EFESIËRS 1

1 Paulus skryf aan die gelowiges

in Efese en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus. Ek is deur God gekies om ’n apostel van Christus Jesus te wees.

Ek skryf aan God se mense in Efese, hulle wat in Christus Jesus glo.

2 Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Wonderlike geestelike geskenke

3 Prys God, die Vader van ons Here Jesus Christus, voortdurend, want Hy is wonderlik goed vir ons! Deur wat Christus gedoen het, het Hy ons geseën met elke geestelike seëning wat daar in die hemelsfere is.

4 Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies. Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om Syne te wees en onberispelik in liefde voor sy aangesig te lewe.

5 Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem. Hy het dit gedoen omdat dit is hoe Hy dit wou hê.

6 Daarom prys ons God se grootheid. Deur sy Seun wat Hy liefhet, het Hy genade aan ons gegee.

7 Deur sy geliefde Seun is ons verlos deurdat Hy sy bloed vir ons gestort het. Ons oortredings is vergewe omdat God die rykdom van sy genade

8 in oorvloed aan ons gegee het. God, wat al die wysheid en insig het,

9 het sy geheime plan aan ons bekendgemaak. So het Hy dit reeds voorheen, met die fokus op Christus, goedgevind om hierdie plan

10 in die volheid van die tye tot uitvoering te bring. Hierdie geheime plan is om alles wat in die hemel en op die aarde is, onder een hoof te verenig; en hierdie hoof is Christus.

11 Deur wat Christus gedoen het, het ons ook deel van God se eie erfdeel geword. Ons was vooraf daartoe bestem! Dit was God se doel! Hy het alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.

12 Die gevolg is dat God se grootheid deur ons bestaan verheerlik word. Ons was die eerstes wat ons hoop op Christus geplaas het.

13 Deur wat Christus gedoen het, het ook julle die waarheid gehoor, die Goeie Nuus waardeur julle verlos word. Op grond van wat Christus gedoen het, is julle, toe julle tot geloof gekom het, tot God se eiendom gemerk deur die Heilige Gees wat God belowe het.

14 Die Heilige Gees is God se deposito wat ons volle erfenis waarborg totdat almal wat aan God behoort, volkome verlos sal wees. Daarvoor moet ons God se grootheid prys!

Gebed om wysheid

15 Die nuus dat julle in die Here Jesus glo en liefde aan al God se mense bewys, maak dat ook ek

16 nie ophou om God vir julle te dank nie. Ek dink aan julle in my gebede en vra

17 dat die God van ons Here Jesus Christus – die Vader aan wie al die heerlikheid behoort – aan julle geestelike wysheid en insig sal gee deurdat julle Hom persoonlik ken.

18 Mag God julle harte so verlig dat julle sal insien watter wonderlike vooruitsig sy roeping inhou. Mag julle insien hoe ’n ryk heerlikheid dit is dat God sy eie mense vir Hom as ’n erfdeel verkry het.

19 Mag julle insien hoe enorm groot die krag is wat God gebruik vir ons wat glo.

Dieselfde magtige sterkte was ook aan die werk

20 toe God Christus uit die dood opgewek het en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het.

21 Nou is Christus hoog verhewe bo elke owerheid en gesag en krag en heerskappy, ja, elke noemenswaardige instansie, nie net in hierdie wêreld nie, maar ook in die wêreld wat kom.

22 God het alle dinge onder sy beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee.

23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul.

EFESIËRS 2

Julle is saam met Christus

lewend gemaak

1 As gevolg van julle verkeerde lewe en sondes was ook julle geestelik dood.

2 Julle leefstyl destyds is bepaal deur hierdie bose wêreld, ja, deur die regeerder van die mag wat in die lug is. Dit is die gees wat nou nog werk in almal wat aan God ongehoorsaam is.

3 Ons almal het vroeër so gelewe. Ons gedrag is bepaal deur ons sondige begeertes. Elke sondige wens wat in ons gedagtes opgekom het, het ons sommer net gedoen. Soos die ander mense was ons vanselfsprekend vir God se straf bestem.

4 Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot

5 dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is!

6 Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.

7 So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.

8 Dit is mos dié genade wat julle verlos het deurdat julle tot geloof gekom het. En julle verlossing kom nie uit julleself nie, maar is ’n gawe van God.

9 Dit is nie die gevolg van julle dade nie. Niemand kan daaroor grootpraat nie,

10 want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.

Julle is één in Christus

11 Dink daarom aan die tyd toe julle wat as nie-Jode gebore is, “onbesnedenes” genoem is deur dié wat “besnedenes” genoem word – al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam.

12 Dink daaraan dat julle toe sonder Christus was, nie burgers van God se volk nie, uitlanders wat nie deel gehad het aan die beloftes van die verbonde nie. Julle was sonder toekomsverwagting en sonder God in die wêreld.

13 Maar nou het julle wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom. Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis.

14 Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak; ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek.

15 Hy het ’n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte. Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te omskep.

16 Ja, deur sy dood aan die kruis het Hy die vyandskap beëindig. Só het Hy albei groepe in een liggaam met God versoen.

17 Hy het vrede kom verkondig vir hulle wat ver is, én vir hulle wat naby is.

18 Dit is aan Hom te danke dat albei van ons deur een Gees toegang tot die Vader het.

Julle is die Here se tempel

19 Julle is dus nie meer uitlanders en bywoners nie, maar medeburgers van hulle wat aan God behoort. Ja, julle is lede van God se huisgesin

20 wat gebou is op die fondament wat die apostels en die profete gelê het. Christus Jesus is self die hoekklip

21 op wie die hele gebou, terwyl dit kunstig inmekaargepas word, verrys tot ’n tempel wat aan die Here toegewy is.

22 Deur julle verhouding met Hom word ook julle saam opgebou tot ’n gebou waarin God deur sy Gees woon.

EFESIËRS 3

God se geheime plan

1 Hier volg nou die rede waarom ek, Paulus, die gevangene in diens van Christus, vir julle, die nie-Jode, bid.

2 Julle het seker gehoor van die bediening wat God uit genade aan my toevertrou het, ’n bediening in julle belang.

3 ’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf.

4 Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan.

5 God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is.

6 Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word.

7 Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag.

8 Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig!

9 Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was.

10 Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God

11 se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring.

12 Deur Christus en ons geloof in Hom, kan ons met vertroue vrymoedig na God toe gaan.

13 Om hierdie rede vra ek dat julle nie moedeloos word oor my swaarkry ter wille van julle nie. Dit strek tot julle eer!

Paulus se gebed vir die Efesiërs

14 Daarom kniel ek voor die Vader.

15 Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde.

16 Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word.

17 Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees.

18 Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is.

19 Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word.

20 Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.

21 Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen.

EFESIËRS 4

Die eenheid van die gemeente

1 Ek doen dus ’n beroep op julle, ek wat ’n gevangene in diens van die Here is: Leef ’n lewe wat pas by die waardigheid van die roeping waarmee julle geroep is.

2 Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra.

3 Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het.

4 Daar is net één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping –

5 één Here, één geloof, één doop,

6 één God, ons almal se Vader;

Hy heers oor almal,

werk deur almal

en woon in almal.

7 Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee.

8 Daarom sê die Skrif:

“Toe Hy in die hoogte opgevaar het,

het Hy krygsgevangenes

meegevoer

en geskenke aan die mense

gegee.”

9 Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe?

10 Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul.

11 Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars,

12 om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou.

13 So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen.

14 Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie.

15 Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof.

16 Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op.

Lééf die nuwe lewe

17 Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend;

18 hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie.

19 Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid.

20 Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie!

21 Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Homonderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer,

22 naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan.

23 Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink.

24 Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is.

25 Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam.

26 Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly,

27 en die duiwel so ’n houvas gee nie.

28 Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel.

29 Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel.

30 Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie. In julle eenheidsband met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe.

31 Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek.

32 Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

EFESIËRS 5

Lewe in die lig

1 Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.

2 Ja, leef ’n lewe van liefde soos ook Christus ons liefgehad het deur Homself vir ons oor te gee as ’n lieflike reukoffer aan God.

3 Soos dit pas by mense wat aan God behoort, moet daar onder julle geen sprake wees van seksuele sondes, immorele optredes of gierigheid nie.

4 Ook skurwe stories, ligsinnige praatjies en vulgêre grappe pas nie by julle nie. Wat by julle pas, is om God te dank.

5 Want hiervan kan julle seker wees: niemand wat seksuele sondes en immorele dade doen, en niemand wat gierig lewe – so iemand dien immers ’n afgod – sal ’n erfdeel ontvang in die koninkryk van Christus en van God nie.

6 Moenie om die bos gelei word deur mense wat verskonings soek vir hierdie sondes nie. Die feit is: omdat mense deur sulke dinge aan God ongehoorsaam is, word hulle deur sy straf getref.

7 Dus: moenie saam met hulle aan hierdie dinge deelneem nie.

8 Julle lewe was vroeër nag! Nou egter, deur julle verbondenheid met die Here, is julle inderdaad die ene lig. Leef dan soos mense van die lig.

9 Uit dié lig kom mos alles wat goed en reg en waar is.

10 Vind uit watter dinge die Here tevrede stel

11 en moenie aanhou deelneem aan die nuttelose werke van die duisternis nie. Nee, ontmasker eerder hierdie werke,

12 want mense doen in die geheim dinge wat te skandelik is vir woorde.

13 Maar as die lig daarop skyn, kom alle dinge se ware karakter aan die lig,

14 en alles waarvan die ware karakter aan die lig kom, is self lig. Daarom sê die lied:

“Word wakker, jy wat slaap;

staan op uit die dood,

en Christus sal jou verlig!”

Leef Geesvervul!

15 Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase mense leef nie, leef wys!

16 Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye.

17 Moenie ondeurdag optree nie, maar probeer uitvind wat God se wil is.

18 Verder, moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot uitspattige gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak

19 en sing saam psalms en lofgesange en geestelike liedere. Sing en jubel met julle hele hart tot eer van die Here.

20 Sê altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge.

Die Christelike huwelik

21 Omdat julle respek het vir Christus, moet julle aan mekaar onderdanig wees.

22 Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here.

23 Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het.

24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees.

25 Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het

26 om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en

27 sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik.

28 Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief.

29 ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk,

30 omdat ons ledemate van sy liggaam is.

31 Daar staan mos: “’n Man sal weggaan van sy pa en ma en een word met sy vrou, en hulle twee sal een wees.”

32 Dit is eintlik ’n diep geheim, en ek noem dit om die verhouding tussen Christus en die kerk te beskryf.

33 Dit geld egter ook vir julle: Elkeen van julle moet sy eie vrou liefhê soos hy homself liefhet, en die vrou moet haar man respekteer.

EFESIËRS 6

Ouers en kinders

1 Kinders, omdat julle aan die Here verbonde is, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen!

2 “Eer jou vader en jou moeder” is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is:

3 “Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe.”

4 En pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.

Slawe en eienaars

5 Slawe, wees gehoorsaam aan julle aardse eienaars. Respekteer en eerbiedig hulle sonder om skynheilig te wees. Gehoorsaam hulle soos julle Christus sou gehoorsaam.

6 Moenie mense probeer tevrede stel deur net gehoorsaam te wees wanneer hulle julle kan sien nie. Nee, werk as slawe van Christus wat met volle oorgawe God se wil doen.

7 Doen julle werk entoesiasties, asof julle dit vir die Here doen en nie vir mense nie.

8 Julle weet mos dat die Here elke mens wat sy werk goed doen, sal beloon, of dit nou slawe is of vry mense.

9 En eienaars, julle moet met dieselfde verantwoordelikheid teenoor julle slawe optree. Hou op om julle slawe te dreig. Julle weet mos dat julle een en dieselfde Eienaar in die hemel het, en dat Hý niemand voortrek nie.

Ons moet God se

gevegstoerusting aantrek

10 Ten slotte: Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte!

11 Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

13 Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied, en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

14 Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.

15 Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.

16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof. Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

17 Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm. En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.

18 Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

19 Bid ook vir my, dat wanneer ek moet praat, woorde aan my gegee sal word om met vrymoedigheid die geheime plan van die Goeie Nuus bekend te maak.

20 As ambassadeur van hierdie Goeie Nuus is ek in boeie. Bid dat ek, soos dit hoort, die Goeie Nuus met vrymoedigheid sal verkondig.

Groete en slot

21 Tigikus, die geliefde broer, wat die Here getrou dien, sal julle alles vertel sodat julle kan weet hoe dit met my gaan en wat ek doen.

22 Ek stuur hom juis hiervoor na julle toe, dat julle kan weet hoe dit met ons gaan en gerusgestel kan word.

23 Mag God die Vader en die Here Jesus Christus vrede, liefde en geloof vir ons broers en susters gee.

24 Mag God se genade met almal wees wat ons Here Jesus Christus met ’n blywende liefde liefhet.