DEUTERONOMIUM 31

Josua die nuwe leier van Israel

1 “Moses het verder met die hele Israel gepraat

2 en gesê: “Ek is nou 120 jaar oud en is nie meer in staat om julle te lei nie. Die Here het vir my gesê dat ek nie die Jordaanrivier mag oorsteek nie.

3 Die Here julle God sal self voor julle uit deur die Jordaanrivier trek. Hy sal die nasies daar vernietig en julle sal hulle land in besit neem. Josua is julle nuwe leier en hy sal saam met julle gaan, net soos die Here beloof het.

4 Die Here sal daardie nasies vernietig net soos Hy vir Sihon en Og, die konings van die Amoriete, vernietig het.

5 Die Here sal hulle in julle hand oorgee en julle moet met hulle maak soos ek julle beveel het.

6 Wees sterk en hou moed! Moenie vir hulle bang wees nie! Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.”

7 Toe het Moses vir Josua geroep. In die teenwoordigheid van die hele Israel het hy vir Josua gesê: “Wees sterk en hou moed! Jy sal hierdie volk die land inlei, die land wat die Here aan hulle voorouers beloof het. Jy sal die land as hulle erfdeel aan hulle gee.

8 Moenie bang of mismoedig wees nie, want die Here is die Een wat voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

Lees die gebooie tydens die

feeste

9 Moses het toe hierdie gebooie neergeskryf en dit vir die priesters wat die ark van die verbond dra en vir die leiers van Israel gegee.

10 Moses het hulle toe soos volg beveel: “Aan die einde van elke sewende jaar, die jaar van die kwytskelding, gedurende die Huttefees,

11 moet jy hierdie gebooie vir die hele volk van Israel lees. Doen dit wanneer hulle in die teenwoordigheid van die Here julle God byeengekom het op die plek wat Hy sal kies.

12 Roep almal bymekaar, mans, vroue en kinders en ook die vreemdelinge wat in julle dorpe woon, sodat hulle kan luister en leer om ontsag te hê vir die Here julle God en om sorgvuldig gehoorsaam te wees aan al die bepalings van hierdie gebooie.

13 Doen dit sodat jou kinders wat hierdie gebooie nie ken nie, sal hoor en sal leer om ontsag te hê vir die Here julle God. Doen dit so lank as wat julle in die land bly, hierdie land wat julle in besit gaan neem wanneer julle deur die Jordaan trek.”

Israel se ongehoorsaamheid

vooraf voorsien

14 Toe het die Here vir Moses gesê: “Die dag van jou dood is naby. Roep vir Josua en neem hom saam met jou na die tabernakel en daar sal Ek hom sy opdragte gee.” Moses en Josua het toe na die tent van ontmoeting gegaan.

15 Die Here het by die ingang van die heilige tent in ’n wolkkolom aan hulle verskyn.

16 Die Here sê toe vir Moses: “Jou tyd het gekom om by jou voorouers aan te sluit. As jy eers weg is, gaan hierdie volk vreemde gode begin aanbid, die gode van die land waarheen hulle nou gaan. Hulle gaan My verlaat en die verbond verbreek wat Ek met hulle gesluit het.

17 Dan sal my woede teen hulle ontbrand. Ek sal hulle verlaat, my gesig vir hulle wegsteek sodat hulle agteruitgaan. In daardie tyd sal ellende en rampe hulle tref sodat hulle sal sê: ‘Hierdie swaarkry het oor ons gekom omdat God nie meer by ons is nie!’

18 Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie weens al die sondes wat hulle gedoen het deur ander gode te aanbid.

19 “Skryf nou die woorde van hierdie lied neer en leer dit vir die volk Israel. Leer hulle om dit te sing sodat dit as ’n getuienis teen hulle kan dien.

20 Ek sal hulle in die land bring wat Ek aan hulle voorouers met ’n eed beloof het. Dit is ’n vrugbare land. Hulle sal voorspoedig wees daar, met genoeg om te eet en te floreer. Dan sal hulle begin om ander gode te aanbid. Hulle sal My verag en my verbond verbreek.

21 Wanneer daar groot rampe oor hulle kom, sal hierdie lied ’n getuienis teen hulle wees. Hulle nageslagte sal dit nooit vergeet nie. Ek weet wat in hierdie volk se binneste aangaan, selfs nog voordat hulle die land binnegekom het wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het.”

22 Op daardie selfde dag nog het Moses die woorde van die lied neergeskryf en dit vir die Israeliete geleer.

23 Die Here het toe vir Josua, die seun van Nun, soos volg beveel: “Wees sterk en hou moed! Jy moet die Israeliete inbring in die land wat Ek met ’n eed aan hulle beloof het. Ek sal by jou wees.”

24 Nadat Moses die woorde van die wet in ’n boekrol neergeskryf het,

25 het hy die Leviete wat die ark van die verbond moes dra, beveel:

26 “Neem hierdie wetboek en sit dit langs die ark van die verbond van die Here julle God neer, sodat dit as getuie teen die volk van Israel kan dien.

27 Ek weet hoe opstandig en hardkoppig julle is. Selfs nou, terwyl ek nog hier by julle is, is julle reeds opstandig teen die Here. Hoeveel te meer sal julle ná my dood wees!

28 Roep die leiers en die ampsdraers van die stamme bymekaar sodat ek met hulle kan praat, en die hemel en die aarde as getuies teen hulle kan roep.

29 Ek weet verseker dat julle ná my dood sal afwyk van die pad wat ek julle beveel het om te volg. Wanneer julle in die toekoms doen wat verkeerd is vir die Here en Hom met julle dade tart, sal daar rampe oor julle kom.”

30 Moses het toe hierdie lied vir die hele vergadering van Israel voorgesing:

DEUTERONOMIUM 32

Die lied van Moses

1 “Luister, hemele,

ek wil praat!

Luister, aarde,

na die woorde wat ek sê!

2 Wat ek jou leer,

is soos reën op jou,

my woorde soos dou.

My woorde

is soos fyn reën op jong gras,

soos sagte reënbuie op plante.

3 Ek wil die Naam verkondig

van die Here.

Prys die grootheid

van ons God!

4 Hy is die Rots;

sy werk is volmaak.

Alles wat Hy doen, is reg.

Hy is ’n getroue God,

sonder enige onreg.

Hy is regverdig en betroubaar!

5 “Maar hulle het teen Hom

skandelik opgetree.

Wie so maak,

is hulle nog sy kinders?

Hulle is ’n vals

en verdraaide geslag.

6 Is dit hoe julle

die Here behandel,

julle dom en onwyse volk?

Is Hy nie jou Vader

wat jou geskep het nie?

Het Hy jou nie gemaak

en gevorm nie?

7 Onthou die dae van ouds,

dink terug aan die vorige geslagte.

Vra jou pa uit

en hy sal jou vertel.

Vra vir die oumense

en hulle sal jou vertel.

8 Toe die Allerhoogste

aan die nasies

grondgebied toegeken het,

het Hy die mensdom verdeel,

en grense van volke bepaal

volgens die aantal Israeliete.

9 Want die volk Israel

behoort aan die Here;

Jakob is sy besondere eiendom.

10 “Hy het hulle gevind

in ’n woestyn,

’n leë land vol onaardse geluide.

Hy het hulle omarm

en hulle opgepas.

Hy het hulle beskerm

as sy kosbaarste besitting.

11 Soos ’n arend

haar kuikens grootmaak

en bo-oor hulle sweef,

so sprei Hy sy vlerke

en vang

en dra hulle op sy vlerke.

12 Net die Here bewaar hulle.

Hulle leef

sonder enige vreemde gode.

13 Hy laat hulle ry

op die hooglande,

Hy voed hulle

met die opbrengs van die land.

Hy het uit die klowe

heuning aan hulle voorsien,

olyfolie uit klipharde rots.

14 Hy voed hulle met dikmelk

van beeste en melk

van kleinvee;

saam met die vet van lammers

en bokke.

Hy gee aan hulle

die keur van die ramme

en bokke van Basan,

met die beste koring.

Julle het gedrink

van die beste wyn,

gemaak van keur druiwesap.

15 Maar Israel het vet

en opstandig geword,

die volk het swaar geword,

vet en opgestop!

Toe het hulle die God verlaat

wat hulle gemaak het,

en die Rots van hulle redding

verwerp.

16 Hulle het Hom jaloers gemaak

met hulle aanbidding

van vreemde gode.

Met hulle veragtelike dade

het hulle Hom kwaad gemaak.

17 Hulle het offers gebring

aan demone

wat nie gode was nie,

gode wat hulle nie geken het nie,

gode wat onlangs aangekom het,

gode wat hulle voorouers

nooit gedien het nie.

18 Julle het die Rots verlaat

wat julle verwek het,

die God vergeet

wat julle voortgebring het.

19 “Die Here het dit alles gesien

en hulle verwerp.

Sy eie seuns en dogters

het Hom kwaad gemaak.

20 Hy het gesê:

‘Ek sal hulle verlaat.

Ek sien wat dan gebeur,

hoe hulle tot ’n einde kom!

Hulle is ’n verdraaide geslag,

kinders sonder integriteit.

21 Deur hulle aanbidding

van gode wat nie bestaan nie,

het hulle My jaloers gemaak.

Met hulle nuttelose afgode

het hulle My kwaad gemaak.

Nou sal Ek hulle jaloers maak

deur ander nasies te seën.

Ek sal hulle kwaad maak

deur dwase heidene te seën.

22 Want my woede is aangesteek

soos ’n vuur,

en dit brand tot in die dieptes

van die graf.

Dit verteer die aarde

en sy opbrengs,

die fondamente van die berge

steek dit aan die brand.

23 Ek sal rampe op hulle ophoop

en hulle met my pyle afskiet.

24 Ek stuur teen hulle

’n uitmergelende hongersnood,

’n vurige koors

en dodelike siekte.

Hulle sal geteister word

deur tande van wilde diere,

deur giftige slange

wat in die stof seil.

25 Op straat bring die swaard

kinderloosheid,

en binnekant heers die angs.

Jong mans en vroue sal omkom,

babas en ook oumense.

26 Ek het besluit

om hulle te verstrooi,

sodat selfs die gedagte aan hulle

sal verdwyn.

27 Maar Ek was bevrees dat die vyand

My sou tart,

dat hulle teenstanders

kan misverstaan en sê:

Ons krag het gewen!

Dit was nie die Here

wat dit gedoen het nie!’

28 “Israel is ’n nasie

sonder verstand.

Daar is geen begrip

onder hulle nie.

29 Was hulle maar wys,

sou hulle verstaan

en sien wat hulle lot sal wees!

30 Hoe kan een mens

duisend van hulle jaag,

en hoe kan twee mense

tienduisend laat vlug,

as hulle Rots

hulle nie verkoop het,

en die Here

hulle nie oorgelewer het nie?

31 Maar die rots van ons vyande

is nie soos ons Rots nie,

soos selfs ons vyande

moet toegee.

32 Hulle wingerdstok stam

uit die wingerdstok

van Sodom en Gomorra.

Hulle druiwe is giftig

en hulle trosse is bitter.

33 Hulle wyn

is die gif van slange,

die dodelike gif van adders.

34 “‘Ek het hierdie dinge gebêre,

verseël vir veilige bewaring.

35 Ek sal wraak neem.

Dié wat dit verdien,

sal Ek terugbetaal.

Binnekort sal hulle voete gly.

Hulle dag van val sal kom

en hulle lot sal hulle oorval.’

36 “Want die Here

sal sy volk oordeel

en Hy sal van gedagte verander

oor sy dienaars

wanneer Hy sien

dat hulle krag weg is

en dat daar niemand oor is nie,

nie slaaf of vryman nie.

37 Dan sal Hy vra:

‘Waar is hulle gode,

waar is die rotse

waar hulle gaan skuil het?

38 Waar is daardie gode nou

wat die vet van hulle offers geëet

en die wyn van hulle drankoffers

gedrink het?

Laat daardie gode opstaan

en jou help!

Laat hulle aan jou skuiling gee!

39 Besef dit nou:

Ek, ja, Ek, is die Here!

Daar is geen ander god

as Ek nie.

Ek is die Een wat doodmaak

en wat lewe gee;

Ek is die een wat verwond

en gesond maak.

Niemand kan uit my krag

gered word nie.

40 My hand lig Ek nou op

na die hemel

en verklaar:

So seker as wat Ek lewe,

41 wanneer Ek my blink swaard

skerp gemaak het

en begin met die uitoefening

van die reg,

dan sal Ek wraak neem

op my vyande

en sal Ek terugbetaal

dié wat My haat.

42 Ek sal my pyle deurdrenk met

met bloed

en my swaard sal vleis verslind:

die bloed van dié wat geslag is,

die gevangenes

en die koppe van die leiers

van die vyande.’

43 “Juig, alle nasies, oor sy volk,

want Hy wreek die bloed

van sy dienaars.

Hy neem wraak op sy vyande

en doen boete

vir sy land en vir sy volk.”

44 Moses het saam met Josua, die seun van Nun, gekom en al die woorde van hierdie lied aan die volk oorgedra.

45 Toe Moses hierdie woorde klaar aan die volk geleer het,

46 het hy bygevoeg: “Neem al die woorde ter harte wat ek vandag aan julle gee. Dra dit ook oor aan julle kinders as ’n bevel sodat hulle elke woord van hierdie gebooie sal gehoorsaam.

47 Hierdie bepalings is nie sommer net woorde nie – dit is julle lewe! Deur gehoorsaam daaraan te wees, sal julle ’n lang lewe geniet in die land wat julle met die oorsteek van die Jordaanrivier in besit sal neem.”

Die Here stuur Moses na Nebo

om daar te sterf

48 Daardie selfde dag nog het die Here vir Moses gesê:

49 “Klim op Neboberg in die Abarimberge in Moab oorkant Jerigo. Kyk uit oor die land Kanaän, die land wat Ek aan die volk Israel gaan gee as hulle eie besitting.

50 Jy sal daar op die berg sterf en by jou voorouers aansluit, net soos jou broer Aäron op Horberg gesterf en by sy voorouers aangesluit het.

51 Beide van julle was ontrou aan My voor die oë van die Israeliete by die water van Meriba, by Kades in die Sinwoestyn. Julle het nagelaat om my heiligheid onder die Israeliete te handhaaf.

52 Jy sal dan die land regoor jou van ’n afstand af sien, maar jy self mag nie die land binnegaan wat Ek aan die volk Israel gee nie.”

DEUTERONOMIUM 33

Moses seën die volk

1 Dit is die seën waarmee Moses, die man van God, die volk Israel voor sy dood geseën het:

2 “Die Here kom van Sinai

en skyn oor ons

vanaf Seïrberg.

Hy skyn vanaf Paranberg

en kom met tienduisende

hemelwesens,

met krygers aan sy regterkant.

3 U het u volk lief,

al u heiliges is in u hand.

Hulle sit aan u voete

en aanvaar u voorskrifte.

4 Moses het ons die wet geleer,

die spesiale besitting

van die vergadering van Israel.

5 Die Here het koning geword

in Israel

toe die leiers van die volk

bymekaargekom het,

toe die stamme van Israel

vergader het.”

6 Moses het die volgende oor die stam van Ruben gesê:

“Laat die stam van Ruben bly leef

en nie uitsterf nie,

al is hulle stam maar klein.”

7 Moses het die volgende oor die stam van Juda gesê:

“Here, luister na die roepstem

van Juda!

Bring hom terug na sy volk toe.

Gee hom krag

om sy saak te verdedig,

help hom teen sy vyande!”

8 Moses het die volgende oor die stam van Levi gesê:

“Here,

u Tummim en Urim is veilig

by u getroue dienaar.

By Massa het U hom

op die proef gestel.

By die Meribawaters

het U met hom geworstel.

9 Van sy pa en ma het hy gesê:

‘Ek het geen ontsag

vir hulle nie.’

Sy broers het hy nie erken nie,

en sy seuns nie

as familie beskou nie.

Maar die Leviete

het u woord gehoorsaam

en het u verbond bewaar.

10 Laat hulle nou u bepalings

aan Jakob leer

en u gebooie aan Israel.

Hulle sal reukwerk voor U bring

en brandoffers

op u altaar offer.

11 Seën die Leviete, o Here,

neem hulle werk aan.

Verbrysel die heupe

van hulle vyande,

tref hulle teenstanders

sodat hulle

nie weer sal opstaan nie.”

12 Van die stam van Benjamin

het Moses gesê:

“Die Here het Benjamin lief

en hy leef veilig by Hom.

Hy omvou hom vir altyd

en bewaar hom

van elke kwaad.”

13 Oor die stam van Josef het Moses die volgende gesê:

“Mag die Here

sy grond seën

met die gawe

van reën van die hemel,

met water van onder die aarde,

14 met die rykdom

wat groei in die son

en die oorvloed van elke maand,

15 met die beste van die ou berge,

en die vrugbaarheid

van die ewige berge,

16 met die beste gawes

van die aarde en sy volheid,

en die guns van die Een

wat verskyn het

in die brandende doringbos.

Mag hierdie seëninge

rus op die kop van Josef,

op die kop van die prins

onder sy broers.

17 Josef het die krag en die glorie

van ’n jong bul,

sy krag is soos die horings

van ’n buffel.

Hy sal veraf nasies gaffel,

hulle verdryf

tot aan die einde van die aarde.

Dit is my seën

vir die skares van Efraim,

vir die duisende van Manasse.”

18 Moses het die volgende gesê oor die

stamme van Sebulon en Issaskar:

“Mag Sebulon voorspoedig wees

in al sy reise.

Mag Issaskar voorspoedig wees

in sy tente.

19 Hy roep volke op na die berg

om daar die regte offers

te bring.

Hy sal voordeel trek

uit die rykdom van die see

en die versteekte skatte

van die sand.”

20 Moses het die volgende oor die stam

van Gad gesê:

“Geseënd is die een

wat die grondgebied van Gad

groter maak!

Gad is daar soos ’n leeu,

gereed om ’n arm of ’n kop

af te skeur.

21 Hy het die beste deel

van die land

vir hom gevat.

’n Leiersaandeel

is aan hom toegewys.

Toe die leiers van die volk

byeenkom,

het hy die wil van die Here

uitgevoer,

sy bepalings vir Israel

gehoorsaam.”

22 Moses het die volgende oor die stam

van Dan gesê:

“Dan is soos ’n jong leeu

wat uit Basan spring.”

23 Moses het die volgende oor die stam

van Naftali gesê:

“Naftali, jy is begunstig

en vol van die seën

van die Here.

Jy sal die see en die suide besit.”

24 Van die stam van Aser het Moses

gesê:

“Mag Aser bo ander seuns

geseënd wees.

Mag hy in die guns wees

van sy broers,

mag hy sy voete met olie was.

25 Mag die slotte van jou poorte

van yster en brons wees,

mag jou krag soveel wees

soos jou dae!”

26 “Daar is niemand

soos die God van Israel nie.

Hy ry deur die hemel

om jou te help,

oor die wolke in sy majesteit.

27 Die ewige God

is jou skuilplek

en onder jou is sy ewige arms.

Hy verdryf die vyand

voor jou uit.

Hy beveel: ‘Vernietig hulle!’

28 Daarom sal Israel

in veiligheid woon,

en die voorspoedige Jakob

in sekerheid,

in ’n land van koring en wyn,

waar dou van die hemel drup.

29 Geseënd is jy, Israel!

Wie is nog soos jy,

’n volk deur die Here gered?

Hy is die skild wat jou beskerm,

jou magtige swaard!

Jou vyande buig laag voor jou

en op hulle offerplekke

sal jy trap!”

DEUTERONOMIUM 34

Die dood van Moses

1 Moses het toe van die vlaktes van Moab teen Neboberg uitgeklim, na die punt van Pisgaberg toe, regoor Jerigo. Die Here het hom die land van Gilead tot by Dan laat sien,

2 die hele land van Naftali, die land van Efraim en Manasse en die hele land van Juda tot by die see in die weste;

3 die Negevwoestyn, die Jordaanvallei met Jerigo, die stad van palms, tot so ver as Soar.

4 Die Here het vir Moses gesê: “Dit is die land wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob beloof het toe Ek vir hulle gesê het dat Ek dit aan hulle nageslag sou gee. Ek het jou toegelaat om dit te sien, maar jy mag nie die land binnegaan nie.”

5 Moses, die dienaar van die Here, het toe daar in Moab gesterf, net soos die Here gesê het.

6 Die Here het hom in ’n vlakte naby Bet-Peor begrawe, maar tot vandag toe nog weet niemand presies waar die plek is nie.

7 Moses was 120 jaar oud toe hy dood is sonder dat sy oë verswak geraak het of sy krag min geword het.

8 Die volk Israel het in die vlakte van Moab vir 30 dae oor Moses gerou totdat die gebruiklike tyd van rou verby was.

9 Josua, die seun van Nun, was gevul met wysheid, want Moses het sy hande op hom gelê. Die volk Israel het na hom geluister en het alles gedoen net soos die Here vir Moses beveel het.

10 Daar was nooit weer ’n profeet in Israel soos Moses nie. Hy het die Here persoonlik geken.

11 Die Here het Moses gestuur om al die tekens en wonders in Egipte voor die farao, sy dienaars en die hele land te doen.

12 Dit was deur Moses wat die Here sy magtige en skrikwekkende dade voor die oë van die hele Israel gedoen het.