2 SAMUEL 1

1 Dawid hoor van Saul se dood

In die tyd na Saul se dood het Dawid teruggekom van sy oorwinning oor die Amalekiete en het reeds twee dae lank in Siklag gebly,

2 toe daar op die derde dag ’n man van Saul se kamp af aankom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop as teken van rou. Toe hy by Dawid kom, val hy in eerbied voor hom op die grond.

3 “Waar kom jy vandaan?” vra Dawid hom.

“Ek het uit die kamp van Israel gevlug,” antwoord hy.

4 “Wat het gebeur?” vra Dawid. “Vertel my hoe sake verloop het.”

Die man antwoord hom: “Die leër het op die vlug geslaan en talle van hulle het gesneuwel. Saul en sy seun Jonatan is ook dood.”

5 “Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is?” vra Dawid vir die jong man.

6 Hy antwoord: “Ek was toevallig op Gilboaberg toe ek sien Saul leun op sy spies terwyl die strydwaens van die vyand naderkom.

7 “Saul het omgekyk en my gesien. Hy roep my toe om hom te kom help. ‘Wat kan ek doen?’ vra ek.

8 Hy vra my: ‘Wie is jy?’ Ek het hom geantwoord: ‘Ek is ’n Amalekiet.’

9 Toe beveel hy my: ‘Kom nader en verlos my uit my ellende, want ek lewe nog, maar is ernstig beseer.’

10 “Ek het hom toe uit sy lyding verlos en hom doodgemaak,” sê die Amalekiet vir Dawid, “want ek kon sien hy was dodelik gewond na sy val en dat hy nie meer lank sou kon lewe nie. Ek het sy kroon en een van sy armbande gevat om dit na u, my heer, te bring.”

11 Toe Dawid dit hoor, het hy en sy manskappe hulle klere geskeur.

12 Hulle het gerou en getreur en tot die aand toe gevas oor die dood van Saul en Jonatan en oor die volk van die Here en die krygsmanne van Israel omdat hulle gesneuwel het.

13 Dawid vra toe vir die jong man wat die nuus gebring het: “Van waar is jy nou weer?”

Hy antwoord: “Ek is ’n vreemdeling, ’n Amalekiet.”

14 “Was jy dan nie bang om die gesalfde van die Here dood te maak nie?” vra Dawid vir hom.

15 Toe beveel Dawid een van sy manskappe: “Maak hom dood!” Die man het die Amalekiet aangeval sodat hy gesterf het.

16 “Jy het jou eie doodsvonnis uitgespreek,” sê Dawid, “want jy het self erken: ‘Ek het die gesalfde van die Here doodgemaak.’”

Dawid se Booglied oor Saul en

Jonatan

17 Toe het Dawid ’n klaaglied vir Saul en Jonatan geskryf.

18 Later het hy beveel dat dit vir almal in Juda geleer moes word. Dit staan bekend as die Booglied, en is opgeteken inDie boek van die Opregte.

19 Die sieraad van Israel

is verslaan op die heuwels!

Hoe het die dapper helde geval!

20 Vertel dit nie in Gat nie,

maak dit nie bekend

in die strate van Askelon nie;

anders sal die dogters

van die Filistyne

hulle verheug,

die dogters

van die onbesnedenes

sal jubel.

21 Berge van Gilboa,

mag daar geen dou of reën

op julle hange wees nie,

want die skild van die dapperes

is daar geskend,

die skild van Saul

is nie met olie ingesmeer nie.

22 Sonder die bloed

van die gesneuweldes,

sonder die vet

van die dapperes,

het die boog van Jonatan

nooit uit ’n geveg

teruggekom,

of die swaard van Saul

van die slagveld af nie.

23 Saul en Jonatan,

geliefd en bemind,

was in lewe of dood

nie geskei nie.

Vinniger as arende was hulle,

sterker as leeus.

24 Dogters van Israel,

treur oor Saul.

Hy het julle ryklik geklee

en goue ornamente gegee.

25 Hoe het die dapper manne

in die geveg gesneuwel!

Op die hoogtes

is Jonatan verslaan!

26 Ek is bedroef oor jou,

my broer Jonatan!

Jy was baie naby aan my.

Jou liefde

was vir my buitengewoon,

dit oortref die liefde van vroue!

27 Hoe het die dapper manne

gesneuwel,

met hulle oorlogswapens

nog in die hand

het hulle gesterf!

2 SAMUEL 2

Dawid as koning van Juda

gekroon

1 Hierna het Dawid vir die Here gevra: “Moet ek teruggaan na een van die stede in Juda?”

“Ja, gaan,” het die Here geantwoord.

Toe vra Dawid: “Na watter plek toe moet ek gaan?”

Die Here het geantwoord: “Na Hebron toe.”

2 Dawid en sy vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil die weduwee van Nabal uit Karmel, het daarnatoe gegaan;

3 so ook al sy manskappe met hulle gesinne. Hulle het in die omstreke van Hebron gaan bly.

4 Die leiers van Juda het na Dawid toe gekom en hom as koning oor Juda gesalf.

Toe Dawid hoor dat die inwoners van Jabes in Gilead vir Saul begrawe het,

5 stuur hy vir hulle die volgende boodskap: “Mag die Here julle seën omdat julle getrou was aan julle koning Saul en hom begrawe het.

6 Mag die Here ook aan julle getrou wees en julle beloon met sy onfeilbare liefde! Ek sal julle ook beloon vir wat julle gedoen het.

7 Maar nou moet julle sterk en moedig wees, want julle koning Saul is dood. Neem kennis dat die inwoners van Juda my as hulle nuwe koning gekroon het.”

Is-Boset as koning van Israel

gekroon

8 Maar Abner seun van Ner, die bevelvoerder van Saul se leër, het reeds met Saul se seun Is-Boset na Maganajim gegaan.

9 Daar het hy Is-Boset koning oor Gilead, Aser, Jisreël, Efraim, Benjamin en die res van Israel gemaak.

10 Is-Boset was 40 jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar regeer. Net Juda het hulle agter Dawid geskaar.

11 Dawid het Hebron sy hoofstad gemaak en van daar sewe en ’n half jaar oor Juda regeer.

’n Geveg tussen Israel en Juda

12 Op ’n dag lei Abner die troepe van Is-Boset, seun van Saul, van Maganajim af teen Gibeon.

13 Joab, seun van Seruja, het met Dawid se troepe uit Hebron getrek en Abner by die Gibeondam ontmoet. Die twee groepe het weerskante van die dam stelling ingeneem.

14 Toe maak Abner ’n voorstel aan Joab: “Kom, laat ’n paar van ons soldate ’n vertoning gee van man-teen-man-gevegte.”

“Goed, laat hulle dit doen,” stem Joab in.

15 Twaalf man uit elke kant, dié van Is-Boset en dié van Dawid, is gekies om teen mekaar te veg.

16 Maar elkeen het sy teenstander aan die hare gegryp en sy swaard deur die ander een se ribbes gesteek sodat almal van hulle gesterf het. Daarna is die plek die Veld van Swaarde genoem.

17 Daarna het die twee leërs mekaar aangeval. Teen die einde van die dag het Dawid se manskappe vir Abner en die leër van Israel verslaan.

Joab agtervolg Abner

18 Joab, Abisai en Asael, die drie seuns van Seruja, was ook daardie dag daar. Asael kon so vinnig soos ’n wildsbok hardloop,

19 en hy het Abner agternagesit. Hy het hom meedoënloos agtervolg.

20 Toe Abner omkyk, roep hy uit: “Is dit jy, Asael?”

“Ja, dis ek,” antwoord hy.

21 “Draai weg van my af,” sê Abner. “Pak liewer een van die jonger manne en vat sy wapens.” Maar Asael het geweier en het volgehou om hom te agtervolg.

22 Abner het weer vir hom geskree: “Hou op om my te agtervolg! Hoekom moet ek jou doodmaak? Hoe sal ek weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23 Maar Asael wou nie kopgee nie. Abner het toe sy spies agtertoe deur sy agtervolger Asael se maag gesteek sodat dit by sy rug uitgekom het. Hy het op die grond geval en gesterf. Elkeen wat daar verbygekom het, het gaan stilstaan by die plek waar Asael doodgemaak is.

24 Joab en Abisai het egter vir Abner bly agternasit. Teen sononder kom hulle aan by die heuwel Amma naby Gia op die pad na die wildernis van Gibeon.

25 Daar bo-op die rant het Abner se manskappe uit Benjamin hulle rondom Abner geskaar en stelling ingeneem.

26 Abner skree toe vir Joab: “Moet ons altyd ons verskille met die swaard oplos? Besef jy nie dit sal net tot bitterheid lei nie? Wanneer gaan jy vir jou manskappe sê hulle moet ophou om hulle broers te agtervolg?”

27 Joab antwoord: “So waar as wat God leef, as jy nie nou gepraat het nie, sou die manskappe eers teen die oggend opgehou het om hulle broers te agtervolg.”

28 Joab het toe op die ramshoring laat blaas en sy manskappe het die agtervolging van Israel gestaak.

29 Abner en sy manskappe het deur die nag met die Jordaanvallei langs getrek. Hulle het deur die Jordaanrivier gegaan en die oggend verder getrek totdat hulle by Maganajim aangekom het.

30 Toe Joab die agtervolging staak, het hy sy soldate bymekaargeroep. Benewens Asael het net negentien gekort.

31 Aan die kant van Abner het 360 man, almal uit Benjamin, gesneuwel.

32 Joab en sy manskappe het die liggaam van Asael na Betlehem toe geneem en hom in die familiegraf begrawe. Daarna het hulle die hele nag deur getrek en Hebron teen dagbreek bereik.

2 SAMUEL 3

1 Die gevegte tussen Saul se koningshuis en die ondersteuners van Dawid het lank voortgeduur. Gaandeweg het Dawid al sterker geword, terwyl Saul se koningshuis verswak het.

Dawid se seuns wat in Hebron

gebore is

2 Die seuns wat in Hebron vir Dawid gebore is, was soos volg: Die oudste was Amnon, seun van Aginoam van Jisreël.

3 Die tweede was Kilab, seun van Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel.

Die derde was Absalom, seun van Maäka, dogter van Talmai, koning van Gesur.

4 Die vierde was Adonia, seun van Gaggit.

Die vyfde was Sefatja, seun van Abital.

5 Die sesde was Jitream, seun van Dawid se vrou Egla.

Hierdie seuns is almal in Hebron vir Dawid gebore.

Abner se aanbod aan Dawid

6 Terwyl die oorlog tussen die twee koningshuise van Saul en Dawid voortgeduur het, het Abner algaande sterker geword in die Saulshuis.

7 Saul het ’n byvrou met die naam Rispa, dogter van Aja, gehad. Op ’n dag het Saul se seun Is-Boset vir Abner beskuldig: “Hoekom het jy my pa se byvrou Rispa gevat?”

8 Abner het hom gruwelik vir Is-Boset vererg. “Is ek dan ’n hond wat Juda wil help?” skree hy. “Is dit die beloning wat ek kry ná alles wat ek vir jou pa se huis gedoen het deur julle nie aan Dawid uit te lewer nie? Nou vind jy fout met my oor hierdie vrou!

9 Mag God my straf as ek nie tog vir Dawid help om alles te kry wat die Here hom belowe het nie,

10 dit is om die koningskap van die Saulshuis weg te neem en Dawid se heerskappy te vestig oor sowel Israel as Juda, vanaf Dan tot Berseba.”

11 Is-Boset het nie gewaag om nog ’n woord te sê nie omdat hy bang was vir Abner.

12 Toe stuur Abner boodskappers na Dawid toe en sê: “Aan wie behoort die land? Kom ons sluit ’n ooreenkoms, en ek sal die hele Israel na u toe oorhaal.”

13 “Nou goed,” antwoord Dawid, “maar op voorwaarde dat jy Mikal, Saul se dogter, saambring wanneer jy my kom ontmoet.”

14 Dawid het toe ook die volgende boodskap aan Is-Boset, Saul se seun, gestuur: “Gee my vrou Mikal terug. Om met haar te trou, moes ek die voorhuide van 100 Filistyne lewer.”

15 Is-Boset neem toe vir Mikal weg van haar man Palti, seun van Lajis.

16 Palti het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe sê Abner vir hom: “Gaan terug huis toe!” Palti het toe maar so gemaak.

17 Intussen het Abner met die leiers van Israel beraadslaag. “Julle wou mos al vir Dawid koning maak.

18 Die tyd is nou ryp daarvoor, want die Here het gesê: ‘Ek het Dawid my dienaar gekies om my volk Israel van die mag van die Filistyne en die mag van al sy vyande te verlos.’”

19 Abner het ook vertroulik met die leiers van Benjamin gepraat. Daarna het hy na Hebron toe gegaan om vir Dawid vertroulik te sê wat vir Israel en Benjamin aanvaarbaar is.

20 Abner het saam met twintig man in Hebron aangekom, en Dawid het hulle op ’n fees onthaal.

21 Toe sê Abner vir Dawid: “Laat my toe om die hele Israel na u kant toe oor te haal om ’n ooreenkoms met u te sluit sodat u kan heers oor alles wat u hart begeer.” Daarna het Dawid vir Abner ongehinderd laat gaan.

Joab vermoor Abner

22 Kort nadat Abner ongehinderd daar weg is, kom Joab en Dawid se manskappe met baie buit terug van ’n rooftog.

23 Toe Joab hoor dat Abner die koning besoek het en dat hy ongedeerd daar weg is,

24 haas hy hom na die koning toe. “Wat het u nou gedoen?” vra hy. “Wat het u besiel om Abner te laat wegkom?

25 U weet tog dat Abner seun van Ner, net gekom het om u te mislei en op u doen en late te spioeneer!”

26 Joab is weg van Dawid af en het boodskappers agter Abner aangestuur. Hulle het hom by die put van Sira ingehaal en hom saam met hulle teruggebring. Maar Dawid het niks hiervan geweet nie.

27 Toe Abner terug is by Hebron, neem Joab hom eenkant na die poort toe asof hy vertroulik met hom wou praat. Toe pluk hy sy dolk uit en steek hom in die maag sodat hy sterf. Dit het hy gedoen uit weerwraak omdat Abner sy broer Asael doodgemaak het.

28 Toe Dawid dit agterna eers hoor, sê hy: “Ek en my koninkryk is onskuldig voor die Here oor die bloed van Abner seun van Ner.

29 Mag dit neerkom op die kop van Joab en sy familie. Mag sy familie in elke geslag vervloek wees deurdat hulle nooit sonder iemand sal wees wat bloei of ’n velaandoening het of wat met krukke loop of wat deur die swaard omkom of wat bedel vir kos nie!”

30 So het Joab en sy broer Abisai vir Abner doodgemaak omdat Abner hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgemaak het.

Dawid rou oor Abner

31 Toe sê Dawid vir Joab en almal wat by hom was: “Skeur julle klere en trek rouklere aan. Rou oor Abner.” Koning Dawid het self agter die draagbaar in die begrafnisstoet na die graf toe geloop.

32 Hulle het Abner begrawe in Hebron. Die koning en al sy mense het by die graf gehuil.

33 Die koning het hierdie klaaglied vir Abner gesing:

“Moes Abner sterf

soos ’n dwaas?

34 Jou hande

was nie vasgemaak nie;

jou voete nie in kettings nie!

Nee, jy is vermoor –

’n slagoffer van bose mense.”

Die hele volk het weer oor Abner gehuil.

35 Almal het Dawid op dié dag gesmeek om te eet terwyl dit dag was, maar hy het ’n eed afgelê: “Mag God my straf as ek enigiets voor sononder eet.”

36 Die hele volk het dit raakgesien en dit goedgekeur. Trouens, hulle het alles wat die koning gedoen het, goedgekeur.

37 Toe het almal, ook die hele Israel, besef dat Dawid nie vir Abner se dood verantwoordelik was nie.

38 Toe sê koning Dawid vir die volk: “Besef julle dat ’n leier, ’n groot man in Israel, vandag geval het?

39 Alhoewel ek die gesalfde koning is, is ek swak, want hierdie twee seuns van Seruja is te sterk vir my. Mag die Here met die bose man afreken vir sy bose daad.”

2 SAMUEL 4

Dawid straf die moord op

Is-Boset

1 Toe Is-Boset hoor dat Abner in Hebron dood is, het hy sy onmag besef en die hele Israel was lam van vrees.

2 Daar was twee broers, Baäna en Rekab, leiers van Is-Boset se rooftogbendes. Hulle was seuns van Rimmon, ’n Benjaminiet wat in Beërot gewoon het. Die dorp Beërot is deel van Benjamin se gebied

3 omdat die oorspronklike inwoners na Gittajim toe gevlug het en steeds daar as vreemdelinge woon.

4 Saul se seun Jonatan het ’n seun gehad met die naam Mefiboset wat van kindsbeen af kreupel was. Hy was vyf jaar oud toe Saul en Jonatan tydens die geveg by Jisreël gesneuwel het. Toe die nuus van die geveg die hoofstad bereik, het sy oppasser hom gegryp en gevlug. Maar terwyl sy hardloop, het sy gestruikel en die kind laat val sodat hy kreupel geword het.

5 Op ’n dag, op die warmte van die middag, het Baäna en Rekab, seuns van Rimmon, na die huis van Is-Boset toe gegaan terwyl hy ’n middagslapie geniet het.

6 Hulle het toegang tot die huis gekry deur voor te gee dat hulle koring kom haal, maar het Is-Boset in sy maag gesteek en gevlug.

7 Hulle het die huis binnegekom terwyl hy op sy bed in sy slaapkamer geslaap het en hom doodgesteek. Hulle het selfs sy kop afgekap, dit saamgeneem en deur die nag al met die Jordaanvallei langs gegaan.

8 Hulle het in Hebron aangekom en die kop vir Dawid aangebied. “Kyk!” sê hulle. “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van u vyand Saul wat u wou doodmaak. Vandag het die Here wraak geneem oor Saul en sy hele familie!”

9 Maar Dawid sê vir Rekab en Baäna: “Ek maak ’n eed voor die Here wat my van al my vyande verlos het.

10 Een keer het iemand my kom vertel ‘Saul is dood’ omdat hy gedink het hy bring vir my goeie nuus. Maar ek het hom gegryp en daar by Siklag doodgemaak. Dit was sy beloning!

11 Hoeveel te meer moet ek nie ook die lewe eis van bose manne wat ’n onskuldige man in sy huis op sy bed doodgemaak het nie?”

12 Daarop het Dawid sy lyfwag beveel om hulle dood te maak. Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle liggame langs die dam by Hebron opgehang. Is-Boset se kop het hulle geneem en dit in Abner se graf in Hebron gaan begrawe.

2 SAMUEL 5

Dawid word koning van die hele

Israel

1 Toe het al die stamme van Israel na Dawid in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal bloedverwante.

2 ’n Lang tyd al, selfs destyds toe Saul ons koning was, was u eintlik maar die een wat Israel in gevegte gelei het. En die Here het vir u gesê: ‘Jy sal die herder van my volk Israel wees. Jy sal heerser oor Israel wees.’”

3 Dawid het toe daar in Hebron voor die Here ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit, en hulle het hom as koning van Israel gesalf.

4 Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het altesaam 40 jaar lank regeer.

5 Hy het sewe en ’n half jaar in Hebron oor Juda regeer, en in Jerusalem 33 jaar oor Israel en Juda saam.

Dawid verower Jerusalem

6 Dawid en sy persoonlike leër het teen Jerusalem opgeruk waar die Jebusiete gewoon het. “Jy sal nooit hier inkom nie,” tart die Jebusiete hom en sê: “Selfs die blindes en die lammes sal julle hier uit hou!” Hulle het gedink: “Dawid sal nooit hier kan inkom nie.”

7 Nogtans het Dawid die Sionsvesting verower. Dit word nou genoem die Stad van Dawid.

8 Daardie dag het Dawid gesê: “Elkeen wat ’n Jebusiet wil verslaan, moet die watertonnel gebruik om daardie sogenaamde lammes en blindes te bereik, want ek, Dawid, het ’n afsku aan hulle.” Dit is die oorsprong van die spreekwoord: “Die lammes en die blindes mag nie in die tempel ingaan nie.”

9 Dawid het toe die vesting sy tuiste gemaak en dit die Stad van Dawid genoem. Hy het verdere versterkings rondom gebou. Dit was vanaf die Milloterras in die rigting van die paleis.

10 Dawid het al sterker geword, want die Here, die Almagtige, was met hom.

11 Koning Hiram van Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout, skrynwerkers en messelaars gestuur om vir Dawid ’n paleis te bou.

12 Dawid het besef dat die Here hom as koning oor Israel bevestig het en sy koninkryk aansien gegee het ter wille van sy volk Israel.

13 Nadat Dawid van Hebron af na Jerusalem toe verhuis het, het hy meer vroue en byvroue geneem. Daar is nog seuns en dogters vir hom gebore.

14 Dit is die name van Dawid se seuns wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15 Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16 Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid oorwin die Filistyne in

Spooklaagte

17 Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor Israel gesalf is, het hulle almal opgetrek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en afgegaan na ’n skuilplek toe.

18 Die Filistynse leër het oor die hele Spooklaagte uitgesprei.

19 Dawid raadpleeg toe die Here: “Moet ek teen die Filistyne optrek? Sal U hulle in my mag oorgee?”

En die Here het geantwoord: “Ja, trek op. Ek sal verseker die oorwinning aan jou gee.”

20 Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar verslaan. Toe roep Dawid uit: “Die Here het soos ’n verwoestende stroom water deur my vyande gebreek!” Daarom het Dawid die plek Baäl-Perasim (Grootkloof) genoem.

21 Die Filistyne het selfs hulle afgode net daar laat lê sodat Dawid en sy soldate dit kon wegdra.

22 Maar na ’n tyd het die Filistyne teruggekom en weer oor die Spooklaagte versprei.

23 Weereens raadpleeg Dawid die Here. “Moenie hulle van voor af aanval nie,” antwoord die Here. “Julle moet eerder óm hulle trek en hulle daar by die bome van agter af aanval.

24 Wanneer julle in die toppe van die bome ’n geruis hoor soos mense wat marsjeer, moet julle toeslaan. Dit is die teken dat die Here voor julle uit gaan om die Filistyne te tref.”

25 Dawid het gedoen soos die Here beveel het. Hy het die Filistyne verslaan vanaf Geba tot by Geser.

2 SAMUEL 6

Die ark word uiteindelik na

Jerusalem toe gebring

1 Dawid het 30 afdelings uitgesoekte soldate bymekaargemaak.

2 Hy en al die mense by hom het na Baäla in Juda gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die naam “die Here, die Almagtige, wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is.

3 Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa gelaai en dit uit die huis van Abinadab op die heuwel weggevat. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die wa vergesel.

4 Die ark van God was bo-op die wa, terwyl Agjo voor geloop het.

5 Dawid en al die mense van Israel het met oorgawe voor die Here gedans terwyl hulle sing en op allerlei musiekinstrumente gespeel het. Daar was liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6 Maar toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die osse gestruikel. Ussa het sy hand uitgesteek om die ark van God te keer.

7 Toe ontvlam die toorn van die Here teen Ussa en tref hom sodat hy daar langs die ark van God gesterf het.

8 Dawid was ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Hy noem toe die plek Peres-Ussa. Dit is nou nog die naam.

9 Dié dag het Dawid bang geword vir die Here en gevra: “Hoe kan die ark van die Here ooit na my toe kom?”

10 Dawid was toe nie meer bereid om die ark van die Here in die Dawidstad te laat inkom nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom, die Gittiet geneem.

11 Die ark van die Here het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het hom en sy hele huis geseën.

12 Dis aan koning Dawid meegedeel: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën as gevolg van die ark van God.” Dawid het toe daarheen gegaan en die ark met groot feestelikheid na die Dawidstad toe geneem.

13 Telkens nadat die draers ses tree gegee het, het hulle gaan stilstaan sodat Dawid ’n bul en ’n vetgemaakte kalf kon offer.

14 Dawid het met volle oorgawe voor die Here gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het.

15 So het Dawid en die hele Israel die ark van die Here met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring.

Mikal vaar teen Dawid uit

16 Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here het sy hom in haar hart verafsku.

17 Hulle het die ark van die Here neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer.

18 Toe hy daarmee klaar was, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here, die Almagtige.

19 Daarna het hy aan die hele volk, vir elke man en vrou in Israel, ’n ringbrood, ’n dadelkoek en ’n bietjie rosyntjies gegee. Almal het toe huis toe gegaan.

20 Dawid het by sy huis gekom om sy gesin te seën. Maar Mikal, Saul se dogter, kom hom tegemoet en sê sarkasties: “Hoe eerbiedwaardig het die koning van Israel vandag opgetree! Hy het homself voor die slavinne ontbloot en soos ’n skaamtelose mens gedra!”

21 Dawid het teruggekap: “Ja, ek het gedans voor die Here wat my bo jou pa en sy familie verkies het! Hy het my aangewys as heerser oor Israel, die volk van die Here.

22 En ek sal myself selfs nog meer verneder: Ek sal myself volgens jou siening nog geringer ag en steeds geëer word deur die slavinne van wie jy praat!”

23 Mikal het haar lewe lank kinderloos gebly.

2 SAMUEL 7

Die Here se belofte aan Dawid

1 Toe Dawid in sy paleis gevestig was en die Here hom rus gegee het van al sy vyande om hom,

2 het Dawid die profeet Natan ontbied. “Kyk!” sê Dawid. “Hier woon ek in ’n pragtige paleis van sederhout, maar die ark van God staan in ’n tent!”

3 Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus wat u in gedagte het, want die Here is met u.”

4 Maar daardie selfde nag het die Here vir Natan gesê:

5 “Gaan sê vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon?

6 Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het.

7 Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’

8 “Gaan en sê nou vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die Here, die Almagtige, sê: Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape weggevat om oor my volk Israel te kom heers.

9 Ek was by jou oral waar jy gegaan het en Ek het al jou vyande vernietig. Ek het jou naam beroemd maak oor die hele aarde.

10 Ek het my volk Israel ’n vaste woonplek gegee, en hulle daar gevestig. Dit is ’n veilige plek waar hulle nie weer gesteur sal word nie. Bose mense sal hulle nie onderdruk soos in die verlede,

11 in die tyd toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te heers nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande.

“‘Nou verklaar die Here dat Hy vir jou ’n koningshuis sal bou.

12 Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan.

13 Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd.

14 Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels.

15 Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie.

16 Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’”

17 Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en hom alles vertel wat die Here gesê het.

Dawid se dankgebed

18 Toe het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige Here, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het?

19 En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige Here, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige Here!

20 Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige Here.

21 Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak.

22 “Daarom is U groot, oppermagtige Here! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie.

23 En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het.

24 U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, Here, het hulle God geword.

25 En nou, Here God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd

26 sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan.

27 “Here, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou!

28 Nou, oppermagtige Here, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe.

29 Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige Here, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”

2 SAMUEL 8

Dawid se militêre suksesse

1 Hierna het Dawid die Filistyne gaan verslaan. Hy het hulle verneder en die mag van die Filistyne gebreek.

2 Dawid het ook die land van Moab onderwerp. Hy het die mense langs mekaar in ’n ry op die grond laat lê en hulle met ’n tou in groepe afgemeet. Hy het twee lengtes gemeet om tereggestel te word en een om gespaar te word. Die Moabiete het aan Dawid onderhorig geword en aan hom belasting betaal.

3 Dawid het ook die magte van Hadad-Eser, seun van Regob, die koning van Soba, verslaan toe hy uitgetrek het om sy mag by die Eufraatrivier te versterk.

4 Dawid het 1 700 oorlogsperde en 20 000 voetsoldate van hom gevang. Hy het 100 perde vir homself gehou en die ander se hakskeensenings afgesny.

5 Die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadad-Eser, koning van Soba te help, maar Dawid het 22 000 van hulle doodgemaak.

6 Daarna het hy verskeie verdedigingsposte in Damaskus, die hoofstad van Aram, opgerig. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en belasting betaal. Oral waar hy gegaan het, het die Here vir Dawid die oorwinning laat behaal.

7 Dawid het die goue skilde van Hadad-Eser se offisiere afgeneem en dit na Jerusalem toe gebring.

8 Hy het ook ’n groot klomp brons uit Tebag en Berotai, stede van Hadad-Eser, saamgebring.

9 Toe Koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die leër van Hadad-Eser verwoes het,

10 stuur hy sy seun Joram om groete aan Dawid te bring. Hy het hom ook gelukgewens met sy oorwinning oor Hadad-Eser, want Hadad-Eser het dikwels teen Toï geveg. Joram het baie geskenke van silwer, goud en brons aan Dawid gegee.

11 Dawid het al hierdie geskenke aan die Here gewy, asook die silwer en goud wat hy gebuit het by al die nasies wat hy onderwerp het.

12 Dit was Aram, Moab, Ammon, die Filistyne en Amalek, asook van die buit van Hadad-Eser seun van Regob, koning van Soba.

13 Na sy oorwinning oor Aram, het Dawid vir hom naam gemaak toe hy 18 000 Edomiete in die Soutvlakte verslaan het.

14 Hy het oral in Edom garnisoene geplaas sodat die hele Edom Dawid se onderdane geword het. Oral waar Dawid gegaan het, het die Here hom die oorwinning gegee.

15 Dawid het oor die hele Israel regeer en was regverdig en billik teenoor almal.

16 Joab seun van Seruja was die bevelvoerder van die leër. Josafat seun van Agilud was die skrywer.

17 Sadok seun van Agitub en Agimelek seun van Abjatar was die priesters. Seraja was staatsekretaris.

18 Benaja seun van Jojada was hoof oor die koning se Filistynse lyfwag. Dawid se seuns het as priesters opgetree.

2 SAMUEL 9

Dawid doen goed aan Mefiboset

1 Op ’n dag het Dawid gevra: “Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan.”

2 Saul se hofhouding het ’n bestuurder gehad met die naam Siba. Hulle het hom na Dawid toe geroep. “Is jy Siba?” vra die koning.

“Ja, my heer, ek is,” antwoord Siba.

3 Die koning vra hom toe: “Is daar iemand uit Saul se huis wat nog lewe? Ek wil graag ’n besondere guns aan hom bewys.”

Siba het geantwoord: “Ja, een van Jonatan se seuns lewe nog, maar hy is kreupel.”

4 “Waar is hy?” vra die koning.

“In Lo-Dabar,” antwoord Siba, “in die huis van Makir seun van Ammiël.”

5 Koning Dawid het Jonatan se seun toe uit Makir se huis laat haal.

6 Sy naam was Mefiboset. Hy was Jonatan se seun en Saul se kleinseun. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gegaan en laag gebuig.

“Mefiboset?” het Dawid gevra.

“Ja, dis ek, u dienaar,” het hy geantwoord.

7 Dawid sê vir hom: “Moenie bang wees nie! Ek sal na jou omsien ter wille van jou pa, Jonatan. Ek gee al die grond wat voorheen aan jou oupa Saul behoort het aan jou terug. Maar jy sal van nou af hier in my paleis eet.”

8 Mefiboset het voor die koning gebuig. “Wie is u dienaar tog dat u so goed is vir ’n dooie hond soos ek?” het hy uitgeroep.

9 Toe het die koning vir Siba, Saul se bestuurder, beveel: “Alles wat aan Saul en sy familie behoort het, gee ek nou aan sy kleinseun.

10 Jy en jou seuns en jou slawe moet die landerye bewerk om kos te verskaf vir sy gesin. Mefiboset self sal egter hier in my paleis kom eet.”

Siba, wat vyftien seuns en twintig slawe gehad het,

11 het geantwoord: “U dienaar sal doen soos u my beveel het.” Van daardie dag af het Mefiboset gereeld aan Dawid se tafel geëet asof hy een van Dawid se eie seuns was.

12 Mefiboset het ’n seuntjie met die naam Miga gehad. Van toe af was die hele huishouding van Siba dienaars van Mefiboset.

13 Mefiboset self het egter in Jerusalem gebly omdat hy in die paleis geëet het. Al twee sy voete was verlam.

2 SAMUEL 10

Dawid verslaan die Ammoniete

1 ’n Tyd hierna het koning Nagas van die Ammoniete gesterf en sy seun Ganun het hom opgevolg.

2 Dawid het gedink: “Ek sal ’n goeie verhouding met Ganun handhaaf ter wille van sy pa Nagas. Hy was altyd lojaal aan my.” Dawid stuur toe gesante om sy medelye oor sy pa se dood aan Ganun oor te dra.

Maar toe Dawid se gesante in die land Ammon aankom,

3 sê die leiers van die Ammoniete vir hulle koning Ganun: “Dink u werklik hierdie manne het gekom om u vader te eer? Nee! Dawid het hulle gestuur om op die stad te spioeneer sodat hulle kan kom en dit verower!”

4 Ganun gryp toe Dawid se gesante, skeer die helfte van hulle baarde af, sny hulle klere onderkant die heupe af en stuur hulle terug.

5 Toe Dawid dit hoor, stuur hy boodskappers na die manne toe om hulle te gaan ontmoet, want hulle het baie vernederd gevoel. Hy het hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer gegroei het. Dan kan julle terugkom huis toe.”

6 Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid beledig het. Hulle stuur toe gesante en huur 20 000 voetsoldate by die Arameërs uit Bet-Regob en Soba, asook 1 000 by die koning van Maäka, en 12 000 uit die land Is-Tob.

7 Toe Dawid dit hoor, stuur hy Joab en die hele leër van Israel, almal dapper manne.

8 Die Ammoniete het hulle gevegslinie voor die stadspoort opgestel, terwyl die Arameërs van Soba en Regob, en die manskappe van Is-Tob en Maäka in die oop veld stelling ingeneem het.

9 Toe Joab sien dat hy aan twee fronte sou moes veg, kies hy van die beste soldate in sy leër en voer hulle aan teen die Arameërs.

10 Die res van die leër plaas hy onder bevel van sy broer Abisai teenoor die Ammoniete.

11 “As die Arameërs die oorhand oor my kry, moet jy oorkom en my kom help,” sê Joab vir sy broer. “As die Ammoniete jou oorweldig, sal ek oorkom om jou te help.

12 Hou goeie moed! Laat ons dapper veg ter wille van ons volk en die stede van ons God. Mag die wil van die Here geskied!”

13 Joab en sy leër het aangeval, maar die Arameërs het gevlug.

14 Toe die Ammoniete sien dat die Arameërs op die vlug geslaan het, het hulle ook vir Abisai gevlug en in die stad gaan skuil. Hierna het Joab na Jerusalem toe teruggegaan.

15 Die Arameërs het nou besef dat hulle nie teen die Israeliete opgewasse was nie. Hulle het bondgenootskappe gesluit

16 en Hadad-Eser het nog Aramese troepe van die oorkant van die Eufraatrivier af ontbied. Hierdie manskappe het onder die bevel van Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, in Gelam aangekom.

17 Toe Dawid hoor wat aan die gang was, het hy die hele Israel opgeroep, die Jordaan oorgesteek en die leër na Gelam gelei. Die Arameërs het stelling ingeneem en Dawid aangeval.

18 Weereens het die Arameërs voor die Israeliete gevlug. Hierdie keer het Dawid se magte 700 soldate op strydwaens en 40 000 perderuiters doodgemaak. Hy het ook Sobak, die bevelvoerder van die leër, gewond sodat hy gesneuwel het.

19 Toe Hadad-Eser en sy Aramese bondgenote besef dat Israel hulle verslaan het, het hulle vrede gesluit en aan Israel onderhorig geword. Daarna was die Arameërs bang om weer die Ammoniete te help.