2 TIMOTEUS 1

1 Paulus skryf aan sy geloofskind

Timoteus en stuur ’n seëngroet

Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, uitgestuur om ander te gaan vertel van die lewe wat Hy beloof het deur geloof in Christus Jesus.

2 Ek skryf aan Timoteus, my geliefde kind.

Mag God ons Vader en Christus Jesus ons Here aan jou genade, ontferming en vrede gee.

Koester die geestelike gawe wat

God aan jou gegee het

3 Timoteus, ek dank God vir jou. Hy is die God wat ek met ’n skoon gewete dien, net soos my voorouers gedoen het. Ek onthou jou voortdurend, dag en nag, in my gebede.

4 Ek verlang om jou weer te sien, want ek onthou jou trane toe ons uitmekaar is. En ek sal vol vreugde wees as ons weer bymekaar is.

5 Ek dink terug aan jou opregte geloof. Eers het jou ouma Loïs en jou ma Eunice hierdie geloof gehad en – daarvan is ek seker – jy het dit ook.

6 Dit is waarom ek jou daaraan herinner om die geestelike gawe, wat God jou gegee het toe ek jou die hande opgelê het, soos ’n vuur aan te blaas.

7 Want God het ons nie ’n gees van lafhartigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.

8 Jy moet dus nooit skaam wees om van ons Here te getuig nie. En moet jou ook nie vir my skaam nie, al is ek ook in die tronk ter wille van Christus. Met die krag wat God jou gee, moet jy gereed wees om saam met my vir die uitdra van die Goeie Nuus te ly.

9 Dit is God wat ons verlos

en gekies het om

’n toegewyde lewe te lei.

Hy het dit gedoen,

nie omdat ons dit verdien het nie,

maar omdat dit sy plan was

lank voor die begin van die

wêreld,

naamlik om sy genade

aan ons te bewys

deur Christus Jesus.

10 En nou het Hy dit alles aan ons

duidelik gemaak

deur die koms van Christus Jesus,

ons Verlosser,

wat die mag van die dood

verbreek het

en aan ons, deur die Goeie

Nuus,

die weg gewys het na die

onverganklike lewe.

11 En God het my gekies om ’n prediker te wees, ’n apostel en ’n leermeester van dié Nuus.

12 Dit is waarom ek hier in die tronk ly. Maar ek is nie skaam daaroor nie, want ek ken die Een op wie ek vertrou en ek is seker dat Hy sal bewaar wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag van sy koms.

13 Hou vas aan die maatstaf van gesonde lering wat jy van my geleer het. En onthou om te lewe in die geloof en liefde wat jy in Christus Jesus het.

14 Bewaar met die hulp van die Heilige Gees wat in ons woon, die kosbare skat wat aan jou toevertrou is.

15 Soos jy weet, het al die Christene wat uit die provinsie Asië hier aangekom het, my in die steek gelaat – selfs Figelus en Hermogenes is weg.

16 Mag die Here ontferming aan Onesiforus en sy hele huishouding bewys, want hulle het my dikwels besoek en bemoedig. Hy was nooit skaam omdat ek in die tronk is nie.

17 Toe hy na Rome toe gekom het, het hy oral gesoek totdat hy my gekry het.

18 Mag die Here aan hom ontferming bewys op die dag van Christus se wederkoms. En jy weet hoe baie hy my in Efese gehelp het.

2 TIMOTEUS 2

Wees ’n goeie soldaat van

Christus Jesus!

1 Timoteus, my kind, staan sterk in die genade wat God deur Christus Jesus aan jou bewys het.

2 Vertrou die waarhede wat jy voor baie getuies van my gehoor het, toe aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee.

3 Verduur saam met my lyding soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus.

4 Geen soldaat raak verstrengeld in die beslommernisse van hierdie lewe nie, want dan kan hy die Een wat hom vir sy leër gewerf het, nie tevrede stel nie.

5 ’n Atleet word nie gekroon as hy nie volgens die reëls deelneem nie.

6 Hardwerkende boere is die eerste wat die vrug van hulle arbeid geniet.

7 Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp.

8 Onthou voordurend dat Jesus Christus uit koning Dawid se nageslag gebore is en dat Hy uit die dood opgewek is. Dit is die Goeie Nuus wat ek verkondig.

9 En omdat ek hierdie Goeie Nuus verkondig, ly ek en is ek soos ’n misdadiger in kettings geslaan. Maar die woord van God kan nie vasgeketting word nie.

10 Ek is bereid om vir dié wat deur God gekies is, enigiets te verduur as dit vir hulle deur Christus Jesus verlossing en ewige heerlikheid sal bring.

11 Hierdie woord is absoluut waar:

As ons saam met Hom sterf,

sal ons ook saam met Hom lewe.

12 As ons verdrukking ly,

sal ons saam met Hom regeer.

As ons Hom ontken,

sal Hy ons ook ontken.

13 Maar as ons ontrou is –

Hy bly getrou,

want Hy kan Homself

nie ontken nie.

Werk hard en verduidelik die

woord van die waarheid reg

14 Herinner almal aan hierdie dinge, en vermaan hulle in God se Naam om op te hou met ’n bakleiery oor woorde. Sulke argumente is nutteloos en kan die mense ruïneer wat dit aanhoor.

15 Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ’n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik.

16 Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei.

17 Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. Himeneus en Filetus is voorbeelde hiervan.

18 Hulle het die pad van die waarheid verlaat met hulle bewering dat die opstanding van die dooies alreeds plaasgevind het. Daarmee het hulle die geloof van sommige ondermyn.

19 Maar God se waarheid staan vas soos ’n fondamentsteen met die volgende inskripsie: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en: “Dié wat beweer dat hulle aan die Here behoort, moet wegdraai van alle boosheid.”

20 In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik.

21 As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar, een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak.

22 Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker. Spits jou daarop toe om reg voor God te lewe. Streef na geregtigheid, geloof, liefde en vrede saam met dié wat die Here met rein harte aanroep.

23 Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie.

24 Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense.

25 Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken.

26 Dan sal hulle tot hulle sinne kom en uit die duiwel se strik ontsnap. Want hulle word deur hom gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.

2 TIMOTEUS 3

Gedurende die laaste dae sal

baie mense ontspoor

1 Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom.

2 Want mense sal net hulleself en hulle geld liefhê. Hulle sal grootpraterig en arrogant wees, met God spot, ongehoorsaam aan hulle ouers en ondankbaar wees. Hulle sal niks as heilig beskou nie.

3 Hulle sal liefdeloos en onvergewensgesind wees; hulle sal ander mense belaster en geen selfbeheersing hê nie; hulle sal wreed wees en geen belangstelling hê in wat goed is nie.

4 Hulle sal hulle vriende verraai, roekeloos wees, hooghartig, en hulle sal plesier liewer hê as vir God.

5 Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.

6 Onder hulle is dié wat hulleself in mense se huise kan inwurm en die vertroue van kwesbare vroue wen wat belaai is met sondeskuld en beheer word deur baie begeertes.

7 Sulke vroue is altyd besig om nuwe leringe na te volg, maar hulle kry dit nie reg om die waarheid te begryp nie.

8 En hierdie leermeesters bestry die waarheid net soos Jannes en Jambres hulle teen Moses verset het. Hulle denke is korrup en hulle geloof is niks werd nie.

9 Maar hulle sal nie lank hiermee wegkom nie, want dit sal vir almal duidelik blyk watter dwase hulle is, net soos dit gebeur het met Jannes en Jambres.

Bly aan die Skrif getrou

10 Maar jy, Timoteus, het my onderrig getrou gevolg, hoe ek lewe en wat my doel in die lewe is. Jy ken my geloof en hoe lank ek al gely het. Jy ken my liefde en my geduld en verdraagsaamheid.

11 Jy weet hoeveel vervolging en lyding ek verduur het. Jy weet alles van hoe ek vervolg is in Antiogië, Ikonium en Listra, maar die Here het my uit alles verlos.

12 Ja, en almal wat ’n toegewyde lewe in verbondenheid aan Christus Jesus wil lei, sal vervolg word.

13 Maar bose mense en swendelaars sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle sal aanhou om mense te mislei, en hulle sal self mislei word.

14 Maar jý, bly getrou aan die dinge wat jy geleer het. Jy weet dit is waar, want jy weet jy kan dié vertrou wat jou geleer het.

15 Jy ken die Heilige Skrif van kindsbeen af en dit het jou die wysheid gegee om die verlossing te ontvang wat deur geloof in Christus Jesus kom.

16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.

17 Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

2 TIMOTEUS 4

1 Ek wil jou dus ernstig aanspoor voor God en voor Christus Jesus, wat die lewendes en dooies gaan oordeel wanneer Hy verskyn om sy koningsheerskappy te vestig:

2 Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.

3 Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.

4 Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

5 Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Vervul jou taak as evangelis. Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

’n Paar persoonlike slotwoorde

6 Wat my betref, word my lewe alreeds uitgegiet as ’n offer aan God. Die tyd van my dood is op hande.

7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

8 En nou wag die prys vir my: die lourierkrans vir ’n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy terugkeer. En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na sy heerlike verskyning.

9 Doen jou bes om so gou moontlik na my toe te kom.

10 Demas het my verlaat omdat hy verlief geraak het op die dinge van hierdie lewe en toe na Tessalonika vertrek het. Kressens is weg na Galasië en Titus na Dalmasië.

11 Net Lukas is by my. Gaan haal vir Markus en bring hom saam met jou wanneer jy kom, want hy kan my behulpsaam wees.

12 Ek het Tigikus na Efese toe gestuur.

13 Wanneer jy kom, onthou om die bo-kleed wat ek by Karpus in Troas agtergelaat het, saam te bring. Bring ook my boeke, en veral my perkamente.

14 Aleksander die kopersmid het my baie skade aangedoen, maar die Here sal hom oordeel vir wat hy gedoen het.

15 Wees versigtig vir hom, want hy het alles teengestaan wat ons gesê het.

16 Toe ek die eerste keer voor die regter gebring is, was daar niemand by my nie. Almal het my verlaat. Ek hoop nie dit sal teen hulle tel nie!

17 Maar die Here het my bygestaan en my krag gegee om die Goeie Nuus in al sy volheid te verkondig sodat al die nie-Joodse nasies dit kan hoor. En Hy het my van ’n gewisse dood gered.

18 Ja, en die Here sal my verlos van enige kwaad en my veilig in sy hemelse koninkryk bring. Aan God kom die heerlikheid toe, vir ewig en ewig. Amen.

Hartlike groete; Timoteus moet

vóór die winter kom

19 Groete aan Priscilla en Akwila en Onesiforus se gesin.

20 Erastus het in Korinte agtergebly en Trofimus het ek siek in Milete agtergelaat.

21 Doen jou bes om voor die winter te kom. Eubulus stuur vir jou groete, en so ook Pudens, Linus, Claudia en al die broers en susters.

22 Mag die Here met jou gees wees. Mag God se genade met julle wees.