2 SAMUEL 21

Die Gibeoniete eis vergelding

1 Gedurende Dawid se bewind was daar ’n hongersnood wat drie jaar lank geduur het. Toe het Dawid die Here daaroor geraadpleeg. Die Here het geantwoord: “Daar rus ’n bloedskuld op Saul en sy familie omdat hy van die Gibeoniete doodgemaak het.”

2 Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was nie Israeliete nie, maar ’n oorblyfsel van die Amoriete. Israel het voorheen met ’n eed belowe dat hulle nie die Gibeoniete sou uitroei nie. Tog het Saul in sy geesdrif vir Israel en Juda hulle probeer uitwis.

3 Dawid vra toe vir hulle: “Wat kan ek vir julle doen? Waarmee kan ek julle vergoed? Sê my sodat julle tot seën kan wees vir die erfdeel van die Here.”

4 “Wel,” antwoord die Gibeoniete, “dit gaan nie om silwer of goud nie. Ons wil ook nie hê dat een Israeliet doodgemaak word nie.”

“Sê my net wat wil julle hê,” sê Dawid, “en ek sal dit vir julle doen.”

5 Hulle het geantwoord: “Dit gaan om die man wat ons wou uitwis en beplan het dat ons geen plek binne die grondgebied van Israel sou hê nie.

6 Sewe mans uit sy familie moet aan ons uitgelewer word sodat ons hulle voor die Here in Gibea van Saul, die een wat die Here uitgekies het, kan teregstel.”

“Dis goed so,” sê die koning. “Ek sal dit doen.”

7 Dawid het Mefiboset seun van Jonatan en kleinseun van Saul se lewe gespaar op grond van die eed wat hy en Saul se seun Jonatan voor die Here afgelê het.

8 Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab, die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet

9 uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die Here tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes.

10 Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie.

11 Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen,

12 het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel.

13 Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het

14 op die dorp Sela in Betlehem, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.

Verskillende gevegte teen die

Filistyne

15 Op ’n keer was daar weer oorlog tussen die Filistyne en Israel. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg, maar Dawid self het moeg en uitgeput geraak.

16 Jisbi van Nob was uit die geslag van die Refaïete. Die gewig van sy bronsspies was ongeveer 3,4 kilogram en hy was gewapen met ’n nuwe uitrusting. Hy het kans gesien om Dawid dood te maak.

17 Maar Abisai seun van Seruja het tot sy redding gekom en die Filistyn verslaan. Daarna het Dawid se soldate gesê: “U gaan nie weer saam in die gevegte nie! Ons kan tog nie die risiko loop dat die lig van Israel uitgedoof word nie!”

18 Daarna was daar ’n ander geveg teen die Filistyne in Gob. In die geveg het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete, doodgemaak.

19 Tydens nog ’n geveg teen die Filistyne by Gob, het Elganan seun van Jaäre-Origam uit Betlehem, vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel.

20 In nog ’n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ’n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete.

21 Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan seun van Dawid se broer Samma het hom doodgemaak.

22 Hierdie vier Filistyne was uit die geslag van die Refaïete van Gat. Dawid en sy soldate het hulle almal doodgemaak.

2 SAMUEL 22

Dawid se loflied

1 Nadat die Here Dawid van al sy vyande en van Saul verlos het, het hy hierdie lied tot eer van die Here gesing. Dit is die woorde van die lied:

2 Die Here is my rots,

my vesting en my Redder;

3 my God is my rots,

by wie ek skuil.

Hy is my skild,

die krag van my redding,

my vesting, my toevlug,

my verlosser

wat my red van geweld.

4 Ek sal roep tot die Here,

Hy wat lofwaardig is,

want Hy red my van my vyande.

5 Golwe van die dood

omring my;

strome van onheil

oorweldig my.

6 Bande van die dood omring my,

strikke van die dood

wag my in.

7 In my angs

het ek tot die Here geroep,

tot my God geroep om hulp.

In sy heiligdom het Hy geluister;

my hulpgeroep

het Hy gehoor.

8 Toe het die aarde geskud

en gebewe;

die fondamente van die hemele

het gerammel;

hulle het geruk

vanweë sy toorn.

9 Rook het uit sy neusgate

geborrel,

verterende vlamme

uit sy mond,

gloeiende kole

uit sy binnekant.

10 Hy het die hemele oopgebreek

en afgekom;

donkerte was onder sy voete.

11 Hy het op ’n gerub geklim

en gevlieg,

Hy is gesien

op die vlerke van die wind.

12 Hy het homself

in donkerte gehul,

watermassas en onweerswolke

het Hom omsluier.

13 Uit die gloed voor Hom

het weerligstrale geblits.

14 Die Here se stem donder

uit die hemele;

die Allerhoogste

laat sy stem hoor.

15 Hy skiet sy pyle,

verstrooi sy vyande;

sy weerlig flits,

hulle is verbysterd.

16 Die bodem van die see

word sigbaar,

die fondamente van die aarde

word ontbloot

deur die gebulder van die Here,

deur die rukwind van sy asem.

17 Van bo af

het Hy sy hand uitgestrek

en my gegryp,

uit diepwaters

het Hy my uitgetrek.

18 Hy verlos my

van magtige vyande,

van haters wat te sterk was vir my.

19 Hulle het aangeval

toe ek swak was,

maar die Here hou my staande.

20 Hy lei my na ’n oop ruimte,

en red my omdat Hy my liefhet.

21 Die Here beloon

my opregtheid;

Hy vergoed my onskuld,

22 Want ek was getrou

aan die voorskrifte

van die Here;

ek was nie skuldig

teenoor my God nie.

23 Sy voorskrifte het ek gevolg

en van sy bepalings

nie afgewyk nie.

24 Ek is onskuldig voor Hom

en het myself weerhou

van sonde.

25 Die Here het my opregtheid

beloon,

want ek was onskuldig

voor Hom.

26 Vir die getroues is U getrou;

vir die opregtes is U opreg.

27 Vir dié wat rein is, is U rein;

vir dié wat vals is, is U vals.

28 U red hulle wat nederig is,

maar U verneder

die hoogmoediges.

29 U is my lig, o Here.

Here, U verlig my duisternis.

30 Met U loop ek ’n leër storm,

met my God

spring ek oor ’n muur.

31 God se pad is volmaak.

Die Here se woorde

is betroubaar.

Hy beskerm

dié wat by Hom skuil.

32 Want wie anders as die Here

is God?

Wie anders as ons God

is ’n rots?

33 God maak my sterk;

Hy maak my pad veilig.

34 Hy maak my voete

soos dié van ’n wildsbok,

op hoë plekke

laat Hy my veilig staan.

35 Hy oefen my hande

vir die geveg,

my arms

om ’n bronsboog te trek.

36 U redding is vir my ’n skild,

u hulp maak my sterk.

37 U verbreed die pad

onder my

en my enkels swik nie.

38 Ek het my vyande agtervolg

en vernietig,

ek het nie omgedraai

voordat hulle uitgewis was nie.

39 Ek het hulle oorrompel

en platgeslaan;

hulle kon nie opstaan nie;

hulle het voor my voete

gesneuwel.

40 U het my met krag toegerus

vir die stryd,

my teenstanders

aan my onderwerp.

41 U het my vyande voor my

laat vlug;

my haters het ek uitgewis.

42 Hulle roep om hulp,

maar niemand kom help nie;

hulle roep selfs tot die Here,

maar Hy antwoord hulle nie.

43 Ek maal hulle fyn

soos die stof van die aarde;

soos modder op straat

laat ek hulle uitmekaarspat.

44 In die stryd met teenstanders

het U my verlos,

my oor nasies

as koning aangestel.

’n Volk wat ek nie geken het nie,

dien my nou.

45 Uitlanders word my onderdane;

as hulle van my hoor,

gehoorsaam hulle my.

46 Vreemdelinge

word moedeloos

en kom bewend

uit hulle vestings.

47 Die Here leef!

Ek prys my Rots!

Ek loof God,

die rots van my redding,

48 God gee die oorwinning vir my,

onderwerp volke aan my.

49 Hy red my van my vyande.

Buite bereik van teenstanders

verhef U my;

U verlos my van geweldenaars.

50 Daarom, Here, sal ek U prys

voor die nasies.

Tot eer van u Naam

sal ek ’n loflied sing!

51 U gee groot oorwinnings

aan u koning;

aan u gesalfde is U getrou,

aan Dawid en sy nageslag

vir altyd!

2 SAMUEL 23

Die laaste woorde van Dawid

1 Hier volg die laaste woorde van Dawid:

“Dit is Dawid seun van Isai

wat praat,

dis woorde van die man

vir wie God

aansien gegee het,

die gesalfde

van die God van Jakob,

die geliefde psalmdigter

van Israel.

2 “Die Gees van die Here

het deur my gepraat;

sy woorde was op my lippe.

3 Die God van Israel het gepraat,

die Rots van Israel

het vir my gesê:

‘Die mens

wat regeer

met regverdigheid,

wat regeer

in eerbied teenoor God,

4 hy is soos die môrelig

wanneer die son

in die oggend verskyn

in ’n wolklose hemel,

soos helderheid ná die reën

wat jong gras

uit die aarde laat groei.’

5 “Staan my huis nie by God nie?

Het Hy dan nie

’n blywende verbond

met my gemaak,

een wat in elke opsig

bevestig, gewaarborg is nie?

Al my redding, al my vreugde–

kom net van Hom af.

6 “Maar bose mense

is soos dorings

wat weggegooi word

en nie met kaal hande

hanteer moet word nie.

7 Wie dit aanraak,

moet dit doen met yster

of met die steel van ’n spies.

In ’n vuur brand dit uit.”

Dawid se helde

8 Hier volg die name van Dawid se helde. Die eerste was Joseb-Bassebet die Tagkemoner, leier van die Driemanskap. Hy het op ’n keer met sy spies 800 vyandige soldate tydens een veldslag doodgemaak.

9 Na hom was daar Eleasar seun van Dodo, die Agoagiet. Hy was een van die Driemanskap by Dawid toe die Filistyne by Garpam bymekaargekom het vir oorlog. Die Israeliete het gevlug,

10 maar hy het bly staan en die Filistyne afgemaai totdat sy hand so moeg geword het dat hy nie sy hand kon oopmaak en sy swaard kon los nie. Daardie dag het die Here ’n groot oorwinning gegee. Toe eers het die leër Eleasar gevolg, maar net om te plunder.

11 Die volgende in rang van die Driemanskap, was Samma seun van Agee uit Harar. Die Filistyne het op ’n keer by Legi versamel naby ’n landery vol lensies. Die Israeliete het gevlug,

12 maar Samma het vasgestaan in die landery, dit verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het aan hulle ’n groot oorwinning gegee.

13 Drie van die Dertigtal het eenkeer tydens die oestyd by Dawid by die Adullamgrot aangekom. Die Filistyne het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.

14 Dawid was toe in die bergskuiling, terwyl ’n afdeling Filistyne die dorp Betlehem beset het.

15 Dawid het teenoor sy manskappe opgemerk: “Ag! As iemand my net ’n bietjie water kan bring uit die put in Betlehem se poort!”

16 Die drie helde het toe deur die Filistynse linie gebreek, die water uit die put opgetrek en dit vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit as ’n offer voor die Here uitgegiet

17 en gesê: “Mag die Here my daarvan bewaar dat ek hiervan drink! Is dit nie soos die bloed van hierdie manne wat met lewensgevaar gegaan het nie?” Dawid het dit dus nie gedrink nie. Dis die soort heldedade van die drie krygsmanne.

Dawid se dertig helde

18 Abisai seun van Seruja en broer van Joab, was die leier van die Dertigtal. Hy het eenkeer met sy spies 300 man in een geveg doodgemaak. Dis waarom hy beroemd geword het by die Dertigtal.

19 Abisai was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle bevelvoerder, maar hy was nie een van die Driemanskap nie.

20 Dan was daar Benaja seun van Jojada, ’n dapper vegter uit Kabseël. Hy het twee sterk manne in Moab doodgemaak. Op ’n dag toe dit gesneeu het, het hy in ’n droë put geklim en ’n leeu daar doodgemaak.

21 ’n Ander keer het hy ’n sterk Egiptenaar doodgemaak. Die Egiptenaar was gewapen met ’n spies, terwyl Benaja net ’n stok gehad het. Maar Benaja het die spies uit die man se hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.

22 Dit is sommige van die dade wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Hy was beroemd onder die Dertigtal.

23 Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertigtal, maar het nie een van die Driemanskap geword nie. Dawid het hom bevelvoerder van sy lyfwag gemaak.

24 Ander lede van die Dertigtal was: Asael, Joab se broer, Elganan seun van Dodo uit Betlehem,

25 Samma uit Garod, Elika uit Garod,

26 Geles uit Pelet, Ira seun van Ikkes uit Tekoa,

27 Abiëser uit Anatot, Sibbekai uit Gusa,

28 Salmon uit Agoag, Marai uit Netofa,

29 Geled seun van Baäna uit Netofa, Ittai seun van Ribai uit Gibea in Benjamin,

30 Benaja uit Piraton, Hiddai uit Nagale-Gaäs,

31 Abi-Albon uit Bet-Araba, Asmawet uit Bagurim,

32 Eljagba uit Saälbon, die seuns van Jasen, Jonatan, seun van

33 Samma die Harariet, Agiam seun van Sarar uit Arar,

34 Elifelet seun van Agasbai, die Maäkagiet, Eliam seun van Agitofel uit Gilo,

35 Gesro uit Karmel, Paärai uit Arab,

36 Jigal seun van Natan uit Soba, Bani uit Gad,

37 Selek die Ammoniet, Nagrai uit Beërot, wapendraer van Joab seun van Seruja,

38 Ira uit Jeter, Gareb uit Jeter,

39 Urija die Hetiet.

Daar was altesaam 37.

2 SAMUEL 24

Dawid laat die volk tel

1 Die woede van die Here het weer teen Israel ontvlam. Hy het Dawid beïnvloed. “Gaan tel die Israeliete en die Judeërs,” het die Here vir hom gesê.

2 Die koning sê toe vir Joab, bevelvoerder van die leër: “Gaan deur die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en tel die volk. Ek wil weet hoeveel mense daar is.”

3 Maar Joab het die koning geantwoord: “Mag die Here u God in u leeftyd nog die volk honderd maal meer maak as nou! Maar watter bevrediging kan dit u verskaf?”

4 Die koning het egter Joab en sy offisiere verplig. Hulle het toe gegaan om die volk Israel te gaan tel.

5 Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en begin by Aroër suid van die dorp by die droë waterloop. Daarvandaan is hulle na Gad en Jaeser toe.

6 Hulle het Gilead deurgegaan tot by die land anderkant Kades en Dan, en daarvandaan verby Sidon.

7 Daarna het hulle by die vesting van Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete langs gekom. Toe het hulle na die suide van Juda, so ver as Berseba, gegaan.

8 Hulle het die hele land deurkruis en hulle opdrag na nege maande en twintig dae voltooi en na Jerusalem toe teruggekeer.

9 Joab het aan die koning verslag gedoen oor die sensus. Daar was 800 000 manne van weerbare ouderdom in Israel en 500 000 in Juda.

Die straf op Dawid se oortreding

10 Nadat Dawid die sensusopname laat maak het, het sy gewete hom begin pla. Hy bely toe teenoor die Here:

“Ek het swaar gesondig

met wat ek gedoen het.

Vergeef tog my oortreding,

Here,

want ek het ’n baie dwase ding

gedoen.”

11 Die volgende oggend, nadat Dawid opgestaan het, het die profeet Gad, die siener van Dawid, na hom toe gekom. Die woord van die Here het na Gad gekom. Dit het gesê:

12 “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gee jou drie keuses. Kies een van die volgende strawwe en Ek sal dit laat gebeur.’”

13 Gad het toe na Dawid toe gegaan en gevra: “Wat sal jy verkies? Drie jaar hongersnood in jou land, drie maande vlug voor jou vyande uit terwyl hulle jou agtervolg, of drie dae pes in jou land? Dink hieroor en laat my weet wat om die Here te antwoord.”

14 “Ek is in ’n hoek gedryf!” sê Dawid vir Gad. “Laat ek liewer in die hande van die Here val, want sy genade is groot. Moenie dat ek in die hande van mense val nie.”

15 Die Here stuur toe daardie oggend ’n pes oor Israel wat tot op die bestemde tyd geduur het. Oor die hele land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, het 70 000 mense gesterf.

16 Die engel was op die punt om Jerusalem te verwoes, maar die Here het besluit om nie verder te gaan nie. Hy sê vir die engel wat die verwoesting gebring het: “Hou op! Dit is genoeg!” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.

17 Toe Dawid die engel sien wat die mense tref, sê hy vir die Here: “Ek is die een wat gesondig het. Dis ek wat oortree het. Maar hierdie arme mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? Laat u hand eerder teen my en my familie wees!”

Dawid bou ’n altaar

18 Nog daardie dag kom Gad na Dawid toe en sê vir hom: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet.”

19 Dawid het gedoen soos die Here deur Gad beveel het.

20 Toe Arauna sien dat die koning en sy amptenare na hom toe kom, het hy hom tegemoetgegaan en diep voor die koning gebuig.

21 “Hoekom kom my heer na sy dienaar toe?” vra Arauna.

Dawid het geantwoord: “Ek het gekom om jou dorsvloer te koop om daar ’n altaar vir die Here te bou sodat die Here die plaag kan stop.”

22 “Vat dit gerus vir u, my heer die koning. Offer daar wat u wil,” sê Arauna vir Dawid. “Hier is ook osse vir die brandoffer. Die dorsslee en jukke kan u gebruik as brandhout.

23 Ek, Arauna, gee dit alles vir die koning. Mag die Here u God u offer aanvaar.”

24 Maar die koning het geantwoord: “Nee, Arauna, ek dring daarop aan om dit te koop teen die volle prys. Ek kan nie vir die Here my God brandoffers aanbied wat my niks kos nie.” Dawid het toe die dorsvloer en die osse vir omtrent 600 gram silwer gekoop.

25 Dawid het daar ’n altaar opgerig tot eer van die Here en brandoffers en maaltydoffers gebring. Daarna het die Here die gebede vir die land verhoor, en die plaag in Israel het opgehou.