlogwaens.

8 Die Here het die farao, Egipte se koning, vasberade gemaak. Hy het die Israeliete wat so maklik weggekom het, agternagesit.

9 Egipte het hulle agternagejaag met al hulle perde, Farao se oorlogwaens, sy ruiters en sy leër. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle kamp opgeslaan het langs die see naby Pi-Hagirot oorkant Baäl-Sefon.

10 Die farao het hulle begin inhaal. Toe die Israeliete sien dat die Egiptenaars agter hulle aan is, het hulle baie bang geword. Hulle het by die Here begin pleit om hulle te help.

11 Hulle het ook by Moses gaan kla: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons daar te begrawe nie dat jy ons hiernatoe moes bring om hier in die woestyn te sterf? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat trek?

12 Het ons nie vir jou gesê om ons met rus te laat toe ons nog in Egipte slawe was nie? Dit was beter om slawe vir die Egiptenaars te wees as om lyke in die woestyn te wees!”

13 Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red. Hierdie Egiptenaars wat julle vandag hier voor julle sien, sal nooit ooit weer gesien word nie.

14 Wag en kyk! Die Here sal in julle plek veg.”

Ontsnapping deur die Rietsee

15 Die Here het toe vir Moses gesê: “Vir wat staan jy so benoud en roep na My? Sê die mense moet begin beweeg.

16 Vat jou herderstok in jou hand en hou dit uit oor die water. Daar sal ’n pad deur die water kom waarlangs die Israeliete op droë grond kan trek.

17 Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om agter die Israeliete aan te gaan. Ek sal beroemd word deur wat Ek met die farao, sy hele leër, sy waens en sy ruiters gaan maak.

18 Wanneer Ek klaar is met die farao, sy oorlogwaens en sy ruiters, sal Egipte weet dat Ek die Here is.”

19 God se boodskapper wat die optog van Israel gelei het, het toe agter hulle gaan staan. Die wolkkolom wat voor hulle uit beweeg het, het ook agter hulle ingeskuif

20 sodat dit gehang het tussen die plek waar die Israeliete kamp opgeslaan het en waar die Egiptiese kamp was. Dit was donker aan Egipte se kant, maar gedurende die nag was dit lig aan Israel se kant. Die twee groepe kon nie deur die nag nader aan mekaar kom nie.

21 Moses het toe sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het die water teruggedryf met ’n sterk oostewind wat deur die nag gewaai het. Die water het oopgekloof en die seebodem het droog geword.

22 Die Israeliete het op droë grond deur die see getrek met die water soos mure aan weerskante van hulle.

23 Die Egiptenaars is toe agter hulle aan met al die farao se perde en sy oorlogwaens en hulle bemanning, reguit die see in.

24 Vroegoggend het die Here van bo uit die wolk van vuur en uit die stapelwolk op die leër van die Egiptenaars afgekyk. Hy het verwarring onder hulle laat ontstaan.

25 Hy het die wiele van hulle oorlogwaens laat vasval sodat hulle nie kon beweeg nie. “Laat ons padgee van Israel!” het die Egiptenaars geskreeu. “Die Here veg in Israel se plek teen ons.”

26 Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek weer jou hand uit oor die see. Die water sal terugstroom oor die Egiptenaars, oor hulle oorlogwaens en hulle bemanning.”

27 Terwyl die son besig was om op te kom het Moses sy hand oor die see uitgestrek. Die water het teruggestroom na sy ou plek toe. Die Egiptenaars het voor die water probeer vlug, maar die Here het hulle in die golwe laat verdrink.

28 Die water het oor die oorlogwaens gestroom en ook bo-oor die leër van die farao. Nie een van die Egiptenaars wat die Israeliete agternagesit het, het daardie dag weggekom nie.

29 Israel het egter op droë grond deur die middel van die see getrek, terwyl die water soos mure alkante van hulle gestaan het.

30 So het die Here Israel daardie dag van Egipte bevry. Die Israeliete het gesien hoe die lyke van die Egiptenaars op die strand uitgespoel het.

31 Toe die Israeliete sien met hoeveel mag die Here teen Egipte veg, het hulle respek gekry vir die Here. Hulle het in Hom geglo en was oortuig dat Hy Moses gebruik om vir Hom te werk.

EKSODUS 15

’n Lied van Bevryding

1 Moses en die Israeliete het toe hierdie lied vir die Here gesing:

Ek wil oor die Here sing,

want Hy is geweldig groot;

Hy het perd en oorlogwa

in die see gesmyt.

2 My krag en my sterkte

kom van die Here.

Hy gee my die oorwinning.

Hy is my God.

Ek wil Hom loof.

Hy was my voorouers se God.

Ek wil sy Naam verhoog.

3 Die Here is ’n vegter;

sy Naam is “Here”.

4 Die farao se oorlogwaens

en weermag

het Hy in die see gegooi.

Die dapperste van die farao se

offisiere

het in die Rietsee verdrink.

5 Massas water

het oor hulle toegevou;

hulle het soos ’n klip

in die dieptes weggesink.

6 U regterhand, Here, is sterk.

U regterhand, Here,

verbrysel die vyand.

7 U is geweldig hoog.

U verpletter hulle

wat U probeer teenstaan.

U woede bars los, U verwoes hulle

soos vuur wat gras verbrand.

8 U het op die water geblaas

en dit het opgedam!

Die water het opgestapel

soos ’n muur;

waters in die middel van die see

het soos ys gestol.

9 Die vyand het gesê:

Ek sal hulle agternasit;

ek sal hulle inhaal en vernietig,

ek sal hulle plunder;

ek sal my op hulle wreek,

ek sal my swaard uitpluk;

ek sal hulle

met geweld verwoes.

10 Toe U op die see geblaas het,

het die see oor hulle gespoel.

Hulle het soos lood gesink

in die massas water.

11 Wie van die gode

kan met U vergelyk word,

Here?

Wie is so hoog en heerlik

soos U?

Wie is so vreesaanjaend groot?

Wie kan sulke wondere doen

soos wat U laat gebeur?

12 U het u regterhand uitgesteek,

die aarde het u vyand

ingesluk.

13 Hierdie volk wat U gered het,

lei U met liefde.

U sal hulle lei met u krag

na die plek

waar u Naam heers.

14 Die volke sal daarvan hoor

en begin bewe;

die kele van die inwoners

van die land van die Filistyne

gaan toetrek.

15 Die leiers van Edom

raak lam van die skrik;

die sterk manne van Moab

se knieë klap teen mekaar;

dié wat in Kanaän woon

se moed sak in hulle skoene;

16 Verskrikking en vrees

oorval hulle

omdat U so sterk is.

Hulle sal tjoepstil wees, Here,

as u volk by hulle verbytrek,

u volk

wat U vir Uself gekoop het.

17 U sal hulle inbring

en laat woon

op die berg wat aan U behoort

die plek wat U gekies het

as woonplek, Here,

die heiligdom wat U gemaak het

met u eie hande, Here.

18 Die Here sal regeer

vir altyd, ja, altyd!

19 Werklikwaar! Toe die perde van die farao, sy oorlogwaens en hulle bemanning deur die see wou gaan, het die Here die water van die see op hulle laat instort. Die Israeliete was reeds droogvoets deur die see toe dit gebeur het.

Die Lied van Mirjam

20 Mirjam was ’n vroulike profeet. Sy was Aäron se suster. Sy het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het agter haar aan gedans terwyl hulle op tamboeryne slaan.

21 Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing vir die Here,

want Hy is geweldig hoog.

Perd en ruiter

het Hy in die see gegooi.”

Bitter water word soet

22 Moses het die volk toe weggelei van die Rietsee af. Hulle het na die Surwoestyn getrek. Drie dae lank het hulle deur die woestyn getrek en geen water gekry nie.

23 Toe hulle by die plek Mara kom, was daar uiteindelik water. Die water was egter brak en hulle kon dit nie drink nie. Dit is hoekom die plek Mara genoem is.

24 Die volk het toe by Moses gaan kla: “Wat moet ons dan drink?”

25 Moses het hulp by die Here gaan soek. Die Here het vir hom ’n stuk hout uitgewys. Hy het dit gevat en in die water gegooi. Dit het die water drinkbaar gemaak.

Dit was hier by Mara waar die Here die volgende reëling getref het om hulle te toets:

26 “As julle goed luister na die Here julle God en doen wat vir Hom reg is, gehoorsaam is aan sy wette en reëls, dan sal Ek julle nie dieselfde dinge laat oorkom as die Egiptenaars nie. Ek is die Here wat julle gesond sal hou.”

27 Toe hulle van Mara af weg is, het hulle by Elim gekom. Daar was ’n oase met twaalf fonteine en 70 palmbome. Hulle het daar kamp opgeslaan.

EKSODUS 16

Manna en kwartels

1 Die Israeliete is weg van Elim af en het by die Sinwoestyn tussen Elim en die Sinaiberg aangekom. Dit was ’n maand nadat hulle uit Egipte weg is.

2 Daar in die woestyn het almal teen Moses en Aäron begin uitvaar:

3 “Die Here kon ons eerder in Egipte laat doodgaan het. Daar was ten minste genoeg om te eet. Nou het julle ons hier na die woestyn toe gebring sodat almal hier van honger kan doodgaan.”

4 Die Here het toe vir Moses gesê: “Ek gaan vir julle kos uit die hemel laat reën. Die volk kan elke dag uitgaan en genoeg kos vir die dag bymekaarmaak. Ek gaan hulle toets om te kyk of hulle na my wil luister of nie.

5 Op die sesde dag moet hulle twee keer soveel as gewoonlik bymekaarmaak.”

6 Moses en Aäron het vir die Israeliete gesê: “Teen vanaand sal julle weet dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het.

7 Môre-oggend sal julle sien hoe groot die Here is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla. Dis eintlik teen Hóm wat julle so uitvaar en nie teen ons nie.”

8 Moses het ook gesê: “Omdat die Here gehoor het hoe julle oor Hom kla, sal Hy teen die aand vir julle vleis gee om te eet en soggens brood om van versadig te word. Dit was eintlik teen die Here wat julle gepraat het, nie teen ons nie.”

9 Moses sê toe vir Aäron: “Gaan sê vir die Israeliete: ‘Kom voor die Here bymekaar, want Hy het gehoor wat julle teen Hom sê.’”

10 Terwyl Aäron besig was om met hulle te praat, het hulle na die woestyn toe gedraai. Hulle kon in die wolkkolom wat voor hulle uitgegaan het, sien hoe groot God is.

11 Die Here het toe vir Moses gesê:

12 “Ek het die gekla van die volk gehoor. Sê vir hulle: ‘Julle sal teen skemer vleis hê om te eet en môre-oggend brood om van versadig te word. Julle sal dan weet dat Ek die Here julle God is.’”

13 Teen die aand het daar kwartels aangevlieg gekom en oral in die laer gaan sit. Die volgende oggend het daar dou reg rondom die kamp gelê.

14 Toe die dou later die dag verdwyn, was die grond van die woestyn bedek met fyn vlokkies wat soos ryp lyk.

15 Die Israeliete was verwonderd toe hulle dit sien. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit hierdie?” want hulle het dit nie geken nie. Moses antwoord hulle: “Dit is die kos wat die Here vir julle gee om van te eet.

16 Die Here het gesê dat elke tent soveel daarvan bymekaar moet maak as wat daar mense in die tent is. Julle moet vir elke persoon twee kilogram daarvan bymekaarmaak.”

17 Die volk het gegaan en daarvan bymekaargemaak – party meer, party minder.

18 Toe hulle dit afmeet, was dit presies reg. Dié wat baie opgetel het, het niks oorgehou nie. Dié wat min opgetel het, het nie te min gehad nie. Daar was net mooi genoeg vir elkeen om van te eet.

19 Moses het toe vir hulle gesê: “Daar mag niks daarvan vir die volgende dag oorbly nie.”

20 Tog was daar mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan laat oorbly vir die volgende oggend. Daar het toe wurms in gekom sodat dit baie sleg geruik het. Moses was baie kwaad vir hulle.

21 Die volk het voortaan elke oggend kos gaan bymekaarmaak volgens elkeen se behoefte. Namate dit in die dag warmer geword het, het die kos wat nie opgetel is nie, verdwyn.

22 Op die sesde dag het hulle twee keer meer opgetel as op die ander dae. Die leiers van die volk het dit vir Moses kom vertel.

23 Moses het vir hulle gesê: “Die Here het bepaal dat daar ’n rusdag moet wees. Môre is dit die Here se Sabbat. Bak en kook wat julle vir vandag nodig het en laat die ander vir môre oorbly.”

24 Hulle het gemaak soos Moses gesê het en die kos wat oorgebly het, het hulle tot die volgende oggend gehou. Dit het nie sleg geword nie en geen wurms het daarin gekom nie.

25 Moses sê toe: “Dit is die kos wat julle vandag moet eet. Vandag is die Here se Sabbat. Julle sal nie vandag iets op die grond kry nie.

26 Ses dae lank moet julle kos gaan bymekaarmaak, maar die sewende dag is die Here se Sabbat. Op hierdie dag sal daar nie kos op die grond wees nie.”

27 Op die sewende dag het party mense tog wel in die veld na kos gaan soek. Hulle kon egter niks kry nie.

28 Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle bly weier om na My te luister en te doen wat Ek sê?

29 Kan julle nie insien dat die Here die Sabbat gegee het om op te rus nie? Op die sesde dag gee Hy genoeg vir twee dae. Op die sewende dag moet julle rus. Niemand mag op die Sabbatdag van sy huis af weggaan om kos te gaan soek nie.”

30 Die volk het toe op die sewende dag gerus.

31 In Israel is hierdie kos toe “manna” genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het na heuning geproe.

32 Moses het vir hulle gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar sodat hulle kan sien watter soort kos die Here ons laat eet het toe Hy ons uit Egipte bevry het.”

33 Moses het vir Aäron gesê: “Maak ’n houer vol met twee kilogram manna. Bewaar dit waar die Here aanbid word dat die nageslag dit kan sien.”

34 Aäron het gedoen wat Moses vir hom gesê het. Hy het dit in die ark van die verbond gehou.

35 So het Israel manna geëet vir 40 jaar lank totdat hulle weer in ’n bewoonde gebied gekom het. Hulle het manna geëet tot hulle by die grens van Kanaän aangekom het.

36 (Die houer waarin twee liter afgemeet is, was een tiende van die gewone eenheid.)

EKSODUS 17

Water uit die rots

1 Die Israeliete is van die Sinwoestyn af weg en die Here het hulle gelei totdat hulle by Refidim uitgekom het. Daar was egter nie genoeg water vir die volk om te drink nie.

2 Die volk het met Moses gestry. Hulle het van hom geëis: “Ons wil water hê om te drink!” Maar Moses het vir hulle gesê: “Waarom stry julle met my? Waarom tart julle die Here?”

3 Hulle was egter baie dors en het weer na Moses toe gegaan en teen hom uitgevaar: “Waarom het jy ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat trek om hier van dors dood te gaan?”

4 Moses het toe by die Here gaan soebat: “Wat moet ek met hierdie volk maak? Hulle gaan my sonder die minste aanmoediging met klippe doodgooi.”

5 Die Here het toe vir Moses gesê: “Vat die stok waarmee jy op die Nylrivier geslaan het, gaan na die volk toe en vat ’n klomp van die oudste manne saam met jou.

6 Slaan met jou stok op die rots by Horeb. Ek staan daar en wag vir jou. Daar sal water uit die rots kom dat die volk kan drink.” Moses het toe presies net so gemaak terwyl die oudste manne staan en kyk.

7 Moses het daardie plek toe “Massa en Meriba” genoem, want die Israeliete het daar met Moses rusie gemaak. Hulle het die Here uitgetart toe hulle gevra het: “Gaan die Here ons ooit help?”

Israel veg teen die Amalekiete

8 Terwyl die Israeliete nog by Refidim was, het die soldate van Amalek hulle aangeval.

9 Moses sê toe vir Josua: “Kies vir ons manskappe dat ons teen Amalek kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan met die stok wat God vir my gegee het in my hand.”

10 Josua het gemaak soos Moses vir hom gesê het. Hy het teen Amalek gaan veg. Intussen het Moses, Aäron en Hur teen die koppie uitgeklim.

11 Solank Moses sy hand in die lug opgehou het, was Israel aan die wenkant. Sodra hy sy hand laat sak het, het die Amalekiete die oorhand begin kry.

12 Moses se arms het naderhand begin moeg word. Aäron en Hur het hom op ’n klip gaan laat sit. Hulle het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou totdat die son ondergegaan het.

13 Josua kon toe Amalek en sy volk verpletterend verslaan.

14 Die Here het toe vir Moses gesê: “Skryf op wat vandag gebeur het sodat julle dit altyd kan onthou. Bevestig aan Josua dat Ek Amalek se naam totaal sal uitwis.”

15 Moses het toe daar ’n altaar gebou wat hy genoem het “Die Here is my vaandel”.

16 Hy het gesê:

“’n Vuis is gelig

teen God se troon.

Die Here sal nooit ophou

om teen Amalek te veg nie.”

EKSODUS 18

Jetro besoek sy skoonseun

Moses

1 Moses se skoonpa, Jetro, die priester van Midian, het gehoor van alles wat God vir Moses en sy volk gedoen het. Hy het gehoor hoe die Here hulle uit Egipte verlos het.

2 Sy skoonpa het toe sy vrou, Sippora, en sy twee seuns saam met hom na Moses gebring. Moses het haar destyds na haar pa teruggestuur.

3 Sy een seun se naam was Gersom omdat Moses ’n vreemdeling was in ’n ander land.

4 Die ander seun se naam was Eliëser omdat die God van sy voorouers hom gehelp het en van die vervolging van die farao gered het.

5 Moses se skoonpa, Jetro, het toe saam met sy twee seuns en sy vrou by Moses aangekom waar hy in die woestyn kamp opgeslaan het by die berg van God.

6 Hy het vir Moses laat weet: “Ek, jou skoonpa Jetro, het saam met jou vrou na jou toe gekom. Sy het haar twee seuns by haar.”

7 Moses het toe sy skoonpa gaan ontmoet. Hy het voor hom gebuig en hom gesoen. Ná hulle mekaar uitgevra het oor hoe dit met die ander gaan, is hulle na Moses se tent toe.

8 Moses het vir sy skoonpa haarfyn vertel van alles wat die Here met die farao en Egipte laat gebeur het ter wille van Israel. Hy het ook vertel van al die probleme wat hulle langs die pad teëgekom het en hoe die Here hulle daarmee gehelp het.

9 Jetro was bly om te hoor van al die wonderlike dinge wat die Here met Israel laat gebeur het toe Hy hulle uit Egipte se greep bevry het.

10 Jetro het toe gesê:

“Loof die Here!

Hy het julle bevry

uit die greep van Egipte

en die farao.

Hy het die volk gered

uit die kloue van Egipte.

11 Nou weet ek

die Here is groter

as enige ander god,

as enige onregverdige ding

wat hulle met julle

gedoen het.”

12 Moses se skoonpa, Jetro, het toe ’n brandoffer voorberei en vir die Here geoffer. Aäron en al die oudste mans het gekom en saam met Jetro ’n offerete tot eer van God geëet.

Jetro se wyse raad

13 Die volgende dag moes Moses weer as regter vir die volk optree. Hulle het van vroegoggend tot laataand by Moses se tent tougestaan.

14 Toe Moses se skoonpa sien hoe Moses met die volk werk, vra hy vir hom: “Hoekom doen jy alles self? Die mense staan die ganse dag vir jou en wag!”

15 Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om te hoor wat die Here sê.

16 As daar ’n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.”

17 Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie.

18 Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie.

19 Luister nou na my raad. Mag God jou help om die volk by Hom te verteenwoordig. Jy moet voortgaan om hulle probleme na Hom toe te bring vir uitsluitsel.

20 Jy moet voortgaan om hulle in te lig oor God se wette en sy voorskrifte. Leer hulle hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen.

21 Maar jy moet ook uit die volk bekwame en eerlike manne kry wat vir die Here wil werk en nie omkoopgeld sal aanvaar nie. Jy moet hulle aanstel om regters te wees oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense.

22 Hulle moet dan as regters optree in die alledaagse sake. Vir groter sake moet hulle na jou toe kom. Die gewone sake kan hulle self hanteer. Hulle sal die las van jou skouers afhaal en dit saam met jou dra.

23 As jy so maak en God jou lei om dit so te doen, sal jy die vrag kan dra en almal sal tevrede wees.”

24 Moses het sy skoonpa se raad gevolg en gemaak soos sy skoonpa gesê het.

25 Moses het uit die hele Israel bekwame manne gekies en hulle as leiers oor die volk aangestel oor groepe van onderskeidelik 1 000, 100, 50 en tien mense.

26 Hulle was voltydse regters oor die volk. Groter sake is na Moses toe gebring en kleiner sake het hulle self hanteer.

27 Moses het toe afskeid geneem van sy skoonpa en hy het na sy land toe teruggegaan.

EKSODUS 19

Voorskrifte op die Sinaiberg

1 Die Israeliete het in die woestyn van Sinai aangekom presies twee maande nadat hulle uit Egipte weg is.

2 Nadat hulle by Refidim opgepak het, het hulle in die woestyn van Sinai aangekom. Israel het daar in die woestyn kamp opgeslaan, reg teenoor die berg.

3 Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die Here het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Sê vir die mense van Jakob en vir die volk van Israel die volgende:

4 ‘Julle het gesien wat Ek met die Egiptenaars gemaak het en hoe Ek julle as’t ware op die vlerke van ’n arend opgelig het en hier na My toe gedra het.

5 As julle regtig gehoorsaam is aan My en vashou aan my verbond met julle, sal julle my persoonlike volk wees tussen al die nasies van die wêreld. Die hele wêreld behoort aan My, maar julle sal in besonder die nasie wees wat aan My toegewy is.

6 Julle sal my koninkryk van priesters wees, ’n nasie wat die Here dien.’ Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê.”

7 Moses het toe van die berg af geklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het vir hulle alles vertel wat die Here hom beveel het.

8 Die volk het toe soos uit een mond gesê: “Ons sal alles doen wat die Here vir ons gesê het.” Moses het aan die Here gaan rapporteer hoe die volk op sy opdrag gereageer het.

9 Die Here het toe vir Moses gesê: “Ek gaan in ’n swaar wolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe Ek met jou praat. Hulle sal jou dan altyd vertrou.”

Nadat Moses aan die Here oorvertel het wat die volk alles gesê het,

10 het die Here vir hom gesê: “Gaan weer terug na die volk toe en berei hulle vandag en môre voor om My te ontmoet. Hulle moet hulle klere was.

11 Hulle moet reg wees vir die derde dag, want op daardie dag gaan Ek die Here voor hulle oë na die Sinaiberg toe afkom.

12 Baken die berg reg rondom af. Waarsku hulle: ‘Pas op! Moenie op die berg klim nie. Enigeen wat in die afgebakende deel ingaan, sal beslis doodgemaak word.

13 Niemand mag naby kom nie. As iemand dit doen, moet hy sonder meer met klippe doodgegooi word of met ’n pyl doodgeskiet word. Of dit nou ’n dier of ’n mens is, hy mag nie langer bly lewe nie.’ Wanneer die volk ’n trompet hoor blaas, moet hulle teen die berg begin opklim.”

14 Moses is toe van die berg af na die volk toe. Hy het hulle gereed gekry om God te ontmoet. Hulle moes hulle klere was.

15 Hy het vir hulle gesê: “Maak reg vir ’n belangrike gebeurtenis twee dae van nou af. Bly in hierdie tyd weg van seks af.”

16 Vroeg die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig. ’n Dik wolk het oor die berg gehang. ’n Trompet het baie hard geblaas. Die volk in die laer was doodbang.

17 Moses het die volk uit die kamp uitgelei om God te gaan ontmoet. Hulle het aan die voet van die berg gaan staan.

18 Die hele Sinaiberg was toe onder die rook toe die Here daarna toe afgekom het in ’n vuur. Die rook het die lug in geborrel soos rook uit ’n oond. Die hele berg het verskriklik geskud.

19 Die trompet het al harder en harder geblaas. Moses het gepraat en God het hom met donderslae geantwoord.

20 Die Here het toe afgekom na die top van die Sinaiberg toe en Moses na Hom toe geroep. Moses het toe teen die berg uitgeklim.

21 Die Here het vir Moses gesê: “Klim weer af en gaan waarsku die volk om nie in die afgebakende gebied in te gaan om na die Here te kyk nie. Baie van hulle sal dan doodgaan.

22 Selfs die priesters wat dikwels voor die Here kom, moet hulleself eers voorberei, anders sal hulle doodgaan.”

23 Moses het toe vir die Here gesê: “Die volk kan nie op die Sinaiberg klim nie. U het ons mos beveel om die berg af te sper en vir U af te sonder.”

24 Die Here het hom geantwoord: “Klim af en bring Aäron saam met jou terug. Die priesters en die volk mag egter nie in die afgebakende gebied kom om hiernatoe op te klim nie. Ek sal hulle beslis straf.”

25 Moses het afgeklim en vir die volk gaan vertel wat die Here vir hom gesê het.

EKSODUS 20

God gee sy Tien Gebooie

1 Die Here het al die volgende voorskrifte gegee:

2 “Ek is die Here jou God. Dit is Ek wat jou bevry het uit Egipte waar jy ’n slaaf was.

3 “Jy mag nie nog ander gode buiten My aanbid nie.

4 “Jy mag nie vir jouself afgode maak wat soos voëls of diere of visse lyk nie.

5 Jy mag nie voor hulle kniel om hulle te aanbid nie. Ek, die Here jou God, is jou enigste God. Ek laat die oortredings van dié wat My haat nie ongestraf verbygaan nie. Ek straf die derde en die vierde geslag daarna vir die sondes wat hulle ouers gedoen het.

6 My liefde bly egter duisend geslagte lank staan vir almal wat My liefhet en aan My gehoorsaam is.

7 “Moenie die Naam van die Here jou God sonder rede gebruik nie. Die Here sal die een wat sy Naam sonder die nodige respek gebruik, nie net so sonder straf laat wegkom nie.

8 “Onthou om die Sabbatdag vir God te vier.

9 Ses dae lank kan jy met jou daaglikse werk aangaan.

10 Die sewende dag is die Here jou God se rusdag. Niemand in jou huis mag op daardie dag aangaan met gewone werk nie. Dit sluit in: jy, jou seuns en dogters, jou manlike en vroulike slawe, die vee wat aan jou behoort en alle buitelanders wat by jou oorbly.

11 Die Here het in ses dae die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak. Op die sewende dag het Hy tot rus gekom. Om daardie rede het die Here die sewende dag geseën en vir Homself eenkant gesit as sy heilige dag.

12 “Behandel jou ouers met respek. Jy sal dan lank en gelukkig lewe in die land wat die Here vir jou gee om in te bly.

13 “Moenie mense doodmaak nie.

14 “Moenie egbreuk pleeg nie.

15 “Moenie iets steel nie.

16 “Moenie valse verklarings oor ander aflê nie.

17 “Jy moenie afgunstig raak op ’n ander se eiendom nie. Jy moenie sy vrou, sy manlike of vroulike werkers, sy beeste of sy donkies of enigiets wat hy besit vir jouself begeer nie.”

Die volk het bang geword

18 Die volk het baie bang geword toe hulle hoor hoe die donderweer rammel, die trompet geblaas word en sien hoe die rook uit die berg borrel. Hulle het op ’n afstand gaan staan.

19 Hulle sê toe vir Moses: “Jý moet maar liewer met ons praat. Ons sal na jou luister. Moenie dat God self met ons praat nie. Ons sal dan sterf.”

20 “Julle moenie bang wees nie,” het Moses vir hulle gesê. “God het so na julle toe gekom sodat julle ontsag vir Hom kan hê. Sorg dat julle nie teen Hom oortree nie.”

21 Terwyl die volk op ’n afstand bly staan het, het Moses ingegaan in die donker wolk waarin God was.

Die altaar vir die Here

22 Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle het self ervaar hoe Ek uit die hemel met julle praat.

23 Onthou, julle mag nie vir julleself afgode van silwer of goud maak nie.

24 “Die altare wat julle vir My bou, moet met grond gemaak word. Julle moet daarop brandoffers en dankoffers, kleinvee en beeste offer. Bou die altare op die plekke wat Ek vir julle uitwys. Ek sal daarnatoe kom en julle daar seën.

25 As julle dan ’n altaar van klip vir My wil bou, mag julle net natuurlike klip gebruik. As julle dit met gereedskap sou bewerk, sal dit nie meer vir My aanvaarbaar wees nie.

26 Moenie met trappies teen my altaar opklim nie. Iemand kan dan van onder af inkyk onder die klere van die een wat opklim.”