2 KORINTIËRS 11

Pas op vir die vals apostels wat

’n ander Jesus kom verkondig!

1 Ek wil hê dat julle geduldig met my moet wees as ek ’n bietjie dwaasheid kwytraak. Verdra my tog maar, asseblief!

2 Ek is jaloers oor julle eer, want julle is soos ’n jong meisie wat ek aan net een bruidegom toegesê het, en wat ek daarom vlekkeloos aan Christus wil oorhandig.

3 Ek is tog bang dat julle gedagtes weggevoer sal word van julle opregte en suiwer toewyding aan Christus, net soos die slang Eva met sy listigheid verlei het.

4 As iemand ’n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, of ’n ander Gees of ’n ander evangelie aanvaar as dié wat julle van ons ontvang het, is julle só maklik tevrede daarmee.

5 Ek reken dat ek niks vir daardie superapostels terugstaan nie.

6 Al is ons dalk nie opgelei in die redenaarskuns nie – wat kennis betref, staan ons geensins terug nie! Dit het ons, toe ons by julle was, by elke geleentheid duidelik laat blyk.

7 Het ek miskien ’n fout gemaak deur myself te verneder om julle gees op te hef omdat ek God se Goeie Nuus gratis aan julle gepreek het?

8 Ek het eintlik ander gemeentes beroof deur van hulle vergoeding te aanvaar om julle te bedien.

9 Toe ek by julle was en ’n tekort ondervind het, het ek vir niemand ’n las geword nie, want die broers wat van Masedonië af gekom het, het ten volle aangevul wat ek kortgekom het. Ek het my weerhou en sal my ook verder daarvan weerhou om in enige opsig vir julle ’n las te word.

10 Die waarheid van Christus leef in my. Hierdie is vir my ’n saak van trots en ek sal nie toelaat dat dit my in die omgewing van Agaje ontneem word nie.

11 Waarom nie? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dat ek julle innig liefhet!

12 Wat ek doen, sal ek aanhou doen. Daarmee sal ek die aanleiding afsny van dié mense wat ’n geleentheid soek om as ons gelykes bevind te word in die saak waaroor hulle spog.

13 Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.

14 Geen wonder nie! Satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is.

15 Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Apostelskap het vir Paulus baie

ontberings meegebring

16 Ek sê weer ’n keer: Niemand moet dink dat ek die kluts skoon kwyt is nie. Of so nie, beskou my maar as dwaas sodat ek ook ’n bietjie kan grootpraat.

17 Wat ek nou gaan sê, kom nie van die Here nie. Nee, in hierdie saak praat ek regtig soos ’n dwaas in die vertroue dat ek wel rede het om te spog.

18 Aangesien daar baie mense is wat op menslike gronde spog, gaan ek ook nou spog.

19 Julle wat só slim is, verdra mos geredelik die dwase.

20 Julle verdra dit as iemand julle op sleeptou neem, as iemand julle uitbuit, as iemand julle inloop, as iemand grootmeneer speel, as iemand julle trompop beledig.

21 Ek sê dit tot my “skande” dat ons te “swak” daarvoor was!

Nou praat ek regtig soos ’n dwaas: As iemand dit wil waag om te spog, ek kan nog meer spog.

22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook.

23 Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate; wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels.

24 Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;

25 drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ’n dag en ’n nag op die oop see oorleef.

26 Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.

27 Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.

28 Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.

29 Watter medegelowige is swak, en ek voel nie saam swak nie? Wie word tot struikeling gebring, en ek raak nie uitermate ontsteld nie?

30 As daar dan grootgepraat móét word, sal ek spog, maar dan veel eerder oor my swakhede.

31 Die God en Vader van die Here Jesus weet – aan Hom kom die lof toe tot in ewigheid – dat ek nie ’n leuen vertel nie.

32 Toe ek in Damaskus was, het die goewerneur van koning Aretas die stad Damaskus laat bewaak om my te arresteer.

33 Deur ’n venster in die muur is ek in ’n mandjie neergelaat en het ek sy hande ontglip.

2 KORINTIËRS 12

God se genade is vir Paulus

genoeg

1 As ek dan moet grootpraat – al is dit nou wel nie nuttig nie, sal ek uitkom by gesigte en openbarings deur die Here.

2 Ek ken ’n man wat in ’n hegte verhouding met Christus staan. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel. Of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, maar God weet.

3 En ek weet ook dat hierdie man – of dit in die liggaam was of buite die liggaam, weet ek nie, God weet –

4 weggeruk is na die Paradys toe, en dat hy daar dinge gehoor het wat so verhewe is dat dit vir ’n mens onmoontlik is om dit in woorde uit te druk.

5 Oor hierdie man sal ek spog, maar oor myself sal ek nie spog nie, behalwe oor my swakhede.

6 Al sou ek ook wou spog, sou ek nie dwaas wees nie, want dan sou ek die waarheid praat. Maar ek weerhou my daarvan sodat niemand méér oor my sal sê as wat hy van my sien en van my hoor nie,

7 selfs nie as gevolg van die buitengewone openbarings nie.

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my te kasty.

8 Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.

9 Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk.

10 Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.

Paulus is diep bekommerd oor

die Korintiërs

11 Ek het nou eintlik dwaas geword, maar julle het my daartoe gedwing. Want ek moes eintlik deur julle aanbeveel gewees het. Al is ek ook niks, staan ek niks agter vir daardie danige superapostels nie.

12 Die kentekens van ’n apostel het ek oor en oor uitgewys toe ek by julle was: deur die doen van tekens, wonders en kragtige dade.

13 In watter opsig is julle slegter daaraan toe as die ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle tot ’n las was nie? Vergewe my hierdie “onreg”!

14 Kyk, ek is nou vir die derde keer gereed om na julle toe te kom, en ek sal nie ’n las wees nie: ek is nie agter julle goed aan nie, maar julle self. Want dit is nie dat die kinders vir hulle ouers moet sorg nie, maar die ouers vir die kinders.

15 Ek sou baie graag alles wou spandeer vir julle lewe, ja, ook myself. Aangesien ek julle uitermate liefhet, hoe werk dit dat julle my dan minder liefhet?

16 Laat dit vasstaan – ek was regtig nie vir julle ’n las nie. Of meen julle dalk ek was te uitgeslape en het julle met ’n slap riem gevang? Hoe?

17 Het ek julle miskien mislei deur een van die mense wat ek na julle toe gestuur het?

18 Ek het vir Titus gevra en nog ’n broer saamgestuur. Het Titus julle dan gekul? Is ons optrede en styl dan nie in dieselfde gees nie; loop ons dan nie in dieselfde spore nie?

19 Julle dink seker al lankal dat ons hierdie dinge uit blote selfverdediging sê. Dis hoegenaamd nie die geval nie! Ons praat openlik oor hierdie dinge met God as ons getuie en vanuit ons hegte verhouding met Christus! Alles wat ons sê, geliefdes, is ter wille van julle opbou.

20 Ek is bang dat wanneer ek kom, ek julle nie so sal aantref soos ek julle graag wil hê nie, en dat ek ook nie deur julle so aangetref sal word soos julle my graag sal wil hê nie. Ek is veral bang vir twis, naywer, botsings, selfsugtige ambisie, kwaadstokery, geskinder, verwaandheid en wanordelikheid.

21 Ek is ook bang dat wanneer ek weer kom, my God my by julle sal verneder en dat ek sal treur oor baie wat al lank sonde doen en wat nie oor hulle onreinheid, seksuele vergrype en losbandigheid berou het nie.

2 KORINTIËRS 13

Saam met Christus leef

gelowiges uit die krag van God

1 Dit is die derde keer dat ek nou na julle toe kom. “In die mond van twee of drie getuies staan elke woord vas.”

2 Ek het dit vroeër gesê toe ek julle die tweede keer besoek het, en ek herhaal dit nou weer terwyl ek nog afwesig is – ek sê dit vir dié wat al vroeër sonde gedoen het, en ook vir die ander: As ek nou weer kom, sal ek niemand ontsien nie.

3 Julle soek mos ’n bewys dat Christus deur my praat. In werklikheid is Hy nie swak nie, maar betoon Hy Hom kragtig teenoor julle,

4 want al is Hy gekruisig in menslike swakheid, leef Hy uit die krag van God. Want ons is swak saam met Hom, maar ons sal ook saam met Hom uit die krag van God lewe. Dit sal duidelik blyk wanneer ons by julle is.

5 Ondersoek julleself of julle in ’n egte geloofsverhouding met Christus staan. Toets julleself. As julle nie daarvan oortuig is dat Christus in julle woon nie, het julle die toets nie geslaag nie.

6 Ek hoop julle besef dat ons wel die toets geslaag het.

7 Ons bid tot God dat julle niks slegs sal doen nie. Ons bid dit, nie om daarmee bewys te lewer dat ons die toets geslaag het nie. Ons bid dat julle die goeie sal doen, selfs al sou dit lyk of ons die toets nie geslaag het nie.

8 Want ons vermag niks teen die waarheid nie, maar net ten gunste van die waarheid.

9 Ons is maar te bly wanneer ons swak is, solank julle maar net sterk is. Waarvoor ons bid, is dat julle julle geestelik sal regruk.

10 Ek skryf hierdie dinge terwyl ek nog afwesig is sodat wanneer ek by julle is, ek nie nodig sal hê om met die gesag wat die Here aan my gegee het – om op te bou en nie om af te breek nie – streng teenoor julle op te tree nie.

11 Verder, broers en susters, wees bly, ruk julle reg, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle bly!

12 Groet mekaar met die soen van Christelike liefde. Al God se mense stuur aan julle groete.

13 Mag die genade van die Here Jesus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met julle almal wees.