2 KRONIEKE 11

Die profesie van Semaja

1 Toe Rehabeam in Jerusalem aankom, het hy 180 000 uitgesoekte soldate uit Juda en Benjamin opgeroep om teen Israel op te trek en die koningskap vir hom terug te wen.

2 Maar die Here het vir Semaja, die man van God, gesê:

3 “Sê vir Rehabeam seun van Salomo en koning van Juda, en vir al die Israeliete in Juda en Benjamin:

4 ‘Dit is wat die Here sê: Moenie teen julle bloedverwante optrek en veg nie. Gaan terug huis toe, want wat gebeur het, kom van My af.’” Hulle het die boodskap van die Here gehoorsaam en nie teen Jerobeam opgetrek nie.

Rehabeam versterk Juda

5 Rehabeam het in Jerusalem gewoon en verskeie stede herbou om Juda te verdedig.

6 Hy het die volgende plekke herbou: Betlehem, Etam, Tekoa,

7 Bet-Sur, Soko, Adullam,

8 Gad, Maresa, Sif,

9 Adorajim, Lakis, Aseka,

10 Sora, Ajalon en Hebron.

11 Rehabeam het hulle verdediging versterk en vir hulle bevelvoerders aangestel. In elkeen van hulle het hy voorrade kos, olyfolie en wyn daar gebêre.

12 Hy het ook skilde en spiese in hierdie stede geplaas om hulle te versterk. Hy het egter net oor Juda en Benjamin geheers.

13 Al die priesters en Leviete wat in Israel was, het Rehabeam se kant gekies.

14 Die Leviete het selfs hulle huise en eiendom verlaat en na Juda en Jerusalem verhuis omdat Jerobeam en sy seuns nie toegelaat het dat hulle as priesters die Here dien nie.

15 Jerobeam het sy eie priesters aangestel vir die hoogtes en die heiligdomme en vir die bokgode en kalwerbeelde wat hy gemaak het.

16 Van al die stamme van Israel het hulle wat die Here die God van Israel wou dien, die Leviete na Jerusalem toe gevolg. Daar kon hulle offers bring aan die Here die God van hulle voorouers.

17 Dit het die koninkryk van Juda versterk en hulle het drie jaar lank Rehabeam seun van Salomo ondersteun. Hulle het met erns probeer om die Here te gehoorsaam soos dit gedoen is tydens die bewind van Dawid en Salomo.

Rehabeam se gesin

18 Rehabeam het getrou met Magalat, die dogter van Dawid se seun Jerimot. Haar ma was Abihajil dogter van Eliab, seun van Isai.

19 Magalat het drie seuns gehad: Jeüs, Semarja en Saham.

20 Later het Rehabeam met Maäka die dogter van Absalom getrou. Maäka se seuns was: Abia, Attai, Sisa en Selomiet.

21 Rehabeam was baie lief vir Maäka die dogter van Absalom, meer as enige van sy ander vroue of byvroue. Hy het altesaam agtien vroue en 60 byvroue gehad. Hy het 28 seuns en 60 dogters gehad.

22 Rehabeam het Maäka se seun Abia die belangrikste een onder sy broers gemaak. So het hy aangedui wie sy opvolger sou wees.

23 Rehabeam was wys genoeg om die ander seuns in versterkte stede, verspreid in verskillende streke in Juda en Benjamin, te plaas. Hy het hulle met oorvloedige voorrade voorsien en gesorg dat hulle baie vroue kry.

2 KRONIEKE 12

Egipte val Juda binne

1 Maar toe Rehabeam se koningskap goed gevestig en hy sterk was, het hy die voorskrifte van die Here verontagsaam. Die hele Israel het sy voorbeeld gevolg.

2 Omdat hulle ontrou was aan die Here, het Hy koning Sisak van Egipte teen Jerusalem laat optrek. Dit was in die vyfde jaar van koning Rehabeam se bewind.

3 Sisak het met 1 200 strydwaens, 60 000 ruiters en ’n ontelbare leër van voetsoldate, insluitende Libiërs, Sukkeërs en Kussiete, uit Egipte opgetrek.

4 Sisak het Juda se versterkte stede verower en het tot by Jerusalem gekom.

5 Die profeet Semaja het met Rehabeam en die leiers van Juda wat almal uit vrees vir Sisak na Jerusalem toe gevlug het, gepraat. Semaja het gesê: “Dit is wat die Here sê: Julle het My verlaat; daarom het Ek julle verlaat en aan Sisak oorgegee.”

6 Die koning en die leiers van Israel het hulleself verootmoedig en gesê: “Die Here is reg om dit aan ons te doen!”

7 Toe die Here die verandering van gesindheid by hulle sien, het Hy die volgende boodskap aan Semaja gegee: “Aangesien die volk hulleself verootmoedig het, sal Ek hulle nie heeltemal vernietig nie, maar binnekort verligting gee. Ek sal Sisak nie gebruik om my toorn oor Jerusalem uit te stort nie.

8 Maar hulle sal sy onderdane word sodat hulle kan leer dat dit baie beter is om My te dien as om heersers van ander lande te dien.”

9 Koning Sisak van Egipte het Jerusalem binnegekom en al die skatte van die tempel van die Here en van die koninklike paleis, asook al die goue skilde van Salomo, weggeneem.

10 Koning Rehabeam het dit later vervang met bronsskilde en dit toevertrou aan die bevelvoerder van die wag wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het.

11 Telkens wanneer die koning na die tempel van die Here gegaan het, het die lyfwagte die skilde saamgedra en daarna teruggeneem na die wagte se kamer.

12 Omdat Rehabeam berou getoon het, is die Here se toorn afgeweer en het Hy hulle nie heeltemal verwoes nie. Daar was nog iets goeds in die land van Juda.

Opsomming van Rehabeam se

bewind

13 Koning Rehabeam het homself goed gevestig in Jerusalem en het voortgegaan om daar te regeer. Hy was 41 jaar oud toe hy koning geword het, en het sewentien jaar in Jerusalem regeer. Dis die stad wat die Here uit al die stamme van Israel gekies het om sy Naam daar te vestig. Rehabeam se ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon.

14 Hy het gedoen wat verkeerd was, want hy het nie met sy hele hart na die wil van die Here gevra nie.

15 Die ander gebeurtenisse tydens Rehabeam se regering, van die begin af tot die einde, is opgeteken inDie vertellings van die profeet Semaja en die siener Iddo, wat deel is van die geslagsregister. Rehabeam en Jerobeam het gedurig met mekaar oorlog gemaak.

16 Toe Rehabeam sterf, is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 13

Abia se oorlog teen Jerobeam

1 Abia het in die agtiende jaar van Jerobeam se bewind in Israel koning in Juda geword.

2 Hy het drie jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Maäka, ’n dogter van Uriël uit Gibea.

Daar het oorlog uitgebreek tussen Abia en Jerobeam.

3 Juda, gelei deur koning Abia, het 400 000 geoefende soldate gehad, terwyl Jerobeam opgetrek het met 800 000 dapper manne.

4 Toe die leër van Juda in Efraimsberg aankom, het Abia op die Semarajimberge gaan staan en vir Jerobeam en die Israelitiese leër geskreeu: “Luister na my!

5 Besef julle nie dat die Here die God van Israel ’n onbreekbare verbond met Dawid gesluit het dat sy nageslag vir altyd op die troon van Israel sal sit nie?

6 Tog het Jerobeam seun van Nebat, wat maar ’n dienaar van Dawid se seun Salomo was, ’n verraaier van sy meester geword.

7 Toe het ’n hele bende skurke by hom aangesluit en Salomo se seun Rehabeam uitgedaag toe hy nog jonk en onervare was en nie teen hulle kon standhou nie.

8 Dink julle regtig dat julle in opstand kan kom teen die koninkryk van die Here wat deur die afstammeling van Dawid gelei word? Julle leër is inderdaad groot, maar saam met julle is die goue kalwers wat Jerobeam tot gode verhef het.

9 Julle het die priesters, die nageslag van Aäron, en die Leviete van die Here verjaag en julle eie priesters aangestel, net soos die heidennasies. Julle laat deesdae enigiemand toe om as priester te dien! Wie ook al kom met ’n jong bees en sewe ramme kan ’n priester word van hierdie sogenaamde gode van julle!

10 “Maar wat ons betref, die Here is ons God. Ons het Hom nie verlaat nie. Net die afstammelinge van Aäron dien die Here as priesters, en net die Leviete mag hulle in hulle werk help.

11 Hulle bring brandoffers en wierook aan die Here, elke oggend en elke aand. Hulle sit die offerbrode op die heilige tafel, en hulle steek elke aand die goue kandelare se lampe op. Ons volg die voorskrifte van die Here ons God, maar julle het Hom verlaat.

12 Kyk net, God is aan ons kant. Hy is ons Leier. Sy priesters blaas hulle trompette en lei ons in die geveg teen julle. Israeliete, moenie teen die Here die God van julle voorouers veg nie, want julle sal nie suksesvol wees nie!”

13 Intussen het Jerobeam in die geheim deel van sy leër agter óm die manskappe van Juda gestuur om hulle in ’n hinderlaag te lei.

14 Toe Juda agterkom dat hulle van voor en van agter aangeval word, het hulle tot die Here om hulp geroep. Die priesters het hulle trompette geblaas

15 en die manne van Juda het ’n oorlogskreet aangehef. God het Jerobeam en die hele leër van Israel ’n neerlaag teen Abia en Juda laat ly.

16 Die leër van Israel het voor Juda uit gevlug en God het hulle in die mag van Juda oorgegee.

17 Abia en sy leër het ’n groot slagting aangerig. Daar was 500 000 gesneuweldes onder die uitgesoekte leër van Israel.

18 Juda het Israel verslaan omdat hulle op die Here die God van hulle voorouers vertrou het.

19 Abia en sy leër het Jerobeam se magte agternagesit en sommige van die dorpe, insluitend Bet-El, Jesana en Efron, asook die omliggende dorpies beset.

20 Gedurende Abia se bewind het Jerobeam van Israel nooit weer sy mag herwin nie. Die Here het hom getref sodat hy gesterf het.

21 Abia van Juda het egter al sterker geword. Hy het veertien vroue, 22 seuns en sestien dogters gehad.

22 Die ander gebeurtenisse gedurende sy bewind, sy woorde en dade, is opgeteken inDie kommentaar van Iddo die profeet.

2 KRONIEKE 14

Die vroeër jare van Asa se

bewind

1 Toe Abia sterf, is hy begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom opgevolg. Daar was vir tien jaar lank vrede in die land,

2 want Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God.

3 Hy het die heidense altare en hoogtes verwyder. Hy het ook die klippilare en Asjerapale stukkend gebreek.

4 Hy het die volk van Juda beveel om die Here die God van hulle voorouers te gehoorsaam en sy gebooie en opdragte uit te voer.

5 Asa het ook die heidense hoogtes en wierookaltare uit elke dorp in Juda verwyder. Asa se koninkryk het ’n tyd van vrede beleef.

6 Gedurende daardie vredevolle jare was hy in staat om versterkte stede oral in Juda te bou. In hierdie tyd het niemand probeer om teen hom oorlog te maak nie, want die Here het hom rus gegee van al sy vyande.

7 Asa het vir Juda gesê: “Laat ons dorpe bou en hulle versterk met mure, torings, hekke en sluitbalke. Die land is ons s’n, want ons het die Here ons God gedien en Hy het ons rus van ons vyande gegee.” Hulle het toe voortgegaan met hierdie bouwerk en dit voltooi.

8 Koning Asa het uit die stam Juda ’n leër van 300 000 soldate gewapen met groot skilde en spiese gehad. Uit die stam van Benjamin het hy ’n leër gehad van 280 000 soldate gewapen met klein skilde en pyl en boog. Albei leërs is saamgestel uit dapper vegters.

9 Op ’n dag het ’n Kussiet met die naam Serag Juda aangeval met ’n leër van een miljoen manskappe en 300 strydwaens. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder.

10 Asa het sy leërs vir ’n geveg in die vallei noord van Maresa opgestel.

11 Hy het na die Here sy God om hulp geroep en gesê: “Here, niemand behalwe U kan dié wat hulpeloos is, help teen dié wat magtig is nie. Help ons, Here ons God, want ons vertrou net op U alleen. Dit is in u Naam dat ons teen hierdie hordes stelling ingeneem het. Here, U is ons God; moenie toelaat dat blote mense teen U seëvier nie!”

12 Die Here het die Kussiete voor Asa en die leër van Juda verslaan sodat hulle gevlug het.

13 Asa en sy leër het hulle agtervolg tot so ver as Gerar. Daar het so baie van die Kussiete omgekom dat hulle leër nie weer kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër verslaan, en die leër van Juda het baie goedere buitgemaak.

14 Terwyl hulle by Gerar was, het hulle al die dorpe in die omgewing aangeval sodat die vrees van die Here oor daardie mense gekom het. Gevolglik het hulle ook hier baie goedere buitgemaak.

15 Hulle het ook die tente van die veewagters aangeval en baie skape en kamele geroof en daarmee teruggekeer na Jerusalem toe.

2 KRONIEKE 15

Asa se godsdienstige

hervorming

1 Toe het die Gees van God op Asarja seun van Oded gekom.

2 Hy het koning Asa tegemoetgegaan. “Luister na my, Asa!” het hy geroep. “Luister, al die manne van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle bly so lank as wat julle by Hom bly; wanneer julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.

3 Vir ’n lang tyd was Israel sonder die ware God, sonder ’n priester om hulle te onderrig, en sonder die gebooie van God.

4 Wanneer hulle in nood was en hulle teruggedraai het na die Here die God van Israel en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind.

5 In daardie tye was dit nie veilig om te reis nie, want oral was daar groot onrus vir die inwoners van die land.

6 Volk het teen volk geveg, en stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.

7 En nou, manne van Juda, wees sterk en moenie moedeloos word nie, want julle werk sal beloon word.”

8 Toe Asa hierdie boodskap hoor van die profeet, die seun van Oded, het hy moed geskep en al die afgodsbeelde in die land van Juda en Benjamin en in die dorpe wat hy in die Efraimsberge verower het, verwyder. Hy het die altaar van die Here wat by die ingang tot die tempel van die Here was, herstel.

9 Daarna het Asa die hele Juda en Benjamin bymekaargeroep, asook die inwoners van Efraim, Manasse en Simeon wat onder hulle kom woon het. Baie van hulle het gedurende Asa se regering na Juda toe verhuis omdat hulle gesien het dat die Here sy God met hom was.

10 Hulle het almal in die derde maand van die vyftiende regeringsjaar van Asa by Jerusalem bymekaargekom.

11 Op daardie dag het hulle sommige van die diere wat in die oorlog gebuit was aan die Here geoffer. Dit was 700 beeste en 7 000 kleinvee.

12 Toe het hulle met hart en siel ’n verbond met die Here die God van hulle voorouers gesluit.

13 Hulle het besluit dat enigiemand wat weier om die Here die God van Israel te dien, doodgemaak moet word, sou dit jonk of oud, man of vrou wees.

14 Hulle het die eed van trou aan die Here met trompetgeskal en die klank van ramshorings bekendgemaak.

15 Almal was bly oor die verbond, want hulle het dit met hulle hele hart afgelê. Hulle het gretig die wil van die Here gesoek en Hy het Hom deur hulle laat vind. Die Here het hulle rus gegee van hulle vyande aan alle kante.

16 Koning Asa het selfs vir Maäka, sy ouma, as koninginmoeder onttroon omdat sy ’n walglike Asjerapaal gemaak het. Hy het die paal afgekap, dit fyngemaal en dit in die Kedronvallei verbrand.

17 Hoewel die heidense hoogtes nie heeltemal uit Israel verwyder is nie, was Asa sy lewe lank getrou aan die Here.

18 Hy het die silwer en goud en die gereedskap wat hy en sy pa gewy het, in die tempel van God gebring.

19 Daar was geen oorlog tot in die 35ste jaar van sy regering nie.

2 KRONIEKE 16

Die laaste jare van Asa se

regering

1 In die 36ste jaar van Asa se bewind het koning Baesa van Israel Juda binnegeval. Hy het die stad Rama versterk om te verhoed dat enigiemand die koninkryk van Asa kon binnegaan of verlaat.

2 Asa het gereageer deur silwer en goud uit die skatkamers van die tempel van die Here en die koninklike paleis te vat. Dit het hy na koning Ben-Hadad van Aram in Damaskus gestuur met die volgende boodskap:

3 “Kom ons hernu die verdrag tussen jou pa en my pa. Kyk, ek stuur vir jou ’n geskenk van silwer en goud. Breek jou verdrag met koning Baesa van Israel sodat hy my met rus kan laat.”

4 Ben-Hadad het ingestem tot koning Asa se versoek en Israel aangeval. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower.

5 Toe Baesa van Israel hoor wat aangaan, het hy afgesien van sy planne om Rama te versterk.

6 Koning Asa het die hele Juda aangesê om die boustene en timmerhout wat Baesa gebruik het om Rama te versterk, weg te dra. Asa het dit gebruik om die dorpe Geba en Mispa te bou.

7 In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda gegaan en gesê: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die Here jou God, het jy die kans verloor om die leër van die koning van Aram te verwoes.

8 Onthou jy dan nie wat gebeur het met die Kussiete en Libiërs en hulle groot leërmag met baie strydwaens en ruiters nie? Toe het jy op die Here vertrou en Hy het hulle aan jou oorgegee.

9 Die Here kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ’n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê.”

10 Asa het kwaad geword vir die siener Ganani. Hy was so woedend dat hy hom in die tronk gegooi het. In hierdie tyd het Asa begin om sommige van sy onderdane te verdruk.

Opsomming van Asa se regering

11 Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind, van begin tot die einde, is opgeteken inDie boek van die konings van Juda en Israel.

12 In die 39ste jaar van sy regering het Asa ’n ernstige siekte aan sy voete opgedoen. Maar selfs in sy siekte het hy nie hulp by die Here gesoek nie, maar by sy dokters.

13 In die 41ste jaar van sy regering het hy gesterf.

14 Hy is begrawe in die grafkelder wat hy in die Dawidstad laat uitkap het. Hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat met balsem en allerlei geurige kruie bedek was. Tydens sy begrafnis het hulle tot sy eer ’n groot vuur aangesteek.

2 KRONIEKE 17

Josafat regeer in Juda

1 Asa se seun Josafat het hom opgevolg. Hy het Juda versterk teen enige aanval van Israel.

2 In al die versterkte stede van Juda het hy soldate geplaas. Hy het ook wagposte beman in Juda en in die dorpe van Efraim wat sy pa, Asa, verower het.

3 Die Here was met Josafat omdat hy die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg het en nie die beelde van Baäl aanbid het nie.

4 Hy het sy pa se God gedien en die Here se gebooie gehoorsaam in teenstelling met die praktyke in die koninkryk van Israel.

5 Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir hom geskenke gebring sodat hy baie ryk geword het en groot aansien geniet het.

6 Hy was toegewyd aan die wil van die Here. Hy het ook die heidense hoogtes afgebreek en die Asjerapale vernietig.

7 In die derde jaar van sy bewind het Josafat sy amptenare gestuur om in al die dorpe van Juda onderrig te gee. Hierdie amptenare het die volgende persone ingesluit: Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga.

8 Hy het ook die volgende Leviete uitgestuur: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle.

9 Hulle het afskrifte van die boek van die gebooie van die Here saamgeneem. Hulle het rondgegaan by al die dorpe van Juda en die volk onderrig.

10 Vrees vir die Here het oor al die omliggende koninkryke gekom sodat nie een van hulle oorlog teen Josafat verklaar het nie.

11 Sommige van die Filistyne het vir hom geskenke van silwer as belasting gebring. Die Arabiere het 7 700 ramme en 7 700 bokramme gebring.

12 Josafat het al magtiger geword en het vestings en voorraadstede oral in Juda gebou

13 en in elke dorp van Juda baie voorrade gehad, en het ’n leër van geharde soldate in Jerusalem geplaas.

14 Sy leër is volgens families saamgestel.

Uit Juda was daar 300 000 manskappe, georganiseer in eenhede, en onder die bevel van Adna.

15 Joganan het 280 000 manskappe aangevoer.

16 Dan was daar Amasja seun van Sikri wat vrywillig vir die Here diens gedoen het en 200 000 man onder sy bevel gehad het.

17 Uit Benjamin was daar 200 000 manskappe, toegerus met pyl en boog en skilde. Hulle was onder bevel van Eljada, ’n veteraan.

18 Die volgende bevelvoerder was Josabad met 180 000 gewapende manne onder hom.

19 Dit was die soldate wat in Jerusalem gestasioneer was om tot diens van die koning te wees, benewens dié wat Josafat in die versterkte stede in die hele Juda geplaas het.

2 KRONIEKE 18

Josafat en Agab

1 Josafat het baie rykdom besit en het groot agting geniet. Hy het gereël dat sy seun trou met ’n familielid van koning Agab.

2 Etlike jare later het hy Agab in Samaria besoek. Agab het baie skape en beeste vir Josafat en sy gevolg geslag. Hy het toe vir Josafat probeer oorhaal om saam met hom Ramot-Gilead aan te val.

3 “Sal jy saam met my teen Ramot-Gilead optrek?” vra Agab, koning van Israel.

Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek en jy is mos broers en my soldate is onder jou bevel. Ons sal jou sekerlik bystaan in die geveg.

4 Maar laat ons net eers vasstel wat die Here daaroor sê.”

5 Koning Agab het sy profete laat kom. Daar was 400 van hulle. Agab vra hulle toe: “Moet ons oorlog maak teen Ramot-Gilead of nie?”

Hulle het geantwoord: “Gaan gerus, want God sal vir u die oorwinning gee!”

6 Maar Josafat vra: “Is hier nie ook ’n profeet van die Here nie, dat ons dieselfde vraag vir hom kan vra.”

7 Koning Agab antwoord: “Daar is nog een man deur wie ons die Here se raad kan vra, maar ek haat hom. Hy voorspel altyd net slegte nuus vir my! Sy naam is Miga seun van Jimla.”

“Jy moenie so praat nie,” sê Josafat. “Laat ons hoor wat hy sê.”

8 Die koning van Israel roep toe een van sy amptenare en sê: “Gou! Gaan roep vir Miga seun van Jimla.”

Miga profeteer teen Agab

9 Koning Agab van Israel en koning Josafat van Juda, elkeen in sy koninklike kleed, het op hulle trone by die dorsvloer by die poort van Samaria gesit. Al Agab se profete het daar voor hulle bly profeteer.

10 Een van hulle, Sedekia seun van Kenaäna, het horings van yster gemaak en aangekondig: “Dit is wat die Here sê: Met hierdie horings sal u die Arameërs stoot tot hulle vernietig is!”

11 Al die ander profete het saamgestem. “Ja,” het hulle gesê. “Gaan na Ramot-Gilead. U sal wen. Die Here gee die stad oor aan die koning.”

12 Intussen het die boodskapper wat gestuur is om Miga te gaan haal, vir hom gesê: “Kyk, al die profete belowe ’n oorwinning vir die koning. Maak seker dat jy met hulle saamstem en gee goeie nuus.”

13 Maar Miga antwoord: “So seker as wat die Here lewe, ek sal net sê wat my God sê.”

14 Toe Miga voor die koning verskyn, vra Agab vir hom: “Miga, moet ons teen Ramot-Gilead optrek of nie?”

Miga antwoord hom: “Gaan gerus! Die stad sal aan u oorgelewer word!”

15 Maar die koning het skerp gereageer: “Hoeveel keer moet ek jou beveel om onder eed niks anders as die waarheid in die Naam van die Here te sê nie?”

16 Miga sê toe vir hom:

“Ek het in ’n visioen gesien

dat Israel verstrooi is

op die berge,

soos skape sonder ’n herder.

Die Here sê:

‘Hulle leier is doodgemaak.

Laat elkeen in vrede

na sy huis toe gaan.’”

17 “Wat het ek jou gesê?” sê die koning van Israel vir Josafat. “Hy doen dit altyd! Hy voorspel nooit enigiets anders nie as net slegte nuus vir my.”

18 Miga het voortgegaan: “Luister na wat die Here sê! Ek het die Here sien sit op sy troon met al die hemelse leërs aan sy regterkant en aan sy linkerkant.

19 En die Here het gesê: ‘Wie sal koning Agab van Israel oorhaal om oorlog teen Ramot-Gilead te maak sodat hy daar kan omkom?’ Daar was baie voorstelle,

20 tot ’n gees na die Here kom en sê: ‘Ek kan dit doen!’

“‘Hoe sal jy dit doen?’ vra die Here.

21 “Die gees antwoord: ‘Ek sal gaan en al Agab se profete oorhaal om leuens te vertel.’

“‘Jy sal suksesvol wees,’ sê die Here. ‘Gaan en doen dit!’

22 “Só het die Here ’n leuengees in die monde van u profete gegee, want die Here het bepaal dat ’n ramp u sal tref.”

23 Sedekia seun van Kenaäna gaan toe na Miga en slaan hom deur die gesig: “Wanneer het die Gees van die Here my verlaat om met jou te praat?” vra hy.

24 Miga antwoord hom: “Jy sal dit binnekort agterkom wanneer jy van een vertrek na ’n ander vlug om weg te kruip!”

25 Koning Agab het toe beveel: “Vat Miga en neem hom na Amon, die stadsbevelvoerder en na my seun Joas.

26 Gee hulle hierdie opdrag van die koning: ‘Sit hierdie man in die tronk en gee hom net brood en water totdat ek veilig terugkeer van die oorlog!”

27 Maar Miga het geantwoord: “As u veilig terugkom, het die Here nie deur my gepraat nie!” Hy voeg toe by vir die omstanders: “Neem kennis van wat ek gesê het.”

Die dood van Agab

28 Die koning van Israel en koning Josafat van Juda het hulle leërs teen Ramot-Gilead gelei.

29 Koning Agab het vir Josafat gesê: “Wanneer ons gaan veg, sal ek myself vermom sodat niemand my sal herken nie. Maar jy moet jou koninklike kleed dra.” Agab het homself vermom en hulle het begin veg.

30 Die koning van Aram het die aanvoerders van die strydwaens beveel: “Val net die koning van Israel aan, nie al die ander soldate nie!”

31 Toe die Aramese aanvoerders van die strydwaens vir Josafat in sy koninklike kleed sien, roep hulle: “Dit is die koning van Israel!” Hulle het hulle aanval op hom gerig. Maar Josafat het tot die Here geroep om hom te red, en God het hom gehelp deur die aanval van hom af weg te keer.

32 Toe die aanvoerders van die strydwaens besef dat hy nie die koning van Israel was nie, het hulle hom nie verder agtervolg nie.

33 ’n Aramese soldaat het egter blindweg ’n pyl na die soldate van Israel afgeskiet. Die pyl het die koning van Israel tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat getref. “Draai om en kry my hier uit!” roep Agab vir die drywer van sy strydwa. “Ek is ernstig gewond!”

34 Die geveg het egter die hele dag gewoed en Agab het homself in die strydwa gestut en tot die aand toe teen die Arameërs geveg. Net toe die son sak, het hy gesterf.

2 KRONIEKE 19

Josafat stel regters aan

1 Toe Josafat van Juda veilig tuiskom in Jerusalem,

2 het Jehu die siener, seun van Ganani, hom tegemoetgegaan en vir koning Josafat gevra: “Hoekom help u die goddelose en betoon u liefde aan ’n hater van die Here? Wat u gedoen het, het die toorn van die Here teen u laat ontvlam.

3 Maar u het ook goeie dinge gedoen, want u het die Asjerapale dwarsdeur die land vernietig en u het u daarop toegespits om God te dien.”

4 Josafat het in Jerusalem gewoon, maar het weer tussen sy mense rondgegaan. Hy het van Berseba tot by die Efraimsberge gereis en die mense aangemoedig om hulle tot die Here die God van hulle voorouers te bekeer.

5 Hy het in al die versterkte stede oor die hele land van Juda regters aangestel

6 en aan hulle bepaalde opdragte gegee: “Dink versigtig voordat julle oordele uitspreek. Onthou dat julle nie regspreek om mense te bevredig nie, maar om die Here te bevredig. Hy sal by julle wees wanneer julle uitspraak lewer.

7 Vrees die Here en oordeel met versigtigheid, want die Here ons God verdra nie verdraaide regspraak, partydigheid of die aanvaarding van omkoopgeld nie.”

8 Josafat het sommige van die Leviete en priesters en stamhoofde in Israel aangestel om op te tree as regters in Jerusalem met die oog op sowel die godsdienstige as die burgerlike geskille.

9 Dit was die opdragte aan hulle: “Julle moet altyd optree in eerbied vir die Here, met opregtheid en met onpartydigheid.

10 Wanneer ’n saak van ’n medeburger uit ’n afgeleë dorp voor jou gebring word, sou dit ’n moordsaak of ’n oortreding van God se gebooie, bevele, voorskrifte en bepalings wees, moet jy hulle waarsku om nie teen die Here te sondig sodat sy toorn nie oor julle en julle broers kom nie. As julle so optree, sal julle nie skuldig wees aan ’n misdaad teen die Here nie.

11 “Die hoëpriester Amarja sal die hoogste gesag oor julle wees in alle sake van die Here. Sebadja seun van Ismael, ’n leier in Juda, sal die hoogste gesag wees in alle sake van die koning. Die Leviete sal julle bystaan om seker te maak dat reg sal geskied. Tree op met moed wanneer julle julle pligte nakom, want die Here is aan die kant van hulle wat reg doen.”

2 KRONIEKE 20

Oorlog teen Moab, Ammon en

Edom

1 Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar.

2 Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: “’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.”

3 Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die Here raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas.

4 Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die Here se hulp te soek.

5 Josafat het opgestaan in die vergadering van die mense van Juda en Jerusalem voor die nuwe voorhof in die tempel van die Here.

6 Hy het gebid: “Here, God van ons voorouers, is U nie die God wat in die hemel is nie? U is die heerser oor al die koninkryke op die aarde. U is kragtig en magtig. Niemand kan teen U staande bly nie.

7 Ons God, het U nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uitgedryf nie? Het U nie die land vir altyd aan die nageslag van u vriend Abraham gegee nie?

8 U volk het hier kom woon en hierdie tempel vir U gebou.

9 Hulle het gesê: ‘As ons bedreig word met rampspoed soos oorlog, siekte of hongersnood, sal ons kom staan in u teenwoordigheid voor hierdie tempel waar u Naam vereer word. Ons sal tot U roep uit ons ellende, en U sal ons hoor en ons verlos.’

10 “Kyk nou wat hierdie leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge doen. Toe Israel uit Egipte getrek het, het U ons voorouers nie toegelaat om hierdie volke aan te val en hulle te verwoes nie.

11 Kyk hoe beloon hulle ons nou! Hulle kom om ons uit u land wat U vir ons gegee het, te verdryf.

12 Ons God, sal U nie oor hulle oordeel nie? Ons is magteloos teen hierdie groot leër wat op die punt is om ons aan te val. Ons weet nie wat om te doen nie, maar ons kyk op na U vir hulp.”

13 Terwyl die manne van Juda met hulle vroue, kinders en suigelinge voor die Here gestaan het,

14 het die Gees van die Here in die vergadering oor een van die manne gekom. Sy naam was Jagasiël seun van Sagaria, seun van Benaja, seun van Jeïel, seun van Mattanja, ’n Leviet uit die nageslag van Asaf.

15 Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die Here vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.

16 Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn.

17 Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die Here. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die Here is met julle!”

18 Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die Here aanbid.

19 Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die Here die God van Israel met oorgawe te prys.

20 Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die Here julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.”

21 Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die Here gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid:

“Loof die Here,

want sy troue liefde

duur vir altyd.”

22 Die oomblik toe hulle begin sing en die Here prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.

23 Die leërs van Moab en Ammon het teen hulle bondgenote uit die Seïrberge gedraai en elkeen van hulle doodgemaak. Nadat hulle die leër van Seïr vernietig het, het hulle mekaar vernietig.

24 Teen die tyd dat die leër van Juda by die uitkykpunt oor die woestyn kom, was daar so ver hulle kon sien net lyke op die grond. Nie een van die vyand het ontsnap nie.

25 Koning Josafat en sy manne het gegaan en die buit bymekaargemaak. Hulle het baie toerusting, klere en ander kosbare voorwerpe gekry, meer as wat hulle kon dra. Daar was so baie buit dat dit drie dae geneem het om dit te versamel.

26 Op die vierde dag het hulle in die Vallei van Seëninge die Here geseën en geprys. Dit is waarom die plek tot vandag toe Vallei van Seëninge genoem word.

27 Daarna het al die mense van Juda en Jerusalem teruggegaan na Jerusalem toe. Josafat het hulle gelei en hulle was vol vreugde omdat die Here die oorwinning oor hulle vyande gegee het.

28 Hulle is terug na Jerusalem toe en na die tempel van die Here met die klank van harpe, liere en trompette.

29 Toe die omringende koninkryke hoor dat die Here self teen die vyande van Israel geveg het, het die vrees vir God oor hulle gekom.

30 Daar was vrede in Josafat se koninkryk omdat God vir hulle rus aan alle kante gegee het.

Opsomming van Josafat se

regering

31 Josafat het oor die land Juda geheers. Hy was 35 jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 25 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Asuba dogter van Silgi.

32 Josafat was ’n goeie koning wat die voorbeeld van sy pa Asa gevolg het. Hy het volgehou om te doen wat reg was vir die Here.

33 Gedurende sy bewind het hy egter nagelaat om al die heidense hoogtes te verwyder. Die volk het hulleself ook nie ten volle aan die God van hulle voorouers verbind nie.

34 Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind is opgeteken inDie verhale van Jehu, seun van Gananiwat ingesluit is inDie boek van die konings van Israel.

35 Maar teen die einde van sy lewe het koning Josafat ’n verdrag gesluit met koning Ahasia van Israel, wat ’n baie goddelose man was.

36 Hulle het saam ’n vloot handelskepe in Esjon-Geber gebou om na Tarsis toe te vaar.

37 Eliëser seun van Dodawa uit Maresa het teen Josafat geprofeteer. Hy het gesê: “Omdat jy ’n verdrag met koning Ahasia aangegaan het, sal die Here jou werk vernietig.” Die skepe het vergaan en kon nie na Tarsis vaar nie.