2 TESSALONISENSE 1

1 Paulus en sy kollegas skryf aan

die gemeente in Tessalonika en

Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus.

Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God ons Vader en die Here Jesus Christus verbonde is.

2 Mag die genade en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus met julle wees.

Julle moet onder vervolging

volhard

3 Broers en susters, dit is gepas dat ons altyd vir God dankie sal sê vir julle, want julle geloof hou net aan groei en julle almal se liefde vir mekaar word net groter!

4 Gevolglik vertel ons self met trots in God se gemeentes hoe julle volhard en glo onder al die vervolging en swaarkry wat julle verduur.

5 God sal die dinge wat julle deurmaak, gebruik om te wys dat Hy regverdig oordeel. Dit sal daarop uitloop dat julle waardig beskou sal word om in God se koningsheerskappy te deel. Dit is hiervoor dat julle ly.

6 God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal.

7 Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn.

8 In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie.

9 Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af.

10 Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo!

11 Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring.

12 So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.

2 TESSALONISENSE 2

Voor die Here se terugkeer moet

daar nog sekere dinge gebeur

1 Broers en susters, ons rig ’n versoek tot julle oor die dag wanneer ons Here Jesus Christus terugkom en ons by Hom bymekaargebring word:

2 Moenie so gou verward raak of van stryk gebring word deur ’n profesie of ’n uitspraak of ’n brief wat sogenaamd van ons afkomstig sou wees en wat beweer dat die Dag van die Here alreeds gekom het nie.

3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie. Die Dag van die Here sal nie aanbreek voordat die opstand eers gekom en die wettelose mens, die mens wat vernietiging bring, na vore getree het nie.

4 Hy sal hom verset teen alles wat god genoem word en hom verhef bo alles wat ’n voorwerp van aanbidding is. Sy doel is om in die tempel van God te gaan sit en voor te gee dat hy self God is.

5 Onthou julle nie? Toe ek nog by julle was, het ek julle van hierdie dinge vertel.

6 Dan weet julle ook wat hom nog daarvan terughou om op sy bestemde tyd na vore te tree.

7 Die wetteloosheid werk inderdaad alreeds in die geheim, maar net totdat die een wat dit terughou, uit die weg geruim is –

8 dán sal die wettelose op die toneel verskyn. Hy sal egter deur die asem uit die Here Jesus se mond doodgemaak en deur die glans van sy koms vernietig word.

9 Satan sal dit bewerk dat die wettelose mens se koms gepaardgaan met groot magsvertoon en tekens en vals wonderwerke.

10 Sy koms sal ook gepaardgaan met allerhande bose misleiding van dié wat verlore gaan. Hulle gaan verlore omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle verlossing aanvaar het nie.

11 Daarom stuur God ’n kragtige dwaling na hulle sodat hulle die leuen glo.

12 Só sal almal veroordeel word wat nie die waarheid geglo het nie, maar die kwaad gekies het.

Julle moet vasstaan in die geloof

13 Maar, broers en susters, geliefdes van die Here, dit pas ons om God altyd oor julle te dank. God het julle immers gekies om as eerstes verlos te word. Hy verlos julle deur die Gees wat julle aan Hom toewy en deur geloof in die waarheid.

14 Deur die Goeie Nuus wat ons verkondig, het God julle hiertoe geroep sodat julle die heerlikheid van ons Here Jesus Christus kan verkry.

15 Met dit in gedagte, broers en susters, staan vas! Hou by al die oorgelewerde geloofswaarhede wat julle geleer het, of dit nou deur ons woorde of briewe was.

16 Verder, mag ons Here Jesus Christus en God ons Vader – Hý wat ons liefgehad het en wat ons deur sy genade ’n ewige troos en ’n goeie vooruitsig gegee het – mag Hy self

17 julle harte vertroos en julle sterk maak in elke goeie daad en woord.

2 TESSALONISENSE 3

Oproep tot voorbidding

1 Ten slotte, broers en susters, bid vir ons sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en net soos by julle met eerbied ontvang word.

2 Bid ook dat ons bewaar sal word van slegte en bose mense, want nie alle mense kan vertrou word nie.

3 Maar die Here is getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar.

4 Verder gee die Here ons sekerheid oor julle, dat julle dit wat ons vra, doen en sál doen.

5 Mag die Here julle hele lewe instel op God se liefde en die volharding wat Christus aan ons gee.

Gelowiges se roeping om te

werk

6 Broers en susters, ons beveel julle in die Naam van die Here Jesus Christus om julle te onttrek aan elke medegelowige wat leeglê en wat nie leef soos julle by ons geleer het nie.

7 Julle weet dat julle ons voorbeeld moet volg. Ons het tog nie by julle leeggelê

8 of bedelbrood van enigeen geëet nie. Inteendeel, ons het dag en nag hard gewerk en geswoeg om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie.

9 Nie dat ons nie op versorging aanspraak kon maak nie, maar ons wou onsself as ’n voorbeeld vir julle stel om te volg.

10 Toe ons by julle was, het ons uitdruklik vir julle gesê: As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.

11 Ons sê dit omdat ons hoor dat sommige mense leeglê; dat hulle nie werk nie en hulle met ander persone se sake bemoei.

12 In die Naam van die Here Jesus Christus beveel ons sulke mense, ja, ons druk hulle dit op die hart, dat hulle rustig hulle werk moet verrig en so hulle eie brood moet verdien.

13 En julle, broers en susters, moenie moeg word om goed te doen nie!

14 Verder, as mense nie ons opdragte in hierdie brief gehoorsaam nie, identifiseer hulle. Vermy hulle sodat hulle kan skaam kry.

15 Moet hulle egter nie as vyande behandel nie, maar wys vir hulle die regte pad aan, soos medegelowiges met mekaar maak.

Paulus se groetwoord

16 Mag die Here, die Bron van vrede, self altyd en op elke manier vir julle vrede gee. Mag die Here met julle almal wees.

17 Dié groet skryf ek met my eie hand: Van Paulus. My handskrif aan die einde van elke brief is die bewys dat ek dit self geskryf het.

18 Mag die genade van ons Here Jesus Christus met julle almal wees.