2 KRONIEKE 1

1 Salomo vra vir wysheid

Salomo, seun van koning Dawid, het beheer oor sy koninkryk verkry, want die Here sy God was met hom en het hom baie magtig gemaak.

2 Hy het die hele Israel bymekaargeroep, al die generaals en kapteins van die leër, die regters, en al die leiers en die familiehoofde.

3 Salomo en die hele vergadering saam met hom het na die hoogte by Gibeon gegaan. God se tent van ontmoeting was daar. Moses, die dienaar van die Here, het dit nog in die woestyn gemaak.

4 Dawid het reeds die ark van God verskuif vanaf die woning van Kirjat-Jearim na die tent wat hy daarvoor in Jerusalem opgeslaan het.

5 Maar die bronsaltaar wat Besaleël seun van Uri, seun van Gur, gemaak het, was voor die tabernakel van die Here. Salomo en die volk het gekom om die Here te raadpleeg.

6 Salomo het opgegaan na die bronsaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting, en 1 000 brandoffers daar geoffer.

7 Daardie nag het God in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Wat wil jy hê? Vra, en Ek sal dit vir jou gee!”

8 Salomo het God geantwoord: “U het oorvloedige troue liefde aan my pa Dawid betoon, en my in sy plek ko-ning gemaak.

9 Nou, Here God, bevestig tog u belofte aan my pa Dawid, want U het my koning gemaak oor ’n volk wat so baie is soos die stof van die aarde!

10 Gee my tog wysheid en kennis sodat ek hulle reg kan regeer, want wie kan oor hierdie groot volk van U regeer?”

11 God sê toe vir Salomo: “Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ’n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer;

12 sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor jou of na jou ooit sal hê nie.”

13 Daarna het Salomo vanaf die tent van ontmoeting op die hoogte in Gibeon na Jerusalem toe teruggegaan. Hy het oor die hele Israel regeer.

14 Salomo het ’n groot militêre mag opgebou. Dit het 1 400 strydwaens en 12 000 perde ingesluit. Hy het hulle in die stede geplaas, en sommige naby hom in Jerusalem.

15 Hy het silwer en goud in Jerusalem so volop soos klippe gemaak. Seders was so volop soos wildevyebome in die Laeveld.

16 Salomo se perde is uit Egipte en Kewé ingevoer. Die koning se handelaars het hulle in Kewé gekoop teen pryse waarop daar ooreengekom is.

17 Destyds is strydwaens vir byna sewe kilogram silwer uit Egipte ingevoer, en ’n perd vir een en ’n driekwart kilogram. Baie hiervan is na die Hetitiese en Aramese konings uitgevoer.

2 KRONIEKE 2

Voorbereidings vir die bou van

die tempel

1 Salomo het besluit om ’n tempel vir die Naam van die Here en ’n koninklike paleis vir homself te bou.

2 Hy het 70 000 draers, 80 000 klipkappers in die berge en 3 600 opsigters opgeroep.

3 Salomo het die volgende brief aan koning Hiram in Tirus gestuur:

U het voorheen aan my pa Dawid sederhout verskaf toe hy sy paleis gebou het om daarin te woon.

4 Ek wil nou ’n tempel tot eer van die Naam van die Here my God bou en dit aan Hom toewy. Daar sal geurige wierook voor Hom gebrand word, offerbrode sal gedurig daar wees. Brandoffers sal elke oggend en aand gebring word, asook tydens die Sabbat, met nuwemaan en tydens ander vasgestelde feeste van die Here ons God. Hy het Israel beveel om altyd hierdie dinge te doen.

5 Dit sal ’n groot tempel wees wat ek beplan om te bou, want ons God is groter as alle ander gode.

6 Maar wie kan ’n waardige woning vir Hom bou? Nie eens die hoogste hemele kan Hom bevat nie! Wie is ek om te dink dat ek vir Hom ’n tempel sal bou, behalwe om brandoffers aan Hom te bring?

7 Daarom, stuur tog vir my ’n bekwame ambagsman wat vaardig is in die bewerking van goud, silwer, brons en yster; en van pers, bloedrooi en blou materiaal. Hy moet bedrewe wees in graveerwerk en moet saamwerk met die vakmanne van Juda en Jerusalem wat my pa Dawid voorsien het.

8 Stuur tog ook vir my seder-, sipres- en jenewerhout van die Libanon, want ek weet u vakmanne is sonder gelyke by die afkap van bome van die Libanon. Ek sal my arbeiders stuur om hulle by te staan.

9 Ek sal ’n groot hoeveelheid hout nodig hê, want die tempel wat ek wil bou, sal baie groot en indrukwekkend wees.

10 Ek sal jou werkers die volgende betaal: 3 300 ton koring, 2 640 ton gars, 440 kiloliter wyn en 440 kiloliter olie.

11 Koning Hiram het Salomo met ’n brief wat hy gestuur het, soos volg geantwoord: “Dis omdat die Here sy volk liefhet dat Hy jou as hulle koning aangestel het.

12 Loof die Here die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het! Hy het vir koning Dawid ’n wyse seun gegee, een wat toegerus is met bekwaamheid en insig, wat ’n tempel vir die Here en ’n koninklike paleis vir homself gaan bou.

13 “Ek stuur dan nou vir jou ’n ambagsman met die naam Huram. Hy is ’n baie bekwame man,

14 die seun van ’n vrou uit Dan. Sy pa is uit Tirus. Hy is bedrewe in die maak van voorwerpe van goud, silwer, brons, yster, klip, houtwerk en in pers, blou en bloedrooi stowwe. Daarby is hy ’n graveerder wat enige ontwerp saam met jou pa Dawid se vakmanne kan uitvoer.

15 “Stuur nou gerus vir ons die koring, gars, olyfolie en wyn soos jy beloof het.

16 Ons sal in die Libanon hout kap vir al jou behoeftes, en dit op vlotte al met die see langs na Joppe toe bring. Van daar af kan jy die stompe na Jerusalem toe vervoer.”

17 Salomo het ’n opname van al die vreemdelinge in Israel gemaak, net soos sy pa Dawid destyds gedoen het, en vasgestel dat daar 153 600 van hulle was.

18 Hy het 70 000 van hulle as draers aangestel, 80 000 as klipkappers in die berge, en 3 600 as opsigters om die mense te laat werk.

2 KRONIEKE 3

Salomo bou die tempel

1 Salomo het toe begin om die tempel van die Here in Jerusalem op die Moriaberg te bou, daar waar die Here aan Salomo se pa Dawid verskyn het. Die tempel is gebou op die dorsvloer van Arauna die Jebusiet, op die plek wat Dawid uitgekies het.

2 Die bouwerk het in die middel van die lente begin, in die vierde jaar van Salomo se bewind.

3 Die fondament wat Salomo gelê het vir die tempel van God, was 30 meter lank en tien meter breed.

4 Die voorportaal was langs die hele breedte van die tempel, dus tien meter lank en 60 meter hoog. Die binnekant was oordek met suiwer goud.

5 Die hoofvertrek van die tempel is met sipreshoutpanele bedek, met suiwer goud oorgetrek en versier met graverings van palms en kettings.

6 Die mure van die tempel is versier met pragtige juwele en suiwer goud uit Parwajim.

7 Al die mure, balke, deure en drumpels in die hele tempel is oorgetrek met goud, en figure van gerubs is teen die mure uitgekerf.

8 Die Allerheiligste was tien meter lank, soos die wydte van die tempel. Dit was ook tien meter breed en oorgetrek met suiwer goud, ongeveer twintig ton.

9 Hulle het goue spykers gebruik wat ongeveer ’n halwe kilogram weeg. Die mure van die bokamers was ook met suiwer goud oorgetrek.

10 Salomo het twee figure gemaak wat soos gerubs gelyk het en met goud oorgetrek. Dit is in die Allerheiligste neergesit.

11 Die vlerke van die gerubs wat langs mekaar gestaan het, was saam tien meter lank. Een vlerk van die eerste gerub het die muur geraak. Die ander vlerk het aan die vlerk van die tweede gerub geraak. Altesaam was die een se vlerkspan vyf meter lank.

12 Net so het die een vlerk van die tweede gerub die ander muur geraak en die ander vlerk die vlerk van die eerste gerub.

13 Tesame was die vlerkspan van albei gerubs tien meter. Albei het op hulle eie voete gestaan en uitgekyk op die hoofvertrek van die tempel.

14 Salomo het ’n gordyn voor die ingang na die Allerheiligste gehang. Dit is gemaak van fyn linne en blou, pers en bloedrooi stof, met figure van gerubs daarop uitgewerk.

15 Aan die voorkant van die tempel het Salomo twee pilare van sewentien en ’n half meter hoog opgerig. Elkeen het ’n kapiteel bo-op gehad van twee en ’n half meter.

16 Hy het kettings gemaak soos ’n krans en het die bopunte van die pilare daarmee verfraai. Hy het ook 100 granate gemaak en aan die kettings vasgemaak.

17 Daarna het hy die twee pilare by die ingang tot die tempel gesit, een aan die suidekant van die ingang en die ander aan die noordekant. Hy het die suidelike een Jakin genoem en die een aan die noordelike een Boas.

2 KRONIEKE 4

Toebehore vir die tempel

1 Salomo het ook ’n bronsaltaar gemaak. Dit was tien meter lank, tien meter breed, en vyf meter hoog.

2 Toe het hy ’n groot waterbak gegiet. Dit was vyf meter in deursnee, twee en ’n half meter hoog, met ’n omtrek van vyftien meter.

3 Onderom die rand was daar twee rye beeste in reliëf, twintig beeste per meter. Dit is saam met die waterbak gegiet.

4 Die waterbak het gerus op ’n basis van twaalf beelde van beeste wat almal buitentoe kyk. Drie het noord gekyk het, drie wes, drie suid en drie oos. Die waterbak het bo-op hulle gerus, met hulle agterkante onder die bak.

5 Die rand van die waterbak was ongeveer ’n handbreedte dik en die rand is gevorm soos ’n beker of die kelk van ’n lelie. Dit kon 66 kiloliter water bevat.

6 Hy het ook tien waskomme gemaak waarin die offergereedskap gewas kon word, vyf was aan die suidekant en vyf aan die noordekant. Die priesters het hulleself in die waterbak gewas.

7 Daarna het Salomo tien goue kandelare gegiet volgens die voorskrifte wat reeds gegee is, en dit in die tempel gesit. Vyf van hulle is teen die suidelike muur neergesit, en vyf teen die noordelike muur.

8 Hy het ook tien tafels gemaak en dit in die tempel neergesit. Vyf was teen die suidelike muur en vyf teen die noordelike muur. Daarna het hy 100 goue komme gemaak.

9 Salomo het ook ’n binnehof vir die priesters gebou, asook die groot voorhof. Verder het hy deure vir die ingange tot die binneste voorhof gemaak en dit met brons gedek.

10 Die waterbak is aan die suidekant naby die suidoostelike hoek van die tempel neergesit.

11 Huram het ook die nodige potte, skoppe en komme gemaak.

Eindelik het Huram alles voltooi wat koning Salomo aan hom opgedra het om vir die tempel van God te maak:

12 twee pilare, met die komvormige pilaarkrone bo-op die pilare, twee kettings soos ’n krans waarmee die bopunte van die pilare verfraai is,

13 400 granate wat aan die kettings aan die kapitele gehang is (twee rye granate vir elke ketting wat om die kapitele en bo-op die pilare gehang is),

14 die waentjies vir die waskomme,

15 die waterbak en die beeste daaronder,

16 die potte, skoppe en vurke, en al die tempelgereedskap. Hiram het al hierdie voorwerpe vir die tempel van die Here van gepoleerde brons gemaak net soos koning Salomo gevra het.

17 Die koning het dit in kleivorms in die Jordaanvallei tussen Sukkot en Saretan gegiet.

18 Daar is so baie brons gebruik vir die toebehore wat Salomo gemaak het dat die gewig daarvan nie bereken kon word nie.

19 So het Salomo al die toebehore vir die tempel van God gemaak: die goue altaar, die tafels vir die offerbrood,

20 die kandelare met hulle lampe van suiwer goud wat voor die binneste heiligdom aan die brand gehou moet word,

21 die blomkelke, lampe en pithouers, alles van suiwer goud,

22 die snuiters, komme vir besprinkeling, skottels en vuurpanne, alles van suiwer goud, die deure vir die toegang tot die binnedeure na die heiligdom en die Allerheiligste en die deure na die voorste heiligdom, alles met goud oorgetrek.

2 KRONIEKE 5

Die ark word tempel toe gebring

1 Nadat Salomo al die werksaamhede in verband met die bou van die Here se tempel afgehandel het, het hy die gewyde voorwerpe van sy pa, koning Dawid, gebring. Dit het al die silwer en goue toebehore ingesluit wat in die skatkamer van die tempel van God bewaar is.

2 Salomo het toe die leiers van al die stamme en families van Israel opgeroep om in Jerusalem bymekaar te kom. Hulle moes die verbondsark van die Here uit Sion, die Dawidstad, bring.

3 Hulle het almal voor die koning bymekaargekom tydens die jaarlikse feesdag in die sewende maand.

4 Toe al die leiers van Israel aangekom het, het die Leviete die ark opgetel

5 en saam met die tent van ontmoeting, asook al die heilige toebehore daarvan, gedra. Die Levitiese priesters het dit alles na die tempel toe gebring.

6 Koning Salomo en die hele volksvergadering van Israel wat by hom bymekaargekom het, het skape en beeste voor die ark geoffer. Dit was so baie dat dit nie getel kon word nie.

7 Daarna het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste heiligdom, die Allerheiligste, gebring en dit onder die gerubs neergesit.

8 Die gerubs het hulle vlerke oor die plek van die ark gesprei en die ark met sy drahoute oordek.

9 Hierdie drahoute was so lank dat hulle punte vanaf die tempel se hoofingang, die heilige plek, gesien kon word, maar nie van buite af nie. Dit is tot vandag toe steeds daar.

10 Daar was niks in die ark nie behalwe die twee plat klippe wat Moses by die Horebberg daarin gesit het. Dit was toe die Here ’n verbond met sy volk Israel gesluit het ná hulle uit Egipte vertrek het.

11 Toe het die priesters die heiligdom verlaat. Al die priesters teenwoordig het hulleself gereinig, of hulle daardie dag aan diens was of nie.

12 Die Leviete wat musikante was, Asaf, Heman, Jedutun, saam met hulle seuns en broers, het oos van die altaar gestaan. Hulle het fyn linneklere aangehad en op simbale, harpe en liere gespeel. By hulle was daar 120 priesters wat op trompette geblaas het.

13 Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met lofsang en dank aan die Here. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die Here geprys:

“Hy is goed!

Sy troue liefde duur vir altyd!”

Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die Here gevul.

14 Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die Here het die tempel van God gevul.

2 KRONIEKE 6

Salomo seën die volk

1 Toe het Salomo gebid:

“O Here, U het gesê

dat U in duisternis woon.

2 Daarom het ek vir U

’n glorieryke tempel gebou,

waar U vir altyd kan woon!”

3 Daarna het die koning hom gedraai na die hele vergadering van Israel wat voor hom gestaan het en hulle soos volg geseën:

4 “Geseënd is die Here die God van Israel, wat getrou was aan die belofte wat Hy aan my pa gemaak het. Hy het vir my pa gesê:

5 ‘Sedert die dag toe Ek my volk uit Egipte gebring het, het Ek nooit ’n stad gekies onder die stamme van Israel om te dien as die plek waar ’n tempel tot eer van my Naam opgerig moet word nie. Nog minder het Ek ’n koning gekies om my volk Israel te lei.

6 Maar nou het Ek Jerusalem gekies as daardie stad, en Dawid as daardie koning oor my volk Israel.’”

7 Salomo het verder gesê: “My pa Dawid wou hierdie tempel tot eer van die Naam van die Here die God van Israel bou.

8 Maar die Here het vir hom gesê: ‘Dit is reg dat jy ’n tempel tot eer van my Naam wil bou,

9 maar jy sal dit nie doen nie. In jou plek sal een van jou seuns dit bou.’

10 “En nou het die Here gedoen wat Hy beloof het, want ek het koning geword oor Israel in die plek van my pa. Dis tot eer van die Naam van die Here, die God van Israel, dat ek hierdie tempel gebou het.

11 Ek het die verbondsark hier gesit, en in die verbondsark is die verbond wat die Here met die volk van Israel gesluit het.”

Salomo se wydingsgebed

12 Daarna het Salomo met sy hande uitgestrek gaan staan voor die altaar van die Here en voor die hele gemeente van Israel.

13 Hy het ’n bronsplatform van twee en ’n half meter lank, twee en ’n half meter breed en een en ’n half meter hoog gemaak. Dit het in die middel van die voorhof van die tempel gestaan. Hy het op die platform voor die hele gemeente gestaan, en gekniel met sy hande hemelwaarts uitgestrek.

14 Toe het hy gebid: “Here, God van Israel, in die hemel of op die hele aarde is daar geen God soos U nie. U bly getrou aan u verbond en het u troue liefde betoon aan almal wat U heelhartig met ywer dien.

15 U het u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, nagekom. U het die belofte met u eie mond gemaak, en vandag het U dit met u eie hande vervul.

16 En nou, Here, God van Israel, bevestig tog u beloftes aan u dienaar, my pa Dawid. Want U het vir hom gesê: ‘As jou afstammelinge voor My lewe soos jy gedoen het, sal hulle altyd oor Israel regeer.’

17 Here God van Israel, laat tog hierdie beloftes aan u dienaar, my pa Dawid, vervul word.

18 “Maar kan dit moontlik wees dat God op die aarde tussen mense sou woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie. Wat nog te sê hierdie tempel wat ek vir U gebou het!

19 Luister tog na my gebed en smeking, Here my God. Luister na die roepstem en die gebed wat u dienaar tot U rig.

20 Hou tog dag en nag ’n wakende oog oor hierdie tempel. Dis die plek waarvan U gesê het dat u Naam daar sal woon sodat U altyd die gebed sal hoor wat ek na hierdie plek toe rig.

21 Luister tog na die smekinge wat ek en u volk Israel na hierdie plek toe sal bid. Mag U ons hoor in die hemel waar U woon, en wanneer U hoor, vergewe tog.

22 “As ’n persoon iemand anders kwaad aandoen en voor die altaar in hierdie tempel ’n eed van onskuld moet aflê,

23 hoor dan uit die hemel en oordeel tussen u dienaars, die klaer en die aangeklaagde. Straf die skuldige persoon en spreek die onskuldige vry soos hy verdien.

24 “As u volk deur hulle vyande verslaan word omdat hulle teen U gesondig het, en as hulle dan na U toe terugdraai en u Naam bely en hier in die tempel tot U bid en smeek,

25 luister dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u volk Israel en bring hulle terug na hierdie land wat U aan hulle en hulle voorouers gegee het.

26 “As die hemele toegesluit bly en daar geen reën val nie omdat u volk teen U gesondig het; en as hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely, en hulle bekeer van hulle sondes omdat U hulle gestraf het,

27 hoor dan tog uit die hemel en vergewe die sondes van u dienaars, u volk Israel. Leer hulle om te doen wat reg is, en stuur die reën oor die land wat U aan u volk as eiendom gegee het.

28 “Indien daar ’n hongersnood in die land kom, of pes in die land uitbreek, of heuningdou of skimmel, sprinkaanplae en voetgangers, of indien die vyande van u volk die stede beleër, watter ramp of siekte hulle ook al mag tref,

29 luister dan. Luister na die gebed en die smeking van enkelinge of die hele volk Israel, soos elkeen sy behoefte bekendmaak en die hande na hierdie tempel toe uitstrek.

30 Luister dan uit die hemel waar U is en vergewe. U wat elke mens se binnekant ken, gee tog aan elkeen na verdienste, want net U weet wat in die mens se gemoed aangaan.

31 Dan sal hulle aan U gehoorsaam wees solank hulle woon in die land wat U aan ons voorouers gegee het.

32 “Ook as vreemdelinge wat nie van u volk Israel is nie, van U hoor en uit verre lande kom ter wille van u groot Naam, u kragtige dade en u mag, as hulle na hierdie tempel toe bid,

33 hoor dan uit die hemel waar U woon en gee dit wat hulle vra. Dan sal al die mense van die aarde U leer ken en eerbied vir U hê net soos u eie volk Israel. Hulle sal ook weet dat hierdie tempel wat ek gebou het aan u Naam gewy is.

34 “As u volk op u bevel uittrek om oorlog teen hulle vyande te maak en hulle tot U bid in die rigting van hierdie stad wat U uitgekies het en na hierdie tempel wat ek vir u Naam gebou het,

35 luister dan in die hemel na hulle gebede en smekinge en gee aan hulle die oorwinning.

36 “As hulle teen U sondig – want wie sondig nie – kan U ontevrede word en hulle oorgee aan hulle vyande wat hulle as gevangenes wegvoer na ’n vreemde land, ver of naby.

37 As hulle egter in daardie land van gevangenskap dalk in berou hulle tot U bekeer en tot U smeek: ‘Ons het oortree, ons het gesondig, ons het kwaad gedoen,’

38 luister tog na hierdie gebede. As hulle heelhartig en in opregtheid hulle tot U bekeer in die land van gevangenskap; as hulle tot U bid in die rigting van die land wat U aan hulle voorvaders gegee het en van hierdie stad wat U gekies het, en van hierdie tempel wat ek tot eer van u Naam gebou het,

39 luister dan tog na hulle gebede uit u hemel waar U woon, en vergewe u volk wat teen U gesondig het.

40 “My God, kyk tog, en luister aandagtig na al hulle gebede in hierdie plek.

41 “En nou, Here God,

kom na u rusplek,

U en u magtige ark.

Mag u priesters, Here God,

geklee wees met redding,

en mag u gelowiges

juig in u goedheid.

42 Here God, moenie u gesalfde

verwerp nie.

Onthou tog u onfeilbare liefde

vir u dienaar Dawid.”

2 KRONIEKE 7

Die inwyding van die tempel

1 Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander offers verbrand. Die heerlikheid van die Here het die tempel gevul.

2 Die priesters kon nie die tempel van die Here binnegaan nie as gevolg van die glansryke teenwoordigheid van die Here.

3 Toe die hele volk van Israel sien hoe die vuur en die heerlikheid van die Here op die tempel neerdaal, het hulle met die gesig op die grond neergeval en die Here aanbid en geprys:

“Hy is goed!

Sy goedheid duur vir altyd!”

4 Die koning en al die mense het toe offerandes aan die Here geoffer.

5 Koning Salomo het ’n offerande van 22 000 beeste en 120 000 skape geoffer. So het die koning en die hele volk die tempel van God ingewy.

6 Die priesters het hulle aangewese plekke ingeneem, en so ook die Leviete wat gesing het: “Sy goedheid duur vir altyd!” Hulle het die sang begelei met musikale instrumente wat Dawid gemaak het om die Here te prys. Regoor die Leviete het die priesters trompette geblaas terwyl die hele Israel toegekyk het.

7 Daarna het Salomo die sentrale deel van die buitenste voorhof voor die Here se tempel gewy sodat hulle brandoffers en die vet van die maaltydoffer daar kon offer. Op die bronsaltaar wat hy gebou het, was daar nie plek vir die brandoffers, graanoffers en offervet nie.

8 Sewe dae lank het hulle by daardie geleentheid feesgevier. Daar was groot skares uit al die stamme van Israel. Hulle was van so ver as Lebo-Hamat in die noorde tot by die Egiptespruit in die suide.

9 Op die agtste dag het hulle ’n feestelike byeenkoms gereël, want hulle het die wyding van die altaar sewe dae lank gevier. Daarna het hulle vir nog sewe dae die Huttefees gevier.

10 Teen die einde van die feesvierings het Salomo die mense huis toe gestuur, op die drie en twintigste dag van die sewende maand. Hulle was almal bly en vol vreugde omdat die Here so goed was vir Dawid, Salomo en sy volk Israel.

Die Here antwoord Salomo

11 So het Salomo die tempel van die Here, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel.

12 Een nag het die Here aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word.

13 Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur.

14 Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak.

15 Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word,

16 want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.

17 “Wat jou betref: As jy My volg soos jou pa Dawid, doen wat Ek beveel het en al my voorskrifte, gebooie en bepalings gehoorsaam,

18 sal Ek toesien dat niemand jou koninklike troon wegneem nie. Dit is dieselfde belofte wat Ek vir jou pa Dawid gegee het toe Ek gesê het: ‘Jy sal nooit sonder ’n opvolger wees wat oor Israel regeer nie.’

19 “Maar as julle My verlaat en ongehoorsaam is aan my gebooie en die voorskrifte wat Ek vir julle gegee het, en as julle ander gode dien en hulle aanbid,

20 dan sal Ek die volk Israel ontwortel uit hierdie land van My wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel verwerp wat Ek afgesonder het om my Naam te eer. Ek sal dit tot bespotting en minagting onder die volke maak.

21 En hoewel hierdie tempel nou indrukwekkend is, sal almal wat verbykom, verskrik wees. Hulle sal vra: ‘Hoekom het die Here sulke verskriklike dinge aan hierdie land en hierdie tempel gedoen?’

22 En die antwoord sal wees: ‘Omdat sy volk die Here, die God van hulle voorouers wat hulle uit Egipte gebring het, laat vaar het en eerder ander gode aangehang, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dit is waarom Hy al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”

2 KRONIEKE 8

Die baie prestasies van Salomo

1 Dit was al twintig jaar sedert Salomo koning geword het. Die groot bouprojekte van die Here se tempel en sy koninklike paleis was afgehandel.

2 Salomo het toe sy aandag gewy aan die herbou van die dorpe wat koning Hiram vir hom gegee het, en Israeliete daar gevestig.

3 In hierdie tyd het Salomo teen die stad Hamat-Soba geveg en dit verower.

4 Hy het Tadmor in die woestyn herbou en ook baie dorpe in die omgewing van Hamat as voorraadstede.

5 Hy het die stede van Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder versterk, die mure herbou en hekke by die poorte aangebring.

6 Hy het in hierdie tyd ook Baälat en ander voorraadstede herbou, en stede gebou waar sy strydwaens en perde aangehou kon word. Hy het al die beplande bouwerk in Jerusalem, die Libanon en deur sy hele ryk voltooi.

7 Daar was nog mense in die land wat nie Israeliete was nie, soos die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete.

8 Hulle was afstammelinge van die volke wat Israel nie heeltemal uitgeroei het nie. Salomo het hulle opgeroep vir dwangarbeid, soos dit vandag nog is.

9 Maar Salomo het niemand uit die Israeliete as slawe gebruik nie. Hy het hulle aangestel om te dien as soldate, offisiere in sy leër, bevelvoerders oor sy strydwaens, en sy berede mag.

10 Koning Salomo het ook 250 van hulle aangestel om toesig te hou oor die verskillende projekte.

11 Salomo het sy vrou, die dogter van die farao, uit die Dawidstad laat verhuis na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou kan nie in koning Dawid van Israel se paleis woon nie, want dit is heilige grond omdat die ark van die Here daar gestaan het.”

12 Toe het Salomo brandoffers vir die Here gebring op die altaar van die Here wat hy in die voorportaal van die ingang na die tempel toe gebou het.

13 Die offerandes het van dag tot dag gewissel volgens die opdragte wat Moses gegee het. Offers is gewy op die Sabbatte, by nuwemaan en die drie jaarlikse feeste, naamlik die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees.

14 Hy het die priesters se take bepaal volgens die voorskrifte van sy pa Dawid. Hy het ook die Leviete beveel om volgens voorskrifte die volk te lei in die lofprysings. Hulle moes ook die priesters bystaan in hulle daaglikse pligte. Hy het ook die poortwagters volgens hulle afdelings aangestel soos Dawid, die man van God, beveel het.

15 Salomo het in geen opsig afgewyk van Dawid se voorskrifte aangaande die priesters, die Leviete en dié in bevel van die voorraadkamers nie.

16 So het Salomo verseker dat al die werk in verband met die tempel van die Here uitgevoer is vanaf die dag toe die fondamente van die tempel van die Here gelê is totdat dit voltooi is.

17 Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, hawestede aan die kus van Edom, gegaan.

18 Hiram het vir hom skepe, beman deur sy eie ervare seemanne, gestuur. Hulle het saam met Salomo se manskappe na die land Ofir gevaar. Hulle het byna vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo daarvandaan teruggebring.

2 KRONIEKE 9

Die besoek van die koningin van

Skeba

1 Toe die koningin van Skeba van Salomo se aansien hoor, het sy Jerusalem toe gekom om hom met moeilike vrae te toets. Sy het gekom met ’n groot gevolg en kamele gelaai met speserye, baie goud en kosbare juwele. Toe sy Salomo ontmoet, het hulle oor alles gepraat wat sy op die hart gehad het.

2 Salomo het al haar vrae beantwoord en daar was niks vir hom te moeilik om vir haar te verduidelik nie.

3 Toe die koningin van Skeba besef hoe wys Salomo was, en toe sy die tempel sien wat hy gebou het,

4 was sy uit die veld geslaan. Sy was ook verbaas oor die kos op sy tafels, die bediening en kleredrag van sy amptenare, die skinkers en hulle kleredrag, en die brandoffers wat Salomo by die tempel van die Here gebring het.

5 Sy sê toe vir Salomo: “Alles wat ek in my land van jou prestasies en wysheid gehoor het, is waar!

6 Ek kon dit nie glo totdat ek hier aangekom het en dit met my eie oë gesien het nie. Trouens, die helfte daarvan is my nie vertel nie. Jou wysheid is baie meer as wat aan my meegedeel is.

7 Hoe bevoorreg is jou mense! Wat ’n voorreg vir jou amptenare om dag na dag hier te wees om te luister na jou wysheid!

8 Mag die Here jou God geloof word! Hy verbly Hom in jou en het jou op die troon gesit om namens Hom te regeer. Dis omdat jou God vir Israel so liefhet en wil hê dat hierdie koninkryk vir altyd bestaan dat Hy jou koning gemaak het oor hulle sodat jy met reg en geregtigheid kan regeer.”

9 Toe gee sy vir die koning ’n geskenk van meer as vier ton goud en baie kosbare speserye, asook waardevolle juwele. Nooit vantevore was daar speserye van hierdie gehalte soos dié wat die koningin van Skeba vir koning Salomo gegee het nie.

10 (Toe die bemanning van Hiram en Salomo goud uit Ofir gebring het, het hulle ook ryk vragte van jenewerhout en kosbare juwele saamgebring.

11 Die koning het die jenewerhout gebruik om trappe vir die tempel van die Here en die koninklike paleis te maak, en ook om harpe en liere vir die musikante te maak. Daar was nooit vantevore sulke pragtige musiekinstrumente in Juda nie.)

12 Koning Salomo het vir die koningin van Skeba gegee wat sy ook al gevra het. Dit was geskenke van groter waarde as wat sy vir hom gebring het. Daarna het sy en haar volgelinge na hulle eie land toe vertrek.

Salomo se rykdom en prag

13 Salomo se jaarlikse inkomste was omtrent 23 ton goud.

14 Dit het nie die addisionele inkomste ingesluit wat hy van reisigers en handelaars ontvang het nie. Al die konings van Arabië en die Israelitiese goewerneurs het ook goud en silwer aan Salomo betaal.

15 Koning Salomo het 200 groot skilde van bladgoud gemaak. Hy het ongeveer sewe kilogram goud vir elkeen gebruik.

16 Hy het ook 300 kleiner skilde van bladgoud gemaak en het ongeveer drie en ’n half kilogram goud vir elkeen gebruik. Die koning het hierdie skilde in die Libanonsbosgebou uitgestal.

17 Die koning het ook ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

18 Die troon het ses trappe gehad en die voetbank van goud was aan die troon vasgeheg. Aan albei kante van die troon was daar armleunings met ’n beeld van ’n leeu wat langsaan staan.

19 Twaalf beelde van leeus het op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant. Daar is in geen ander koninkryk so iets gemaak nie.

20 Al koning Salomo se drinkbekers was van goud. So ook al die gebruiksartikels in die Libanonsbosgebou. Niks is van silwer gemaak nie omdat dit in Salomo se tyd geen waarde gehad het nie.

21 Die koning het ’n handelsvloot gehad wat beman is met matrose wat Hiram gestuur het. Elke drie jaar het hierdie Tarsisvloot teruggekeer, belaai met goud, silwer, ivoor, ape en bobbejane.

22 Koning Salomo het al die konings op aarde oortref in rykdom en wysheid.

23 Al die konings van die aarde wou hom besoek om die wysheid te hoor wat God vir hom gegee het.

24 Jaar na jaar het elkeen wat hom besoek het vir hom geskenke van silwer en goud, klere, wapens, speserye, perde en muile gebring.

25 Salomo het 4 000 stalle vir perde en strydwaens gehad en 12 000 perderuiters. Hy het hulle in die strydwadorpe aangehou en ook by die koning in Jerusalem.

26 Hy het oor al die konings geheers, vanaf die Eufraatrivier tot by die land van die Filistyne en die grens van Egipte.

27 Silwer was so volop soos klippe in Jerusalem en seders so algemeen soos wildevyebome in die Laeveld.

28 Sy perde het hy uit Egipte en baie ander lande ingevoer.

Samevatting van Salomo se

bewind

29 Die res van die gebeurtenisse tydens Salomo se bewind, van die begin tot die einde, is opgeteken inDie vertellings van die profeet Natan,inDie profesieë van Agija van Silo, en inDie visioene van die siener Jedioor Jerobeam seun van Nebat.

30 Salomo het 40 jaar in Jerusalem oor die hele Israel geheers.

31 Toe hy sterf, is hy begrawe in die familiegraf in die Dawidstad. Sy seun Rehabeam het in sy plek koning geword.

2 KRONIEKE 10

Die noordelike stamme kom in

opstand

1 Rehabeam het na Sigem toe gegaan waar die hele Israel bymekaargekom het om hom tot koning te kroon.

2 Toe Jerobeam, seun van Nebat, van Salomo se dood hoor, het hy uit Egipte teruggekeer. Hy het daarheen gevlug omdat hy bang was vir koning Salomo.

3 Hulle het Jerobeam laat kom en hy en die leiers van Israel het saam na Rehabeam gegaan en gesê:

4 “U pa het ons ’n swaar las laat dra. Verminder tog die arbeidslas wat u pa op ons gelê het. Dan sal ons u getroue onderdane bly.”

5 Rehabeam het geantwoord: “Kom oor drie dae terug na my toe.” Die volk het toe huis toe gegaan.

6 Daarna het koning Rehabeam na die ouer manne, raadgewers van sy pa Salomo, gegaan. “Wat is julle raad?” vra hy. “Hoe moet ek hierdie mense antwoord?”

7 Hulle het vir hom gesê: “As u vandag na die volk luister en hulle tevrede stel met ’n gunstige antwoord, sal hulle altyd u onderdane bly.”

8 Maar Rehabeam het die raad van die ouer mense verwerp en vir die jong mans wat saam met hom grootgeword het en nou in sy diens was, gevra:

9 “Wat dink julle moet ons hierdie mense antwoord? Hulle het gevra ek moet die laste wat my pa op hulle gelê het, ligter maak.”

10 Die jong manne wat saam met hom grootgeword het, het geantwoord: “Dit is wat u vir die mense wat met u gepraat het om hulle las te verlig, moet sê:

‘My pinkie is dikker

as my pa se middellyf.

11 My pa het ’n swaar las

op julle gelê,

maar ek gaan die las

nog swaarder maak.

My pa het julle

met swepe geslaan,

maar ek sal

skerpioene gebruik!’”

12 Soos die koning gevra het, het die hele volk en Jerobeam drie dae later teruggekom om te hoor wat Rehabeam se besluit was.

13 Maar Rehabeam het hardvogtig met hulle gepraat, want hy het die raad van die ouer raadsmanne verwerp

14 en die raad van die jong mans aanvaar. Hy het vir die mense gesê:

“My pa het ’n swaar las

op julle gelê,

maar ek gaan die las

nog swaarder maak!

My pa het julle

met swepe geslaan,

maar ek sal

skerpioene gebruik!”

15 Die koning het nie geluister na die mense se eise nie. Hierdie verandering was die wil van God, want dit was ’n vervulling van die Here se profesie aan Jerobeam, seun van Nebat, deur die profeet Agija van Silo.

16 Toe die hele Israel besef dat die koning hulle versoek verwerp het, het hulle vir hom geskree:

“Weg met Dawid

en sy koningshuis!

In die seun van Isai

het ons geen aandeel nie!

Gaan terug na julle wonings toe,

Israel!

Sorg nou vir julleself,

huis van Dawid!”

Die hele Israel het toe teruggegaan na hulle huise toe.

17 Maar Rehabeam was koning oor die Israeliete wat in die stede van Juda gewoon het.

18 Koning Rehabeam stuur toe vir Hadoram, wat in bevel van die dwangarbeiders was, om orde te bring. Maar die Israeliete het hom gestenig. Koning Rehabeam kon net betyds in sy strydwa kom en Jerusalem toe vlug.

19 Tot vandag toe nog weier die noordelike stamme van Israel om deur ’n afstammeling van Dawid regeer te word.