DANIËL 1

1 Daniël in diens van

Nebukadnesar

In die derde jaar wat koning Jojakim oor Juda regeer het, het Nebukadnesar teen Jerusalem opgetrek. Hy was die koning van Babel. Hy het die stad beleër.

2 Die Here het Jojakim die koning van Juda, in sy mag gegee. Toe hy terugkeer na Babel het hy van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het saam met hom gevat en dit in die voorraadkamers van sy god se tempel gaan sit.

3 Die koning het vir Aspenas, wat aan die hoof was van die paleisamptenare, opdrag gegee. Hy moes jong manne uit die koninklike families en vooraanstaandes van die Israeliete wat gevange geneem is na hom toe bring.

4 Hulle moes gesond en aantreklik wees, intelligent, goed ingelig en vinnig van begrip, geskik om in die koning se paleis diens te doen. Hulle moes ook verder onderrig word in die taal en letterkunde van die Babiloniërs.

5 Die koning het opdrag gegee dat hulle elke dag kos en drank uit die paleis moes kry. Hulle moes drie jaar lank opgelei word sodat hulle aan die einde daarvan as adviseurs in sy diens kon staan.

6 Daniël, Gananja, Misael en Asarja was onder hierdie jong manne uit Juda.

7 Die hoofamptenaar het vir hulle nuwe name gegee. Daniël het Beltsasar geword, Gananja Sadrag, Misael Mesag en Asarja Abednego.

8 Daniël het egter besluit dat hy nie homself met die koning se kos en drank gaan verontreinig nie. Hy het die hoofamptenaar versoek om nie daarvan te eet nie.

9 God het gemaak dat die hoofamptenaar van Daniël hou en hom goedgesind is.

10 Hy het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir die koning. Hy het bepaal dat julle hierdie kos en drank moet gebruik. As hy sien dat julle nie so goed lyk soos die ander van julle ouderdom nie, gaan julle my kop laat rol by die koning.”

11 Daniël het toe vir die persoon onder wie se sorg die hoofamptenaar Daniël, Gananja, Misael en Asarja geplaas het, gesê:

12 “Toets tog u dienaars vir tien dae lank. Gee vir ons net groente om te eet en water om te drink.

13 Kyk dan ná tien dae hoe ons voorkoms vergelyk met die jong manne wat wel die koning se kos eet. U kan dan besluit om met u dienaars te maak soos u goeddink.”

14 Hy het met Daniël ooreengekom en hulle tien dae lank op die proef gestel.

15 Aan die einde van die tien dae het Daniël-hulle beter en gesonder gelyk as die jong manne wat die koning se kos geëet het.

16 Daarom het die amptenaar hulle vrygestel van die koning se kos en drank. Hy het vir hulle groente gegee om te eet.

17 God het vir hierdie vier jong manne kennis gegee, insig in dinge wat neergeskryf is en ook wysheid. Vir Daniël het hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan.

18 Toe die tyd om was wat die koning bepaal het, het die hoof van die amptenare al die jong manne voor Nebukadnesar gebring.

19 Die koning het ’n onderhoud met elkeen van hulle gevoer. Hy het niemand onder hulle gekry wat die gelyke van Daniël, Gananja, Misael en Asarja was nie. Hulle is toe in die diens van die koning aangestel.

20 Hy het gevind dat hulle in sake wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk.

21 Daniël het daar gebly tot die eerste jaar waarin koning Kores regeer het.

DANIËL 2

Nebukadnesar se droom oor ’n

beeld

1 In die tweede jaar wat Nebukadnesar as koning regeer het, het hy een nag ’n droom gehad. Dit het hom so ontstel dat hy nie verder kon slaap nie.

2 Hy het sy towenaars, voorspellers, besweerders en sterrekykers laat kom om sy droom te verklaar. Hulle het toe gekom en voor die koning kom staan.

3 Hy het vir hulle gesê: “Ek het ’n droom gehad wat my baie ontstel het. Ek wil weet wat die droom beteken.”

4 Die sterrekykers het toe die koning in Aramees geantwoord: “Mag die koning lank leef! Sê vir ons wat u gedroom het en ons sal dit uitlê.”

5 Die koning het vir hulle gesê: “Ek het vas besluit dat as julle nie sowel die droom as sy verklaring vir my gee nie, julle liggame in stukke gekap sal word en van julle huise ashope gemaak sal word.

6 As julle wel vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle met geskenke beloon en julle vereer. Sê vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken!”

7 Hulle sê toe weer vir die koning: “Sê net vir u dienaars wat u gedroom het, dan sal ons kan sê wat dit beteken.”

8 Die koning sê toe: “Dis vir my duidelik dat julle probeer tyd wen. Julle het gesien dat my besluit vasstaan.

9 As julle nie vir my sê wat ek gedroom het nie, bly daar net een ding vir julle oor. Julle sweer saam om aan my leuens te verkoop in die hoop dat ek die besluit sal verander. Sê vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet dat julle ook kan verklaar wat dit beteken.”

10 Die sterrekykers het toe reguit vir die koning gesê: “Daar is nie ’n mens op aarde wat kan doen wat die koning vra nie. Geen koning, hoe sterk en magtig ook al, het al ooit so iets van enige towenaar, besweerder of sterrekyker vereis nie.

11 Wat die koning eis, is onmoontlik. Daar bestaan niemand behalwe die gode wat kan sê wat die koning gedroom het nie. En die gode woon nie tussen mense nie.”

12 Die koning het toe so kwaad geword dat hy opdrag gegee het dat al sy raadgewers in Babel tereggestel moet word.

13 ’n Wet is toe uitgevaardig dat hulle almal doodgemaak moet word.

Daniël en sy vriende is ook gesoek om tereggestel te word.

14 Daniël het toe Arjok, hoof van die koning se lyfwag, taktvol en diplomaties genader. Arjok se opdrag was om al die raadgewers in Babel dood te maak.

15 Hy het vir Arjok uitgevra: “Waarom is die opdrag van die koning so onverbiddelik?” Arjok het vir Daniël verduidelik waaroor dit gaan.

16 Daniël het toe dadelik na die koning gegaan en uitstel gevra om die koning se droom te verklaar.

17 Toe is Daniël na sy huis toe waar hy sy vriende Gananja, Misael en Asarja hiervan vertel het.

18 Hy het hulle gevra om saam met hom by die God van die hemel te pleit vir hulp om die geheim van die droom te ontrafel sodat Daniël en sy vriende nie saam met die res van die raadgewers in Babel doodgemaak word nie.

19 Die oplossing van die geheim is in ’n gesig in die nag vir Daniël gegee. Daniël het toe die God van die hemel geloof en gesê:

20 “Loof die Naam van God

vir altyd, ja, altyd;

aan Hom behoort wysheid

en krag;

21 Hy bepaal die gang

van wêreldgebeure.

Hy sit konings af

en stel konings aan;

Hy gee wysheid

vir dié wat wys is

en kennis vir dié wat insig het;

22 Hy openbaar geheime

wat diep en weggesteek is;

Hy weet

wat in die donker gebeur

alhoewel daar by Hom lig is.

23 Ek loof en prys U,

God van my voorouers.

U het my wysheid en krag gegee;

U het my ingelig

oor wat ons van U gevra het;

U het aan my openbaar

wat die koning gevra het.”

24 Daniël is toe na Arjok toe wat die opdrag van die koning gehad het om die raadgewers in Babel dood te maak. Hy het vir hom gesê: “Moenie die raadgewers van Babel doodmaak nie. Bring my voor die koning dat ek sy droom vir hom kan uitlê.”

25 Arjok het Daniël toe haastig na die koning toe gevat en vir hom gesê: “Ek het ’n man onder die Judese ballinge gekry wat die koning se droom kan uitlê.”

26 Die koning vra vir Daniël, wat ook as Beltsasar bekend was: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?”

27 Daniël sê toe vir die koning: “Daar is geen raadgewer, besweerder, towenaar of sterrekyker wat die geheim vir die koning kan verklaar nie.

28 Die God van die hemel kan egter geheime verklaar. Hy het vir koning Nebukadnesar bekendgemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur.

“Die droom wat u gehad het en die gesigte wat u daar op u bed gesien het, is die volgende:

29 U het daar op u bed gelê en dink oor die toekoms. God wat geheime bekendmaak, het u ingelig oor wat gaan gebeur.

30 Die geheim is vir my verklaar, nie omdat ek slimmer is as enigiemand anders nie, maar omdat God wil hê dat die koning moet verstaan waaroor hy gedink het.

31 “O Koning, wat u daar gesien het, was ’n groot beeld wat voor u staan. Dit was baie groot en blink en vreesaanjaend.

32 Die kop van die beeld was van fyn goud gemaak, sy lyf en arms van silwer, sy onderlyf en heupe van brons,

33 sy bene van yster en sy voete deels uit yster en deels uit klei.

34 Terwyl u daarna staan en kyk, het ’n klip sonder dat ’n mens daaraan geraak het, losgebreek en die beeld teen sy voete van yster en klei getref en dit verpletter.

35 Die hele beeld van yster, klei, brons, silwer en goud het inmekaargestort. Dit het geword soos kaf op die dorsvloer wat die wind wegwaai sonder dat daar ’n spoor daarvan oorbly. Die rots wat die beeld verpletter het, het ’n groot berg geword wat die hele aarde bedek het.

36 “Dit is wat u gedroom het. Ek sal nou vir die koning sê wat dit alles beteken.

37 U Majesteit, u is die koning van die konings. Die God van die hemel het vir u ’n koninkryk van mag en sterkte en aansien gegee.

38 Hy laat u regeer oor die hele mensdom, die diere in die veld en die voëls in die lug. Hy laat u oor dit alles regeer. U is daardie kop van goud.

39 “Ná u kom daar ’n koninkryk op aarde wat nie so groot soos u koninkryk is nie. Daarna kom ’n derde koninkryk van brons om oor die wêreld te regeer.

40 Daarna sal daar ’n vierde koninkryk kom wat so sterk is soos yster. Soos yster alles verpletter, so sal dit al die ander koninkryke vernietig.

41 Die voete wat van yster en klei gemaak is, wys op ’n koninkryk wat verdeeld is. Soos u yster daarin gesien het, sal dit iets van die sterkte van yster hê.

42 Soos die tone en voete deels van yster en deels van klei is, sal hierdie koninkryk deels sterk en deels swak wees.

43 Soos dit ’n mengsel is van yster en klei, sal dit deur ondertrouery alliansies met ander sluit. Maar dit sal nie hou nie, soos yster en klei nie kan meng nie.

44 “In die tyd van daardie koninkryke sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit tot niet sal gaan nie. Dit sal nooit in die hande van ander mense kom nie. Dit sal ’n einde bring aan al die ander koninkryke en self vir altyd bly bestaan.

45 Dit is wat die rots beteken wat u gesien het wat, sonder dat ’n mens dit doen, uit die berg losgebreek het en die koninkryke van yster, brons, klei, silwer en goud vernietig het. Die groot God het vir die koning gewys wat hierna sal gebeur. Die droom staan vas en sy uitleg gaan net so gebeur.”

46 Koning Nebukadnesar het toe diep voor Daniël gebuig en aan hom eer bewys. Hy het opdrag gegee om offers vir Daniël te bring en wierook vir hom te brand.

47 Die koning het vir Daniël gesê: “Sowaar, jou God is die God van alle gode en die Heer van alle konings. Hy openbaar geheime, want jy kon die geheim vir my verklaar.”

48 Die koning het toe vir Daniël bevorder en vir hom baie geskenke gegee. Hy het Daniël as regeerder oor die provinsie van Babel aangestel en as leier van al sy raadgewers in Babel.

49 Op versoek van Daniël het die koning vir Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie van Babel. Daniël self het in die poorte van die paleis aangebly.

DANIËL 3

Die drie vriende in die

vlammende oond

1 Koning Nebukadnesar het ’n beeld uit goud laat maak. Dit was 30 meter hoog en drie meter breed. Hy het dit in die Duravlakte in die provinsie van Babel laat oprig.

2 Nebukadnesar het toe opdrag aan al sy amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en al die amptenare van die provinsies gegee om bymekaar te kom vir die ingebruikneming van die beeld wat hy laat oprig het.

3 Al die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en die amptenare van die provinsies het toe bymekaargekom vir die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Hulle het voor die beeld gaan staan.

4 ’n Aankondiger het hardop uitgeroep: “Luister na dié bevel, alle volke, nasies en tale:

5 Sodra julle die trompet hoor blaas en die fluit, siter, lier, harp en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en tot die goue beeld bid wat koning Nebukadnesar laat oprig het.

6 Enigeen wat nie neerkniel om dit te aanbid nie, sal dadelik binne in ’n vuurwarm oond gegooi word.”

7 Die oomblik toe die mense uit die verskillende volke, nasies en tale die trompet, fluit, siter, harp en die ander musiekinstrumente hoor, het hulle op hulle knieë gegaan en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnesar laat oprig het.

8 Van die wyse manne het toe na die koning gegaan en van die Judeërs aangekla.

9 Hulle het vir koning Nebukadnesar gesê: “Mag die koning lank lewe!

10 U Majesteit het mos ’n bevel uitgereik dat elkeen wat die geluid van die trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, dadelik moet neerval en die goue beeld aanbid.

11 Dié wat dit nie doen nie, sal in die vuuroond gegooi word.

12 Maar daar is Joodse mans wat nie doen wat die koning gelas het nie. Dit is Sadrag, Mesag en Abednego wat u oor die administrasie van die provinsie van Babel aangestel het. Hulle gee nie eer aan u gode nie en hulle aanbid nie die goue beeld wat u opgerig het nie.”

13 Nebukadnesar was woedend en hy het beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego na hom toe gebring moet word. Toe hulle voor die koning kom,

14 het Nebukadnesar vir hulle gevra: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle nie aan my gode eer wil bewys nie en nie die goue beeld wat ek opgerig het, wil aanbid nie?

15 Kyk, ek gee julle nog een keer kans. Luister wanneer julle die musiekinstrumente hoor speel en aanbid die beeld wat ek gemaak het. As julle dit nie aanbid nie, sal julle onmiddellik in die vlammende oond gegooi word. Watter god sal julle dán uit my hand kan red?”

16 Sadrag, Mesag en Abednego het koning Nebukadnesar geantwoord: “Ons ag dit nie nodig om u hierop te antwoord nie.

17 Die God wat ons aanbid, kán ons uit die vuur red. Hy sal ons uit u mag bevry, U Majesteit.

18 En selfs al red Hy ons nie, U Majesteit, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”

19 Die koning was so kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat sy gesig vertrek het. Hy het opdrag gegee dat die oond sewe keer warmer as gewoonlik gemaak moet word.

20 Hy het sterk mans uit sy leër aangesê om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en hulle in die oond met sy skroeiende vlamme te gooi.

21 Hulle het toe die drie mans vasgebind en hulle in die brandende oond gegooi met hulle klere en al.

22 Omdat die koning beveel het dat die vuur so warm gemaak moet word, het die vlamme uit die oond die mense doodgebrand wat Sadrag, Mesag en Abednego in die oond gegooi het.

23 Die drie mans, Sadrag, Mesag en Abednego, het so vasgebind in die brandende oond beland.

24 Koning Nebukadnesar was egter verstom. Hy het opgespring en vir sy raadgewers gevra: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?”

“Ja, beslis, U Majesteit,” het hulle vir hom gesê.

25 Hy sê toe vir hulle: “Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ’n bo-aardse wese.”

26 Nebukadnesar het so naby hy kan aan die deur van die vlammende oond gaan staan. Hy het geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe!” Sadrag, Mesag en Abednego het toe uit die vlammende oond gekom.

27 Die amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs en ministers van die koning het om hulle saamgedrom. Hulle het gesien dat die vuur niks aan hulle gemaak het nie. Die hare op hulle kop was nie eers geskroei nie. Hulle klere het niks oorgekom nie en hulle het nie na rook geruik nie.

28 Nebukadnesar het gesê: “Loof die God van Sadrag, Mesag en Abednego! Hy het sy engel gestuur om sy dienaars wat op Hom vertrou het, te red. Hulle het die koning se bevel verontagsaam en was bereid om hulle lewens te gee eerder as om eer te bewys aan enige ander god of enigeen buiten hulle eie God te dien.

29 Ek vaardig nou ’n wet uit dat enige volk, nasie of taal wat sonder respek oor Sadrag, Mesag en Abednego se God praat, in stukke gekap word, en van hulle huise sal ’n ashoop gemaak word. Daar is geen ander god wat so kan red soos Hy nie!”

30 Daarna het hy Sadrag, Mesag en Abednego bevorder en nog hoër posisies aan hulle in die provinsie van Babel gegee.

DANIËL 4

Koning Nebukadnesar se droom

oor ’n boom

1 Koning Nebukadnesar het ’n brief uitgestuur aan al die volke, tale en nasies van die wêreld: “Mag dit goed gaan met julle almal.

2 Ek wil graag vir julle vertel van die tekens en wonders wat God die Allerhoogste my laat ervaar het.

3 “Hoe groot is sy tekens

en hoe magtig

sy wonders!

Sy koninkryk hou nooit op nie.

Hy heers oor geslag

na geslag.

4 “Ek, Nebukadnesar, was gerieflik en voorspoedig in my paleis.

5 Ek het toe ’n droom gehad wat my baie banggemaak het. Ek het daar op my bed dinge gesien wat my onrustig gemaak het.

6 Ek het toe opdrag gegee om al die slim manne van Babel na my toe te bring om vir my te kom sê wat die droom beteken.

7 “Toe al die towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers gekom het, het ek vir hulle gesê wat ek gedroom het. Hulle kon egter nie vir my sê wat dit beteken nie.

8 “Op die ou einde het Daniël na my toe gekom. Ek het hom na my god Beltsasar vernoem, want die gees van die heilige gode is in hom. Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het.

9 Ek het vir hom gesê: ‘Beltsasar, leier van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is. Geen geheim is vir jou te groot nie. Ek sal jou vertel wat ek gedroom het, dan moet jy vir my sê wat dit beteken.

10 “‘Ek het op my bed gelê

en in die middel

van die wêreld

’n hoë boom gesien.

11 Die boom het groot

en sterk geword.

Dit was naderhand so hoog

soos die wolke.

Almal op die wêreld

kon dit sien.

12 Dit het groen blare gehad

en genoeg vrugte gedra

dat almal daarvan kon eet.

Die diere van die veld

het in sy skaduwee gestaan.

Die voëls van die lug

het daarin nes gemaak.

Almal wat leef,

kon van sy vrugte lewe.

13 “‘Terwyl ek op my bed lê

en droom,

het daar ’n bo-aardse wese

uit die hemel uitgekom.

14 Hy het hardop uitgeroep:

Kap die boom af!

Breek sy takke af!

Stroop sy blare af!

Skud sy vrugte af!

Jaag die diere weg

van sy skaduwee!

Jaag die voëls uit sy takke!

15 Laat staan net sy stomp

en sy wortels

tussen die gras in die grond

met ’n band van

yster en koper om.

Die dou uit die lug

moet hom natmaak.

Hy moet saam met die diere

in die oop veld bly.

16 Laat sy geaardheid word

soos dié van ’n dier,

en laat dit vir sewe tydperke aanhou.

17 “‘Dit was die besluit van die bo-aardse wesens. Dit was wat die heiliges geëis het sodat almal wat leef, kan weet dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van mense. Hy gee mag aan mense soos Hy wil. Hy kan selfs die geringste mens aanstel.

18 “‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’”

Daniël verklaar die droom

19 “Daniël, ook genoem Beltsasar, was vir ’n ruk lank verbysterd. Hy was ontsteld oor wat in sy gedagtes opgekom het. Die koning sê toe: ‘Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.’

“Beltsasar het geantwoord: ‘U Majesteit, ek wens die droom en sy betekenis het eerder met u vyande gebeur.

20 Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien,

21 met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak,

22 is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde.

23 “‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het.

24 “‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het.

25 U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil.

26 Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer.

27 “‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’

28 “Dit het presies net so met die koning gegaan.

29 Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop.

30 Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ’n teken te wees van my grootheid!’

31 “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ’n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hierdie boodskap is vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat!

32 Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ’n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbygaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en dit vir enigeen gee soos Hy wil.’

33 “Die woorde was skaars koud toe dit so gebeur het. Nebukadnesar is van die mense af weggejaag. Hy het gras begin eet soos ’n bees. Die dou het uit die lug op hom geval. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere en sy naels het soos ’n voël se kloue geword.

34 “Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom wat vir altyd lewe, geloof en vereer, want Hy regeer vir altyd en aan sy heerskappy kom daar nooit ’n einde nie.

35 “Almal wat op aarde woon,

is niks in vergelyking

met Hom nie.

Hy maak soos Hy wil

met die inwoners van die hemel

en dié wat op aarde woon.

Niemand kan Hom teëgaan nie.

En niemand kan vir Hom sê:

‘Wat doen jy?’ nie.

36 “Toe ek tot my sinne gekom het, is my koningskap, my aansien en my eer ook aan my teruggegee. My raadgewers en amptenare het my kom opsoek en ek is weer in my koningsamp herstel. My aansien het selfs nog meer geword as vantevore.

37 “As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nekukadnesar, die Koning van die hemel.

“Alles wat Hy doen,

is waar en reg.

Almal wat hoogmoedig is,

verneder Hy.”

DANIËL 5

Die skrif teen die muur

1 Koning Belsasar het vir 1 000 van sy vooraanstaande amptenare ’n groot fees gehou. Hy het saam met hulle wyn gedrink.

2 Terwyl Belsasar so aan die drink was, het hy beveel dat die goue en silwer voorwerpe wat sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem verwyder het, daarnatoe gebring word. Die koning wou saam met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit drink.

3 Hulle het toe die goue eetgerei gebring wat uit die woonplek van God in Jerusalem gevat is. Die koning het toe saam met sy amptenare, sy vroue en byvroue daaruit begin drink.

4 Terwyl hulle wyn gedrink het, het hulle hulle afgode wat van goud, silwer, brons, yster, hout en klip gemaak is, geloof.

5 Net toe het die vingers van ’n mens se hand verskyn en reg teenoor die kandelaar op die pleister van die muur van die koning se paleis begin skryf. Die koning het gesien hoe die hand begin skryf.

6 Hy het bleek geword. Hy het baie bang geword en sy knieë het teen mekaar begin klap en hy het homself vuilgemaak.

7 Die koning het geskreeu dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gehaal moes word. Hy het vir die wyse mans van Babel gesê: “As enige persoon kan lees wat hier geskryf staan en kan verklaar wat dit beteken, sal hy pers klere soos ’n koning kry, en ’n goue ketting sal om sy nek gehang word en hy sal derde in rang in my ryk aangestel word.”

8 Al die koning se wyse mense het toe gekom. Niemand kon egter lees wat daar geskryf staan, of vir die koning verduidelik wat dit beteken nie.

9 Koning Belsasar het daarom nog banger geword. Sy gesig was nou spierwit. Sy hoë amptenare was verbyster.

10 Toe sy ma hoor van die debakel waarin die koning en sy amptenare is, gaan sy na die saal waar die fees gehou is. Toe sy binnekom, sê sy: “Mag die koning lank lewe! Moenie jou so ontstel en bang wees nie.

11 Daar is ’n man in jou koninkryk in wie die gees van die heilige gode woon. In die dae van jou voorganger het dit duidelik geword dat hy insig, begrip en wysheid het soos dié van die gode self. Jou voorganger Nebukadnesar het hom aangestel as hoof oor sy towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers.

12 Daniël, vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, is buitengewoon skerpsinnig en begaafd. Dit het aan die lig gekom dat hy weet hoe om drome uit te lê, raaisels op te los en probleme te ontknoop. Laat Daniël dan nou kom dat hy dit kan lees en kan verklaar wat dit beteken.”

Daniël verklaar die skrif

13 Daniël is toe voor die koning gebring. Die koning vra vir Daniël: “Is jy Daniël uit die Judese ballinge wat my voorganger uit Juda gebring het?

14 Ek hoor dat die gees van die gode in jou woon en dat jy besondere insig, begrip en wysheid het.

15 Die geleerdes en towenaars het probeer om te lees wat hier geskryf staan en te verklaar wat dit beteken. Maar hulle was nie in staat om dit te verduidelik nie.

16 Ek het gehoor jy kan verklarings gee en raaisels oplos. As jy kan lees wat daar geskryf staan en vir my sê wat dit beteken, sal ek vir jou die pers klere van ’n koning gee, ’n goue ketting om jou nek hang en jou in die derde posisie in my koninkryk aanstel.”

17 Daniël antwoord die koning: “U kan maar die geskenke vir uself hou of die beloning maar vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en vir u sê wat dit beteken.

18 U Majesteit, God die Allerhoogste het die koninkryk met sy grootsheid, eer en aansien vir u voorganger Nebukadnesar gegee.

19 Hy het hom so groot gemaak dat volke, nasies en tale vir hom bang was. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat lewe wie hy wou. Hy het aangestel wie hy wou en verneder soos hy lus gekry het.

20 Toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy van sy troon afgesit en sy eer is van hom weggeneem.

21 Hy is van die mense af weggejaag en het soos ’n dier geword. Hy het tussen die wilde donkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Die dou van die lug het op hom geval, totdat hy erken het dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die wêreld en daaroor aanstel wie Hy wil.

22 “Belsasar, U is sy opvolger. Alhoewel u dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie.

23 U het u teenoor die Heer van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster, hout en klip gemaak is, wat nie eers kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid en nie die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal, vereer nie.

24 Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf.

25 “Daar staan geskryf: ‘Mene, mene, tekel, ufarsin.’

26 Dit beteken:

“‘Mene’ – God het die aantal dae van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ’n einde.

27 “‘Tekel’ – u is op die skaal geweeg en te lig gevind.

28 “‘Peres’ – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.”

29 Belsasar het toe opdrag gegee en daar is vir Daniël die pers klere van ’n koning aangetrek, ’n goue ketting is om sy nek gehang en ’n dekreet is uitgevaardig dat hy derde in rang in die koninkryk sal wees.

30 Daardie selfde nag nog is Belsasar die koning van die Babiloniërs doodgemaak.

DANIËL 6

Daniël in die leeuhok

1 Die Mediër Darius het koning geword toe hy 62 jaar oud was.

2 Darius het dit goedgedink om 120 amptenare oor sy koninkryk aan te stel.

3 Oor hulle het hy drie hoofde aangestel as toesighouers wat na die koning se belange moes omsien. Daniël was een van die drie.

4 Daniël was besonder bekwaam en het homself van die amptenare en die ander hoofde onderskei. Die koning het selfs oorweeg om hom oor sy hele ryk aan te stel.

5 Die amptenare en hoofde het toe begin fout soek om iets oor sy werk teen Daniël in te bring. Hulle kon nêrens enige fout kry nie. Daniël was betroubaar en daar kon niks gekry word waarin hy nalatig was nie.

6 Omdat hulle niks teen hom kon kry nie, het hierdie mense toe besluit dat hulle op grond van sy godsdiens iets teen hom sou kry.

7 ’n Groep van die amptenare en hoofde is toe na die koning toe. Hulle sê vir hom: “Koning Darius, mag u nog lank lewe!

8 Al die hoofde in die ryk, die hoofgoewerneurs, die hoofamptenare, die raadgewers en die goewerneurs beveel by u aan dat die koning ’n dekreet uitvaardig en bekragtig dat enigeen wat gedurende die volgende 30 dae enige god of mens behalwe die koning vereer, in ’n hok met leeus gegooi sal word.

9 U Majesteit moet die wet opstel en dit onderteken sodat dit kan staan as wet van Mede en Perse wat nie verander kan word nie.”

10 Koning Darius het die wet uitgevaardig en dit onderteken.

11 Toe Daniël hoor dat die wet onderteken is, het hy huis toe gegaan. Hy het daar ’n venster gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem. Hy het daar drie maal ’n dag op sy knieë gegaan om tot sy God te bid en om Hom te loof, soos hy gewoond was om te doen.

12 Die amptenare het toe bymekaargekom en op Daniël afgekom waar hy besig was om tot sy God te bid.

13 Hulle is na die koning toe oor die wet wat hy gemaak het. Hulle vra vir hom: “Het u nie die wet onderteken dat enige persoon wat gedurende die volgende 30 dae tot enige god of mens bid, behalwe tot u, vir die leeus gegooi sal word nie?”

Die koning antwoord: “Ja, ek het. ’n Wet van Mede en Perse kan nooit verander word nie.”

14 Hulle sê toe vir die koning: “Daniël, een van die Judese ballinge steur hom nie aan u of aan u wet nie. Hy bid drie maal elke dag.”

15 Toe die koning dit hoor, was hy baie kwaad vir homself. Hy het gedink oor hoe hy Daniël kon red. Hy het die res van die dag probeer om Daniël te bevry.

16 Die mans is weer saam na die koning toe. Hulle sê vir hom: “O Koning, u weet tog dat ’n wet wat die koning geteken het volgens die reël van Mede en Perse vasstaan. Dit kan nie verander word nie.”

17 Die koning het toe beveel dat Daniël gevange geneem en in die leeuhok gegooi moet word. Hy het vir Daniël gesê: “Mag jou God wat jy altyd dien jou red.”

18 Hulle het ’n klip gebring en dit voor die ingang van die hok gesit. Die koning het dit met sy seëlring en die seël van sy vooraanstaande amptenare verseël sodat niemand daarmee kon peuter en Daniël uithaal nie.

19 Die koning is toe terug na sy paleis toe. Hy het daardie aand niks geëet nie. Daar is nie soos gewoonlik vir hom musiek gemaak nie. Hy kon ook nie daardie nag slaap nie.

20 Met dagbreek die volgende oggend het hy haastig na die leeus se hok toe gegaan.

21 Naby die hok het hy angstig na Daniël geroep en gevra: “Daniël, dienaar van die lewende God, kon jou God wat jy altyd aanbid, jou van die leeus red?”

22 Daniël het die koning geantwoord: “Mag die koning lank lewe!

23 My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit sodat hulle niks aan my kon doen nie, want ek het niks verkeerds teen Hom gedoen nie. Ook teen die koning het ek geen oortreding begaan nie.”

24 Die koning was baie bly hieroor. Hy het gesê dat Daniël uit die hok gehaal moes word. Daniël is daar uitgehaal en daar was geen skrapie aan hom nie, want hy het op sy God vertrou.

25 Die koning het toe beveel dat daardie mans wat Daniël wou verontreg, saam met hulle kinders en vroue in die leeuhok gegooi moes word. Hulle het skaars grond gevat in die hok of die leeus het hulle verskeur.

26 Koning Darius het toe aan al die volke, nasies en tale oor die hele aarde ’n brief geskryf:

“Hartlike groete vir julle almal!

27 Ek vaardig ’n bevel uit dat in al die gebiede van my ryk daar agting en respek moet wees vir die God van Daniël.

Hy is die God wat lewe

en vir altyd bestaan.

Sy koninkryk

ken geen einde nie

en sy regering

het geen grense nie.

28 Hy bevry en Hy red.

Hy rig tekens op

en doen wonders

bo in die hemel

en onder op die aarde.

Hy het Daniël gered

uit die mag van die leeus.”

29 Hierna het Daniël voorspoedig in Darius se ryk gelewe en ook in dié van Kores die Pers.

DANIËL 7

Die visioen van die vier diere

1 In die eerste regeringsjaar van Belsasar as koning van Babel, het Daniël ’n droom gehad. Hy het in sy slaap gesigte gesien. Wat hy in die droom gesien het, het hy neergeskryf. Dit is wat hy gesien het:

2 In my droom daardie nag het ek, Daniël, ’n sterk storm op die groot see gesien met winde wat uit al vier rigtings waai.

3 Vier groot diere wat van mekaar verskil het, het uit die see gekom.

4 Die eerste dier was soos ’n leeu met arendsvlerke. Terwyl ek besig was om daarna te kyk, is sy vlerke afgeskeur. Sy voorlyf is van die aarde af opgelig en hy het op sy agterpote gaan staan soos ’n mens, en ’n mens se verstand is aan hom gegee.

5 Ek het ’n tweede dier gesien wat soos ’n beer lyk. Dit het regop gestaan en het drie ribbebene tussen sy tande in sy bek gehad. Daar is vir hom gesê: “Staan op en verslind baie vleis.”

6 Daarna sien ek nog ’n ander dier wat lyk soos ’n luiperd. Hy het op sy rug vier vlerke gehad soos ’n voël se vlerke. Hy het ook vier koppe gehad en het die mag ontvang om te regeer.

7 In my visioen daardie nag het ek ook ’n vierde dier gesien. Hy was vreesaanjaend, geweldig groot en buitengewoon sterk. Hy het groot ystertande gehad waarmee hy alles verslind het. Wat daarna oor was, het hy onder sy pote vertrap. Hy was heeltemal anders as die ander diere voor hom en het tien horings gehad.

8 “Terwyl ek nog besig was om na die horings te kyk, het daar ’n klein horinkie tussen hulle uitgekom. Drie van die horings wat daar was, is uitgepluk om daarvoor plek te maak. Hierdie horinkie het oë soos dié van ’n mens gehad en ’n mond wat baie aanmatigende dinge gesê het.

9 Terwyl ek staan en kyk,

is daar trone neergesit.

Hy wat ewig lewe,

het daarop gaan sit.

Sy klere was wit soos sneeu.

Die hare op sy kop

was soos suiwer wol.

Sy troon het vuurvlamme gehad

en wiele van brandende vuur.

10 ’n Rivier van vuur

het van Hom af weggevloei.

Duisende der duisende

het Hom gedien

en tienduisende is tot sy diens.

Die verhoor het toe begin

en die boeke is oopgemaak.

11 Ek het bly kyk, want ek het gehoor hoe die klein horinkie onophoudelik bly spog. Ek het bly kyk totdat die vierde dier doodgemaak is. Sy liggaam is vernietig en hy is oorgegee om met vuur verbrand te word.

12 Die gesag van die ander drie diere is ook van hulle weggevat. Hulle kon nog langer lewe, maar net vir ’n bepaalde tyd.

13 In my visioen daardie nag het ek iemand in die wolke in die lug gesien kom, iemand wat soos ’n mens lyk. Hy het na Hom wat ewig lewe gegaan en is voor Hom gebring.

14 Om te heers, het hy ontvang: gesag, eer en mag. Al die volke, nasies en tale sou hom dien. Sy heerskappy is vir altyd. Dit sal nooit verdwyn nie. Sy koninkryk sal nie ophou nie.

Iemand soos ’n mens verklaar

die visioen

15 Ek, Daniël, was ontsteld oor alles wat ek gesien het. Die dinge wat ek gesien het, het my banggemaak.

16 Ek het toe nadergegaan na een van dié wat daar gestaan het. Ek het hom uitgevra oor al hierdie dinge. Hy het gesê hy sal dit vir my verduidelik:

17 “Die vier groot diere is vier konings wat oor die aarde regeer.

18 Die heilige mense van die Allerhoogste sal egter uiteindelik die koninkryk ontvang. Hulle sal regeer vir altyd en ewig.”

19 Ek wou toe duidelikheid hê oor die vierde dier wat soveel anders was as die res. Dit was buitengewoon skrikaanjaend en het met sy ystertande en bronskloue alles verslind en dit wat oorbly onder sy voete vertrap.

20 Ek wou ook weet van die tien horings op sy kop en die klein horinkie waarvoor drie ander horings plek moes maak. Hierdie horing het oë en ’n mond gehad wat gespog het, en het anders as die ander gelyk.

21 Ek het gesien hoe hierdie horing oorlog maak met die heilige mense en hulle oorweldig.

22 Toe het Hy wat ewig lewe gekom en uitspraak gelewer ten gunste van die mense wat aan die Allerhoogste behoort. Die tyd het toe gekom dat die heilige mense die koningskap oorneem.

23 Hy het vir my gesê: “Die vierde dier is ’n vierde mag wat oor die wêreld sal regeer en wat heeltemal anders is as al die ander ryke. Dit sal die hele aarde wegvreet en daarop trap en dit vermorsel.

24 Die tien horings daaraan is die ryke van tien konings wat sal regeer. Ná hulle sal ’n ander koning kom wat heeltemal van sy voorgangers sal verskil. Hy sal drie konings aan homself onderwerp.

25 Hy sal teen God die Allerhoogste te velde trek en die heilige mense van God die Allerhoogste onderdruk. Hy sal daarop uit wees om die vaste tye en wette te verander. Hulle sal in sy mag kom vir ’n tyd, tye en ’n halwe tyd.

26 Met ’n beslissing van die hof sal sy mag by hom weggevat word en finaal vernietig word.

27 Die heerskappy, regering en aansien van al die koninkryke onder die son sal dan gegee word vir die volk van die heilige mense van God die Allerhoogste. Sy koninkryk is ’n ryk sonder einde. Al die heersers sal dan aan Hom eer bewys en aan Hom gehoorsaam wees.”

28 Hier eindig die saak. Ek, Daniël, was baie ontsteld oor wat in my gedagtes opgekom het. Ek was so bang dat ek bleek geword het, maar ek het die saak vir myself gehou.

DANIËL 8

Die visioen van die ram en die

bok

1 In die derde jaar van koning Belsasar se regering, het ek, Daniël, ná die eerste visioen nog een gesien.

2 Ek het gesien ek staan by die paleis in Susan in die provinsie Elam langs die Ulairivier.

3 Toe ek opkyk, sien ek ’n ram by die Ulai staan. Hy het twee horings gehad. Die een was langer as die ander een, al het dit eers ná die ander een begin uitgroei.

4 Hy het met sy horings gestoot na die weste, die noorde en die suide toe. Niemand kon teenstand teen hom bied nie. Niks kon van hom ontsnap nie. Hy het gedoen net wat hy wou en het al sterker geword.

5 Terwyl ek stip staan en kyk, kom ’n bok vanuit die weste oor die aarde sonder om iewers grond te raak. Hy het ’n opvallende groot horing tussen sy oë gehad.

6 Hy het met geweld afgestorm op die ram met twee horings wat ek by die rivier sien staan het.

7 Ek het gesien hoe hy die ram met geweld tref en sy twee horings afbreek. Die ram was nie teen hom opgewasse nie. Hy het die ram teen die grond geslinger en dit onder sy hoewe vertrap. Daar was niemand om die ram uit die bok se mag te red nie.

8 Die bok het buitengewoon sterk geword. Op die hoogtepunt van sy krag is sy groot horing egter afgebreek. In die plek daarvan het vier opvallende horings uitgekom. Dit het in al vier windrigtings gewys.

9 Uit een van hulle het ’n klein horinkie gekom wat kragtig na die suide, die ooste en na die mooi land van Israel uitgegroei het.

10 Dit het met krag opgetrek teen die magte van die hemel en sommige van hulle asook sommige van die sterre teen die grond gegooi en vertrap.

11 Hy het selfs die Aanvoerder van die hemelse magte aangedurf. Hy het die gereelde offer wat vir God gebring word tot niet gemaak en sy tempel verwoes.

12 Deur sy verkeerde optrede is die hemelse magte aan hom uitgelewer, die gereelde offer opgehef en die waarheid in die grond vertrap. Hy was voorspoedig in alles wat hy gedoen het.

13 Ek het in ’n gesprek tussen twee heiliges die een vir die ander hoor vra: “Hoe lank hou die visioen aan, die visioen van die daaglikse offer, die opstand wat verwoes en die heiligdom en hemelse mag wat vertrap word?”

14 Die ander een het geantwoord: “2 300 dae dan sal die heiligdom weer gewy word.”

Gabriël verduidelik die visioen

15 Terwyl ek, Daniël, nagedink het oor die visioen wat ek gesien het, het daar skielik iemand voor my kom staan wat soos ’n man lyk.

16 Ek het langs die Ulairivier ’n mens se stem hoor roep wat sê: “Gabriël, verduidelik tog vir hierdie man wat die gesig beteken!”

17 Hy het na die plek toe gekom waar ek gestaan het. Toe hy naderkom, het ek so bang geword dat ek vooroor geval het. Hy het vir my gesê: “Jy moet verstaan, mens, dat die visioen te doen het met die eindtyd.”

18 Terwyl hy besig was om met my te praat, het ek flou op die grond neergeval. Hy het aan my gevat en my op my voete gehelp.

19 Hy sê toe vir my: “Ek lig jou in oor waarheen God se verontwaardiging gaan lei. Dit gaan oor die eindtyd.

20 Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van Medië en Persië.

21 Die bok is die koning van Griekeland. Die groot horing tussen sy oë is die eerste Griekse koning.

22 Die vier horings wat in sy plek gekom het toe dit afgebreek het, is vier Griekse ryke wat na vore sal kom. Hulle sal nie dieselfde mag as hy hê nie.

23 “Aan die einde van hulle regeertyd, wanneer hulle verkeerde dade ’n hoogtepunt bereik het, sal daar ’n hardvogtige koning na vore kom wat die kuns ken om te bedrieg.

24 Sonder dat hy self daarvoor werk, sal hy baie magtig word. Hy sal baie skade aanrig. Hy sal regkry wat hy beplan. Hy sal magtige leiers asook die heilige volk vernietig.

25 Deur sy sluheid en die bedrog wat hy pleeg, sal hy sukses behaal. Hy sal in sy eie oë belangrik wees. Hy sal stil-stil baie mense uitroei. Hy sal ook veg teen die Leier van al die leiers. Maar sonder dat ’n mens dit aan hom doen, sal hy vernietig word.

26 “Die gesig wat jy oor die 2 300 dae gesien het, is waar. Jy moet egter stilbly oor wat jy gesien het, want dit gaan nog baie lank neem voor dit gebeur.”

27 Ek, Daniël, was toe dae lank siek. Daarna het ek opgestaan en aangegaan in die koning se diens. Ek was ontsteld oor wat ek gesien het. Ek het dit glad nie verstaan nie.

DANIËL 9

Daniël se skuldgebed

1 Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs regeer.

2 Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die Here vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees.

3 Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi.

4 Ek het vir die Here my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg.

5 “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk.

6 Ons het nie na u dienaars, die profete geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat.

7 U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was.

8 Here, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het.

9 “Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom.

10 “Ons was nie gehoorsaam aan die Here ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie.

11 Die hele Israel het van u bepalings afgewyk en weggedwaal omdat ons nie na u geluister het toe U ons geroep het nie.

“U het nou oor ons die dreigemente en vervloekings laat kom wat in die wet van u dienaar Moses geskryf staan, want ons het sonde teen U gedoen.

12 U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie.

13 Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die Here verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie.

14 Die Here het teëspoed oor ons laat kom. Die Here ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie.

15 “Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree.

16 Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon.

17 “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here.

18 “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is.

19 Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”

20 Ek het aangehou om te bid en my en my volk se sonde te bely. Ek het gepleit by die Here my God, ter wille van sy heilige tempel.

Gabriël se inligting

21 Terwyl ek nog besig was om te bid, het Gabriël, wat ek in die eerste visioen gesien het, na my toe gekom. Dit was teen die tyd dat die aandoffer gebring word.

22 Hy het my ingelig en vir my gesê: “Daniël, ek het na jou toe gekom sodat jy insig kan kry en verstaan.

23 Reeds toe jy begin bid het, is ek beveel om te kom en vir jou te verduidelik. Jy is kosbaar vir God. Luister na die verduideliking sodat jy kan verstaan waaroor die visioen gaan.

24 “Tye van 70 eenhede van sewes is vasgestel vir jou volk en vir jou heilige stad om die onregverdige dade tot ’n einde te bring, die oortredings te beëindig, die sonde te versoen, geregtigheid sonder einde te bring, die visioen en die woorde van die profeet te vervul en die Allerheiligste plek ingewy sal word.

25 Weet en verstaan dit: vandat die bevel uitgegaan het om Jerusalem te herstel en te herbou, totdat die gesalfde leier kom, is daar sewe eenhede van sewe en nog 62 eenhede van sewe. Jerusalem sal herstel word en sy strate en watervore sal herbou word onder moeilike omstandighede.

26 Ná die tyd van die 62 eenhede van sewes, sal die gesalfde leier doodgemaak word. Hy sal niks besit nie. Die stad en die tempel sal vernietig word wanneer ’n koning en sy leër daar kom. Sy einde sal met oorstromings kom. Dit is bepaal dat daar oorlog en ellende sal wees tot aan die einde toe.

27 Hy sal met baie ’n ooreenkoms sluit vir ’n tydperk van een eenheid van sewe. Vir ’n halwe eenheid sal hy die praktyk van die offer ophef. Hy sal ’n veragtelike ding oprig wat die tempel verontreinig totdat die tyd aanbreek dat dit wat oor hom bepaal is, oor hom sal losbars.”

DANIËL 10

Daniël se laaste visioen

1 In die derde jaar van Kores se bewind in Persië het Daniël, wie se ander naam Beltsasar was, nog ’n visioen gehad. Dit het gegaan oor dinge wat nog beslis sou gebeur. Dit sou ’n tyd van oorlog wees. Daniël het verstaan wat hierdie visioen beteken.

2 Tydens die visioen was ek, Daniël, al drie weke lank besig om te treur.

3 Ek het nie in daardie drie weke enige geurige kos of vleis geëet nie. Ek het nie eers aan wyn geraak nie. Ek het ook nie van enige geurige olie gebruik gemaak nie.

4 Dit was op 23 April. Ek het op die oewer van die groot Tigrisrivier gestaan.

5 Ek het opgekyk en ’n man gesien met klere van fyn linne en ’n goue gordel om sy lyf.

6 Sy lyf het soos edelstene gelyk. Sy gesig was soos weerligstrale, sy oë soos vlammende fakkels. Sy arms en sy voete was soos koper wat blink gevryf is. Die stem waarmee hy gepraat het, het geklink soos die geruis van ’n skare mense.

7 Dit was net ek, Daniël, wat hierdie gesig gesien het. Die mans wat saam met my was, het dit glad nie gesien nie. Hulle het skielik baie bang geword en weggehardloop om te gaan wegkruip.

8 Ek het toe alleen agtergebly en na hierdie visioen staan en kyk. Daar het nie ’n greintjie krag in my oorgebly nie. Ek het doodsbleek geword en daar het geen krag in my oorgebly nie.

9 Ek het die man hoor praat. Toe ek hoor hy praat, het ek flou neergeval en met my gesig op die grond gelê.

10 ’n Hand het my aangeraak en my op my hande en knieë gehelp. Ek het staan en bewe.

11 Hy het vir my gesê: “Daniël, man wat God baie liefhet, luister aandagtig na wat ek vir jou sê. Staan op jou voete! Ek is na jou toe gestuur.” Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan.

12 Hy sê toe vir my: “Moenie bang wees nie, Daniël. Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor. Ek het gekom in antwoord op jou gebed.

13 Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan. Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel. Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.

14 Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur. Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”

15 Terwyl hy hierdie dinge vir my gesê het, het ek afgekyk grond toe. Ek kon niks sê nie.

16 Die een wat soos ’n mens lyk, het toe aan my lippe geraak. Ek het begin praat en vir die een wat voor my staan, gesê: “Meneer, die visioen het my ontstel. Ek is benoud. Ek is kragteloos.

17 Hoe kan Meneer se kneg nog met Meneer praat? Ek het nie die krag om regop te bly nie. Ek kan nie asem kry nie.”

18 Die een wat soos ’n mens lyk, het toe weer aan my geraak en my sterk gemaak.

19 “Moenie bang wees nie,” sê hy weer vir my. “God is lief vir jou. Wees rustig. Wees sterk.” Terwyl hy met my gepraat het, het ek sterk geword. Ek het vir hom gesê: “Meneer kan maar nou met my praat. Ek is sterk genoeg.”

20 Hy sê toe: “Weet jy waaroor ek na jou toe gekom het? Ek moet teruggaan om te gaan veg teen die aanvoerder van die Perse. Ek moet uittrek om te veg, want die aanvoerder van die Grieke het opgeruk.

21 Ek moet vir jou sê wat in die Boek van die Waarheid geskryf staan. Daar is niemand wat saam met my hierdie leier kan teenstaan nie behalwe Migael, julle leier.”