DEUTERONOMIUM 21

Hoe om ’n onopgeloste moord te

hanteer

1 “Wanneer iemand in ’n veld vermoor aangetref word in die land wat die Here jou God vir jou gee, en jy weet nie wie die moord gepleeg het nie,

2 moet jou leiers en regters bepaal watter dorp is die naaste aan die liggaam.

3 Die leiers van daardie dorp moet dan ’n jong koei vat wat nog nooit in ’n juk getrek het nie.

4 Hulle moet die koei na ’n vallei vat waardeur daar ’n spruit loop en wat nog nooit geploeg of beplant is nie. Daar in die vallei moet hulle die koei se nek breek.

5 Die Levitiese priesters moet ook daarheen gaan. Die Here jou God het hulle gekies om in sy teenwoordigheid diens te doen en om seën aan te kondig in die Naam van die Here. Hulle moet oor alle verskille en strawwe besluit.

6 “Die leiers van die dorp naaste aan die lyk moet hulle hande was bo-oor die jong koei wie se nek gebreek is.

7 Dan moet hulle sê: ‘Ons hande het nie hierdie bloed vergiet nie en ons het ook nie gesien wie dit gedoen het nie.

8 O Here, vergewe u volk Israel wat U verlos het. Moet tog nie u volk Israel aanspreeklik hou vir die moord op ’n onskuldige man nie.’ Dan sal hulle vry wees van skuld vir die persoon se dood.

9 “Deur hierdie instruksies na te kom en te doen wat reg is in die oë van die Here, sal jy die gemeenskap reinig van die skuld van moord.”

’n Huwelik met ’n krygsgevange

vrou

10 “Dit kan gebeur dat jy gaan oorlog maak teen jou vyande, en die Here jou God gee hulle oor in jou hand en jy neem van hulle gevange.

11 Jy kan moontlik tussen die gevangenes ’n baie mooi vrou sien en tot haar aangetrokke voel en met haar wil trou.

12 As dit gebeur, mag jy haar na jou huis toe vat. Daar moet sy haar hare afskeer en haar vingernaels knip

13 en nuwe klere aantrek. Daarna moet sy vir ’n volle maand in jou huis bly om oor haar pa en ma te treur. Daarna mag jy met haar trou en jy sal haar man wees en sy jou vrou.

14 Maar as jy met haar trou en daarna besluit jy hou nie van haar nie, moet jy haar laat gaan. Jy mag haar nie verkoop of as ’n slaaf behandel nie, want jy het haar verneder.”

Die regte van die oudste seun

15 “Dit kan gebeur dat ’n man twee vroue het en hy is liewer vir die een as vir die ander, en beide vroue gee vir hom seuns. As die oudste seun van die vrou kom van wie hy minder hou,

16 mag hy nie in sy testament bepaal dat die groter erfporsie aan die jonger seun gaan van die vrou wat hy liewer het nie.

17 Hy moet die gebruiklike dubbele porsie vir die oudste seun gee. Dit is die een wat die krag van sy pa se manlikheid verteenwoordig en wat die regte van die eersgebore seun het selfs al is hy die seun van die vrou wat die pa minder liefhet.”

Optrede teen ’n opstandige kind

18 “Dit kan gebeur dat ’n man ’n koppige en rebelse seun het wat nie na sy pa of ma luister nie, selfs al tugtig hulle hom.

19 In so ’n geval moet die pa en ma die seun na die leiers van die dorp by die stadspoort vat.

20 Hulle moet dan verklaar: ‘Hierdie seun van ons is koppig en rebels en weier om ons te gehoorsaam. Hy is ’n nikswerd dronkaard.’

21 Dan moet al die mans van die stad die seun met klippe doodgooi. Op hierdie manier sal jy die kwaad onder jou uitroei. Die hele Israel sal daarvan hoor en bang word.”

Verskillende reëls

22 “Wanneer iemand ’n misdaad gepleeg het waarvoor hy die dood verdien en hy word opgehang aan ’n boom,

23 mag sy liggaam nie oornag aan die boom bly hang nie. Jy moet die liggaam nog dieselfde dag begrawe, want enigeen wat aan ’n boom hang, is ’n vervloekte van God. Moenie die land besoedel wat die Here jou God aan jou as ’n erfenis gee nie.

DEUTERONOMIUM 22

1 “Moenie maak asof jy jou naaste se verdwaalde bees of skaap nie raaksien nie. Bring dit terug na sy eienaar.

2 As dit nie aan iemand behoort wat naby jou is nie, of as jy nie weet wie die eienaar is nie, hou dit by jou totdat die eienaar daarna begin soek en gee dit dan aan hom terug.

3 Doen dieselfde met jou naaste se donkie of klere of enigiets anders wat jou naaste verloor het. Moenie jou plig ontduik nie.

4 “As jy jou naaste se bees of donkie in die pad sien lê, moenie anderpad kyk nie. Gaan en help jou naaste om die dier op te help!

5 “’n Vrou mag nie mansklere dra nie en ’n man mag nie vroueklere dra nie. Die Here verafsku mense wat sulke dinge doen.

6 “As jy ’n voëlnes op die grond of in ’n boom teëkom en daar is kleintjies of eiers in met ’n ma wat daarop sit, mag jy nie die ma saam met die kleintjies vir jou vat nie.

7 Jy mag die kleintjies vat, maar laat die ma wegvlieg sodat dit goed kan gaan met jou en jy ’n lang lewe mag geniet.

8 “As jy ’n nuwe huis bou, moet daar ’n veiligheidsreling om die rand van die plat dak wees sodat iemand nie van die dak afval en jy jou huishouding skuldig maak aan bloedvergieting nie.

9 “Moenie ander saad tussen die rye van jou wingerd plant nie. As jy dit doen, mag jy nie die druiwe van die wingerd of die opbrengs van daardie saad gebruik nie.

10 “Moenie ploeg met ’n bees en donkie wat jy saam ingespan het nie.

11 “Moenie klere dra wat gemaak is van wol wat saam met linne geweef is nie.

12 “Jy moet tossels aanwerk op die vier hoeke van die mantels wat jy dra.”

Seksuele oortredings

13 “Dit kan gebeur dat ’n man met ’n vrou trou en nadat hy by haar geslaap het, besluit dat hy nie meer van haar hou nie

14 en haar valslik beskuldig dat sy haar wangedra het. Hy kan sê: ‘Ek het ontdek dat sy nie ’n maagd was toe ek met haar getrou het nie.’

15 As die man dit doen, moet die vrou se pa en ma die bewys van haar maagdelikheid na die leiers van die dorp bring.

16 Haar pa moet vir hulle sê: ‘Ek het my dogter aan hierdie man as sy vrou gegee en nou het hy teen haar gedraai.

17 Hy beskuldig haar van skandelike gedrag deur te sê dat sy nie ’n maagd was toe hy met haar getrou het nie. Maar hier is die bewys van my dogter se maagdelikheid.’ Dan moet hulle die beddegoed voor die regters uitsprei.

18 Dan moet die regters die man straf.

19 Hulle moet hom ook met 100 stukke silwer beboet omdat hy ’n maagd van Israel valslik beskuldig het. Die betaling moet aan die vrou se pa gemaak word. Die vrou sal dan die vrou van die man bly en hy mag nooit van haar skei nie.

20 “Maar indien die man se beskuldiging waar is en die vrou se maagdelikheid nie bewys kan word nie,

21 moet die regters die vrou na die deur van haar pa se huis bring en die mans van die dorp moet haar daar met klippe doodgooi. Sy het ’n skandelike daad in Israel gepleeg deur losbandig te leef terwyl sy nog by haar ouers gewoon het. So moet julle hierdie soort kwaad onder julle uitroei.

22 “As ’n man in die bed betrap word met ’n ander man se vrou, moet al twee doodgemaak word. Op dié manier sal die kwaad in Israel uitgeroei word.

23 “As ’n man ’n jong meisie, ’n maagd, wat verloof is, in die stad raakloop en hy het seksuele gemeenskap met haar,

24 moet julle al twee van hulle na die poorte van die dorp neem en hulle daar met klippe doodgooi. Die vrou is skuldig omdat sy nie om hulp geskree het nie. Die man moet sterf omdat hy ’n ander man se vrou onteer het. So moet julle hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

25 “Maar as die man die verloofde meisie buite in die veld raakloop, en haar daar verkrag, moet net die man doodgemaak word.

26 Daar moet niks met die meisie gedoen word nie, want sy het nie ’n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie. Hierdie saak is vergelykbaar met ’n slagoffer wat aangeval en vermoor word.

27 Omdat die man haar buite in die veld verkrag het, moet dit aanvaar word dat sy om hulp geroep het, maar dat daar niemand was om haar te red nie.

28 “As ’n man betrap word dat hy ’n jong meisie wat nie verloof is nie, gegryp het,

29 moet hy haar pa 50 stukke silwer betaal. Hy is ook verplig om met die meisie te trou omdat hy haar onteer het. Hy mag ook nooit van haar skei nie.

30 “’n Man mag nie seksuele gemeenskap met ’n vrou van sy pa hê nie, want dit sal sy pa onteer.”

DEUTERONOMIUM 23

Mense wat uitgesluit is uit die

byeenkomste

1 “’n Man wie se geslagsorgane vermink is of wat ontman is, mag nie deel wees van die vergadering van die Here nie.

2 Dié wat uit ’n ontoelaatbare verhouding gebore is, asook hulle nageslag tot in die tiende generasie, mag nie ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

3 “Geen Ammoniet of Moabiet of enige van hulle nageslag tot in die tiende generasie mag ingesluit word in die vergadering van die Here nie.

4 Hierdie nasies het jou nie met kos en water verwelkom toe jy uit Egipte gekom het nie. Inteendeel, hulle het probeer om vir Bileam, die seun van Beor van Petor in Aram-Naharajim, te huur om jou te vervloek.

5 Die Here jou God het nie na Bileam geluister nie. Hy het die vloek in ’n seën verander omdat die Here jou God jou liefhet.

6 Jy mag nooit, vir so lank as wat jy leef, op enige manier die Ammoniete of die Moabiete help nie.

7 “Moenie die Edomiete of die Egiptenaars verag nie. Die Edomiete is familie van jou en jy het as vreemdeling onder die Egiptenaars gewoon.

8 Die derde geslag Egiptenaars mag ingesluit word in die vergadering van die Here.”

Verskillende reëls

9 “As jy gaan oorlog maak teen jou vyande, bly weg van enigiets wat onrein is.

10 “’n Man wat seremonieel onrein word as gevolg van ’n nagtelike uitskeiding, moet die kamp verlaat en die hele dag wegbly.

11 Teen die aand moet hy homself was en teen sononder mag hy weer na die kamp toe terugkeer.

12 “Merk ’n gebied aan die buitekant van die kamp af as ’n toilet.

13 Elkeen van julle moet ’n graaf as deel van julle toerusting hê. Wanneer jy ontlas, grawe ’n gat met die graaf en maak jou ontlasting toe met grond.

14 Die kamp moet heilig wees, want die Here jou God is daar saam met jou in die kamp om jou te beskerm en om jou vyande te verslaan. Hy mag niks skandeliks onder julle sien nie sodat Hy nie van julle wegdraai nie.

15 “As slawe dit regkry om van hulle eienaars te ontsnap en hulle kom soek skuiling by jou, mag jy hulle nie uitlewer aan hulle eienaars nie.

16 Laat hulle tussen julle leef in watter dorp hulle ook al kies en moet hulle nie onderdruk nie.

17 “Geen Israelitiese man of vrou mag ooit ’n tempelprostituut word nie.

18 Jy mag geen offer uit die inkomste van ’n manlike of vroulike prostituut na die huis van die Here jou God toe bring nie, want die Here verag albei.

19 “Moenie rente hef op lenings wat jy aan ’n mede-Israeliet maak nie, of dit nou geld, kos of wat ook al is waarvoor daar teen rente geleen mag word.

20 Jy mag rente hef van vreemdelinge, maar nie van mede-Israeliete nie sodat die Here jou God jou mag seën in die land wat jy nou gaan binnetrek en in besit gaan neem.

21 “As jy ’n gelofte teenoor die Here jou God maak, moenie uitstel om na te kom wat jy Hom belowe het nie. Die Here jou God vereis dat jy jou geloftes sal nakom. As jy dit nie doen nie, is jy skuldig aan sonde.

22 Maar om jou te weerhou van ’n gelofte, is geen sonde nie.

23 As jy egter vrywillig ’n gelofte gemaak het, wees versigtig en kom dit na, want dit is ’n gelofte wat jy aan die Here jou God gemaak het.

24 “Jy mag genoeg druiwe eet wanneer jy in jou naaste se wingerd kom, maar moenie iets in ’n mandjie wegvat nie.

25 Jy mag ook ’n paar are van jou naaste se koring met die hand pluk, maar jy mag dit nie met ’n sekel oes nie.”

DEUTERONOMIUM 24

1 “As ’n man met ’n vrou trou en hy ontdek later iets skandeliks aan haar, moet hy ’n skeibrief skryf, dit vir haar gee en haar wegstuur.

2 As sy dan vertrek, kan sy met ’n ander man trou.

3 As die tweede man haar ook verwerp en ’n skeibrief gee of te sterwe kom,

4 mag die eerste man nie weer met haar trou nie, want sy is verontreinig. Dit sal iets afskuweliks wees vir die Here. Moenie skuld bring oor die land wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee nie.

5 “’n Pasgetroude man mag nie in die weermag opgeneem of enige ander spesiale verantwoordelikhede gegee word nie. Hy moet vry wees om vir ’n jaar lank by die huis te wees om die vrou met wie hy getroud is, gelukkig te maak.

6 “Dit is verkeerd om ’n paar maalklippe, of selfs net die boonste maalklip, as pand te neem, want die eienaar gebruik dit om van te lewe.

7 “As iemand ’n mede-Israeliet ontvoer en hom as ’n slaaf gebruik of as ’n slaaf verkoop, moet die ontvoerder doodgemaak word. Julle moet die kwaad onder julle uitroei.

8 “Wees versigtig vir alle aansteeklike velsiektes en volg die instruksies van die Levitiese priesters. Gehoorsaam stiptelik die bevele wat ek vir hulle gegee het.

9 Onthou wat die Here jou God aan Mirjam gedoen het toe julle uit Egipte gekom het.

10 “As jy iets aan jou naaste leen, moenie in sy huis ingaan om iets as pand te gaan vat nie.

11 Wag buite vir die persoon wat by jou geleen het om die pand na jou uit te uitbring.

12 As jou naaste arm is en net ’n kleed het om as ’n pand aan te bied, mag jy nie die kleed oornag hou nie.

13 Gee die kleed teen sononder vir hom terug sodat jou naaste daaronder kan slaap. Dan sal hy jou seën en die Here jou God sal dit as ’n regverdige daad beskou.

14 “Jy moet nooit onbillike voordeel trek uit arm arbeiders nie, nie as hulle mede-Israeliete is nie en ook nie as hulle vreemdelinge is wat in jou dorpe woon nie.

15 Betaal hulle hulle loon elke dag voor sononder, want hulle is arm en reken op die geld. Andersins mag hulle by die Here gaan kla en sal dit as sonde teen jou gereken word.

16 “Ouers mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle kinders nie en kinders mag nie doodgemaak word vir die sonde van hulle ouers nie. Wie die doodstraf moet kry, kry dit net vir sy eie misdade.

17 “Sorg dat daar geregtigheid geskied aan die vreemdelinge wat tussen julle woon en ook aan weeskinders. Jy mag nooit ’n weduwee se kleed as pand aanvaar nie.

18 Onthou altyd dat julle slawe in Egipte was en dat die Here julle God julle van daar vrygekoop het. Dit is waarom ek hierdie gebod aan julle gee.

19 “Wanneer jy jou oes inbring en jy vergeet ’n gerf op die land, moenie omdraai en dit gaan haal nie. Laat dit daar vir die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy doen.

20 Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfbome, moenie dit vir ’n tweede keer doen nie. Laat daar olywe oorbly vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees.

21 Dit is ook van toepassing op die druiwe in die wingerd. Moenie weer gaan druiwe afoes nadat hulle die eerste keer gepluk is nie. Laat daar van die druiwe vir die vreemdelinge, weeskinders en weduwees oorbly.

22 Hou in gedagte dat julle slawe in Egipte was. Dit is waarom ek jou hierdie gebod gee.”

DEUTERONOMIUM 25

1 “Dit kan wees dat twee mans ’n dispuut hof toe neem en die regters verklaar dat die een reg is en die ander een verkeerd.

2 As die een wat verkeerd is tot lyfstraf gevonnis word, is die regter die een wat hom moet beveel om te lê sodat hy in die teenwoordigheid van die regter soveel houe geslaan kan word as wat toepaslik is vir die oortreding.

3 Dit mag nooit meer as 40 houe wees nie. Meer as 40 houe sal jou naaste in die openbaar verneder.

4 “Moenie ’n os se bek toebind wanneer hy graan dors nie.

5 “Wanneer twee broers saamwoon en een van hulle sterf sonder ’n seun, mag sy weduwee nie buite die familie trou nie. Haar man se broer moet met haar trou en die plig van ’n swaer nakom.

6 Die eerste seun aan wie sy dan geboorte gee, sal beskou word as die seun van die oorlede broer sodat sy naam nie in Israel vergeet word nie.

7 Maar as die dooie man se broer weier om met die weduwee te trou, moet sy na die stadspoort toe gaan en daar vir die leiers sê: ‘My man se broer weier om sy broer se naam in Israel te laat voortleef. Hy weier om sy plig as swaer na te kom.’

8 Die leiers van die stad sal hom dan laat roep en met hom begin redeneer. As hy volhou dat hy nie met haar wil trou nie,

9 moet die weduwee in die teenwoordigheid van die leiers oorstap na hom toe, sy sandaal uittrek en in sy gesig spoeg. Dan moet sy sê: ‘Dit is wat gebeur met ’n man wat weier om ’n nageslag vir sy broer te verwek.’

10 Dan sal daar na sy familie verwys word as ‘die familie van die man met die uitgetrekte sandaal’.

11 “As twee mans baklei en die vrou van die een probeer om haar man te help deur die ander man aan sy geslagsdele te gryp,

12 moet haar hand sonder verskoning afgekap word.

13 “Jy moet akkurate skale gebruik wanneer jy goed afweeg.

14 Jy moet ook die volle en eerlike maatbakke gebruik.

15 Gebruik die regte gewigte en maatbakke sodat jy ’n lang lewe mag geniet in die land wat die Here jou God vir jou gee.

16 Mense wat met oneerlike gewigte en maatbakke kul, is veragtelik vir die Here jou God.

17 “Onthou wat die Amalekiete aan jou gedoen het toe jy op pad was uit Egipte.

18 Hulle het jou aangeval toe jy moeg en uitgeput was. Hulle het ook dié wat agtergeraak het, om die lewe gebring. Hulle het geen vrees vir God gehad nie.

19 Daarom, as die Here jou God jou rus gegee het van al jou vyande in die land wat Hy aan jou gee as ’n erfenis, moet jy die Amalekiete uitroei en hulle gedagtenis onder die hemel uitwis. Moet dit nooit vergeet nie!”

DEUTERONOMIUM 26

Die eerste opbrengs uit die oes

1 “Wanneer jy in die land kom wat die Here jou God vir jou as ’n erfenis gee, en jy dit in besit geneem het en jou daarin gevestig het,

2 sit van die eerste opbrengs van elke oes in ’n mandjie en bring dit na die plek waar die Here jou God sal verkies dat sy Naam geëer word.

3 Gaan na die priester wat dan aan diens is en sê vir hom: ‘Met hierdie gawe erken ek dat die Here jou God my in hierdie land ingebring het wat Hy aan ons voorouers beloof het.’

4 Die priester sal dan die mandjie uit jou hand neem en dit voor die altaar van die Here jou God gaan neersit.

5 Jy moet dan in die teenwoordigheid van die Here jou God sê: ‘My voorouer was ’n Arameër wat rondgeswerf het en in Egipte gaan bly het. Sy familie was maar klein, maar in Egipte het hy ’n groot en talryke nasie geword.

6 Toe die Egiptenaars ons mishandel en verneder het deur ons hulle slawe te maak,

7 het ons tot die Here, die God van ons voorouers, geroep. Hy het ons gehoor en ons swaarkry, harde werk en onderdrukking raakgesien.

8 Deur sy groot krag het die Here ons met magtige dade en wondertekens uit Egipte gelei.

9 Hy het ons na hierdie plek toe gebring en aan ons hierdie vrugbare land gegee.

10 Ek bring dan nou vir U, Here, die eerste opbrengs van die oes van die land wat U vir my gegee het.’ Dan moet jy dit voor die Here jou God neersit en Hom aanbid.

11 Gaan dan en geniet al die goeie dinge wat die Here jou God aan jou en jou huishouding gee. Onthou om die Leviete en vreemdelinge wat onder jou woon ook by die feesvierings in te sluit.

12 “Elke derde jaar moet jy ’n spesiale tiende van jou oesopbrengs afstaan. Jy moet dit aan die Leviete, die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gee sodat hulle genoeg kan hê om in hulle dorpe te eet.

13 Dan moet jy in die teenwoordigheid van die Here jou God verklaar: ‘Ek het hierdie heilige gawe uit my huis geneem en dit aan die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees gegee net soos U my beveel het. Ek het nie een van u opdragte oortree of vergeet nie.

14 Ek het nie iets daarvan geëet terwyl ek gerou het nie; ek het nie daaraan geraak toe ek seremonieel onrein was nie en ek het niks daarvan aan dooies geoffer nie. Ek was gehoorsaam aan die Here my God en het alles gedoen wat Hy my beveel het.

15 Kyk tog af uit u heilige woning in die hemel en seën u volk Israel en hierdie vrugbare land wat U aan ons gegee het, net soos U plegtig aan ons voorouers beloof het.’”

’n Oproep om die Here se

opdragte te gehoorsaam

16 “Die Here jou God beveel jou vandag om al hierdie voorskrifte en bepalings na te kom. Verbind jou van harte daartoe.

17 Jy het vandag verklaar dat die Here jou God is. Jy het belowe om al die voorskrifte, opdragte en bepalings te gehoorsaam deur in sy weë te wandel en alles te doen wat Hy jou beveel.

18 Die Here het vandag verklaar dat jy sy volk is, sy kosbare besitting, net soos Hy beloof het, en dat jy al sy opdragte moet gehoorsaam.

19 As jy so maak, sal Hy jou groter maak as enige ander nasie. Dan sal jy lof, eer en roem ontvang. Jy sal ’n heilige volk vir die Here jou God wees, soos wat Hy beloof het.”

DEUTERONOMIUM 27

Die altaar op Ebalberg

1 Moses en die leiers van Israel het aan die volk die volgende opdrag gegee: “Gehoorsaam al hierdie bevele wat ek jou vandag gee.

2 Wanneer jy die Jordaanrivier oorsteek en die land binnetrek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy ’n paar groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit.

3 Wanneer jy die rivier oorsteek om die land binne te trek wat die Here jou God vir jou gee, moet jy al hierdie gebooie daarop neerskryf. Dis ’n baie vrugbare land wat die Here, die God van jou voorouers, jou beloof het.

4 “Nadat julle die Jordaan oorgesteek het, gaan sit hierdie klippe by Ebalberg neer. Wit dit dan met kalk af, soos wat ek jou vandag beveel.

5 Bou daar ’n altaar van gewone klip vir die Here jou God.

6 Moenie dit met gekapte klippe bou nie. Offer brandoffers op die altaar vir die Here jou God.

7 “Bring ook vredesoffers daarop, en vier met groot vrolikheid fees in die teenwoordigheid van die Here jou God.

8 Op die afgewitte klippe moet jy die bepalings van die gebooie duidelik neerskryf.”

9 Moses en al die Levitiese priesters het toe die hele Israel soos volg toegespreek: “Israel, wees stil en luister! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword.

10 Wees gehoorsaam aan die Here jou God en kom al hierdie opdragte en voorskrifte na wat ek vandag vir jou gee.”

Vervloeking van Ebalberg af

11 Daardie selfde dag het Moses ook die volgende opdrag aan die volk gegee:

12 “Wanneer julle die Jordaanrivier oorsteek, moet die stamme van Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin op die Gerisimberg gaan staan om die volk te seën.

13 Die stamme van Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali moet op die Ebalberg gaan staan om ’n vloek uit te spreek.

14 Die Leviete moet dan hardop oor die hele volk Israel uitroep:

15 “‘Vervloek is elkeen

wat ’n afgodsbeeld uitkerf

of giet

en dit in die geheim aanhou.

Hierdie afgode

is die werk van ambagsmense,

hulle is afskuwelik vir die Here.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

16 ‘Vervloek is elkeen

wat sy pa of ma verag.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

17 ‘Vervloek is elkeen

wat sy naaste se eiendom steel

deur die grensbaken te verskuif.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

18 ‘Vervloek is elkeen

wat ’n blinde persoon

laat verdwaal.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

19 ‘Vervloek is elkeen

wat onregverdig optree

teenoor vreemdelinge,

weeskinders en weduwees.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

20 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met die vrou van sy pa het,

want hy het sy pa

oneer aangedoen.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

21 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met ’n dier het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

22 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap het

met sy suster,

of sy nou die dogter is

van sy pa of ma.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

23 ‘Vervloek is elkeen

wat seksuele gemeenskap

met sy skoonma het.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

24 ‘Vervloek is elkeen

wat iemand anders

in die geheim doodmaak.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’

25 ‘Vervloek is elkeen

wat omkoopgeld aanneem

om iemand anders dood te maak.’

En die hele volk moet antwoord:

‘Amen.’

26 ‘Vervloek is elkeen

wat hom nie hou

by die voorwaardes

van hierdie gebooie

deur daaraan gehoorsaam

te wees nie.’

Dan moet die hele volk antwoord:

‘Amen.’”

DEUTERONOMIUM 28

Seën vir gehoorsaamheid

1 “As jy ten volle gehoorsaam is aan die Here jou God en die opdragte nakom wat ek jou vandag gee, sal die Here jou God jou bo al die nasies van die wêreld verhoog.

2 “Al hierdie seëninge sal oor jou kom

en by jou bly

wanneer jy die Here jou God

gehoorsaam:

3 In jou stede

en in jou oop velde

sal jy geseën wees.

4 Jy sal geseën word

met baie kinders

en goeie oeste.

Jy sal geseën word

met vrugbare beeste

en kleinvee.

5 Jy sal geseën word

met mandjies wat oorloop

van vrugte

en jou knieskottel

sal vol brood wees.

6 Jy sal geseën word

waar jy ook al beweeg,

of jy nou kom of gaan.

7 “Die Here sal jou vyande oorwin

wanneer hulle jou aanval.

Hulle sal jou vanuit een rigting aanval,

maar hulle sal

in sewe rigtings wegvlug.

8 Die Here sal jou seën

in alles wat jy doen

en Hy sal jou graanskure

vol maak met graan.

Die Here jou God sal jou seën

in die land wat Hy aan jou gee.

9 “As jy die opdragte van die Here jou God gehoorsaam en doen wat Hy wil hê, sal die Here jou sy heilige volk maak soos Hy beloof het Hy sal doen.

10 Al die nasies van die wêreld sal sien dat die Here jou sy volk gemaak het en hulle sal in vrees en bewing voor julle staan.

11 “Die Here sal ’n oorvloed van goeie dinge vir jou gee in die land wat Hy aan jou voorouers belowe het: baie kinders, talle diere en goeie oeste.

12 Die Here sal uit sy ryk voorraadskuur, die hemel, dit op die regte tyd laat reën om al die werk wat jy doen, te seën. Jy sal aan baie nasies uitleen, maar jy sal nooit nodig hê om van hulle te leen nie.

13 As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie. Jy sal altyd die leiding neem.

14 Moenie links of regs afwyk van enige van hierdie opdragte wat ek jou vandag gee deur ander gode na te volg en hulle te aanbid nie.”

Vervloeking vir

ongehoorsaamheid

15 “As jy weier om na die Here jou God te luister en nie gehoorsaam is aan al die opdragte en voorskrifte wat ek vandag vir jou gee nie, sal al die volgende vervloeking oor jou kom en jou oorweldig:

16 “Vervloek is jy in jou stede

en vervloek is jy in die oop veld.

17 Vervloek is jy

met leë mandjies

sonder enige vrugte

en met knieskottels

sonder brood.

18 Vervloek is jy met min kinders

en kaal landerye.

Vervloek is jy

met onvrugbare beeste

en kleinvee.

19 Vervloek is jy

waar jy ook al is,

of jy nou kom of gaan.

20 “Die Here self sal vervloeking, verwarring en straf bring oor alles wat jy doen, totdat jy uiteindelik heeltemal vernietig is oor al die slegte dinge wat jy gedoen het en omdat jy Hom verlaat het.

21 Die Here sal siektes julle laat aantas totdat daar niemand oorbly nie in die land wat julle binnetrek om in besit te neem.

22 Die Here sal julle met tering, koors en inflammasie tref, met skroeiende hitte en droogte, met brandkoring en roes. Hierdie verskriklike dinge sal jou agtervolg totdat jy sterf.

23 Die blou lug bokant jou sal brons word en die aarde onder jou so hard soos yster.

24 Die Here sal jou reën in sand en stof verander en dit sal uit die lug op jou neersak en jou verswelg.

25 “Die Here sal maak dat jy deur jou vyande verslaan word. Jy sal jou vyande van een kant af aanval, maar jy sal in sewe rigtings wegvlug. Jy sal ’n verbasing vir al die nasies van die aarde word.

26 Jou lyke sal kos vir voëls en wilde diere wees sonder dat daar iemand sal wees om hulle weg te jaag.

27 “Die Here sal jou tref met die swere van Egipte, met gewasse, skurfte en jeuksiektes waarvan jy nie gesond sal word nie.

28 Die Here sal jou tref met kranksinnigheid, blindheid en paniek.

29 Jy sal in helder daglig rondtas soos wat ’n blinde in die donker rondtas en jy sal onsuksesvol wees in alles wat jy doen. Jy sal aanhoudend onderdruk en beroof word, en niemand sal tot jou redding kom nie.

30 “Jy sal aan ’n vrou verloof wees, maar ’n ander man sal haar by haar slaap. Jy sal ’n huis bou, maar nie self daarin woon nie. Jy sal ’n wingerd plant, maar nooit die vrugte daarvan geniet nie.

31 Jou bees sal voor jou oë geslag word, maar sonder dat jy ’n stukkie van die vleis daarvan kry om te eet. Jou donkie sal weggeneem word sonder dat dit ooit weer na jou toe sal terugkom. Jou skaap sal vir jou vyande gegee word sonder dat daar iemand sal wees om jou te help.

32 Jy sal sien hoe jou seuns en dogters as slawe weggevoer word na ’n vreemde volk. Jou oë sal moeg word wanneer jy die hele dag kyk of hulle terugkom, maar jy sal magteloos wees om ’n hand op te lig.

33 ’n Vreemde nasie van wie jy nog nooit gehoor het nie, sal die opbrengs van jou land opeet waaraan jy so hard gewerk het. Jy sal ly onder aanhoudende onderdrukking en swaarkry.

34 Jy sal kranksinnig word van die tragedie wat jy rondom jou sien.

35 Die Here sal jou van kop tot tone bedek met ongeneeslike swere.

36 “Die Here sal jou en die koning wat jy aangewys het in ballingskap laat gaan na ’n nasie wat nie jy of jou voorouers geken het nie. Daar in ballingskap sal jy gode van hout en klip aanbid!

37 Jy sal verbasing uitlok, ’n spreekwoord en ’n bespotting word onder die nasies waarheen die Here jou sal stuur.

38 “Jy sal baie plant, maar min oes, want sprinkane sal jou oeste opvreet.

39 Jy sal wingerde plant en bewerk, maar jy sal nie enige wyn daarvan drink of druiwe daarvan eet nie, want wurms sal dit opvreet.

40 Jy sal oral in jou land olyfbome hê, maar jy sal nooit olyfolie daarvan kan maak nie, want die olywe sal voor die tyd al afval.

41 Jy sal seuns en dogters hê, maar jy sal nie in staat wees om hulle te behou nie, want hulle sal in gevangenskap weggevoer word.

42 Swerms insekte sal jou bome en oeste vernietig.

43 Die vreemdelinge wat tussen julle woon, sal al sterker en sterker word, terwyl jy al hoe swakker en swakker sal word.

44 Hy sal aan jou geld leen, maar jy sal nie vir hom kan leen nie. Hy sal die kop wees en jy die stert!

45 “Al hierdie vervloekings sal jou agtervolg, inhaal en vernietig as jy weier om na die Here jou God te luister en nie die bevele en voorskrifte gehoorsaam wat Hy aan jou gee nie.

46 Al hierdie dinge sal vir altyd ’n waarskuwingsteken vir jou en jou afstammelinge wees.

47 Omdat jy nie die Here jou God met vreugde en entoesiasme gedien het vir die oorvloed van seën wat jy ontvang het nie,

48 sal jy jou vyande dien wat die Here jou God teen jou sal stuur. Jy sal honger, dors en kaal gelaat word en in alles gebrek ly. Hulle sal jou wreed onderdruk totdat jy vernietig is.

49 “Die Here sal ’n nasie van ver af, van die einde van die aarde af, teen jou bring. Hy sal soos ’n arend neerswiep op jou. Dit is ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,

50 ’n sterk en hartelose nasie wat geen respek vir oumense het nie en geen jammerte vir jongmense nie.

51 Sy leërs sal jou diere en die oes op jou lande verteer en jy sal van honger doodgaan. Hulle sal vir jou geen graan of wyn, olyfolie, kalwers of lammers laat oorbly totdat hulle jou ook heeltemal vernietig het nie.

52 Hulle sal jou stede beleër totdat al die versterkte mure in jou land, die mure wat jou moes beskerm, afgebreek is. Hulle sal al die dorpe in die land aanval wat die Here jou God vir jou gegee het.

53 Die beleg sal so erg wees dat jy die vleis van jou eie seuns en dogters wat die Here jou God aan jou gegee het, sal eet.

54 Die sagste man onder julle sal geen simpatie hê met sy eie broer of sy geliefde vrou of sy kinders wat nog lewe nie.

55 Hy sal vir nie een van hulle gee van die vleis van sy eie kinders wat hy besig is om te eet nie. Dit is al wat hy sal oorhê as gevolg van die lyding wat die vyand gedurende die beleëring van al die stede sal meebring.

56 Die sagste en mees sensitiewe vrou onder julle, so sag dat sy nie eers haar voet op die grond sal sit nie, sal niks omgee vir die man wat sy liefhet of vir haar eie seun en dogter nie.

57 Sy sal die nageboorte en die baba waaraan sy geboorte gegee het, wegsteek sodat sy dit in die geheim kan eet. Sy sal niks anders hê om te eet gedurende die beleëring en die verskriklike nood wat jou vyand oor al die stede sal bring nie.

58 “As jy weier om al die woorde van die gebooie te gehoorsaam wat in hierdie boek geskryf is, as jy nie eerbied het vir die glorieryke en ontsagwekkende Naam van die Here jou God nie,

59 sal die Here jou en jou kinders met onbeskryflike plae tref. Hierdie plae sal intens en sonder verligting wees wat jou mislik en ondraaglik siek sal maak.

60 Die Here sal al die siektes waarvoor jy in Egipte so bang was oor jou bring, en hulle sal hulle tol van jou eis.

61 Die Here sal elke siekte en plaag wat daar is oor jou bring, selfs dié wat nie in hierdie wetboek genoem word nie, totdat jy vernietig is.

62 “Al is julle so baie soos die sterre in die lug, sal daar min van julle oorbly omdat julle nie wou luister na die Here julle God nie.

63 “Net soos die Here vreugde daarin gevind het om julle te help om voorspoedig en baie te word, sal die Here daarin vreugde vind om julle te vernietig totdat julle verdwyn uit die land wat julle nou binnegaan en in besit neem.

64 Die Here sal julle tussen al die nasies, van die een kant van die aarde tot die ander kant toe, uitstrooi. Daar sal julle vreemde gode aanbid, gode wat nie jy of jou voorouers geken het nie, gode wat van hout en klip gemaak is!

65 Daar tussen die nasies sal daar vir jou geen plek van sekerheid of rus wees nie. Die Here sal jou hart laat bewe van angs, jou oë sal swak word en jy sal wanhoop aan die lewe.

66 “Jy sal in voortdurende twyfel lewe. Jy sal dag en nag bang wees, met geen rede om te glo dat jy die volgende oggend sal sien nie.

67 “In die oggend sal jy wil sê: ‘As dit maar net aand wil word!’ In die aand sal jy wil sê: ‘As dit maar net oggend wil word!’ Jy sal dit sê as gevolg van die verskriklike dinge wat jy rondom jou sal sien.

68 “Dan sal die Here jou na Egipte toe terugstuur met skepe, ’n reis waarvan ek jou gesê het dat jy dit nooit weer sal onderneem nie. Daar sal julle julleself aanbied om as slawe aan jou vyande verkoop te word, maar niemand sal belangstel om jou te koop nie.”

DEUTERONOMIUM 29

1 Dit is die bepalings van die verbond wat die Here vir Moses beveel het om met die Israeliete te maak terwyl hulle in die land Moab was. Dit is bo en behalwe die verbond wat Hy met hulle by Sinaiberg gemaak het.

Moses sluit ’n tweede verbond

2 Moses het al die Israeliete bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Julle het met julle eie oë alles gesien wat die Here in Egipte aan die farao, aan al sy onderdane en die hele land gedoen het,

3 al die groot dade van krag, die wondertekens en die verstommende wonders.

4 Maar tot vandag toe nog het die Here julle nie die verstand gegee om dit te verstaan, ook nie oë om te sien of ore om te hoor nie!

5 Vir 40 jaar lank het ek julle deur die woestyn gelei sonder dat julle klere of sandale ooit verweer het.

6 Julle het nie brood of wyn of enige ander sterk drank gehad nie, maar Hy het vir julle kos gegee sodat julle kon ervaar dat die Here julle God is.

7 Toe ons hier aankom, het koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan teen ons kom veg, maar ons het hulle verslaan.

8 Ons het hulle land by hulle weggevat en dit aan die stamme van Ruben en Gad en aan die halwe stam van Manasse as hulle erfdeel gegee.

9 “Daarom, wees gehoorsaam aan die bepalings van hierdie verbond sodat julle voorspoedig kan wees in alles wat julle doen.

10 Almal van julle, stamleiers, regters, amptenare, en die hele Israel, staan vandag hier voor die Here julle God.

11 Julle kinders, vroue en die vreemdelinge wat tussen julle leef, dié wat vir julle hout kap en water aandra, is ook by julle.

12 Julle staan vandag hier om met die Here julle God ’n verbond te sluit. Die Here sluit hierdie verbond met julle en Hy verseël dit met ’n eed.

13 Hy wil dit vandag bo alle twyfel stel dat julle sy volk is en dat Hy julle God is, net soos Hy dit aan julle voorouers Abraham, Isak en Jakob belowe het.

14 Die Here sluit nie net met julle ’n verbond met al sy verpligtings nie.

15 Die Here julle God sluit hierdie verbond met julle wat vandag hier in sy teenwoordigheid is, maar ook met al die toekomstige geslagte van Israel.

16 “Julle onthou tog hoe ons in die land Egipte gebly het en deur die lande van vyandelike nasies getrek het toe ons Egipte verlaat het.

17 Julle het hulle afskuwelike afgode gesien wat van hout, klip, silwer en goud gemaak is.

18 Die Here het sy verbond met julle gesluit sodat geen man, vrou, familie of stam onder julle van die Here julle God sal wegdraai om hierdie gode van die ander nasies te aanbid nie, en sodat daar geen wortel onder julle mag wees wat bitter en giftige vrugte dra nie.

19 Laat niemand van julle wat die waarskuwings van hierdie eed hoor, hulleself alte hoog ag en by hulleself dink: ‘Ek is veilig, selfs al hou ek aan om my eie harde kop te volg,’ nie. Dit sal net tot verwoesting lei.

20 Die Here sal sulke mense nie vergewe nie. Sy woede en sy wrewel sal teen hulle opvlam. Al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, sal oor hulle kom en die Here sal hulle name onder die hemel uitwis.

21 Die Here sal hulle van al die stamme van Israel afsonder sodat al die rampe hom kan tref volgens die vervloekings van die verbond wat opgeskryf is in hierdie boek van die gebooie.

22 “Dan sal die geslagte wat kom, julle kinders wat ná julle kom, en die vreemdelinge wat van ver lande af kom, die verwoesting van die land en siektes sien wat die Here teen hierdie land stuur.

23 Hulle sal vind dat die grond in swael en sout verander, met niks wat geplant kan word en niks wat kan groei nie, selfs nie eers ’n groen blaartjie nie. Dit sal net soos Sodom en Gomorra, Adma en Sebojim wees wat die Here in sy woede vernietig het.

24 Die naburige nasies sal vra: ‘Waarom het die Here so met hierdie land gemaak? Wat het Hom so kwaad gemaak?’

25 “Hulle sal ingelig word: ‘Dit het gebeur omdat die volk van die land die verbond verbreek het wat die Here, die God van hulle voorouers, met hulle gesluit het toe Hy hulle uit Egipte gelei het.

26 Hulle het ander, vreemde gode gaan dien en aanbid, gode wat hulle nie geken het nie en wat ook nie vir hulle bedoel was nie.

27 Dit is waarom die Here se woede teen hierdie land ontbrand het en hoekom Hy al die vervloekings wat in hierdie boek beskryf is, oor die land gebring het.

28 Die Here was so woedend dat Hy sy volk uit die land geruk het en hulle in ballingskap in ’n ander land gaan gooi het, waar hulle vandag nog leef!’

29 “Die geheime dinge is vir die Here ons God. Die dinge wat wel bekendgemaak is, vir ons en ons nageslag vir altyd sodat ons kan lewe volgens die woorde van hierdie gebooie.”

DEUTERONOMIUM 30

Wanneer julle weer terugkeer

1 “As al hierdie dinge met jou gebeur het, die seën en vervloeking wat ek aan jou voorhou, dink daaroor na wanneer jy tussen die vreemde nasies moet leef waarheen die Here jou God jou in ballingskap weggevoer het.

2 As jy dan na die Here jou God terugkeer en jy en jou kinders begin weer om van harte gehoorsaam te wees aan die gebooie wat ek jou vandag gee,

3 sal die Here jou God jou situasie verander. Hy sal jou genadig wees en jou terugbring uit al die nasies waarheen Hy jou verstrooi het.

4 Selfs al was jy tot aan die uithoeke van die aarde verstrooi, sal die Here jou God jou daar bymekaarmaak en jou weer terugbring.

5 Hy sal jou terugbring na die land wat aan jou voorouers behoort het en jy sal weer die land besit. Hy sal jou selfs meer voorspoedig en talryker maak as wat jou voorouers was.

6 “Die Here jou God sal jou hart en die hart van jou nageslag besny sodat jy Hom met hart en siel sal liefhê. Dan sal jy lewe!

7 Die Here jou God sal al die vervloekings op jou vyande en jou vervolgers laat neerkom.

8 Dan sal julle weer die Here gehoorsaam en al die opdragte nakom wat ek jou vandag gee.

9 Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee, jy sal baie diere hê en jou landerye sal oorvloedige oeste oplewer. Die Here sal Hom daarin verbly en jou voorspoedig maak soos met jou voorouers.

10 Dit sal gebeur as jy die Here jou God gehoorsaam, sy opdragte en voorskrifte nakom soos dit in die boek van die gebooie geskryf is, en as jy met hart en siel na die Here jou God terugkeer.”

Kies tussen lewe en dood

11 “Hierdie gebod wat ek jou vandag gee, is nie te moeilik vir jou of buite jou bereik nie.

12 Dit is nie daarbo in die hemel dat jy nodig het om te vra: ‘Wie sal hemel toe opgaan en dit afbring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

13 Dit is ook nie ver aan die ander kant van die see, dat jy moet vra: ‘Wie sal die see oorsteek om dit vir ons te bring sodat ons dit kan hoor en daarvolgens lewe?’ nie.

14 Die boodskap is baie naby aan jou, dit is op jou lippe en in jou hart sodat jy daarvolgens kan lewe.

15 “Luister nou! Vandag gee ek vir julle ’n keuse tussen voorspoed en teëspoed, lewe en dood.

16 Ek beveel jou vandag om die Here jou God lief te hê en om sy opdragte, voorskrifte en reglemente na te kom deur in sy weë te wandel. As jy dit doen, sal jy lewe en ’n groot nasie word. Die Here jou God sal jou en die land seën wat jy op die punt is om in besit te neem.

17 Maar as jy jou hart wegdraai en jy weier om gehoorsaam te wees en as jy aangetrek word na ander gode toe om hulle te dien en te aanbid,

18 dan waarsku ek jou nou dat jy verseker vernietig gaan word. Jy sal nie ’n lang en goeie lewe geniet in die land wat jy in besit gaan neem wanneer jy die Jordaan oorsteek nie.

19 “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!

20 Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam, jou aan Hom te verbind, bring vir jou die lewe. Dan sal jy lank bly lewe in die land wat die Here jou God gesweer het om aan jou voorouers Abraham, Isak en Jakob te gee.”