2 KORINTIËRS 1

1 Paulus en Timoteus skryf

aan die gemeente in

Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek ’n apostel van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my.

Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte en aan al God se mense wat in die hele Agaje woon.

2 Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees.

Die Vader van barmhartigheid

bemoedig mense in elke opsig

3 God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig.

4 In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het.

5 Net soos ons ’n oorvloed ontberings ter wille van Christus deurmaak, só beleef ons ook oorvloedige bemoediging deur Christus se bemiddeling.

6 As ons dus swaarkry, is dit ter wille van julle bemoediging en verlossing. Want as ons God se bystand beleef, is dit sodat ons julle weer kan bemoedig. So kan julle met volharding die ontberings trotseer wat ons ook moet deurstaan.

7 En ons verwagting wat julle betref, staan op stewige bene: Ons weet dat net soos julle deel het aan die ontberings, julle ook só deel het aan die bemoediging.

8 Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe.

9 Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek.

10 Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red.

11 Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ’n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank.

Paulus wil die Korintiërs nie

weer hartseer maak nie

12 Ons trots bestaan daarin dat ons gewete saam getuig dat ons teenoor die wêreld, maar in die besonder teenoor julle, opgetree het met die erns en egtheid wat van God af kom. Ons het staatgemaak op die onverdiende goedheid van God en nie op ons eie menslike insig nie.

13 Ons skryf aan julle niks wat julle nie self lees of verstaan nie. Ek hoop net dat julle ten volle sal verstaan

14 waar julle ons tot nou toe net gedeeltelik verstaan het. Op die dag wanneer ons Here Jesus kom, sal ons trots wees op julle, net soos julle op ons trots sal wees.

15 Met hierdie oortuiging het ek al vroeër beplan om na julle toe te kom sodat julle ’n dubbele geskenk kon ontvang.

16 Ek wou op die deurreis na Masedonië by julle aandoen en weer ’n keer op die terugreis van Masedonië af, om dan met julle hulp verder na Judea toe gestuur te word.

17 Was ek miskien wispelturig toe ek hierdie plan gemaak het? Of doen ek my beplanning volgens menslike oorwegings, met die gevolg dat dit by my gaan oor ’n “ja” as ek eintlik ’n “nee” bedoel?

18 God is die betroubaarheid self. Hy weet dat ons woord teenoor julle nie “ja” en terselfdertyd “nee” is nie.

19 Want die Seun van God, Christus Jesus, wat deur ons – dit is deur my, Silvanus en Timoteus – onder julle verkondig is, is nie terselfdertyd “ja” en “nee” nie. In Hom het God se “ja” plaasgevind,

20 want al die baie beloftes van God in Christus Jesus is ’n volmondige “ja”. Daarom is dit ook deur Christus se toedoen dat ons, om God te verheerlik, daarop “Amen” sê.

21 Hy het ons saam met julle op Christus as fondament geplaas, terwyl God ons ook vir Hom afgesonder het.

22 Hy het ons as sy eiendom gemerk en die Gees in ons harte gevestig as deposito wat as waarborg dien van alles wat Hy nog vir ons gaan gee.

23 Ek roep God as getuie teen my eie lewe, dat ek julle in ag geneem het toe ek nie weer na Korinte toe gekom het nie.

24 Ons wil regtig nie baasspeel oor julle geloofslewe nie, maar ons is tog ook helpers om julle blydskap te bevorder. Julle is tog standvastig in julle geloof.

2 KORINTIËRS 2

1 Daarom het ek uit my eie besluit om nie weer met hartseer na julle toe te kom nie.

2 As ek julle hartseer maak, wie sal my dan opbeur behalwe die persoon wat deur my toedoen hartseer gemaak is?

3 Ek skryf juis dit aan julle sodat ek nie weer daar kom en hartseer gemaak word deur dié mense wat my eintlik moes opgebeur het nie, want ek is oortuig daarvan dat julle almal gelukkig is as ek gelukkig is.

4 Onder groot spanning en beklemming van die hart, en met trane, het ek my vorige brief aan julle geskryf, nie om julle hartseer te maak nie, maar dat julle moet weet dat ek julle besonder baie liefhet.

Betoon vergifnis en liefde

5 As iemand hartseer veroorsaak het, is dit nie net ek wat hartseer is nie, maar julle almal, of ten minste sommige van julle.

6 Vir só ’n persoon is hierdie bestraffing deur die meerderheid genoeg.

7 Nou is dit die tyd om só ’n persoon eerder te vergewe en by te staan, anders kan hy deur te veel berou verteer word.

8 Daarom smeek ek julle: Bewys liefde aan hom.

9 Dit is juis hieroor dat ek geskryf het – om kennis te neem van julle getrouheid en of julle in alles gehoorsaam die pad bly loop.

10 As julle hom iets vergewe, vergewe ek hom ook. Want as ek iets het om te vergewe, het ek dit reeds gedoen ter wille van julle, in die teenwoordigheid van Christus.

11 Die bedoeling is dat ons nie deur Satan uitoorlê word nie! Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!

Julle is ons Christusbrief, deur

ons diens geskryf

12 Toe ek in Troas aangekom het om die Goeie Nuus van Christus te preek, is ’n deur vir my deur die Here oopgemaak.

13 Tog kon ek net nie tot rus kom nie omdat ek my broer Titus nie daar kon vind nie. Daarom het ek van die mense afskeid geneem en na Masedonië vertrek.

14 Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek.

15 Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan.

16 Vir sommige is dit ’n doodsreuk tot die dood; vir ander is dit ’n lewensgeur wat lewe bring.

Wie is tot hierdie taak in staat?

17 Ons is wel, want ons is nie soos baie mense wat smous met die woord van God nie. Omdat ons aan Christus verbind is, preek ons die woord met suiwer bedoelings – ’n woord wat van God self af kom, en waaroor ons aan Hom rekenskap moet gee.

2 KORINTIËRS 3

1 Begin ons nou al weer om onsself aan te beveel? Of benodig ons dalk, soos sommige mense, getuigskrifte aan julle of van julle?

2 Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte, bekend aan en gelees deur alle mense.

3 Julle toon duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte.

4 Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus.

5 Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God,

6 wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend.

Die bediening van die nuwe

verbond deur die Gees is heerlik

7 As die bediening wat tot die dood lei, en wat met letters in klip gegraveer is, soveel heerlikheid gehad het – al sou dit gou weer verdwyn – dat die kinders van Israel as gevolg van die glans op Moses se gesig nie daarna kon bly kyk nie,

8 hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening deur die Gees dan nie wees nie?

9 As die bediening wat oordeel meebring, dan met heerlikheid gepaardgaan, soveel te meer oortref die bediening van die vryspraak dit in heerlikheid.

10 Want wat vroeër verheerlik was, verdof totaal wanneer dit vergelyk word met die allesoortreffende huidige heerlikheid.

11 As die bediening van die ou verbond wat eintlik net tydelik was, gestraal het van heerlikheid, hoeveel meer sal die altyd blywende bediening van die nuwe verbond nie skitter van heerlikheid nie!

12 Terwyl ons só ’n verwagting koester, doen ons ons werk met groot vrymoedigheid.

13 Ons is ook nie soos Moses wat sy gesig versluier het om te verhinder dat die volk Israel sou sien dat die ligglans net tydelik was nie.

14 Hulle denke het verhard geraak. Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees. Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.

15 Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte.

16 Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier.

17 Die “Here” dui hier op “die Gees” en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid.

18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.

2 KORINTIËRS 4

Die Goeie Nuus in kleipotte

1 Daarom dan, terwyl ons deur God se genade hierdie bediening ontvang het, gooi ons nooit die handdoek in nie.

2 Maar ons het afstand gedoen van die geheime dinge wat ’n mens skaam maak. Ons leefstyl is nie dié van misleiding of om die woord van God te verdraai nie. Inteendeel, met die bekendmaking van die waarheid, beveel ons onsself aan by elkeen wat ’n eerlike gewete voor God het.

3 As ons Goeie Nuus nog versluier is, is dit net bedek vir dié wat verlore gaan.

4 Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie. Dit is die Goeie Nuus van die heerlikheid van Christus, Hy wat die ewebeeld van God is.

5 Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle diensknegte ter wille van Jesus.

6 God het gesê: “Laat daar lig skyn uit die duisternis.” So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal.

7 Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie.

8 Op elke manier word ons

onder druk geplaas,

maar ons is nie verpletter nie;

ons is verward,

maar nie wanhopig nie;

9 ons word vervolg,

maar nie in die steek gelaat nie;

platgeslaan,

maar nie vernietig nie.

10 Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

11 Gedurig word ons wat nog lewe, ter wille van Jesus aan die dood uitgelewer sodat die lewe van Jesus ook in ons sterflike liggaam sigbaar kan word.

12 Gevolglik is die dood in ons aan die werk, maar in julle die lewe.

13 Omdat ons dieselfde geloofsgesindheid het as waarvan daar geskryf staan: “Ek het geglo; daarom het ek gepraat,” glo ons steeds en daarom hou ons ook aan met preek.

14 Ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek om ons saam met julle voor Hom te stel.

15 Ons doen dit alles ter wille van julle sodat die genade van God, soos dit oor meer en meer mense spoel, ook die dankbetuiging al hoe meer kan laat word, en God se heerlikheid so erken kan word.

16 Om hierdie rede gee ons nie moed op nie. Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.

18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

2 KORINTIËRS 5

Hierdie tydelike tentwoning

word vervang deur ’n

1 Ons weet dat wanneer ons aardse verblyf, wat net ’n tentwoning is, afgebreek word, ons ’n permanente blyplek by God het, ’n huis wat nie met hande gebou is nie, maar wat vir altyd in die hemel bestaan.

2 In hierdie tentwoning swoeg en kreun ons, want ons verlang daarna om ons hemelse woning te betrek.

3 As ons tog maar net met klere aan, en nie kaal nie, voor God sal mag staan!

4 Terwyl ons nog in die aardse tentwoning bly, kry ons swaar en kreun ons omdat ons nie gestroop wil word van ons aardse woning nie, maar met die hemelse woning beklee wil word. So sal wat sterflik is, verteer word deur die eintlike lewe.

5 Hy wat ons hiervoor gereedgemaak het, is God. Hy het aan ons die deposito van die Gees as waarborg gegee.

6 Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is;

7 want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.

8 Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon.

9 Ons streef in elk geval daarna, of ons nou ook al hier tuis is of nie, om Hom tevrede te stel.

10 Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.

Die liefde van Christus maak

gelowiges sy ambassadeurs

11 Omdat ons soveel ontsag vir die Here het, probeer ons mense oorreed. Ons opregte bedoelings is aan God bekend en ek vertrou dat julle in julle gewetens ook daarvan oortuig sal wees.

12 Ons beveel ons nie weer by julle aan nie, maar gee net vir julle aanleiding om op ons trots te wees sodat julle iets mag hê teenoor hulle wat trots is op die uiterlike en nie op die innerlike nie.

13 As dit lyk asof ons buite ons sinne was, was dit ter wille van God; en as ons by ons volle verstand is, is dit ter wille van julle.

14 Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het.

15 Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.

16 Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom.

17 Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!

18 Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het.

19 Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig.

20 Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!

21 God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons hegte verhouding met Christus, deur God vrygespreek kan word.

2 KORINTIËRS 6

1 As julle medewerkers smeek ons julle om toe te sien dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.

2 Want Hy sê:

“Op die regte tyd

het Ek jou verhoor,

en op die dag van verlossing

het Ek jou gehelp.”

Inderdaad – dit is nóú die regte tyd; dit is nóú die dag van verlossing.

Die krag van God maak Paulus

sterk

3 Ons gee niemand enige aanstoot nie, met die bedoeling dat ons bediening nie geblameer moet word nie.

4 In elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God deur aanhoudend te volhard: in swaarkry, in nood, in benoudheid.

5 Onder katshoue, in tronke, in oproere, in uitputtende arbeid, in slapelose nagte, in hongersnood

6 het ons opgetree met integriteit, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid, deur betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde,

7 deur die boodskap van die waarheid en in die krag van God. Ons tree op met die wapens van geregtigheid in ons regter- en linkerhand,

8 in eer en oneer, in veragting en aanprysing; soos verleiers, en tog is ons opreg;

9 soos onbekendes, en tog is ons goed bekend; soos mense wat sterwend is, en kyk, ons lewe; as gegéseldes, en tog is ons nie doodgemaak nie;

10 as bedroefdes, en tog is ons altyd blymoedig; soos bedelaars, maar ons verryk baie mense; soos mense wat niks besit nie, en tog besit ons alles.

11 Ons het ons monde tot julle voordeel oopgemaak, Korintiërs; ons harte is regtig oop vir julle.

12 Ons het nie teenoor julle voorbehoude gehad nie, maar julle het wel in julle binneste voorbehoude teenoor ons gehad.

13 Ek praat soos met kinders: Wil julle nie nou ook vir ons “terugbetaal” deur julle harte vir ons wyd oop te maak nie?

Die gelowiges is die tempel van

die lewende God

14 Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis?

15 Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ’n gelowige en ’n ongelowige?

16 Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:

“Ek sal onder hulle woon

en rondbeweeg,

en Ek sal hulle God wees

en hulle sal my volk wees.”

17 Daarom: “Gaan van hulle af weg

en hou julle eenkant, sê die Here,

en moenie vat aan wat onrein is nie;

dan sal Ek julle ontvang.”

18 En ook: “Ek sal vir julle

’n Vader wees,

en julle sal vir My

seuns en dogters wees,

sê die Here die Almagtige.”

2 KORINTIËRS 7

1 Geliefdes, ons hét hierdie beloftes; laat ons onsself dan suiwer van elke verontreiniging van die liggaam en die gees om ons toewyding, uit eerbied vir God, volkome te maak.

Paulus is bly oor die gemeente

se inkeer

2 Skep vir ons ruimte by julle. Ons het niemand verontreg nie; ons het niemand se ondergang veroorsaak nie; ons het niemand uitgebuit nie.

3 Ek sê dit nie om iemand te veroordeel nie; ek het alreeds gesê dat julle ’n plek in ons harte het, maak nie saak of ons saamsterf of saamlewe nie.

4 Ek is baie openhartig met julle; ek is ook baie trots op julle. En ek is regtig vol moed en oorstelp van blydskap ten spyte van ons swaarkry.

5 Want toe ons in Masedonië aangekom het, kon ons geen rus vind nie. Op elke moontlike manier is daar druk op ons uitgeoefen: van buite – aanvalle; van binne – vrese.

6 Maar God, wat die vernederdes bystaan, het ons ondersteun deur die teenwoordigheid van Titus.

7 Nie net deur sy teenwoordigheid nie, maar ook deur die manier waarop julle hom bemoedig het. Hy het ons vertel van julle ernstige begeerte, julle berou, asook julle ywer vir my. Daarom is ek nog meer opgewonde.

8 As ek julle deur my brief hartseer gemaak het, het ek nie nou berou daaroor nie. As ek tog berou gehad het, was dit net vir ’n kort rukkie toe ek sien dat daardie brief julle hartseer gemaak het.

9 Nou is ek bly – nie omdat ek julle hartseer gemaak het nie, maar omdat julle hartseer tot julle inkeer gelei het. Julle was hartseer volgens die wil van God. Julle is dus in geen opsig deur ons skade aangedoen nie,

10 want hartseer volgens die wil van God lei tot inkeer, wat weer lei tot verlossing waaroor ’n mens nooit spyt sal wees nie. Daarteenoor lei wêreldse hartseer tot die dood.

11 Kyk net watter entoesiastiese reaksie die belewenis van hartseer volgens die wil van God by julle meegebring het: die verantwoording, dringendheid om reg te maak, ontsag, verlange om my te sien, ondersteuning en erns om die oortreder te straf! In elke opsig het julle bewys dat julle in hierdie saak onskuldig is.

12 Daarom, al het ek aan julle geskryf, was dit nie soseer omdat iemand verkeerd gedoen het of omdat iemand verontreg is nie, maar veral sodat julle voor God kon bewys hoeveel ywer julle vir ons het.

13 Daarom is ons nou bemoedig. En by die bemoediging is ons ook uitermate opgewonde dat Titus só bly is omdat julle almal hom gemoedsrus gegee het.

14 As ek by hom oor julle gespog het, was ek nie beskaam nie. Net soos ons altyd die waarheid met julle gepraat het, só het dit nou geblyk dat ons die waarheid gepraat het toe ons by Titus oor julle gespog het.

15 En sy toegeneentheid teenoor julle word al hoe groter namate hy julle almal se gehoorsaamheid onthou en hoe julle hom met eerbied en ontsag ontvang het.

16 Ek is bly dat ek julle in elke opsig kan vertrou.

2 KORINTIËRS 8

Om ruimhartig te gee is

liefdeswerk

1 Broers en susters, ons lig julle in oor die genade van God wat die gemeentes in Masedonië ontvang het.

2 Al is hulle ook hewig getoets deur swaarkry, het hulle uitermate blymoedig gebly, en hulle groot armoede het uitgeloop op oorvloedige vrygewigheid.

3 Ek getuig dat hulle volgens vermoë, ja, dat hulle selfs bo hulle vermoë gewillig was.

4 Met groot aandrang het hulle ons gesmeek om te mag deelneem aan die liefdeswerk en diens aan die gelowiges in Judea.

5 Dit was nie soos ons dit verwag het nie; eers het hulle hulleself aan die Here gegee, en toe aan ons sodat hulle kon optree volgens die wil van God.

6 Daarom het ons by Titus daarop aangedring om hierdie liefdeswerk waarmee hy vroeër begin het, nou ook by julle te voltooi.

7 Aangesien julle in elke opsig uitmunt – in geloof, met die woord, kennis, groot ywer en die liefde wat ons aan julle betoon het – munt dan nou ook uit in hierdie liefdeswerk.

8 Ek sê dit nie as ’n opdrag nie, maar om die egtheid van julle liefde in vergelyking met die ywer van ander te toets.

9 Julle ken die ongelooflike goedheid van ons Here Jesus Christus. Alhoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10 Nou gee ek raad oor hierdie saak. Want dit is voordelig vir julle – julle wat nie net die eerste was om iets te doen nie, maar ook heel eerste gewíllig was om iets te doen.

11 Voltooi nou die werk sodat julle dit, uit die middele tot julle beskikking, met dieselfde geesdrif kan afrond as dié waarmee julle daarop besluit het.

12 As die geesdrif daar is en julle gee volgens wat julle het, is die gawe aanneemlik. Julle hoef nie meer as dit te gee nie.

13 Dit beteken egter nie dat hulpbetoon aan ander julle moet laat swaarkry nie. Dit is eerder ’n geval van balans.

14 Daar moet ’n balans wees tussen julle huidige oorvloed en hulle gebrek. Dan kan hulle oorvloed weer vir julle gebrek aangewend word. Op só ’n manier kom daar ewewig.

15 Soos daar geskryf staan:

“Die een met baie,

het nie te veel gehad nie;

en die een met ’n bietjie,

nie te min nie.”

Die eerbare en ywerige Titus en

sy medewerkers

16 Ek is dankbaar teenoor God dat Hy Titus net so entoesiasties gemaak het om julle te help as wat ons is.

17 Hy het nie net ons ernstige versoek verwelkom nie, maar in sy ywer op sy eie na julle toe vertrek.

18 Saam met hom stuur ons die broer wat in al die gemeentes geprys word vir sy rol in diens van die evangelie.

19 Nie net dit nie, maar die broer is ook deur die gemeentes gekies as ons reisgenoot in hierdie liefdesdiens wat deur ons verrig word. Ons doen dit tot eer van die Here en as bewys van ons goeie trou.

20 Sodoende voorkom ons dat iemand ons sou verdink in verband met só ’n aansienlike som geld wat ons moet hanteer.

21 Ons is daarop bedag om eerbaar voor die Here op te tree, maar ook voor die mense.

22 Saam met hulle stuur ons ook nog ’n broer. Ons het hom dikwels en op baie maniere getoets en bevind dat hy ywerig is. Hy is nou nog baie yweriger omdat hy groot vertroue het in julle.

23 Wat Titus betref, hy is my kollega en medewerker in julle belang. Verder, wat ons broers betref, hulle is verteenwoordigers van die gemeentes en ’n eer vir Christus.

24 Betoon aan hulle julle liefde en laat die gemeentes duidelik sien dat ons rede het om trots te wees op julle.

2 KORINTIËRS 9

Ondersteun hierdie kollekte met

dankbaarheid en blydskap

1 Dit is eintlik oorbodig dat ek aan julle skryf oor die bediening aan die gelowiges in Jerusalem.

2 Ek ken julle gewilligheid en ek het al by die Masedoniërs oor julle gespog. “Agaje,” het ek opgemerk, “het al ’n jaar gelede voorbereidings begin tref.” En julle ywer het ook die meeste ander aangespoor.

3 Ek het hierdie broers gestuur sodat ons woorde van lof oor julle in hierdie saak nie leë woorde sal wees nie, en sodat julle gereed kan wees, soos ek reeds gesê het dat julle al is.

4 So nie, as daar Masedoniërs saam met my kom, en sien dat julle nog nie gereed is nie, sal ons ons skaam oor ons vertroue in julle – om nie eers te praat van julle eie skaamte nie.

5 Daarom beskou ek dit as noodsaaklik om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer gereedmaak wat julle vroeër reeds beloof het. Dan sal dit gereed wees as ’n vrywillige dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.

6 Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes.

7 Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

8 En God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk.

9 Soos daar geskryf staan:

“Hy het uitgedeel

en gegee aan die armes;

sy goedhartigheid

bly vir altyd staan.”

10 God wat saad voorsien aan die saaier en dan brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat toeneem en die vrugte van julle goedhartigheid lieflik laat groei.

11 In elke opsig sal julle ryk gemaak word om ook by elke geleentheid vrygewig te kan wees. Deur ons toedoen bring julle vrygewigheid mee dat God gedank word.

12 Die bediening van hierdie hulp voorsien nie net in die behoeftes van die gelowiges in Jerusalem nie, maar word ’n stroom van danksegging teenoor God.

13 Deur hierdie diensbetoning sal hulle aan God die eer gee. Hulle sal Hom prys oor julle gehoorsaamheid aan die evangelie van Christus wat julle bely, en ook oor julle opregte mededeelsaamheid teenoor hulle en teenoor al die ander.

14 Hulle sal ook vir julle bid en na julle verlang omdat die genade van God oor julle só groot was.

15 Dank aan God vir sy onbeskryflike gawe!

2 KORINTIËRS 10

Paulus se volmag berus op die

Goeie Nuus

1 Ek, Paulus, vra julle baie ernstig op grond van die nederigheid en toegeeflikheid van Christus – ek, wat mos, soos gesê word, “gedwee” is teenoor julle as ek bý julle is, maar “manhaftig” wanneer ek van julle af weg is.

2 Ek vra julle mooi, moenie my verplig om, wanneer ek kom, my voorneme uit te voer om dié wat ons daarvan beskuldig dat ons volgens menslike oorwegings optree, met mening aan te vat nie.

3 Ons leef wel in ’n menslike liggaam, maar ons voer die stryd nie met menslike middele nie.

4 Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie, maar die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die argumente,

5 asook elke skans wat teen die kennis van God opgerig word. Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.

6 Ons is ook oorgehaal om met elke ongehoorsaamheid af te reken, sodra julle eie gehoorsaamheid in plek geval het.

7 Julle kyk bloot na die uiterlike. As julle so oortuig is dat julle aan Christus behoort, moet julle dit weer vir julleself uitmaak dat, net soos júlle aan Christus behoort, só ook ons.

8 As ek moontlik oordrewe trots voorgekom het op die volmag wat die Here aan my gegee het, sal ek my nie daarvoor skaam nie. Dit was om julle op te bou, en nie om julle af te breek nie.

9 Ek wil beslis nie die indruk skep dat ek julle met my briewe probeer intimideer nie.

10 Hulle sê mos: “Paulus se briewe is gewigtig en kragtig, maar as hy persoonlik teenwoordig is, is hy maar onindrukwekkend en het sy boodskap maar min om die lyf.”

11 Hulle wat dit kwytraak, moet besef dat daar geen verskil is tussen wat ons in ons afwesigheid in die briewe skryf en wat ons doen as ons by julle teenwoordig is nie.

12 Ons waag dit nie om ons in te deel of te vergelyk met “sekere mense” wat hulleself aanbeveel nie. Hulle het regtig nie insig nie; hulle meet hulleself aan hulle eie maatstaf en vergelyk hulleself net onder mekaar.

13 Wat ons betref, ons sal nie buite perke trots wees nie. Ons bly binne die perk van die grense wat God vir ons uitgemeet het. Dié begrensing sluit julle óók in.

14 Ons het dus nie ons perke oorskry deur tot by julle te kom nie. Ons het tog heel eerste tot by julle gekom met die Goeie Nuus van Christus.

15 Ons is nie buite perke trots nie, dit wil sê, ons spog nie oor ander mense se optredes nie. Ons hoop dat julle geloof sal toeneem en dat ons werkterrein onder julle nog groter sal word.

16 Dan sal ons die Goeie Nuus ook in gebiede kan preek wat anderkant julle geleë is, sonder om te roem op werk wat gedoen is in die werkkring van iemand anders.

17 Die Skrif sê mos: “As jy jou wil beroem, moet jy jou op die Here beroem.”

18 Die eintlike toets lê nie daarin of ’n mens jouself aanbeveel nie, maar of die Here jou aanbeveel.