2 KRONIEKE 31

Hiskia se godsdienstige

hervormings

1 Toe die feesvierings verby was, het die Israeliete wat dit bygewoon het na die verskillende dorpe in Juda, Benjamin, Efraim en Manasse gegaan. Hulle het die heilige pilare stukkend geslaan, die Asjerapale afgekap en die heidense heiligdomme en altare verwyder. Daarna het die Israeliete na hulle wonings in hulle eie dorpe teruggegaan.

2 Hiskia het die priesters en Leviete in afdelings ingedeel, elkeen volgens die aard van sy werk as priester en Leviet. Hulle moes sorg vir die brandoffers en maaltydoffers, die kultiese diens verrig, en sorg vir danksegging en lofprysing in die poorte van die Here se tempel.

3 Die koning het ook persoonlik bygedra tot die daaglikse brandoffer, die oggend- en aandoffers, en ook vir die weeklikse Sabbatfeeste en maandelikse Nuwemaanfeeste en vir die ander jaarlikse feeste soos vereis in die voorskrifte van die Here.

4 Daarby het hy bepaal dat die volk in Jerusalem die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en Leviete moes bring sodat hulle hulleself kon toewy aan die gebooie van die Here.

5 Soos die bevel bekend geword het, het die Israeliete van die eerste opbrengste gebring. Dit was koring, nuwe wyn, olie, heuning en al die produkte van hulle landerye. Hulle het baie goed, die tiende van alles, gebring.

6 Die Israeliete wat uit Israel na Juda toe verhuis het, het ’n tiende van hulle groot- en kleinvee en van die heilige dinge toegewy aan die Here hulle God, en dit in hope opgestapel.

7 Hulle het in die derde maand hiermee begin en in die sewende maand is dit voltooi.

8 Toe Hiskia en sy amptenare hierdie hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel gedank.

9 “Waar kom dit alles vandaan?” het Hiskia vir die priesters en Leviete gevra.

10 Asarja, die hoëpriester uit die stam van Sadok, het geantwoord: “Vandat die gawes na die tempel van Here gebring word, het ons genoeg om te eet en ons hou selfs daarvan oor. Die Here het sy volk geseën; daarom is daar so baie goed oor.”

11 Hiskia het gereël dat daar voorraadkamers in die tempel van die Here ingerig moes word. Dit is gedoen.

12 Al die gawes en tiendes is toe getrou na die tempel toe gebring. Kenanja die Leviet moes daaroor toesig hou en is bygestaan deur sy broer Simi.

13 Die toesighouers onder hulle was Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. Koning Hiskia en Asarja, die amptenaar in bevel van die tempel van God, het hierdie reëlings getref.

14 Kore, seun van Jimla die Leviet, was die poortwagter by die Oospoort. Hy moes toesig hou oor die vrywillige gawes aan God, oor die uitdeling van die offergawes van die Here, asook die besondere gewyde gawes.

15 Sy getroue helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle moes die gawes onder die priesters in hulle dorpe volgens hulle afdelings uitdeel aan groot en klein.

16 Hulle het ook die gawes uitgedeel aan alle manlike persone van drie jaar en ouer wat in die register opgeteken is en in die toekoms daaglikse diens in die tempel van die Here sou verrig. Dit sou volgens hulle verantwoordelikhede en indeling plaasvind.

17 Hulle het ook uitgedeel aan die priesters wat in die register volgens families opgeneem is, en aan die Leviete van twintig jaar en ouer volgens hulle take en afdelings.

18 Dit het ook babatjies, vroue, seuns en dogters van die hele tempelgemeenskap ingesluit, want hulle het hulleself getrou gereinig.

19 Ook die priesters, nasate van Aäron, wat op die velde rondom die dorpe gebly het, is nie misgekyk nie. Persone is volgens naam aangesê om aan elke manlike persoon van die priesterfamilies en die Leviete wat in die register opgeneem is, hulle deel te laat kry.

20 Op hierdie manier het koning Hiskia oral in Juda gedoen wat goed en reg was vir die Here sy God.

21 In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die diens in die tempel van God, en sy gehoorsaamheid aan die gebooie en bevele, het Hiskia met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol.

2 KRONIEKE 32

Assirië val Juda binne

1 Nadat Hiskia getrou sy werk gedoen het, het koning Sanherib van Assirië Juda binnegeval. Hy het die versterkte stede beleër en beveel dat die mure afgebreek moes word.

2 Toe Hiskia besef dat Sanherib ook van plan was om Jerusalem aan te val,

3 het hy met sy amptenare en militêre raadslede besluit om die watertoevoer uit die fonteine buite die stad af te sny. Hulle het hom hierin ondersteun.

4 ’n Groot klomp mense het bymekaargekom en die watertoevoer uit die spruite toegestop wat deur die veld geloop het. Hulle het gesê: “Hoekom moet die Assiriërs hier kom en baie water kry?”

5 Daarna het Hiskia sy verdediging versterk deur al die mure te herstel en torings bo-op te bou. Verder het hy ’n tweede muur buite om gebou, die terras by die Dawidstad versterk en ’n groot hoeveelheid wapens en skilde gemaak.

6 Hy het ook militêre offisiere oor die volksleër aangestel en hulle beveel om voor hom op die plein by die stadspoort te vergader. Daar het hy hulle bemoedig en gesê:

7 “Wees sterk en vol moed. Moenie bang wees vir die koning van Assirië of sy magtige leër nie, want daar is ’n baie groter mag aan ons kant!

8 Hy het dalk ’n groot leër, maar hulle is maar net mense. Die Here ons God is by ons en Hy sal ons oorloë vir ons veg!” Hierdie woorde van koning Hiskia van Juda het die volk baie bemoedig.

Sanherib dreig Jerusalem

9 Koning Sanherib was besig om die stad Lakis te beleër en het amptenare na Jerusalem toe gestuur met die volgende boodskap vir koning Hiskia van Juda en die hele volk in die stad:

10 “Dit is wat koning Sanherib van Assirië sê: Waarop vertrou julle om te dink dat julle my beleëring van Jerusalem sal oorleef?

11 Hiskia het gesê: ‘Die Here ons God sal ons red uit die mag van die koning van Assirië.’ Dis duidelik dat Hiskia julle mislei sodat julle van honger en dors sal sterf!

12 Julle weet mos dat dit juis Hiskia was wat al die heiligdomme en altare van die Here verwoes het. Hy het Juda en Jerusalem beveel om net by die een altaar by die tempel te aanbid en om net daar alleen te offer.

13 “Julle weet mos wat ek en die ander konings van Assirië voor my aan al die volke op die aarde gedoen het! Was enige van die gode van daardie nasies in staat om hulle land uit my krag te red?

14 Watter gode van die nasies waarteen my voorgangers geveg het, was in staat was om sy mense uit my mag te red? Sal julle God julle dan uit my mag red?

15 Moenie dat Hiskia julle vir die gek hou nie! Moenie toelaat dat hy julle so mislei nie! Moenie hom glo nie. Ek herhaal: Geen god van enige nasie of koninkryk was ooit in staat om sy mense uit my mag of enige van my voorgeslag te verlos nie. Hoeveel minder is die kans dat julle God julle uit my mag sal red!”

16 Sanherib se boodskappers het die Here God en sy dienaar Hiskia nog meer gespot met belediging op belediging.

17 Die koning het ook briewe gestuur waarin hy die Here die God van Israel geminag het. Hy het geskryf:

Net soos die gode van al die ander nasies nie hulle mense uit my mag kon red nie, so sal die God van Hiskia ook misluk.

18 Die Assiriërs wat die briewe gebring het, het dit in die Judese dialek geskree aan die volk wat op die mure van die stad versamel het. Daarmee wou hulle die mense op die mure van die stad bangmaak sodat hulle die stad makliker kon inneem.

19 Hierdie boodskappers het oor die God van Jerusalem gepraat asof Hy een van die heidense gode is wat deur mense gemaak is.

20 Toe het koning Hiskia en die profeet Jesaja seun van Amos gebid en na die hemel geroep.

21 Die Here stuur toe ’n engel wat die Assiriese leër met al die bevelhebbers en offisiere vernietig het. Sanherib het in skande na sy eie land toe teruggegaan. Toe hy die tempel van sy god binnegegaan het, het sommige van sy eie seuns hom net daar met ’n swaard doodgemaak.

22 Dit is hoe die Here Hiskia en die inwoners van Jerusalem gered het uit die mag van koning Sanherib van Assirië en van almal wat hom bedreig het. Daar was uiteindelik vrede in die hele land.

23 Baie mense het vir die Here in Jerusalem offers gebring en ook waardevolle geskenke vir koning Hiskia. Van toe af het sy aansien onder die omliggende volke toegeneem.

Die siekte en herstel van Hiskia

24 Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword. Hy het tot die Here gebid, en God het hom gesond gemaak en ’n wonderteken gegee.

25 Maar Hiskia het nie toepaslik geantwoord op die goedheid wat aan hom bewys is nie en het trots geword. Daarom het die toorn van die Here hom, Juda en Jerusalem getref.

26 Toe het Hiskia berou gehad oor sy trots en so ook die inwoners van Jerusalem. Die Here se toorn het toe nie tydens Hiskia se regering oor hulle gekom nie.

27 Hiskia was baie ryk en hoog in aansien. Hy moes addisionele skatkamers bou vir al sy silwer, goud, waardevolle stene, speserye en skilde, asook verskeie ander waardevolle items.

28 Hy het ook baie stoorkamers vir sy graan, nuwe wyn en olyfolie gebou en ook baie stalle vir sy beeste, en krale vir sy troppe skape en bokke gemaak.

29 Daarby het hy baie dorpe gebou en groot troppe kleinvee en grootvee gehad, want God het hom baie rykdom gegee.

30 Hy het die boonste uitloop van die Gihonfontein afgesny en die water gelei deur ’n tonnel na die westekant van die Dawidstad. Hy was suksesvol in alles wat hy gedoen het.

31 Maar toe die gesante van Babilonië kom om navraag te doen na die merkwaardige gebeurtenisse wat in die land gebeur het, het God Hom van Hiskia onttrek om hom te toets sodat hy self kon weet wat regtig in sy hart was.

Samevatting van Hiskia se

regering

32 Die ander gebeurtenisse tydens die regering van Hiskia en sy dade van toewyding is opgeteken inDie visioen van die profeet Jesaja seun van Amos,wat deel vorm vanDie boek van die konings van Juda en Israel.

33 Toe Hiskia sterf, is hy begrawe in die boonste deel van die koninklike begraafplaas. Met sy dood het die hele Juda en Jerusalem hom eer bewys. Sy seun Manasse het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 33

Manasse regeer in Juda

1 Manasse was twaalf jaar oud toe hy koning geword het en hy het 55 jaar in Jerusalem regeer.

2 Hy het gedoen wat vir die Here verkeerd was deur die afskuwelike praktyke van die heidense nasies na te volg. Die Here het hulle voor die Israeliete uit die land verdryf.

3 Hy het die heidense heiligdomme herbou wat sy pa Hiskia vernietig het. Hy het altare vir die Baälbeelde gebou en Asjerapale opgerig. Hy het ook voor al die hemelliggame gebuig en hulle aanbid.

4 Hy het selfs heidense altare gebou in die tempel van die Here, die plek waarvan die Here gesê het dat sy Naam altyd daar in Jerusalem sou wees.

5 Hy het altare vir die hemelliggame in elkeen van die twee voorhowe van die Here se tempel gebou.

6 Manasse het selfs sy eie seuns in die Ben-Hinnomdal deur vuur laat gaan. Hy het goëlery, waarsêery en towery beoefen, en mediums en spiritiste geraadpleeg. Hy het baie gruwelike dade voor die Here gedoen en so sy toorn opgewek.

7 Manasse het ’n afgodsbeeld opgerig in die tempel van die Here, die plek waarvan God vir Dawid en sy seun Salomo gesê het: “My Naam sal vir altyd vereer word in hierdie tempel en in Jerusalem, die stad wat Ek onder al die ander stamme van Israel gekies het.

8 As die Israeliete my gebooie, al my riglyne, opdragte en bepalings gehoorsaam wat aan Moses gegee is, sal Ek hulle nie in ballingskap stuur uit hierdie land wat Ek aan hulle voorouers gegee het nie.”

9 Maar Manasse het Juda en die inwoners van Jerusalem laat dwaal sodat hulle selfs meer boosheid gepleeg het as die heidense nasies wat die Here uitgeroei het toe die Israeliete in die land aangekom het.

10 Die Here het met Manasse en sy volk gepraat, maar hulle het al sy waarskuwings geïgnoreer.

11 Daarom het die Here die Assiriese leërs teen hulle gestuur en hulle het Manasse gevange geneem. Hulle het ’n ring deur sy neus gesit, hom met bronskettings vasgemaak en na Babel toe gevat.

12 Terwyl hy in die diepste nood was, het Manasse die Here sy God om genade gevra en hom voor die God van sy voorouers verootmoedig.

13 Toe hy bid, het die Here na hom geluister en sy gebed verhoor en hom laat terugkeer na Jerusalem en sy koninkryk. Manasse het uiteindelik besef dat net die Here God is.

14 Hierna het Manasse die buitemure van die Dawidstad herbou wes van die Gihonfontein in die vallei tot by die Vispoort en om die Ofelheuwel. Hy het die muur baie hoër gemaak en bevelvoerders in al die versterkte stede van Juda aangestel.

15 Hy het die vreemde gode en afgodsbeeld uit die tempel van die Here verwyder en buite die stad weggegooi. Hy het dieselfde gedoen met al die altare wat hy op die tempelberg en in Jerusalem gebou het.

16 Daarna het hy die altaar van die Here herstel en die maaltyd- en dankoffers daarop gebring. Hy het die inwoners van Juda beveel om die Here die God van Israel te dien.

17 Die volk het nog steeds by die heidense heiligdomme geoffer, maar net aan die Here hulle God.

18 Die ander gebeurtenisse tydens Manasse se regering, sy gebed tot God en die woorde wat sieners in die Naam van die Here die God van Israel vir hom gebring het, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel.

19 Manasse se gebed en hoe sy pleidooi die Here ontroer het, al sy sondes en ontrouheid, die plekke waar hy die heidense heiligdomme, Asjerapale en afgodsbeelde opgerig het voordat hy berou gehad het, is opgeteken inDie annale van die sieners.

20 Toe Manasse sterf, is hy begrawe by sy paleis. Sy seun Amon het hom opgevolg.

Amon regeer in Juda

21 Amon was 22 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee jaar in Jerusalem regeer.

22 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos sy pa Manasse gedoen het. Vir al die beelde wat sy pa gemaak het, het hy offers gebring en hulle gedien.

23 Hy het egter nie homself voor die Here verootmoedig soos sy pa gedoen het nie. Trouens, Amon het nog meer gesondig.

24 Amon se eie beamptes het teen hom saamgesweer en hulle het hom in sy paleis vermoor.

25 Maar die burgers van die land het almal doodgemaak wat teen koning Amon saamgesweer het. Hulle het sy seun Josia in sy plek as koning aangestel.

2 KRONIEKE 34

Josia regeer in Juda

1 Josia was agt jaar oud toe hy koning geword het en hy het 31 jaar in Jerusalem regeer.

2 Hy het gedoen wat reg was vir die Here en die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg en nie links of regs daarvan afgewyk nie.

3 Gedurende die agtste jaar van sy regering, toe hy nog jonk was, het Josia begin om die God van sy voorvader Dawid te dien. In sy twaalfde jaar het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig deur al die heidense heiligdomme, die Asjerapale en die gesnede en gegote beelde te vernietig.

4 Hy het toegesien dat die altare vir die Baälbeelde afgebreek en hulle wierookaltare vernietig word. Hy het ook die Asjerapale, en die gesnede en die gegote beelde stukkend geslaan en fyngemaal. Dit is oor die grafte gestrooi van dié wat hulle aanbid het.

5 Daarna het hy die bene van die afgodspriesters op hulle eie altare verbrand. So het hy Juda en Jerusalem gereinig.

6 Hy het dieselfde gedoen in die dorpe van Manasse, Efraim en Simeon, en selfs so ver as Naftali, en ook die ruïnes in die omgewing.

7 Hy het heidense altare en die Asjerapilare vernietig en die afgodsbeelde tot stof fyngemaal. Hy het die wierookaltare dwarsdeur die land van Israel afgebreek en toe na Jerusalem teruggekeer.

8 In die agtiende jaar van sy regering, nadat hy die land en die tempel gereinig het, het Josia vir Safan, seun van Asalja, Maäseja, die goewerneur van Jerusalem, en Joag seun van Joahas die koninklike geskiedskrywer, gestuur om die tempel van die Here sy God te herstel.

9 Hulle het die geld wat die Levitiese poortwagters vir die tempel van God ingesamel het, aan Gilkija, die hoëpriester, gegee. Die gawes vir die tempel het gekom uit Manasse, Efraim, die hele oorblyfsel van Israel, asook uit Juda en Benjamin en die inwoners van Jerusalem.

10 Hy het die geld toevertrou aan die mense wat aangewys is om oor die herstel van die Here se tempel toesig te hou. Húlle het weer die werkers betaal wat die herstelwerk en opknapping gedoen het.

11 Hulle het ook geld gegee waarmee timmermanne en messelaars gekapte klip vir die mure kon koop, asook timmerhout vir die balke van die geboue. Ook die dele wat vroeëre konings van Juda toegelaat het om te verval, het hulle weer herstel.

12 Die werkers het getrou onder leiding van Jagat en Obadja, Leviete uit die Merarifamiliegroep, en Sagaria en Mesullam uit die Kehatgroep gewerk. Ander Leviete wat bekwaam was om musiekinstrumente te speel,

13 is ook in bevel geplaas van werkers in verskeie ambagte. Nog ander Leviete het as administratiewe amptenare, skrywers en poortwagters opgetree.

Die Boek van die Gebooie

14 Terwyl die geld uitgehaal is wat vir die tempel van die Here versamel is, het Gilkija die priester afgekom op die boek van die gebooie van die Here wat deur Moses gegee is.

15 Gilkija sê toe vir Safan die staatsekretaris: “Ek het die boek van die gebooie in die tempel van die Here gekry!” Gilkija het die boekrol vir Safan gegee.

16 Safan het die boekrol na die koning toe geneem en gesê: “U beamptes is besig om elke ding te doen wat aan hulle opgedra is.

17 Die geld wat by die tempel vir die Here bymekaargemaak is, is aan die toesighouers en die arbeiders gegee.”

18 Safan die staatsekretaris het bygevoeg: “Gilkija die priester het vir my ’n boekrol gegee.” Hy het dit toe vir die koning voorgelees.

19 Toe die koning hoor wat in die gebooie geskryf was, het hy sy klere geskeur

20 en die volgende opdragte aan Gilkija, Agikam seun van Safan, Abdon seun van Miga, Safan die staatsekretaris, en Asaja, die koning se raadgewer, gegee:

21 “Gaan na die tempel toe en praat met die Here namens my en namens die hele oorblyfsel van Israel en Juda. Raadpleeg Hom oor die inhoud van die boekrol wat gekry is. Die Here se toorn is uitgestort oor ons omdat ons voorouers nie gehoorsaam was aan die woord van die Here nie. Ons het nie gedoen soos wat in hierdie rol geskrywe is nie.”

22 Gilkija en die mans wat die koning aangewys het, het na die profetes Gulda gegaan wat in die nuwe deel van Jerusalem gewoon het. Sy was die vrou van Sallum seun van Tikwa, seun van Gasra, die klerebewaarder.

23 Sy sê vir hulle: “Die Here die God van Israel het gepraat. Gaan vertel vir die man wat julle na my toe gestuur het:

24 ‘Dit is wat die Here sê: Ek sal onheil oor hierdie stad en sy inwoners bring. Al die vervloekings waarvan geskryf is in die boekrol wat aan die koning van Juda voorgelees is, sal plaasvind soos daar geskryf staan.

25 Want hulle het My verlaat en heidense gode aanbid sodat hulle My baie kwaad gemaak het vir hulle oor alles wat hulle gedoen het. My toorn sal uitgestort word oor hierdie plek, en niks sal My stuit nie.’

26 “Maar gaan na die koning van Juda wat julle gestuur het om die Here te raadpleeg en sê vir hom: ‘Dit is wat die Here, die God van Israel, sê oor die boodskap wat julle ontvang het.

27 Jy was spyt en het jou verootmoedig deur jou klere te skeur en het in berou voor My gehuil toe jy die woorde oor hierdie plek en sy inwoners gehoor het. Ek het jou gebed verhoor, sê die Here.

28 Ek sal nie die beloofde onheil oor hierdie stad en sy inwoners stuur voor jy gesterf het en in vrede begrawe is nie. Jy sal nie die rampe sien wat Ek oor hierdie plek gaan bring nie.’” Hulle het hierdie boodskap aan die koning gebring.

Josia se godsdienstige

hervormings

29 Die koning het al die leiers van Juda en Jerusalem opgeroep.

30 Hy het opgegaan na die tempel van die Here saam met al die inwoners van Juda en Jerusalem, die priesters en die Leviete, al die mense, groot en klein. Daar het die koning vir hulle die hele boek van die verbond voorgelees wat in die Here se tempel gekry is.

31 Die koning het by die pilaar, sy plek van gesag, gaan staan en die verbond in die teenwoordigheid van die Here hernu. Hy het ’n verbond met die Here gesluit en onderneem om sy opdragte, eise en voorskrifte met hart en siel te gehoorsaam deur die bepalings van die verbond na te kom soos dit in die boekrol geskryf is.

32 Hy het geëis dat elkeen in Jerusalem en Benjamin hulle ook daartoe verbind. Die inwoners van Jerusalem het so gedoen deur hulle verbond met God, die God van hulle voorouers, te hernu.

33 Daarna het Josia al die afskuwelike afgode uit die hele land van Israel verwyder en elkeen wat daar in Jerusalem byeen was, verplig om die Here hulle God te dien. Gedurende die res van sy lewe het hulle nie afgewyk van die eise van die Here die God van hulle voorouers nie.

2 KRONIEKE 35

Josia vier die Paasfees

1 Josia het die Paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslam is op die veertiende dag van die eerste maand geslag.

2 Josia het die priesters se pligte aan hulle toegewys en hulle bemoedig in hulle werk in die tempel van die Here.

3 Hy het die Leviete wat aan die Here gewy was, en wat die hele Israel onderrig het, beveel: “Sit die heilige ark nou in die tempel wat Salomo seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het, dan is dit nie nodig om dit op julle skouers te dra nie. Dien nou die Here julle God en sy volk Israel.

4 Meld aan vir diens volgens die familiegroepe van julle voorouers. Volg die geskrewe voorskrifte van koning Dawid van Israel en die voorskrifte van sy seun Salomo.

5 Gaan staan dan in julle aangewese plekke in die heiligdom. Daar moet vir elke familiegroep van julle volksgenote ’n familie-afdeling Leviete wees.

6 Slag die paaslam, reinig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote. Volg al die voorskrifte wat die Here deur Moses gegee het.”

7 Josia self het 30 000 skaaplammers en boklammers vir die volk se Paasfees gegee en ook nog 3 000 beeste uit die koninklike kudde.

8 Die koning se amptenare het ook vrywillig voorsien vir die volk, die priesters en Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel van God, het vir die priesters 2 600 skaaplammers en boklammers, asook 300 beeste as paasoffers gegee.

9 Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het vir die Leviete 5 000 paasoffers en 500 beeste gegee.

10 Toe alles gereed was vir die Paasfees, het die priesters en Leviete hulle plekke ingeneem. Hulle is ingedeel volgens hulle afdelings soos die koning beveel het.

11 Die Leviete het toe die paaslammers geslag, die bloed aan die priesters gegee, en hulle het die bloed op die altaar gesprinkel terwyl die Leviete die diere voorberei het.

12 Hulle het die brandoffers eenkant gehou om aan die familiegroepe uit te deel sodat hulle dit aan die Here kon offer volgens die voorskrifte in die Boek van Moses. So het hulle ook met die beeste gedoen.

13 Daarna het hulle die paaslammers volgens die voorskrif oor vure gebraai. Die gewyde offers is in potte, kastrolle en skottels gekook en vir die lede van die volk gegee.

14 Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die geslag van Aäron moes die hele dag tot die nag toe brandoffers en die vetdele as offerande verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak.

15 Die musikante, afstammelinge van Asaf, was op die plekke wat vir hulle toegewys is volgens die voorskrifte van Dawid, Asaf, Heman en Jedutun, die koning se siener.

Die poortwagters het die ingange bewaak. Dit was vir hulle nie nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle mede-Leviete het vir hulle kos gebring.

16 Die viering van die Paasfees van die Here is op dié manier daardie dag voltooi. Al die brandoffers is op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het.

17 Al die Israeliete teenwoordig het toe die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier.

18 Sedert die tyd van Samuel die profeet was daar nie weer so ’n groot Paasfees in Israel nie. Nie een van die konings van Israel het ooit so ’n Paasfees gevier soos Josia nie. Al die priesters en Leviete, die hele Juda en Israel en al die inwoners van Jerusalem het daaraan deelgeneem.

19 Hierdie Paasfees is in die agtiende jaar van Josia se regering gevier.

Josia sneuwel in ’n geveg

20 Nadat Josia die tempel herstel het, het koning Neko van Egipte met sy leër uit Egipte opgetrek om by Karkemis aan die Eufraatrivier te veg. Josia het met sy leër teen hom opgetrek.

21 Maar koning Neko het vir hom die volgende boodskap gestuur: “Daar is tog geen geskil tussen ons nie, koning van Juda! Ek wil nie vandag teen jou veg nie, maar net teen die huis met wie ek oorlog voer. God het gesê ek moet gou maak! Moenie inmeng met God wat met my is nie, want Hy sal jou vernietig.”

22 Josia wou egter nie omdraai nie, maar het homself vir die geveg vermom. Hy wou nie luister na die waarskuwing wat Neko op God se bevel gegee het nie. In die vlakte van Megiddo het hy die geveg begin.

23 Maar die vyandige boogskutters het koning Josia raakgeskiet. Hy roep toe sy lyfwagte: “Neem my weg uit die geveg, want ek is swaar gewond!”

24 Hulle het hom uit sy strydwa gehaal, in ’n ander strydwa gesit en hom teruggebring na Jerusalem toe. Daar het hy gesterf. Hy is in die familiegraf begrawe. Die hele Juda en Jerusalem het oor hom getreur.

25 Die profeet Jeremia het treurliedere oor Josia geskryf. Al die sangers en sangeresse het treurliedere oor Josia gesing. Tot vandag toe word die treurliedere nog gesing. Dit het ’n gebruik geword in Israel en is opgeteken inDie boek van treurliedere.

26 Die ander gebeurtenisse tydens Josia se regering en sy dade van getrouheid aan die voorskrifte van die Here,

27 van begin tot einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel en Juda.

2 KRONIEKE 36

Joahas regeer in Juda

1 Die burgers van die land het Josia se seun Joahas in Jerusalem in die plek van sy pa koning gemaak.

2 Joahas was 23 jaar oud toe hy koning geword het, maar hy het net drie maande in Jerusalem regeer.

3 Neko, die koning van Egipte, het koning Joahas in Jerusalem onttroon en die land met ’n halwe ton silwer en 34 kilogram goud beboet.

4 Die koning van Egipte het Eljakim, broer van Joahas, as die nuwe koning van Juda en Jerusalem aangestel. Hy het ook die naam van Eljakim verander na Jojakim. Neko het Joahas as gevangene na Egipte toe geneem.

Jojakim regeer in Juda

5 Jojakim was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het elf jaar in Jerusalem regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God.

6 Koning Nebukadnesar van Babel het na Jerusalem toe gekom en dit ingeneem. Hy het Jojakim met bronskettings geboei en hom na Babel toe geneem.

7 Nebukadnesar het ook van die skatte uit die tempel van die Here gevat en dit in sy paleis in Babel gesit.

8 Die ander gebeurtenisse tydens Jojakim se regering, die afskuwelike dinge wat hy gedoen het en alles wat teen hom gevind is, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel en Juda.Sy seun Jojagin het hom as koning opgevolg.

Jojagin regeer in Juda

9 Jojagin was agtien jaar oud toe hy koning geword het, maar hy het net drie maande en tien dae in Jerusalem regeer. Jojagin het gedoen wat verkeerd was vir die Here.

10 In die lente het koning Nebukadnesar hom laat haal. Hulle het ook baie kosbare voorwerpe uit die tempel van die Here geneem en dit na Babel toe gebring. Hy het Sedekia, die oom van Jojagin, oor Juda en Jerusalem koning gemaak.

Sedekia regeer in Juda

11 Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het elf jaar in Jerusalem regeer.

12 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here sy God en het nie berou gehad toe Jeremia die profeet die woorde van die Here verkondig het nie.

13 Hy het ook teen koning Nebukadnesar in opstand gekom al het hy ’n eed van getrouheid voor God afgelê. Sedekia was hardkoppig en onversetlik en het geweier om terug te draai na die Here die God van Israel.

14 Al die leiers van die priesters en die volk het al meer ontrou geword. Hulle het die heidense praktyke van die omringende nasies gevolg en die tempel van die Here in Jerusalem, wat Hy geheilig het, ontheilig.

15 Die Here die God van hulle voorouers het herhaaldelik sy profete gestuur om hulle te waarsku, want Hy het medelye gehad met sy volk en sy woning,

16 maar hulle het met die boodskappers van God gespot, sy woorde geminag en sy profete uitgelag totdat die woede van die Here teen sy volk ontbrand het en daar vir hulle nie meer genesing was nie.

Die val van Jerusalem

17 Die Here het die koning van die Galdeërs teen hulle laat optrek. Hy het hulle jong mans in die heiligdom met die swaard afgemaai, en geen genade aan jong man of jong meisie, bejaardes of verswaktes betoon nie. God het hulle almal in Nebukadnesar se mag oorgegee.

18 Hy het al die voorwerpe in die tempel van God, groot en klein, die skatte van die Here se tempel en die skatte in die koninklike paleis en sy amptenare weggevat na Babel toe.

19 Hulle het die tempel van God aan die brand gesteek, die mure van Jerusalem afgebreek en die paleise verband, en elke ding van waarde vernietig.

20 Almal wat ontkom het aan die swaard, is na Babel toe geneem. Hulle het slawe van die koning en sy seuns geword totdat die Perse die mag oorgeneem het.

21 So is die boodskap van die Here vervul wat deur Jeremia gebring is. Die land het ’n sabbatsrus beleef toe dit 70 jaar lank ontvolk was soos die profeet gesê het.

Kores laat die ballinge

terugkom

22 In die eerste jaar van koning Kores van Persië het die Here die profesie van Jeremia vervul. Hy het koning Kores van Persië aangespoor om ’n proklamasie uit te vaardig, dit skriftelik te doen en deur sy hele koninkryk te stuur. Dit het soos volg gelui:

23 Dit is wat koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het al die koninkryke op die aarde aan my gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. Elkeen van julle wat deel is van sy volk, mag teruggaan. Mag die Here met hom wees.