2 KRONIEKE 21

Joram se bewind in Juda

1 Toe Josafat sterf, is hy in die Dawidstad by sy voorouers begrawe. Sy seun Joram het hom opgevolg.

2 Joram se broers, seuns van koning Josafat van Juda, was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja.

3 Hulle pa het waardevolle geskenke van silwer en goud, kosbare voorwerpe en ook versterkte stede in Juda aan elkeen van hulle gegee. Hy het die koningskap aan Joram gegee, want hy was die oudste.

4 Nadat Joram as koning gevestig was, het hy al sy broers en sommige van die ander leiers van Israel doodgemaak.

5 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het en hy het agt jaar lank in Jerusalem regeer.

6 Maar Joram het die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en was net so goddeloos soos koning Agab, want hy was met een van Agab se dogters getroud. Hy het gedoen wat baie verkeerd was vir die Here.

7 Maar die Here wou nie Dawid se koningshuis vernietig nie. Hy het immers ’n verbond met Dawid gesluit en belowe dat sy nageslag vir altyd op sy troon sou sit.

8 Gedurende Joram se regering het die Edomiete teen Juda in opstand gekom en vir hulleself ’n koning gekroon.

9 Joram het Edom met sy volle leër en al sy strydwaens aangeval. Die Edomiete het hom en sy strydwa-offisiere omsingel, maar hy kon gedurende die nag ontsnap.

10 Tot vandag toe is Edom onafhanklik. Die dorp Libna het in hierdie tyd in opstand gekom teen die gesag van Joram. Dit was omdat hy die Here die God van sy voorouers verlaat het.

11 Hy het ook heidense hoogtes in die berge van Juda gebou, die inwoners van Jerusalem tot ontrouheid verlei en Juda op die verkeerde pad laat loop.

12 Elia die profeet het toe die volgende brief aan Joram gestuur:

Dit is wat die Here, die God van jou voorvader Dawid, sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa Josafat of jou oupa, koning Asa van Juda, gevolg nie.

13 Jy het net so goddeloos geword soos die konings van Israel. Jy het die inwoners van Jerusalem en Juda tot ontrouheid verlei, net soos koning Agab in Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers, lede van jou vader se familie, manne wat beter was as jy, doodgemaak.

14 Nou is die Here op die punt om jou en jou volk, jou kinders en jou vroue met ’n swaar slag te tref.

15 Jy sal getref word deur ’n ernstige siekte op te doen, ’n siekte wat jou inwendig sal aantas sodat jou ingewande sal uitkom.

16 Die Here het toe die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete gewoon het, aangehits om Joram aan te val.

17 Hulle het teen Juda opgetrek, sy versterkings afgebreek, en alles wat van waarde is in die koninklike paleis, insluitend sy seuns en vroue, weggevoer. Net sy jongste seun Ahasia is gespaar.

18 Hierna het die Here Joram met ’n ongeneeslike siekte van die ingewande getref.

19 Na die verloop van twee jaar het die siekte veroorsaak dat sy ingewande uitgekom het en hy ’n pynlike dood gesterf het. Sy volk het nie vir hom ’n vuur aangesteek soos hulle vir sy voorvaders gedoen het nie.

20 Joram was 32 jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar in Jerusalem geheers. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.

2 KRONIEKE 22

Ahasia regeer in Juda

1 Die inwoners van Jerusalem het toe Ahasia, die jongste seun van Joram, tot koning gekroon. Die plunderende bende Arabiere het al die ouer seuns doodgemaak. Ahasia, die jongste seun van Joram, het as koning oor Juda regeer.

2 Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van Omri.

3 Ahasia het ook die goddelose voorbeeld van die koningshuis van Agab gevolg, want sy ma het hom aangemoedig om verkeerde dinge te doen.

4 Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos die koningshuis van Agab gedoen het. Na die dood van sy pa het Agab se familie sy raadgewers geword. Hulle het hom tot ondergang gelei.

5 Onder invloed van hulle raad het koning Ahasia ’n verdrag met koning Joram, seun van Agab van Israel, gesluit. Hulle het uitgetrek teen koning Gasael van Aram in Ramot-Gilead, maar die Arameërs het Joram in die geveg gewond.

6 Joram het na Jisreël teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael, die koning van Aram, te Rama. Koning Ahasia van Juda het ook na Jisreël gegaan om hom te besoek.

7 Dit was ’n fout, want die Here het besluit om Ahasia te straf. Ahasia en Joram het Jehu seun van Nimsi tegemoetgegaan. Die Here het bepaal dat Jehu die koningshuis van Agab tot niet moes maak.

8 Terwyl Jehu besig was om oordeel oor Agab se koningshuis te voltrek, het hy afgekom op leiers van Juda en die seuns van Ahasia se bloedverwante wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle doodgemaak.

9 Jehu het Ahasia laat soek en hom gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hy het hom ook doodgemaak.

Ahasia het ’n behoorlike begrafnis gekry, want daar is gesê: “Hy was die kleinkind van Josafat, ’n man wat die Here met sy hele hart gedien het.” Daar was geen oorlewende lid van Ahasia se familie wat in staat was om die koninkryk te regeer nie.

Atalia regeer in Juda

10 Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy die res van Juda se koningshuis uitgeroei.

11 Maar Jehoseba die dogter van koning Joram, het Ahasia se klein seuntjie Joas stilletjies weggevat tussen die ander seuns wat doodgemaak sou word. Sy het Joas en sy oppasser in ’n slaapkamer weggesteek. Jehoseba was die dogter van koning Joram en was getroud met Jojada die priester, en was die suster van Ahasia. Sy het die kind weggesteek sodat Atalia hom nie kon doodmaak nie.

12 Joas is ses jaar lank in die tempel van God weggesteek terwyl Atalia oor die land regeer het.

2 KRONIEKE 23

Opstand teen Atalia

1 In die sewende jaar van Atalia se regering het Jojada die priester besluit om op te tree. Hy het moed geskep en ’n ooreenkoms met vyf leërowerstes aangegaan: Asarja seun van Jerogam, Ismael seun van Joganan, Asarja seun van Obed, Maäseja seun van Adaja en Elisafat seun van Sikri.

2 Hierdie manne het deur die hele Juda gegaan en die Leviete en familiehoofde in die dorpe bymekaargemaak. Hulle het opdrag gekry om na Jerusalem toe te kom.

3 Hulle het almal by die tempel van God bymekaargekom en ’n verbond met Joas, die jong koning, gesluit.

Jojada het vir hulle gesê: “Die tyd het aangebreek dat die koning se seun moet regeer! Die Here het belowe dat ’n afstammeling van Dawid ons koning sou wees.

4 Julle moet soos volg optree: Wanneer die priesters en die Leviete op die Sabbat aan diens kom, moet een derde van hulle as deurwagte dien.

5 Nog een derde moet na die koninklike paleis gaan en die oorblywende derde na die Fondamentpoort. Almal wat oor is, moet in die voorhof van die Here se tempel bly.

6 Onthou dat net die priesters en Leviete aan diens die tempel van die Here mag binnegaan, want hulle is daarvoor afgesonder. Die res van die mense moet die Here se voorskrifte gehoorsaam en buite bly.

7 Leviete, julle vorm die lyfwag van die koning. Hou julle wapens gereed. Enige ongemagtigde persoon wat die tempel binnegaan, moet doodgemaak word. Bly die hele tyd by die koning.”

8 Die Leviete en die hele Juda het presies so gedoen soos Jojada die priester beveel het. Elke bevelvoerder het sy manskappe geneem, dié wat op die Sabbat diens moes doen, asook dié wie se verpligtings voltooi was. Jojada die priester het nie toegelaat dat enigiemand huis toe gaan nadat hulle werkskof geëindig het nie.

9 Daarna het Jojada die bevelhebbers oor 100 voorsien van spiese en groot en klein skilde wat voorheen aan koning Dawid behoort het en in die tempel van God bewaar is.

10 Hy het die wagte rondom die koning geplaas, gereed met hulle wapens. Hulle het ’n ry gevorm van die suidekant van die tempel af, om na die noordekant, en rondom die altaar.

11 Toe bring Jojada en sy seuns vir Joas, die koning se seun, en sit die kroon op sy kop. Hulle het ’n afskrif van God se gebooie aan hom gegee en hom tot koning verklaar. Daarna het hulle hom gesalf. Almal het uitgeroep: “Lank lewe die koning!”

Die dood van Atalia

12 Toe Atalia hoor hoe mense hardloop en die koning toejuig, het sy gou na die mense by die tempel van die Here gegaan.

13 Sy het die pasgekroonde koning gesien wat op sy plek van gesag by die pilaar, by die ingang na die tempel gestaan het. Die leiers en trompetblasers was rondom hom, en mense van oral in die land het gejuig en op trompette geblaas. Sangers met musiekinstrumente het die lofliedere gelei. Toe Atalia dit alles sien, het sy haar klere in wanhoop geskeur en geskreeu: “Verraad! Verraad!”

14 Jojada die priester beveel toe die leiers wat in bevel was van die soldate: “Neem haar uit die tempel en maak enigeen met die swaard dood wat probeer om haar te red. Moet haar nie hier in die tempel van die Here doodmaak nie.”

15 Hulle het haar gevang en haar tot buite die Perdepoort by die paleis gevat. Daar het hulle haar doodgemaak.

Jojada se godsdienstige

hervormings

16 Daarna het Jojada ’n verbond gemaak tussen hom, die koning en die volk dat hulle ’n volk sal wees wat die Here dien.

17 Al die mense het na die Baältempel toe gegaan en dit afgebreek. Hulle het die altare vernietig en die afgodsbeelde verpletter. Hulle het ook Mattan, die priester van Baäl, voor die altare doodgemaak.

18 Jojada het die toesig oor die huis van die Here weer aan die Levitiese priesters toevertrou, volgens die voorskrifte van Dawid. Hulle moes ook brandoffers vir die Here bring soos voorgeskryf deur Moses, met gejuig en sang soos Dawid bepaal het.

19 Hy het ook poortwagters by die tempel van die Here aangewys om te sorg dat niemand kon binnegaan wat seremonieel onrein is nie.

20 Toe het die bevelvoerders oor honderd, die hooggeplaastes, die volksleiers en al die burgers van die land die koning begelei uit die tempel van die Here. Hulle het deur die boonste poort na die paleis gegaan en die koning op die koninklike troon laat sit.

21 Al die burgers van die land het gejuig en dit was rustig in die stad omdat Atalia dood was.

2 KRONIEKE 24

Joas herstel die tempel

1 Joas was sewe jaar oud toe hy koning geword het en hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja uit Berseba.

2 So lank as wat Jojada die priester geleef het, het Joas gedoen wat reg was vir die Here.

3 Jojada het twee vroue vir Joas gekies. Hy het seuns en dogters gehad.

4 Met verloop van tyd het Joas besluit om die tempel van die Here te herstel.

5 Hy het die priesters en Leviete opgeroep en die volgende opdrag gegee: “Gaan dadelik na al die dorpe van Juda en samel die vereiste jaarlikse bydrae van die hele Israel in sodat ons die tempel van julle God kan herstel. Moenie versuim nie!” Die Leviete het egter nie dadelik gegaan nie.

6 Die koning roep toe vir Jojada die hoëpriester en vra hom: “Hoekom het jy nie geëis dat die Leviete uitgaan en die tempelbelasting in die dorpe van Juda en Jerusalem insamel nie? Moses, die dienaar van die Here, het hierdie belasting gehef op die gemeente van Israel om die tent van die getuienis te onderhou.”

7 Die volgelinge van die goddelose Atalia het destyds by die tempel van God ingebreek. Hulle het al die gewyde voorwerpe in die tempel van die Here vir die Baäldiens gebruik.

8 Joas het nou opdrag gegee dat ’n kis gemaak word en by die ingang na die tempel van die Here gesit moet word.

9 Hy het toe ’n bevel deur die hele Juda en Jerusalem gestuur dat die volk die belasting moes bring wat Moses, dienaar van God, in die woestyn van die Israeliete vereis het.

10 Dit het byval gevind by die leiers en die volk. Hulle het met blydskap die geld gebring en die kis daarmee vol gemaak.

11 Telkens wanneer die kis vol was, het die Leviete dit na die koning se amptenare gebring. Dan het die hofsekretaris en ’n amptenaar van die hoëpriester die geld getel en die kis weer na die tempel toe teruggebring. Dit het dag na dag gebeur sodat ’n groot bedrag geld op dié wyse ingesamel is.

12 Die koning en Jojada het die geld aan die toesighouers oor die konstruksiewerk van die tempel van die Here gegee. Húlle het weer messelaars en skrynwerkers gekry om die tempel van die Here te herstel. Hulle het ook metaalwerkers gehuur. Hulle het voorwerpe van yster en brons gemaak vir die herstelwerk van die tempel van die Here.

13 Die manne in bevel van die opknapping het hard gewerk en geleidelik vordering gemaak. Hulle het die tempel van God volgens die oorspronklike planne gerestoureer en dit versterk.

14 Toe al die herstelwerk afgehandel was, het hulle die oorblywende bedrag geld teruggebring na die koning en na Jojada. Dit is gebruik om gereedskap vir die tempel van die Here te maak. Dit was werktuie vir die brandoffers, insluitend die bakke en ook goue en silwer gereedskap. So lank as wat Jojada die priester gelewe het, is die brandoffers voortdurend in die tempel van die Here gebring.

15 Jojada het tot ’n baie rype ouderdom geleef en het gesterf toe hy 130 jaar oud was.

16 Hy is begrawe by die konings in die Dawidstad, want hy het baie goeie dinge in Israel gedoen, vir God en sy tempel.

Jojada se hervormings word

omgekeer

17 Na Jojada se dood het die leiers van Juda gekom, voor koning Joas gebuig en hom oorreed om na hulle raad te luister.

18 Hulle het toe besluit om die tempel van die Here, die God van hulle voorouers, te verlaat. Hulle het eerder die Asjerapale en afgode aanbid. Die toorn van God het weens hierdie sonde teen Juda en Jerusalem ontbrand.

19 Die Here het profete gestuur om hulle na Hom terug te bring. Die profete het die mense gewaarsku, maar hulle wou nie luister nie.

20 Toe het die Gees van God op Sagaria seun van Jojada die priester gekom. Hy het voor die volk gesê: “Dit is wat God sê: Hoekom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Julle het die Here verlaat, en nou het Hy julle verlaat!”

21 Toe het die leiers saamgesweer om Sagaria dood te maak. Op bevel van koning Joas het hulle hom in die voorhof van die tempel gestenig.

22 Koning Joas het nie gedink aan die goedheid wat Jojada aan hom bewys het nie, maar sy seun doodgemaak. Sagaria se laaste woorde toe hy sterf, was: “Mag die Here sien wat julle doen en julle straf!”

Die einde van Joas se regering

23 Met die wisseling van die jaar het die Aramese leër teen Joas opgetrek. Hulle het Juda en Jerusalem binnegeval en al die leiers van die volk doodgemaak. Daarna het hulle al die buit na hulle koning in Damaskus gestuur.

24 Hoewel die Arameërs met min soldate opgetrek het, het die Here hulle gehelp om die baie groter leër van Juda te verslaan. Die volk het die Here die God van hulle voorouers verlaat. Daarom is die oordeel oor Joas voltrek.

25 Die Arameërs het teruggetrek en Joas ernstig gewond agtergelaat. Sy eie offisiere het teen hom saamgesweer en hom in sy bed vermoor. Dit was omdat hy die seun van Jojada die priester laat doodmaak het. Hy is begrawe in die Dawidstad, maar nie in die koninklike begraafplaas nie.

26 Die moordenaars was Sabad seun van ’n Ammonitiese vrou met die naam Simat, en Josabad, seun van ’n Moabitiese vrou met die naam Somer.

27 Die volledige vertelling oor die seuns van Joas, die profesieë oor hom, en die verslag oor die herstel van die tempel van God is geskryf in dieKommentaar op die boek Konings. Toe hy sterf, het sy seun Amasia hom opgevolg.

2 KRONIEKE 25

Amasia regeer in Juda

1 Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan van Jerusalem.

2 Amasia het gedoen wat reg was vir die Here, maar nie met sy hele hart nie.

3 Toe Amasia goed gevestig was as koning, het hy die mans tereggestel wat sy pa vermoor het.

4 Die kinders van die moordenaars het hy egter nie doodgemaak nie, want hy het opgetree volgens die voorskrifte van die Here in die boek van Moses: “Ouers moet nie doodgemaak word vir die sondes van die kinders nie; en kinders moenie doodgemaak word vir die sondes van hulle ouers nie. Hulle wat aan die dood skuldig is, moet vir hulle eie oortredings doodgemaak word.”

5 Amasia het die manskappe van Juda bymekaargeroep. Hy het die hele Juda en ook Benjamin volgens familiegroepe ingedeel onder bevelhebbers oor duisend en oor honderd. Hy het die manne van twintig jaar en ouer opgeroep. Daar was 300 000, almal geoefen in die gebruik van spiese en skilde.

6 Hy het ook met sowat drie en ’n half ton silwer nog 100 000 ervare soldate uit Israel gehuur.

7 Maar ’n man van God het na die koning gekom en gesê: “O koning, moenie soldate van Israel huur nie, want die Here is nie met Israel nie. Hy sal nie die mense van Efraim help nie.

8 As jy hulle saam met jou soldate in die geveg laat deelneem, sal julle verslaan word, maak nie saak hoe dapper hulle veg nie, want God het die mag om te help of om omver te werp.”

9 Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat dan van die drie en ’n half ton silwer wat ek betaal het om die soldate van Israel te huur?”

Die man van God antwoord hom: “Die Here is in staat om baie meer as dit te gee!”

10 Amasia het toe die gehuurde troepe ontslaan en teruggestuur na Efraim toe. Hulle was baie kwaad vir Juda en is woedend huis toe.

11 Nogtans het Amasia moed bymekaargeskraap en sy leër na die Soutvallei gelei. Daar het hulle 10 000 Edomiete van Seïr doodgemaak.

12 Hulle het ook 10 000 van hulle gevang en van ’n krans afgegooi sodat hulle hulle onder op die rotse te pletter geval het.

13 Intussen het die gehuurde soldate wat Amasia huis toe gestuur het om nie saam met hom te veg nie verskeie dorpe van Juda tussen Samaria en Bet-Goron gestroop, 3 000 mense doodgemaak en baie buit saamgeneem.

14 Toe koning Amasia terugkeer van die neerlaag wat hy die Edomiete toegedien het, het hy ook afgodsbeelde saamgebring wat hy by die mense van Seïr gevat het. Hy het die beelde vir homself as gode opgestel, voor hulle neergebuig en offers gebring.

15 Dit het die Here baie kwaad gemaak en Hy het ’n profeet gestuur om vir Amasia te vra: “Hoekom het u gode van ’n volk aanbid wat nie eens in staat was om hulle eie mense uit u hand te red nie?”

16 Maar die koning het hom in die rede geval en gesê: “Wanneer het ek jou raad gevra? Bly stil voordat ek jou doodmaak!”

Die profeet is daar weg, maar het hom gewaarsku: “Ek weet dat God besluit het om u tot niet te maak omdat u dit gedoen het en nie my raad aanvaar het nie.”

17 Nadat hy met sy raadgewers beraadslaag het, het koning Amasia van Juda hierdie uitdaging aan Israel se koning Joas seun van Joahas en kleinseun van Jehu gestuur: “Kom, laat ons mekaar in ’n geveg ontmoet!”

18 Maar Joas, koning van Israel, het koning Amasia van Juda soos volg geantwoord: “Daar in die Libanonberge het ’n doringbos ’n boodskap na die sederboom gestuur: ‘Gee jou dogter om met my seun te trou.’ Maar op daardie oomblik het ’n wilde dier van die Libanon verbygekom, op die doringbos getrap en dit vermorsel.

19 Jy mag baie trots wees omdat jy Edom verslaan het, maar my advies is dat jy tuisbly. Hoekom moet jy moeilikheid soek wat vir jou en die mense van Juda onheil sal bring?”

20 Amasia wou egter nie luister nie, want die Here het dit so bewerk om hom in Joas se mag oor te gee omdat hy die gode van Edom aanbid het.

21 Koning Joas van Israel het sy leër teen die leër van koning Amasia van Juda gereed gekry. Die twee leërs het by Bet-Semes in Juda teenoor mekaar stelling ingeneem.

22 Die leër van Israel het die leër van Juda totaal verslaan sodat hulle huis toe gevlug het.

23 Koning Joas van Israel het koning Amasia van Juda by Bet-Semes gevang en na Jerusalem toe geneem. Joas het sy leër beveel om ongeveer 180 meter van die muur van Jerusalem plat te slaan, dit is van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort.

24 Hy het al die goud en silwer en al die gereedskap weggevat uit die tempel van God wat onder toesig van Obed-Edom was. Hy het die skatte in die koninklike paleis gevat, en ook gyselaars geneem en na Samaria toe teruggegaan.

25 Amasia seun van koning Joas van Juda het nog vyftien jaar na die dood van koning Joas van Israel seun van Joahas gelewe.

26 Die ander gebeurtenisse tydens Amasia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Juda en Israel.

27 Nadat Amasia die rug gekeer het op die Here, was daar ’n sameswering teen sy lewe in Jerusalem. Daarom het hy na Lakis toe gevlug. Maar sy vyande het mense agter hom aangestuur en hulle het hom daar doodgemaak.

28 Sy liggaam is op ’n perd na Jerusalem toe teruggebring en hy is in die familiegraf in die Dawidstad begrawe.

2 KRONIEKE 26

Ussia regeer in Juda

1 Die hele volk van Juda het vir Ussia, die sestienjarige seun van Amasia, as hulle nuwe koning gekroon.

2 Na sy pa se dood het Ussia die dorp Elat herbou en weer onder die beheer van Juda gebring.

3 Ussia was sestien toe hy koning geword het, en hy het 52 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja van Jerusalem.

4 Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Amasia gedoen het.

5 Gedurende die tyd toe Sagaria hom onderrig het in die eerbied vir God, het Ussia God se wil gesoek. So lank as wat hy die Here se wil nagestreef het, het God hom sukses gegee.

6 Hy het oorlog teen die Filistyne verklaar en die mure van Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en in ander dele van die Filistynse gebied gebou.

7 God het hom gehelp in die oorlog teen die Filistyne en ook in sy oorloë teen die Arabiere van Gur-Baäl en die Meüniete.

8 Die Ammoniete het aan Ussia belasting betaal. Sy roem het selfs tot by Egipte versprei, want hy het baie magtig geword.

9 Ussia het versterkte torings in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die draai in die muur opgerig.

10 Hy het ook torings in die woestyn opgerig en baie putte gegrawe, want hy het baie vee in die Laeveld van Juda en die vlaktes gehad. Hy was ook lief vir die grond. Daarom het hy baie mense gehad wat sy plase en wingerde op die plato en in die vrugbare valleie versorg het.

11 Ussia het ’n leër gehad van ervare krygsmanne wat in afdelings uitgetrek het. Hulle getalle is bepaal deur Jeïel, die sekretaris van die leër en sy assistent Maäseja. Hulle was onder die leiding van Gananja, een van die koning se offisiere.

12 Daar was 2 600 familiehoofde in bevel van die soldate.

13 Die leër onder hulle bevel het bestaan uit 307 500 manskappe, almal opgelei vir oorlog. Dit was ’n kragtige mag waarop die koning teen enige vyand kon staatmaak.

14 Ussia het die hele leër voor-sien van skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë en slingervelle.

15 Hy het in Jerusalem bedrewe manne gehad wat uitvindsels gemaak het waarmee pyle en groot klippe bo van die torings en die hoeke van die muur af geskiet kon word. Sy roem het ver en wyd versprei, want hy het wonderlike hulp ontvang en het só baie magtig geword.

Ussia se sonde en straf

16 Maar toe hy magtig geword het, het hy ook hoogmoedig geword. Dit het tot sy ondergang gelei. Hy het teen die Here sy God gesondig deur in die tempel van die Here te gaan en self wierook op die altaar te brand.

17 Asarja die priester het saam met 80 dapper priesters van die Here agter hom aangegaan.

18 Hulle het koning Ussia gekonfronteer en gesê: “Dit is nie toelaatbaar vir u, Ussia, om wierook vir die Here te brand nie. Dit is die werk van die priesters, seuns van Aäron, wat alleen daarvoor afgesonder is. Gaan uit die heiligdom, want u het gesondig. Die Here sal u nie daarvoor eer nie.”

19 Ussia was woedend en het geweier om die wierookpan neer te sit. Terwyl hy kwaad vir die priesters daar voor die wierookaltaar gestaan het in die tempel van die Here, het melaatsheid skielik op sy voorkop uitgebreek.

20 Toe die hoëpriester Asarja en die ander priesters die melaatsheid op sy voorkop sien, het hulle hom so gou moontlik uit die tempel verwyder. Die koning was self haastig om daar uit te kom, want die Here het hom getref.

21 Die koning Ussia het aan melaatsheid gely tot die dag van sy dood. Hy het in ’n huis in afsondering gewoon, wég van die tempel van die Here. Sy seun Jotam is in beheer van die paleis gestel, en hy het oor die volk van die land regeer.

22 Die ander gebeurtenisse tydens Ussia se regering, van die begin tot die einde, is opgeteken deur die profeet Jesaja, seun van Amos.

23 Ussia het gesterf. Hy is begrawe in ’n begraafplaas van die konings, maar nie in die familiegraf nie, omdat hy melaats was. Sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 27

Jotam regeer in Juda

1 Jotam was 25 jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, dogter van Sadok.

2 Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy pa Ussia gedoen het. Maar hy het nie soos sy pa in die tempel van die Here oortree nie. Nogtans het die volk voortgegaan met hulle afstootlike gebruike.

3 Jotam het die boonste poort na die Here se tempel herbou en het aansienlike bouwerk aan die muur by die Ofelheuwel gedoen.

4 Hy het dorpe in die heuwels van Juda gebou en forte en torings in die bosse opgerig.

5 Hy het oorlog teen die koning van die Ammoniete gemaak en hulle oorwin. Drie jaar lank het hy jaarliks belasting van hulle gekry. Dit was byna drie en ’n half ton silwer, 1 650 ton koring en 1 320 ton gars.

6 Koning Jotam het baie magtig geword omdat hy in gehoorsaamheid aan die Here sy God gelewe het.

7 Die ander gebeurtenisse tydens Jotam se regering, sy oorloë en ander aktiwiteite, is opgeteken inDie boek van die konings van Israel en Juda.

8 Hy was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en het sestien jaar in Jerusalem regeer.

9 Toe hy sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.

2 KRONIEKE 28

Agas regeer in Juda

1 Agas was twintig jaar oud toe hy koning geword het en het sestien jaar in Jerusalem regeer. Hy het nie gedoen wat reg was vir die Here soos sy voorvader Dawid gedoen het nie.

2 Hy het eerder die voorbeeld van die konings van Israel gevolg en het beelde van die Baäls laat giet.

3 Hy het in die Ben-Hinnomvallei offers gebring, en selfs van sy seuns laat verbrand. Dit was in navolging van die afskuwelike praktyke van die heidense nasies wat deur die Here voor die Israeliete uit die land verdryf is.

4 Hy het offerandes en wierook op die hoogtes, op al die heuwels en onder elke groen boom gebring.

5 Dit is waarom die Here sy God toegelaat het dat die koning van Aram vir Agas verslaan en ’n groot aantal van sy volk na Damaskus weggevoer het. God het hom ook oorgegee aan die koning van Israel, en hy het hom ’n groot neerlaag toegedien.

6 Op ’n enkele dag het Peka seun van Remalja 120 000 van Juda se soldate doodgemaak omdat hulle die Here, die God van hulle voorouers, verlaat het.

7 Toe het Sikri, ’n krygsman uit Efraim, vir Maäseja seun van die koning, Asrikam die paleisbestuurder en die onderkoning Elkana doodgemaak.

8 Die leërs van Israel het 200 000 vroue, seuns en dogters van hulle bloedverwante uit Juda gevang en ook baie buit na Samaria toe saamgevat.

9 Maar ’n profeet van die Here met die naam Oded was in Samaria toe die leër van Israel teruggekom het. Hy het hulle tegemoetgegaan en gesê: “Die Here, die God van julle voorouers, was kwaad vir Juda en het toegelaat dat julle hulle verslaan. Maar julle het te ver gegaan deur hulle sonder genade dood te maak en dit skrei ten hemel.

10 En nou beplan julle om van hierdie mense uit Juda en Jerusalem slawe en slavinne te maak. Wat van julle eie sondes teen die Here julle God?

11 Luister na my en stuur hierdie gevangenes terug, want hulle is julle bloedverwante. Pas op, want die oordeel van die Here het nou teen julle gedraai!”

12 Toe het sommige van die leiers van die Efraimiete, Asarja seun van Joganan, Berekja seun van Mesillemot, Hiskia seun van Sallu, en Amasa seun van Gadlai, saamgestem en hulle het die manskappe gekonfronteer wat teruggekom het na die oorlog:

13 “Julle kan nie die gevangenes hiernatoe bring nie!” het hulle gesê. “Ons kan nie bekostig om nog skuld by ons sondes te voeg nie. Ons skuld is reeds groot, en die toorn van die Here het alreeds teen Israel gedraai.”

14 Die soldate het toe die gevangenes vrygelaat en die buit in die teenwoordigheid van al die leiers en die vergadering teruggegee.

15 Toe het die vier gemelde persone vorentoe gekom en uit die buit klere gegee aan die gevangenes wat naak was. Hulle het klere en skoene, kos en water vir hulle gegee, en hulle wonde met olie behandel. Almal wat swak was, het hulle op donkies gelaai en die gevangenes na hulle eie land, na Jerigo die palmstad, tot by hulle eie mense weggebring. Daarna het hulle na Samaria toe teruggegaan.

Agas sluit die tempel

16 Omtrent hierdie tyd het koning Agas van Juda die koning van Assirië se hulp gevra teen sy vyande.

17 Die leërs van Edom het Juda weer binnegeval en gevangenes geneem.

18 Die Filistyne het strooptogte uitgevoer op dorpe in die Laeveld van Juda en in die Negevwoestyn. Hulle het reeds Bet-Semes, Ajalon, Gederot, Soko met sy buitedorpies, Timna met sy buitedorpies, en Gimso met sy buitedorpies beset en daar gaan woon.

19 Die Here was besig om Juda te verneder oor koning Agas van Juda, want hy het Juda aangemoedig om te sondig en was heeltemal ontrou aan die Here.

20 Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië daar aankom, het hy koning Agas onderdruk, in plaas daarvan om hom te help.

21 Agas vat toe waardevolle voorwerpe uit die tempel van die Here, die koninklike paleis en uit die huise van sy amptenare en gee dit vir die koning van Assirië. Maar selfs dit het hom niks gehelp nie.

22 Toe dit so sleg met hom gaan, het hy nog meer ontrou aan die Here geword.

23 Hy het offers gebring aan die gode van Damaskus wat hom verslaan het, “want,” het hy gesê, “hierdie gode het die konings van Aram gehelp en sal my ook help as ek vir hulle offerandes bring.” Maar hulle was sy ondergang en ook dié van die hele Israel.

24 Die koning het die voorwerpe uit die tempel van God weggeneem en dit stukkend geslaan. Hy het die deure van die Here se tempel gesluit. Hy het ook heidense altare op elke straathoek in Jerusalem opgerig.

25 Verder het hy in al die dorpe van Juda heidense heiligdomme opgerig waar offers aan die afgode gebring kon word. Dit het die toorn van die Here, die God van sy voorouers, uitgetart.

26 Die ander gebeurtenisse tydens Agas se regering en al sy dade, van begin tot einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Juda en Israel.

27 Toe koning Agas sterf, is hy in Jerusalem begrawe, maar nie in die koninklike begraafplaas nie. Sy seun Hiskia het hom opgevolg.

2 KRONIEKE 29

Hiskia regeer in Juda

1 Hiskia was 25 jaar oud toe hy koning van Juda geword het. Hy het 29 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Abia, dogter van Sagaria.

2 Hy het gedoen wat reg was vir die Here, net soos sy voorvader Dawid gedoen het.

Hiskia heropen die tempel

3 In die eerste maand van die eerste jaar van sy regering het Hiskia die deure van die tempel van die Here heropen en dit herstel.

4 Hy het die priesters en Leviete ontbied om hom in die binnehof oos van die tempel te ontmoet.

5 Hy het vir hulle gesê: “Luister na my, Leviete! Reinig julleself en reinig die tempel van die Here, die God van julle voorouers. Verwyder alles wat besoedel is uit die tempel.

6 Ons voorouers was ontrou en het dinge gedoen wat vir die Here ons God boos was. Hulle het die Here verlaat. Hulle het weggegaan en die rug op sy tempel gedraai.

7 Hulle het ook die deure na die voorportaal gesluit en die lampe doodgemaak. Hulle het opgehou om wierook te brand en om brandoffers in die heiligdom van die God van Israel te bring.

8 Dit is waarom die Here se toorn oor Juda en Jerusalem toegesak het. Hy het hulle ’n voorwerp van vrees, afsku en bespotting gemaak soos wat julle so duidelik kan sien.

9 Ons voorvaders is in die oorlog doodgemaak, en ons seuns, dogters en vroue is hieroor in gevangenskap.

10 Maar nou wil ek ’n verbond met die Here, die God van Israel, sluit sodat die felheid van sy woede van ons af weggekeer kan word.

11 My seuns, moenie julle pligte nalaat nie. Die Here het julle gekies om in sy teenwoordigheid te staan, om diens aan Hom te verrig, om die volk te lei in aanbidding en offers aan Hom te bring.”

12 Die Leviete het toe dadelik aan die werk gespring. Uit die familiegroep Kehat: Magat seun van Amasai, en Joël seun van Asarja. Uit die familiegroep Merari: Kis seun van Abdi, en Asarja seun van Jehallelel. Uit die familiegroep Gerson: Joag seun van Simma, en Eden seun van Joag.

13 Uit die familiegroep Elisafan: Simri en Jeïel. Uit die familiegroep Asaf: Sagaria en Mattanja.

14 Uit die familiegroep Heman: Jegiël en Simi. Uit die familiegroep Jedutun: Semaja en Ussiël.

15 Hierdie manne het hulle broers bymekaargeroep en hulleself gereinig. Toe het hulle begin om die tempel van die Here te reinig soos die koning beveel het in ooreenstemming met die voorskrifte van die Here.

16 Die priesters het die tempel van die Here binne gaan reinig. Hulle het alles verwyder wat onrein was in die tempel van die Here en dit na die voorhof toe gebring. Die Leviete het dit daarvandaan na die Kedronvallei geneem.

17 Hulle het die werk op die eerste dag van die eerste maand begin en teen die agtste dag gevorder tot by die voorportaal van die Here se tempel. Daarna het dit nog agt dae geneem om die tempel te reinig. Die hele reiniging het dus veertien dae geduur.

Die hertoewyding van die

tempel

18 Toe het die Leviete na koning Hiskia gegaan en aan hom verslag gedoen: “Ons het die hele tempel van die Here, die altaar vir brandoffers met al die toebehore, en die tafel vir die offerbrood met al die toebehore gereinig.

19 Ons het ook al die voorwerpe wat koning Agas weggeneem het toe hy ontrou was tydens sy regering, teruggekry. Dit is nou voor die altaar van die Here, gereinig en gereed vir gebruik.”

20 Vroeg die volgende oggend het koning Hiskia die stadsamptenare bymekaargeroep en na die tempel van die Here gegaan.

21 Hulle het sewe beeste, sewe ramme, sewe lammers en sewe bokramme as sonde-offer vir die koninkryk, vir die tempel en vir Juda gebring. Die koning het die priesters wat uit die geslag van Aäron was, beveel om die diere op die altaar van die Here te offer.

22 Hulle het die beeste geslag, en die priesters het die bloed op die altaar gesprinkel. Daarna het hulle die ramme geslag en hulle bloed op die altaar gesprinkel. Hulle het dieselfde met die lammers gedoen.

23 Die bokramme vir die sonde-offer is toe na die koning en die gemeente geneem. Hulle het hulle hande op die diere gesit.

24 Daarna het die priesters die bokke as ’n sonde-offer geslag en hulle bloed op die altaar gesprinkel as teken van berou vir die sondes van die hele Israel. Die koning het uitdruklik beveel dat die brandoffer en sonde-offer namens die hele Israel moes wees.

25 Koning Hiskia het die Leviete by die tempel van die Here opgestel met simbale, harpe en liere. Hy het al die voorskrifte gehoorsaam wat die Here aan koning Dawid deur Gad, die koning se siener, en die profeet Natan gegee het, want dit was ’n opdrag wat van die Here self deur sy profete gekom het.

26 Die Leviete het hulle plek ingeneem met die instrumente van Dawid, en die priesters met die trompette.

27 Daarna het Hiskia beveel dat die brandoffer op die altaar gesit moet word. Terwyl die brandoffer aangebied is, het die lofliedere tot eer van die Here begin. Hulle is begelei met die trompette en ander instrumente van Dawid, koning van Israel.

28 Die hele gemeente het die Here aanbid terwyl die sangers gesing en die trompette weerklink het. Dit het voortgeduur totdat die brandoffers klaar was.

29 Toe dit klaar was, het die koning en almal saam met hom in aanbidding gebuig.

30 Koning Hiskia en die amptenare het die Leviete beveel om die Here te prys met die psalms van Dawid en Asaf die siener. Hulle het met vreugde lofliedere gesing, neergebuig en aanbid.

31 Toe het Hiskia aangekondig: “Julle is nou aan die Here gewy. Bring nou julle offers en dankoffers na die tempel van die Here.” Die gemeente het hulle offers en dankoffers gebring en elkeen wat in sy hart so gevoel het, het vrywillig ook nog brandoffers gebring.

32 Die gemeente het 70 beeste, 100 ramme en 200 lammers vir brandoffers gebring.

33 Hulle het ook 600 beeste en 3 000 skape as offers gebring.

34 Daar was te min priesters om al die brandoffers voor te berei sodat hulle bloedverwante, die Leviete, hulle moes help totdat alles afgehandel en meer priesters gewy was. Die Leviete was meer nougeset met hulle toewyding as die priesters.

35 Daar was ’n oorvloed van brandoffers, die meegaande drankoffers, en ook die vet van die maaltydoffers. So is die diens in die tempel van die Here weer gevestig.

36 Hiskia en die hele volk het gejuig oor wat God vir die volk gedoen het, want alles is gou afgehandel.

2 KRONIEKE 30

Voorbereidings vir die Paasfees

1 Koning Hiskia het ’n boodskap aan die hele Israel en Juda gestuur en briewe geskryf aan Efraim en Manasse. Hy het hulle uitgenooi om na die tempel van die Here in Jerusalem te kom en die Paasfees van die Here die God van Israel te vier.

2 Die koning, die leiers en die hele gemeente in Jerusalem het besluit om die Paasfees in die tweede maand te vier.

3 Hulle kon dit nie op die gewone tyd vier nie omdat daar toe nog nie genoeg priesters afgesonder was nie en die volk nog nie in Jerusalem bymekaargekom het nie.

4 Hierdie plan om die Paasfees later te vier, was vir die koning en die hele volk goed.

5 Hulle stuur toe ’n aankondiging deur die hele Israel, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. Hulle het elkeen uitgenooi om na Jerusalem te kom om die Paasfees van die Here die God van Israel te vier. Die volk het dit nie meer in groot getalle gevier soos destyds voorgeskryf was nie.

6 Op bevel van die koning is boodskappers deur die hele Israel en Juda gestuur met briewe van die koning en sy amptenare wat soos volg gelui het:

Kinders van Israel, kom terug na die Here die God van Abraham, Isak en Israel sodat Hy weer sal terugkom na die oorblyfsel wat ontsnap het uit die hand van die Assiriese konings.

7 Moenie soos julle voorouers en bloedverwante maak nie. Hulle het die Here die God van hulle voorouers verlaat sodat Hy van hulle ’n voorwerp van afgryse gemaak het, soos julle self kan sien.

8 Moenie koppig wees soos julle voorouers nie, maar onderwerp julle aan die Here. Kom na sy tempel toe, die plek wat Hy vir altyd as heilig afgesonder het. Dien die Here julle God sodat sy toorn van julle afgewend kan word.

9 As julle na die Here toe terugkom, sal julle broers en julle kinders met medelye behandel word deur hulle wat hulle gevange geneem het en hulle sal hulle na hierdie land toe laat terugkom, want die Here julle God is genadig en Hy is julle goedgesind. As julle na Hom toe terugkom, sal Hy nie voortgaan om sy gesig van julle af weg te draai nie.

Viering van die Paasfees

10 Die boodskappers het van dorp tot dorp deur die hele Efraim en Manasse tot so ver as Sebulon gegaan. Maar die mense het hulle uitgelag en hulle gespot.

11 Sommige uit Aser, Manasse en Sebulon het hulleself verootmoedig en na Jerusalem toe gegaan.

12 Die hand van die God was egter oor die mense van Juda. Hy het hulle ’n eenheidsgevoel gegee sodat hulle die bevele van die koning en sy amptenare as die woord van die Here gehoorsaam het.

13 Gevolglik het ’n groot skare in Jerusalem bymekaargekom om die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood in die tweede maand te vier.

14 Hulle het die heidense altare uit Jerusalem verwyder en die wierookaltare in die Kedronvallei gegooi.

15 Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paaslam geslag. Die priesters en Leviete het toe skaam geword, hulleself gereinig en brandoffers na die tempel van die Here gebring.

16 Hulle het hulle plekke in die tempel ingeneem volgens die bepalings van Moses, die man van God. Die Leviete het die bloed vir die priesters gebring en hulle het dit op die altaar gesprinkel.

17 Omdat baie van die mense nie hulleself gereinig het nie, moes die Leviete die paaslammers slag vir hulle wat nie seremonieel rein was en nie hulle lammers self aan die Here kon wy nie.

18 Die meeste van hulle wat uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon gekom het, het hulleself nie gereinig nie. Hulle het die paaslam geëet al was dit strydig met wat voorgeskryf is. Maar koning Hiskia het vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here, wat goed is, elkeen vergewe

19 wat besluit het om God die Here, die God van hulle voorouers, te dien selfs al is dit nie volgens die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.”

20 Die Here het Hiskia se gebed verhoor en die volk genees.

21 Die Israeliete wat in Jerusalem byeen was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank met vreugde gevier. Elke dag het die Leviete en priesters tot eer van die Here gesing, met begeleiding van musiekinstrumente wat aan die Here gewy is.

22 Hiskia het die Leviete geprys vir die goeie insig wat hulle getoon het tydens die diens van die Here. Die feesvierings het sewe dae lank geduur. Maaltydoffers is gebring en sondes is voor die Here die God van hulle voorouers bely.

23 Die hele vergadering het toe besluit om die fees vir ’n verdere sewe dae te verleng sodat hulle nog ’n week lank feesgevier het.

24 Hiskia, koning van Juda, het 1 000 beeste en 7 000 skape vir die vergadering gegee. Die leiers het ook 1 000 beeste en 10 000 skape gegee. ’n Groot getal priesters het hulleself gereinig.

25 Die hele vergadering van Juda het gejuig: die priesters, Leviete, die gemeente wat uit Israel gekom het, die uitlanders uit Israel, asook almal wat in Juda gewoon het.

26 Daar was groot blydskap in die stad, want Jerusalem het sedert die dae van Salomo seun van koning Dawid nie weer ’n feesviering soos hierdie gesien nie.

27 Nadat die priesters en Leviete opgestaan het en die seën oor die volk uitgespreek het, het God dit gehoor, want hulle gebed het die heilige woning in die hemel bereik.